Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1430

Die Kopieregalliansie oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg: 24 Februarie 2018

$
0
0

Daar kom soms ’n tyd waar dit voordelig is vir die onderskeie dele van ’n groter geheel om hul verskille opsy te skuif ter wille van die belang van die groter geheel, hetsy in die konteks van ’n familie, ’n skool, ’n arbeidsmag, ’n land. In die geval van die Kopieregalliansie is die groter geheel Suid-Afrika se skeppende bedrywe saamgestel uit die onderskeie dele, naamlik die televisie-, film-, musiek- en boekbedrywe. Die koers wat die wetgewer tans met die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg inslaan is die dryfveer dat dié stemme saam opklink ter wille van die behoud en die beskerming van die groter geheel. Die skade wat ondeurdagte wysigings aan outeursregwetgewing kan doen, beïnvloed al die lede van die Kopieregalliansie. Daarom is dié liggaam in 2017 gevorm. Dit was ’n merkwaardige gebeurtenis as ’n mens in ag neem hoe selde verskillende bedrywe uit een mond praat.

Die veelbesproke Wysigingswetsontwerp op Outeursreg se eerste weergawe is in 2015 versprei. ’n Volgende weergawe, wat ook hewige kritiek ontlok het, het in 2017 verskyn. Die Portfeuljekomitee vir Handel en Nywerheid het tydens die parlementêre sittings oor hierdie weergawe aangedui dat die wetsontwerp oorhandig sal word aan ’n span kundiges wat die problematiese formulering daarvan sal takel. Die beleidsrigtings wat daarin vervat is, sal egter nie deur hierdie span bepaal word nie. Die verwarrende terminologie en dubbelsinnige formulering in die wetsontwerp sal tot regsonsekerheid lei, maar dit is die voorgestelde beleidsrigtings wat die skeppende bedrywe ’n knou sal toedien.

Die Kopieregalliansie het op 24 Februarie 2018 ’n saamtrek by die Universiteit van Pretoria georganiseer om die potensieel verreikende gevolge van die Wetsontwerp op Outeursreg op die skeppende bedrywe te bespreek. Dit was oop vir ieder belangstellende en belanghebbende en ’n breë spektrum van rolspelers in die skeppende bedrywe was teenwoordig: filmmakers, musikante, komponiste, outeurs, uitgewers, prokureurs en sakelui wat met die bestuur van outeursreg gemoeid is. Die geleentheid is moontlik gemaak deur die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Intellektuele Goederereg.

Chris Job, direkteur van die Sentrum vir Intellektuele Goederereg aan die UP, het die dag se verrigtinge in sy verwelkomingstoespraak raak beskryf as “IP in action”, want ons het nie net gehoor van organisasies wat musikante, filmmakers en skrywers se belange verteenwoordig nie, maar ook van die musikante, filmmakers en skrywers self. Pri Hollis het die program geopen met ’n musiekuitvoering, bekroonde outeur Niq Mhlongo het voorgelees uit sy jongste boek, Soweto under the apricot tree, en die gewilde Durbanse hiphop-groep Dreamteam het opgetree. Hierdie optredes het die beweegrede vir die samekoms vergestalt: die wetsontwerp sal nie net “gesiglose” bedrywe beïnvloed nie, maar ook individuele kunstenaars. 

Volgens Job is daar ’n paar leidende beginsels wanneer nuwe wetgewing geskep word. Nuwe wetgewing behoort bestaande regte te respekteer, billikheid na te streef, duidelik en ondubbelsinnig te wees (anders baat slegs prokureurs daarby!), poog om in lyn te wees met internasionale verdrae en die sogenaamde sanctity of contract te respekteer. Alhoewel die Wet op Outeursreg verouderd is en kan doen met hersiening, eerbiedig die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg volgens Job nie hierdie basiese beginsels nie. 

In sy beleidsrede kon Nick Matzukis weens sy uitgebreide ervaring in die musiekbedryf gesaghebbend ’n verskeidenheid perspektiewe belig. Hy is onder meer ’n musikant, ’n advokaat, ’n konsultant vir die musiekbedryf, ’n skrywer van ’n boek oor musiekreg en die voorsitter van CAPASSO. Uit sy pleidooi vir nugter en verstandige denke oor outeursreghervorming was dit duidelik hoe belangrik outeursreg vir die bedingingsmag van skrywers, musikante en ander skeppers van outeursregwerke is. Problematiese aspekte van die wetsontwerp is volgens Matzukis die instel van die billike gebruik-doktrine (oftewel fair use), dat outeursreg aan die staat sal behoort indien daar enige sprake is van staatsbefondsing van die werk, die breë uitsonderings op en beperkings van outeursreg, asook die bepalings oor sogenaamde orphan works. Matzukis is oortuig dat Suid-Afrika se kunstenaars beter verdien as wat hierdie wetsontwerp opdis. Hul verdien om seggenskap te hê oor wat met hul werk gebeur; hul verdien billike vergoeding en dat hul regte gerespekteer word. Hy twyfel sterk of hy ’n volgende uitgawe van sy handboek oor musiekreg die lig sal laat sien as dié wetsontwerp deurgaan. Die insentief daarvoor sal ’n nekslag toegedoen word as die handboek sonder toestemming of vergoeding vir opvoedkundige doeleindes gebruik mag word.

Tydens die sessie oor die boekbedryf het ons meer gehoor oor wat uitgewers werklik doen. Die beeld van ’n kremetartboom is deur Brian Wafawarowa ingespan om die boekbedryf te beskryf. Skrywers en medewerkers is die wortels, die stam bestaan uit meganismes soos outeursreg wat groei anker en moontlik maak, uitgewers en boekhandelaars vorm die takke wat daartoe lei dat daar blare en vrugte kan wees wat sal val wanneer die siklus voltooi is om uiteindelik weer die grond te verryk. Die Wysigingswetsontwerp hou ’n ernstige bedreiging vir hierdie ekosisteem in. ’n PwC-verslag dui aan dat die beoogde wye uitsonderings op en beperkings van outeursreg sal lei tot grootskaalse werksverlies in die uitgewersbedryf, verlies aan lisensiëringsinkomste vir beide skrywers en uitgewers, en ’n drastiese afname in boekverkope.

Die idee van gebruikers se regte was tydens ’n paneelbespreking van rolspelers in die musiekbedryf ’n fokuspunt. ’n Groot probleem in dié industrie is dat musiekgebruikers versuim om verslag te doen oor watter musiek byvoorbeeld in ’n kroeg, restaurant of teater gespeel is. In die afwesigheid van so ’n verslag kan die betrokke kunstenaars nie vergoed word vir daardie gebruik nie. Die wetsontwerp versuim om die probleem van nie-verslagdoening voldoende aan te spreek. Dit lê eerder klem op gebruikers se regte, terwyl dié van die outeursreghouer beperk en verswak word. Musikante is herinner dat die wetsontwerp hul morele en ekonomiese regte beïnvloed, en hulle is aangeraai om aktief betrokke te wees by die parlementêre proses en om onkunde oor outeursreg teë te werk.

Die bepalings oor eienaarskap van outeursreg in opdragwerke en dat die staat outeursreg sal hê in werk wat deur hulle befonds is (hoe minimaal ook al), is ’n kopsorg vir die musiek- en ook die filmbedryf. Die meeste plaaslike produksies word in ’n mate deur staatsliggame befonds. As die staat outomaties outeursreg daarin sal verkry, sal dit ’n groot demper plaas op die insentief om plaaslike produksies te skep.

Wanneer die wêreld se groot produksiemaatskappye en filmateljees moet besluit waar om ’n nuwe film of reeks te vervaardig, tel oorwegings soos ’n regulerende raamwerk wat internasionale belegging aanmoedig, asook ’n plaaslike bedryf met opgeleide en bekwame mense. Die Motion Pictures Association het die Suid-Afrikaanse regering aangemoedig om outeursreg op ’n sinvolle en deurdagte wyse uit te brei om te keer dat buitelandse beleggers vervreem word. Honderde, selfs duisende, werksgeleenthede word geskep wanneer ’n internasionale film op Suid-Afrikaanse bodem verfilm word. Dit kan weer lei tot kruisbestuiwing van die musiekbedryf, as ’n mens in ag neem hoe sterk Suid-Afrikaanse musiek in die film Black Panther se klankbaan figureer. Die boodskap van Motion Pictures Association was duideik: buitelandse rolspelers wil in Suid-Afrika se skeppende bedrywe kom belê, maar sal elders kyk indien hier struikelblokke is.

Die Independent Black Film Producers Collective het ’n waardevolle bydrae gelewer tot die gesprek oor fair dealing teenoor fair use. Die filmbedryf is tot ’n mate verdeeld hieroor. Dokumentêre filmmakers is ten gunste van die instel van fair use, aangesien hulle dan vryer gebruik van bestaande outeursregwerke sal hê en nie buitensporige bedrae daarvoor sal moet betaal nie. Outeursreg behoort inderdaad nie dokumentêre filmmakers onredelik aan bande te lê nie. Die Independent Black Film Producers Collective het egter ’n lansie gebreek vir die ontwikkeling van die bestaande fair dealing-bepalings in die Wet in plaas daarvan om ’n hele nuwe konsep van fair use in te stel soos wat die Wetsontwerp tans voorstel. Fair use is volgens hulle nie die enigste óf die gewenste antwoord nie.

Die skeppende bedrywe lewer nie net ’n magtige bydrae tot ons land se ekonomie nie, maar dra regstreeks by tot die skat van kuns, kultuur en letterkunde wat Suid-Afrikaners vermaak, uitdaag, laat nadink en praat. Hierdie bedrywe het besluit om saam te staan om hul kommer uit te spreek oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Hopelik sal hul gesamentlike stem deur die besluitnemers gehoor word. Dit het beslis helder opgeklink in die Musaionteater van die Universiteit van Pretoria.

The post Die Kopieregalliansie oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg: 24 Februarie 2018 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1430

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>