![]() Foto: Naomi Bruwer
|
Sêgoed van Diana Ferrus “Maar gelukkig is ek die enigste van my ma se kinders wat nooit tot trou gekom het nie. Dit het altyd vir my gevoel iemand vra my om tronk toe te gaan. So, my lewe is my eie.” (Die Burger, 8 September 2006) Hoe dit voel dit om vyftig te wees: “Ek kyk na die jongmense en dink: O, hoe baklei julle nog. Dankie tog ek is daar verby.” (Die Burger, 8 September 2006) “Méér swart skrywers publiseer as in die verlede, maar die stryd vir swart vroueskrywers, veral in die laer klas, is nog lank nie verby nie.” (Die Burger, 2 Maart 2004) Oor hoekom sy self publiseer: “Ek voel ek moet ’n ander lesersmark oopbreek – een waarvoor die uitgewers dalk nie tyd het nie – die bruin Afrikaanse lesersmark … Nou een koue Maandagaand (…) was daar by die vyftig mense in Bonteheuwel se biblioteek. Ai, dis so wonderlik om die oë te sien blink as ek lees – van ons slaweherkoms en ons taal, en as ek kom by ‘Kom ons praat weer Afrikaans’, dan sê hulle die laaste reël saam op: ‘Kom ons vat die kans, kom ons praat weer Afrikaans!’” (Insig, Julie 2006) “My doel op aarde is om deur middel van die skeppingsproses vrede te bevorder; vir myself en die mense met wie ek te doen kry. Wat saak maak, is respek vir ander mense. Wat nié saak maak nie, is uit watter agtergrond hulle kom. Daai’s nonsens. Ek voel nie bedreig deur die rykste of verhewe bo die armste nie.” (Die Burger, 8 September 2006) “Ek werk hard aan versoening. Dis die enigste pad wat ons kan loop. Ek skryf en sing oor gesinsgeweld, slawerny en kinders se gebrek aan veiligheid in die wêreld. Ek self ken die vrees vir die baklei wat kom.” (Die Burger, 8 September 2006) Wat is haar doelwitte as kulturele aktivis? “Sou graag ’n bewustheid wou kweek met my skeppinge oor die identiteit van Suid-Afrikaners en individue van die globale wêreld. Ook ’n bewustheid skep oor onderwerpe wat kan help om dié wêreld ’n beter plek te maak.” (Sondag, 7 Oktober 2007) Haar gunsteling-woord: “As daar ’n woord is wat ek dink ek reeds my eie gemaak het, is dit die woord Komvandaan, ’n ander woord vir herkoms. So is my eerste bundel Ons komvandaan.” (Rapport, 2 Desember 2012) Raad aan ontluikende digters: “Jy moet die besluit maak om te skryf. Vertel dit vir die mense. Bly by die besluit en begin skryf, al is jy skaam om dit vir ander te wys. Lees ander gedigte! Gaan luister as ander digters voorlees. Win kennis in oor die digkuns en die verskillende sienings daaroor. Tersiêre opleiding is nie die alfa en omega nie. As jy in jouself glo en vasberade is om te skryf, sal jy skryf. Jy moet weet wie jy is en in voeling wees met jou emosies. Jy moet die ongemak voel om baie persoonlik te skryf en dit later voor ’n gehoor op te voer. Jy sal sien hoe vry jy raak.” (Stronk, 3 Julie 2019) “Ek dink net dat die liéfde vir lees en skryf kom uit daardie jare wat my ma vir my voorgelees het. Afrikaans is die taal wat mense kan versoen. Dis ’n pragtige taal; dis ’n musikale taal en die taal sal nie uitsterf nie … die liefde vir die taal is te sterk.” (Die Burger, 14 Julie 2017) Oor slawerny: “Jy was ’n besitting. Jy het geen reg oor jouself gehad nie: jou naam, jou kultuur, jou spiritualiteit. En kyk hoe het dit verlore gegaan … Jy weet ons het diép seergekry. Ons het diép, diép seergekry. Ek dink nie ons mense besef hoe seer ons gekry het nie. Die seerkry manifesteer in wat aangaan … in die gangsterism, in die drug-abuse … Ek voel as ons weet wat ons is en wat met ons gebeur het, sal dit makliker wees om te genees.” (aan Murray la Vita, Die Burger, 14 Julie 2017) “A Poem for Sarah Baartman I’ve come to take you home – I have come to wrench you away I have come to soothe your heavy heart I have come to take you home |
Gebore en getoë
Diana Ferrus1 is in 29 Augustus 1953 in Worcester gebore. Sy was die derde oudste van ses kinders van Ann en Jacobus Ferrus. Haar kinderjare was redelik stormagtig. Haar pa, ’n skrynwerker wat by die val van Tobroek deur die Duitsers gevange geneem is en haar ma, wat ses kinders moes grootkry, het albei heelwat gedrink.
Haar ma leer haar egter van dapper wees en die digkuns. “Eintlik is ek die skrywer wat sy moes gewees het,” vertel Diana aan Susanne Beyers. (Die Burger, 8 September 2006)
By ouma Bettie Elias kry Diana standvastigheid en die jare saam met haar was Diana se gelukkigste. Toe sy haar ouma op dertienjarige ouderdom verloor, is dit asof sy alleen agtergebly het. Om te vergoed vir die moeilike tye by die huis, het Diana op skool begin uitblink. Sy woon die Nederduitse Gereformeerde Sendingskool by en gaan later na Esselenpark Hoërskool, waar sy in 1972 matrikuleer. Sy skryf haar eerste gedig op vyftienjarige ouderdom.
Diana vertel meer oor haar familie aan Murray la Vita (Die Burger, 14 Julie 2017): “My familie, veral aan my pa se kant, was politiek bewus. My ouma was die kleindogter van ’n slaaf. So daar was baie bewustheid by my ouma, Rosie Februarie … Februarie wat Ferrus geraak het. Ek onthou dat my antie, my pa se suster, vir my gesê het háár ma het altyd gesê: ‘Wat dink die Franse om onse klimmeit daar anderkant in ’n glaskas aan te hou!’”
Verdere studie en werk
In 1973 gaan Diana na die Universiteit van Wes-Kaapland. In die middel van daardie jaar maak die universiteit toe as gevolg van onrus en met die heropening kon Diana nie haar studies voortsit nie, weens finansiële probleme. Sy studeer deeltyds vanaf 1988 en behaal in 1993 haar graad met sosiologie en bedryfsielkunde as hoofvakke aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Sy gaan na Nederland as deel van haar studie vir haar honneursgraad. En dit is daar waar die verlange haar begin inspireer en die bekende gedig oor Sarah Baartman sy ontstaan het. Diana vertel self aan Murray la Vita oor hoe al die dele van dié deel van die geskiedenis gebeur het en bymekaargekom het: “My bewustheid van Sarah het gekom nadat ek begin studeer het. Ek het haar, dank die vader, nooit uitgestal gesien nie; ek het haar net gesien toe ons haar gaan haal het – die gipsafgietsel en die skelet, nét dit.
“Ek het die gedig oor Sarah geskryf terwyl ek in Utrecht studeer het. Dit was inténs, want ek was in ’n vreemde land; ek was homesick en ek het geleer sy het in ’n onderhoud gesê sy wil net huis toe gaan.
“Dít was vir my die groot ding: Huis en die moeder en die moederland, want ek was in Holland die jaar nadat my ma gesterf het. Een aand het ek so in my kamer gestaan en ek was só homesick, ek het súlke heimwee gehad. En ek het gekyk na die sterre en ek het vir myself gesê hulle is so vér hiervandaan, maar as ek in mý land was, sou ek hulle kon aanraak het.
“En toe is dit asof ek ’n stem hoor wat sê, en ek weet nie hoekom in Engels nie: ‘I want to go home! I want to go home!’ Toe het ek, met die tráne wat oor my wange loop, na my tafel toe gegaan en ek het daar die eerste lyn geskryf: I’ve come to take you home … En ek het nooit geweet hoe profeties dit sou wees nie. Daai aand het die hele gedig gekom; ek het later net een lyn bygesit. Die mense is aangedaan as ek dit lees. En hulle vra vir jou om dit weer te lees. Ek het besef dit het krag.
“Nadat die Franse senator Nicholas About ’n video op die internet gesien het waarin ek die gedig voordra, het hy in ’n e-pos aan my gesê hy is ontroer daardeur want dit wys hoe emosioneel ons voel oor die feit dat haar oorskot nog uitgestal word. Hy vra toe vir my om dit in Frans te laat vertaal, want hy was besig om sy vertoë bymekaar te sit om haar oorskot te laat huis toe kom.
“Toe ek vir my vriende sê toe spring ons in die lug in want iets wat só onmoontlik gelyk het, is nou moontlik. Sy vertoë, met my gedig in, het toe deel van ’n Franse wetsontwerp geword. Die wetsontwerp is uiteindelik eenparig aanvaar.”
Die Suid-Afrikaanse regering het Diana genooi om saam te gaan toe hulle vir Sarah gaan haal het: “Die 27ste April 2002 is ons toe hierdeur om vir haar te gaan haal. Die regering het my gevra om die gedig voor te dra by die oorhandigingsproses. Dit was ’n baie emosionele storie daai. (…) Ons word toe toegelaat om binne in die kis te kyk want ons moes die oggend voor ons gegaan het vir die oorhandiging gaan kyk dat hulle die oorskot reg verpak.
“Toe ek afkyk in daai kis toe was dit vir my ’n oomblik of sy gesê het: ‘Take me away.’ Iemand het toe vir my gesê: ‘Gaan net so om die draai.’ Toe is daar rýe en rýe en rýe skelette wat hang … kleintjies en grotes … wie se ma? wie se pa? wie se kind háng in daai museum.
“En toe is dit my beurt om nou die gedig op te sê en toe sê onse ambassadeur vir my ek moet gou maak want die Franse minister moet nog iewers gaan. Ek dink toe: Jy’s seker nie reg in jou kop nie! Hy gaan wág! Hy gaan wág! Hoe kan sy vir my sê ek moet gou maak?
“As daar iets is waarop ek baie trots is in my lewe dan is dit dat ek ’n Franse minister laat wag het. Ek het eers ’n lied gesing en op my mondfluitjie gespeel. En toe sê ek die gedig op.”
Literair Nederland, ’n Nederlandse en Vlaamse webwerf, het “Huldeblyk aan Sarah Baartman” aangewys as sy gunsteling nuwe gedig wat die potensiaal het om eendag ’n klassieke werk te word. (Die Burger, 1 Februarie 2006)
Nadat sy in 1997 ingeskryf het vir haar honneursgraad in vrouestudies, verwerf sy dit in 1999. Sy werk daarna aan ’n meestersgraad – Swart Afrikaanse vroueskrywers – die vreugde en frustrasies van die skryfproses. Bedags werk sy in die Departement Bedryfsielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
In 1994 skryf sy haar eerste kortverhaal, “Die kind”, wat in Die Suid-Afrikaan gepubliseer word en later opgeneem is in ’n bundel kortverhale wat vir hoërskoolleerlinge voorgeskryf is. Haar gedigte en kortverhale is in Afrikaans en Engels en word gepubliseer in onder andere Die Suid-Afrikaan, Rooi Rose, Beeld, New Letters (’n literêre tydskrif van die Universiteit van Missouri) en Karring en word ook opgeneem in die versamelbundels Veertig is g’n vloekwoord nie, Die stukke wat ons sny, Taxi – staanplekstories, Uit die kontreie vandaan en Groot verseboek. In 2020 word haar gedig “Pa weet jy ...” in Vers en vrou opgeneem. Sy publiseer ook in Women creating to create the future (Vivlia) en in New Letters, ’n literêre tydskrif van die Universiteit van Missouri.
Sy maak ook die CD Ansela van de Caab, oor Helena Scheffler se verhaal en haar eie navorsing oor Ansela, ’n slavin. Die Duitser Lourens Campher het drie kinders by die slavin Ansela van de Caab terwyl sy in die sewentiende eeu in die slawekwartiere in die Kaap woon. Sy word eindelik vrygemaak en sy en Lourens en hulle drie kinders, Cornelis, Agnietie en Jakoba, gaan bly op die plaas De Driespong in die Kaap. (Wikipedia)
In 2005 neem Diana deel aan die Winternacht-fees in Den Haag en toer sy saam met ander digters deur die Nederlandse Antille. Sy sluit die jaar af met ’n besoek aan Suid- en Noord-Korea, waar sy aan die Internasionale Poësiefees vir Wêreldvrede deelneem. In dieselfde jaar word sy ook benoem as finalis vir Suid-Afrika se Vrou van die Jaar-kompetisie.
Diana se deelname aan die KKNK in 2006 met die aanbieding How much longer? / Hoe lank nog? besorg aan haar en die Mamela-orkes ’n Kanna vir Beste Kontemporêre Musiek. En haar woordkuns-produksie Ansela van die Caab, sowel as haar deelnames aan debatte oor Afrikaans en haar betrokkenheid by die boek Slaan vir my ’n masker, Vader (medesamesteller Suzette McKerron) besorg aan haar ’n tweede Kanna in 2006 – Afrikaans Onbeperk se Kanna vir Vernuwende Denke.
In ’n onderhoud met Susanne Beyers vertel Diana dat sy soms haar “agterent” sien met haar day job in die departement van bedryfsielkunde by UWK en al haar optredes by al die feeste: “My alleenlewe in my huis in Kuilsrivier is vir my baie kosbaar. Ek moet altyd loop kuier – mense kom kuier nie by my nie. Ek dink my huis is te deurmekaar. Gelukkig ry ek en my ‘man’, die getroue blou Toyota Corolla, graag die wêreld vol.” (Die Burger, 8 September 2006)
Haar eie digbundel, Ons komvandaan, wat sy self uitgegee het, verskyn ook in 2006. Oor haar besluit om haar digbundel self uit te gee, vertel Diana aan Insig van Julie 1996: “Ek besef uitgewers stel vandag nie so baie belang in digbundels nie. En ek weet daar is nog mense wat waghou by die hek, wat besluit wie moet deurgaan om gepubliseer te word. Hoewel ek bekend was vir my Saartjie Baartman-gedig, het niemand vir my kom vra of ek wil uitgee nie.
“Ek was in ’n posisie om self my bundel uit te gee, want ek het met ’n goeie drukker bevriend geraak wat van die drukwerk van die UWK doen. Dié mense van Printwise het die uitleg vir my gedoen en die proefleeswerk het ek self gedoen. Ek besef dis nie veronderstel om so te werk nie, maar ek kon nie bekostig dat ’n redakteur vir my sê dié is verkeerd of daai is goed nie. Dit doen iets aan ’n mens as jou manuskrip teruggestuur word. Hierdie boek was vir my heilig – ek wou hom net vir myself hê.”
Oor hierdie digbundel van Diana skryf Steward van Wyk in Die Burger (29 April 2006): “Hierdie bundel bring Ferrus se gedigte van die afgelope aantal jare byeen. Dit begin met haar roerende huldeblyk aan Saartjie Baartman. Diegene vertroud met die ontstaan van hierdie gedig en die impak daarvan met betrekking tot die terugbring van Baartman se oorskot, sal weet hoe merkwaardig dié stukkie geskiedenis is. Ferrus se voorwoord lê reeds ’n verband tussen hierdie gedig, die bundeltitel en die bundel as geheel. Dit gaan hier oor wortels, oorspronge, versweë en miskende geskiedenisse, alles in die teken van die postkolonialisme. (…) Die sosiaal-politiek van hede en verlede vorm egter oorwegend die inslag van die bundel, soos in ‘Na tien jaar’, waarin tien jaar van demokrasie gevier word. (…)
“Wie hier die estetiese poësie met verwikkelde metaforiek, woordvondste, verwysingsvelde en so meer verwag, kan teleurgestel word. Ferrus is veel meer tuis in performatiewe poësie, gekenmerk deur inkanterende refreine, retoriese middele en meesleurende ritmes. Daarvan getuig ook haar gevoelvolle voordragte, aangevuur deur tromritmes, stemmodulering en ekspressiewe lyftaal. Haar voordragte van ‘Afrikaans, ’n versoeningstaal’, en ‘Kom ons praat weer Afrikaans’ roer waarskynlik meer harte as nog ’n sarsie in die taaldebat in die briewekolomme van hierdié koerant. Sy is waarskynlik Afrikaans se mees bedrewe ‘performance poet’. Ek hoop lesers en Boekklub-lede sal die kans aangryp om hierdie bundel en die digter van nader te leer ken.”
Diana se soektog na haar herkoms is vir haar baie belangrik en sy is tans besig met verdere navorsing vir ’n boek oor haar pa (wat toe in 2019 uitgegee is). In 2006 besoek sy Duitsland (die land waar haar pa sestig jaar tevore ’n gevangene was), waar sy aan die fees Africa Alive deelneem. Later in dieselfde jaar is sy na Suriname, waar sy saam met digters en skrywers uit verskillende lande deelneem aan die Vierde Internasionale Literatuurfees, Werelden in Ontmoeting. In Mei 2007 lewer Diana die vyfde jaarlikse Langenhoven-gedenklesing met die titel “Die skrywer en die gemeenskap”.
Oor die titel van haar lesing, “Die skrywer en die gemeenskap”, het Diana Ferrus gesê dat dit op die oog af dalk na ’n eenvoudige titel vir ’n lesing mag klink, maar daar skuil egter ’n magdom verskuilde betekenisse daaragter: “Daar kan gevra word of die skrywer enigsins iets aan die gemeenskap verskuldig is. Is die skrywer genoodsaak om oor die gemeenskap te skryf? Is alle skryfwerk dan maar nie net oor die gemeenskap nie? Of andersom, bepaal die tipe gemeenskap waaruit die skrywer kom, nie die soort skryfwerk waarmee die skrywer vorendag sal kom nie? (…)
“Die skrywer is onlosmaaklik deel van sy of haar gemeenskap en sy of haar werk bevat maatskaplike, sielkundige en/of politieke gegewens wat die leser ’n blik gee op die milieu waarin die skrywer leef of geleef het. Met die skryf van ’n kreatiewe skryfstuk probeer die skrywer sin uit sy/haar lewe maak. En wáár lewe hy/sy? Nie op die maan of tussen die sterre nie, maar tussen ander mense, met landskappe wat onuitwisbare spore in die geheue los. (…)
“[Langenhoven] was ’n meester-skrywer wat die landskappe en gebeure rondom hom soos goud in sy kop bewaar het. Sy skryfstyl herinner aan sjokolade wat blokkie vir blokkie in die mond wegsmelt. Hy sit jou orals neer, in die droë, dorre Karoo, langs ’n knorrige ou man of ’n jong verliefde wat sy lewe opoffer om sy geliefde en haar minnaar te red. (…)
“Hierdie skrywer het diep in mense se harte gekruip, ongeag wat hul politieke oortuigings was. ’n Goeie vriendin praat nou nog met nostalgie oor die werke van Langenhoven, wat sy in die 1960’s op skool leer ken het. Hierdie gedigte en verhale was met sovéél passie deur hul onderwyser, Mister Isaacs, voorgedra, dat sy nou dele daarvan onthou… (…) Die onderwyser, vertel die vriendin my, was óók ’n vurige ondersteuner van die Teacher’s League of South Africa, en hy was ’n kommunis!
“Maar Langenhoven het in ’n era geleef waarin hy deel was van ’n gemeenskap wat op ’n sekere manier geleef het, op ’n sekere manier met mekaar omgegaan het. Dit was doodnormaal dat diegene wat nie wit was nie, as ondergeskiktes gesien is – en ook so behandel is. (…) En ongeag die feit dat verwysings na nie-wit mense soms afstootlik is, moet ’n mens toegee dat Langenhoven ’n wyse en slim skrywer was – ’n skrywer wat sy tyd vooruit was.
“Ek lees en skryf oor my herkoms; ek vind dat my wortels ook van ver gekom het. ’n Deel van my stamboom is die Februarie’s, genoem die Masbiekers, omdat hulle van Mosambiek kom. En ek treur oor hulle wie se storie ek nooit sal lees nie en weer skryf ek:
Ons komvandaan
Was dit my ma se ma se ma se ma se ma
of haar pa se pa se pa se pa se pa –
in boeie vasgemaak en diep onder in ’n skip gegooi
en dagte lank en nagte lank gevoel
hoe waters hard aan hulle ore slaan?
Wat was hulle gedagtes?
Het hulle gehuil, het hulle gevrees,
Het hulle gebid vir die dood om te kom?
Was dit my ma se ma se ma se ma se ma
Of haar pa se pa se pa se pa se pa?
En toe hulle hier land, ver van familieband –
Wat was hulle gedagtes?
Het hulle verlang, het hulle getreur
Of het hulle aanvaar?
Nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April,
Fortuin, Arendse, Fransman en Gabier,
maar iewers lank gelede, baie ver van hier –
het ons ons feeste onder ’n ander naam gevier!”
Die stryd om erkenning van vroueregte en die rol wat swart Afrikaanse skrywers speel in die verryking van die Afrikaanse letterkunde lê Diana baie naby aan die hart. Tydens die Woordfees van 2004 het sy ’n program, “Swart Afrikaanse Skrywers: die skryfproses”, aangebied. En sy is hard aan die werk om swart Afrikaanse vroueskrywers te bemagtig en hoewel dinge, volgens haar, beter gaan as in die verlede, is die pad nog lank en opdraande: “En dit is allermins dat daar nie genoeg van dié skrywers is nie. Hulle skryf, maar is bang om dit aan uitgewers voor te lê as gevolg van allerlei vrese soos dat hulle nie goed genoeg is nie,” vertel sy aan Die Burger (2 Maart 2004).
Diana is in 2003 ’n finalis vir die toekenning van Suid-Afrika se Vrou van die Jaar. Daarna word sy genooi na die Winternacht-fees in Den Haag en toer saam met ander digters deur die Nederlandse Antille. Later daardie jaar besoek sy Suid- en Noord-Korea, waar sy aan die Internasionale Poësiefees vir Wêreldvrede deelneem. Sy bring in 2006 ’n besoek aan Duitsland waar haar vader sestig jaar vroeër ’n gevangene was, waar sy aan die fees Africa Alive deelneem.
In 2009 gaan sy na Turkye as deel van Winternachten se eerste literêre toer saam met skrywers van Sint Maarten (Antille), Marokko en Nederland. Tydens hulle toer bied hulle voorlesings en werksessies aan in Istanbul en Diyabakir.
Oor hierdie toer vertel Diana aan Willem de Vries (Beeld, 28 Desember 2009): “Turkye het ’n geskiedenis van konflik, so ook konflikte oor taal. Die Koerdiese taal was (tot onlangs) in Turkye verbied. Ek het natuurlik trots oor Afrikaans gepraat en veral in Diyabakir was daar baie vrae oor my taal. Gewelddadige konflikte lê nog baie vars in mense se geheue en ek het die gevoel gekry dat ’n begeerte vir vergelding vlak in mense se harte lê. Ek het my gedig oor vrede, ‘The peace song – a poem without pretence for peace’, voorgedra en by die besprekings het ek en ’n Marokkaanse skrywer, Abdelhay Moudden, gepraat oor ons Waarheids- en Versoeningskommissies. Marokko het sy WVK op ons s’n gebaseer. (…)
“Ek en Moudden het aan ’n bespreking oor die onderdrukking van kulturele identiteit en die konfrontasie met ’n verlore geskiedenis deelgeneem. Inci Aral, ’n gewilde Turkse skrywer, en Markar Esayan, van Armeense afkoms, was die ander deelnemers. ’n Hoogtepunt van die fees was die bekendstelling van die heel eerste roman in die Koerdiese taal wat in Turkye uitgereik word: Siwane Kurmance (Koerdiese herder) deur Erebê Smo.
“By die geleentheid moes onder andere die Winternacht-skrywers dele daarvan in Koerdies lees. Daarna het ’n Koerdiese orkes gespeel en ons het saamgedans met veral die ou Koerdiese mans, wat met trots, maar veral ook met heimwee in hul oë hul kultuur ten toon gestel het. Hierdie gebeurtenis het ’n jong Turkse vertaler, Tuba Parlak, in trane gehad.
“In ’n bespreking het ek en Moudden oor versoening gepraat. Die vrae wat gevra is, het my laat besef dat baie van diegene teenwoordig swaar gesluk het aan so ’n moontlikheid. Turkye dra ook swaar aan ’n geskiedenis van onderdrukking. As ons kyk na kulturele vryheid in die huidige opset is Suid-Afrika hulle myle vooruit … Facebook is verbied in Turkye!”
Sy is stigterslid van Bush Poets, ’n vrouegroep digters van die Universiteit van die Wes-Kaap, en stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging. Verder is sy stigterslid van Art de Communique, ’n organisasie vir kunstenaars, skilder, digters, musikante en ander kreatiewe tipes en stigterslid van die vroueskrywersvereniging Women in X-chains, vir wie sy die weeklikse gedigvoorlesings koördineer wat in Heartbeat Café in Lansdowne in Kaapstad plaasvind. Sy is nooit getroud nie en bly in Kuilsrivier, waar sy ’n huisie huur. Sy koördineer Women’s Room, ’n weeklikse poësiebyeenkoms wat in die Heartbeat Café in Lansdowne bymekaarkom.
In 2004 het Diana die patrollie-skip wat in Vlissengen, Nederland gebou is, gedoop. Die patrollie-skip is na Sarah Baartman vernoem. Die Vryheid van haar geboortedorp Worcester is ook in 2020 aan haar toegeken tydens Worcester se 200-jarige vieringe.
In 2012 ontvang Diana die eerste Mbokodo-toekenning vir haar digkuns. Die Mbokodo-toekennings word jaarliks toegeken om erkenning te gee aan vroue in die kunste en is ’n inisiatief van Carol Bouwer Produksies en die Departement van Kuns en Kultuur.
In 2012 was sy NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein se gas tydens die Vryfees en het sy by twee geleenthede opgetree. Dit was die eerste keer dat sy by die Vryfees opgetree het en wat Vrystaters die geleentheid gekry het om haar te ontmoet.
Ook in 2012 bied sy by die Breytenbach-sentrum in Wellington skryfklasse aan vir jong mense, asook vir volwassenes uit benadeelde gemeenskappe. Hieruit het die groep, die Mengelmoes-digters, ontstaan wat nog tot vandag toe aan die gang is. Hulle het ook al bloemlesings met hulle gedigte die lig laat sien.
Diana was ook in 2016 deel van ’n toer deur die Noord-Kaap wat deur PEN Afrikaans georganiseer is. Met die projek beoog PEN Afrikaans “om die kultuurerfenis van die Noord-Kaap lewend te hou en om die opvatting te verander dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is,” aldus Willem de Vries. (Volksblad, 18 April 2016) Bettina Wyngaard was die projekleier en Diana was een van die aanbieders. Die doel met die toer was om verhale te ontdek en te publiseer, en om talentvolle skrywers te vind wat deur mentorskap ontwikkel kan word, het Wyngaard gesê.
In 2015 is Diana Ferrus een van die beoordelaars van LAPA en die tydskrif Kuier se kortverhaalkompetisie. Cliffordene Norton, projekleier by LAPA, het met die aankondiging meer vertel oor dié inisiatief: “Die kompetisie het die eerste keer verskyn in Kuier in die 28e Januarie se uitgawe en dit het gehardloop tot 31 Maart. Die eerste maand, Januarie, het ons slegs drie stories ontvang en ek het so bietjie bekommerd geraak om die minste te sê. Februarie het ons 16 kortverhale ontvang, en nog steeds was ek bekommerd. En toe ek 17 Maart my inbox oopmaak is daar 80 kortverhale en teen die einde van die kompetisie, op 31 Maart, het ons 263 inskrywings gehad.
“Die doel agter die kompetisie was om nuwe stemme te ontwikkel. Unieke stemme, maar ook bruin stemme. Want soos ons sê, ons soek stories daar buite wat vir my – ek is ’n bruin coloured persoon – wat ek sal wil lees in my éie taal, waarmee ék kan saamleef. Waar ek as leser die karakter, die taal en omgewing kan herken. Dit was vir my ’n baie goeie projek, na aan my hart.
“Die tema vir die kompetisie was ‘Uit die hart’, geïnspireer deur Kuier se agterbladrubriek ‘Wat die hart van vol is’. Die skrywers moes ’n verhaal van 1 000 tot 1 500 woorde inskryf. Saam met Norton en Diana Ferrus het Raylentia Simmons (assistentredakteur by Kuier), Bettina Wyngaard (die skrywer van Vuilspel en ’n lid van PEN Afrikaans) en Shirmoney Rhode (digter en blogger by LitNet) as beoordelaars ingespring en begin lees. Joanna Alexander met haar kortverhaal ‘Meester’ is as wenner aangewys.” (http://lapa.bookslive.co.za/blog/2015/07/03/wenner-van-kuier-lapa-en-pen-afrikaans-se-kortverhaalkompetisie-aangekondig/)
Diana neem ook in 2017 deel aan Ketikotimaand in Nederland. Dit is dié land se nasionale herdenking aan hulle slawernyverlede. Sy was ’n spreker daar en het ook haar gedig oor Saartjie Baartman daar voorgedra.
Oor haar bewuswording van slawerny vertel sy aan Murray la Vita: “My ouers het nie eintlik daaroor gepraat nie. My óóm het iets gesê; hy het my vertel dat hulle die afskaffing van die slawehandel herdenk het. Ek is so spyt ek het nie vir hom méér gevra nie – hy’t so ’n liedjie ook gesing wat hulle gesing het in daardie tyd. Maar die wérklike bewuswording was toe ek, net ná demokrasie, wou werk met die identiteit van die sogenaamde bruinmense want ek het besef daar is ’n klomp genesing wat moet plaasvind; toe het ek begint met geskiedenis en dit nogal met Afrikaans.
“Die mense het skaam geraak oor Afrikaans praat, en vir mý was dit ’n groot ding want Afrikaans is deel van hulle identiteit en … ek het net as kind al gekyk na die sosiale euwels in onse gemeenskap. Ek verbeel my ek was nege of tien toe ek vir myself gesê het: dit is nie reg dat dit lyk soos dit is nie en dit het my daarna gelei om iets te wil doen om dit te laat verander en genesing te laat plaasvind.
“En toe word ek bewus van die taal en die mense wat die taal praat en ek besef mense wil meer en meer nie Afrikaans praat nie as gevolg van ’n klomp dinge wat met die taal gebeur het. Die regte oorsprong van Afrikaans moet meer belig word.
“Ons moet die woorde wat ons uitgehaal het van die slawe en die Khoi terugbring in die taal. Dit moet regtig ’n onafhanklike taal word. Op skool mag ons nie ‘kooi’ gesê het nie, ons moes gesê het ‘bed’. Kooi is ’n Khoi-woord vir bed. En ek dink toe agterna hoeveel woorde is uitgehaal uit die taal. En toe ek nou agterkom hoeveel woorde die slawe en die Khoi gebring het na die taal toe, toe besef ek dan moet ek nou meer uitvind van slawerny en ek kom ook op die ding dat die mense name van maande het en ek besef waar dit vandaan kom.
“En toe grip dit my so dat ek besef, orraait, nou moet ek hieroor skryf en ek moet dit voordra en ek moet dit uitbring want dit gaan help met die herstelling en ook met ’n soort trots waar ons vandaan kom. Daarom het ek die gedig ‘Ons komvandaan’ geskryf. Daarin sê ek oor die name van maande wat aan hulle gegee is.”
Oor ’n boek of skrywer wat haar aangespoor het om te lees, vertel Diana aan Insig (September 1999): “Ek koop twee jaar gelede ’n boek van Elise Muller, Die vrou op die skuit. Die boekie is goedkoop en omdat ek ook kortverhale skryf, wil ek graag lees hoe ander vroue dit doen. Ek verslind dit.
“In die biblioteek loop ek my onlangs weer vas in Elise Muller. Hierdie keer konfronteer sy my met Kortverhale en essays – 1942-1981. En ek is opnuut verbaas, wonderlik verras dat iemand, ’n vrou, wit, ’n plattelander, so naak en eerlik en tog met die grootste deernis kan skryf oor issues wat in haar jare as skrywer sekerlik ’n klomp moed gekos het. (…)
“In haar essays skets Muller ook die gevoelens van ’n jong plattelandse vrou wat stad toe trek en die ‘koue’ van die stad in skrille kontras met die ‘warmte’ van die platteland ervaar. Voeg daarby die gedagtes van die vrou wat ongetroud is en konstant die druk moet verwerk van mense wat wil hê sy moet trou. Dis ’n wonderlike openbaring vir enige vrou (veral dié in die ouderdomsgroep wat volgens die gemeenskap al lankal getroud moes gewees het!).
“Hierdie skrywer dwaal vandag nog in my gedagtes rond. Ek sien haar hunker na die betowering van die Hantam, die vaalheid van die Karoo – iets wat ek aan eie lyf verstaan. Elise Muller maak my bly dat ek ook skryf. Hoekom het ons mekaar nooit geken nie?”
Oor Diana se jongste digbundel, Die vrede kom later, wat in 2019 weer deur haarself uitgegee is, vind die leser die volgende uitspraak op die agterplat van die bundel: “Met hierdie roerende huldeblyk aan haar pa skets Diana Ferrus nie net die persoonlike, van dag-tot-dag emosionele landskap van familie-bande nie. Dit is ook ’n skryfstuk wat ons ’n nuwe lens op ons geskiedenis bied. Ferrus vul die vergete, die onderdrukte deel van ons menswees met poësie wat die hart en intellek roer. Met meesterlike woord-ekonomie string sy gedigte bymekaar om ’n aangrypende verhaal van haar familie te vertel. Haar pa se worsteling met die Tweede Wêreld Oorlog word oorgedra aan die intieme vlak van die gesin, en ontplof weereens daar. Hierdie is digkuns wat mens laat lag, huil en wat ook ’n diepe heimwee ontketen.”
Diana Ferrus het in 2019 die Sol Plaatje-gedenklesing gelewer. Die titel van haar lesing was “Sarah Baartman – the history … many beginnings and many endings”.
Op Facebook gesels Diana Ferrus met Corneli van den Berg as deel van die Vrystaatse Kunstefees in 2020 oor Die vrede kom later. Diana vertel baie onderhoudend oor die agtergrond van die bundel, spesifieke gedigte en ook oor haar lewe. Lesers kan gerus na die onderhoud gaan luister en kyk.
In April 2022 word Diana Ferrus vereer met ’n eredoktorsgraad in die filosofie van die Universiteit van Stellenbosch (DPhil). Sy is vereer omdat sy haar skryfwerk en gedigte gebruik om op te voed en te bemagtig. Daardeur betoon sy ’n bereidwilligheid om ’n nuwe generasie skrywers te help ontwikkel en ook om haar kuns te gebruik sodat ander mense dit as gereedskap kan gebruik om hulleself uit te druk.
In haar aanvaardingstoespraak het Diana die belangrikheid van stories in almal se lewens beklemtoon: “Stories ontstaan iewers en verbind ons almal saam. Wat vertel die storieverteller? Wat is die doel van die storieverteller? Die storieverteller verbind die verlede met die hede en laat ons anders dink oor die toekoms.”
Sy het die Universiteit Stellenbosch bedank dat hulle haar gekonnekteer het met die universiteit se storie en vir die geleentheid om die universiteit in haar storie in te sluit: “In die geheel is ek dankbaar dat ek ’n naam sal hê in julle storie. Daar is so baie karakters sonder name in stories. Storievertellers moet nooit name vergeet nie, hulle moet name oproep en verbeel en moet altyd probeer om die hele storie te vertel. Dit is net deur die vertel van stories dat ons ons self kan vrymaak van die innerlike kettings.”
In 2022 het die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) Diana Ferrus vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal. Sandra Prinsloo, die aktrise, het die toekenning aan haar oorhandig in Diana se tuisdorp, Worcester, se stadsaal.
In haar bedankingstoespraak het Diana gesê: “Die groot werk wat die SBA doen om Afrikaans te bevorder op klein dorpies en op die platteland is noemenswaardig. Maar belangriker nog is dat dit nie net oor Afrikaans praat gaan nie, maar om daadwerklik werktuie in mense se hande te sit en hulle kans te gee om hul eie werk te skep en om hul vaardighede te versterk en op te skerp.
“Mense voel trots om die taal te praat en het ook vertroue daarin dat die SBA hulle sal bystaan om hulself tot groter hoogtes te voer. Die wete dat daar ’n organisasie is op wie ’n mens kan staatmaak, beteken baie.” (Netwerk24, 19 Desember 2022)
In 2023 is Diana Ferrus by die 13de jaarlikse kykNET Fiësta-toekennings in die kategorie Legende vereer. Richard Roberts het op Netwerk24 geskryf dat sy ’n staande ovasie ontvang het. ’n Jarelange vriendin van Diana, Madge du Preez, het die huldewoord gedoen: “Daar is so baie om oor hierdie ikoon te sê en ek glo almal van ons wat vanaand hier teenwoordig is, is bewus van wie sy is, wat sy doen en die vele toekennings wat sy reeds oor die jare ontvang het.”
In die volgende klankopname vertel Diana Ferrus waarom sy oor Sarah Baartman geskryf het:
Publikasies:
Publikasie |
Ons komvandaan |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0620326468 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Diana Ferrus Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
I’ve come to take you home |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9781456891725 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Xlibris |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Die vrede kom later |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780620827843 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Diana Ferrus Uitgewers |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
’n Keur van artikels deur Diana Ferrus
- Diana Ferrus commemorating April 27, 1994 … South Africa
- Diana Ferrus se gedigte: “Afrikaans, ons versoeningstaal”
- Diana Ferrus speaks about the beauty of poetry
- Diana Ferrus telling the story of Ansela van de Caab (part 1)
- Diana Ferrus telling the story of Ansela van de Caab (part 2)
- Die regte boek op die regte tyd. Insig, September 1999
- “Ek publiseer self”. Insig, Julie 2006
- “Five down”, die trein wat met die donker kom [kortverhaal]. OuLitNet, 28 Julie 2005
- From broken bones to healing hearts: my journey with Sarah Baartman. Syracuse University, 29 September 2014
- Gunsteling-woorde. Rapport, 2 Desember 2012
- Her eyes – an election story
- “Herinneringe” by Diana Ferrus
- I’ve come to take you home: a tribute to Sarah Baartman
- Mont du Toit Wynkwatryn: Diana Ferrus. LitNet, 31 Oktober 2006
- My naam is Februarie. LitNet, 9 Julie 2015
- My stukkie uit die jare toet – die dood van Verwoerd. LitNet, 2 Augustus 2007
- Nou (vir Brenda 09.05.04) [gedig]
- Recital of the poem “The journey” by Diana Ferrus
- SA women continued to be objectified like Sarah Baartman: author. SABC News, 16 Augustus 2019
- Sarah Baartman: Hoekom sy? Hoekom haar graf? LitNet, 30 April 2015
- Skrywer & gemeenskap: Diana Ferrus oor CJ Langenhoven. Die Burger, 26 Mei 2007
- South Africa Diana Ferrus: “I’ve come to take you home” Tribute to Sarah Bartmann
- South African writer, storyteller and poet Diana Ferrus about her awards
- “The peace song” by Diana Ferrus
- The story of Sarah Baartman and the poem “I’ve come to take you home”. Stellenbosch University, 2 Oktober 2022
- These men [poem]. LitNet, 13 Februarie 2007
- Twee maer mans en ’n vet vrou [kortverhaal]. LitNet, 29 Januarie 2007
- Vir Sarah Baartman
- “Waar die stem wil uitkom, moet hy uitkom”. ENCA, 13 Maart 2023
Biografiese artikels oor Diana Ferrus
- Afternoon tea in the garden and the best of Diana Ferrus
- Bemagtig swart vroue in Afrikaans. Die Burger, 2 Maart 2004
- Beyers, Susanne: ’n Werklik bevryde vrou. Die Burger, 8 September 2006
- Boswell, Barbara: Conversations with writers: Diana Ferrus. Visioning space, 16 Augustus 2015
- Cultural icons dr Diana Ferrus, prof Hubert van der Spuy to be honoured at 13th kykNET Fiëstas
- De Vries, Willem: Daag hier op as jy ’n storie het. Volksblad, 18 April 2016
- De Vries, Willem: Dans met heimwee en versoening. Beeld, 28 Desember 2009
- De Vries, Willem: SA skrywer besoek Turkye. Volksblad, 21 Desember 2009
- De Vries, Willem: Winternachten 1ste keer in Turkye. Die Burger, 16 Desember 2009
- Diana Ferrus
- Diana Ferrus
- Diana Ferrus
- Diana Ferrus: ’n belangrike stem in die Suid-Afrikaanse poësielandskap. Afrikaans.com, 21 Maart 2021
- Diana Ferrus: Poetry that makes a difference
- Eredoktor glo stories bevry. Stellenbosch Monitor, 8 April 2022
- Haller, Drew: A tribute to Sarah Baartman: a poem by Diana Ferrus & an analysis by Drew Haller
- Honorary doctorate for Diana Ferrus. Bolander, 13 April 2022
- Honorary doctorate recipient Diana Ferrus grateful to be connected to US story
- Jackson, Belinda: “Ek het gekom om jou huis toe te neem”. Netwerk24, 30 September 2021
- Jansen, Julian: Niemand neutraal oor reeks oor bruinwees. Rapport, 24 Julie 2011
- Jansen, Valda: SBA-huldigingstoespraak: Diana Ferrus en die onrusbarende tye. LitNet, 15 Desember 2022
- Jantjies, Tamsyn: Recognised for her stories, poetry. Netwerk24, 22 November 2021
- Krog rym met Ferrus. Die Burger, 28 Maart 2007
- La Vita, Murray: Diana Ferrus: “Ons het diép, diép seergekry”. Die Burger, 14 Julie 2017
- Liebenberg, Otto: Afrikaanse stem vir Khoisan en slawe op die Vryfees. Ons Stad, 12 Julie 2012
- McAinsh, Gillian: Poet pays back debt to Baartman inspiration. EP Herald, 1 September 2010
- Milborrow, Selwyn: Sy laat Baartman spook. Die Burger, 1 Februarie 2006
- Muller, Haidee: Diana Ferrus: vrou van die grond. RSG, 1 Februarie 2018
- Myburg, JP: W’ster se woordkunstenaar vereer. Netwerk 24, 19 Desember 2022
- Pienaar, Cheréne: Digter blaas poësievlam op Kunstefees aan. Volksblad, 3 Julie 2019
- Pienaar, Cheréne: Met jou gedigte raak jy vry. Netwerk24, 3 Julie 2019
- Pratt, Leeanne: Poet of Sarah Baartman celebrates at Conville. George Herald, 23 Februarie 2012
- Roberts, Richard: Digter, skrywer en aktivis van Kuilsrivier, Diana Ferrus, vereer by Fiëstas. Netwerk24, 15 Maart 2023
- Saartjie Baartman’s final resting place. The Journalist, 9 Desember 2018
- Schroeder, Zahraa: Poet, writer Diana Ferrus receives honorary doctorate SU graduation. Smile FM, 8 April 2022
- Sosibo, Kwanele: “I’ve come to take you home, Sarah Baartman”. IOL, 30 Mei 2003
- South African poet, activist Diana Ferrus to lecture Sept 29. Syracuse University, 19 September 2014
- Twee kultuurlegendes vereer by 13de kykNET Fiëstas. DSTV, 8 Maart 2023
- Van Eck, Heleen: Baartman sit Ferrus op map. Sondag, 7 Oktober 2007
Eindnota
1 Diana Ferrus is so ’n veelsydige persoon en het soveel ysters in verskillende vure dat dit amper ’n onmoontlike taak is om ’n volledige prentjie van haar te teken binne die bestek van die Skrywersalbum.
Diana Ferrus se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2007-10-30 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Diana Ferrus (1953–) appeared first on LitNet.