Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1430

SP Benjamin (1962–)

$
0
0

Gebore en getoë

SP Benjamin is die skuilnaam van Benjamin Paulse, ’n baie privaat mens en iemand wat in menige onderhoud erken dat hy baie moeilik oor homself praat. Waar hy gebore is en wat hy na matriek gedoen het, is nie belangrik nie. Wat ons wel weet, is dat hy in Kraaifontein grootgeword het en aan die Scottsdene Senior Sekondêre Skool gematrikuleer het. Hy het ’n paar susters en bly by sy ma in Kraaifontein.

Die skryflus het hom reeds in die vroeë tagtigerjare beetgepak, waar een van sy hoërskoolonderwysers sy groot inspirasie was. Hy vertel aan Echbert Boezak (Die Burger, 10 September 1997): “In my laaste twee jaar op hoërskool het ’n Afrikaans-onderwyser my gereeld aangemoedig om goeie opstelle te skryf. Daar het ek toe my liefde vir skryf ontwikkel. Kort daarna het ek my eerste gedigte begin skryf.”

Hy vertel dat Dolf van Niekerk se Die son struikel ’n boek was wat sy lewe verander het. (Beeld, 4 Desember 2000)

“My hoërskoolloopbaan het met ’n bang! begin. En (skyt)bang was die kleur en weer van alles wat in daardie tyd aan ’t gebeur was. Protesoptogte, onderwysers en vriende wat soggens vieruur deur die veiligheidspolisie uit hul huise gesleep word. (…) En asof dit nie genoeg was nie, bang! die een voorgeskrewe plaasstorie wat voor ons neergeplak word. (…) Sommerso uit die bloute. En sonne struikel. BANG! Dolf van Niekerk se Die son struikel. Beelde wat dadelik sin maak, jou vra om verder te lees. (…) Hier’s ’n karakter met wie ek kan identifiseer, ver ente mee wil saamloop, saam wil soek waarna hy ook al op soek is. Soos die verhaal verder ontvou, struikel die sonne oor en oor vir my. Ook ín my. (…) My eerste kennismaking met ’n outsider, ’n sielsgenoot. En soos ek verder lees, struikel daar nog meer sonne in my. By Diederik leer ek dat nie alle mense dieselfde is nie, en dat dit tog heel oukei is om ’n outsider te wees, buite te staan en na antwoorde te soek op dié vrae wat eers môre gevra word! En dis ook oukei.”

Verdere studie en werk

Na skool werk Benjamin as ’n verkoopsman en later by ’n drukkery, maar hy het altyd die ambisie gehad om ’n skrywer te word.

Twee jaar voor sy debuut, Die reuk van steenkool, op die rakke verskyn, skryf hy ’n kortverhaal met die titel “Die jaar toe ons almal mal was”. Dit is die verhaal wat later op sy eerste roman uitgeloop het. Hierdie kortverhaal wen die eerste prys van die Kagiso/De Jager-HAUM-wedstryd. Op ’n vraag van Antonia Steyn in ’n onderhoud vir LitNet hoe hy voel oor die kritiek dat die boek die anderkant wys van Mark Behr se Die reuk van appels vertel hy dat hy gevoel het die titel moet verander word vir die langer storie. “Ek sou nogal bly gewees het om die ou naam te hou. As ék die storie reg lees: in die nuwe jaar word almal mal ... Om nou te sê dat ek die anderkant probeer wys van wat Behr gedoen het, is vir my nogal nie waar nie. As Behr geskryf het oor wit mense, is dit vir my nie belangrik om nou (…) te skryf oor bruinmense nie. Ek probeer nie die anderkant van die coin wys nie, ek wil net daai mense se storie vertel.”

In 1997 word Die reuk van steenkool by Queillerie gepubliseer. Dit vertel die verhaal van ’n bruin werkersklasgesin: Pa is ’n spoorwegman wat saans die reuk van steenkool saam met hom die huis indra; Ma werk drie dae ’n week teen pa se sin by ’n “hoenderplek”; Suster versorg tussen haar skoolwerk deur die huis wanneer Ma werk; en broer hou stilswyend die verwikkelinge in die gesin dop. Hiervoor wen Benjamin die debuutromanprys van De Kat en Sanlam se romanwedstryd in 1997. Die beoordelaars beskryf die roman as “treffend in sy rou, eerlike beskouing van die harde werklikhede van ’n Kaapse gemeenskap”. Die roman begin aanvanklik as kortverhale en omdat hy die speling geniet wat die romanvorm hom bied, word die verhale uiteindelik saamgesnoer as ’n roman. Hy erken teenoor Herman Wasserman in Die Burger (1 Februarie 2000) dat dit vir hom moeiliker is om kortverhale te skryf as ’n roman. “In ’n roman leer jy karakters ken. Jy kan jou in hulle inleef, terwyl jy met ’n klomp kortverhale elke keer ’n nuwe karakter moet nadergryp. In ’n kortverhaal is alles kosbaar, woorde en tyd.” Die roman word in 1998 aangewys as die naaswenner van die ATKV-Prosaprys. Dit is ook aangewys as ’n finalis vir die M-Net Boekprys vir 1997.

Oor hierdie debuutroman skryf Louise Viljoen in Die Burger van 4 Mei 1998: “Benjamin is kennelik ’n natuurlike storieverteller: Die vertelling loop so glad soos olie vanweë die gebruik van ’n ongedwonge praat-Afrikaans. (…) Die reuk van steenkool is vars sonder om naïef te wees; lakonies sonder om sinies te wees. Kortom: dit is ’n uitstekende debuut en een van die plesierigste verrassings van 1997 se publikasie-oes.”

Fanie Olivier laat hom as volg uit oor die roman in Beeld van 12 Januarie 1998: “Die roman word terselfdertyd tog heg gebind deur die baie herhalings, die geykthede van segging binne die huisgesin en die deurlopende metafoor van die hoender (om te eet, om geld mee te verdien, om mense mee te beskryf in sowel hul ellende as hul teerheid). Teenoor die verskraling van die herhaling (wat ook die angs vasvang) staan daar stukke uitbundige ryk, poëtiese taalgebruik, dikwels ook gekoppel aan droom- of verbeeldingsepisodes, waardeur die alledaagse ongewoon en die karakters deur die skrywer iets meer gemaak word as wat ons hulle krediet voor sou wou gee. Die reuk van steenkool is ’n verrassende debuut oor die verskrikking van menswees en met genoeg deernis en humor geskryf om die leser te laat besef dat ons ook op ’n manier almal so is.”

Oor die gebruik van sy skuilnaam sê Benjamin: “Ek wou nooit onder my eie naam skryf nie, omdat dit nie vir my belangrik is dat die ou langsaan moet weet dat ek ’n skrywer is nie. Deesdae is ek gemakliker met die idee van skrywer-wees, maar dis steeds vir my lekker om by die huis te kom en iemand anders te wees, tussen my pelle en familie. Daar is ek nog steeds die ou wat my ma grootgemaak het.” (Die Burger, 1 Februarie 2000)

In 1999 is Queillerie ook die uitgewers van Benjamin se tweede boek, ’n bundel kortverhale getiteld Die lewe is ’n halwe roman. Die verhale speel af in ’n plakkerskamp en weens die onderwerpmateriaal is dit uiteraard nie altyd ligte leesstof nie. Hieroor praat Benjamin só met Herman Wasserman: “Die ergste kritiek in dié verband is mense wat sê dis nie lekker om sulke verhale te lees nie. Maar wat kan jy nou doen? Daar is mense wat so lewe, en ek wou vir mense wys dis nie als sonskyn en rose hier rondom ons nie. As daar mense is vir wie die uitbeelding van so ’n werklikheid pla, staan dan ’n slag op en gaan doen iets daaraan. Dan kan jy miskien môre ’n vrolike verhaal lees.

“Ek was nog nie self diep in ’n plakkerskamp nie, maar kan my die lewe daar voorstel. Die verhale het ek geskryf deur stories wat ek gehoor het. Ek tel maar stukkies stories op hier en daar, dan maak ek fiksie daarvan. Ek is nou nie ’n skrywer wat dag ná dag in die plakkerskamp gaan sit en rook en drink saam met die manne om agter te kom hoe dit daar gaan nie.”

Op OuLitNet vra Antonia Steyn vir Benjamin uit oor die politieke kritiek wat hy alreeds in 1997 met Die lewe is ’n halwe romanuitgespreek het: “Ja, alles het nou al gebeur. Ons weet wat het gebeur, maar nou het ons ’n ou soos Kasper wat voorspel hoe dit vorentoe gaan lyk, en ek moet sê hy was nogal raak met ’n klomp goed wat hy gesê het. Maar hy was aan die einde te slim vir sy gesondheid.

“As ek iemand soos Kasper geken het, here, my lewe sou soveel lekkerder gewees het. ’n Pa of ’n broer of ’n oom, iemand wat net daar sit en sy klomp stront praat, maar jy weet dis nie heeltemal stront nie… Mense vra altyd hoe kan jy skryf en mense so raak teken en dan sê jy ken hulle nie, maar ek het nooit só iemand geken nie.”

Hierdie bundel word in 2000 met die Eugène Marais-prys bekroon.

In Rapport van 30 Januarie 2000 sê Louise Viljoen dat Benjamin se vertelstyl sober en onpretensieus is met weinig meer versiering as die subtiele gebruik van die engel-gegewe en die beeldende taalgebruik. “Die skrywer slaag ook daarin om met klein, maar hoogs betekenisvolle taferele, wêrelde van gevoel op te roep. (…) Die varsheid en rou energie van Benjamin se debuutroman Die reuk van steenkool word in hierdie versameling kortverhale vervang met die rustige selfbeheerstheid van ’n bedrewe vakman. Benjamin is kennelik besig om homself te onderskei as Afrikaanse skrywer.”

Lizette Potgieter stel in Die Burger (19 Januarie 2000)voor dat die stories gelees moet word, want daar woon mense daar – elk met ’n hart en siel.

LS Venter (Beeld, 20 Desember 1999) skryf: “Benjamin se verhale het ’n egtheid wat daarvan iets blywends maak, hoe eenvoudig die verhaalgegewe ook al is.”

In Insig van Januarie 2000 laat Marion Hattingh haar soos volg uit oor Die lewe is ’n halwe roman: “Benjamin gee die armsaliges name, familie en verbeeldingsvlugte. Soos in sy debuutroman Die reuk van steenkool (1997) skep hy nie net psigologies oortuigende karakters wat ’n mens meevoer met gedetailleerde reaksie op allerhande krisissituasies nie, maar laat hy die leser ook sintuiglik verskriklik naby aan hulle kom: jy ruik, hoor, voel, proe en sien uiteindelik deur en saam met hulle. [...] Die lewe is ’n halwe roman lê ’n aktuele stuk Suid-Afrikaanse werklikheid tot op die been bloot. Dit is ’n moet-lees vir almal.”

Iets wat vir Benjamin baie kwaad maak, is die “stereotiperende indruk van hom as ’n skrywer in ’n etniese hokkie. Ek hou nie daarvan om getipeer te word as ’n bruin skrywer wat bruin literatuur skryf nie, maar ek sou graag wou glo dat ek deel is van die hoofstroom en dat ek ’n bydrae gemaak het tot Afrikaanse literatuur, of Suid-Afrikaanse literatuur.”

Benjamin is ’n bewonderaar van Jeanne Goosen, vertel hy aan Wilhelm Snyman in Cape Times (20 Maart 1998). Hy glo dat sy daarin slaag om die essensie van mense soos hulle is, vas te vang. As hy ’n storie soos sy sou kon vertel, sou hy tevrede wees. Maar vir hom is dit belangrik om ’n storie sonder pretensies te vertel: “After all, in the novel it is a young boy who is expressing himself.”

Hettie Scholtz (Insig, Desember 1990) beskryf Benjamin as “grootliks ’n geslote boek”. “Allemansvriend is Benjamin dus nie, maar nog minder is hy ’n randeier. Daar word gesê ’n skrywer is niks anders nie as ’n mens alleen in ’n vertrek, alleen behalwe vir die taal waarin hy probeer gestalte gee aan menslike emosie. En dit is SP Benjamin, dit is wat hy doen. Soos sy gunsteling-skrywer Jeanne Goosen is hierdie man in sout en niere ’n skrywer, iemand wat absorbeer, registreer, simpatiek maar eerlik lewe gee. (…) Dis van omgee dat hy skryf, skokkende wêrelde oopskryf, mense wat ons grootliks nie ken nie, voor ons kom neersit.”

Benjamin lees baie en hy lees veral Afrikaans, alles wat verskyn. En hoewel hy ander romans lees, probeer hy nie enige skrywer naboots nie.

In 2007 het die Kraaifontein-Amateurdramavereniging (Kadav), wat ’n ATKV-tak is, drie Afrikone bekroon. Dit is toekennings van die ATKV vir mense wat ’n besondere bydrae tot Afrikaans en Suid-Afrika lewer. Die ikone vir Afrikaans en Afrika by daardie geleentheid was SP Benjamin, George Weideman en Steward van Wyk. Benjamin ontvang dit vir sy gewaardeerde bydrae tot die uitbouing en bevordering van die Afrikaanse letterkunde. (Die Burger, 26 April 2007)

Meer as 20 jaar het verbygegaan voordat daar ’n volgende titel uit SP Benjamin se pen verskyn. In 2021 publiseer Penguin Random House Dinge van ’n hond.

Benjamin vertel aan Suzette Kotzé-Myburgh op RSG se Skrywers & Boeke (24 November 2021) ’n bietjie meer oor die agtergrond van die storie. Die idee was ’n lang tyd in sy kop en hy het baie gedink oor die kwessie van hoe onthou ’n mens, want uit die verlede probeer jy vergeet om môre makliker te maak en hoekom kan ’n mens nie altyd vergeet nie.

Oor die titel, Dinge van ’n hond, sê hy dat die hond die ideale simbool is van wat hy wil sê. Op een plek in die boek sê Klippies, een van die karakters, dat jou verlede soos ’n hond is. Jy gooi die stok vir die hond en hy gaan haal dit elke keer en bring dit terug. Dan gooi jy die stok een keer baie verder en die hond daag nie sommer op met die stok nie, maar as jy weer sien, staan hy agter jou met die stok in sy mond. Die stok is die verlede wat altyd maar terugkeer.

Engela Duvenage het ’n onderhoud met Benjamin gevoer vir Lig. Sy wou weet hoekom hy die boek geskryf het: “Grond was nog altyd ’n tameletjie vir elke Suid-Afrikaner,” verduidelik hy. “Dit maak nie saak aan watter kant van die draad jy jou bevind nie. Dis vandag nog meer so sedert die debat oor onteiening sonder vergoeding weer olie op die vuur begin gooi het. Dinge van ’n hond is ’n storie oor grond, oor die verlies daarvan en die nadraai van daardie verlies.”

Oor die rede hoekom hy juis nou, in hierdie tyd, die boek geskryf het: “Sal daar ooit ’n beter tyd wees om hierdie roman te lees? ’n Plaas word teen ’n belaglike prys deur die staat teruggekoop en kry nuwe eienaars. Baie gou is daar niks van ’n eens suksesvolle onderneming oor nie. Dis ’n scenario wat so maklik ons voorland kan wees as ons nie versigtig met die huidige grondkwessie omgaan nie.”

Oor sy navorsing, veral oor die karakters wat op rommelhope lewe, vertel SP Benjamin aan Duvenage: “Eendag, baie lank gelede, het ek ’n draai by ’n stortingsterrein gemaak nadat die vuilgoedwa nie by my huis opgedaag het nie. Wat ek daardie dag gesien het, het nooit ophou spook by my nie. Die wete dat daar mense is wat só lewe, wat op dié manier ’n bestaan uit ander se wegskiet (probeer) maak, het my geprikkel. Dis nie bloot ’n losse kyk-en-gryp-gedoente nie. In daardie skynbare malligheid was ’n soort orde sigbaar, ’n manier van doen wat deur ’n stel eenvoudige reëls in stand gehou word.

“’n Lewe op ’n stortingsterrein is nie hoe ’n mens, enige mens, behoort te lewe nie. Tog word daar op dié manier in ons land en, ja, ook in ander wêrelddele, ’n bestaan gemaak én oorleef. Hierdie is net ’n poging om sin uit die verskynsel, en daardie mense, te probeer maak.”

Benjamin het self erken dat Dinge van ’n hond se storie nie ’n maklike storie is nie: “Ons moet besef dat nie almal wat haweloos is en op straat leef of wat hulle in ’n plakkerskamp bevind noodwendig hierdie leefstyl verkies nie. Nie almal nie! Maar hoe sal ons ooit weet wat in ’n ander se kop aangaan as ons nie tyd daaraan afstaan om na mekaar te luister nie?”

Maar daar is darem ook hoop in die storie van Dinge van ’n hond vervat, sê SP Benjamin: “Ons kou tans harde bene in hierdie land as gevolg van onbevoegde regeringsamptenare en die grootskaalse korrupsie wat net nie ophou nie. Dis die gewone mense wat aan die kortste end trek. In Dinge van ’n hond is dit nie anders nie. Ons lees van allerhande vergrype, en van geheime waaroor daar geswyg word. En tog is daar iemand soos Klippies wat nie in sy verlede vasgevang wil bly nie. Hy beur hinkepink vorentoe, op soek na ’n beter môre. Hy wil vergeet van die onreg op die plaas Gatlek waar hy grootgeword het en hy wil, te midde van sy omstandighede, liefhê. Hy wil vir hom ’n groentetuin aanlê met aartappels, pampoene, wortels en kool, en die vrug van sy arbeid met Bettie deel.”

Valda Jansen is die resensent van Dinge van ’n hond in Rapport van 30 Mei 2021: “Daar is boeke waarin jy jouself as leser verdiep, jouself midde-in die gebeure plaas en die boek lees asof jy self deel is daarvan,” begin Jansen haar bespreking. “Dinge van ’n kind is nié so ’n boek nie. Jy lees dit op dieselfde manier as wat jy by verkeersligte in Kaapstad stilhou: oë afgewend, maar terdeë bewus van die bedelaars; deure gesluit en vensters toe, vir jou eie selfbehoud. Met hierdie roman slaan SP Benjamin die venster stukkend.

Dinge van ’n hond is allesbehalwe die onskuld wat in die titel opgesluit is. Dit vertel die storie van die lewe ná die verkoop van die plaas. Die grense tussen Baas en Klaas is nou vaer, maar die geheime bly jou rondjaag tot aan die einde van jou dae, kompleet nes dooie honde wat nie begrawe bly nie.

“Soos elke hond sy dag kry, kry elke karakter sy eie hoofstuk in dié roman. Dit begin met Jan-Vlok, seun van David alias Druiwe Fourie, eertydse baas van die plaas Gatlek, wat steeds woedend is oor die erfplaas wat sy pa weggegee het. (…) Nou staan hy in die stilte wat van die plaas oorgebly het. Hy het ’n jong seun gevang, in ’n mudsak gegooi, hande en voete vasgebind: ‘Ek sal Gatlek weer vrugbaar maak met jul oorskot. Kompos … dis wat julle is. Aan die einde van hierdie hoofstuk is Jan-Vlok die verbitterde Slyme wat uiteindelik kan artikuleer: Hy wil van die hond in sy kop ontslae raak.

“Druiwe, oudbaas-van-die-plaas, plant nie meer wingerde aan nie. Hy kap beelde uit klip vir grafstene, eet hande vol rosyne en sluk sy brandewyn uit die bottel. Tog bly die plaas steeds die middelpunt van die storie en alles wentel om die vraag: Wat het destyds gebeur? (…)

“Die karakters Outa, Druiwe, Slyme en Bettie verteenwoordig die mense van wie ons niks wil weet nie,” skryf Jansen voorts. “Ons sien hulle uit die hoek van ons oog, maar ons hou liefs verby. Outa, Jan-Vlok se oom, is die bewaarder van geheime wat ander uitdaag om hul duiwels in die oë te kyk. Hy kry hallusinasies in sy donker stoepkamer, oor JannieJesus en sy dissipels, met die verskriklike Judas die middelpunt van alles. (…)

“Net soos die mense op die ashoop is die skrywer se taal ook gestroop. Daar is nie veel moois aan die karakters óf die taal nie, maar die skrywer hou die leisels stewig in sy hande. Hy loop saam met sy karakters en neem die onwillige leser saam. Soos Outa en die dissipels agter JannieJesus aan word die leser ook betower om aan te hou. (…)

Dinge van ’n hond is ’n uitdagende roman: gru en grinterig, ru en bruusk. Dis ’n Triomf, ’n openhartige, wrede, wonderlike kyk na wat van ons kan word as ons nie oppas nie, as die wiel teen ons draai en die samelewing of familie ons die rug toekeer. Die leser kyk skielik met ander oë na die opslaantente wat in die stad paddastoel. Want Covid. Want die lewe gebeur. Want daar woon mense daar.

“’n Lieflike ligpunt tussen al die roet en swaarkry is die verhouding tussen Bettie Rondganger en Klippies, wat op die vullishope oorleef en oor hulself in die derde persoon praat. Dit is ’n ongewone, mooi en teer liefdesverhaal, maar Bettie behoort nie aan Klippies nie. Sy loop waar sy wil, wanneer sy wil en waarheen sy wil. (…)

Dinge van ’n hond is ’n moderne plaasroman oor wat met die mense gebeur wanneer die baas weg is, maar die geheime van wat op die plaas gebeur het, spook by hulle tot aan die einde. Ná die laaste bladsy slaak die leser ’n sug van verligting met dié wete: Ons is nie almal so nie – nog nie.

“Anders as die honger siele by verkeersligte staan die karakters in Dinge van ’n hond nie bakhand nie. Hulle vat die vullis wat weggegooi is en maak dit bruikbaar, net soos die skrywer dit doen. Hy sien die lelikste geheime in die samelewing raak. Die rassisme en geweld. Die verdoeseling van wreedheid. Die rugkeer. Hy sien dit en omskep dit.

“Soos die karakter Druiwe klip neem en kuns daaruit maak, so skep Benjamin met hierdie boek vir sy lesers ’n spieël. En net as ons die moed het, sal ons daarin kyk.”

Op LitNet (4 Mei 2021) gee Anne-Marie Burger haar indruk as leser van Dinge van ’n hond: “Dumpsite. Dit is die plek waar my en jou vullis heen gaan, om ‘weg te raak’. Die waarheid is egter dat niks net weggaan nie. Alles het ’n ewigheid waarvan niemand wil weet nie. Ek en jy mag miskien dink dat jou en my gemors weg is die oomblik wat die aslorries jou wheelie bin kom omkeer in sy eie groter gemorsmaag. En dit eindig ook nie daar nie. Daar is meer as een so ’n aslorrie wat elkeen op sy beurt hierdie gemors in ’n nog groter ashoop gaan uitspoeg. Dit lyk vir my asof ons salig onbewus aangaan met ’n gemors.

“Dit is nie net die sigbare rommel wat sneeubal nie. In elke mens se lewe is daar ’n asblik, aslorrie en dumpsite. Daar is geen maklike manier om met hierdie aaklige waarheid om te gaan nie. Hierdie goed steek gewoonlik kop uit wanneer jy die minste gereed is daarvoor.

“Dinge van ’n hond het ook nie ’n regte tyd om gelees te word nie. Dit is ’n vuishou wat lankal wag om te tref. Die geheimenisse van die mense wat op Gatlek gebly en gewerk het, word een na die ander op die dakke uitbasuin. Die boek is eerlik, en sonder etiket. ’n Ding het ’n naam, en hy word dit genoem. Dalkies, dalkies is dit tyd om te besef ons almal is verantwoordelik vir die groot gemors. En daar is nie ’n ding soos julle, hulle en ons nie. Ons is ons. Dis dit.”

Ook op LitNet (16 Junie 2021) sluit Dewald Koen sy bespreking van Dinge van ’n hond só af: “Met Dinge van ’n hond ondersoek Benjamin die baas-klaas-verhouding wat kenmerkend is van talle Suid-Afrikaanse plaasgemeenskappe. Die roman bied ’n perspektief op die verlede en dwing die leser om krities te besin oor onregte wat gepleeg is en steeds gepleeg word. Dit is egter nie ’n politiese teks nie, maar eerder ’n roman wat die sosiopolitieke gebeure van die verlede op ’n eerlike wyse ontleed sonder om vingers te wys of te blameer.

“Benjamin beskik oor die vermoë om deur middel van sy taalgebruik, geloofwaardige karakterisering en die gebruik van verskillende vertelperspektiewe ’n narratief weer te gee wat lesers tot selfrefleksie dwing te midde van die sensitiewe en soms omstrede onderwerpe wat in die roman aan bod kom. Dinge van ’n hond neem bestek op van Suid-Afrika se geskiedkundige verlede. Gatlek was nie net ’n plaas nie – die sleutels tot die slotte van die verlede lê in die grond opgesluit en soos Druiwe, Outa, Klippies en Bettie moet ons nog baie gesprekke oor grond asook die onregte van die verlede voer. Miskien was NP Van Wyk Louw se woorde profeties toe hy in ‘Klipwerk’ (1954:43) opgemerk het:

die swart klip waar jou vuur was
is byna dood gereën
hierdie grond was nie gekoop nie
sommer maar geleen”

Jean Meiring het Dinge van ’n hond vir Netwerk24 (26 April 2021) bespreek: “Met dié ontstellende, karnavaleske roman klink SP Benjamin se stem ná ’n stilte van 21 jaar weer op, helderder as ooit. Enersyds neem hy met Dinge die draad op van sy debuutwerk, Die reuk van steenkool, en veral van die romanagtige bundel kortverhale Die lewe is ’n halwe roman, wat albei bekroon is. Die karakters in albei tekste is arm bruin mense, wat aan die samelewing se fraiings ’n bestaan slyt.

“Andersyds skaar Benjamin hom op ’n interessante dubbelsinnige manier by die onlangse linie Afrikaanse skrywers wat in ’n postapokaliptiese nabye toekoms afspeel, ’n wêreld waarin die ysere grense van vroeër onder meer deur ’n skeut magiese realisme opgehef word.”

Meiring eindig die bespreking: “Dinge van ’n hond is slim gekonstrueer en vertoon ’n merkbare tematiese eenheid. Die vernaamste leitmotiewe – die hond; die meerduidigheid van vullis – word telkens op verrassende maniere herontgin.

“Maar tussen die liefdeloosheid en uitbuiting van ander waarteen die verhaal as ’n klagskrif gelees kan word, en wat dit by tye ’n moeilike teks maak, is Dinge van ’n hond eweneens ’n teer en ontroerende liefdesverhaal van broederskap en deernis, van versoening en hernuwing. Daar is iets soos hoop waar soiets stellig die minste verwag word – tussen vier trillende mure in Happy Valley se Sonneblomstraat.”

Publikasies

Publikasie

Die reuk van steenkool

Publikasiedatum

1997

ISBN

1874901708 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • De Kat /Sanlam Romanwedstryd Debuutprys 1997
  • Naaswenner ATKV-prosaprys 1998
  • Kortlys MNet-prys 1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boekewêreld se leeskeuse. Boekewêreld, 6 Mei 1998
  • Botha, Wilna: Aangrypende roman open wêrelde. De Kat, Junie 1998
  • De Roubaix, E: Benjamin, SP – Die reuk van steenkool. Kaapse Bibliotekaris, Maart/April 1997
  • De Vries, Anastasia: Dís nou ’n mooi boek! Insig, Februarie 1998
  • Die reuk van steenkool. Huisgenoot, 19 Februarie 1998
  • Ester, Hans: Tragedie in Sampioenstraat. Zuid-Afrika, Oktober 1998
  • Ferreira, Jeanette: Manna, mans en die “feite van die lewe”. Bron onbekend, Junie/Julie 1998
  • Fourie, Corlia: Pryswenner-roman. Rooi Rose, 15 April 1998
  • Le Roux, André: Die reuk van steenkool. Sarie, 25 Februarie 1998
  • Malan, Lucas: Die reuk van steenkool: resensie. RSG: Skrywers & Boeke, 7 Junie 1998
  • Olivier, Fanie: SP Benjamin staan met sy debuut op eie voete. Beeld, 12 Januarie 1998
  • Prins, MJ: Naïewe toonaard verberg diepsinnigheid. Ons Angeltjie, Januarie 1998
  • Rosenthal, Jane: Simple intensity of debut novel. Mail & Guardian, 13–19 Februarie 1998
  • Van Manen, Mariëtte: Naïwiteit is net oënskynlik. Die Burger, 18 Februarie 1998
  • Van Zyl, Wium: Humor versag erns en tragiek. Rapport, 15 Maart 1998
  • Viljoen, Louise: Benjamin se debuut ’n plesierigste verrassing. Volksblad, 4 Mei 1998
  • Willemse, Hein: Uiters talentvolle debuut. Karring, Winter 1998

 

Publikasie

Die lewe is ’n halwe roman

Publikasiedatum

1999

ISBN

079580007X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Maraisprys 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Roubaix, E: Benjamin, SP – Die lewe is ’n halwe roman. Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2000
  • Hattingh, Marion: ’n Moet-lees vir almal. Insig, Januarie 2000
  • Lourens, Amanda: Die lewe is ’n halwe roman. Sarie, Januarie 2000
  • Odendaal, Bernard: Benjamin raak nogal “literêr” met 2de roman. Volksblad, 10 Januarie 2000
  • Potgieter, Lizette: Stem gegee aan mense wat anderkant die pad bly. Die Burger, 19 Januarie 2000
  • Venter, LS: Benjamin-verhale se egtheid maak dit iets blywends. Beeld, 20 Desember 1999
  • Viljoen, Louise: Engele maak lewe se halwe stories “heel”. Rapport, 30 Januarie 2000
  • Viljoen, Louise: Resensie: SP Benjamin – Die lewe is ’n halwe roman (1999)
  • Weideman, George: Die lewe is ’n halwe roman. Quellerie – resensies

Publikasie

Dinge van ’n hond

Publikasiedatum

2021

ISBN

9781485903314 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor SP Benjamin

  • Benjamin Selwyn Paulse
  • Boezak, Echbert: Nuwe skrywer sonder tierlantyntjies. Die Burger, 10 September 1997
  • Brink kry Hertzog-prys. Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2000
  • Grobler, Hilda: Jong skrywer hou sy oog op Jeanne Goosen. Vrydag, 5 Desember 1997
  • Luwaert, Eveline: Het magisch realisme in het proza van SP Benjamin. Universiteit Gent, 2013–2014
  • Nel, Elias P: Soek navolgenswaardige mense nader aan huis. Die Burger, 26 April 2007
  • Roberts, Maryke: So jy wil ’n boek skryf. Rapport, 5 September 2021
  • Scholtz, Hettie: SP Benjamin: Man van (min) woorde. Insig, Desember 1990
  • Snyman, Wilhelm: Wise, and with the programme. Cape Times, 20 Maart 1998
  • Steyn, Antonia: Ben … Amen! OuLitNet
  • Van der Fort, Shanaaz: “Ek is nie ’n bruin skrywer nie, ek is net ’n skrywer”. Rapport, 6 Februarie 2000
  • Van Wyk, Annemarie: Jong Kraaifonteiner se eerste roman verskyn. Die Burger, 19 November 1997
  • Wasserman, Herman: SP Benjamin is g’n “bruin skrywer”. Die Burger, 1 Februarie 2000

Artikels deur SP Benjamin

SP Benjamin se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-03-19 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post SP Benjamin (1962–) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1430

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>