![]() Foto: Joanne Olivier
|
Sêgoed van Gerda Taljaard Oor haar bydraes wat tot en met 2020 in al vyf Woordfeesbundels opgeneem is: “Daar is nie ’n wenresep nie. Al wat ek kan sê, is dit help nie om twee dae voor die tyd ’n storie te probeer skryf nie. Ek begin agt maande voor die tyd. En dan skryf ek sommer drie stories. Ek vra dat vriende dit deurlees en my help om die beste van die drie te kies. Net soveel onderwerpe: liefde, haat, wraak, geweld, seks. Maar dis nie wát mens skryf nie, dis hóé. Ek is bly oor die geleentheid, want uitgewers gee nie graag kortverhale uit nie. Dankie aan die Woordfees.” (LitNet, 9 Maart 2020) “Ek was nooit braaf genoeg om kinders in hierdie wêreld te bring nie.” (E-pos aan LitNet, 5 Desember 2023) “Lees bied wonderlike ontvlugting van die werklikheid. Skryf ook. Ek skryf om van die realiteit van misdaad, armoede en korrupsie te ontsnap.” (E-pos aan LitNet, 5 Desember 2023) “Waansin is ’n preserveermiddel; dit hou jou jonk.” (E-pos aan LitNet, 5 Desember 2023) “Skryf maak my gelukkig, asook ontsettend ongelukkig.” (E-pos aan LitNet, 5 Desember 2023) Wat is ’n goeie boek? “Dis hipnotiserend, dit trek jou in, soveel so dat alles anders wegval en vervaag sodat tyd nie meer bestaan nie.” (Beeld, 11 Augustus 2017) Oor oudword: “Dis vir my swaar om oud te word. Alles begin hang, uitbult of insak. Dis hier waar onvoorwaardelike liefde inkom: dat jy jou geliefde aanvaar en selfs nog begeerlik vind, ten spyte van hangborste of ’n boep.” (Huisgenoot, 17 Augustus 2017) Hoekom wou sy die storie van Vier susters vertel en hoe praat dit met die lesers vandag? “Die verlede het ’n groot invloed op die hede, selfs al het baie daarvan al byna heeltemal in die vergetelheid verdwyn, veral die (ontkende?) geskiedenis van die Ossewabrandwag se vroueterroriste. Maar die geskiedenis bly in ons kollektiewe bewussyn en steek vas in die grein van ons menswees. As jy die hede wil verstaan, moet jy ook die verlede begryp.” (Rapport, 25 September 2022) Wat is die enkele gedagte waarmee sy die lesers wil laat met Vier susters? “Met ’n opmerking wat Kittie in Vier susters maak: ‘Eendag sal al hierdie dinge wat nou so belangrik is, en wat ons so ontstel, nie meer saak maak nie. Dit sal vergeet wees. Óns sal vergeet wees.’” (Rapport, 25 September 2022) Hoe belangrik is dit vir haar om in Afrikaans te skryf? “Wanneer ’n mens in jou moedertaal skryf, kom dit wat in die onbewuste onderdruk word, na die oppervlak. Dan skryf jy uit jou binnegoed en uit jou hart, met integriteit en rou eerlikheid.” (Rapport, 25 September 2022) |
Gebore en getoë
Gerda Taljaard is op 14 April 1971 in Pretoria se Moot gebore as die jongste van vyf kinders. Haar pa was in die 1960’s en 1970’s ’n speurder aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Weens ’n skietery tydens ’n jaagtog om ’n berugte beroepskrimineel te vang, is hy gewond. Haar ma was deel van ’n tiksterpoel vir die destydse staatsdiens se Departement Landbou.
Haar ma het op ’n plaas naby Swartruggens tussen ’n klomp storievertellers grootgeword wat graag familieverhale oorgedra het. Dit was veral stories met bonatuurlike elemente wat ’n groot indruk op die jong dogter gemaak het en in haar werk teruggevind kan word. “Ek het ook albei my ouers se aweregse sin vir humor oorgeërf,” vertel sy.
“Weens my pa se polisiewerk het ek van jongs af van die mens se donker kant te wete gekom,” vertel Gerda in ’n e-pos aan LitNet, “vandaar die donker temas in my latere skryfwerk.”
Sy was vyf jaar oud toe sy haar skoolloopbaan aan die Laerskool Voorpos in Waverley, ’n voorstad in die Moot, begin het: “Omdat ek ‘vroeg’ skool toe is, het ek emosioneel gesukkel om aan te pas, maar aangesien daar nie daardie jaar genoeg kinders in graad een was nie, is my ouers deur die skoolhoof gevra om my skool toe te stuur. Die vriende wat ek daar gemaak het, het my gehelp om dit te oorleef,” vertel Gerda.
Soos oral was daar goeie onderwysers, asook minder goeies. Gerda onthou spesifiek die eksentrieke juffrou Nolte wat die meisies al in standerd vier gewaarsku het teen mans met “unibrows”! (“Ek was vir die res van my lewe lugtig vir dergelike mans!”) Sy onthou ook vir juffrou Möller wat die wonderlikste revues geskryf het. “Sy het die hele skool daarby betrek en dit was vir my die hoogtepunt van elke jaar – die kleurvolle kostuums, spreekkore, sang en toneelspel.”
Gerda matrikuleer in 1988 aan die Hoërskool Staatspresident CR Swart in Pretoria. En, vertel sy verder aan LitNet: “Op hoërskool het ek my dikwels teen gesagsfigure vasgeloop omdat ek nie wou konformeer tot die eng verwagtinge van ‘hou-jou-bek’ en aanvaar die seksisme, homofobie en rassisme nie. Destyds is daar gediskrimineer teen alles wat anders en andersdenkend was. Dit was geweldig moeilik om hierby aan te pas. Ek kon eenvoudig nie inpas nie, al het ek probeer. Kate Bush en Siouxsie and the Banshees se musiek het my goddank hierdeur gedra.”
Oor watter boeke ’n groot invloed op haar besluit om te skryf gehad het, vertel sy aan Rapport (25 September 2022) dat sy as kind nie genoeg kon kry van Huppelkind deur WO Kühne nie en sy kan tot vandag toe nog lang stukke daaruit aanhaal. Dit was ook Huppelkind wat daartoe gelei het dat sy tóé reeds haar eie stories opgemaak het: “As tiener was dit Heinz Konsalik se boeke, veral Vrouebataljon en Trans-Siberiese Ekspres. Die erotiese tonele en reisbeskrywings het wonderlike ontvlugting gebied en het my genoop om in my eie skryfwerk nooit ’n boeiende verhaallyn prys te gee ter wille van ‘hoë literatuur’ se dikwels plotlose struktuur nie.
“Daarna was dit ouer Afrikaanse vroueskrywers se werk, veral Henriette Grové se Jaarringe en Anna M Louw se Vos – by hierdie skrywers het ek geleer om karakters van vlees en bloed te skep.”
Verdere studie en werk
Ná matriek gaan Gerda na die Universiteit van Pretoria en in 2002 verwerf sy haar doktorsgraad in letterkunde en kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Sy is aanvanklik ’n dosent aan die UP se Eenheid vir Akademiese Geletterdheid en werk later aan Unisa se departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap.
Gerda se navorsingswerk fokus op “historiese fiksie, Gotiese literatuur, die wisselwerking tussen woordkuns en beeldkuns, kerkhofgedigte en grafdigters, die invloed van Afrika-folklore op Afrikaanse literatuur, musiekintertekste in Afrikaanse letterkunde, ekokritiek (veral dierestudies), Afrikaanse bildungsromans, en literêre psigoanalise.” (LitNet)
Van al hierdie velde is die literêre analise haar gunstelingveld – “veral die Freudiaanse en Lacaniaanse teorie wat selfs die skryfproses onder ’n psigokritiese vergrootglas plaas. En dan Gotiese romans, of ten minste Gotiese elemente in die literatuur, wat geweldig afgeskeep word in die Afrikaanse letterkunde. Gotiek deurgrond die psige, gee (indirek) soveel van menslike trauma te kenne, veral wat die onderdrukking van die vrou en die stryd tussen geslagte betref.”
Sy is getroud met die besigheidsman Rodger Gilson wat ook uit Pretoria se Moot afkomstig is. Hulle het twee honde en pendel tussen Pretoria, Magoebaskloof en Nature’s Valley. “Honde is amper wolwe, daarom is ons versot op hulle,” vertel Gerda. “En hulle het onvoorwaardelik lief.”
Haar man is ook ’n “ywerige” voëlkyker wat al wat ’n voëlboek op sy rak het. Gerda self het hierdie stokperdjie aanvanklik vervelig gevind, maar het toe tog wel haar man se entoesiasme begin deel en nou raak sy ook al opgewonde oor ’n vleiloerie of ’n katlagter se besoek aan hulle tuin. (LitNet)
Gerda het al vroeg in haar loopbaan as skrywer ’n indruk gemaak. As student het sy verskeie pryse vir kortverhale tydens UP se jaarlikse Van Schaik-letterkundekompetisies (1994 en 1995) ontvang. In 1998 is sy die wenner van die eerste Litera-prys vir jong skrywers met haar kortverhaal “Lot se vrou”. In 2006 palm sy, uit ongeveer 400 inskrywings, die De Compagnie-prys in en word die verhaal opgeneem in die bundel Die melkweg het ’n ster laat val (samesteller: Riana Scheepers; Human & Rousseau, 2006). In 2003 word een van haar gedigte in ’n versamelbundel As die son kom oogknip (redakteur: Fanie Olivier; Protea Boekhuis, 2002) opgeneem, asook in Honderd jaar later (samesteller: Johann Lodewyk Marais; Praag, 2005), ’n Eugène Marais-gedenkbundel en in Boereoorlogstories 2 (samesteller: Jeanette Ferreira; Tafelberg, 2012). Van haar woordsketse is in Rooi Rose opgeneem.
Gerda dra ook die eer dat haar kortverhale in elkeen van die Woordfeesbundels opgeneem is vanaf 2016 tot 2023.
Sy het al verskeie akademiese studiegidse geskryf en rubrieke vir nie-akademiese tydskrifte gelewer, onder andere vir Vrye Weekblad. Tans is sy voltyds skrywer en deeltyds akademikus. (LitNet)
In 2002 verskyn Gerda se kortverhaalbundel Maansiek by Protea Boekhuis. Volgens die uitgewers “verken die kortverhale in Maansiek ’n wye register: die Rooms-Katolieke geloof, charismatiese aanbidding, Afrika-mistiek, erotiek en moederskap, konflik tussen ras en geslag en sosiale status, spanning tussen die hede en die historiese, die sienlike en die onsienlike. As basis vir sommige verhale dien ’n nugter koerantberig of tydskrifartikel uit vervloë dekades wat binne die verhaalkonteks tegelyk humoristies en ontstellend is. Ander is gegrond op minder bekende aspekte van bekende figure of vertellings van onbekende vroue met uiteenlopende agtergronde.”
Marius Crous het Maansiek vir Die Burger van 12 Augustus 2002 geresenseer: “Hierdie bundel kortverhale illustreer vir ons wat met vroueskrywing of vroueskryfwerk bedoel word. Dit is vrougerigte perspektiewe op die erotiek, die sensuele, en dit is ’n vrou se perspektief op menstruasie, maansiklusse en haar verhouding met mans. (…)
“Aan die einde gee Taljaard erkenning aan die inspirasies vir haar verhale: van Kate Bush met haar fantasmagoriese lirieke tot navorsing oor Helen Martins en opgetekende Zoeloeverhale in proefskrifte en dokumentasie oor orale vertellinge uit Zoeloeland. (…)
“Hier en daar hinder formulering en kom die slot van die verhale ietwat geforseerd (en te vinnig) op die leser af, maar in die geheel gesien is dit ’n goeie toevoeging tot die bestaande korpus vroueskryfwerk in Afrikaans. Dit wys, soos in die geval van (Riana) Scheepers, dat vroue nie mans nodig het om vir hulle ’n spreekbeurt in die samelewing oop te baklei nie. Dit dra ook by tot bestaande tekste oor goëlery en bygelowigheid in die Afrikaanse letterkunde en bevestig weer die rol wat die bonatuurlike in Afrika speel.”
In Sarie (November 2002) is Elize Parker die resensent van Maansiek en sy skryf as volg: “Die meeste van Gerda Taljaard se karakters in dié kortverhaalbundel is letterlik met die maan gepla. Alhoewel die bonatuurlike die bron is, is die verhale nie spokerige bangmaakstories nie. Taljaard put uit mondelinge Afrika-sprokies en fabels om sin te gee aan die ondermaanse. (…)
“Taljaard skryf soms resepmatig. Haar sterkste verhale is dié wat sy bloot vertel en nie in haar uitgebreide navorsing anker nie. Haar verrassende en soms knal-slotte is ’n vars briesie in ’n bundel wat van vernuwing en ’n gegrondheid in Afrika, sy mense en verhale spreek. Sy is beslis ’n knap woordsmid. Ek sal graag ’n roman uit haar pen wil lees.”
Elize Parker moes egter tot 2009 wag voordat Gerda Taljaard se eerste roman deur Tafelberg gepubliseer is onder die titel ’n Engel in die hoenderhok.
Neil Cochrane (Beeld, 31 Augustus 2009) som die verhaal só op: “’n Engel in die hoenderhok handel oor die bittersoet verhouding tussen lede van die Bester-gesin, bestaande uit polisieman-pa Bert, ma Mart (’n toespeling op die dienende Martha-figuur), boetie Fanie, die ouer suster Gretha, die twee kleiner sussies, Marie en Gertie, en die middelkind en hoofkarakter, Helena.
“Die Besters kan as verteenwoordigend gesien word van die voorstedelike Afrikaner-werkersklas gedurende die 1970’s, alhoewel Taljaard deur raak en oorspronklike karaktertekening verseker dat die Besters uniek bly – elk opgeskeep met sy individuele hel in ’n omgewing waar mense vir hul huise name gee soos Lushof, Platsak en Mia Casa.”
Cochrane gaan voort met sy bespreking: “Taljaard se debuut sal aanklank vind by tieners, jong volwassenes en ouer lesers, alhoewel dit in wese as ’n jeugroman beskou kan word. Dit is ’n roman wat ’n jong vrou se pad na volwassewording en verwerking van gesinsdemone aanstip. In dié opsig vertoon dit ’n sterk ooreenkoms met Willemien Brümmer se Die dag toe ek my hare losgemaak het.
“Selfs al speel die verhaalintrige gedurende die 1970’s af, kry hedendaagse tieners met dieselfde huishoudelike probleme as Helena te doen – seksuele molestering, selfmutilasie, anoreksie en huishoudelike geweld. Die roman gaan eerlik met die onaangename deel van menswees om sonder om oordrewe swartgallig of moralisties te wees.
“Taljaard slaag uitstekend daarin om ’n kreatiewe balans tussen die tragiese en komiese te handhaaf sonder om haar karakters van hul menslikheid te ontneem deur karikatuuragtige uitbeelding. Die Besters is mense van vlees en bloed wat groots is in hul weerloosheid.
“’n Engel in die hoenderhok lewer ’n vars bydrae tot die Afrikaanse jeugroman. Dit dien as ’n aansporing vir veral tieners en jong volwassenes om weer te begin lees.”
Ronelda Kamfer en Ruda Landman het aan Rapport (7 Junie 2009) hulle opinie gegee nadat hulle ’n Engel in die hoenderhok gelees het.
- Ronelda Kamfer: “Die boek is ’n warboel van kriptiese leidrade en die karakters smelt saam om by een doodeenvoudige gevolgtrekking te kom. Taljaard skep geloofwaardige karakters met wie jy jou kan vereenselwig. Wanneer die boek eindig, besef jy dat jy saam met die ‘engel in die hoenderhok’ sit: moeg en onsigbaar omdat dinge soms net is wat dit is. En dan weet jy soos daai Tracy Chapman-song: ‘All that you have is your soul’. Ek beveel Engel Dis ryk in taal en tema, maar jy sit dit neer en dink onmiddellik aan jou eie lewe en of jy nog die musiek in jou hart en lyf kan hoor en voel.”
- Ruda Landman: “Al ooit gewonder hoe kinders reageer op wat hulle sien en ook dit wat hulle nie sien nie tussen hul ouers? En wat hulle maak van ouers se impak op hulle en hul broers en susters se lewe? Hier’s ’n boek wat dalk dié vrae sal beantwoord en jou as leser sal saamsleep in dieptes waar jy eintlik nie wil wees nie. Maar dis dieptes hierdie wat jy verstaan met jou hele menswees, ongeag jou eie agtergrond of ondervinding van huislewe. Gerda Taljaard skryf met amper te veel insig en vaardigheid vir ’n debuutroman. Die toonaard van haar dialoog is perfek, en so met elke karakter wat in sy/haar eie stem werklik word op die bladsye. (…) ’n Engel in die hoenderhok vra om in een sitting gelees te word. Dit ontroer en dit ontstel. Hoe moeilik is dit dan vir die mens om direk en eenvoudig lief te hê.”
Gerda se volgende roman Kelder word in 2012 by Tafelberg uitgegee. Neil Cochrane waarsku die leser vroeg in sy resensie van Kelder (Rapport, 3 Junie 2012) dat dinge in hierdie roman nie baie aangenaam is nie: “Die hoofkarakter, Esmeralda, is ’n hygromanskrywer, maar een met ernstige skrywersblok – ’n oorgewig, alkoholverslaafde babadief. Boonop word sy getreiter deur een van die mees onwaarskynlike hygromankarakters denkbaar; die ietwat agterlike Sus, wat vertroosting vind in die arms van haar sagmoedige broer, Kareltjie, seksueel misbruik word deur haar pa en haar buite-egtelike babas een vir een vermoor. (…)
“Esmeralda besweer haar demone deur Sus se storie te vertel, want al skryf sy ’n uiterse swak hygroman help dit haar om haar eie verhaal te vertel – die desperaatheid van ’n vrou wat smag na ’n kind en die uiterstes waartoe sy haar wend om een te bekom. Dit blyk Esmeralda het jare terug haar seun, Benjamin, gesteel, wat grootliks haar skuldgevoelens en oordrewe beskermingsdrang verklaar. (…)
“In die roman is talle voorbeelde van sardoniese galgehumor. Dit is veral geslaagd in die gedeeltes waar onnoembare gruwelikhede en naïewe ouwêreldse reklametaal naas mekaar geplaas word: ‘Maar sy was sterk, hierdie kind. Sy het haar vuisies gebal en van die water probeer wegskop en van die water probeer wegbeur en geskop. Sus het omgedraai en aangestap, elke nou en dan in die stink swart modder weggesak. Die kind se geskree het haar oor die vleigras en biesiepolle gevolg. Voed babatjie met Ouma-Meelbol – ’n gebalanseerde dieet wat altyd akkordeer. Maw se antikoliekbottels: die beste vir jou baba. Blakende gesondheid met Lactogen.’”
“Die karaktertekening is oorwegend in die kol en uiters genotvol. (…) Kelder is ’n aweregse roman van uiterstes – tragikomies en sidderend. Dit sluit in baie opsigte aan by Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie (1992) – kommentaar oor die skrywersambag, die spel tussen verbeelding en werklikheid, die belewing van die vrou en die belang van stories.
“Kelder is ’n verrassende storie-binne-’n-storie met proeseltjies vir almal – selfs vir die fyngevoeliges.”
In Beeld (11 Junie 2012) skryf Jacomien van Niekerk: “Soos Taljaard se eerste roman is Kelder ’n tydsdokument met besondere gedetailleerde beskrywings van huise en hul inhoud – van die huisorreltjie wat vroeër in Sus-hulle se huis gestaan het tot die inhoud van die grillige kelder, van Esmeralda se nouveau riche-binneversiering tot haar inheemse tuin, waarop die omgewingsbewuste Benjamin aandring. Dié omgewingsbewustheid omring, verdoesel en versag telkens die klipharde psigologiese waarhede waarmee in die roman geworstel word.
“Heelparty fyn verbande word in die vorm van herhalende motiewe tussen die lewe van Sus, Esmeralda en Benjamin getrek en selfs met die ontgogelde, eensame vrou wat vóór Sus op die plaas gewoon het.
“Terselfdertyd probeer die roman ons nie oorrompel met ironie nie – die stories van die verskillende karakters is subtiel in mekaar verweef. Soms byna te subtiel, want die roman mis wel ’n sekere momentum.
“Elke skets, elke onderdeel van elk van die karakters se verhale is goed uitgewerk, maar in die opeenvolging van grepe voel dit of die grepe soms te losstaande is. Aan die einde vergoed die verrassende ontknoping, maar dit is tog jammer dat ’n sterker spanningslyn nie volgehou is nie.”
Met die publikasie van Gerda se volgende roman Die laksman se dogter in 2017 kom die eerste benoemings en verwerwing van pryse na haar kant toe. Nie net word hierdie roman in 2018 benoem vir ’n ATKV-Woordveertjie nie, maar is dit ook ’n finalis vir Huisgenoot se Tempo-toekenning vir leesboek van die jaar. En dan word dit bekroon met die kykNET-Rapport-filmprys vir 2018.
Herman Binge was verantwoordelik vir die commendatio vir die kykNET-Rapport-filmprys: “Dit is maklik om opgewonde te raak oor die wenroman van vanjaar se filmprys omdat die sterk literêre meriete en fees van visuele moontlikhede in die verhaal ’n filmmaker se droom is. Daarby het die gegewe van disfunksionele families ’n volwaardige kategorie van films geword as gevolg van die gewildheid daarvan by gehore oor die wêreld heen. Die laksman se dogter – wat ’n titel! – pas perfek in die kategorie van ‘huishoudelike noir’: ’n boeiende sielkundige riller wat in ’n eksentrieke familie afspeel en die kyker by komplekse interpersoonlike verhoudings betrek. (…)
“Wat Taljaard se roman verder uitlig, is die geloofwaardige en gekonsentreerde dialoog – belangrik vir die filmmedium – en hoe die fisiese omgewing, die huis in Pretoria, waar ’n mens juis geborge moet voel, die slagveld word waarop manipulasie, bedreiging en vervreemding afspeel. Voeg daarby die interessante, veelvlakkige karakters en jy het ’n volbloed film, ’n onvoorspelbare reis deur ’n vrou se verlede waarin verskeie donker temas soos skuld, vergifnis, verslawing en die dood van ’n dogter voorkom.
“Dit mag swaartillend klink, maar soos met die voorbeelde van ander buitelandse films, laat die hoofkarakter, ene Rosaria, mens nooit toe om jou sin vir humor te verloor nie. Die humor is wel donker, maar dit word met ’n verrassend sobere en ligte hand hanteer, en die verhaal is nie sonder hoop op ’n beter toekoms nie. Die laksman se dogter is ’n boek wat jou in die ribbes skop en jou bybly lank nadat jy dit toegemaak het. Ek vermoed die film gaan dieselfde regkry.”
Deborah Steinmair het ’n onderhoud met Gerda Taljaard gevoer (Beeld, 1 Augustus 2017) en sy beskryf Die laksman se dogter as so donker soos 90%-kakao-Lindtsjokolade, soos Nick Cave se ballades. Dis ’n naelbyt-sielkundige riller wat omstrede temas – soos dwelmverslawing, die doodstraf, genadedood, afknouery, selfdood, bekruiping deur die media – vreesloos takel.
Oor die genre van huishoudelike noir sê Gerda aan Steinmair: “’n Huis is ’n plek waar ’n mens veronderstel is om veilig en geborge te voel, maar dis dikwels eerder ’n slagveld as gevolg van onderdrukking, manipulering, afknouery, geweld en ja, verslawing. In Die laksman se dogter word die huisgesin se geluk en geborgenheid bedreig deur die enigste dogter se dwelmverslawing. Heroïen verander haar van ’n liefdevolle kind tot ’n manipulerende, selfsugtige mens wat uiteindelik tot moord in staat is.”
Gerda vertel aan Steinmair dat sy met die skryf van Die laksman se dogter net wou uiting gee aan haar grootste vrees – om ’n kind te hê wat ’n verslaafde is: “Ek het toe nooit ’n kind gehad nie. Dis baie soos Lionel Shriver (ook kinderloos) se motivering om We need to talk about Kevin te skryf: Dat ’n kind van haar as massamoordenaar kon ontpop.
“Toe kom ek agter dat geweldig baie van ons vriende en kennisse se kinders verslaaf is en letterlik op straat bly. En niemand praat eintlik daaroor nie.”
Oor kinders wat so sterk in haar boeke voorkom, sê Gerda: “Dis ook maar ’n geval van: As ’n vrou kan ek uit die man se perspektief skryf, jy hoef nie noodwendig in ’n situasie te wees om daaroor te skryf nie. Ek het susters en vriendinne met kinders.”
Vir Steinmair is Marcella, die kind in Laksman, besonder duidelik geteken: “Daar is elemente van my susters se kinders, maar daar is ook iets van myself in Marcella. My ma het my vertel ek het eendag vir haar gesê ek voel naar. Toe dink sy ek is siek, maar ek verduidelik: My hart voel naar. Sulke tipe goedjies.”
Op LitNet som Gerda die storie van Die laksman se dogter vir Naomi Meyer op: “Wanneer Rosaria Roux se vervreemde rockmusikant-dogter Annalisa onder raaiselagtige omstandighede sterf, stroom die herinneringe terug na haar. Rosaria onthou Annalisa se geboorte, kindertyd en allesoorheersende dwelmverslawing. Rosaria onthou ook haar eie jeug, hoe sy as kind deur haar twee ouer susters afgeknou is. Sy besef haar aandeel in haar dogter se middelafhanklikheid, sowel as in haar mislukte huwelik. Met die verskyning van haar kleinkind (Annalisa se kind van wie Rosaria nooit geweet het nie), is dit asof Rosaria (as ouma) ’n tweede kans kry op ouerskap én huweliksgeluk.”
Meyer wou by Gerda weet hoekom sy Die laksman se dogter geskryf het en of daar iets was wat die sneller van die verhaal was: “Verslawing en genetiese geneigdheid tot verslawing het my nog altyd gefassineer, waarskynlik omdat ’n hele paar van my familielede al middelafhanklik en/of alkoholiste was. Dan was die skryf van hierdie roman ’n vorm van skriptoterapie. ’n Vriendin van ons het ook haar storie oor haar dogter se verslawing met my gedeel. Ek wou mense bewus maak van die vernietigende effek van verslawing.”
Gerda maak ook gebruik van voëlsimboliek in Die laksman se dogter en sy vertel vir Meyer meer hieroor: “’n Fiskaallaksman is tegelyk wreed én versorgend. Hulle sal ander voëls se neste plunder en hulle kuikens lewend opvreet, maar aan die ander kant is hulle baie goeie, versorgende ouers. Dit is hierdie teenstrydigheid wat in byna al die karakters in die roman teenwoordig is. Rosaria se pa is tegelyk ’n moordenaar en ’n versorger. Rosaria is beide liefdevol én wreed.
“Wanneer Rosaria se ma sterf, vlieg ’n duif uit haar pa se hande en by die venster uit – simbolies van haar siel wat vrygelaat word. Annalisa beskryf haar ma as die ‘beskermheilige van uile en ander gevleueldes’. Die uil as simbool van wysheid, maar ook van die dood.”
Jonathan Amid bespreek Die laksman se dogter in Beeld van 14 Augustus 2017: “Haar jongste roman, Die laksman se dogter, kan geklassifiseer word as domestic noir, met die huishoudelike ruimte wat een van bedreiging, sielkundige oorlog en vervreemding word. Dit is egter ook ’n bitter teer, rou vertelling wat weier om die leser op goedkoop antwoorde te trakteer.
“Sy is ook digter en kortverhaalskrywer, en is as akademikus aan Unisa verbonde. Wat opval met haar jongste roman is die skrander aanslag wat getuig van ’n vakmanskap wat inspirasie put uit verskeie woordkunsvorms.
“Die digter se haarfyn waarnemingsvermoë en die belang van gestroopte beskrywing is onmiskenbaar. Ook die kortverhaalskrywer se goël met woorde en vermoë om met verrassende wendings en jukstaposisie die leser se aandag te behou.
“Tog is dit vir hierdie leser ook eweneens duidelik dat die skrywer ’n akademiese agtergrond het, dat sy bekend is met die veld van die psigoanalise en trauma-studies, en dat sy haar akademiese insigte so kan inspan dat haar fiksie ’n soepelheid behou, desondanks die swaar temas.”
En sluit Amid af: “Die laksman se dogter is die tipe gelaagde, verwikkelde roman wat my so meegesleur en ontstel het dat ek kort-kort eers die boek moes toemaak om asem te skep.”
Vir Elna van der Merwe (Huisgenoot, 17 Augustus 2017) is Rosaria se skoonma ’n “verruklike karakter: Tevore was sy predikantsvrou; nou sit sy in ’n ouetehuis en rook, drink ’n doppie en leer haar Indiese spreeu vloek. Sy het haar skoot hartseer gehad.”
Oor hierdie waarneming van Van der Merwe sê Gerda: “Sy is ’n ontnugterde mens wat haar lieflingkind verloor het, en wanneer jou kind sterf, ‘word die orde van dinge versteur, dan rus daai kind nooit. Die ouers ook nie, veral nie die ouers nie.’”
Die toneel in Die laksman wat Gerda se gunsteling is, is waar Rosaria as kind saam met haar ma en susters na Italië gaan vir haar oupa se begrafnis. “Die ma verbied hulle om na die oupa in sy kis te gaan kyk, maar een middag toe almal ’n uiltjie knip, sluip Rosaria in en sien daar is ’n gat in sy kop waar hy hom geskiet het. Haar ouma betrap haar, en pleks van berispe sê sy iets wat Rosaria vir die res van haar lewe sal bybly: ‘Die dood is ’n uitkoms, vir die dooies en die lewendes.’”
Met die publikasie van Gerda se volgende roman Vier susters (Penguin Random House, 2022) maak sy haar stem dik in die Afrikaanse letterkunde – sy palm twee pryse met hierdie roman in, naamlik die kykNET-Rapport-fiksieprys en die ATKV-Woordveertjie vir prosa.
In ’n onderhoud met Rapport (25 September 2022) vertel Gerda oor wat haar geïnspireer het om dié roman te skryf: “’n Klomp aspekte het gelyktydig as inspirasie vir Vier susters gedien: musiek (veral Henryk Górecki se Symphony of sorrowful songs), familiestories, my honde en natuurlik ander boeke – Anton Tsjechof se Drie Susters, Albert Blake se Wit terroriste en ’n stokou Afrikaanse woordeboek waarin daar talle woorde is wat al dekades gelede in onbruik geraak het, soos ‘adrette’ en ‘aanpap’, wat ’n ouwêreldse milieu voor die gees roep.”
En dan was daar ook haar ouma se stories. Sy het tydig en ontydig vertel van haar en haar drie susters se lewe op ’n plaas Wysfontein: “Hulle almal het hierdie vreemde byname gehad: Kattie, Pieta, Grietie en Ousus. Laasgenoemde was as jong meisie in ’n konsentrasiekamp waar sy vir maande baie siek onder die bed versteek gelê het, en waar rysmiere haar hare in die grond gewerk het.”
Gerda vertel aan Rapport dat sy bevoorreg was om haar te geken het: “As ou mens was sy stil en byna deursigtig asof daar water deur haar are vloei. Maar die interessantste van die vier susters was my ouma se Sotho-suster wat saam met hulle in die huis grootgeword het. Hulle het haar as ‘Sussie’ aangespreek en toe my oumagrootjie dood is, het sy, nes die ander susters, ’n stukkie grond geërf. Sy het nooit getrou of kinders gehad nie, het baie oud geword en ’n groot beestrop besit. Ek wou nog altyd haar storie vertel.”
Die beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys vir 2022 het as volg gesê oor Vier susters: “Vier susters is ’n gelykenis van die natuur se wraak as gevolg van die rowwe uitbuiting van grond, mens en dier. Die tema word reeds van meet af aan neergelê. Die karakter Sophie is die waarnemer en optekenaar van die vernielsug van die grond, fauna, flora en die vernietiging daarvan deur oorloë en mense wat mekaar verniel en eindelik almal verontmenslik word. Die teks is deurweef van ’n groen eko-gevoeligheid. Sterk karakters, met sterk beelding deur ’n vaardige skrywer en storieverteller. Dis ’n teks wat insuig en die leser bybly, en wat die Afrikaanse letterkunde op die groot verhoog plaas.” (https://atkv.org.za/nuus/posts/atkv-woordveertjies-tekste-wat-boei-bekroon/)
“Dié meesleurende en aksiebelaaide roman oor die geskiedenis van Suid-Afrika en Afrikanerskap neem ook kennis van ander geskiedenisse en vele verhale van swaarkry op meer as een kontinent,” skryf Sonja Loots namens die beoordelaars van die kykNET-Rapport-fiksieprys vir 2022 (Rapport, 25 September 2022). “Lakonieke humor en oomblikke van donker dra by tot ’n roman wat ernstig is, maar nie onverbiddelik swaar nie. Die subtiliteit van die roman en die ingehoudendheid waarmee Taljaard die tragiese verloop van gebeure hul gang laat gaan, is treffend. Vier susters verdien die beskrywing ‘kragtoer’ volkome. Dit is ’n leesbare dog behendige en beleë roman en ’n waardige wenner vir vanjaar se kykNET-Rapport-prys vir fiksie.”
Op Netwerk24 (19 Julie 2021) beskryf Jonathan Amid Vier susters as ’n “dawerende historiese roman”.
“Een wat met kenmerkende intensiteit en liriese prosa van meet af soos ’n klassieke teks in wording. Sowel die skrywer se kortverhale as romans beliggaam ’n gefokusde, broeiende gevoel van konflik.
“Dat hierdie vreeslose skrywer die laaste stuiptrekking van die Tweede Wêreldoorlog (1945) met die verwikkelde verhoudings tussen vier susters sou kombineer, sal min verbaas. Wat egter opval, is hoe Taljaard ’n magdom navorsing en inspirasie uit verskillende oorde, soos Tsjechof se drama Drie susters, en haar eiesoortige stempel van die gestroopte, eksakte blik kombineer om jou telkens in vervoering te laat.
“’n Begrafnis bring vier susters weer bymekaar. Dit is wêreldwyd onstuimig, en op Broedersdraai in die Magoebaskloof reën dit swaar, sommer vir dae aaneen. Vasgekeer op die plaas kan dit nie anders nie – die susters moet hul eie lot, keuses en oortuigings, en hul verhoudings met mekaar, takseer en konfronteer.
“Terwyl Sophie (ek skat naaste aan die stem van die skrywer self) haar man, dokter Robert Wilken, in Johannesburg agterlaat om swaer Boas Putter se begrafnis by te woon, was die beeldskone ouer suster, Beatrice, ongelukkig in die huwelik met Boas.
“Hoewel die jong onderwysstudent Ivy – vuur en vlam – hoogs opgewerk en sonder bagasie by die plaas opdaag en die aandag trek, was hierdie leser onmiddellik ingesleep deur die karakter en verhaal van aangenome suster Kietie, ’n Tsonga-vrou wat weens die kleingeestigheid van die boeregemeenskap op 15 besluit om eerder in die bediendekamer te slaap. (…)
“Hoewel Sophie, Beatrice, Ivy en Kietie elk in eie reg indruk maak, is dit in vele aspekte die toetrede van die Italiaanse krygsgevangene Domenico Valente – deur Kietie gevind op die plaas nadat hy ontsnap en op vlug na Mosambiek deur ’n luiperd aangeval word – wat ’n bepalende dimensie aan die verhaal verleen.”
Wat Amid as absoluut “verbluffend” beskou, is hoe Gerda Taljaard daarin slaag om die verskillende stemme af te wissel, asook “haar aanvoeling vir die kleinste sentiment en geleentheid vir meegevoel te midde van ondraaglike toestande en intense konflik, asook die onstuitbare momentum wat die roman bou ten spyte van die terugflitse en magdom detail.
“Die verhaal se ruwe krag slaan jou wind uit. Telkens word die oomblikke van vervlietende skoonheid – binne-in die oorlog se gebrokenes, in oomblikke van stilte en toegeneentheid tussen honger liggame – so treffend vasgevang dat dit voel soos ’n geliefde wat saggies op ’n brandwond blaas.”
Amid sluit sy resensie só af: “In Vier susters bot die mooiste bloeisels van lewens onder woorde gebring: ‘Toe raak ek bewus van die berg se grootsheid, dat daar ’n krag van hom uitgaan na my en alles om my. Vir ’n oomblik verstaan ek iets van die aarde en van sonnestelsels en van die mens se plek in die heelal. Daarna het daar ’n skadu oor die berg geskuif, oor my kortstondige insig, en het die rede vir ons bestaan my weer ontgaan.’”
En in Rapport van 27 Junie 2021 is Louise Viljoen net so beïndruk met Vier susters: “Presies hoe die verhaal uitspeel, moet die leser die plesier hê om self te ondervind en nie deur ’n resensent verklap word nie. Wat wel gesê kan word, is dat daar naas die spannende en fatale hoogtepunt ook ’n sprank van hoop is in die slot. In hierdie opsig gee die roman erkenning aan die verwantskap met Tsjechof se drama Drie susters.
“Wyle Reza de Wet, wat ’n vervolg op Drie susters geskryf het, sê in ’n onderhoud dat Tsjechof, ten spyte van die tragiek van onvervulde lewens, verydeling en ondergang, iets van die onverklaarbare vreugde van lewend-wees oordra. Tsjechof se dramas, sê sy, laat haar altyd met ’n gevoel van opwinding vanweë die hoop en kapasiteit vir vreugde wat dit uitstraal.
“Iets hiervan vind neerslag in Taljaard se roman. Dit is ’n ryk verhaal wat diep delf in sommige van die Suid-Afrikaanse geskiedenis se donkerste momente, wat die susters se eie skuld aan geweldsgebeure konfronteer, en ten slotte wys dat die mens se vermoë vir herstel onblusbaar is.
“Dit is ook ’n roman wat getuig van deeglike vakmanskap (die bou van ’n spannende verhaal, die vervlegting van motiewe, die sober nadenke oor die mens se neiging tot die bose).
“Die skryfstyl is welig, soos die beboste omgewing van Magoebaskloof, maar loop nêrens uit die hand nie. Besonder mooi is die gevoeligheid vir die verwantskap tussen mense en diere, selfs ook die metamorfoses van mens na dier, en andersom.
“Let maar op die betekenisvolle rol wat diere soos die luiperd, wolf en skimmelhond in die roman speel. Vier susters is ’n roman wat Taljaard se steeds groeiende kragte as romanskrywer bevestig.”
Oor haar volgende skryfprojek sê Gerda in 2022 aan Rapport: “’n ‘Russiese’ roman … meer kan ek nie sê nie.”
Publikasies
Publikasie |
Maansiek |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
1919825908 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Engel in die hoenderhok |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780624047636 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensie en besprekings |
|
Publikasie |
Kelder |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780624054313 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Gerda Taljaard as samesteller:
- Botha, Frederick: Dié liefde bedek, glo en hoop amper alles. Netwerk24, 30 Oktober 2017
- Hambidge, Joan: Gerda Taljaard en Deborah Steinmair – Hartlam. Kortverhale oor die liefde. Woorde wat weeg, 20 November 2017
- Hartlam: kortverhale oor die liefde. Saam met Deborah Steinmair. Kaapstad: Tafelberg, 2017 [ISBN 978062482736 (sb)]
- Skrik op die lyf: bangmaakstories. Saam met Deborah Steinmair. Kaapstad: Tafelberg, 2015 [ISBN 9780624074731]
Artikels oor Gerda Taljaard
- Coetzer, Juliana: Graffiti-aanlynkuier met Gerda Taljaard
- Gerda Taljaard
- Gerda Taljaard: e-pos aan Erika Terblanche, 5 Desember 2023
- Gerda Taljaard-Gilson
- kykNET-Rapportpryse 2018: Commendatio’s en foto’s. LitNet, 27 September 2018
- Meyer, Naomi: Toyota US Woordfeesbundel: ’n onderhoud met Gerda Taljaard. LitNet, 11 Februarie 2020
Artikels deur Gerda Taljaard
- Appelmanie spook in Amerikaanse gotiek. Vrye Weekblad, 24 November 2023
- As jy van moord droom deur Deborah Steinmair: domestic noir op sy beste [resensie]. LitNet, 31 Maart 2020
- Boeke / Tong in die lies: ’n vroulike perspektief op erotiek. Vrye Weekblad, 11 November 2022
- Covid-spoke: vreemde verskynsels of ’n vorm van vertroosting. Vrye Weekblad, 16 September 2021
- Die bruid [kortverhaal]. OuLitNet
- Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n resensie. LitNet, 22 Augustus 2018
- Die inslag van die gotiese in die Afrikaanse literatuur: ’n ondersoek na ’n eiesoortige Afrikaanse gotiek aan die hand van die Faust-motief. LitNet, 5 April 2016
- Die vloek (Johan Kruger) [resensie]. Tydskrif vir Letterkunde, 2013
- Die wit niks in [kortverhaal]. Vrye Weekblad, 18 Augustus 2023
- Episode I: Die dae van die wit dahlia [kortverhaal]. Vrye Weekblad, 31 Maart 2023
- Episode 2: Die dae van die wit dahlia [kortverhaal]. Vrye Weekblad, 7 April 2023
- Hoer, heks, histeries of poppie [resensie van Salemstraat]. Vrye Weekblad, 29 September 2023
- Ilse van Staden se Tafel vir twee sal jou bybly. LitNet, 19 November 2009
- Jou tweede lewe begin nóú. Vrye Weekblad, 5 Oktober 2021
- Kortverhaal / Aajopuuta (Deel I). Vrye Weekblad, 13 Januarie 2023
- Kortverhaal / Aajopuuta (Deel II). Vrye Weekblad, 20 Januarie 2023
- “Kwaaiwater” [deur Irma van Zyl] kook met karakters. Vrye Weekblad, 13 Oktober 2023
- ’n Novelle met ’n klankbaan: ’n ontginning van die musiekintertekste in Jeanne Goosen se Louoond. LitNet, 26 Februarie 2019
- ’n Ondersoek na die waarde van historiese fiksie: drie geskiedkundige romans in oënskou. LitNet, 12 Februarie 2013
- Oortuigende milieuskepping en outentieke personasies in die leesbare historiese roman. Literator, Desember 2020
- Ouma is heimlik ’n kranige loodgieter. Vrye Weekblad, 3 November 2023
- Plek van poue as gotiese roman [resensie]. LitNet, 23 September 2020
- Ryger oor drank, seks en David Bowie. Vrye Weekblad, 15 September 2023
- So sexy soos broodskimmel [resensie van The missus]. Vrye Weekblad, 11 Augustus 2023
- Sofja en die beer, deel i [kortverhaal]. Vrye Weekblad, 2 Junie 2023
- Sofja en die beer, deel ii [kortverhaal]. Vrye Weekblad, 9 Junie 2023
- Susters staan saam teen met-die-duiwel-gebliksemde narsiste [resensie van The middle daughter]. Vrye Weekblad, 14 Julie 2023
- Symbolic values of the dog in Afrikaans literature. Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 2018
- Verlies, vervreemding en literêre moord. Vrye Weekblad, 16 Junie 2023
- Verset teen ’n fallosentriese wêreld: ’n psigokritiese interpretasie van PP Fouries se ’n Hart is so groot soos ’n vuis as bildungsroman. Tydskrif vir Letterkunde, November 2022
Gerda Taljaard se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2023-12-18 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Gerda Taljaard (1971–) first appeared on LitNet.
The post Gerda Taljaard (1971–) appeared first on LitNet.