Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op Kimberley se diamantvelde gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.
Die doel van die prys is om erkenning te verleen vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Hierdie prys vir ’n bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die keuring geskied deur ’n wetenskaplik verteenwoordigende keurkomitee van vooraanstaande plaaslike en/of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, kragtens kriteria soos jaarliks vasgestel en geadverteer deur die keurkomitee en belyn met die doel van die Prys.
Jan Henoch Marais was in wese ’n filantroop. Tereg skryf prof WE Malherbe in die Gedenkboek van die Victoria-Kollege van hom: “Onder Hollandssprekende Afrikaners werd, zover wij weten, nog nooit op zulk ’n schaal voor onderwijsdoeleinden bijeengedragen” en by dat sy voorbeeld om ander te prikkel om op dié manier geld aan te wend, seker sy grootste bydrae was.
Hy bemaak in sy testament aan verskeie organisasies, waarvan die grootste bydraes aan die Victoria-Kollege, Die Burger en die twee Marais Trustfondse gegaan het. As blyk van waardering vir hul stigter en uit erkentelikheid vir sy erns met Afrikaans in sy hoër funksies, borg die huidige Universiteit van Stellenbosch, Media 24 en die Het Jan Marais Nationale fonds die Jan H Marais-prys.
Die prys onstaan in 2015 as ’n tipe Nobelprys vir Afrikaans as wetenskapstaal. Die pysgeld is aanvanklik R500 000, maar is aangepas na R750 000. As sodanig is dit die grootste wat tans vir Afrikaans toegeken word. Die meriete en keuring vind plaas onder kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns, onder leiding van Anne-Marie Beukes, en die Keurkomitee onder leiding van Johan Van Zyl.
Vorige pryswenners sluit in: Herman Giliomee, Jaap Steyn, Jan van der Watt, Marinus Wiechers, Christo van Rensburg, Fransjohan Pretorius, Jean Sonnekus, Ina Wolfaardt-Gräbe, Hennie van Coller en Rufus Gouws.
Nominasies kan aanlyn ingedien word of per e-pos gestuur word aan die Akademiekantoor by akademie@akademie.co.za.
Rig navrae oor nominasies aan prof Anne-Marie Beukes by ambeukes@akademie.co.za.
Sluitingsdatum vir nominasies: 19 Junie 2023
Die prys word op Jan Henoch Marais se verjaarsdag op 8 September in Stellenbosch toegeken waartydens die pryswenner ook ’n beeld van Coert Steynberg ontvang.
The post Persverklaring: Jan H Maraisprys 2023 appeared first on LitNet.