![]() |
Sêgoed van Floris Brown “Tog so ’n gerieflike woord, dié agtergeblewe. Wat ’n ironie – kamstig ’n ‘veilige woord’ wat juis die aangesprokene se strewes pootjie. Ek agtergeblewe? Gmmff, eerder agtergehou, ja.” (Die Burger, 7 Junie 2002) “Skryf grootmense nog oor die seer van apartheid, sê ek dis goed so. Wat weet ek van die seerkry-kind wat in dié volwasse liggaam sy pyn probeer weglag? Skryf dit uit jou uit, sê ek dan, en eendag skryf jy dalk soos die jonger geslag oor sommer gewone goed soos die liefde.” (Die Burger, 7 Junie 2002) “Die digkuns is die juweel van die skryfkuns.” (Die Burger, 7 Junie 2002) “Ek wag nog vir die dag wanneer ons bruin skrywers ons eie publikasiehuis op die been kan bring. Ons mense is al só gebreinspoel dat hulle slegs waarde heg aan boeke wat deur die baie ligbruinmense gepubliseer word.” “Skryf die gevoelens van haat en wrok en lyding uit jou uit,” gee Brown raad, “en eendag skryf jy dalk soos die jonger geslag oor sommer gewone goed soos die liefde…” (Die Burger, 25 Mei 2009) “Sukses word gemeet aan diegene wat die wêreld ryker nalaat in dit wat hul kon bied in die tyd toe hul nog geleef het.” (Biografiese skets deur Floris Brown by NALN) “Die lewe is een lang of skielike kort treinrit. Ons klim op verskillende wyses daarvan af, op bestemde of onbestemde stasies.” (Biografiese skets deur Floris Brown by NALN) “Volg die Eskimo-leuse: Vergewe en vergeet die verlede en wat gister gebeur het, leef vir die mooi van vandag en môre.” (Biografiese skets deur Floris Brown by NALN) |
Gebore en getoë
Floris Abraham Brown is op 10 September 1948 in die Bolandse dorp Worcester gebore. Die naam Floris is ’n familienaam wat net aan die oudste seun in die families gegee word. Hy is die middelste van vyf kinders van Johnny en Maggie Brown. Hy het twee ouer susters, Florence en Magdalene, en twee jonger broers, John en Charles. Sy pa was ’n groot musiekgees en afrigter van vele kerkkore – dit moet by hom wees wat Floris sy musiektalent geërf het. Sy ma was ’n onderwyser. Floris gaan na die laerskool van die AME (African Methodist Episcopal) Kerkskool en matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Esselenpark.
Floris vertel aan NALN dat hy as kind as baie geniaal beskou is: “Ek is reeds op ouderdom 4½ jaar in Sub A (vandag graad 1) geplaas. Om my so vroeg skool toe te stuur, was nie ’n goeie ding nie. Ek was klein, tengerig gebou en moes altyd aan die kortste ent trek omdat ek tot in standerd ses (graad 8) nie in my regte portuurgroep was nie. Die speelveld was egter gelyk gemaak toe ek standerd sewe en standerd tien moes herhaal.”
Floris het “sy eerste hartklop in Worcester se Potestraat leer ken,” skryf Anastasia de Vries. “Maar Potestraat bestaan nie,” verduidelik Floris aan haar. “Ons het die straat só genoem omdat die polisie in daardie dae daar bedrywiger was as die bendes. Vandag is dié straat se naam Parkerstraat, maar waar dit in die wit gebied inloop, verander dit na Porterstraat. Oor dié leefwêreld, en die hier en nou skryf ek.”
Floris brei verder uit oor die straat waarin hy as kind gebly het: “Potestraat was die straat van die bendes. Bendeleiers soos Ernest Kafferboy, Jaffie Klou en Richard McPherson moes na Floris-hulle omsien as Maggie en Johnny nie tuis was nie. Die middag toe Ernest Kafferboy doodgesteek is voor die Nerina Hotel, het hy by my ’n slonstrui geleen. Seker die afskeidsmantel.” (Biografiese skets by NALN)
Verdere studie en werk
Vanaf 1968 tot 1970 studeer hy aan die Hewat Opleidingskollege, waar hy sy Hoër Primêre Onderwyssertifikaat behaal. Dit is ook waar Floris begin het om skaak te speel. In 1971 begin hy onderwys gee aan die Laerskool Esselenpark in Worcester en vanaf 1972 tot 1976 aan die Laerskool Steenvliet in Touwsrivier. In 1977 is hy na die Breërivier Sekondêr, waar hy bly tot en met sy uitdienstrede op 31 Maart 1999. In 1983 verwerf hy sy POD III Kursus-A aan die Opleidingskollege Bellville.
Op 18 Desember 1971 trou Floris met Gloria Susan Magdaleen Bailey en die egpaar het vier kinders – een seun en drie dogters.
Vanaf 1996 is Floris betrokke by die orkes Restless Children en in 1973 verwerf die orkes ’n goue plaat vir die oorspronklike liedjie “Until tomorrow”. Hulle langspeler getiteld Restless children vaar ook goed met die verkope. In 2001 is ’n ander liedjie van die orkes, “Hard to find you”, wat deur Floris gekomponeer is, op die CD Cape Gold originals 1970–1980 opgeneem. Hierdie CD is deur die Britse produksieleier Richard Black gemaak. Die groep ontbind later en Floris bring toe sy eie orkes op die been: Bacarasj, wat in 1992 hulle eerste langspeelalbum uitbring en ook optree in ’n episode van die televisiereeks Die Allemans. Floris komponeer en verwerk ook van die liedjies van hierdie groep. In 2000 is hy verantwoordelik vir die produksie en meng van snitte op ’n gospel-CD van die Zion AME-gemeente se kerkkoor. Hy en sy orkes het by heelwat geleenthede op televisie en oor die radio opgetree.
Een van Floris se ander liefdes is skaak en hy bevorder vir baie jare skaak in die Boland. Hy speel nie net nie, maar dien ook in die Bolandse Skaakvereniging. In 1986 is hy verkies tot die Suid-Afrikaanse Skaakvereniging se Sportman van die jaar. In 2000 is Floris verkies as Worcester se plaaslike radiostasie Radio Station Valley FM se Millennium Sportpersoonlikheid; in 2004 ontvang hy die mees belowende sportpersoonlikheid-toekenning vir skaak van die Bolandse Sportraad en in 2007 die Legende-toekenning van die LUK vir Kultuursake, Sport en Ontspanning, Whitey Jacobs.
Floris se eerste gedigte skryf hy in Engels en dit word gepubliseer in Editor’s choice for 1974, Poetry Universal en Spring poets. In 1978 verskyn van sy eerste Afrikaanse gedigte in Honderd nieuwe dichters saam met werke van verskeie Vlaamse, Nederlandse en Suid-Afrikaanse skrywers.
In 1988 verskyn van sy gedigte in die bundel Aankoms uit die skemer saam met dié van Noël Adams, André Boezak, Coenie Hollenbach, MC Mackier, Patrick Petersen en Marius Titus. Dit word deur Prog Uitgewers van Patrick Petersen gepubliseer.
Floris publiseer sy digbundels self en uit sy pen verskyn tien digbundels. Sy gedigte word ook opgeneem in versamelbundels soos Groen: gedigte oor die omgewing (1990), wat deur Johann Lodewyk Marais saamgestel is; die gedig “Ekspatriasie” uit Aankoms uit die skemer is in Poskaarte (1987) deur Louise Viljoen en Ronel Foster saamgestel; een gedig is ook opgeneem in Reënboogstemme (1997); Honderd dichters (2000), saamgestel deur Jan van Biezen; en Gerrit Komrij se De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (2000). Ander versamelbundels waarin gedigte van Floris opgeneem is, is Different horizons (2000), Nuwe verset (2000), Poezie Nacht van die muse (2001), Metafore van herlewing (2002), As die son kom oogknip (2002) en Die dans van die skoenlapper (2002).
In 1994 skenk hy die opbrengs van die verkope van sy digbundel Gloei aan die Eden Opleidingsentrum vir verstandelik erg gestremde kinders in Worcester vir die bou van ’n koshuis. Floris se bundel Phoenix, wat hy opdra aan die oud-Padvinder John C Beukes, word ten bate van die organisasie Chipros versprei. Floris is ook verantwoordelik vir die publikasie van die bundel Breedevallei dichters: Poëzie nacht van die muse. Die opbrengs van sy volgende bundel, Waar aasvoëls draai (1996), skenk Floris aan die Edenskool op Worcester vir die erg verstandelike gestremde kind.
Oor hierdie bundel sê Floris aan Anastasia de Vries (Die Burger, 7 Junie 2002): “Dit gaan ’n trotse dag wees, met Daniel Hugo as vereringsdigter. ’n Uitsonderlike woordkunstenaar wat lof verdien terwyl hy nog lewe. En trots, omdat ’n uiteenlopende groep mense in een bundel hul leefwêreld met sy vreugdes en pyn onder woorde kan bring.”
Cecile Cilliers het in Die Burger (25 Mei 2009) as volg oor Sewende reënboog, die vierde bundel van die Breedevallei Dichters, geskryf: “Die bundel is van wisselende gehalte, maar getuig van ’n opregte begeerte om gevoelens van haat en wrok en lyding in taal om te sit, opregtheid wat direk tot die hart van die leser spreek.”
In 1997 is ’n televisieprogram oor Floris uitgesaai oor die SABC se Kaap om Ses. Anthony Wilson het ook ín dieselfde jaar ’n dokumentêre program oor Floris se digkuns oor Arts Unlimited op SABC 3 uitgesaai.
In 1998 publiseer Floris sy digbundel Die woudmaker. Oor hierdie bundel het Jakes Gerwel op 13 Junie 2001 aan Floris Brown geskryf: “Dankie vir die bundel, ek het met groot genoeë gelees. Njabulo Ndebele, die kortverhaalskrywer (en nou rektor by UCT) het in ’n baanbrekende artikel geskryf oor die ‘sense of the ordinary’ wat ons nou moet leer om te ontwikkel as Suid-Afrikaners. Dit is daardie sin wat ek in u gedigte waardeer en geniet het. Dit het my laat dink aan die gevoel in van Sheila Cussons se gedigte. Daar is gelukkig nou in die Afrikaanse letterkunde so stadigaan die erkenning dat die letterkunde meer is as wat voorheen opgegee is.”
Een van Floris Brown se gedigte, “nêrens-volkie”, is opgeneem in Nuwe verset (2000) en oor die gedig het TT Cloete (Beeld, 20 November 2000) geskryf: “Onder die bestes is die eenvoudige en aandoenlike ‘die nêrens-volkie’ met sy tussen-in mense. Die twee soorte gedigte wat die beste indruk maak, is dié oor die bedreiging van Afrikaans en dié oor die ‘nêrens-volkie’ of die ‘tussen-in mense’, soos Brown hulle noem. Party van hierdie tussenin gedigte is roerend.”
Ook Antjie Krog skryf goedkeurend oor een van Floris Brown se bundels, Die koei stort ’n traan (2000): “Musiekmaker, komponis, gemeenskapsmens. Floris Brown is geen onbekende in Afrikaans nie. In sy jongste digbundel vind die landskap van Worcester met sy vloede, droogtes, stof, windpompe en sneeu in die Koue Bokkeveld neerslag. Brown maak dikwels van die sonnet-vorm, asook die rymende kwatryn gebruik om sy verlange, alleenheid en sy ontsteltenis met die vergrype in armoede uit te druk. In voorbeelde soos ‘notebalkdraad’, ‘Vlokwolk’ en ‘ek wou jou in my gespanne hou’ toon hy om dit wat die oog sien, in taal bymekaar te maak.” (Rapport, 6 Januarie 2002)
In Taalgenoot van Januarie 2003 skryf George Weideman oor Floris se “besonder toeganklike” Die koei stort ’n traan. “’n Groot dankbaarheid jeens die Skepping sing in heelparty verse (‘Reën, reën, reën’; ‘Sing vir my’; ‘Verlosser’; ‘Dankie vir die reën’; ‘As die rivier afkom’), met ‘Na dit alles’ as hoogtepunt van sy natuurstemmings: Die rooigeel waaierwolke / wat so woes verstrooid bo / die kim gesonspeel het, / het vervaal met die son se wegraak. / Nou is alles so stil, so doodstil / so normaal, so heeltemal normaal / dat ek die veer van die rietkwartel / langs my ore saggies hoor val.
“Brown se beeldende vermoë blyk uit die reëls waarin die hunkenaar droom van die land van die wit ysbeer, ‘waar wit op wit van die gletser en beer mekaar verteer / waar die kleur van die witduif wegraak teen die sneeu / waar eskimo’s hul ophoepel voor die jutwolf se geskreeu.’”
Floris is aktief betrokke by die kultuur en tree gereeld by Kunstefeeste op. Hy bied ook werksessies aan vir aspirantskrywers en leerlinge in die Breederiviervallei. In 2001 is hy lid van die Trusteeraad van die Worcesterse Museum Kleinplasie. In dieselfde jaar is hy een van die benoemdes vir die beroemde Rottend Staal Cultuur Award, ’n letterkundige prys.
In 2002 ken die Nederlandse tydskrif Lava sy jaarlikse Lava Themaschrijfwedstrijd aan Floris toe vir sy gedig “Geraamtes”. Die redaksie sê: “Volgens de redactie gaven zijn gedichten de meeste betekenis aan het thema van dit jaar: de liefde … En het hart van deze LAVA wordt gevuld door gepassioneerde poëzie van de Zuid-Afrikaanse Floris Brown, met een prachtige vertaling van Tsead Bruinja.”
In 2000 is Floris verantwoordelik vir die produksie en meng van snitte op ’n gospel-CD van die Zion AME-gemeente se kerkkoor. In 2001 word hy aangewys as Worcesteriet van die jaar. In 2006 publiseer hy en Janneke Prins ’n Afrikaanse en Nederlandse digbundel, Altijd de liefde / Altyd die liefde.
Na die moord op die Nederlandse meisie Marleen Konings skryf Floris ’n gedig, “Die vrou se poort”. Hierdie gedig is op webtuistes in Nederland geplaas en twee organisasies in Nederland wat teen geweld is, Aandacht Doet Spreken en Twenthe Tegen Geweld, vra Floris om ’n opvolggedig te skryf vir mense wat ’n geliefde aan ’n gewelddadige dood moes afstaan. Die uitvloeisel hiervan is “Jy het nooit huis toe gekom nie”, wat Alfred Schaffer in Nederlands vertaal het onder die titel “Jy bent nooit thuis gekomen”. Van die gedigte in Floris se jongste bundel, Blokhuis, is ook in Nederlands vertaal deur Bram van der Wurff, Cokkie Sommeijer en Alfred Schaffer.
Floris Brown het in 2007 lidmaatskap aanvaar van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Net voor Floris se besoek aan Nederland in 2007 op uitnodiging van die Literaire Stichting Apollo en op persoonlike uitnodiging van Michel Martinus, die stadsdigter van Harderwijk, stuur hy ’n gedig aan die koerant De Stentor. Dit was Floris se eerste buitelandse besoek en hy het gesê: “Vir my staan die Nederlandse taal digby Afrikaans. Beide tale kom uit dieselfde bron. Ek vind dit belangrik om die verhouding tussen Nederlands en Afrikaans in stand te hou. Ek dink dat dit belangrik is dat die tale mekaar moet beïnvloed.” (De Stentor, 27 Maart 2007)
My hart verloor in Harderwijk
geskenke van ’n hoogstaande Stadsdichter van Harderwijk
’n haikoe bundeltjie digkuns geïllustreerde silhoeëtte boek
’n roman ’n gedig aan my opgedra vanuit Gelderland wyk
Bring twee pragtige swaeltjies met ’n Nederlandse groet
’n koerant redakteur kom in Worcester – ZA by my aan huis
Vir ’n onderhoud oor twee bottels Cheninblanc soet wit wyn
Afrikaans Nederlands word soos watte vanmekaar gepluis
alles afgesluit met digitale foto’s in my groen kersblom tuin
met ’n stukkie Harderwijk wat nou in my hart klop-klop-klop
dwaal my oë in jul kultuur historiese strate, mal soos ’n kind
slaan my hart boem-boem met elke hamerslag van jul stadsklok
luister my ore na die speelse geluid van jul middernag wind
saggies streel my vingers deur jul oeslande, elk ys skaatslaan
terwyl my voete voor jul gasvry glimlaggende drumpels staan
Floris het verder aan De Stentor gesê: “Ek is baie bly oor my koms na Harderwijk. As daar mense is wat my gedigte wil lees, moet hul na my webblad gaan. En as daar van die gedigte is wat hulle aanraak en wil hê ek moet dit voorlees tydens my besoek, kan hulle vir my ’n e-pos stuur. Hierdie is slegs ’n gedagte.”
Cecile Cilliers skryf as volg oor Floris Brown en sy verbintenis met Nederland: “Brown het ’n lang en verrykende verbintenis met Nederland. Hy glo dat Afrikaans net kan baat by skakeling met die stamland en etlike van sy bundels bevat Nederlandse vertalings van die gedigte, onder andere ook deur Alfred Schaffer.
“In die gees van dié samewerking gee Uitgeverij Triggertree in Harderwijk in Nederland Floris Brown en die Nederlander Michel Martinus se Die hand wat ons voed is weg in 2008 uit. Dit is in A4-formaat, maar dwars gedraai met op die voorblad twee hande, wit onder, bruin bo, wat drie gespikkelde eiers asof in ’n nes koester,” skryf Cilliers.
“Die twee hande is dié van die digters: Brown self en Martinus (skuilnaam van Brummans). Die Afrikaanse verse is swart op wit gedruk en die Nederlandses wit op swart. Die bundel is ’n boeiende tweegesprek tussen die kaalkop Brown en die digbesnorde Martinus. En dit geld ook hul benadering.
“Kaalkop pak Brown die probleem van mans wat hul vrou verlaat, hul kinders agterlaat. Hy skryf uit die blikhiek van die verontregte vrou en haar stryd om alleen die mas op te kom. Haar uiteindelike oorwinning oor haar omstandighede word deur haar deurlopende verlange na haar man versuur.
“Martinus se gedigte vorm ’n sonore, melankoliese deskant. Sonder om vertaling te word of dit te wil wees, speel sy verse in op Brown se tema, haak aan by sy wyse van aanbieding. So vind die twee stelle verse weerklank in mekaar. Brown se gedigte is rouer, tref seerder; Martinus s’n gee afstand, digterlike perspektief. Die bundel is tegelyk onmiddellik omdat dit die maatskaplike euwel van geweld teen vroue aanspreek, en universeel omdat dit van liefdesverlies en -verlange vertel.
“Van die verse sou baat vind by strenger redigering. Maar lees ek gedigte soos ‘Tot op die been gevlek gestroop’, waarin die stroop van die beddegoed metafoor word vir die gestroopte vrou; of ‘Jou reuk teister my’, met sy herkenning van die dwingende mag van herinnerde geure; of ‘Wanneer gebed nie meer saak maak’, waarvan die skrynende slotbeeld God tot musikant maak, dan herken ek in Brown nie net ’n digter nie, maar (om dieselfde gedig te parafraseer) ’n mens in wie se weerkaatsing ek God sien.”
In 2011 is Floris Brown saam met die bekende skryfster Wilna Adriaanse genooi om tydens die Slypskool wat in Bloemfontein tydens die Kunstefees gehou is, op te tree en leiding aan aspirantskrywers te gee.
In 2012 publiseer Cordis Trust die versamelbundel Op pad met Afrikaans. Hierdie publikasie is vir dr Fanie Marais en die redakteur Myra Lochner “veel meer as ’n gewone publikasie. Dit is die sigbare credo van ’n begaafde siel, wat met sy ganse wese sy liefde vir sy Skepper, sy medemens en die natuur uitleef. Die omvang van werke versamel in hierdie bundel is asemrowend en die raakvlakke wat op vele terreine bewerkstellig is, is indrukwekkend. Tog is Floris Brown Cordis Trust-bekroonde, beskeie oor dit wat hy bereik het en gee hy al die eer aan Hom wat dit toekom.” (Biografiese skets by NALN)
In 2012 word die Orde van die Goue Pen en die Orde van die Kruik deur Cordis Trust aan Floris Brown toegeken. En in 2013 is hy aan die ontvangkant van die Rotariër-klub van Worcester se Meriete-toekenning vir sy bevordering van Afrikaans.
Dit is nie net die mense van Worcester wat Floris se waarde raaksien nie – in Maart 2014 ontvang hy ’n Ministerial Commendation Award van die Wes-Kaapse regering se minister van sport en kultuur, dr Ivan Meyer, vir sy ontwikkeling en toewyding tot skaak en braille-skaak.
Cecile Cilliers som Floris Brown as volg op: “Skaakspeler, musiekmaker, hartstogtelike yweraar vir Afrikaans, en digter – veral digter. Noem hom struggle-digter, want dit is hy wel, met reg immer opstandig teen apartheid.
“Maar ook opstandig teen die klimaat van geweld in die land, veral geweld teen kinders en vroue. Woes beskermend is hy wat die bruin volk betref waaraan hy behoort, kampvegter vir hul kulturele regte – eers deur wit en nou deur swart ontneem. Teer is hy ook, vol mededoë vir sy medemens, en passievol vir sy God. En alles vind neerslag in sy poësie.” (Die Burger, 25 Mei 2009)
Persone wat ’n indruk op Floris A Brown se lewe gehad het, is onder andere Padvinder John Beukes aan wie hy Phoenix opgedra het, Padvinders Van Diepstraten en Davy Petersen, die judo-instrukteur Nico Damons, swem-instrukteurs Titus en Oswald Gordon en Jan Biezen van Nederland wat instrumenteel was en Floris se eerste Afrikaanse gedig in Nederland gepubliseer het en wat ook vir Floris die inspirasie en aanmoediging was om aan te hou skryf.
Publikasies
Publikasie |
Aankoms uit die skemer. Saam met ander digters |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
St Helenabaai: Prog |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Gloei |
Publikasiedatum |
1994 |
ISBN |
0620202033 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: Eden Opleidingsentrum |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Waar aasvoëls draai |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0620202041 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FA Brown |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Phoenix |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0620201959 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: CHIPROS |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die woudmaker |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Worcester: FAB-Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Skadukinders |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0620218649 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die koei stort ’n traan |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
062022259X (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Grysvos |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0620218630 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Klank van die byl |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0620261706 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: Floris Brown |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Roep van die maanwolf |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0620218657 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: Floris Brown |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Rot-t… |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0620261714 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Blokhuis |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
9780958471626 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Uitgewery |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Altyd die Liefde / Altijd de Liefde (mede-outeur: Janneke Prins) |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Nederland |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Moerbeiboomblare – Haikoe uit Zuid-Afrika |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
vzw HkA |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Woedende jy |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Lotsha Publications |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die hand wat ons voed is weg. Saam met Michel Martinus |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Harderwijck: Triggertree Publications |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Teks in Afrikaans en Nederlands |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Drieluik. Saam met Marion de Vos en Hilde Vaatstra, fotograaf |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780958471633 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksies |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Afrikaanse, Nederlandse en Engelse teks |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Blue ribbons |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9781446794524 (sb) |
Uitgewer |
South Africa (self publishing): Lulu Press |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engelse poësie |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kaleidoskoop |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9781920204358 (sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksies |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Sing vir my / Uit het lege midden. Saam met Jan Kleefstra |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9789033009853 (sb) |
Uitgewer |
Uitgeverij Friese Oers Boekerij |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Afrikaanse en Nederlandse teks |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Op pad met Afrikaans |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Cordis Trust |
Literêre vorm |
Versamelbundel |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Mooiweer in my koffie |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksiehuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Windmeul |
Publikasiedatum |
Onbekend |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksiehuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Nagstil |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksiehuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Roggel |
Publikasiedatum |
Onbekend |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksiehuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ek soek jou |
Publikasiedatum |
Onbekend |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Worcester: FAB-Produksiehuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Floris Brown as samesteller
- Ontheemdes / Die Breedevallei Dichters. Saamgestel deur Lina Spies en Floris A Brown. Worcester, Die Breedevallei Dichters, 2004 [ISBN 0958471614 (sb)]
- Poëzie Nacht van die Muse / Die Breedevallei Dichters, 2002
- Sewe branders / Die Breedevallei Dichters. Worcester: FAB-Produksiehuis, 2006
- Sewende reënboog / Die Breedevallei dichters. Harderwijck, Uitgeverij Triggertree, 2008 [ISBN 9780958471688 (sb)]
- Teater van die verlore tyd / Die Breedevallei Dichters. Worcester: FAB-Produksiehuis, 2013 [ISBN 9780986989773 (sb)]
’n Keur van biografiese artikels oor Floris Brown
- 3 speeches with the honoring of mr Floris Brown by the Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans and Versindaba in Stellenbosch on the 24 September 2011
- Aspirantskrywers na slypskool op Vryfees genooi. Ons Stad, 30 Junie 2011
- Bacarasj se plaat dalk gou uit. Die Burger, 9 Junie 1989
- Brown se gedigte in Nederlandse bundel. Die Burger, 18 Maart 2000
- Cilliers, Cecile: Brown het mededoë vir medemens, passie vir God, hartstog vir poësie. Die Burger, 25 Mei 2009
- DAK-Netwerk bring hulde aan talle. Son, 28 Junie 2023
- De Vries, Anastasia: Hoe leef ’n mens met vrees as jy die Godheid moet uitstraal? Die Burger, 7 Junie 2002
- Digbundel hupstoot vir sentrum-koshuis. Die Burger, 4 November 1994
- Floris A Brown
- Floris A Brown
- Floris A Brown
- Floris Brown
- Floris A Brown is pas genomineer vir die Rottend Staal Cultuur Award… [byskrif by foto]. Rapport, 25 November 2001
- Poetry in McGregor
- Floris Brown presteer. Die Burger, 10 Augustus 1990
- Floris Brown – Ster wat skyn
- Floris Brown verjaar vandag
- Floris – man van vele talente. Die Burger, 18 Maart 1988
- Issel, H: Floris – man van vele talente. Die Burger, 18 Maart 1988
- January, Con: Brown se gedigte in Nederlandse bundel. Die Burger, 18 Maart 2000
- January, Con: Kassie verklap Brown se kunssinnige streep. Die Burger, 27 Junie 1997
- January, Con: Oud-onderwyser nou skrywer. Die Burger, 29 September 1999
- Lede van pop groepe verwerf eie onsterflike roem. Die Burger, 26 Maart 1992
- Marinus, Tandy-Lee: Saam met hulle musiek. Netwerk24, 27 Junie 2016
- Milborrow, Selwyn: Floris Brown skryf ’n barshou
- Resensies van Floris Abraham Brown – digbundels vanaf 1994
- SA digters in bundel. Volksblad, 7 Augustus 2000
- Van Reenen, Hemmy: Harderwijk inspireert Zuid-Afrikaans. De Stentor, 27 Maart 2007
- Van Reenen, Hemmy: Zuid-Afrikaanse dichter voelt zich ook Nederlander. De Stentor, 30 Mei 2007
- Volwaardige kunstefees in die Breedevallei. Die Burger, 7 Maart 2005
- Worcester-groep op CD [byskrif by foto]. Die Burger, 2 Januarie 2001
Artikels deur Floris Brown beskikbaar op die internet
- Dankbaarheid teenoor God en my medemens [toespraak]. LitNet, 13 Oktober 2011
- Die leeg in jou wegwees [gedig]
- “Digters in Loopgrawe”-projek (OuLitNet)
- Ek soek jou [gedig]
- Gedichten
- Gesigloses agter maskers [gedig]. Die Burger, 10 April 2006
- Jy het nooit huis toe gekom nie [gedig]. Die Burger, 2 Januarie 2006
- My besoek aan Nederland 28 Mei – 23 Junie 2007
- Nagstil [gedig]
- Niemand skryf meer briewe [gedig]
- Nuwejaarsgebed 2016 [gedig]. E-pos aan NALN, 8 Februarie 2016
- O GOD dit brand! (LitNet)
- Oorweldig deur mooi in Bloemfontein [brief]. Volksblad, 15 November 2002
- Sing vir my [gedig]
- Suid-Afrika se uitgespoegde druiwekorrel (Vir: Universiteit Stellenbosch). Die Burger, 20 Maart 2006
- The untold secret
- Waarlik Hy hét opgestaan [gedig]. Netwerk24, 18 Junie 2016
- Woedende jy [gedig]
- Worcester huis van hoop tien jaar [gedig]
Floris A Brown se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-01-28 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
-
-
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
-
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Floris A Brown (1948–) appeared first on LitNet.