Twee jaar gelede, op 24 September 2016, het die SBA ’n Stap vir Afrikaans in die Bo-Kaap gehou en die vertrekpunt was die Boorhaanolsentrum waar daar ’n uitstalling was oor Achmat Davids, en waar die navorsing en die boek The Afrikaans of the Cape Muslims vermeld is. Dit was aanvanklik Davids se meestersgraadtesis “The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815-1915”. Dit het die saadjie by my geplant om die boek in Afrikaans te laat vertaal sodat meer mense daarvan kan lees en om dit uit die stowwerige akademiese geskrif te ontruk. Hein Willemse was behulpsaam met die publikasie deur Protea. Ek het Hein Willemse gekontak wat vertel het hoe hewig akademies die werk is en dat hy dit sal verkort en vereenvoudig sodat dit veral toeganklik kan wees aan skoliere en die gewone publiek wat belangstel in die Bo-Kaap, die Moslemkultuur en Afrikaans. Na die uitstryk van die kopiereg is die projek met mening aangepak en word die boek nou bekendgestel op 15 Desember as die SBA se Versoeningsdaggebaar by die Taalmuseum in die Paarl – om aan die Bo-Kaap-Afrikaans erkenning te gee as waar Afrikaans eintlik ontstaan het, en nie toe die Bybel in 1885 volledig in Afrikaans in die Paarl verskyn het nie. (Vandaar dat die taalmonument mos op Paarlberg opgerig is). Die boek bestaan nou uit 80 bladsye en sal gratis beskikbaar wees by die SBA met aanvraag per e-pos info@sbafrikaans.co.za. Hein Willemse gaan die bekendstelling op die 15de behartig.
The post <em>Die Afrikaans van die Kaapse Moslems</em> deur Achmat Davids: boekbekendstelling appeared first on LitNet.