Is jy ’n leerder met ’n droom om eendag die verhoog jou loopbaan te maak? En bruis die adrenalien deur jou are as jy net dink aan toneelspel – die opwinding van die kollig, daardie stil oomblik voor die eerste woorde ’n gehoor se aandag vasvang?
Skryf dan in vir die Dramaweb SA aanlyn dramakompetisie, en speel jou hart uit teen ander leerders wat jou liefde vir die kunste deel – vanjaar aangebied in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV).
Dramaweb SA het in 2020 die lig gesien, ’n projek van die drama-afrigter en aktrise Ira Blanckenberg om aan kranige jong akteurs die geleentheid te bied om hul verhoog-staal te wys, ondanks die kansellasie van ander dramakompetisies en eisteddfods weens die COVID-19-pandemie.
“Ek is baie opgewonde oor Dramaweb SA 2021”, sê Blanckenberg. “Ons wil vanjaar nog meer leerders betrek, met nuwe kategorieë wat elke aspek van akteur-wees sal bevorder. Ons is verheug om die KKNK as vennoot te verwelkom en beoog om saam met dié Afrikaanse moederfees ’n platform te skep waar ons land se jong akteurs mekaar beter kan leer ken, in mekaar se kreatiwiteit kan deel en waar hulle landwyd die wonder van toneelspel kan vier en hul talent kan slyp.”
“Die reaksie verlede jaar was oorweldigend positief, en deelnemers se reaksie op die professionele en gedetailleerde terugvoer van professionele afrigters en ander kenners in die bedryf was inspirerend,” sê sy.
Vir die KKNK lê dié vennootskap na aan die hart. “Ons leef in ontwrigtende tye en jongmense het ’n uitlaatklep nodig,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur. “Die kunste in al sy vorme bied ’n geleentheid vir ontvlugting. Dit is nie net ’n geleentheid vir jongmense wat in die toekoms professioneel by die uitvoerende kunste betrokke wil raak nie, maar ook ’n belangrike platform om ’n liefde vir letterkunde en die kunste te kweek.”
Deelneem is maklik, en die koste minimaal – als gebeur aanlyn. “Leerders kan in die gemak van hul eie huis deelneem, met kundige beoordelaars wat regstaan met raad,” sê Theart.
Die ATKV deel die KKNK se entoesiasme oor Dramaweb SA. “Die kunste verryk en inspireer mense, oud en jonk, en dit bevorder kreatiwiteit en bring gemeenskappe by mekaar,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van taal en kultuur by dié organisasie. “Kuns en kultuur is fundamenteel tot persoonlike ontwikkeling en groei. Die ATKV ondersteun Dramaweb SA met trots en ons glo dié projek sal die voordele van toneel, digkuns en skryfkuns beklemtoon, en help om brûe te bou tussen al die mense van Suid-Afrika.”
’n Unieke aspek van Dramaweb SA is die feit dat deelnemers nie tot hul eie streek beperk word nie, maar landwyd met ander leerders kan meeding.
Inskrywings open Maandag 8 Maart, en kos R150 per item. Deelnemers kan met gedigte, monoloë, prosa en selfs mimiek deelneem. Laai eenvoudig ’n video-opname van jou inskrywing op teen Maandag 31 Mei 2021. Blanckenberg en haar man, die akteur Waldemar Schultz, is vanjaar se beoordelaars, en prysgeld vir elke kategorie is R1 000 per wenner. Jy kan deelneem in Afrikaans of Engels: die finale ronde vir Afrikaanse deelnemers is op 3 Julie 2021 en vir Engelse deelnemers op 4 Julie 2021. Al twee dié rondes word virtueel uitgesaai.
Besoek dramawebsa.co.za vir die lys van kategorieë en meer inligting, of bel Daventia Kennedy by 044 203 8600 met navrae. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@dramawebsa.co.za of direk aan Blanckenberg by ira@dramawebsa.co.za.
Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24 met verdere ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Departement van Kultuursake en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn Munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton Stigting. Die presidensiële stimuluspakket (stroom 1), geadministreer deur die National Arts Council (NAC) namens die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSAC) ondersteun ook die KKNK in sy huidige bedrywighede.
The post Persverklaring: Aanlyn dramakompetisie vir jong akteurs appeared first on LitNet.