Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all 1432 articles
Browse latest View live

Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Februarie 2018

$
0
0

Hier is PEN Afrikaans se oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Daar is ook skakels na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is.

Boeke24

Die volgende resensies en boekverwante artikels het gedurende Februarie in die Afrikaanse dagblaaie verskyn – onder redaksie van Laetitia Pople, die nasionale kuns- en vermaakredakteur, en Jo Prins, nasionale boekeredakteur:

2 Februarie

Nuus: Trevor Noah se volgende boek op pad

5 Februarie

Boekeblad: Vier boeke vir meisies

Kuns/nuus: ‘Klein prinsie’ nou ’n oudioboek

7 Februarie

Kuns/nuus: Vermeulen op IBBY se lys van jeugboeke

12 Februarie

Boekeblad: Gibson se gedigte eis naspeur, nadink
Joan Hambidge resenseer Gilbert Gibson se Die sin van die hut.

Boekeblad: Gelate ‘Somer’ kort dalk woema
J.B. Roux resenseer Somer deur Jaco Fouché.

Boekeblad: Wanneer die wag voor jou mond dut
Riette Rust resenseer Rian van Heerden se 16 Dinge wat ek nié moes sê nie.

Boekeblad: Reis met haltes van verrukking en verskrikking onderweg
André Bartlett resenseer Geloof alleen deur André Pretorius.

19 Februarie

Boekeblad: Stories ernstiger as verwag
Zac Steyn skryf oor Die perfekte brander en ander verhale, saamgestel deur Adinda Vermaak en Marieta Nel

21 Februarie

Kuns/nuus: Biografie oor Ingrid Jonker kom

Kuns/nuus: Ramaphosa-gesprek op Woordfees

22 Februarie

Kuns/nuus: Cecile Cilliers debuteer met kortverhale op 84
AJ Opperman voer ’n onderhoud met Cecile Cilliers.

Stemme/profiele: Só het Karel Schoeman gesterf
Murray La Vita voer ’n onderhoud met Willem Landman

26 Februarie

Boekeblad: Cilliers se kortkuns ’n sjarmante debuut
Joan Hambidge resenseer Cecile Cilliers se debuut Die ou vrou en die priester.

Boekeblad: Nie vir sensitiewe lesers nie
Riette Rust resenseer Tot die dood ons skei deur Schalk Schoombie.

Boekeblad: Charl-Pierre Naudé se Boekevat-rubriek
Verbintenisse met sagte geweld opgeblaas

Die Groot Ontbyt

Willie Burger het in Februarie die volgende boeke op kykNET se ontbyt-TV-program bespreek:

6 Februarie

Gesant van die mispels en In die stille agterkamer deur Marlene van Niekerk

13 Februarie

Willie Burger bespreek historiese romans, met verwysing na onder andere: 

  • Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis
  • Alles begin met Anna deur Annemari Coetser
  • Offerland deurF.A. Venter
  • Afstande deur Dan Sleigh
  • Skepelinge deur Karel Schoeman

20 Februarie

Die fantasie-genre is in hierdie aflewering in die kollig, met verwysing na Die bergengel deur Carina Stander

27 Februarie

Imitation deur Leonhard Praeg

LitNet

Die volgende Afrikaanse resensies en skrywersonderhoude het in Februarie op LitNet verskyn:

Eisteddfod-pret: ’n resensie

Yolanda Wessels
Resensies
2018-02-27

"Die bundel bestaan uit oorspronklike, ongepubliseerde werke van die Fynbosskrywers en bevat 108 gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake wat geskik is vir laerskoolleerders."

Geloof alleen deur André Pretorius: ’n lesersindruk

Fransjohan Pretorius
Lesersindrukke
2018-02-27

"Hierdie is ’n kragtoer. Nie alleen was dit ’n skitterende idee om in die Hervormingjaar 500 op die spoor van Luther en andere soos Calvyn sy reise te boek te stel nie, maar die beplanning en besinning oor waarheen die skrywer wil reis, is briljant."

Die reis gaan inwaarts: die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman deur Cas Wepener: ’n resensie

Jaco Barnard-Naudé
Resensies
2018-02-23

"In ’n sekere sin kan Derrida se woorde gelees word as ’n bondige, dog voldoende komplekse, samevatting van Cas Wepener se uitgebreide akademiese studie oor die werk van Karel Schoeman."

Ware mense deur Bart de Graaff: ’n resensie

Anzil Kulsen
Resensies
2018-02-20

"My eerste reaksie was: wou die skrywer maar net staaf wat almal alreeds weet of het hy werklik gehoop om ’n nuwe perspektief te bring op die manier waarop die mens-mense (Khoi-Khoin) gemarginaliseer is?"

Begin ’n lewe van sukses deur Hennie J de Villiers: ’n resensie

Riette Rust
Resensies
2018-02-16

"Die inligting in die boek is nie heeltemal nuut of aardskuddend nie, tog het dit waarde, want mens vergeet so maklik die waarhede wat daarin vervat is."

By die herlees van Offerland: FA Venter

Johan Anker
Resensies
2018-02-14

"Alhoewel Offerland steeds ’n tradisionele en kultuurgebonde historiese roman uit die sestigerjare sal bly, is ek aan die einde van die lees daarvan wéér ontroer."

Nuwe stemme 6, saamgestel deur Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers: ’n resensie

Annie Klopper
Resensies
2018-02-12

"Nuwe stemme 6 slaag daarin om ’n paar sterk stemme klokhelder te laat opklink – sommiges sterker as ander – en soos met vorige uitgawes van Nuwe stemme speel die publikasie daarvan nie net ’n rol in die bewaring en ontwikkeling van hierdie stemme nie, maar spreek dit ook van diversiteit, durf en bowenal belofte onder ontluikende Afrikaanse digters."

Oor berge en dale deur Jackie Grobler: ’n lesersindruk

Barend van der Merwe
Lesersindrukke
2018-02-09

"Die boek dokumenteer die reise van die skrywer deur Suid-Afrika, op soek na enige monumente, insluitend grafte. Dan word die spesifieke monument kortliks in historiese konteks geplaas: Wat het daar gebeur? Wie was betrokke?"

Bonita Avenue deur Peter Buwalda: ’n resensie

François Verster
Resensies
2018-02-08

"Dus, ’n familiesage wat vir die Afrikaanse leser aangebied word deurdat Zandra Bezuidenhout, ervare en bekende vertaler, die Nederlandse teks – reeds in 2010 gepubliseer – vernuftig in Afrikaans omgeskakel het."

Kewerkoningin deur MG Leonard: ’n resensie

Anke Theron
Resensies
2018-02-07

"Beslis ’n lekker vakansieleesprojek vir beide seuns en dogters wat van buitengewone avonture hou."

Doodloopstraat deur Leon van Nierop: ’n resensie

Org Potgieter
Resensies
2018-02-07

Org Potgieter resenseer Leon van Nierop se Doodloopstraat.

Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

Irene van Staden
Lesersindrukke
2018-02-07

"Du Plessis se roman is met ander woorde ’n hartseer en swaar uitbeelding van ’n harde en genadelose wêreld, maar terselfdertyd ’n pragtige uitbeelding van hoe arm mense mekaar in moeilike tye ondersteun."

Sê my, is julle twee susters? deur Hester van der Walt

Deborah Steinmair
Resensies
2018-02-06

"Soms is klein groot. Reusagtig. Soms tel jy ’n dun boekie met ’n interessante titel op, soos sê nou maar By Grand Central Station I sat down and wept – of Sê my, is julle twee susters?. En wat jou innerlike landskap verruim om plek te maak vir die weet van ’n handvol mense wat vreesloos geleef het."

Elton die verskriklike April verloor dit deur Carin Krahtz: ’n boekresensie

Anke Theron
Resensies
2018-02-06

"Dit is beslis ʼn lekker boek en is vir die jonger leser verteerbaar sonder om oppervlakkig of prekerig te wees. Hopelik hoor ons in die toekoms meer oor Elton April."

Juliana. Een vorstin in een mannenwereld deur Jolande Withuis: ’n lesersindruk

Marius Coetzee
Lesersindrukke
2018-02-01

"Jolande Withuis verleen gravitas en konteks aan ’n inderdaad buitengewone vorstin in ’n manswêreld. Juliana was ’n pionier en passievolle humanis wat die rol van die Europese konstitusionele monarg aansienlik verander het."

US Woordfees 2018: Irna van Zyl gesels oor Gifbeker

Naomi Meyer, Irna van Zyl
Skrywersonderhoude
2018-02-28

"Die boek begin toe die mees berugte kosblogger in die land dood neerslaan in sjef Zeb Tswalo se deftige restaurant in die Hemel-en-Aarde Vallei buite Hermanus."

Katelknaap: ’n onderhoud met Leon van Nierop

Christiaan J de Swardt, Leon van Nierop
Skrywersonderhoude
2018-02-14

"’n Roman gee jou absolute vryheid om in die karakters se koppe in te kom en dit was vir my van kardinale belang – nie die gesteun of gespierde sespak nie, maar die genot sonder ’n skuldgevoel."

’n Kanniedood-koerantman: ’n onderhoud met Hennie van Deventer

Herman Lategan, Hennie van Deventer
Onderhoude
2018-02-08

"Nietemin, die behoefte om in Afrikaans ingelig te word, gaan nie verdamp nie; dalk eerder versterk word deur die toenemende politieke inbreuk op die lewensruimte van ons taal. Vir Afrikaanse e-media voorsien ek dus stelselmatige groei namate rekenaargeletterdheid en -gebruik toeneem."

Een interview met Dan Sleigh over Eilande

Tycho Maas, Dan Sleigh
Skrywersonderhoude
2018-02-01

"Mense is eilande in die see van die geskiedenis. Daar is nie bloot een perspektief of een geskiedenis nie."

Rapport

Die volgende resensies het gedurende Februarie in Rapport, onder redaksie van Johan van Zyl, verskyn:

4 Februarie

Bill Nasson resenseer twee Anglo-Boereoorlogboeke: Frans David Oerder: Anglo-Boereoorlogtekeninge & -skilderye deur Alexander E. Duffy en The Diaries of Sapper Robert Poole: 2343 Royal Engineers Telegraphist, geredigeer deur William Yeowart.

Jean Meiring resenseer Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting deur James-Brent Styan

Mag ’n man in vroue se kop klim? Irna van Zyl bespreek Johanna deur Cas Wepener

11 Februarie

Jan-Jan Joubert resenseer Ramaphosa: The Man Who Would Be King deur Ray Hartley

Jean Oosthuizen resenseer Weerlose weerstand: Die gaydebat in die NG Kerk deur André Bartlett

Die digter as taalondermyner: Bernard Odendaal resenseer Die sin van die hut deur Gilbert Gibson

Riette Rust resenseer Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

18 Februarie

Herman Lategan resenseer El negro en ek deur Frank Westerman (vertaal deur Daniel Hugo)  

Desmond Painter resenseer Nuwe stemme 6 (saamgestel deur Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé)

Artikel: J.B. Roux skryf oor traumaliteratuur  

Skrywer waag sy lewe vir gru-feite: Theunis Engelbrecht resenseer Nuwe How to Steal a City: The Battle for Nelson Mandela Bay deur Crispian Olver

25 Februarie

Onderhoud: Antoinette Pienaar oor Die lang man sonder skaduwee

Diek Grobler resenseer Die avonture van Bal-oog en Brommel: Moord in Ixiastraat (Sjaka Septembir, Swart Streep en Willem Samuel)

J.B. Roux resenseer Vital Remains: The Story of the Coloured Boy Behind the Wardrobe deur Amos van der Merwe

Prontuit

Prontuit is ’n weeklikse aktualiteitsprogram wat die kollig op sosiale en kultuurkwessies plaas. Dit word aangebied deur Kabous Meiring en uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144).

Verlede jaar was ’n jaar van gemengde sukses vir die boekebedryf in Suid-Afrika. Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw se boek The President’s Keepers het ’n reusagtige 140 000 eksemplare verkoop. Die mark vir Afrikaanse boeke is ook groot en ongeveer 50% van alle boeke wat in Suid-Afrika verkoop word, is Afrikaans. Die Prontuit-span het by uitgewers en skrywers gaan inloer.

Hier is die insetsel in drie segmente:

Segment 1

Segment 2

Segment 3

Maroela Media

Die volgende resensies het gedurende Februarie op Maroela Media, onder redaksie van Suné van Heerden, verskyn:

5 Februarie

Spertyd deur Elsa Joubert
Johan Myburg skryf: Spertyd is geen handleiding vir die ouderdom nie. Tog sal dit jammer wees as ʼn mens oud word sonder om kennis te neem van dié jongste boek van Elsa Joubert.

8 Februarie

Beatrix sê: Raak hekel-slim
Beatrix Snyman se Beatrix sê: Raak hekel-slim is ’n móét vir elke hekel-entoesias of jy nou ’n ywerige beginner of ’n bedrewe kundige is, meen Louise Viljoen.

23 Februarie

Skwiek deur Jaco Jacobs
Louise Viljoen meen: Kinders sal absoluut mal wees oor hierdie boek. Dis in ’n lekkerlees formaat geskryf en hulle sal nie kan wag om om te blaai om verder te lees nie.

Skrywers en boeke (RSG)

Potgooie van die volgende boekgesprekke, wat gedurende Februarie op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by: http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=270

Woensdag 7 Februarie

Steve Hofmeyr vertel vir Ilse Salzwedel van sy nuwe spanningsverhaal, Die onaantasbares. Kerneels Breytenbach gesels oor die moets en moenies van boekresensies, en Johan Myburg deel oudergewoonte interessanthede uit die internasionale letterkunde.

Woensdag 14 Februarie

Ilse Salzwedel gesels met Machiel Viljoen van Afrifiksie.com, ’n Afrikaanse webwerf wat fokus op wetenskapfiksie. Hoor hoekom hardop lees so belangrik is vir jou kind se ontwikkeling, en vind uit wie het LAPA se jeugromankompetisie gewen. In sy weeklikse bydrae oor die internasionale letterkunde vertel Johan Myburg meer oor onder andere ’n nuwe boek van Barbara Kingsolver.

Woensdag 21 Februarie

In ’n spesiale uitsending kan jy luister na die Karoo Suite, ’n woord-en-musiekskepping deur Coenie de Villiers en die skrywer Deon Meyer. Ons gee ook meer besonderhede oor die ATKV Winterskryfskool. Johan Myburg deel oudergewoonte interessanthede uit die internasionale letterkunde.

Woensdag 28 Februarie

Suzette Kotzé-Myburgh gesels met rolprentmaker Franz Marx oor sy spannende debuutroman, Spieëlbeeld. Prof. Chris van der Merwe gesels met Ilse Salzwedel oor die briewe van president M.T. Steyn wat hy uit Nederlands vertaal het vir ’n boek van die Van Riebeeckstigting, en Johan Myburg deel oudergewoonte internasionale boekenuus.

Vers en klank (RSG)

Potgooie van die poësievoorlesings, wat gedurende Februarie op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by: http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=102

Dinsdag 6 Februarie
Margot Luyt speel toonsettings van verskeie Afrikaanse gedigte.

Dinsdag 13 Februarie
’n Potpourie van liefdesverse op die vooraand van Valentynsdag, voorgelees deur Amor Tredoux en Antjie Krog.

Dinsdag 20 Februarie
Johann Nel lees ’n versameling gedigte uit Versreise, voorgeskryf vir hoërskoolleerlinge met Afrikaans Huistaal.  

Dinsdag 27 Februarie
Susanne Beyers lees verse uit Trienke Laurie se bundel, Koebesi.

Versindaba

Op hierdie webblad wat gewy word aan die Afrikaanse digkuns en gesprek rondom die poësie, vind besoekers al die mees onlangse resensies en onderhoude in die regterkantste kiesbalk. In dié kiesbalk is ook skakels na nuwe gedigte en blogs oor die poësie.

Op 20 Februarie het Amanda Lourens se resensie van Gesant van die mispels en In die stille agterkamer deur Marlene van Niekerk verskyn.

Vrouekeur

Willie Burger het gedurende Februarie die volgende resensies en rubrieke gelewer: 

5 Februarie
’n Bespreking van Elsa Joubert se Spertyd

12 Februarie
Ken jou storie: die derde aflewering van ’n bespreking van die literatuurkritiek

19 Februarie
’n Bespreking van First Person deur Richard Flanagan

23 Februarie
Oor twee boeke wat met die ouderdom te doen het: Hendrik Groen, ’n topverkoper uit Nederland, en Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

Woorde wat weeg

Joan Hambidge se blog, Woorde wat weeg, is ’n webtuiste waar dié digter-literator sowel gedigte as boekbesprekings, rubrieke en gedagtes rondom die letterkunde versamel en aanbied:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/

Skakels na boekbesprekings vir haar blog asook verskillende publikasies vind besoekers aan dié webblad in die kiesbalk regs van blog-inskrywings.

The post Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Februarie 2018 appeared first on LitNet.


PEN Afrikaans Nuusbrief: Maart 2018

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
In Februarie is Internasionale Moedertaaldag gevier, ’n nuwe konseptaalbeleid vir hoër onderwys is gepubliseer en die Kopieregalliansie het vergader oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg.
 
’n Klopjag by Jacques Pauw se woning, sowel as die poging om die bekroonde film Inxeba | The Wound van die kringloop te verban, het die belang van die beskerming van vryheid van uitdrukking opnuut beklemtoon.
 
Lees PEN Afrikaans se verklaring oor die besluit van die Film- en Publikasieraad se appèltribunaal om ’n X18-ouderdomsbeperking aan die film toe te ken. Na aanleiding van die filmvervaardigers se dringende aansoek om ’n tussentydse hofbevel is die film intussen terug op die kringloop hangende ’n hersieningsaansoek wat op 28 Maart sal plaasvind.  
 
’n Stewige oes Afrikaanse boeke het verskyn, is geresenseer en by die Woordfees bespreek. Die Prontuit-span het ’n insetsel gedoen oor die Afrikaanse uitgewersbedryf (sien skakel na resensie-oorsig onder), ’n bedryf waarmee dit tans besonder goed gaan. Hier is ’n artikel wat dié blye stand van sake uiteensit. Dankie aan uitgewers, skrywers en boekliefhebbers. Mag dit so voortgaan.
 
Lekker lees aan ons Maart-nuusbrief. Deel dit gerus met belangstellendes.

Moedertaaldag

Ter viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie het PEN Afrikaans by ’n paar mense gaan aanklop om te hoor wat volgens hulle die belang van moedertaal is en waarom dit gevier behoort te word. Lees hier wat sê Christien Neser, Theo du Plessis, Matthias Brenzinger, Cornelia Faasen, Nomfundo Mali, Alta Engelbrecht en YOMA.

                                  

'n Nuwe konseptaalbeleid

’n Hersiene konseptaalbeleid vir hoër onderwys is in die Staatskoerant van 23 Februarie gepubliseer met ’n uitnodiging aan belangstellendes en belanghebbendes om skriftelik kommentaar daarop te lewer. As ’n organisie met ’n belang by die bevordering van taalregte in ’n meertalige verband, en spesifiek die bevordering van Afrikaans en die behoud daarvan as onderrigtaal, dien PEN Afrikaans skriftelike kommentaar daarop in. Sien ons kommentaar hier.
 
Die beleid is te verwelkom as ’n belangrike stap in die rigting van meertaligheid in tersiêre onderrig.
 
Theo du Plessis se gedagtes oor die beleid is hier beskikbaar. Hy sê onder andere:
 
“Die voorgestelde taalbeleid kan as ’n mylpaal beskou word omdat dit konkrete riglyne aan beleidmakers gee oor wat om te doen rakende 'n billike talebestel aan universiteite. Die onverwagse bonus is dat Afrikaans nou weer ’n leefruimte as ’n volwaardige akademiese taal aan universiteite gegun word.”

                                

Verslag oor die Kopieregallianse se beraad oor die beoogde wysigings aan die Wet op Outeursreg  

Op 24 Februarie het die Kopieregalliansie ’n beraad oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg by die Universiteit van Pretoria aangebied. Dit is vir PEN Afrikaans belangrik om lede op hoogte te hou van hierdie verwikkelinge. Dit raak skrywers en uitgewers direk.
 
Lees ’n verslag oor die dag se verrigtinge hier.
 


       Spesiale aanbod verstryk binnekort

Ons herinner julle graag dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans tot einde Maart teen ’n spesiale tarief toegang tot PharosAanlyn kan verkry.
 
Opbetaalde lede kom in aanmerking vir 15% korting op die standaard subskripsiefooi van R800. Spaar R120 en betaal slegs R680 vir ’n jaar se toegang tot die volledige PharosAanlyn-pakket: meer as 30 woordeboeke (in Afrikaans en Engels) sowel as die aanlyn-AWS.
 
Fakture vir 2018-ledegeld word in sarsies uitgestuur. Kontak ons by penafrikaans@gmail.com indien jy nog nie ’n faktuur vir ledegeld ontvang het nie, maar wel van die PharosAanlyn-aanbod gebruik wil maak.

Inhoud uit Taalgenoot se Lente 2017-uitgawe
 
PEN Afrikaans deel met die vriendelike vergunning van die Taalgenoot-redaksie artikels en resensies uit dié kwartaallikse tydskrif se Lente 2017-uitgawe. Marita van der Vyver vertel watter boeke haar as skrywer gevorm het, Alita Steenkamp meen storievertel is in die Bakkes-gesin se bloed, Izak de Vries verduidelik dat lesers deesdae doodgewone, herkenbare karakters in ontspanningsfiksie wil raaklees. Sien ook Christien Neser se artikel oor die voordele van moedertaal en meertaligheid. Hierdie is slegs ’n paar van die artikels wat gratis in PDF-formaat afgelaai kan word. Klik hier. Dit is nie elders digitaal beskikbaar nie.
 
Met soveel inhoud vir leesgieriges en nuuskieriges is dit nie verbasend dat die Suid-Afrikaanse Publikasieforum Taalgenoot as ons land se beste interne tydskrif aangewys het nie.

Artikel oor vererwing van outeursreg

“Omdat outeursreg nie fisiese eiendom is nie, word dit maklik oor die hoof gesien wanneer ’n boedel beredder word en dit lei dikwels daartoe dat die kommersialisering en afdwinging van daardie outeursreg gestaak word.” Só sê Kim Pietersen en Eben van Wyk, beide prokureurs wat in intellektuele eiendom spesialiseer by die regsfirma Spoor & Fisher.
 
Hartlike dank aan Kim en Eben vir die tweede artikel in PEN Afrikaans se artikelreeks. Dit bevat inligting oor die testamentêre beskikking van outeursreg en is hier beskikbaar.

'n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Februarie
 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Maart

Ten slotte is dit baie lekker om die lys van nuwe Afrikaanse boeke te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.
 
Die publikasielyste vir Maart kan hier in Excel-formaat afgelaai word. 
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans
 

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Maart 2018 appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Taalmonument-koorfees beloof luisterryke sang uit die boonste rakke

$
0
0

’n Opwindende musikale eerste vind op 14 April plaas wanneer die Afrikaanse Taalmonument ’n koorfees in die Amfiteater op Paarlberg aanbied. Bekende en opkomende skool- en gemeenskapskore gaan hul beste note voorsit om individueel en gesamentlik gaste met ’n wye verskeidenheid musiek te vermaak.

“Een van die doelwitte van hierdie fees is om koormusiek te bevorder,” sê Christine Bam, mede-organiseerder en self ’n mezzosopraan en stemafrigter. “Daar is geen kompetisie of beoordeling gekoppel aan hierdie geleentheid nie. Dit is ’n lekker saamsing-fees waar kore kan kom sing, die dag geniet en kan netwerk met ander kore.”

Die dag bied ook ’n geleentheid aan kore om deur middel van kaartjieverkope fondse in te samel, terwyl dit verder vir leerders, hul gesinne en die wyer publiek ’n kans gee om hul liefde vir musiek met mekaar te deel. Die 15 kore is van Frank Pietersen Musieksentrum, Hoërskool Brackenfell, Hoërskool DF Malan, Hoërskool Jan van Riebeeck, HTS Drostdy, Hoërskool Namakwaland, Junior Campus Private School, Kensington Chorale Girls, LMS La Rochelle, Paul Roos Gimnasium, Protea Heights Academy, Saxonsea Primêr, Paarl Seunsskool, Hoërskool JG Meiring en die Oos-Distrik Gemeenskapskoor. Die amptelike opening is om 18:00 waarna al die kore individueel gaan optree voordat hulle afsluit met ’n massakoorwerk "Amavolovolo", soos verwerk deur Rudolf de Beer. Die hoop is dat hierdie fees ’n jaarlikse instelling gaan word.

Kaartjies, R120 vir volwassenes en R60 vir kinders onder 12 jaar oud, kan tot 11 April by die deelnemende skole gekoop word, waarna dit by Computicket en op die dag self by die Amfiteater se hekke beskikbaar sal wees. Die hekke open om 17:00 vir die publiek en talle stalletjies sal in besoekers se spys- en drankbehoeftes voorsien. Besoekers word versoek om warm kleding te bring. Helaas word geen vure, honde, eie kos of drank toegelaat nie. Toegang word beheer en voldoende parkering is beskikbaar.

Vir verdere inligting, skakel (021) 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

 

The post Persvrystelling: Taalmonument-koorfees beloof luisterryke sang uit die boonste rakke appeared first on LitNet.

’n Onderhoud met bekroonde navorsers Aslam Fataar en Henry Fillies

$
0
0

Aslam Fataar en Henry Fillies is met ’n ATKV|SA Akademieprys bekroon vir hul artikel “Die leerpraktykvorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp” wat in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het. Aslam en Henry vertel vir Menán van Heerden van hul navorsing en wat die prys vir hulle beteken.

Aslam en Henry, hartlik geluk met die bekroning van jul akademiese artikel. Wat beteken so ’n bekroning vir julle?

Die prys is ’n erkenning van die rol van etnografiese navorsing om die dieper meganismes wat tot opvoedkundige ongelykhede lei, aan die lig te bring. Ons navorsing daag hoofstroomvoorstellings van opvoedkundige mislukking uit. Sulke opvattings word byna uitsluitlik op veralgemeende data-ingegewe kwantitatiewe voorstellings van skole en hulle gemeenskappe gebaseer. In teenstelling daarmee hou ons navorsing rekening met die diep geskiedenisse en komplekse geleefde dimensies van mense se opvoedkundige weë. Dit het vereis dat ons “diep tyd” as deelnemer-waarnemers en gemeenskapsgespreksgenote in gemeenskappe deurbring. Ons bied ons werk aan as ’n poging om die inhoud van die gesprek aan te vul en dit weg te keer van kitsoplossings na ’n verstaan van die interaksie tussen gemeenskap- en familiedinamika en die ryk en komplekse maniere waarop studente, as gemeenskapslede, lees, verstaan en by die opvoedkundige trajekte betrokke raak. Uit so ’n perspektief word hulle gesien as volledig lewende mense wat asemhaal en dink en hoë vlakke van taal, geletterdheid en ander opvoedkundige hulpbronne inspan met behulp waarvan hulle te werk gaan om lewensvatbare opvoedkundige paaie of weë daar te stel. Ons doen ’n beroep op formele instellings soos skole en universiteite om die gaping tussen die studente se ryk kennisse en leerpraktyke en hulle formele onderrig en skoolkurrikula te oorbrug. Hierdie prys is ’n erkenning van die behoefte aan navorsingsbenaderings tot die verstaan van onderwys wat fokus op die multidimensionaliteit en kompleksiteit wat nou studente se opvoedkundige weë en praktyke vorm.

Hoe pas hierdie artikel in jul oorkoepelende navorsingsfokus? 

Die artikel pas in by, en bevorder, begrip ten opsigte van die sosiologie van onderwys en onderwysbeleid. Die artikel vorm ’n baie spesifieke deel van ons navorsing oor opvoedkundige hervorming in stedelike en landelike ruimtes. Ons wil graag verstaan hoe mense aan hulle opvoedkundige praktyke kom en hierdie praktyke vestig in die lig van komplekse lewensomstandighede, en die basisse waarop dit gebeur. Die artikel gee ons ’n beter begrip van mense se opvoedkundige en kennispraktyke in hierdie omstandighede, en een kern praktiese doelwit van ons werk is om ons oortuiging te laat hoor dat daar meer boeiende materiële en intellektuele omgewings ontwikkel behoort te word waarin mense in hulle intellektuele en opvoedkundige praktyke in die rigting van die konstruksie van hulle opvoedkundige weë kan gedy.

Met probleme in die skoolstelsel soos “oorvol klasse, onvoldoende hulpbronne, en swakopgeleide onderwysers”, hoe kan potensiaal ontgin word?  

Die artikel lê klem op die ontwikkeling van diep waardering vir die intellektuele en kennisbasisse waarvolgens mense lewe en in interaksie met opvoedkundige instellings en formele leer tree. Dit beklemtoon die nodigheid daarvan om leeromgewings met behoorlike hulpbronne as ’n voorvereiste vir gehalteleer daar te stel. Verder – en dis belangrik – daag ons werk die heersende beperkte kurrikulumbenadering uit waarmee ons met mense in hulle leerprosesse in interaksie tree. Ons doen aan die hand dat mense se leerpotensiaal behoorlik ontgin en vrye teuels gegee kan word slegs indien die kurrikulum betekenisvolle intellektuele verbintenisse met mense se lewenskennisse en -identifikasies kan vorm terwyl hulle aan skoolvakke en -dissiplines bekendgestel word.

Wat is die uitdagings van die toepassing van KABV (Kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring) op plattelandse werkersklasgemeenskappe?

Ons voer aan dat terwyl die KABV nodig is vir suksesvolle skoling, dit studente se ryk en optimale leer potensieel belemmer vanweë die klem op eng voorgeskrewe inhoud. So ’n kurrikulêre oriëntasie neig om geen verbintenis met leerders se lewens te hê nie, met die gevolg dat leerders dan ryk en betekenisvolle leer vir lewensgebruik ontsê word. Ons bepleit ’n benadering tot die implementering van KABV wat ruimte vir dialoog en kritiese denke beklemtoon. Dit verg sorgsame en noukeurige voorbereiding van onderwysers via indiensopleiding en onderwyseropvoedingsprogramme meer in die algemeen. Onderwysers se inhoudskennis en pedagogiese repertoriums moet vir hierdie taak verbeter word.

Lees ook:

Die leerpraktykvorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp

Die leerpraktykvorming van plattelandse werkersklasleerders gegrond op hulle fondse van kennis

Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp

Ontsluit die fondse van kennis: Estelle Kruger gesels met Henry Fillies

The post ’n Onderhoud met bekroonde navorsers Aslam Fataar en Henry Fillies appeared first on LitNet.

Afrikaans en die Bo-Kaap

$
0
0

Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.

Menán van Heerden het foto's van die geleentheid geneem en meer oor die Kaapse Moslemgemeenskap, Arabiese Afrikaans en die historiese figure Tuan Guru en Abu Bakr Effendi nagevors in haar meningsartikel, “Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap”.

Izak de Vries het ook oor hierdie geleentheid geskryf en foto’s geneem. Hier is sy indrukke. 

  • Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850” (2012) deur Archie Dick. In hierdie artikel word meer vertel van die eerste Moslemskool, koplesboeke, imam Tuan Guru, die verspreiding van Islam, ghoemaliedjies en Arabies-Afrikaanse skrifte.

Afrikaans en die Bo-Kaap

Op Saterdag 24 Maart het ’n groot groep Afrikaanssprekendes in die Kasteel in Kaapstad byeengekom om te gesels oor die invloed van die Bo-Kaap op Afrikaans.

Danny Titus

“As-salaam-alaikum,” het Danny Titus in Arabies gegroet. Dit beteken “vrede vir julle” en is die standaardgroet in die Afrikaanse Bo-Kaap-gemeenskap en onder Moslems op die Kaapse Vlakte. Die Bo-Kaap is oorwegend Moslem en talle Kaapse Moslems praat Afrikaans én Arabies, met interessante woorde en gebruike wat vermeng.

Afrikaans het vele gesigte, sê Titus. Dit is daarom vir die ATKV belangrik om die verskillende gesigte te verstaan en aan die wêreld te wys. Dié gesprek was dus deel van ’n hele reeks waarmee die ATKV besig is om Afrikaans se diversiteit te leer ken en verstaan.

Daar was vyf sprekers. Faika Haroun het oor die moppies gesels, Doria Daniels en Gava Kassiem se gesprekke het gehandel oor vroue wat entrepreneurs is, terwyl Max du Preez en Fatima Allie meer vertel het oor die geskiedenis van die Islam en hoe die geloof ’n direkte invloed op Afrikaans gehad het.

Doria Daniels

Entrepreneurskap

Doria Daniels het die sluier gelig oor die entrepreneurskap van vroue in die Moslemgemeenskap. Sy het haar navorsing gekonsentreer op die Afrikaanse vissersgemeenskappe.

Vroue se ekonomiese bydraes tot die samelewing word dikwels misken, sê sy. Dit gebeur nog meer as daardie vrou ’n Moslem is wat ’n doek dra. Wanneer vroue wél genoem word, is dit slegs weens hulle rolle in die kombuis. Die kookkuns ís belangrik, sê Daniels, maar juis omdat dit so dikwels vroue in staat gestel het om vir hulle gesinne te sorg.

Vra die gemeenskappe waar hierdie vroue so hard gewerk het wie die broodwinner nou eintlik is, dan sal hulle een van die mans se name noem. Die werklikheid was egter dikwels anders. Die mans hét hard gewerk wanneer hulle kon uitgaan op die skuite om vis te vang, maar daar is baie maande in die jaar dat die weer dit onmoontlik maak om te gaan visvang. As ’n mens begin vra oor hoe gesinne dan oorleef het, word die vroue se rol duideliker.

Heel gou word vertel dat vis gedroog en gepekel is vir die maer maande. Vroue het ook regdeur die jaar brood gebak. Talle van hulle het ook brood verkoop vir ’n ekstra inkomste. Krap dieper, en ’n mens hoor ook van die koesisters, daltjies, samoesas, beskuit en pasteie wat verkoop is. Die ingelegde vis wat nie deur hulle self geëet is nie, is ook verkoop. Blatjang en atjar is gekook vir die maer tye; dit wat nie nodig was vir oorlewing nie, is verkoop.

Hierdie vissersvroue se kookkuns het later só bekend geword dat hulle gesog was in die restaurante en hotelle van daardie tyd, wat óók natuurlik die gesinne finansieel gehelp het.

Ander vroue het as kelners, kinderoppassers en bediendes gaan werk.

Sommige vroue, wat nie voltyds as bediendes wou werk nie, het wasgoed gaan haal by die ryk mense se huise, dit gewas en gestryk en dan weer teruggeneem. Dié vorm van deeltydse werk is partjies genoem. Let op die verafrikaansing van die Engelse woord part-time.

Talle vroue het borduurwerk gedoen om te verkoop en verskeie vroue was ook bekend daarvoor dat hulle mijang (groot blokke wierook) sou opkoop, kerf en herverkoop.

Daar is baie sulke stories, vertel Daniels. Haar navorsing toon dat vroue in werklikheid die gesin gevoed het, al is die man as die broodwinner gesien.

Gava Kassiem

Gava Kassiem het haar ervaring gedeel as ’n hedendaagse, moderne entrepreneur. Moslemvroue ervaar steeds diskriminasie by die werk, sê sy. As ’n regsvertaler wat jare se ondervinding in die parlement het, ervaar sy aan eie lyf dat haar van en haar doek maak dat sommige mense nie aan haar wil kontrakte toeken nie.

Die moppies, die slawe en die geloof

Faika Haroun het begin deur uittreksels uit die moppies te speel.

Moppies is tradisionele slaweliedere waarvan heelwat later as Afrikaanse volksliedere bekend gewoord het. ’n Goeie voorbeeld is “Daar kom die Alibama” met die bekende koortjie “Nooi, nooi die rietkooinooi”.

Die moppies is deur die slawe gesing, heel dikwels as ’n vorm van protes teenoor die eienaars wat nie altyd verstaan het wat die woorde beteken nie. Die slawe het gou Hoog-Hollands begin meng met woorde en frases uit hulle eie tale; ook het hulle sekere kodes ingebou sodat, selfs al sou die base die woorde verstaan, hulle nie sou weet wat die woorde beteken nie.

Die woord rietkooinooi is ’n mooi voorbeeld. Dit verwys na ’n baie spesiale vriendin, een met wie jy ’n kooi tussen die riete sal deel. Dit het dus ’n duidelike seksuele konnotasie.

Faika Haroun

Haroun het ook daarop gewys dat die moppies steeds aanpas en steeds vernuwe. Daar is jaarliks ’n kompetisie waartydens die beste Maleierkore aangewys word en elke jaar verskyn nuwe, aktuele weergawes van die tradisionele liedere. Tydens verlede jaar se kompetisie was daar drie moppies wat na die droogte in Kaapstad verwys het.

Hierdie liedjies is dus een van die oudste vorme van Afrikaans en pas steeds aan by ons moderne samelewing.

Max du Preez en Fatima Allie se praatjies het hierby aangesluit.

Ons sou steeds Nederlands gepraat het as dit nie vir die slawe was nie, vertel Du Preez. Die wit heersersklas het geen rede gehad om ’n ander taal te praat nie. Nederlands sou gewoon die taal van die Kaap gebly het. Die slawe, daarenteen, het Afrikaans geskep om ’n werkbare taal te vind tussen die Nederlands van hulle eienaars en diverse tale van hulle herkoms.

Vir die Moslemslawe het Afrikaans ook die taal van hulle godsdiensbelewing geword.

Allie het die gehoor teruggeneem na die sjeik Yusuf van Makassar se aankoms aan die Kaap. Yusuf was ’n koninklike en het oor ’n aantal eilande in Oos-Indië geregeer. Hy was egter erg gekant teen die manier waarop die VOC sy mense uitgebuit het en is toe deur die VOC in hegtenis geneem. Om te keer dat sy verset versprei, is Yusuf uiteindelik na die Kaap verban, waar hy ’n ruk lank in die Kasteel gebly het voor die Kaapse regering hom ’n plaas gegee het om op te woon.

Yusuf was ’n baie gelowige Moslem en sy nalatenskap in die Kaap was ’n klein, maar standhoudende vesting vir die Islam, hoewel dié geloof op daardie stadium nie amptelik erken is nie.

Die oudste geskrifte wat in Afrikaans neergepen is, kan na 1806 teruggevors word, vertel Du Preez. Dit is in ’n madrasse, ’n Moslemskool, geskep. Hierdie madrasse het ’n interessante geskiedenis, want dit is gestig deur imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, ’n prins van Indonesië wat deur die Nederlanders as ’n moeilikheidmaker gebrandmerk is en op Robbeneiland aangehou is. Daar het hy groot passasies van die Koran uit sy kop neergeskryf. Hierdie beroemde leier staan vandag in die Bo-Kaap bekend Tuan Guru, wat vertaal kan word as Meneer Onderwyser.

Max du Preez

Tuan Guru is uiteindelik toegelaat om aan die Kaap op die vasteland te kom bly. Hy het toe die heel eerste madrasse in die Kaap opgerig, al is die Islam steeds nie erken as godsdiens in die Kaap nie. Dit is in daardie skool waar Afrikaans die eerste geskryf is, foneties en in Arabiese skrif.

Die bekendste skepper van ’n vroeë Afrikaanse teks is waarskynlik sjeik Abu Bakr Effendi wat in Turkye gebore is en in 1862 in die Kaap aangekom het.

Effendi is deur die Kaapse regering versoek om die Moslemgemeenskap te kom bystaan en daarom het hy dit sy lewenstaak gemaak om ’n handleiding in Afrikaans te skryf vir die volgelinge van die Islam. Hierdie teks, getiteld Bayān al-Dīn (wat beteken ’n Verduidelik van die Geloof) het 354 bladsye beslaan. Dit is ’n Afrikaanse teks, in Arabiese skrif, en is deur die Turkse regering geborg en uitgegee.

Achmat Davids het uiteindelik hierdie tekste gelees en het hulle toeganklik gemaak deur ’n meestersgraad daaroor te skryf.

Du Preez sê hierdie gegewens is belangrik vir ons taal, want die Voortrekkers het hulle geloof in Nederlands bedryf. Teen die tyd dat die Voortrekkers uit die Kaap weg is, was die geloofstaal van die Bo-Kaap egter reeds Afrikaans.

In 1875 het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) uiteindelik Afrikaans gekaap, vertel Du Preez, want hulle wou dit toe as ’n middel aanwend om identiteit te gee aan die wit mense se stryd teen die Engelse. Die GRA het ongelukkig glad nie aandag gegee aan die grootste aantal mense wat Afrikaans gepraat het nie, want polities sou dit nie hulle stryd enigsins goed gedoen het nie.

Fatima Allie se aanbieding was veel meer persoonlik. Sy is een van daardie mense wat jy nooit in ’n boksie kan pas nie. Sy ’n ambassadeur vir Afrikaans.com, ’n kommunikasiebestuurder, kosboekskrywer en boonop ’n direksielid van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Allie se voordrag was besonders, want sy het moeite gedoen om die amptelike geskiedenis aan haar eie te koppel. Saam met die historiese feite het sy ook foto’s gedeel en ’n film uit haar kleintyd gespeel.

Fatima Allie

Sy het oor haarself gesê sy is ’n Moslem wat Arabies nie juis goed kan praat nie, maar dit lees. In haar kleintyd het mense Arabies en Afrikaans in die Bo-Kaap gepraat. Haar ouers en die ander grootmense was onbeskaamd Afrikaans. In hulle plekke van aanbidding is Arabies gehoor, maar in hulle kombuis is Afrikaans gepraat.

Alie is later na Engelse skole gestuur.

Die Engelse omgewing op skool en universiteit het gemaak dat sy ’n ruk lank haarself as Engelssprekend beskou het, maar sy het gou agtergekom dat sy haar aktivisme in Afrikaans uitleef.

Die jare van apartheid was swaar en as student was sy direk betrokke by talle boikotte en ander aksies teen die regering. “Ons het in Afrikaans geboikot,” sê sy.

Allie het uiteindelik ook begin besef hoe heg die Islam en Afrikaans met mekaar verweef is. Begin maar met sjeik Yusuf van Makassar. Neem die Moslemslawe wat nie toegelaat is om openlik hulle geloof te beoefen nie en toe sang ontdek het as ’n manier om met mekaar en met hulle God te kommunikeer.

Sy sluit toe aan by Du Preez en verwys na imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, die prins van Indonesië, en Tuan Guru se rolle om Afrikaans as skryftaal te vestig. Of wat van die bekende imam Baker wat uiteindelik die hele Koran in Afrikaans vertaal het en in Westerse skrif neergeskryf het?

Ook het Allie die skoonheid van die Bo-Kaap leer verstaan en omarm. Die Bo-Kaap het, ironies, tot stand gekom omdat die wit base nie wou bergklim na hulle huise nie, dus het die slawe daar ’n tuiste gevind. Vandag is dit van die mees gesogte eiendomme in die Kaap weens die pragtige uitsig. Dit is waarom sy vandag saam met Afrikaans ook die skoonheid van Bo-Kaap bemark, vertel sy.

René Arendse en Jacob Meiring

Quinton Adams

Om saam te eet

Ná die praatjies het almal saam geëet waarna idees uitgeruil is tydens ’n lewendige gesprek om ’n lang tafel.

Vele gesigte. Een taal.

Trots Afrikaans.

The post Afrikaans en die Bo-Kaap appeared first on LitNet.

’n Onderhoud met bekroonde navorser Helgard Raubenheimer

$
0
0

Helgard Raubenheimer van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Universiteit Stellenbosch, is met ’n ATKV|SA Akademieprys bekroon vir sy artikel “AuII: Skaars of afgeskeep? ’n Kritiese literatuuroorsig” wat in LitNet Akademies (Natuurwetenskappe) verskyn het.

Raubenheimer het ook in 2014 ’n ATKV|SA Akademieprys ontvang vir die artikel “Asikliese karbeenkomplekse maak eerste opslae in goudstormloop” wat LitNet Akademies in Desember 2012 geplaas het.

Wat beteken so ’n bekroning vir jou?

Dat iemand, êrens in Suid-Afrika, dalk gedink het die artikel is die moeite werd om te lees.

Hoe pas hierdie artikel in jou oorkoepelende navorsingsfokus in?

Dit was vir baie jare pret om op die gebied van goudchemie, een van my gunstelinggebiede, te werk en dit verder te ontwikkel. Dalk kan een of ander chemikus in Suid-Afrika van die voorstelle in die artikel opvolg.

Was dit vir jou ’n uitdaging om Afrikaanse terminologie te vind om in jou artikel te gebruik, of wat was jou ervaring om ’n artikel oor so ’n gespesialiseerde onderwerp in Afrikaans te skryf?

Dit was geen probleem nie. Alles wat gesê moes word, kon maklik in Afrikaans gedoen word.

In die akademie, en veral ook natuurwetenskappe, word daar al hoe minder Afrikaans gebruik. Dink jy dit is belangrik vir Afrikaanse studente van gespesialiseerde vakgebiede om onderrig en studiemateriaal in hul moedertaal te ontvang?

Die wêreldtaal van die natuurwetenskappe is Engels. Om as wetenskaplike internasionaal saam te praat, moet jou gekose vakgebied so gou moontlik totaal in dié taal beheers word. Die top Suid-Afrikaanse navorsingsuniversiteite doen reeds feitlik al hul chemie-opleiding in Engels. In Duitsland is sekere universiteite besig om oor te skakel na onderrig in Engels. Nederlanders publiseer uitsluitlik in dié taal. Dis nogtans geweldig jammer dat dit nou die einde van die pad is vir die beoefening van die natuurwetenskappe in Afrikaans.

Die keurders van die artikel het genoem dat die artikel in die toekoms ’n goeie verwysingsbron vir goudchemie sal wees, veral aangesien dit fokus op die voorkoms van stabiele goud(II)-verbindings – ’n minder algemene onderwerp. Is daar nog baie nuwe velde en navorsingsmoontlikhede wat in hierdie veld ontgin kan word?

Beslis. Sulke ontwikkelingsmoontlikhede lê meestal op die grensvlakke tussen die chemie en ander dissiplines soos biologie (medisinale verbindings), ingenieurswese (heterogene katalise, materiale, nanotegnologie, energie) en rekenaarwetenskap/fisika (teoretiese modellering).

Waarom het jy eintlik die twee artikels in Afrikaans geskryf?

Ten einde, terwyl die beoefening van chemie in Afrikaans uitsterf, dokumente daar te stel wat toon dat ons aan die begin van die 21ste eeu voorfrontchemie in Afrikaans kon bedryf. Dis my enigste twee publikasies in Afrikaans. Ek het net een vereiste gestel: die gehalte moet so hoog wees dat, indien in Engels geskryf, hulle aanvaarbaar sou wees vir publikasie in hoë-impak, internasionale joernale.

The post ’n Onderhoud met bekroonde navorser Helgard Raubenheimer appeared first on LitNet.

’n Onderhoud met bekroonde navorser Cilliers van den Berg

$
0
0

Cilliers, hartlik geluk met die bekroning van twee van jou akademiese artikels deur die ATKV/SAAWK:

Wat beteken so ’n bekroning vir jou?

Dit is tog altyd lekker om erkenning te kry vir werk wat in die afgeslotenheid van ’n ivoortoring gedoen word. Dit is ’n aanduiding dat die mure dalk tóg poreus is en dat iemand anders daarby stilgestaan en dit bes moontlik interessant gevind het. Hierdie spesifieke bekroning is egter spesiaal, omdat dit vir my ook oor navorsing in Afrikaans gaan. Ek is eintlik ’n Germanis en is veronderstel om my met die Duitse letterkunde besig te hou, maar Afrikaans sal altyd die taal wees waarin ek my die beste kan uitdruk. Dat goeie navorsing steeds in hierdie taal gegiet kán word, is klinkklaar, en dit is graag hiér waar ek ook ’n bydrae wil lewer. Uiteindelik gaan dit seker ook nie oor watter individue watter bekronings ontvang nie, maar eerder dat in Afrikaans gepubliseer word.

Hoe pas hierdie twee artikels in jou oorkoepelende navorsingsfokus is?

Die artikel oor Horrelpoot is ’n bietjie van ’n uitskieter wat my navorsing betref – oorspronklik wou ek ’n vergelykende studie doen van Eben Venter se werk en ’n Duitse roman wat ek voorgraads doseer. En soos wat gewoonlik gebeur, is ek verlei en afgerokkel deur die teorie en het ek besluit om meer op die aard van intertekstualiteit, wat dan mimesis sou insluit, te fokus. My navorsingsfokus tans is redelik wyd: ek hou baie daarvan om vergelykend te werk met werke of tendense uit ander letterkundes en dan spesifiek met betrekking tot die rol wat letterkunde in ’n sosiopolitieke konteks (kan?) speel. Een van die beste wyses om laasgenoemde rol te deurdink, is om te kyk wat gebeur in die drukkoker van sogenaamde Vergangenheitsbewältigung, ofte wel die omgaan met moeilike verledes. Sommige akademici noem sulke navorsing traumastudies, maar dit is uiteindelik iets veel wyer as dit, iets wat ook heeltemal interdissiplinêr is. Kollektiewe traumas (indien so iets enigsins bestaan) verteenwoordig ’n ekstreme situasie in die Sartreaanse sin van die woord, waarbinne die funksies van kuns en die letterkunde op die spits gedryf en dus bedink kan word. Maar die teoretisering van trauma is ook erg problematies, deurdat dit verskeie roetes volg, wat sosiologiese en psigoanalitiese perspektiewe insluit. Tans fokus ek op die problematiek van laasgenoemde, by name veral Jacques Lacan se teoretisering van die sogenaamde Reële. Die (morele) vraag is gewoon of trauma inherent deel is van die struktuur van talige wesens se bestaan en of dit eerder histories bepaald is. Die artikel oor “histerie” en “perversie” sluit hierby aan, deurdat dit kyk na hoe die narratief van slagofferskap ontwikkel.

Een van die keurders het genoem dat die komplekse struktuur en werkswyse wat gekies is vir die artikel oor Horrelpoot, hoë eise aan die skrywer en die leser stel om die ontwikkeling van die betoog goed te kan volhou of volg. Het die keurders sinvolle insette gelewer wat jou gehelp het om jou argument te verfyn? Gee asseblief enkele voorbeelde.

Ek moet myself altyd telkens daaraan herinner om eenvoudiger te probeer skryf. Ek het die slegte gewoonte ontwikkel om te veel te probeer sê met die woorde tot my beskikking, wat dikwels tot gevolg het dat dit gewoon te kompleks raak. Ek het baie groot waardering vir skrywers wat komplekse begrippe op ’n eenvoudige manier kan stel – dit is werklik ’n gawe en behoort absoluut nagevolg te word. Ek vind die insette van keurders gewoonlik uiters produktief, selfs al sou ek nie noodwendig met hulle menings saamstem nie. Mens kry baie gou ’n gevoel vir die moeite wat keurders doen met ’n nougesette lees van ’n artikel – en ek het ontsettende waardering daarvoor. Ek vind dikwels dat ek attent gemaak word op dinge wat ek eintlik geweet het moet verander en dit is dan goed om bevestiging daarvan te kry. Soms is dit uiters produktief om te sien waar die onduidelikheid te groot raak en waar ’n eenvoudiger stelwyse gebruik moet word. Soos wat die geval is by taalgebruik, lees mens uiteindelik oor jou eie foute wat konseptuele presisie aanbetref. Wat betref die artikel oor Horrelpoot, was dit waarskynlik die belangrikste wins wat ek uit die kommentaar gekry het.

The post ’n Onderhoud met bekroonde navorser Cilliers van den Berg appeared first on LitNet.

’n Onderhoud met bekroonde navorser Michelle Barnard

$
0
0

’n LitNet Akademies (Regte)-artikel deur Michelle Barnard is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon. Michelle vertel vir Naomi Meyer van haar navorsing en wat die prys vir haar beteken. 

Michelle, geluk met die onlangse SA Akademie-prys wat jou artikel, “Koolstofbelasting as voorgestelde ekologiese fiskalehervormingsmaatreël in Suid-Afrika”, ontvang het. Wat beteken so ’n bekroning vir jou?

Baie dankie – ek waardeer die erkenning wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan my en ander navorsers gee met hierdie toekennings. Op ’n persoonlike vlak beteken hierdie prys vir my dat navorsing oor belangrike onderwerpe groter blootstelling geniet as bloot die lesers van die tydskrifte waarin die bekroonde artikels aanvanklik gepubliseer is. Pryse soos hierdie is ook ’n aansporing vir akademici om in Afrikaans te publiseer en aan te hou publiseer.

Hoe pas hierdie artikel in jou oorkoepelende navorsingsfokus in?

My navorsing fokus op twee pertinente, maar verwante onderwerpe, naamlik klimaatsverandering en die tempering daarvan deur middel van energiesektorhervorming en fiskale beleid. Die potensiaal van hierdie twee temperingsmaatreëls word nie net op nasionale vlak beoordeel nie, maar ook op substreeksvlak (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) en kontinentale vlak (Afrika-Unie) beskou. 

In die regswese word al hoe minder Afrikaans gebruik. Was dit vir jou ’n uitdaging om Afrikaanse terminologie te vind om in jou artikel te gebruik, of wat was jou ervaring om ’n artikel in so ’n gespesialiseerde onderwerp in Afrikaans te skryf?

Beslis – dit was my eerste Afrikaanse artikel wat ek geskryf het en dit was inderdaad ’n uitdaging om tegniese terme te vertaal – ’n baie spesifieke voorbeeld is die gebruik van die woord tempering in plaas van mitigasie. Dit was vir my baie belangrik dat die artikel ’n oorspronklike bydrae tot die vakgebied moes beliggaam en moontlik die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal sou bevorder.

Klimaatsverandering is op almal se lippe as mense begin praat van droogtes in een deel van die land en oorstrominge op ’n ander plek. Dink jy dat die regswêreld ’n etiese of morele verantwoordelikheid het om sulke kwessies deur middel van strafopleggings, soos belasting, aan te spreek?

Definitief. Die tempering van klimaatsverandering moet statutêr gereguleer word en ’n komponent hiervan behoort sanksies in te sluit. Dit is ’n groot stap vorentoe dat Suid-Afrika reeds in die proses is om wetgewing oor koolstofbelasting te promulgeer, maar die feit dat geen spesifieke stuk wetgewing oor klimaatsverandering bestaan nie, bly problematies. Sonder klinkklare temperingsdoelwitte vir spesifieke sektore wat met sanksies vir nienakoming gepaard gaan, kan ek nie voorsien hoe ons land se huidige kweekhuisgasvrystellingsvlakke beduidend sal verminder nie.

Daar is ook praktiese kwessies ter sprake wanneer dit kom by gasse in die atmosfeer. Sekere fabrieke of motors of toestelle word op ’n sekere manier gebou en dit is buite die beheer van mense om die inherente aard en werking hiervan te verander. Dus kan daar seker geredeneer word: Wie moet belas word? En wat gebeur as die een wat die fabriek gebou het (ter voorbeeld) nie eens meer leef nie, en nie eens meer aandadig gehou kan word nie? Moet vandag se mense belasting betaal vir iets wat hulle dalk nie kan verander nie?

Dit is ’n baie interessante vraag en een wat verband hou met die beginsels van gemeenskaplike dog verskillende verantwoordelikhede en vermoëns. In kort behels hierdie beginsel dat die mate waartoe ’n party bydra (en in die verlede bygedra het) tot klimaatsverandering in direkte verhouding moet staan tot die mate waartoe daardie party verantwoordelik is vir tempering. As ons in ag neem dat Suid-Afrika onder die top 15 lande is op die globale kweekhuisgasvrystellingslys, staan dit nie teen twyfel dat ons op nasionale vlak ernstige stappe moet doen om ons temperingsverpligting na te kom nie. Die belasting wat gehef sal word op partye wat aktiwiteite uitvoer wat tot die vrystelling van sekere gelyste kweekhuisgasse lei, is oorwegend daarop gemik om produksie-aktiwiteite en verbruikerspatrone te wysig.

Is dit jou gevoel dat die juridiese wêreld vandag nog ’n rol kan speel om daadwerklike en praktiese veranderinge aan te bring en ’n positiewe uitwerking op die samelewing kan hê? Is daar nog voorbeelde waaraan jy kan dink van wat die regswese na jou mening kan bewerkstellig?

Met spesifieke verwysing na klimaatreg in Suid-Afrika dink ek dat die howe toenemend ’n belangrike rol gaan speel in die skep van nuwe reg deur middel van uitsprake. Ons het maar so onlangs soos 2017 die eerste litigasie rakende klimaatsverandering in Suid-Afrika gesien waarin die hof klimaatsverandering as spesifieke omgewingsaspek binne omgewingsimpakassesserings erken het. Ek is van mening dat omgewingsorganisasies hulle tot die howe gaan wend om verandering te weeg te bring wat te stadig deur wetgewing gebeur.

The post ’n Onderhoud met bekroonde navorser Michelle Barnard appeared first on LitNet.


Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewys – oproep om benoemings

$
0
0

Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi die publiek om geskikte kandidate te benoem vir hul derde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R10 000 elk, geborg deur Naspers.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936–2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

"Die eerbewyse sal toegeken word aan iemand wat sy/haar tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans toeganklik te maak vir almal, asook ’n persoon wat Afrikaans as ’n medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas.

Die wenners sal op 13 Oktober 2018 tydens die ATM se 43ste verjaardagvieringe en sy jaarlikse Neville Alexander-gesprek deur die Voorsitter van die Raad aangekondig word. Die wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld ter waarde van R10 000 ten behoewe van relevante taalprojekte. Vorige wenners was die Fakulteit Onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde.

’n Benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM voor of op 15 Junie 2018 bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 en sien www.taalmonument.co.za.

The post Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewys – oproep om benoemings appeared first on LitNet.

Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Maart 2018

$
0
0

Hier is PEN Afrikaans se oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Daar is ook skakels na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is.

Boeke24

Die volgende resensies en boekverwante artikels het gedurende Maart in die Afrikaanse dagblaaie verskyn – onder redaksie van Laetitia Pople, die nasionale kuns- en vermaakredakteur, en Jo Prins, nasionale boekeredakteur:

3 Maart
Stemme/Profiel (Murray la Vita met Valda Jansen): ‘Apartheid is my Anglo-Boereoorlog’

5 Maart
Boekeblad: Raaisel kom nie los uit die verf nie
Jean Meiring resenseer Gifbeker deur Irna van Zyl.

Boekeblad: Pragstuk gaan jou aan die hart ruk
JB Roux resenseer Hap deur Lesley Beake.

Stemme/Profiel (Willemien Brümmer): Franz Marx en sy lang trek oor onder meer sy roman Spieëlbeeld.

6 Maart
Nuus: Benoemdes vir pryse vir Christelike publikasies

7 Maart
US Woordfees: Buys se honde: Dierlik of menslik?

8 Maart
US Woordfees: Brink se joernale verklap meer as sy memoir

US Woordfees: Small voorspel vroeg oor lae in bevolking

US Woordfees: Die boek folter dikwels as spieël

12 Maart
Boekeblad: Snaakse, pynlike stories blaas jou kop oop
Charles Smith resenseer Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal.

Boekeblad: Woordstorm wat die leser nie laat los
Francois Bekker resenseer Stormkind deur Riana Scheepers.

19 Maart
Boekeblad: Toeganklike blik op storie se skarniere
Joan Hambidge resenseer Willie Burger se Die wêreld van die storie.

Boekeblad: Sensuele kopreis wat leser verras
Riaan Grobler resenseer Leon van Nierop se Katelknaap.

Boekeblad: ’n Heerlike storiesak vol woorddoepa vir die lekkerkry
Erika de Beer resenseer Die lang man sonder skaduwee deur Antoinette Pienaar

KKNK-vooraf vir Nuus/Kuns: 23 gesprekke met skrywers

21 Maart
Nuus/Kuns: Briewe van Steenberg in Bloem bekendgestel

26 Maart
Boekeblad: Dapper, nodige boek vir ons tyd
JB Roux resenseer Katrienkie deur Cara Blake

Boekeblad: Poësie vir almal van 10 tot in die 80
Cornelia de Kock resenseer Vandag is ek ’n windlawaai deur Philip de Vos & Piet Grobler

Boekeblad: Prof. Piet ’n reus op wie se skouers historici kan staan
Francois Verster resenseer Meer oor PJ van der Merwe & Berigte uit die Dorsland. Margaretha Schäfer (samest.)

Nuus/Kunsblad: Winterbach wen Groot Afrikaanse Roman-wedstryd

Nuus/Kuns: Benoemdes vir UJ-pryse bekend

27 Maart
Stemme/Profiel (Jo Prins met wenner van Woordfees se kortverhaalbundel)
Clari van Clubview skryf ’n kortverhaal

31 Maart
Nuus: Skrywer SJ Naudé wen nóg ’n UJ-prys

Die Groot Ontbyt

Willie Burger het in Maart die volgende boeke op kykNET se ontbyt-TV-program bespreek:

6 Maart

  • Buys deur Willem Anker, as deel van ’n gesprek oor geweld in letterkunde. 

13 Maart

  • Parool / Parole deur Breyten Breytenbach

20 Maart

Die plaasroman is in hierdie aflewering die fokuspunt, met verwysing na:

  • Laat vrugte en Somer deur C.M. van den Heever
  • Die Ampie-reeksdeur Jochem van Bruggen
  • Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux
  • Na die geliefde land deur Karel Schoeman
  • Toorberg deur Etienne van Heerden
  • Agaat deur Marlene van Niekerk

27 Maart

  • Don Quixote deur Miguel de Cervantes

LitNet

Die volgende Afrikaanse resensies en skrywersonderhoude het in Maart op LitNet verskyn:

16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden: ’n resensie

Elbie Adendorff
Resensies
2018-03-26

"16 dinge wat ek nié moes sê nie is eerlik en stel die mens Rian van Heerden aan die leser bekend."

Kalmte in die malle gejaag deur Johannes Bertus de Villiers

Klasie Wessels
Resensies
2018-03-22

"Wat ’n aangename verrassing om oor mindfulness in Afrikaans te lees! Johannes het ’n stukkie baanbrekerswerk verrig en daarin geslaag om hierdie misterieuse tema meer toeganklik te maak vir Afrikaanse lesers."

Enemy of the people deur Adriaan Basson en Pieter du Toit: ’n resensie

Piet Croucamp
Resensies
2018-03-22

"Hierdie boek deur Basson en Du Toit is ’n uiters belangrike dokument. Dalk selfs uiteindelik ’n historiese dokument. Maar die werklike waarde van die boek is dat dit ’n sosiaal-politieke verskynsel verteenwoordig van ’n samelewing wat ’n weerstand opbou teen die tipe vergrype wat die demokratiese proses ondermyn."

Stormkind deur Riana Scheepers: ’n resensie

Elbie Adendorff
Resensies
2018-03-22

"Die taalgebruik is so beeldend dat mens as leser die gebeure sintuiglik beleef: jy hoor en voel die wind wat verwoed waai; jy hoor en sien die weerligblitse; jy sien vir Tarsis wat ronddwaal in die nag; en jy sien vir Raka in Ierland. Die leser word magies ingesleep in die wonderwêreld wat Scheepers skep."

Vroue van Atlantis saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason: ’n lesersindruk

Irene van Staden
LAPA Uitgewersportaal
2018-03-20

"Alhoewel elke vrou haar eie soort voorbeeld vir die gemeenskap is, het al twaalf van hulle die brandende begeerte om hoop terug in die gemeenskap van Atlantis te ploeg. ’n Gemeenskap waaraan hulle geheg is."

Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

Maryke Roberts
Resensies
2018-03-19

"Dis nie ’n boek vol lewenslesse en -waarhede nie. Dis inderdáád loslit humor op sy beste – lees dit in daardie gees. Genade, ons het nodig om oor lawwighede te kan lag."

FMR-resensie: Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

Danie Botha
Resensies
2018-03-19

"Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg is die komiese én lewensgetroue roman oor die bejaarde Hans van Kraaienburg."

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden: ’n lesersindruk

Louise Viljoen
Lesersindrukke
2018-03-19

"Soos ek deur Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie gelees het, het ek besef dat hy, weliswaar orator van formaat, ook maar net ’n gewone mens is wat soms worstel met homself, met ander en met die ou lewe."

Die ou vrou en die priester deur Cecile Cilliers: ’n resensie

Martie Retief-Meiring
Resensies
2018-03-14

"Veel gewag word gemaak van die sg ouderdom in Cilliers se versameling. Immers het sy dit op 84 geskryf. Maar dis ’n fout om verhale van verweer, verdriet, verslaenheid – kenmerke van die ouderdom – te verwag. Daarvoor is Cilliers te veel van ’n woordskilder, ’n eerlike ondersoeker na die twyfel, woede, oneerlikheid van ’n bestaan."

Vital remains deur Amos van der Merwe: ’n resensiebespreking

Lina Spies
Resensies
2018-03-13

"Sonder geringskatting van die probleme van die kind Randall as asmalyer en dat hy noodwendig ook in armoede moes grootword, is dit onteenseglik waar dat hy, anders as sy broer, eers laat in sy gelukkige lewe as bekende en gewilde sanger met ’n identiteitskrisis gekonfronteer is. By Winston het dit begin by die klein seuntjie agter die klerekas."

Brand deur Peet Venter: ’n resensie

Daleen Venter
Resensies
2018-03-05

"In die jongste aflewering van die Thys Krige-sage skets Peet Venter ’n ontstellende prentjie van regeringskorrupsie en -komplotte wat gans té bekend lyk ..."

Van kant gemaak deur Kris van Steenberge: ’n resensie

Wium van Zyl
Resensies
2018-03-05

"Van kant gemaak is ’n boeiende roman wat ek hartlik in ons taal verwelkom."

Somer deur Jaco Fouché: ’n onderhoud

Jaco Fouché, Naomi Meyer
Skrywersonderhoude
2018-03-28

"Dis ’n volwasse seisoen en terselfdertyd verkneukel jongmense hulle daarin – al die ure in die water; warm, laat aande met braai en die wyn wat hulle ontdek kort voor hulle moet gaan studeer of werk. Dis vir my ’n tyd wat hartseer voorafgaan."

Verhoudings onder druk: ’n onderhoud met Ronel du Toit

Ronel du Toit, Naomi Meyer
Skrywersonderhoude
2018-03-19

"Daar is bepaalde beginsels, veranderlikes of rigtingwysers wat vir alle verhoudings geld. Elkeen van hierdie 13 beginsels word in die boek verduidelik en in daaglikse situasies toegepas. Deur van die volgende beginsels bewus te raak kan jy meer voorbereid op die reis na volhoubare verhoudings wees."

US Woordfees 2018: Nederlandse skrywer Ray Kluun

Menán van Heerden, Naomi Meyer, Ray Kluun
US Woordfees
2018-03-01

"Ik hou van toneel en muziek, vooral rap en hiphop, ben fan van Die Antwoord en Cooler as ekke van Jack Parow is een van mijn favorieten."

US Woordfees 2018: Vlaamse skrywer Tom Lanoye

Menán van Heerden, Naomi Meyer, Tom Lanoye
US Woordfees
2018-03-01

"Alles wat ek skryf, moet ook lekker klink as jy dit hardop sê; en my romans het strukture en build-ups wat aan tipiese teatertegnieke refereer."

US Woordfees 2018: ’n Onderhoud oor Kalmte in die malle gejaag

Naomi Meyer, Johannes Bertus de Villiers
Skrywersonderhoude
2018-03-01

"Mense maak dikwels die aanname dat jy 'kalmte' en bewustelikheid net kan ontgin as jy met ’n vreedsame uitdrukking op jou gesig rondsit - verkieslik op ’n strand of in ’n groen woud, soos ’n sjampoe-advertensie. Maar bitter min van ons gaan onsself ooit in sulke omstandighede bevind ... ’n Veel nuttiger kuns is om iets van kalmte en tevredenheid in jou alledaagse, holderstebolder lewe te kan beoefen."

Rapport

Die volgende resensies het gedurende Maart in Rapport, onder redaksie van Johan van Zyl, verskyn:

4 Maart

Onderhoud: Helen Moffett en Alexandra Fuller

Resensie: Jean Meiring resenseer Stormkind deur Riana Scheepers

Resensie: Marian van Wyk oor Spieëlbeeld deur Franz Marx

11 Maart

Resensie: Louise Viljoen resenseer Die ou vrou en die priester deur Cecile Cilliers

Resensie: Annelise Erasmus oor Katelknaap deur Leon van Nierop

Resensie: Herman Lategan bespreek Win! Compelling Conversations with 20 Successful South Africans deur Jeremy Maggs

Resensie: Kay Karriem resenseer Vroue van Atlantis: 12 verhale van inspirasie (saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason)

Resensie: Loftus Marais bespreek Winter deur Ali Smith

18 Maart

Artikel: JB Roux belig die volwasse temas in hedendaagse jeugfiksie

Resensie: Erika Gibson resenseer Blood Money: Stories of an ex-Recce’s Missions as a Private Military Contractor in Iraq deur Johan Raath

Resensie: Joan Hambidge oor The 7th Function of Language deur Lauren Binet

Nuusbrok: Jacques Pauw se eerste boeke kry ’n tweede lewe

25 Maart

Resensie: Valda Jansen resenseer Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal

Resensie: Deborah Steinmair bespreek twee Nederlandse romans: Bonita Avenue (Peter Buwalda, vertaal deur Zandra Bezuidenhout) en Van kant gemaak (Kris van Steenberge, vertaal deur Fanie Olivier)

Resensie: Johan van Zyl oor Rian: 16 Dinge wat ek nié moes sê nie

Nuusbrok en Nuut op die mark: Oor NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse romanwedstryd en die selfhelpboek The Asshole Survival Guide

Maroela Media

Die volgende resensies het gedurende Maart op Maroela Media, onder redaksie van Suné van Heerden, verskyn:

16 Maart 
Louise Viljoen resenseer Slym se stories (4 in 1) deur Fanie Viljoen
Dis prettige, skoon stories wat die jong lesers se verbeelding aangryp en hulle anders laat kyk na wurms, paddas en ander goggas. Skaf gerus hierdie oulike omnibus aan – dit sal sorg vir ure se leesgenot!

20 Maart
Johan Myburg resenseer Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden
Dit is ’n verhaal wat die leser bewus maak van die verskillende maniere waarop ’n mens na die wêreld kan kyk, dit is ’n verhaal van hartstog en moord, een van ontdekking en aanvaarding.

29 Maart
Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) deur André le Roux
Hierdie is een van daardie boeke wat mans én vroue ewe veel sal geniet. Mens lees die kort stukkies proe-proe terwyl jou tone omkrul van pure lekkerkry omdat jy jouself of jou wederhelf daarin herken, skryf Louise Viljoen.

Skrywers en boeke (RSG)

Potgooie van die volgende boekgesprekke, wat gedurende Maart op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:
http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=270

Woensdag 7 Maart

Regstreeks vanaf die Woordfees: Antoinette Pienaar, Schalk Schoombie, Julian Jansen, Irna van Zyl en Leon van Nierop gesels oor hulle reis met hulle boeke wat handel oor alles van regte moorde tot die helende krag van die natuur en ingewikkelde liefdesverhoudings.

Woensdag 14 Maart

Jan Vermeulen, bekroonde jeugromanskrywer, se eerste spanningsroman vir volwassenes het pas verskyn. Ilse Salzwedel gesels met hom oor Die vyfde Aspoester. In ’n kykie na interessante Suid-Afrikaanse nie-fiksie, gesels Ilse met Pieter-Louis Myburgh oor The Republic of Gupta, sy boek wat staatskaping blootgelê het. Hulle gesels onder meer oor die navorsing wat so ’n boek vereis. In sy bydrae oor die internasionale letterkunde, gesels Johan Myburg onder meer oor PEN Amerika se letterkundepryse.

Woensdag 21 Maart

Ilse Salzwedel gesels met Cas Wepener oor sy roman Johanna. Daniël Hugo, samesteller van die KKNK se boekeprogram, vertel waarna feesgangers kan uitsien. En Johan Myburg gesels in sy internasionale insetsel oor onder andere die langlys van die Man Booker-prys.

Woensdag 28 Maart

Corina van der Spoel gesels met Willie Burger oor sy nuwe boek Die wêreld van die storie. Ilse Salzwedel gesels met Karen de Wet oor die kortlyste van die UJ-pryse wat pas bekendgemaak is. Johan Myburg deel interessanthede uit die internasionale boekewêreld, onder meer ’n gesprek deur die Skotse skrywer Phillip Kerr, wat verlede week oorlede is.

Vers en klank (RSG)

Potgooie van die poësievoorlesings, wat gedurende Maart op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:
http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=102

Dinsdag 6 Maart
Chris van Niekerk lees ’n verskeidenheid gedigte wat hom diep geraak het.

Dinsdag 13 Maart
Daniël Hugo lees gedigte voor uit sy nuwe bundel, openbare domein.

Dinsdag 20 Maart
Chris van Niekerk lees ’n verskeidenheid gedigte voor.

Dinsdag 27 Maart
Margot Luyt maak ’n potpourrie van gedigte.

Vrydag 30 Maart
’n Spesiale uitsending: gedigte vir Paasfees

Versindaba

Op hierdie webblad wat gewy word aan die Afrikaanse digkuns en gesprek rondom die poësie, vind besoekers al die mees onlangse resensies en onderhoude in die regterkantste kiesbalk. In dié kiesbalk is ook skakels na nuwe gedigte en blogs oor die poësie.

Die volgende onderhoude is in Maart geplaas:

Daniel Hugo in gesprek met Gisela Ullyatt oor sy nuwe digbundel Openbare domein

Pieter Fourie gesels met René Bohnen oor sy nuwe digbundel Bidsnoer

Koos Kombuis praat met René Bohnen oor sy nuwe bundel Vandag wil ek my blou skoene dra

Vrouekeur

 

Willie Burger het gedurende Maart die volgende resensies en rubrieke gelewer: 

2 Maart
Ken jou storie: Deel 4 van ’n ondersoek na literêre kritiek

17 Maart
’n Bespreking van ’n reeks huldigingsboeke oor Hertzogpryswenners – hierdie week is Adam Small die fokus.

24 Maart
Oor Marlene van Niekerk se digbundels: In die stille agterkamer en Gesant van die mispels

30 Maart
’n Bespreking van die fantasiegenre met verwysing na Die bergengel deur Carina Stander

Woorde wat weeg

Joan Hambidge se blog, Woorde wat weeg, is ’n webtuiste waar dié digter-literator sowel gedigte as boekbesprekings, rubrieke en gedagtes rondom die letterkunde versamel en aanbied:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/

Skakels na boekbesprekings vir haar blog asook verskillende publikasies vind besoekers aan dié webblad in die kiesbalk regs van blog-inskrywings.

The post Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Maart 2018 appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: April 2018

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
Feeste berig oor sukses
 
Dit gaan feestelik in die Afrikaanse kunstewêreld en skrywers lewer ’n sentrale bydrae daartoe.  
 
Met meer as 50 feesdebute, 500 produksies en 1 500 aanbiedings was die 2018 US Woordfees ’n reus van ’n fees. Die fees het 10% meer kaartjies as in 2017 verkoop en na skatting was daar vanjaar ten minste 60 000 feesgangers.

Die filmfees en die Sanlam Musiekfees se buitelugkonserte in die Jan Marais Natuurreservaat was veral gewild onder die jonger garde, terwyl verskeie toneelstukke oud en jonk na die teater gelok het. Wat boekgesprekke betref, was Pauli van Wyk se gesprek met Jacques Pauw oor The President’s Keepers seker die gewildste boekbespreking in die geskiedenis van die Woordfees met mense wat tou gestaan het tot in Victoriastraat.
 
Die KKNK se boekprogram, saamgestel deur Daniel Hugo, is een van vele fasette van dié feesprogram wat groot aftrek gekry het. Feesgangers kon gratis luister na praatjies oor nuwe fiksie- en niefiksie-titels. Die ATKV-boekoase en Netwerk24-feeskafee se sentrale ligging het daartoe bygedra dat menigte feesgangers daar vertoef het vir lafenis in meer as een sin van die woord.

 

Die Suidoosterfees vind van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad plaas. ’n Doelwit van dié fees is om ’n program saam te stel wat bekostigbaar en toeganklik is vir mense wat nie gewoonlik teater bywoon nie. Gesprekke, visuele kuns, musiek, toneel en woordkuns: daar is ’n wye verskeidenheid aanbiedings en produksies op die program. Belangstellendes moet opskud vir kaartjies; verskeie produksies is al uitverkoop. Die program is hier beskikbaar.  
 
 
Afrikaans, Nederlands en die Vertaalengel 2018  
 
Die Vertaalengel-toekenning vir 2018, ’n prys van die werkgroep Literair Vertalers, is verlede maand aan Ingrid Glorie toegeken. Die Vertaalengel is ’n prys vir iemand wat hom- of haarself verdienstelik gemaak het vir die beroep van vertaler. Dit is moeilik om aan ’n meer waardige ontvanger te dink. Ingrid Glorie vertaal nie net self uit Afrikaans na Nederlands nie, maar fasiliteer ’n groter belangstelling in Afrikaanse letterkunde en die vertaalkuns daaromheen deur inisiatiewe soos Die week van die Afrikaanse roman.
 
Aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds dui op die aktiewe belangstelling in Afrikaanse letterkunde op Nederlandse bodem. Drie Nederlandse vertalings van Afrikaanse boeke het voortgevloei uit die eerste befondsingsaansoeke. Die volgende sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Mei 2018.
 
Ook Nederlandse boeke verskyn gereeld in Afrikaanse vertaling.
 
In ’n onderhoud op Voertaal meen Breyten Breytenbach: “die werklike dialoog tussen Nederlands en Afrikaans as anderselwige gelykes begin nou eers.” Hy vertel aan Willem de Vries van sy ervaring van ’n Nederland gerig op groter verruiming en bevryding en hoedat “Afrikaanse-Suid-Afrikaanse-Afrikane se inherente rykdom bestaan in die feit dat ons inheemsheid kom deur ons vermenging”.
 
Die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands verstewig en verdiep. Daar is veel te baat uit dié wisselwerking.
 
Benoemings ingewag: Neville Alexander-prestige-eerbewyse

Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi die publiek om geskikte kandidate te benoem vir hul derde Neville Alexander-prestige-eerbewyse.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936-2012) was ʼn bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

ʼn Benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM voor of op 15 Junie 2018 bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 en sien www.taalmonument.co.za.
 

Jolyn Phillips en SJ Naudé wen UJ-pryse
 
Die UJ-debuutprys is aan Jolyn Phillips toegeken vir haar digbundel Radbraak. SJ Naudé is die wenner van die UJ-prys vir sy roman Die derde spoel.
 
Baie geluk aan albei!
 
Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë toegeken vir uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Beide die pryse word sonder inagneming van genre toegeken. 
 
NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018
 
Die wenners van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018, die omvangrykste romanwedstryd in die land met die grootste beloning vir skrywers, is onlangs aangekondig.
 
In die kategorie vir gepubliseerde skrywers, het Ingrid Winterbach eerste prys ontvang vir Die troebel tyd. Jaco Fouché het met Die aanspreeklikheid die tweede prys losgeslaan en Debbie Loots het die derde prys ontvang vir Die boek van gelukkige eindes.
 
Die wenner in die debuutkategorie is Gerhard Greyvensteyn met Die Seepunt-insident.
 
Hartlik geluk aan die wenners. Ons sien uit na jul boeke.
 
Die Bo-Kaap en Afrikaans
 
Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.
 
Lees meer hier.
 
Wat elke skrywer moet weet: skrywerskontrakte

 
In die volgende aflewering van ons ‘Wat elke skrywer moet weet’-artikelreeks kyk ons na skrywerskontrakte. In dié artikel sal ’n paar dinge uitgesonder word waarop skrywers veral moet let wanneer hulle ’n kontrak met ’n uitgewer sluit. Hou ons LitNet-portaal en sosiale media platforms dop. Ons sal die artikel deel wanneer dit beskikbaar is.
 
’n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Maart

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in April
 
Dit is ’n plesier om ten slotte ’n lys van nuwe Afrikaanse boeke te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.
 
Die publikasielyste vir April kan hier in Excel-formaat afgelaai word. 
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: April 2018 appeared first on LitNet.

SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: 2018 se pryswenners bekend

$
0
0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op die volgende bekronings vir 2018 besluit. Die pryse sal na keuse van die bekroondes tydens bekroningsplegtighede, onderskeidelik in Pretoria (18 Julie) en Stellenbosch (21 September) oorhandig word. Die bekroondes is waar moontlik reeds mondeling oor die bekronings ingelig.

HERTZOGPRYS VIR DRAMA

Die Hertzogprys word op Sondag 15 April 2018 in Rapport bekend­gemaak.

*Nota: Die prys is toegeken aan Pieter-Dirk Uys vir Stukke teater, met inagneming van sy hele oeuvre.

EUGèNE MARAISPRYS

Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir 'n eerste of tweede bellettristiese werk of werke van 'n skrywer in enige genre en kan net een keer aan 'n skrywer toegeken word.

Die prys word toegeken aan SJ (Fanie) Naudé vir Die derde spoel.

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur Rapport.

TIENIE HOLLOWAYMEDALJE VIR KLEUTERLITERATUUR

Die medalje is driejaarliks beskikbaar en word toegeken aan die skrywer wat die beste werk in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur.

Die prys word toegeken aan Jaco Jacobs vir Grom. Die illustreerder van die boek is Lilje Karsen.

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur die ATKV.

ELSABE STEENBERGPRYS VIR VERTAALDE KINDER-EN JEUGLITERA­TUUR IN AFRIKAANS

Dit is vir die doel van die prys geoorloof om uit enige taal werke in Afrikaans te vertaal. Hierdie werke word gemik op lesers in die ouderdomsgroep 5 tot 12 jaar (kinderliteratuur) en tieners en jong volwassenes (jeugliteratuur). By die beoor­deling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie letterkunde geniet en op die juistheid, oorspronklikheid en gehalte van die vertaling.

Die prys word toegeken aan Kobus Geldenhuys vir Kewerknaap.

CL ENGELBRECHTPRYS VIR LETTERKUNDE

Die prys word vanjaar toegeken vir Afrikaanse letterkunde.

Die prys word toegeken aan Marlene van Niekerk vir Kaar.

MT STEYNPRYS VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE

Die MT Steynprys word op Sondag 15 April 2018 in Rapport bekend­gemaak.

*Nota: Die prys is toegeken aan Mike Wingfield van die Universiteit van Pretoria.

HAVENGAPRYS VIR LEWENSWETENSKAPPE

Die Havengaprys is 'n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied. Die prys kan net een maal aan 'n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan WH (Emile) van Zyl verbonde aan die Departement Mikrobiologie, Universiteit van Stellenbosch.

Prof Van Zyl se oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike gebied word weerspieël in sy navorsingsuitnemendheid en mededingendheid, sy impak op die vakdissipline en die akademiese vakkundigheid wat hy vertoon. Vir reeds meer as 'n dekade beywer prof Van Zyl hom onverpoos vir die gebruik van omgewings­vriendelike alternatiewe vir fossielbrandstowwe.

HAVENGAPRYS VIR FISIESE WETENSKAPPE (CHEMIE)

Die prys word toegeken aan BM (Barend) Herbst, Emeritus Professor in Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die prys word aan prof Herbst toegeken vir sy akademiese loopbaan wat strek oor veertig jaar en wat gekenmerk is deur navorsingsuitsette van die hoogste gehalte en dienslewering op verskeie vlakke. Twee van sy dienstake staan uit: Vir meer as vyftien jaar was prof Herbst betrokke by die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade, spesifiek met die opstel en kwaliteitskontrole van die Senior Kompetisie se eerste en tweede ronde vraestelle. Hy was ook die SA Akademie se verteenwoordiger by die Olimpiade-komitee. Die tweede aktiwiteit wat uitstaan is sy betrokkenheid by SANUM, die Suid-Afrikaanse Simposium vir Numeriese en Toegepaste Wiskunde.

STALSPRYS VIR KOMMUNIKASIEKUNDE EN JOERNALISTIEK

Die prys word toegeken aan Herman Wasserman, hoogleraar in media-studies aan die Universiteit van Kaapstad en Direkteur van die Sentrum vir Film-en Mediastudies.

Prof Wasserman se navorsingsbydrae op nasionale en internasionale vlak is omvattend. Sy werk op veral twee terreine is invloedryk, naamlik eerstens die studie van globale joernalistiek oor onder meer die ontwikkelende verhouding tussen China en Afrika binne 'n verskuiwende geopolitieke konteks en spesifiek Suid-Afrika se rol in hierdie verband. Tweedens is prof Wasserman op die terrein globale media-etiek een van die sameroepers van die internasionale Globale Media-Etiek-Rondetafels wat kwessies rondom media-etiek in 'n globaliseerde samelewing ondersoek en daaroor publiseer. Prof Wasserman word gesien as dié voorste Afrikaanssprekende navorser op die terrein van die joernalistiek en mediastudies ter wêreld.

STALSPRYS VIR SIELKUNDE

Die prys word toegeken aan LM (Linda) Richter, Buitengewone Professor aan die Universiteit van die Witwatersrand en Direkteur van die Departement Wetenskap en Tegnologie en Nasionale Navorsingstigting (NRF) se sentrum vir Uitnemendheid in Menslike ontwikkeling.

Die prys word toegeken aan prof Richter vir haar lewenslange uitsonderlike bydrae tot navorsing gefokus op veral menslike ontwikkeling en die bevordering van kinder-, adolessente-en gesinsgesondheid en -welsyn in Suider-Afrika en baie ander wêrelddele. Haar navorsingsbevindings het sy nasionaal en internasionaal deurgevoer tot op beleidsvlak. Prof Richter is 'n navorsingsgenoot in die Depar­tement van Psigiatrie van Oxford Universiteit (UK), 'n geaffilieerde by die Fakulteit van die Wêreldsentrum by die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles en 'n raadgewer in vroeë kinderontwikkeling vir die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) in Genève.

EREPENNING VIR DIE BEVORDERING VAN ROLPRENTKUNS

Die prys word toegeken aan Leon van Nierop, een van Suid-Afrika se bekendste rolprentresensente.

Mnr Van Nierop se boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf, Daar doer in die Fliek, is die room van sy kuratorskap van die fliekkultuur in Suid-Afrika en 'n monument vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf. Dit is 'n boek wat die leser inlei in 'n kulturele sfeer wat in Paul Kruger se dae ontstaan het en vandag nog gedy. Te midde van 'n bedryf wat hoofsaaklik steun op fiksie en illusie, slaag Leon van Nierop daarin om nugter en so objektief moontlik te bly. Die klem bly deurgaans op korrekte feite sonder om die kleur van 'n eie opinie te oorskadu. Sy styl is lesersvriendelik en tog bly hy getrou aan die genre van geskiedskrywing. Die waarde van hierdie werk lê in sy oorsigtelike deeglikheid, onderskraag deur baie aandag aan kleiner detail. Mnr Van Nierop se periodisering in dekades is 'n nuttige raamwerk; dit gee 'n kleiner konteks binne die groot raam, wat baie help om die tekortkominge van die rolprente en die vermaaklikheidswaarde daarvan te begryp.

Leon van Nierop was vier jaar lank spesiale professor in film, asook hoof van die Filmskool by die TUT. Hy het film vir 20 jaar by verskeie universiteite doseer en het twee boeke oor rolprent-waardering geskryf. Sy draaiboek vir Wolwedans in die skemer is verfilm en Ballade vir 'n Enkeling het die Tempo-toekenning as beste rolprent van die jaar ontvang. Sy jongste draaiboek, Verklikker, word in 2018 verfilm. Hy is tans ook in onderhandelinge om die volgende episodes te verfilm vir die kykNET-reeks Daar doer in die fliek.

HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK

Die veld van toekenning dek die klassieke musiek. Die prys word vanjaar toegeken aan 'n opleier/onderwyser van klassieke musiek.

Die prys word toegeken aan Peter Guy van Bloemfontein.

Peter Guy is 'n Amerikaans-gebore dubbelbas speler wat hom in 1985 in Suid-Afrika gevestig het. Sedert 1991 is hy senior lektor aan die Vrystaat Musikon en het ook voortgegaan om saam met die Vrystaatse Simfonieorkes op te tree. Onder sy inisiatief is die Snaarinstrument Ontwikkelingsprogram in 1998 deur die Vrystaat Musikon geïnisieer. Onder sy direkteurskap is die Bochabela String Orchestra en die Mangaung String Programme sedertdien uitgebou tot kroonjuwele van musiek­opleiding vir voorheen benadeelde musikante. Die nasionale en internasionale beeld van klassieke musiek in Suid-Afrika en dié van musikante in die Suid-Afrikaanse klassieke musiekwêreld is drasties uitgebou en getransformeer deur Peter Guy se visie vir klassieke musiekopleiding vir almal. Sy absolute toewyding aan die opleidingsprogramme en sedertdien stigting van orkeste word nasionaal en internasionaal as van uitstaande artistieke meriete gereken.

Die prysgeld word deur die Rupert Stigting geborg.

DELEEN BEKKERPRYS VIR DIE BESTE ROLPRENTDRAAIBOEK IN AFRIKAANS

Die prys word toegeken aan Christiaan Olwagen 'n rolprentregisseur vir sy rolprentdraaiboek Johnny is nie dood nie.

Die film is binne die huidige sosio-politieke bestel van soveel betekenis as wat Die kandidaat van Jans Rautenbach in die verlede was. Die film is 'n veelvlakkige en genuanseerde refleksie deur Olwagen oor die impak wat die Voëlvrybeweging en veral Johannes Kerkorrel destyds op hul denkwyses as student en nou binne 'n nuwe tydsgewrig as volwasse groep vriende aan eie lyf voel. Die sterk rolverdeling lewer ensemblespel uit die boonste rakke. Christiaan Olwagen se film-debuut met Johnny is nie dood nie kan beskou word as 'n historiese en artistieke mylpaal binne die Afrikaanse film-kanon.

Die prysgeld word geborg uit die Deleen Bekkerprys Trustfonds.

MARKUS VILJOENMEDALJE VIR JOERNALISTIEKE PRESTASIE

Die Markus Viljoenmedalje vir joernalistieke prestasie word toegeken vir langdurige hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante of tydskrifte.

Die prys word toegeken aan die joernalis Martie Retief Meiring.

Martie Rietief Meiring is een van dié rubriekskrywers wie se werk gereeld in gespekke opduik en kan gereken word in dieselfde uitnemende liga as dié van Rykie van Reenen, 'n Afrikaanse rubriekskrywer uit 'n vorige geslag wie se werk ook die onderwerp van tafelgesprekke was. Martie was nie net 'n joernalis wat waargeneem het nie, maar sy het ook 'n invloed uitgeoefen op dinge rondom haar. Terwyl sy aktief joernalis oor nuus van die dag was, het sy ook haar eie unieke stem, styl en register geslyp as rubriekskrywer van formaat ‒ só dat sy vandag sonder vrees van teëspraak die natuurlike opvolger van die legendariese Rykie van Reenen genoem kan word. Haar oeuvre van rubrieke is gekenmerk met hul satire, die snykant-waarneming, en soms suiwer patos. As joernalis, rubriekskrywer en denkleier het sy 'n beduidende invloed op die ontwikkeling van denke oor dekades onder Suid-Afrikaners gehad. Hierdie uitnemende meester van die joernalistieke professie verdien by uitstek die SA Akademie se Markus Viljoenmedalje.

CJ LANGENHOVENPRYS VIR TAALWETENSKAP

Die prys word toegeken vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van leksikografie.

Die prys word vanjaar toegeken aan MCJ (Christo) van Rensburg, Emeritus Professor aan die Universiteit van Pretoria. Hy was by sy aftrede Direkteur van die Eenheid vir die Ontwikkeling van Taalvaardigheid. Tans is hy navorsings­genoot aan die NWU, waar hy sy navorsing oor Afrikaans voortsit.

Prof Van Rensburg is veral in taalwetenskapkringe bekend vir die werk wat hy gedoen het om Afrikaans se variëteite te identifiseer, op te teken en te ontleed, en om die plek van hierdie variëteite in die Afrikaanse taalwêreld te integreer. Hy het oor 'n lang tydperk en standhoudend sy belangstelling in Afrikaans in sy wydheid en rykdom, in die akademiese begronding en die internasionalisering van die Afrikaanse taalkunde, en in die terugploeg van sy kundigheid en kennis in die Afrikaanse taalkundelandskap bewys.

TOON VAN DEN HEEVERPRYS VIR REGSWETENSKAP

Die prys kan driejaarliks toegeken word vir: Oorspronklike regskundige werke in Afrikaans; en/of vollengte artikels of 'n artikel van hoogstaande gehalte in Afrikaans wat in geakkrediteerde regstydskrifte verskyn het; en/of baanbrekende regsuit­sprake in Afrikaans.

Die prys is toegeken aan Leonie Stander van die Noordwes-Universiteit.

Prof Stander publiseer hoogstaande vollengte navorsingsartikels op verskillende terreine binne die regswetenskap.

FARMOVS-PRYS VIR FARMAKOLOGIE EN GENEESMIDDELONTWIKKELING

Die prys word toegeken vir voortreflike bydraes tot 'n vertakking of vertakkings van farmakologie en geneesmiddelontwikkeling.

Die prys word vanjaar toegeken aan CB (Tiaan) Brink, verbonde aan die Skool vir Farmasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

Prof Tiaan Brink het nie alleen uitstaande bydraes op die terrein van Farmakologie op nasionale terrein gemaak nie, maar geniet ook wye aansien op die kontinent en internasionaal as farmakoloog. Prof Brink beskik oor 'n besondere talent om innoverend en nuut te dink. As sodanig was hy ook die programleier van die Web­gebaseerde Honneurs BSc-graad in Farmakologie wat vir bykans 20 jaar op 'n afstandonderrigmodel aangebied is. Vir sy bydraes op onderriggebied ontvang hy nie slegs institusioneel erkenning nie, maar ook internasionaal.

CHRISTO WIESEMEDALJE VIR 'N OPKOMENDE ENTREPRENEUR

Die medalje word toegeken aan jong sakelui (45 jaar en jonger) wat sukses behaal het. Persone wat die medalje ontvang, moes ondernemerskap, visie en volharding aan die dag gelê het as private ondernemers in: (1) die vestiging/opbou van 'n plaaslike onderneming(s); (2) die ontwikkeling/bemarking van 'n produk of produkte en (3) die skepping van werkgeleenthede en welvaart.

Die prys word vanjaar toegeken aan Schalk C. Nolte en Dewald de R. Nolte, van die Suid-Afrikaanse sagtewaremaatskappy, Entersekt.

Met die tegnologiese vernuwing in 2008 van die gebruik van 'n selfoon vir internet­bankdienste, is die ontwikkeling gekniehalter deur voorbehoude rondom die veiligheid van aanlyn transaksies. Schalk en drie van sy mede-ingenieurstudente het 'n oplossing gevind vir enersyds hierdie veiligheidskwessie en andersyds die moontlikhede wat die selfoon vir bankdienste bied. Saam met Schalk se broer, Dewald, het hulle sagtewaremaatskappy gegroei en het dit internasionale bekend­heid verwerf vir hulle produkte in die finansiële tegnologiebedryf. Onder Schalk se leiding en met Dewald aan die stuur van sakeontwikkeling word Entersekt die eerste maatskappy ter wêreld wat 'n interaktiewe aanlyn stelsel vir gebruikersidentifikasie en transaksieverifikasie vir finansiële instellings ontplooi. In 2011 word Entersekt by een van die grootste internasionale kubersekuriteits­kongresse in San Francisco aangewys as een van die tien innoverendste maat­skappye ter wêreld – die eerste van 'n reeks wêreldwye toekennings.

EREPENNING VIR VISUELE KUNSTE (Argitektuur)

Die Erepenning vir Visuele Kunste word toegeken aan die argitek, Pieter J. Mathews van Mathews en genote.

Mnr. Mathews is een van Suid-Afrika se talentvolle argitekte Benewens sy werk as argitek was het President van die Pretoria Instituut vir Argitektuur, Raadslid van die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte en stigter en sameroeper van die Cool Capital inisiatief. Mathews en genote, onder leiding van mnr Pieter Mathews, is in 2014 aangestel as kurator vir die Tshwane snelbusdiens publieke kunsprojek, asook vir die amptelike Suid-Afrikaanse pawiljoen by die Venesiese Argitektuur Biennale. Die La Biennale di Venizia word beskou as die mees gesogte platvorm vir Argitektuur in die wêreld. Sy passie vir bewaring het daartoe gelei dat die Nederlandse Ambassade Mathews en genote aangestel het om die Nederlandse voetspoor in Pretoria te dokumenteer.

EREPENNING VIR RADIOHOORBEELDE IN AFRIKAANS

Die Erepenning vir Radiohoorbeelde kan drie-jaarliks toegeken word. Werke wat uitgesaai is deur alle uitsaainetwerke in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgegaan het, kom in aanmerking.

Die Erepenning word vanjaar toegeken aan Johan van Lill vir al die hoorbeelde (en ander bydraes vir radio) wat hy al gemaak het, dus vir sy hele oeuvre tot en met 2017.

Johan van Lill is bekend as aanbieder van inligtingsprogramme op RSG en 'n veelsydige, goed gekwalifiseerde en ervare opvoedkundige en entrepreneur. Hy is 'n bekende skrywer van jeug-en kinderboeke. Hy gebruik sy kennis van navorsing en fyn aanvoeling vir die narratief van 'n storie om sy passie en toewyding aan die kunste, kultuur, teater en taal ook radiomatig uit te leef. Die fokus van die toekenning is sy bevordering van die kunste deur middel van radio.

SPESIALE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE

'n Spesiale Erepenning word toegeken aan kunstenaar Hannatjie van der Wat.

Hannatjie het met haar baanbrekerswerk as 'n Afrikaanse vrouekunstenaar in die wêreld van abstrakte ekspressionisme en analitiese abstraksie vir haarself 'n unieke plek in die Suid-Afrikaanse kunslandskap uitgekerf. 'n Deurlopende karakteristiek van Hannatjie van der Wat se werke is die digte en kleurversadigde geometriese abstraksies wat ook allerweë as die hoogtepunt van haar oeuvre beskou word. Sy is ook bedrewe in die skep van keramiekwerke en grootskaalse publieke beeldhouwerke.

SPESIALE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE

'n Spesiale Erepenning word toegeken aan Albert Troskie van Port Elizabeth.

Prof Albert Troskie is 'n veelsydige kunstenaar wat aktief is as akademikus; navorser; uitvoerende kunstenaar; opleier van studente; 'n kerkmusiekkomponis; beoordelaar by kompetisies op nasionale vlak en samesteller en redakteur van gesaghebbende naslaanwerke; inisieerder van meer as een vereniging; leier op verskeie organisatoriese vlakke en betrokke by 'n aantal gemeenskapsprojekte; adviseur vir verskeie pyporrels in Suid-Afrika en praktiserende kerkorrelis en kerkkoordirigent. Prof Troskie het lewenslank en behartig steeds talle van die bogenoemde aktiwiteite op 'n passievolle wyse en die volhoubaarheid en die dryfkrag waarmee hy projekte aanpak, is merkwaardig.

BESONDERE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE

'n Besondere Erepenning word toegeken aan EF (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps-en standaardtaal. Prof Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth.

Prof Kotzé word vereer vir sy ongeëwenaarde diens aan Afrikaans. Daar was oor die afgelope bykans 50 jaar geen ander Suid-Afrikaanse, en bepaald Afrikaanse, taalwetenskaplike as prof Kotzé wat so uitnemend op so 'n wye gebied van die linguistiek in die algemeen en die Afrikaanse linguistiek in die besonder presteer het nie. Sy spesialiteitsterreine sluit in die ortografie van Afrikaans, leksikografie, sosiolinguistiek, taalbeplanning en -beleid, historiese taalkunde, forensiese linguistiek, vertaalkunde, Afrikaanse grammatika, Afrikaanse taalonderrig en die Afrikaanse taalpraktyk. In dié opsig is hy waarskynlik die veelsydigste taalkundige wat hierdie land al opgelewer het. Wat publikasies betref, is sy magnum opus ongetwyfeld die Afrikaans-Japannese Woordeboek wat in 2016 gepubliseer is. Dit is deur die Navorsingsinstituut vir Tale en Kulture van Asië en Afrika van die Tokiose Universiteit vir Buitelandse Studies uitgegee. Die Japannees word in sowel die Japannese skrif as die amptelike geromaniseerde Japannees gegee. Dit is 'n magistrale werk waarin jare se navorsing en studie vervat is en wat getuig van 'n besondere insig in en kennis van sowel die brontaal (Afrikaans) as die doeltaal (Japannees). Wat Afrikaans betref, is dit 'n waarlik unieke werk van internasionale gehalte.

Prof Kotzé het twintig jaar lank in die Taalkommissie van die SA Akademie gedien, waarvan tien jaar as voorsitter. Hy is sonder vrees vir teenspraak die baanbreker rakende forensiese liguistiek in Suid-Afrika. Hy is die hoof-Afrikaanse taalkundige van die projek Die Bybel: 'n Direkte Vertaling. Verder dien hy meer as tien jaar as die Afrikaanse taaladviseur van RSG.

SPESIALE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE

'n Spesiale Erepenning word toegeken aan Vader John Newton Johnson vir sy uitsonderlike bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal in die Rooms-Katolieke Kerk in Suid-Afrika.

In 1992 het Vader Johnson die Afrikaanse Oratorium in Oudtshoorn gestig waar daar benewens vertaalwerk ook die eeue oue Katolieke religieuse lewe binne die raamwerk van 'n Afrikaanse Katolieke gemeenskap beoefen word. In 2002 stig hy die Port Elizabeth Oratorium en in 2015 die Bloemfontein Oratorium. Sy vertaalwerk van Katolieke tekste in Afrikaans sluit in: Vertaling van die altaarmisboek waarvan hy die hoofvertaler was; vertaling van die drieledige Leksionarium in Afrikaans; die vertalings van die rite van doop, rite van vormsel, die begrafnisrite en huweliksrite in Afrikaans; saam met Vader Phillip Vieri het hy aan die Afrikaanse liedboek gewerk; hy het ook die vertaling van die brevarium in Afrikaans gedoen.

EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE SE FAKULTEIT NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Die Erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevor­dering en ontwikkeling van 'n besondere vakgebied in die natuurwetenskappe.

Die prys word toegeken aan Elizabeth (Lizette) Joubert, tans hoofnavorser by die Landbou Navorsingsraad se Infruitec-Nietvoorbij navorsingsinstituut buite Stellenbosch en is buitengewone professor by die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.

Prof Lizette Joubert is die afgelope 35 jaar betrokke by innoverende, volhoubare en toegepaste produkgebaseerde navorsing op rooibos en heuningbos. Haar navorsing het gelei tot die ontwikkeling van verskeie prosesse wat deur die rooibos­en heuningbosindustrie geïmplementeer word. Sy het haar navorsing uitgebrei na die antioksidanteienskappe van rooibospolifenole as alternatief tot sintetiese voedselantioksidante. Haar kennis van die fenoliese komponente van dié tee het gelei tot internasionale erkenning as navorser.

EREPENNING VIR WETENSKAPLIKE VAKBEVORDERING (Geesteswetenskappe)

Die Erepenning vir Wetenskaplike Vakbevordering word toegeken vir die bevor­dering en ontwikkeling van 'n spesifieke vakgebied deur medium van Afrikaans op enige terrein van die onderwys. Die Erepenning kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word.

Die prys word toegeken aan Ina Joubert, Departementshoof: Vroeë Kinderonderwys, Universiteit van Pretoria.

Prof Ina Joubert se professionele loopbaan weerspieël haar toewyding om hierdie vakgebied te bevorder. Haar bydrae oor die afgelope meer as drie dekades strek van dié as onderwyser en later skoolhoof in pre-primêre Afrikaanse skole, tot haar huidige bydrae op tersiêre vlak en die opleiding van toekomstige onderwysers in vroeë kinderonderwys. Prof Joubert se bydrae as akademikus is gesetel in hoë kwaliteit onderrig, deurlopende leiding en betrokkenheid by gemeenskapsprojekte en publikasies wat op verskeie vlakke 'n bydrae lewer.

PROTEA BOEKHUISPRYS VIR DIE BESTE GESKIEDENISPROEFSKRIF IN AFRIKAANS

Die prys word toegeken aan Wynand Beukes, verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Die titel van sy proefskrif is: “Van Afrikanerkultuur tot Korporatief: Die geskiedenis van Sanlam se Hoofkantoor-personeelkorps 1918‒2008”.

Die prysgeld word geborg deur Protea Boekhuis.

JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Dierkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by 'n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

Die medalje word toegeken aan Lauren M. Robson, verbonde aan die Departement Soölogie, Universiteit van Johannesburg. Die titel van haar verhandeling is “A histology-based fish health assessment to quantify and qualify the potential effects of the antiretroviral drug, efavirenz on the Mozambique tilapia, Oreochromis mossambicus after acute exposure.”

DOUW GREEFF-PRYS VIR BESTE ARTIKEL IN DIE SUID-AFRIKAANSE TYDSKRIF VIR NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Die prys word toegeken vir 'n navorsings-of oorsigartikel van hoogstaande weten­skaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

Die prys word toegeken aan Katie S. Lennard en mede-outeurs vir hulle artikel “Hoë voorkomskoers van bakteriële vaginoses en Chlamydia in 'n lae-inkomste, hoë-bevolkingsdigtheid gemeenskap in Kaapstad” wat verskyn het in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, volume 37(1), 2017.

Die prysgeld word geborg deur die Greeff Familietrust.

ESTHER GREEFF-PRYS VIR BESTE ARTIKEL IN DIE TYDSKRIF VIR GEES­TESWETENSKAPPE

Die prys word vir 'n navorsings-of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) gepubliseer is, toegeken.

Die prys word vanjaar toegeken aan JPC (Cilliers) van den Berg vir twee artikels wat in die tydskrif verskyn het:

(a) “Histerie en Perversie (deel I): Enkele teoretiese opmerkings oor slagofferskap binne traumadiskoerse” in TGW, jg. 56 (2-2), Junie 2016.

(b) “Histerie en Perversie (deel II): Slagofferskap in Der Nazi & der Friseur (Edgar Hilsenrath) en De joodse messias (Arnon Grunberg) in TGW, jg. 56 (3), September 2016.

Die prysgeld word geborg deur die Greeff Familietrust.

POORTPRYS

Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerlinge in grade 10, 11 en 12. Die prys kan meer as een keer aan 'n skrywer toegeken word.

Die prys word toegeken aan:

Poësie: Jonathan Mark Birch van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria vir sy gedig nat en net na vier.

Prosa: Imcke van Vuuren van die Hoërskool Merensky, Tzaneen vir haar prosawerk Blou.

The post SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: 2018 se pryswenners bekend appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2018: Nou oop vir inskrywings

Foto's en commendatio's: Drie ATKV|SA Akademie-pryse oorhandig

$
0
0

Drie van die ag ATKV|SA Akademie-pryse van 2018 is Woensdagaand by ’n byeenkoms van die Werkgemeenskap Wes-Kaap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oorhandig. Vier LitNet Akademies-artikels is vanjaar bekroon; die pryse vir twee van hulle is by dié funksie oorhandig.

Irma Eloff, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Irma Eloff, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het verduidelik dat die ATKV-SA Akademieprys ’n aantal jare gelede ingestel is om die skryf van akademiese artikels in Afrikaans in geakkrediteerde tydskrifte te bevorder. Dit gaan om artikels wat in alle Suid-Afrikaanse geakkrediteerde akademiese tydskrifte gedurende ’n bepaalde tydperk verskyn het en die nodige keuringsprosesse ondergaan het. Redaksies is genooi om hulle beste artikel in ’n bepaalde vakwetenskap voor te lê. Die SA Akademie het die verantwoordelikheid gehad om onafhanklike keurders in bepaalde dissiplines aan te wys wat op ’n punteskaal die artikels beoordeel het.

Henry Filliers, Aslam Fatuur, Deidré Le Hanie (bestuurende direkteur van die ATKV) en Irma Eloff (voorsitter van die SA Akademie)

Aslam Fataar, Vise-Dekaan: Navorsing en Henry Fillies van die Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch het ’n prys ontvang vir hulle artikel Die leerpraktyk-vorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp wat verskyn het by LitNet Akademies Jaargang 13 (2), 2016.

Commendatio

Die prys word ook toegeken aan Aslam Fataar en Henry Fillies vir hulle artikel Die leerpraktykvorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp wat verskyn het by LitNet Akademies Jaargang 13, Nommer 2, 2016. Prof Fataar is Vise-Dekaan: Navorsing van die Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch en dr Fillies is verbonde aan dieselfde Fakulteit.

Wat grensverskuiwend in die artikel is, is die skrywers se etnografiese navorsing wat vernuwende insigte bring aangaande plattelandse leerders. Die navorsing toon dat, alhoewel die invloed van armoede op die opvoedkundige geleenthede van landelike leerders belangrik is, armoede nie die deurslaggewende faktor is om die verskille in die opvoedkundige geleenthede en uitkomste tussen stedelike en landelike leerders te verklaar nie.

Hierdie artikel vorm die tweede deel van ’n drieluik en bied spesifiek ’n ontleding van die wyses, sowel as die “ruimtelike” en konseptuele grondslag, waarop hierdie leerders hul leerpraktyke bou. Die navorsers voer met empiriese getuienis aan dat arm plattelandse werkersklasleerders sterk refleksief met hul omstandighede omgaan tot die bou van hul leerpraktyke.

Die artikel toon dat ’n begrip van leerders se sosiale lewe buite die skool baie belangrik is vir ’n begrip van hulle ervarings van hoe hulle betrokke gaan raak by hul leerpraktyke en hoe hulle dienooreenkomstig hul leeridentiteite gaan posisioneer. Die leerders was dit eens dat hulle, ten spyte van hul beperkende omstandighede, steeds produktiewe lewens lei. Dit was interessant dat, ten einde hul leeridentiteite suksesvol te vestig, hulle hul nie vergryp aan antisosiale praktyke soos dit algemeen onder hul portuurgroep in hul gemeenskap voorkom nie.

Helgard Raubenheimer, Deidré Le Hanie en Irma Eloff

Helgard G Raubenheimer, Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Universiteit Stellenbosch ontvang ’n prys vir sy artikel AuII: Skaars of afgeskeep? ’n Kritiese literatuuroorsig wat verskyn het by LitNet Akademies Jaargang 13 (2) 2016.

Commendatio

Die prys word vanjaar ook toegeken aan Helgard G Raubenheimer, verbonde aan die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Universiteit van Stellenbosch vir sy artikel AuII: Skaars of afgeskeep? ’n Kritiese literatuuroorsig wat by LitNet Akademies Jaargang 13, Nommer 2, 2016 verskyn het.

In die algemeen verteenwoordig goud(II) ’n baie ongewone oksidasietoestand vir die metaal. Gevolglik is die klem in goudchemie en literatuur gefokus op die algemene oksidasietoestande Au(I) en Au(III). Die voorkoms van stabiele goud(II)- verbindings bly raar en die afwesigheid van sodanige verbindings is treffend in die titel verwoord. Te dikwels word oorsigsartikels in chemie oor algemene onderwerpe geskryf waarvoor daar legio voorbeelde en data beskikbaar is. Hierdie is ’n welkome afwyking en van groot nut vir goudnavorsers.

Die artikel getiteld 'AuII: Skaars of Afgeskeep? ’n Kritiese Oorsig' is ’n oorsigartikel wat oor ’n baie interessante en belangrike aspek van goudchemie handel. Die artikel volg op en komplementeer vorige oorsigartikels van die outeur, waaronder een wat ook by LitNet Akademies verskyn het. Die artikel is wetenskaplik goed geskryf en die gebruik van Afrikaans is deurgaans goed — wat bydra tot die ontwikkeling van die Chemie-vaktaal in Afrikaans. In die toekoms kan die artikel ’n goeie verwysingsbron vir goudchemie in Afrikaans wees.

Koot Reinecke, Sophie Reinecke, Deidré Le Hanie en Irma Eloff

Adriaan J Reinecke en Sophia A Reinecke en Mia van Wyk, Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch het ’n prys ontvang vir hulle artikel Die geskiktheid van potwurms (Enchytraeidae) en plante om die toksisiteit van olieraffinadery-slik te toets wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, Volume 35 (1), 2016 verskyn het.

Commendatio

Die titel van hulle artikel is Die geskiktheid van potwurms (Enchytraeidae) en plante om die toksisiteit van olieraffinadery-slik te toets. Die artikel het verskyn in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, volume 35 (1), 2016. Die drie outeurs is verbonde aan die Departement Plant en Dierkunde, Universiteit van Stellenbosch.

Die doel van die outeurs se studie was om die toksisiteit van die slik, sowel as grond, te bepaal op ’n historiese grondbewerkingsperseel wat hulle geïdentifiseer het by ’n petroleumraffinadery waar die gedeponeerde slik uit ’n mengsel van olie en wateroplosbare chemiese besoedelstowwe bestaan wat verskeie gevaarlike chemikalieë insluit. Hulle wou vasstel op plante en potwurms gebruik kan word in die bioassessering van die slik, aangesien daar ’n behoefte bestaan het om ’n groter verskeidenheid toetsorganismes te gebruik wat verskillende ekologiese nisse verteenwoordig. Die bevinding is dat potwurms nie so gevoelig is vir die slik soos erdwums en springsterte, wat voorheen getoets is nie, maar dat hulle wel bruikbaar is en kan bydra om die toksisiteit en herstelstatus van sulke grond te evalueer, aangesien hulle ’n bykomende ekologiese nis verteenwoordig. Die plante was nie baie gevoelig vir die slik nie en gemengde resultate is verkry. Groenslaai en gras is die meeste deur die slik geaffekteer, terwyl boontjies die beste gevaar het en hulle groeikoers selfs deur die byvoeging van slik gestimuleer is.

 

Die geleentheid is afgesluit met 'n bespreking van die veranderende politieke horison van Suid-Afrika deur Erwin Schwella en Willie Breytenbach.

Erwin Schwella het gepraat oor politieke variante vanuit 'n binnelandse oogpunt.

Willie Breytenbach het gepraat oor die internasionale en veral Afrika-siening van
die politieke verloop in Suid-Afrika.

Commendatio's voorsien.

Lees ook:

ATKV|SA Akademie-pryse 2018: Vier LitNet Akademies-artikels word bekroon

’n Onderhoud met bekroonde navorsers Aslam Fataar en Henry Fillies

’n Onderhoud met bekroonde navorser Helgard Raubenheimer

The post Foto's en commendatio's: Drie ATKV|SA Akademie-pryse oorhandig appeared first on LitNet.

Leesstof vir boekliefhebbers uit Taalgenoot se Somer 2018-uitgawe

$
0
0

Met die Taalgenoot-redaksie se vriendelike vergunning deel PEN Afrikaans artikels en resensies uit dié kwartaallikse tydskrif se Somer 2018-uitgawe. Wat ’n plesier! Hierdie inhoud is nie elders digitaal beskikbaar nie. Klik gerus op die skakels onder om gehalteleesstof gratis in PDF-formaat af te laai.

(Klik hier vir die vorige uitgawe.)

 

Die jongste Taalgenoot, die Herfs 2018-uitgawe, is nou beskikbaar op die rakke van uitgesoekte Exclusive Books-winkels.

Hierdie uitgawe se tema is "stout". Lees meer oor Jack Parow, Willie Esterhuizen, Bitterkomix, die taaldebat by Kovsies en studente wat stimulantmedikasie gebruik om beter te studeer. Neels van Jaarsveld pronk op die voorblad en gesels onder meer oor sy “stoute dae” en sy alter ego, Enormous Dwarf. Lees ook oor skrywer Piet Matipa en 'n rubriek deur die immergewilde krimi-skrywer Rudie van Rensburg vir die PEN Afrikaans-rubriekreeks.

Wil jy vir Taalgenoot skryf?

Stuur voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Johan Jack Smith: JohanS@atkv.org.za

Teken in op Taalgenoot

Teken in op TG en ontvang vier keer per jaar ’n tydskrif propvol interessanthede uit die volkleurwêreld van Afrikaans.

Jou opsies is:

Teken in op die digitale weergawe van Taalgenoot. Laai dit op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of slimfoon af: www.mysubs.co.za/magazine/taalgenoot

Teken in op die drukweergawe van Taalgenoot. Kontak Lillian Meyer by LillianM@atkv.org.za of 011 919 9112 of volg dié skakel vir die drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf.

The post Leesstof vir boekliefhebbers uit <i>Taalgenoot</i> se Somer 2018-uitgawe appeared first on LitNet.


Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes

$
0
0

ATR, Jakes Gerwel-gespreksreeks – Suidoosterfees – 28 April 2018

Anne-Marie Beukes
Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek, Universiteit van Johannesburg
Direkteur van die Afrikaanse Taalraad

Anne-Marie Beukes, Conrad Steenkamp, Hendrik Theys en Christo van der Rheede (gespreksleier) (Foto: Naomi Bruwer)

Mense maak ons eie geskiedenis, maar ons doen dit nie net soos ons wil nie, ons doen dit nie in omstandighede wat ons kies nie, maar in reeds bestaande omstandighede, dit wat vir ons gegee is, en dit wat vir ons uit die verlede oorgedra is. (Karl Marx)

Ter inleiding van ons gesprek is dit gepas om erkenning te gee aan Jakes Gerwel wat bekend was vir sy passie om Afrikaans as ’n versoenende taal te bevorder en só weg te beweeg van die gedagte dat Afrikaans ’n bron van verdeling is.

In ’n huldeblyk by die oorlye van Gerwel haal Hein Willemse hom soos volg aan:

Om aan te hou praat, redelik te praat, selfs waar die drif en die daad dreig om die woord te verswelg […] Om elke gespreksgenoot ernstig op te neem, na sy woord te luister, en hom steeds as medespreker te respekteer. [Ons moet] volhardend […] bly werk aan die skepping van daardie grammatika van saamlééf in geregtigheid.

Ons besin vandag oor die toekomswaarde van Afrikaans: ons besin oor wat dit gaan beteken om in die toekoms steeds Afrikaans te wees, Afrikaans te praat, in Afrikaans te leef. Hierdie woorde van Jakes Gerwel, nl “die grammatika van saamlééf in geregtigheid”, is ’n sleutel waarmee die waarde van ’n toekoms in en vir Afrikaans oopgesluit kan word, ’n toekoms wat ’n naasbestaan tussen al die ander tale in ons land insluit. Die toekoms van Afrikaans lê in die omarming van ons land se taal- en kultuurdiversiteit. Meertaligheid is ons en ons taal se toekomstige habitat.

Ek wil graag twee aspekte oor Afrikaans in hierdie meertalige konteks voorhou:

  1. Die ekologie van Afrikaans is meertaligheid/diversiteit, en haar toekoms sal bepaal word deur Afrikaans nié in isolasie te bevorder nie.
  2. Die toekoms van Afrikaans lê in die skep en benutting van taalnetwerke deur aktiewe, transformerende taalburgerskap wat na vore moet kom as ’n meganisme om Afrikaans se toekoms te verseker.

Afrikaans en ’n dinamiese taalekologie

In Suid-Afrika word daar, benewens ons 11 amptelike tale, na raming sowat 25 tot 30 tale op ’n daaglikse basis gebruik. Omgewingsbewaring en die ekologie is deesdae tereg op almal se lippe. Ons moet ons planeet bewaar vir die toekoms, is die slagspreuk. Die Franse president, Emmanuel Macron, het pas verlede week sy Amerikaanse eweknie en die Amerikaanse kongres daarop gewys dat daar nié iets soos ’n Planeet B is nie. Ek wil hierdie metafoor van toepassing maak op die toekoms van die Afrikaanse taal, naamlik: Die bewaring en instandhouding van ’n dinamiese, gesonde taalekologie wat ’n regverdige naasbestaan met ander tale en hulle taalgemeenskappe verseker, is ’n dwingende noodsaaklikheid.

Afrikaans is onder druk, ernstige druk. Ons bevind ons tans in ’n situasie waar die taal in die onderwysdomein ’n omvangryke verlies in die gesig staar, en dit is ’n rede tot kommer. Ons moet perspektief kry dat slegs ’n klein persentasie tale op ons planeet ooit tot volwaardige onderrig- en wetenskapstale vorder soos wat dit wel met Afrikaans die geval was. Afrikaans, met bykans sewe miljoen eerstetaalsprekers, bevind haar in die uitgelese geselskap van slegs vyf tale altesaam wat in die 20ste eeu tot wetenskapstale ontwikkel het, nl Hindi (sowat 258 miljoen eerstetaalsprekers), Bahasa-Indonesies (nagenoeg 22,8 miljoen), Hebreeus (4,3 miljoen) en Katalaans (3,7 miljoen).1 Geen ander Afrikataal het hierdie status in die 20ste eeu behaal het nie.

Soos in alle ander ekosisteme moet daar ook in ’n taalekosisteem ’n goeie balans gehandhaaf word ten bate van die bewoners/sprekers. In die geval van ’n taalekosisteem gaan dit om die tale en taalgemeenskappe wat van mekaar afhanklik is en in balans moet verkeer ten einde die sorgvuldige bewaring van die diversiteit in die taalhabitat te handhaaf. Daar is ’n paar faktore wat verreken moet word wat Afrikaans betref.

  • Die aller vertrekpunt is die intratalige ekosisteem waarin al die verskillende variëteite van Afrikaans hulle regmatige ruimte benut sodat alle sprekers ’n gebalanseerde integrerende deel van die groter taalgemeenskap vorm. In so ’n habitat is alle niestandaardtaalvariëteite noodsaaklike uitdrukkingsmiddele en bied hulle ryk hulpbronne waarvoor sprekers eienaarskap aanvaar en dit uitleef ter wille van hulle eie welstand en dié van hulle taal. Dit is teen hierdie agtergrond dat die plek en rol van ’n burgerlike liggaam soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat beter balans met groter inklusiwiteit wil bewerkstellig en helende versoening nastreef, so onontbeerlik is.
  • Daarbenewens is dit die Taalraad se standpunt dat die toekoms van Afrikaans ook in die inklusiewe, harmonieuse naasbestaansrol in meertalige Suid-Afrika in intertalige verband lê. Hierdie rol sluit daarom ook in om konstruktiewe vennootskappe met ander inheemse taalgemeenskappe te sluit ter wille van ’n ekologie waar ons kosbare taaldiversiteit in ’n meertalige samelewing bevorder en gehandhaaf word. Die Taalraad werk byvoorbeeld in vennootskap met die XhosAfrika-projek wat deur Neville Alexander op die been gebring is met die doel om Xhosa met behulp van Afrikaans te ontwikkel.
  • Refreine soos “Solank mense Afrikaans praat, is daar niks te vrese nie” en “Ag nee wat, kyk hoe blom Afrikaans by die feeste” word voortdurend voorgehou as aanduidings van Afrikaans se vitaliteit. Dit is inderdaad so dat Afrikaans in vele domeine lewenskragtig is, maar ekosisteme se gesondheid word op lang termyn bepaal deur die handhawing van ’n versigtige balans tussen die verskillende komponente of, in die geval van taal, ook in verskillende domeine waarin die taal gebruik (kan) word.
  • Ondanks die afskaling van institusionele steun van die staat en die inkorting van Afrikaans in die openbare domein, gedy Afrikaanse op kultuurgebied. Dis alombekend dat Afrikaanse kultuurfeeste die afgelope twee dekades sterk gegroei het, en ook dat daar ’n oplewing in Afrikaanse musiek is. Daarby is Afrikaans ook steeds ’n sterk literêre taal wat deur middel van vertaling ’n toenemend groter leserspubliek bedien. Met die inkorting van Afrikaanse uitsaaityd op SABC se TV-kanale gaan kykNET se kanale sedert 1999 van krag tot krag en kom meerdere kanale soos Media24 se Via vir Afrikaanse kykers beskikbaar. Afrikaanse gemeenskapsradiostasies floreer, en so ook RSG wat toenemend die breë Afrikaanse gemeenskap bereik. Verder is die skaarste aan goeie Afrikaanse films die afgelope jaar of twee beëindig met etlike goeie films wat hul verskyning op die kringloop maak.
  • Daar is helaas in die onderwysdomein minder rede tot opgewondenheid. Die getal openbare eentalige Afrikaanse skole het die afgelope twee en ’n half dekades betekenisvol verminder deur ’n swaai weg van die voorkeur vir moedertaalonderrig deur Afrikaanse ouers na Engels. Die ander faktor wat die ekologie van Afrikaans bedreig, is die regering van die dag se beskouing dat eentalige Afrikaanse skole en universiteite as oorblyfsels van die apartheidsbedeling in die pad van transformasie in die onderwys staan omdat dit billike toegang tot skaars onderwyshulpbronne belemmer. Die pasgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), waarby die Afrikaanse Taalraad ook betrokke is, en wat met ’n pyplynfokus ruimte vir onderrig deur die medium van Afrikaans wil verseker, is ’n potensiële reddingsboei vir Afrikaanse se ekologie. Die AON sal egter slaag slegs indien daar by sowel ouers as politici ’n houdingsverandering intree en hulle oortuig kan word van die waarde van moedertaalonderrig in die aangesig van die hegemonie van Engels. Ouers moet ingeligte besluite kan neem oor wat die beste vir hulle kinders is. En dít is waar aktiewe taalburgerskap in die prentjie kom en waar John F Kennedy se beroemde uitdaging in 1961 aan die Amerikaanse samelewing oor aktiewe burgerskap resoneer: “Ask not what your country can do for you – ask what you can do for your country.”

Afrikaans se toekoms en aktiewe taalburgerskap

  • Aktiewe taalburgerskap verg dat sprekers hulle agentskap opneem om ’n dinamiese en gesonde taalekologie te help handhaaf. Wat die onderwysdomein betref, vereis dit dat bewindhebbers se eentalige praktyke en die ontkenning van taaldiversiteit uitgedaag kan word. Die gebrek aan politieke wil om ’n werkbare bloudruk vir aktiewe taalburgerskap te ontwikkel, lei tot die negering van leerders se huisvariëteite in die klaskamer en die huidige onkritiese voorkeur vir Engelsmediumonderrig. Die breë samelewing se ongeërgde onkunde oor en geringskatting van die rol en waarde wat die uitleef van meertaligheid meebring in domeine soos in die onderwys, die politiek, gesondheidsorg en die ekonomie kan deur aktiewe taalburgers se taalpolitieke bydrae teengestaan word.
  • Die balans in die ekosisteem van Afrikaans word toenemend bedreig as gevolg van ’n gebrek aan aktiewe taalburgerskap. Die aantrekkingskrag van Engels in ’n ontluikende demokrasie lê veelal in sy vermeende nasionale, “neutrale” bindingskrag. Daarby beloof sy wêreldtaalstatus sonder meer internasionale mobiliteit en welvarendheid.
  • Die saligheid van Afrikaans en haar taalekosisteem gaan beduidend beïnvloed word deur die taal se digitale voetspoor en die geslaagde gebruik en ontwikkeling van mensliketaaltegnologie soos spraakherkenning en -sintese, en masjienvertaling en -teksredigering vir Afrikaans en haar variëteite. Die afgelope twee dekades het die internet en die wêreldwye web nie slegs die medium van sosiale media en nuus geword nie, maar ook van kennisbestuur en navorsing deur middel van soekenjins. In hierdie konteks is Afrikaanse taaltegnologiese hulpbronne en toepassings deur die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVA) beskikbaar gestel. Daarby kom die gewilde Wikipedia, tans die grootste webgebaseerde bron van kennis, wat ook ’n rol kan speel om Afrikaans se krimpende ruimte in die kennissfeer teë te werk. ’n Baie klein persentasie van die meer as vyf miljoen artikels op Wikipedia is tans in Afrikaans beskikbaar, ’n agterstand wat deur die uitleef van vertalers se taalburgerskap ingehaal kan word.

Die ontstaan en groei van Afrikaans is in vele opsigte merkwaardig. Om die voortgesette gesondheid van die taal se ekosisteem te verseker, gaan gewis ywerige en versiende taalnetwerke verg. Die Afrikaanse taalgemeenskap beskik oor “taalkapitaal” en het ’n markwaarde: hoe meer die taal in die volle spektrum van sosio-ekonomiese domeine opgeëis word, hoe meer sal haar waarde toeneem (byvoorbeeld in die onderwysdomeine en in die arbeidsmark). Deur ons aktiewe taalburgerskap kan Afrikaanssprekendes groter deelname en seggenskap in hulle taal uitoefen, ’n groter ekologiese voetspoor en sigbaarheid bewerkstellig, ’n “goedvoel”-idee oor Afrikaans in die breë taalekologie kweek, en groter welsyn in en deur Afrikaans beleef.

Afrikaans se heil lê daarbenewens ook in die uitleef van ’n konstruktiewe naasbestaansrol in ons meertalige land. Die smee van vennootskappe en die deel van skaars taalhulpbronne tussen die inheemse taalgemeenskappe gaan gebiedend noodsaaklik wees om die heersende ideologie van eentaligheid teë te werk en ’n gesonde, dinamiese taalekosisteem aan die suidpunt van Afrika te verseker. Die uitleef van ’n aktiewe taalburgerskap is van kardinale belang vir “die skepping van daardie grammatika van saamlééf in geregtigheid”.

Eindnota

1 Gegrond op taalstatistieke verkry by www.ethnologue.com (27 April 2018).

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

The post Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes appeared first on LitNet.

Groen Galery: Poëtiese leesfees wink tussen graniet en olien

$
0
0

'n Uitstallingsbordjie om die aanvangspunt van die Groen Galery by die Taalmonument in die Paarl aan te dui (foto verskaf)

Taalmonument en LitNet fokus op 11 digters en 'n Vrystaatse flair.

In aanloop tot Internasionale Museumdag op 18 Mei is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) trots om kreatiewe kragte met die onafhanklike joernaal litnet.co.za saam te snoer om minder bekende digters se werk by die monument se Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op 11 digters wie se werk in 2017 op LitNet se “Nuwe gedigte”-blad verskyn het. Toevallig het die meeste van hulle 'n verbintenis met die Vrystaat, dus eer die uitstalling die middelprovinsie (en geboorteplek van die skrywer JRR Tolkien) se bydrae tot skeppende skryfwerk.

Volgens Michael Jonas, die ATM se direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is.

“Ons wil graag minder-bekende skrywers, musikante en digters die kans gee om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes, aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane. Ons vertrou dat hierdie uitstalling dus in hul smaak sal val.”

Aangesien die tema van vanjaar se Museumdag “Hiperverbinde museums: nuwe benaderings, nuwe gehore” is, is dit gepas dat die ineengevlegte kuberruim waarin LitNet se gehoor reis, gekoppel word aan ʼn fisiese baken waar daar ʼn ander tipe interaksie tussen skrywers en lesers plaasvind.

Die 11 digters is Andre F van der Berg, Charles Marais, Dirk Hattingh, Hanta Henning, Heinrich Matthee, Hélène van Wyk, Jemima Meyer, Marthé McLoud, Pieter Verster, Rita Smit en Stanley Cierenberg, wat tesame ʼn wye verskeidenheid belangstellings, geskiedenisse en skryfstyle verteenwoordig.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur, en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery, waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskillende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

LitNet is ’n wydgerekende, interaktiewe joernaal op die internet waar skrywers hul verhale, gedagtes, rubrieke, artikels en menings kan publiseer. Dit behels ook die LitNet-node vir geakkrediteerde akademiese skryfwerk in Afrikaans.

Die publiek kan die uitstalling van 1 Mei tot 31 Oktober 2018 in die Groen Galery besigtig. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R30 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensionarisse, en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar).

Oudiogidse in verskeie tale, asook gratis begeleide toere is beskikbaar en die monument bied ook ’n speelpark vir kinders, staproetes en ’n heerlike restaurant.

The post Groen Galery: Poëtiese leesfees wink tussen graniet en olien appeared first on LitNet.

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

$
0
0

Christo van der Rheede (foto: Naomi Bruwer)

ATR, Jakes Gerwel-gespreksreeks – Suidoosterfees – 28 April 2018

Christo van der Rheede

’n Taal sonder toekomswaarde is ’n dooie taal. Niemand praat dit meer nie en niemand gee daarvoor om nie! Dit is nie die geval met Afrikaans nie. Afrikaans is ’n lewende taal wat deur sy miljoene sprekers daagliks lewend gehou word. Dis ’n taal wat op velerlei terreine waarde bied. Dis ’n drywer vir die skeppende kunste. Mense sing, dig, skryf en speel toneel in Afrikaans. Talle beoefen ook ’n beroep, byvoorbeeld as onderwyser, omroeper of joernalis, in Afrikaans. Vele produkte, soos koerante, tydskrifte, CD’s en films word in Afrikaans geskep, en dit hou weer direkte en indirekte ekonomiese voordele in vir die mense wat hul kreatiwiteit ontsluit om sulke produkte te skep. Die ontwikkeling van slimtegnologie bring ook nuwe moontlikhede vir Afrikaans na vore en die benutting daarvan om nuwe produkte en dienste te ontsluit. Die Afrikaanse mark is ’n veerkragtige en vermoënde mark en uiters ontvanklik vir iets nuuts in Afrikaans. Daarom bied die vele Afrikaanse kunstefeeste ’n ongelooflike platform vir kunstenaars om hul talente ten toon te stel.

Afrikaans is dus nie net ʼn kommunikasiemedium nie, maar is ook die hoof ekonomiese bestanddeel van ʼn wye verskeidenheid taalkommoditeite of taalprodukte en -dienste wat deur velerlei sektore bemark word. Onder andere behels dit sektore soos die kennisekonomie, kommunikasie, onderwys en opleiding, tweedetaalonderrig, publikasie, advertering, televisie, film, radio, musiek, toerisme, inheemse kruie, kunstefeeste, tradisionele drag en argitektuur, inheemse kookkuns, kommunikasiepatalogie, versekering, kontaksentrums, uitvoerende kunste, ontwerp, taaldienste, sagteware, kunsvlyt, visuele kunste, kultuurgeriewe en erfenis. Die wye verskeidenheid dienste en produkte wat deur hierdie sektore na die mark gebring word, benut taal en kultuur as primêre hulpbronne, mediums van ontwikkeling of bronne van kreatiewe inspirasie.

Die uitbou, handhawing en kreatiewe aanwending van Afrikaans is dus van kritieke belang, daarom moet almal wat werk en welvaart in Afrikaans skep, saamstaan vir die behoud van Afrikaans as ʼn onderrigtaal op skool asook op naskoolse vlak. Sonder taal en ʼn aanvraag na taalkommoditeite sal die kultuurbedryf en daarmee saam die kopieregbedryf nie kan voortbestaan nie. Erger nog in die afwesigheid van ʼn broeikas waarin kreatiwiteit en nuwe denke neerslag vind, sal ook die kennisekonomie nie in Suid-Afrika kan gedy nie en sal groot dele van taalgemeenskappe net verbruikers bly terwyl die geleenthede vir welvaartskepping in die kennisekonomie by hulle verby glip.

Die ongelooflike geleenthede vir werk en welvaart waar taal as drywer aangewend word om verskillende bedrywe te vestig, is egter legio. Produktiwiteit en kreatiwiteit in en deur Afrikaans en ons inheemse tale kan dus nie langer geïgnoreer word nie en het ’n rol te speel in die omdraai van Suid-Afrika se lae groeikoers en die bekamping van velerlei ekonomiese uitdagings wat dit tot gevolg het.

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Conrad Steenkamp

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes

The post Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede appeared first on LitNet.

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Conrad Steenkamp

$
0
0

Conrad Steenkamp (foto: Menán van Heerden)

ATR, Jakes Gerwel-gespreksreeks – Suidoosterfees – 28 April 2018

Conrad Steenkamp

Daar bestaan ’n noue band tussen die ekonomiese waarde van Afrikaans en die lewenskragtigheid van die taal as huis- en onderrigtaal. Ook ouers se persepsies hieroor, positief of negatief, speel ’n sleutelrol.  

Ouers wil hê hulle kinders moet akademies, sosiaal en ekonomies goed vaar. Sommige ouers dink dat hulle kinders eerder deur Engels – die hoëwaarde internasionale taal – sosiaal en ekonomies sal vorder. Hierdie idee word dan ook bevorder deur die taalpraktyke in verskillende sektore, onder andere universiteite, wat die aansien van Afrikaans en ander inheemse tale benadeel.

Ouers wat hulle kinders Engels grootmaak of in Engelse klasse plaas, ignoreer die ekonomiese waarde van Afrikaans. ’n Eentalige Engelssprekende kind het eenvoudig net minder geleenthede as ’n meertalige Afrikaanse kind, ook internasionaal, waar Afrikaans kinders maklike toegang tot Germaanse tale soos Nederlands gee.

Daar bestaan dan ook geen nulsomkeuse tussen óf Engels óf Afrikaans is nie, maar veel eerder tussen enkeltaligheid en meertaligheid. Beheersing van die moedertaal sluit ook nie die leer van enige ander taal uit nie. Inteendeel, ons kinders moet Engels bemeester, maar deur Afrikaans.

Sommige ouers wil inderdaad hê dat hulle kinders meertalig grootword. “Ons praat Engels met die kind en dan bring ons die Afrikaans weer ’n bietjie by,” soos ’n ouer verduidelik. Dikwels verloor hierdie ouers egter beheer oor die proses. ’n Taalverwarde kind besluit dikwels self watter taal hy of sy gaan praat.

Die welbekende taalverskuiwing vanaf Afrikaans (en die ander inheemse tale) na Engels skep wenners én verloorders. “Ons leer ons kinders om te misluk,” vertel ’n onderwyseres. Volgens haar is dit dié taalverwarde kinders, dié wat met halwe Engels as moedertaal in Engelse klasse beland, wat in die bendes eindig. “Hulle haal daai agterstand nooit in nie. Dit breek hulle selfvertroue.”

’n Duidelike klassedimensie is ook hier ter sprake. Die taalmigrasie van die middelklas dra by tot die sosio-ekonomiese isolasie van die Afrikaanssprekendes en vergroot die reeds aansienlike gaping tussen ryk en arm in die taalgemeenskap. Die 2,5% bruin Afrikaanssprekendes tussen die ouderdom van 23 en 25 wat byvoorbeeld ’n tersiêre kwalifikasie het, is vergelykbaar met die posisie van swart Amerikaners in die 1960’s.

Statistikusse kan oor die presiese betekenis van die 2,5% stry – die massiewe strukturele diskriminasie bly egter staan. Dit is iets wat die transformasie waaroor so baie instansies praat, eintlik behoort te takel. 

Dit gebeur egter nie, omdat die huidige diskoers taal as ’n probleem daarstel, as iets wat uitsluit, geld kos, of onprakties is. Die huidige diskoers lê sterk klem op taalregte (of die relativering daarvan), regsgedinge, en identiteit- en persepsiepolitiek. Die emosionele loopgrawe loop diep en ons word in ons geskiedenis vasgedraai pleks daarvan dat die groot strukturele probleme getakel word. Ons het in wese ook met ’n middelklasdebat te doen waarin middelklasmense oor middelklasbelange met mekaar stry.

Kan die diskoers oor taal ’n rigting inslaan wat ouers eerder van die toekomswaarde van Afrikaans en die ander inheemse tale van die land oortuig? Enige nuwe diskoers moet die fokus op etlike bykomende kwessies plaas: 

  • Die ekonomiese waarde van Afrikaans en taal as ’n hulpbron. Die koste van enkeltaligheid in ’n meertalige land en die ekonomiese waarde van die inheemse tale is veel hoër as wat baie rolspelers vermoed.
  • Die klassedimensie van taal. Engelseentaligheid bevorder die vorming van ’n Engelse ekonomiese, sosiale en politieke elite. Wie word die meeste hierdeur benadeel en wie word die meeste deur meertaligheid bevoordeel? Dit is hulle stemme wat gehoor moet word. Hoe kan taal bewustelik gebruik word om mense se toegang tot opvoeding, die ekonomie en die politiek te verbeter? Hoe verseker ons dat niemand agtergelaat word nie?
  • Kreatiewe gebruik van ontluikende tegnologie. Hoe kan nuwe, buigsame tegnologieë en kreatiewe idees gebruik word om hulpbrontekorte en leemtes op skool en tersiêre vlak aan te vul en te verbeter? Kunsmatige intelligensie, vertaaloutomatisering, geprogrammeerde onderwys, wolkskole en dies meer het geweldige implikasies vir die lewensvatbaarheid van taal en meertaligheid.
  • Sistematiese ontginning van Afrikaans (en die ander inheemse tale) se toekomswaarde. Watter taalsensitiewe sektore en toekomstige produkte en dienste kan ons binne en buite die land identifiseer? Hoe verseker ons dat ons hierdie geleenthede kan benut?
  • Vennootskappe en samewerking. Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie. Hoe kan sinergie tussen die inheemse tale dus bevorder word? Hoe kan hierdie tale in gemeenskaplike belang saamwerk aan die verwerkliking van hul gesamentlike toekomswaarde? Wat kan saam gedoen word om die politieke wil vir meertaligheid te bevorder?

Dis nie om dowe neute dat iemand soos wyle Neville Alexander die politieke toekoms van die land aan die toekoms van Afrikaans gekoppel het nie. Meertaligheid is ’n voorvereiste vir ware demokrasie. Transformasie deur ons inheemse tale moet voorkeur kry bo transformasie deur Engels.  

Om hierdie fokuspunte te realiseer, sal Afrikaanssprekendes onderling aan hul samehorigheid en kohesie moet werk. Ons moet uit die loopgrawe klim, beter na mekaar begin luister, buigsaam raak, en bowenal meer kreatief begin dink. Daar bestaan enorme potensiaal. Ons moet dit net ontgin.

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes

The post Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Conrad Steenkamp appeared first on LitNet.

Hoërskoolleerders, kom leer liedjies skryf soos Elvis Blue!

$
0
0

Elvis Blue is een van die aanbieders by die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel. Foto: Eon Coetzee

Indien jy nog altyd daarvan gedroom het om ’n liedjie te skryf, maar voel jy het nie die nodige kennis of vaardighede om dáái ballade vir jou ou/meisie te laat realiseer nie, is die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel vir hoërskoolleerders net vir jou.

Vir die veelbekroonde sanger Elvis Blue – een van die aanbieders by die werkswinkel – is die skryf van musiek ’n vaardigheid wat ’n mens moet aanleer.

Daarom is dié werkswinkel, wat moontlik gemaak word deur die ATKV en die Atterbury Trust, met die ondersteuning van die Afrikaanse Hoër Seunskool, ’n moet.

“Ek is seker dis anders vir almal, maar in my ervaring is die skryf van musiek ’n vaardigheid wat ’n mens moet aanleer en aan moet werk,” sê Elvis.

“Daar is net een manier om ‘goed’ te skryf, en dit is om aan te hou skryf!”

Hy verklap ook ’n paar geheime oor hoe hy van sy treffers geskryf het.

“Die belangrikste ding vir my met ’n liedjie is die idee waarom die liedjie gebou word.

“Ek hou altyd my skryfboekie en ’n pen byderhand vir daai oomblikke wanneer ’n moontlike idee by my opkom.

“Wanneer ek dan later by ’n instrument sit, kyk ek deur die verskillende idees en voel of een van hulle moontlik in daai oomblik tot my spreek. Dan probeer ek die idee ontwikkel saam met die instrument.”

Hy gaan by die werkswinkel nog goue geheime van sy skryfproses verklap.

Vir Elvis Blue kan ’n goeie treffer jou soos ’n weerligstraal tref.

“’n Goeie liedjie kan op enige plek met jou gebeur. Mense dink altyd, die een of ander eksterne bron moet ’n mens inspireer, die berge of die see.

“Hoe meer jy skryf, hoe beter gaan jy skryf. So los die see en die berge en kom aan die skryf!”

Elvis sal saam met Lize Beekman, Jannie du Toit, Anna Davel, Hunter Kennedy, Jaconell Mouton, Brandon October, Karin Hougaard, Nick Matzikis (The Academy of Sound Engineering), Stephen Hollis (kopiereg-regskundige van Adams & Adams), asook Coenie de Villiers, die slypskool aanbied.

As jy lus is om jou skryflus aan te wakker en ’n bietjie aan jou liedjieskryfvaardighede te skaaf moet jy gou spring, want jy het net nog ’n week en ’n half om in te skryf.

Die werkswinkel word van Vrydag 25 Mei om 15:00 tot Sondag 27 Mei om 12:30 by die Afrikaanse Hoër Seunskool se Musiekakademie in Pretoria gehou.

Die koste per leerder beloop slegs R250. Verversings is ingesluit.

Indien twee aande se koshuisverblyf by die kursusgeld bygereken word, gaan dit leerders net R500 uit die sak jaag. Leerders is verantwoordelik vir hul eie vervoer.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 17 Mei 2018. Daar is plek vir slegs 30 deelnemers by vanjaar se werkswinkel.

Die opwindende gala-geleentheid van die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel vind op 9 September om 15:00 in die Atterbury Teater in Pretoria plaas. Uitblinkers van vanjaar se werkswinkel gaan dan saam met Lize Beekman en Elvis Blue optree.

Vir meer inligting klik hier of kontak gerus vir Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of e-pos haar by hanneliev@atkv.org.za.

The post Hoërskoolleerders, kom leer liedjies skryf soos Elvis Blue! appeared first on LitNet.

Viewing all 1432 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>