Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1432

Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte

$
0
0

Wat is outeursreg? Wat is die skrywer se regte en wat die uitgewer s’n? ’n Oorsigartikel oor outeursreg as inleiding tot PEN Afrikaans se nuwe artikelreeks, wat ná hierdie algemene vertrekpunt in meer spesifieke vrae sal delf.

Beloning en aansporing

Outeursreg ken aan die eienaars daarvan ’n bondel eksklusiewe regte toe en stel hul sodoende in staat om met hul werk te woeker. Daardie eksklusiwiteit is dikwels ’n belangrike faktor in derde partye se besluitneming oor of ’n finansiële belegging in ’n werk gemaak kan word.  Dit stel kunstefeeste in staat om ’n eksklusiewe lisensie te verkry om ’n toneelstuk te laat opvoer; filmmaatskappye om produksies te maak of uitgewers om ’n boek uit te gee.

Outeursreg is ’n manier om die outeur van ’n werk te beloon vir die aanwending van sy of haar talente, tyd en inspanning om werke te skep. Dit dien gevolglik as aansporing vir die outeur self om aan te hou skep, en vir ander om ook so te maak.

In lyn met artikel 5(2) van die Berne-verdrag, ’n internasionale verdrag oor kopiereg waarvan Suid-Afrika ondertekenaar is, is geen registrasie of ander formaliteite nodig vir die ontstaan van outeursreg nie. Dit ontstaan outomaties indien ’n werk aan basiese vereistes in die Wet op Outeursreg (“die Wet”) voldoen. Daardie bekende ©-teken dien eintlik net as boekstawing van die stand van sake en is nie ’n formele vereiste nie.

Bondel regte

Daar is verskillende soorte outeursregwerke in die die Wet omskryf, elk met ’n eie duur en aard.

Vir skrywers is artikel 6 van die Wet veral van belang. Dit sit die aard van outeursreg in letterkundige werke uiteen. Outeursreg in letterkundige werke verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende met die werk te doen – of ander te magtig om dit te doen: die werk te reproduseer op enige wyse of in enige vorm (let op die omvattende bewoording!), die werk te publiseer, die werk op- of uit te voer in die openbaar, die werk uit te send.

Dit sluit ook die maak van ’n sogenaamde “aanwending”1 van ’n werk in, sowel as die reproduksie, publikasie, op- of uitvoering en uitsending van daardie aanwending.

Hierdie bondel eksklusiewe regte is omvattend. Slegs die eienaar mag hierdie handelinge verrig of ander magtig om dit te doen, behalwe waar die wet daarvoor voorsiening maak dat magtiging / toestemming nie nodig is nie.

Die algemene vertrekpunt by letterkundige werke is dat die persoon wat die werk geskep het, nie net die outeur is nie, maar ook die eienaar van die outeursreg.2

Letterkundige werk teenoor gepubliseerde uitgawe

Indien ’n uitgewer ’n skrywer se manuskrip vir publikasie aanvaar, moet ’n ooreenkoms bereik word waarin die skrywer die uitgewer magtig om die werk uit te gee. Watter regte die uitgewer sal hê, hang af van wat ooreengekom word.

Uit ’n outeursregoogpunt ontstaan daar wel outomaties ’n aparte outeursreg wanneer die uitgewer die skrywer se manuskrip uitlê en publiseer. Dit is die outeursreg in die gepubliseerde uitgawe. Daardie outeursreg berus volgens die Wet by die uitgewer en geld vir vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin dit vir die eerste keer gepubliseer is.

“Gepubliseerde uitgawe” word in artikel 1 van die Wet gedefinieer as: “die eerste druk deur watter proses ook al van ’n besondere tipografiese ordening van ’n letterkundige werk of musiekwerk.”

Die statutêre definisie van die begrip fokus uitsluitlik op die tipografiese ordening van die letterkundige werk en gee geen aanduiding dat die inhoud van daardie letterkundige werk by die gepubliseerde uitgawe inbegrepe is nie.

Outeursreg in ’n gepubliseerde uitgawe bestaan slegs uit die eksklusiewe reg om dit te reproduseer. In teenstelling hiermee, bestaan die outeursreg in ’n letterkundige werk uit ’n veel wyer bondel regte wat reproduksie, publikasie, verwerking, opvoering en uitsending insluit.

Morele regte

Naas die bondel regte waardeur die outeursreghouer die letterkundige werk kan ontgin, bestaan die “morele regte” van die outeur. Dit is die nie-kommersiële deel van outeursreg wat die persoonlike band tussen die outeur en sy of haar werk erken. Outeurs van letterkundige, musiek- of artistieke werk, ’n rolprent of ’n rekenaarprogram kan hierop staatmaak, selfs wanneer hulle hul outeursreg aan ’n ander party oorgedra het.

Morele regte kom in artikel 20 van die Wet op Outeursreg aan bod. Dit sluit in:

  1. Die sogenaamde “right of paternity”: die reg om as outeur van die werk erken te word
  2. En die “right of integrity”: die reg om beswaar te maak teen enige verandering aan die werk wat die outeur se eer en goeie naam nadelig beïnvloed.

Die wet maak voorsiening daarvoor dat ’n skending van morele regte dieselfde gestraf kan word as ’n skending van die bondel eksklusiewe regte.

Balans

Alhoewel die outeur as outeursreghouer ’n sterk posisie met dié bondel regte beklee, is daar ’n balans ingebou in die outeursregstelsel. Die balans wat gehandhaaf word, is tussen die belange van die outeur en die belange van die gemeenskap. Nie enige skepping sal byvoorbeeld kwalifiseer vir outeursregbeskerming nie; dit moet aan sekere vereistes voldoen. Outeursreg beskerm byvoorbeeld nie idees nie, maar slegs die spesifieke materiële uitdrukking van die idee. Sodoende word voorkom dat iemand ’n monopolie ten opsigte van ’n algemene idee of konsep verkry. Dit sal ander se kreatiwiteit onredelik aan bande lê, terwyl outeursreg juis poog om kreatiwiteit te bevorder.

Outeursreg geld slegs vir ’n vasgestelde termyn, waarna dit verval en die werk die openbare domein betree en vrylik gebruik mag word. Die wet maak ook voorsiening vir spesifieke toegelate gebruike, soos navorsing en verslaggewing, waar die outeursreghouer se toestemming nie vereis word nie.

 

Eindnotas

1 Die Engelse teks verwys na ’n “adaptation”.

2 Hoofuitsonderings op die reël is waar die werk in die loop van indiensneming geskep word – die werkgewer is dan die eienaar – of waar ’n portret of ’n foto in opdrag van ’n ander party gedoen word. In daardie geval is die opdraggewer die outeursregeienaar.

The post Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1432

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>