Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig word. Lees Naòmi Morgan se huldigingswoord hier onder.
Hoe objektief ’n mens ook al probeer wees, is dit seker onvermydelik dat jy die wêreld sien deur die bril van jou eie belangstellingsveld, in my geval die geskrewe woord. Ek het die Latynse gesegde Verba volant, scripta manent my eie gemaak: Die gesproke woord is vlietend, die geskrewe woord bly.
Maar toe hoor ek Chris van Niekerk se stem oor die radio, ’n soepel, klankryke, innemende stem wat poësie voorlees soos ’n troebadoer, wat met sy romanvoorlesings ’n hele gemeenskap van karakters laat lewe kry sonder nabootsing, alleen met ’n effense infleksie, ’n fyn intonasie, ’n ingesteldheid op die teks asof hy ’n konsertpianis is wat moeiteloos bladlees.
En skielik was my geskrewe woorde klankloos en leweloos, en sy vlietende woorde op die luggolwe die ontbrekende skakel tussen prosa en drama, die manier om grense tussen genres op te hef en deur middel van die radio luisteraars op die mees afgeleë plekke in ons land bloot te stel aan die Kuns van Boekvoorlesing.
Natuurlik word Chris van Niekerk deur middel van hierdie prys ook geëer vir sy lewenslange bydrae tot die verhoog (Die Burg van Hertog Bloubaard, Grieta kry Geleerdheid, sy roerende vertolking van die pa wat al sy blare verloor in Florian Zeller se gelyknamige Alzheimer-drama, om net ’n paar te noem) en die klein skerm (Arendsvlei, 7de laan,Vlug / Terug na Egipte, Die Boekklub), maar vir my is dit veral sy woordkuns wat hom laat uitstaan. Sy voorlesings, wat ook ’n uitkoms is vir gesiggestremdes, is ’n uitbreiding van daardie intimiteit wat tussen die leser en sy teks ontstaan. En vir diegene wat, geïnspireer deur sy teksanalise (want dit is wat dit is – ’n goeie voorleser is ’n goeie literatuurkritikus), die boek of bundel aanskaf, is dit sý stem, die melodie van sý frasering, wat die leser hoor, soos die geliefde eerste opname van ’n gunstelingkomposisie.
Chris se stem is oor die jare vasgelê in opnames wat in die SAUK se argief bewaar word, asook op CD; sommige van sy “vlietende woorde” bly dus met ons, in ’n ander formaat. Met die oorhandiging van die Akademie se Prys vir Drama 2023 hoop ek dat Chris van Niekerk se vlietende woorde, op die verhoog, op die klein skerm, agter die mikrofoon, sal deel word van die musiek van die sfere waarna groot digters oor die eeue heen so aandagtig luister.
Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u nou om die SA Akademieprys vir Drama aan Chris van Niekerk te oorhandig.
Stellenbosch
1 September 2023
Lees ook:
Breytenbach-sentrum: Chris van Niekerk lees Breyten se gedigte
The post Akademiepryse 2023: SA Akademieprys vir Drama – Chris van Niekerk appeared first on LitNet.