Die SA Akademie wag nominasies in vir die Akademiepryse wat in 2025 vir toekenning oorweeg word.
Die finale sluitingsdatum vir nominasies is 15 Februarie 2025 tensy anders vermeld word.
Aan alle belangstellendes
Graag vestig ons u aandag op die Akademiepryse wat in 2025 vir toekenning oorweeg word. Volledig gemotiveerde nominasies vir enigeen van hierdie pryse word ingewag.
Reglemente vir die onderskeie pryse is op aanvraag beskikbaar.
’n Nominasievorm kan aangevra word by Linda Brink by linda@akademie.co.za.
Die volgende geld ten opsigte van die voorstelle:
|
Geesteswetenskappe
Stalsprys
Die Stalsprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op die gebied
van die geesteswetenskappe en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word vir die
volgende:
- ’n Hoogstaande publikasie of ’n reeks sodanige publikasies wat wetenskaplike werk van die hoogste gehalte verteenwoordig;
- Individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte.
Indien die kandidaat meestal uitsette in Engels of ’n ander taal lewer, moet daar bewys gelewer kan word van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoorts.
Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2025 kan een prys in elkeen van die volgende vakgroepe
toegeken word:
Kategorie A: Sielkunde; Opvoedkundige Sielkunde
Kategorie B: Opvoedkunde
Protea Boekhuistoekenning
Die prys word jaarliks toegeken en roteer tussen ’n ongepubliseerde magisterverhandeling, ’n ongepubliseerde doktorale proefskrif en ’n gepubliseerde boek in Afrikaans oor geskiedenis of kultuurgeskiedenis.
In 2025 kan die prys toegeken word vir die beste gepubliseerde boek in geskiedenis of kultuurgeskiedenis. (Sluitingsdatum vir uitgewers om boeke voor te lê: 20 Januarie 2025)
Christo Wiesemedalje vir Bedryfsleiding
Die medalje word driejaarliks toegeken vir werk van die hoogste gehalte op die gebied van bedryfsleiding. Die prys is die kroon op ’n lewenstaak en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die volgende oorwegings geld by die keuse van ’n kandidaat:
- Skeppende bydrae tot die Suid-Afrikaanse bedryfslewe;
- Volgehoue uitbouing oor ’n lang tydperk van die terreine waarop hy/sy werksaam is;
- Leierskap op die bepaalde terreine en besieling om die gebiede verder te ontwikkel.
Slegs Suid-Afrikaanse burgers kan in aanmerking kom.
Erepenning vir Geesteswetenskappe
Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die Erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Jacques van der Elstprys
Die prys word toegeken vir die beste artikel wat gedurende 2023 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is.
Natuurwetenskappe
MT Steynprys vir Natuurwetenskappe
Dit word beskou as die topprys vir natuurwetenskap en tegnologie en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die prys word jaarliks toegeken aan ’n persoon wat ’n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.
Dit sal ’n sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoorts.
Havengaprys
Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word.
Die belangrikste vereiste by die beoordeling van kandidate is gehalte en gereelde navorsingspublikasies.
Dit sal ’n sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoorts.
Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2025 word die Havengaprys toegeken vir navorsingsuitsette in die veld van fisiese wetenskappe (wiskundig, chemies, ens.).
Goue Akademiemedalje
Die medalje word toegeken vir werk van skeppende aard op die gebied van tegnologie (wat rekenaarwetenskappe, farmakologie en geneeskunde insluit). Dit omvat hoogstaande werk van praktiese uitvinding (of toepassing) en vernuf gebaseer op wetenskaplike en/of proefondervindelike grondslag. ’n Kandidaat moet ook bewys kan lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans.
Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie
Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die Erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Kunste
Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek
Die prys word driejaarliks toegeken aan enige persoon wat op die gebied van klassieke musiek presteer het: Sangers, komponiste, instrumentaliste wat klawerinstrumente, blaasinstrumente of strykinstrumente bespeel kom in aanmerking. Die prys is die kroon op ’n lewenswerk en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.
Deleen Bekkerprys vir die beste draaiboek in Afrikaans vir ’n TV-drama
Die prys kan jaarliks om die beurt toegeken word aan die beste draaiboek wat in die voorafgaande twee jaar gebeeldsend is (in die geval van die TV-draaiboek) of vertoon is (in die geval van ’n Afrikaanse rolprent-draaiboek). Die prys sal jaarliks roteer. In 2025 kom die prys vir beste draaiboek in Afrikaans vir ’n TV-drama aan die beurt wat in die voorafgaande twee jaar vertoon is.
Afgesien van die wendraaiboek, kan twee aanmoedigingspryse per jaar toegeken word.
Erepenning vir Kuns
Die Erepenning kan jaarliks toegeken word vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die visuele of die uitvoerende kunste. Die Erepenning mag meeras een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Letterkundige pryse
Hertzogprys vir Prosa
Die prys word jaarliks om die beurt vir drama, poësie en prosa toegeken. Alle gepubliseerde prosawerke van hoogstaande gehalte wat verskyn het in die drie kalenderjare wat die 2025-bekroning voorafgaan, kom vir dié toekenning in aanmerking.
Eugène Maraisprys vir Prosa
Die prys word toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans. Die prys word jaarliks om die beurt toegeken vir prosa die een jaar en vir poësie/drama die volgende jaar. In 2025 kom prosa aan die beurt. Slegs inskrywings van die voorafgaande twee kalenderjare kan beoordeel word.
Scheepersprys vir Jeugliteratuur
Die prys word driejaarliks toegeken vir ’n werk in Afrikaans in enige genre (gepubliseer in 2022, 2023 en 2024) gemik op tieners en jong volwassenes en kan meer as een keer aan dieselfde persoon toegeken word.
Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur
Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n Afrikaanse kinderboek in enige genre.
Die kategorie kinderliteratuur sluit boeke in vir kinders van 8 tot 12 jaar.
Werke wat in 2022, 2023 en 2024 gepubliseer is, kom in aanmerking. Dieselfde skrywer mag die prys meer as een keer ontvang.
Lees meer oor die besonderhede van die onderskeie pryse hier.
The post Persverklaring: Oproep om nominasies – Akademiepryse 2025 first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: Oproep om nominasies – Akademiepryse 2025 appeared first on LitNet.