Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all 1430 articles
Browse latest View live

Kennisgewing: Bedanking van die besturende direkteur – ATKV-MSW

$
0
0

Deidre Le Hanie (Foto: Twitter)

Dit is met spyt dat die ATKV-MSW kennis neem van die bedanking van die besturende direkteur, Deidre Le Hanie. Le Hanie is ongeveer ’n jaar gelede aangestel en het die ATKV-MSW met groot ywer gedien. Haar voortgesette steun aan die ATKV-MSW en sy werksaamhede word waardeer.

Die ATKV-MSW is opreg dankbaar vir haar onbaatsugtige diens, leierskap en die herbelyning van die ATKV-MSW se strategie. Die ATKV-MSW wens haar alle sukses toe met haar toekomsplanne.

In die interim sal Sonél Brits, die huidige maatskappysekretaris, as besturende direkteur waarneem totdat ’n nuwe besturende direkteur aangestel word. Die direksie van die ATKV-MSW tref reëlings om te verseker dat die maatskappysekretariële funksie eweneens prioriteit geniet.

Sonél Brits

Die direksie en die uitvoerende komitee van die ATKV-MSW het volle vertroue in die waarnemende besturende direkteur sowel as die personeel van die ATKV se kundigheid, vernuf en entoesiasme om die ATKV-MSW se strategie tot verdere uitvoering te bring.

The post Kennisgewing: Bedanking van die besturende direkteur – ATKV-MSW appeared first on LitNet.


Persverklaring: Taalmonument vier Museumdag by Genadendal

$
0
0

Kenners bespreek tegnologie en invloed van eerste Afrikaanse gedrukte media

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier vanjaar Internasionale Museumdag saam met die Genadendal Sendingmuseum deur die aandag te vestig op die aanwending van tegnologie, kommunikasie en die skep van nuwe gehore vir museums. Jatti Bredekamp, ʼn gebore ‘Genaler’ en die eerste swart uitvoerende hoof van Iziko Museums, sal op 26 Mei in gesprek wees met Christo van Rensburg, bekende taalkundige en skrywer van So kry ons Afrikaans, en Samuel Baatjes, die museum se opvoedkundige beampte. Boonop sal twee wenners van die Genadendal Sendingmuseum se toespraak-kompetisie vir leerders – wat op 18 Mei gehou word – ook ʼn perspektief gee oor hoe jeugdiges museums beskou.

Siende dat vanjaar se tema vir Museumdag ‘Hiperverbinde museums: nuwe benaderings, nuwe gehore’ is, sal hulle fokus op die publikasies De Bode (1860) van Genadendal en Die Afrikaanse Patriot (1876) van die Paarl asook die invloed wat die drukperse op hul gehore gehad het. 

Hoewel die Genadendalse koerant ouer is as die Paarlse koerant, het eersgenoemde basies Genadendal Nederlands met ʼn paar Afrikaanse woorde gepraat. Die Afrikaanse Patriot was van meet af daarop gefokus om Afrikaans te praat en word derhalwe steeds as die oudste Afrikaanse publikasie beskou, beslis wat die gebruik van die Romeinse alfabet betref. In Kaapstad self het daar in die 1860’s en 1870’s ook Afrikaanse godsdienstige geskrifte verskyn wat van die Arabiese skrif gebruik gemaak het.

Bredekamp het onder meer jare lank op die Internasionale Museumraad (ICOM) gedien, artikels in die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) se publikasies die lig laat sien en is ʼn lid van Genadendal se Raad van Trustees as verteenwoordiger van die Wes-Kaapse premier. Hy dien ook op die raad van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAHRA). Van Rensburg is ʼn taalkundige aan die Universiteit van die Noordwes en is so pas as medewenner van die Jan H Marais-prys, die mees omvangryke Afrikaanse akademiese prys, aangewys. Hy word vereer vir sy baanbrekerswerk oor die herkoms van Afrikaans, spesifiek die invloed van Khoi-Afrikaans. 

Die feestelike dag, wat ook verversings sal insluit, vind plaas in Genadendal net buite Greyton en begin om 10:00. Bywoning is gratis, maar besprekings is noodsaaklik omdat daar ruimte vir slegs 60 besoekers is. 

Vir besprekings en verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

The post Persverklaring: Taalmonument vier Museumdag by Genadendal appeared first on LitNet.

Wat elke skrywer moet weet: Publikasie-ooreenkomste met uitgewers

$
0
0

In hierdie artikel gee Lee-Ann Tong van die Universiteit Kaapstad se Departement Handelsreg ’n uiteensetting van wat elke skrywer behoort te weet voordat ’n publikasie-ooreenkoms onderteken word.

Ongeag waarom jy skryf, of dit vir kommersiële gewin is, om inligting te versprei of bloot omdat dit is wat skrywers doen, is outeursreg in die werk wat jy skep ’n gevolg van jou skrywerskap. As eienaar van die outeursreg het jy ’n aantal eksklusiewe regte in verband met die ontginning van die werk. Die mees fundamentele hiervan is die reproduksiereg. Dit behels, kortom, dat ander nie kopieë van jou werk mag maak sonder jou toestemming nie. Wanneer die tyd egter aanbreek dat jy jou voltooide werk die wêreld wil instuur, moet daar afskrifte van die werk gemaak word. As jy boonop hoop om in ruil vir jou moeite ’n mate van finansiële beloning te bekom, moet jy verseker dat die werk bemark word aan die koperspubliek. Skryfkuns is een ding – en die skrywer se vaardighede hoef nie in twyfel getrek te word nie – maar daar is weinig skrywers wat ook kundig en vaardig is oor die verwikkeldhede en praktiese aspekte van die produksie-, bemarkings- en verkoopsfase.

Dit is in hierdie stadium dat jy as skrywer ’n verhouding met ’n uitgewer smee om jou werk op die mark te kry in ’n vorm wat dit vir lesers (en kopers) aantreklik maak. Die bepalings van hierdie verhouding vorm die basis vir die publikasie-ooreenkoms. Eenvoudig gestel, is skrywers en uitgewers beide gemoeid met die omskakeling van die werk in ’n bemarkbare produk wat so wyd moontlik versprei word, op terme wat kommersieel voordelig vir beide partye sal wees.

Alhoewel publikasie-ooreenkomste kompleks is, in die sin dat dit allerlei aspekte van die kommersialiseringsproses dek, behoort kontrakte nie so ingewikkeld te wees dat een van die partye nie die implikasies van ondertekening ten volle verstaan nie. Hierdie moontlikheid ontstaan wanneer die uitgewer, soos gebruiklik, ’n generiese of standaardvormkontrak vir ondertekening aanbied wat nie aangepas is vir die skrywer se spesifieke behoeftes nie.

Die meeste publikasie-ooreenkomste dek soortgelyke bepalings, maar die feit dat jy ’n standaardvormkontrak ontvang, beteken nie dat daar geen ruimte is vir onderhandeling of vir die uitlig van bekommernisse indien jy nie heeltemal oortuig is dat die kontrak in jou beste belang is nie. As skrywer moet jy oortuig wees dat wat in die kontrak aangebied word, werklik aan jou behoeftes voldoen. Dit mag dalk ’n droom bewaarheid wees as ’n uitgewer aanbied om jou werk te publiseer, maar jy moet jou vergewis van die implikasies voordat jy die kontrak onderteken.

APACT (ANSASA-PASA Agreement on Contract Terms) is ’n nuttige hulpbron wat ’n raamwerk vir sulke besprekings uiteensit. Dit bied ’n maklike verwysingsgids om jou te help om die bepalings te ontsyfer.

Vra jouself minstens die volgende vrae af wanneer jy die kontrak deurgaan voordat jy dit teken:

Wat gee jy?

Die belangrikste kontraksterme hou verband met die outeursreg in die werk. As eienaar van kopiereg moet die skrywer die uitgewer toestemming gee om onder meer reproduksies van die werk te maak. Outeursreg is jou regstitel op die werk. Die keuse tussen ’n oordrag van die outeursreg aan die uitgewer en die toestaan van ’n lisensie aan die uitgewer sal jou toekomstige verhouding met die werk bepaal.

Met ander woorde, as jy kies om outeursreg aan die uitgewer oor te dra, doen jy effektief afstand van die eienaarskap van outeursreg in die werk. Die uitgewer word die eienaar. Dit beteken dat jy nie meer beheer oor die ontginning van die werk het nie en ook nie stappe kan instel as iemand anders die werk kopieer en die outeursreg skend nie. Terwyl outeursreg meestal vir 50 jaar vanaf die skrywer se dood voortduur, sal jy dit ook nie aan jou erfgename kan oordra nie aangesien dit nie meer deel van jou boedel sal wees nie. Jy kan ook nie aanpassings van die werk, insluitend vertalings, maak sonder die toestemming van die uitgewer nie.

Die gebruiklike alternatief tot ’n volledige oordrag van regte is om aan die uitgewer ’n eksklusiewe lisensie te gee. Die gevolg hiervan is dat jy nie vir die duur van daardie lisensie enige ander persoon mag magtig om die werk te publiseer of kopieë daarvan te maak nie. Dikwels word eksklusiewe lisensies so wyd geformuleer dat hul effek grootliks dieselfde is as wanneer die outeursreg in die werk gesedeer of oorgedra is, byvoorbeeld wanneer die lisensie vir die volle duur van die outeursreg geld.

As skrywer wil jy die uitgewer voldoende toestemming gee om die werk te kan vervaardig, bevorder en ook beskerm. Probeer egter ook om toekomstige ontwikkelinge en scenarios te voorsien. ’n Voorbeeld sou ’n roman wees wat later die basis vir ’n film kan vorm. As jy die outeursreg ten volle aan die uitgewer oorgedra het, sal jy nie die filmprojek kan aanpak sonder om eers toestemming te verkry van die uitgewer wat die nuwe outeursregeienaar is nie. Wees redelik oor wat die uitgewer nodig het om suksesvol te wees, maar ooweeg ook of die uitgewer in ’n posisie is om ander projekte aan te pak wat op die werk gebaseer is.

Ongeag of die outeursreg oorgedra is of ’n lisensie toegestaan is, behou jy as skrywer die reg om as sodanig erken te word en oor die algemeen beswaar te maak teen enige handelinge wat die integriteit van jou werk sal beïnvloed. Uitgewers kan vereis dat jy van hierdie regte afstand doen, maar dit kan nie oorgedra word nie.

Wat kry jy?

Wanneer die uitgewer die nodige skrywersmagtiging het, sluit hul taak die produksie van die finale vorm van die produk in en natuurlik die uitgee daarvan sodat inkomste uit die verkope van die werk gegenereer kan word.

Die kontrak sal ’n aantal bepalings bevat wat handel oor wat die skrywer in ruil kan verwag. Die voor die hand liggendste hiervan is ’n tantièmebetaling op eksemplare wat verkoop is. Die bedrag wat ’n skrywer verdien word gewoonlik gekoppel aan ’n persentasie van die uitgewer se inkomste ná aftrekkings soos BTW en handelskorting. Daar is nie een spesifieke formule hier nie, en dit kan wissel afhangende van die omstandighede en die tipe publikasie. In sommige gevalle kan ’n eenmalige betaling byvoorbeeld dalk beter wees as deurlopende tantième. Oor hierdie aspek kan onderhandel word. 

Die ooreenkoms sal ook aandui hoeveel outeurseksemplare die skrywer sal kry, en moontlik ook die voorwaardes waaronder die skrywer geregtig sal wees om enige onverkoopte eksemplare van die werk oor te koop (gewoonlik wanneer die vraag daarna afgeneem het).

Wat is jou verpligtinge?

Hoe die produksieproses inmekaarsteek, word uiteengesit in die take wat die partye verplig sal wees om te vervul. Die uitgewer se verpligtinge sluit gewoonlik in om die werk redaksioneel te versorg, te bemark, die publikasiedatums te stel, besluite te neem oor die aantal eksemplare wat gedruk gaan word, en dikwels ook oor die omslagontwerp.

Van die skrywer se verpligtinge kan koste-implikasies hê, byvoorbeeld waar die skrywer die koste van indeksering dra en die verkryging van toestemming om ander mense se materiaal in die werk te gebruik.

Daar is tipies ook klousules waarin outeurs instem tot opdatering van die werk indien nodig, die uitgewer vrywaar van skade wat hul mag ly as daar regstappe oor die werk ingestel word, onderneem om nie ’n mededingende werk uit te gee nie, en aan die uitgewer eerste weieringsreg gee vir toekomstige werke wat deur die skrywer geskryf sal word.

In ’n neutedop:

Jy het soveel daarin belê om die werk te skryf, moenie huiwer om na te dink voordat jy teken nie. As jou werk die publikasie werd is, sal dit die uitgewer se moeite werd wees om te wag terwyl jy die kontrak eers lees!

Lees ook:

Wat elke skrywer moet weet: Testamentêre beskikking van outeursreg in Suid-Afrika

Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte

The post Wat elke skrywer moet weet: Publikasie-ooreenkomste met uitgewers appeared first on LitNet.

Afrikaanse resensies en boekgesprekke in April 2018

$
0
0

Hier is PEN Afrikaans se oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Daar is ook skakels na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is.

Boeke24

Die volgende resensies en boekverwante artikels het gedurende April in die Afrikaanse dagblaaie verskyn – onder redaksie van Laetitia Pople, die nasionale kuns- en vermaakredakteur, en Jo Prins, nasionale boekeredakteur:

5 April

Nuus: Wenners van Andrew Murray-Desmond Tutu-prys

9 April

Boekeblad: Karen Blixen van Kalahari

Charles Smith resenseer ’n Luiperd in my bed deur Annelize Slabbert

Boekeblad: Argaïese stereotipes pla

Louise Ferreira kyk na Waarom mans altyd reg is deur André le Roux

11 April

Nuus/Kuns: Irma Joubert bied lesing aan

12 April

Nuus/Kuns: Eerste stories van Brink gebundel

16 April

Boekeblad: Om bewustelik en met deernis na binne te reis

Antoinette Louw resenseer Kalmte in die malle gejaag deur Johannes de Villiers

Boekeblad: Waardevolle bydrae tot SA

Gert van der Westhuizen resenseer Dawie de Villiers: My lewensreis deur Dawie de Villiers en Chris Schoeman

Boekeblad: Die vers se fotostaatmasjien vir millenniërs

Boekevat-rubriek deur Jo Prins

19 April

Kuns/Nuus: ’n Veer vir Krog én Afrikaans

Vooraf vir Krog se Ganzenveer.

20 April

Nuus/Kuns: Krog 'gepassioneerd' oor gewilligheid om aan te pas

Rudolf Stehle woon die oorhandiging van die Ganzenveer aan Antjie Krog by

Nuus/Kuns: Toekoms van Afrikaans in bruin hande

Onderhoud met Krog op vooraand van die Gouden Ganzenveer

21 April

Stemme: Een handvol veren

Antjie Krog se bedankingswoord ná die ontvang van die Gouden Ganzenveer-toekenning

23 April

Boekeblad: Groen noir in skakerings van euwel bemeester

Jonathan Amid resenseer Ys deur Rudie van Rensburg

Boekeblad: Bloed drup van dié bladsye

Francois Bekker resenseer Die vyfde aspoester deur Jan Vermeulen

Boekeblad: Heerlike pienk spookasem

JB Roux resenseer Pienk is nie vir sissies nie deur Christien Neser en #PresiesAnders2 deur Cecilia Steyn

Boekeblad: Dié pragstuk ’n skatkis in die kleine

Corné Coetzee resenseer Botanicum deur Kathy Willis en Katie Scott

Nuus/Kuns: Groot lof vir Karin Brynard in VSA

25 April

Nuus: Koop hier boeke ten bate van donkies

27 April

Nuus/Kuns: Franschhoek skud sy literêre vere reg

28 April

Nuus/Kuns: Ruda-boek kyk na mense se stories van verandering

Nuus/Kuns: Jacobs se dogter inspirasie agter wenboek

30 April

Boekeblad: ‘Jagter’ en ‘prooi’ kort dalk nuwe lewe

Jonathan Amid resenseer Kringloop deur Bets Smith

Boekeblad: Monster van ’n boek laat tone krul

Johannes Meyer resenseer Die vloek van Vreesbaai deur De Wet Hugo & Shân Fischer

Die Groot Ontbyt

Willie Burger het in April die volgende boeke op kykNET se ontbyt-TV-program bespreek:

3 April

Alfabet van die voëls en Die derde spoel deur SJ Naudé, as deel van ’n gesprek oor kosmopolitaanse letterkunde.

10 April

As voorbeelde van grootword- oftewel bildungsromans:

  • Die eerste lewe van Colet deur Etienne Leroux
  • Valsrivier deur Dominique Botha
  • Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver
  • Roepman deur Jan van Tonder

17 April

Die fokus is hierdie keer op literêre pryse en onlangse wenners daarvan:    

  • Stukke teater deur Pieter-Dirk Uys
  • Die derde spoel deur SJ Naudé
  • Grom deur Jaco Jacobs en Karen Lilje
  • Kewerknaap deur M.G. Leonard – vertaal deur Kobus Geldenhuys

24 April

  • Slot van die dag deur Karel Schoeman
  • Spertyd deur Elsa Joubert
  • The Secret Diary of Hendrik Groen
  • Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

LitNet

Die volgende Afrikaanse resensies en skrywersonderhoude het in April op LitNet verskyn:

Bet-El deur Helena Hugo: ’n resensie

Maryke Roberts
Resensies

2018-04-25

"Sy skryf die afgelope vyf jaar Christelike fiksie en in Bet-El is dit asof sy regtig die balans tussen storievertel en Christenskap vind. Die boek is aandoenlik en goeie leesstof, ongeag jou geloofsoortuiging."

Die Groenkloof-Rabies – Vyf reise deur Johan Krige: ’n lesersindruk

Irene van Staden
Lesersindrukke

2018-04-24

"Dit is ’n pragtige versameling wat bydra tot die bewaring van beide geskiedkundige gebeurtenisse en kultuurelemente. Dit laat ’n mens wonder oor jou eie erfenis en die bewaring daarvan."

Die lang man sonder skaduwee deur Antoinette Pienaar: ’n resensie

Dawie van Velden
Resensies

2018-04-24

"In haar gesprekke met oom Johannes lig sy die sluier oor die Griekwas se geloof om die mens te help om die fisieke en die emosionele in die liggaam te balanseer sodat die genesing van die gees en liggaam hand aan hand kan gebeur."

Kroniek van turf deur Dolf van Niekerk: ’n FMR-resensie

Jaco Barnard-Naudé
Resensies

2018-04-24

"In Kroniek van turf is die tersaaklike begrip eienaarskap. Van Niekerk se uitbeelding van die twee groepe (of families) in die verhaal spreek van ’n omvattende begrip van die kolonialisme as ’n proses waarvolgens een groep mense grond toe-eien waarmee ’n ander groep mense reeds ’n bepaalde verbintenis het."

Die Babalela-storieboek deur Martie Preller: ’n lesersindruk

Louise Viljoen
Lesersindrukke

2018-04-23

"Die storielyne van die vier verhale is bedrieglik eenvoudig, maar die hope aksie en skitterende dialoog sal enige kinderhart steel."

50 Prutpotgeregte: ’n resensie

Bernie Cronje
Resensies

2018-04-19

"Of jy nou vir ’n gesin geregte maak of besig is om jou eie potjie te krap, kan hierdie resepteboek ingespan word om ’n wye verskeidenheid heilsame etes met minimale inspanning voor te berei."

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) deur André le Roux: ’n resensie

Riette Rust
Resensies

2018-04-18

"As jy met ’n glimlag wil gaan slaap en ook so wil opstaan, geniet elke aand een of twee rubrieke. Jy sal ná die lees van Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) jou lewensmaat, man óf vrou, veel beter verstaan."

Toen met een lijst van nu errond, Herman de Coninck-biografie deur Thomas Eyskens: ’n resensie

Wium van Zyl
Resensies

2018-04-18

"Eyskens sorg dus dat dieptepunte in die lewe en werk van De Coninck naas sy suksesse geplaas word."

Soweto, under the apricot tree deur Niq Mhlongo: ’n resensie

Bettina Wyngaard
Resensies

2018-04-17

"Mhlongo se temas dans ligvoets tussen kultuurverskille (en partykeer -geskille), godsdiens, politiek, moraliteit, misdaad en gewone, outydse goeie storievertellery. Ragfyn verweef deur dit alles is die alledaagse lewe in Soweto, en die wyse waarop mense met hul kultuur omgaan."

Hoe om 'n draak se toorn te tem: ’n kinderboekresensie deur ’n tienjarige

Aden van Niekerk
Resensies

2018-04-12

"Dit is ’n skreeusnaakse boek met ’n goeie storielyn en ek het regtig baie daarvan gehou. Dit is ’n konkelende storie, ’n mens-weet-nie-wat-gaan-gebeur-nie-tipe storie en die grappe is regtig snaaks."

Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt

Jac Conradie
Resensies

2018-04-12

"Die omvang van die boek maak dit ’n nuttige naslaanwerk, nie net wat Afrikaans betref nie, maar ook vir die Germanistiek as sodanig."

Die sin van die hut deur Gilbert Gibson: ’n resensie

Ilse de Korte
Resensies

2018-04-09

"In hierdie sin word die titel dubbelsinnig. Die hut bied beskerming, maar terselfdertyd is daar ook die begeerte om om verskeie redes weg te breek uit die hut uit ..."

Vuurvas deur Carel Anthonissen: ’n resensie

Cas Vos
Resensies

2018-04-04

"In Vuurvas kom talle ervarings en gewaarwordings van menswees ter sprake. Dit strek van die onskuldige aankoms tot die sterwensuitvaart. Alles gebeur in gedigte wat deur ’n gevoelige en taalvaardige hand gemaak is."

Weerlose weerstand: die gaydebat in die NG Kerk deur André Bartlett: ’n FMR-resensie

Danie Botha
Resensies

2018-04-04

"Terwyl ’n mens lees, kry jy dalk insig in probleme en inhoude waaroor jy nog altyd onseker was, waaroor jy dalk skuldig voel. As gay, ouer of vriend kan jy jou byvoorbeeld vereenselwig met die opgetekende ervarings."

Video: openbare domein word bekendgestel

Naomi Bruwer
Skrywersonderhoude

2018-04-19

Daniel Hugo se digbundel openbare domein is Saterdag 14 April in Stellenbosch Protea Boekwinkel bekendgestel. Gunther Pakendorf het met hom gesels.

Bloed/Blut: ’n onderhoud met Coreen Erasmus-Bezuidenhout

Trisa Hugo, Coreen Erasmus-Bezuidenhout
Skrywersonderhoude

2018-04-17

"Dit het my gebring by die liefdesverhaal van Rut en Helmut – ironies, ’n Jodin en ’n Duitser – moontlik met die idee in my agterkop om deur ’n eenvoudige verhaal van verbode liefde die idee van vergifnis en versoening oor te dra."

Maalvleis deur Karen Hart: ’n onderhoud

Naomi Meyer, Karen Hart
Skrywersonderhoude

2018-04-16

"Ek hou daarvan om met kruie- en speserymengsels te eksperimenteer en maak my eie mengsels. Ek het in die kaneelwoude van Sri Lanka leer kerrie kook en dis maklik een van my gunstelinge, met ’n kerriepoeier wat ek self aanmaak."

Video: Vandag wil ek my blou skoene dra word bekendgestel

Naomi Bruwer
Skrywersonderhoude

2018-04-12

Koos Kombuis se digbundel Vandag wil ek my blou skoene dra is Saterdag 7 April in Stellenbosch Protea Boekwinkel bekendgestel. Danie Marais het met hom gesels.

Groot Romanwedstryd 2018: Gerhard Greyvensteyn

Gerhard Greyvensteyn, Naomi Meyer
Skrywersonderhoude

2018-04-05

"Dis ’n misdaadroman, niks ambisieus nie, veronderstel om lekkerlees-ontvlugting te wees."

Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach

Naomi Meyer, Ingrid Winterbach
Skrywersonderhoude

2018-04-05

"Ek vind dat daar altyd genoeg is om oor te lag, maar ook om oor te huil, en genoeg waaroor mens net in stomme verbystering kan staan. Trouens, niks wat ek kan uitdink, kan meeding met sommige van die absurditeite van die Suid-Afrikaanse lewe nie."

Vandag wil ek my blou skoene dra: ’n onderhoud met Koos Kombuis

Koos Kombuis, Naomi Meyer
Skrywersonderhoude

2018-04-05

"Vir my het Vandag wil ek my blou skoene dra gevoel soos ’n bevryding van daardie ou klomp pyn. Dit was soos om jou ore oop te gaap as jy afkom van ’n bergpas."

Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots

Naomi Meyer, Debbie Loots
Skrywersonderhoude

2018-04-05

"Ek dink in die storie, soos in die lewe, help mense mekaar, en leer hulle belangrike lesse op 'n onderbewustelike vlak."

Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché

Naomi Meyer, Jaco Fouché
Skrywersonderhoude

2018-04-03

"Ek werk nie vreeslik metodies aan ’n boek nie en sit met baie notas en fragmente en paragrawe wat dalk nooit gepubliseer sal word nie. Sommige werk wel iewers – ek meet en pas en dwing maar in."

Rapport

Die volgende resensies het gedurende April in Rapport, onder redaksie van Johan van Zyl, verskyn:

1 April

Resensie: Jean Meiring resenseer The Land is Ours: South Africa’s First Black Lawyers and the Birth of Constitutionalism deur Tembeka Ngcukaitobi

Resensie: Jeanne Els bespreek Bet-El deur Helena Hugo

Resensie: Joan Hambidge resenseer Optelklippies deur Antoinette Olivier

Nuut op die rak: Oorsig van die jongste nuwe publikasies

8 April

Resensie: Jan-Jan Joubert resenseer Dawie de Villiers se My lewensreis: Springbok, politikus, diplomaat

Resensie: Joan Hambidge resenseer Openbare domein deur Daniel Hugo

Nuut op die rak: Taalkundige essays, Matabele Rising en If This Be Treason

Resensie: Marian van Wyk bespreek Gifbeker deur Irna van Zyl

Resensie: JB Roux resenseer Bloed/Blut deur Coreen Erasmus-Bezuidenhout 

15 April

Onderhoud: Frederik de Jager in gesprek met Lodewyk G du Plessis oor sy roman Die Dao van Daan van der Walt  

Resensie: Jeanne Els resenseer Ter wille van die vaders deur Marzanne Leroux-Van der Boon

Resensie: Magdel Vorster bespreek twee kinderboeke: Onder my vel: Die storie van hoe ons velkleur begin verander het deur Sindiwe Magona en Nina G. Jablonski, asook Kom ons praat oor waar babas vandaan kom deur Robie H. Harris

22 April

Resensie: Coalition Country: South Africa After the ANC deur Leon Schreiber, geresenseer deur Jan-Jan Joubert

Resensie: Jaco Barnard-Naudé resenseer Vandag wil ek my blou skoene dra, Koos Kombuis se jongste digbundel

Resensie: Jaco Fouché bespreek Ys deur Rudie van Rensburg

29 April

Resensie: Bun Booyens resenseer Tell Me Your Story deur Ruda Landman

Resensie: Anna Kemp resenseer Soweto, Under the Apricot Tree deur Niq Mhlongo

Resensie: Jonathan Amid resenseer Apostle Lodge deur Paul Mendelson

Nuut op die rak: Catching the Thunder: The Race to Save our Oceans from Poachers and Criminal Kingpins, 101 Water Wise Ways en Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer

Maroela Media

Die volgende resensies het gedurende April op Maroela Media, onder redaksie van Suné van Heerden, verskyn:

5 April 

Louise Viljoen resenseer Leeg deur Marlena du Toit, Braam Klopper en Justine Pike

Lees gerus Leeg al het jy dalk nie self deur ’n swangerskapverlies of miskraam gegaan nie. Dit rus jou toe om diegene wat die trauma beleef het, beter by te staan.

20 April

Louise Viljoen resenseer Schalk Schoombie se Tot die dood ons skei

Die vraag wat gevra word, is: “Wat dryf iemand om sy vrou en lewensmaat te vermoor?” Schalk Schoombie ondersoek talle gevallestudies en maak ontstellende bevindinge. Die boek bevat ware verhale van intieme-vrouemoord-slagoffers.

Prontuit

Prontuit is ’n weeklikse aktualiteitsprogram wat die kollig op sosiale en kultuurkwessies plaas. Dit word aangebied deur Kabous Meiring en uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144).

Maandag, 23 April, was Wêreldboekdag en op Prontuit is die wonderwêreld van boeke gevier. Bekroonde joernalis, Ruda Landman, digter en resensent, Danie Marais, en uitgewer by Jonathan Ball Uitgewers, Annie Olivier, gesels met Kabous Meiring.

Hier is die gesprek in drie segmente:

Skrywers en boeke (RSG)

Potgooie van die volgende boekgesprekke, wat gedurende April op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:
http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=270

Woensdag 4 April

Suzette Kotzé-Myburgh gesels met Petrovna Metelerkamp oor haar nuwe Ingrid Jonker-biografie waarin heelwat nuwe inligting oor die bekende digter vervat is. Hoor meer oor die wenners van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd en die wenners van die UJ-pryse. Johan Myburg gesels oor interessanthede uit die internasionale boekewêreld, en gesels ook oor die kortlys vir die Sunday Times/Barry Ronge-fiksieprys vir Engelstalige Suid-Afrikaanse fiksie.

Woensdag 11 April

Ilse Salzwedel gesels met Annelize Slabbert oor haar lekkerlees Kalahari-biografie 'n Luiperd in my bed. Theo Kemp van die Jakes Gerwel-stigting gesels oor wat die stigting alles doen om die letterkunde te bevorder, ook op skoolvlak. In Johan Myburg se insetsel oor internasionale letterkunde kan jy luister na 'n opname uit die 1940's waarin TS Eliot een van sy gedigte voorlees.

Woensdag 18 April

Veelbekroonde digter Bibi Slippers gesels oor die digkuns, die rigting wat Afrikaanse poësie ingeslaan het, en hoe 'n mens 'n gepubliseerde digter word. Johan Myburg deel interessanthede uit die internasionale letterkunde, onder meer die kortlys van die Man Bookerprys.

Woensdag 25 April

Christelle Webb-Joubert gesels met Cecile Cilliers oor haar kortverhaalbundel Die ou vrou en die priester. Ilse Salzwedel gesels met Hayden Eastwood oor sy lewensverhaal Like Sodium in Water. In sy insetsel gesels Johan Myburg onder meer oor die Pulitzerpryse wat onlangs toegeken is.

Vers en klank (RSG)

Potgooie van die poësievoorlesings, wat gedurende April op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:

http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=102

Dinsdag 3 April

Johann Nell lees gedigte wat hom deur die jare al geraak het.

Dinsdag 10 April

Koos Kombuis lees gedigte uit sy nuwe bundel, Vandag wil ek my blou skoene dra.  

Dinsdag 17 April

Danie Marais lees verse uit sy bundel Solank verlange die sweep swaai, met tjellobegeleiding deur HA!Man.

Dinsdag 24 April

Frieda van den Heever lees gedigte van Elisabeth Eybers.

Versindaba

Op hierdie webblad wat gewy word aan die Afrikaanse digkuns en gesprek rondom die poësie, vind besoekers al die mees onlangse resensies en onderhoude in die regterkantste kiesbalk. In dié kiesbalk is ook skakels na nuwe gedigte en blogs oor die poësie.

Bernard Odendaal resenseer Openbare domein deur Daniel Hugo

Voertaal

Westerman sit reis met El Negro en ek voort

Willem de Vries
Literatuur

2018-04-09

"‘Saartjie Baartman was bekend. El Negro minder so. Maar die besondere is dat El Negro een jaar voor die terugkeer van Saartjie Baartman uiteindelik na Botswana gebring en daar begrawe was.’"

Vrouekeur

Willie Burger het gedurende April die volgende resensies en rubrieke gelewer: 

15 April

’n Bespreking van Leonhard Praeg se debuutroman, Imitation

23 April

Ken jou storie: die vyfde aflewering in ’n reeks oor literêre kritiek

27 April

’n Bespreking van outobiografieë deur twee bekendes. Rian van Heerden en Hemelbesem se lewensverhale verskil egter radikaal.

Woorde wat weeg

Joan Hambidge se blog, Woorde wat weeg, is ’n webtuiste waar dié digter-literator sowel gedigte as boekbesprekings, rubrieke en gedagtes rondom die letterkunde versamel en aanbied:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/

Skakels na boekbesprekings vir haar blog asook verskillende publikasies vind besoekers aan dié webblad in die kiesbalk regs van blog-inskrywings.

The post Afrikaanse resensies en boekgesprekke in April 2018 appeared first on LitNet.

Wat elke skrywer moet weet: Laster en die skending van persoonlikheidsregte

$
0
0

In skrywerskontrakte is daar dikwels ’n klousule ingevolge waarvan die skrywer waarborg dat geen gedeelte van sy/haar manuskrip lasterlik is of derde partye se regte sal skend nie. Aanspreeklikheid vir verbreking van dié waarborg berus tipies by die skrywer. Dit is daarom nuttig om te kyk na laster en die skending van persoonlikheidsregte in hierdie aflewering van PEN Afrikaans se artikelreeks, Wat elke skrywer moet weet. Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid vertel meer.

Die doel van hierdie artikel is bloot om inligting te verskaf en ’n basiese uiteensetting te gee van sekere relevante regsbeginsels rakende laster, en nie om regsadvies te voorsien nie. Lesers wat meer wil weet oor die kwessie kan die skrywer van die artikel e-pos (abwessels@sun.ac.za).

Inleidend

Elke individu beskik oor persoonlikheidsregte. Die Suid-Afrikaanse reg erken die volgende persoonlikheidsregte: corpus, dignitas en fama. Eersgenoemde het betrekking op die reg op liggaamlike integriteit terwyl laasgenoemde na die reg op reputasie of goeie naam verwys. Dignitas is ’n sambreelterm en sluit die reg op die eer, die reg op privaatheid asook die reg op identiteit in. Met die publikasie van enige boek is dit moontlik dat ’n individu se persoonlikheidsreg(te) aangetas sou kon word. Byvoorbeeld, indien ’n niefiksie-skrywer persoonlike gegewens oor die gesondheidstatus van ’n ander persoon sou publiseer, sou dit moontlik kon neerkom op ’n skending van daardie persoon se reg op privaatheid. Of, indien ’n skrywer van ’n roman verwys na ’n werklike persoon en haar beskryf as ’n korrupte leuenaar, sou dit die skrywer moontlik kon blootstel aan aanspreeklikheid vir laster. Dit geld ook waar die skrywer nie die persoon se regte naam gebruik nie, maar ’n ander naam aan die karakter gee. Indien die redelike leser sou kon aflei dat die karakter op ’n werklike, herkenbare persoon gebaseer is, sou aanspreeklikheid kon volg.  In die omgewing waarin skrywers en uitgewers hulself bevind, is dit meer waarskynlik dat die publikasie van ’n boek aanspreeklikheid daar kan stel vir skendings van dignitas (spesifiek die reg op privaatheid en moontlik die reg op identiteit) en fama. In hierdie artikel val die fokus egter op die vereistes vir aanspreekliheid vir laster.

Laster en die reg op reputasie of goeie naam

Uit ’n regsperspektief kan laster beskryf word as die opsetlike, onregmatige publikasie van lasterlike bewerings wat na die eiser (die persoon wat belaster word) verwys. Die reg op reputasie het te make met die agting of aansien wat die eiser in die gemeenskap geniet. Indien die eiser van mening is dat hierdie reg aangetas is, sou hy/sy dit kon oorweeg om die skrywer van die lasterlike materiaal te dagvaar vir skadevergoeding (soms word daar eerder na verwys as genoegdoening). In so ’n geval sou die eiser bo ’n oorwig van waarskynlikheid moet bewys dat die skrywer (a) lasterlike bewerings (b) gepubliseer het (c) wat na die eiser verwys. Dit is gewoonlik nie moeilik vir eisers om (b) of (c) te bewys nie en die groot vraag is eerder: wanneer is ’n bewering lasterlik?

Om daardie vraag te beantwoord, volg howe die volgende twee-stap-benadering. Eerstens word gevra: wat is die gewone betekenis van die relevante woord of stelling? Hier fokus die hof nie op die subjektiewe bedoeling van die skrywer nie; inteendeel, die hof steur homself nie aan die betekenis wat die skrywer wou oordra nie en ook nie aan die interpretasie van die spesifieke individue wat die publikasie gelees het nie (ongeag of hulle geglo het of dit waar is of nie, en of hulle minder van die eiser gedink het of nie). Die toets wat hier toegepas moet word, is ’n objektiewe een en die relevante kriterium is daarom watter betekenis die redelike leser van gewone intelligensie aan die stelling sal toeskryf. By die toepassing van hierdie toets word aanvaar dat die redelike leser die stelling in konteks sal verstaan en dat hy/sy nie net ag sal slaan op wat spesifiek gestel word nie, maar ook op wat geïmpliseer word. Die tweede stap van die benadering is om te bepaal of die gewone betekenis van die woord lasterlik is. Hier volg die howe ook ’n objektiewe benadering en word dit aanvaar dat ’n stelling lasterlik sou wees indien dit waarskynlik die aansien van die eiser in die oë van die redelike, gemiddelde persoon aan wie die publikasie voorgehou word, nadelig sal beïnvloed.

Om laasgenoemde te bepaal, is getuienis oor of die waarnemer(s) in werklikheid minder van die eiser gedink het, nie toelaatbaar nie. Howe het al verwys na die volgende stellings as dié wat normaalweg as lasterlik beskou kan word: stellings wat oneerlike, onsedelike of andersins oneerbare optrede aan die eiser toeskryf; stellings wat waarskynlik die eiser kan verneder of verkleineer of wat geneig is om hom/haar uit te maak as dwaas, belaglik of absurd; en stellings wat die eiser blootstel aan minagting of bespotting wat ’n negatiewe invloed sal hê op die respek wat ander teenoor die eiser sal betoon.

Indien die eiser daarin geslaag het om te bewys dat die bewerings wat die skrywer gepubliseer het na hom/haar verwys en, volgens bogenoemde benadering, as lasterlik bestempel kan word, beteken dit nie sonder meer dat die skrywer aanspreeklik is nie. Daar is immers nog twee vereistes vir aanspreeklikheid: opset en onregmatigheid. Anders as in ander gevalle, is die bewyslas egter nie op die eiser om hierdie vereistes te bewys in die konteks van laster nie. Trouens, daar word weerlegbaar vermoed, oftewel aangeneem, dat die publikasie van lasterlike materiaal op opsetlike en onregmatige wyse plaasgevind het. Dit beteken dat die skrywer aanspreeklikheid kan ontduik deur te bewys dat die publikasie van die lasterlike bewerings nie opsetlik gemaak is nie, of dat dit nie onregmatig is nie.

Regstegnies bestaan opset uit wilsgerigtheid en onregmatigheidsbewussyn. Eersgenoemde het te make met die vraag of die skrywer subjektief sy/haar wil gerig het op die teweegbringing van ’n spesifieke gevolg of andersins voorsien het dat dit moontlik sou kon intree. Onregmatigheidsbewussyn, aan die ander kant, verwys breedweg na die vraag of die skrywer subjektief geweet het dat die publikasie van die bepaalde lasterlike bewering onregmatig is.

By die vasstelling van opset, fokus die hof dus op die gemoedstoestand van die skrywer. Die skrywer sou dus sekere verwere kon aanvoer ten einde te bewys dat hy/sy nie opsetlik lasterlike bewerings gepubliseer het nie. Byvoorbeeld, daar kan geargumenteer word dat die skrywer ’n fout gemaak het insover hy/sy werklik subjektief gedink het dat die publikasie regmatig geskied het. ’n Ander gewilde verweer wat opset kan uitsluit, is skerts. Hier sal ’n skrywer moontlik argumenteer dat sy/haar wil nie daarop gerig was om die eiser se reputasie aan te tas nie, maar eerder om die gek te skeer. Ander moontlike verwere wat ’n impak op wilsgerigtheid en/of onregmatigheidsbewussyn kan hê sluit in geestesongesteldheid (emosionele stres), provokasie, jeugdigheid en dronkenskap.

Indien die skrywer se beroep op hierdie verwere egter onsuksesvol was, en dit dus vasstaan dat die publikasie van die lasterlike bewerings opsetlik geskied het, is dit steeds moontlik om aanspreeklikheid te vermy. Die skrywer kan hom/haar beroep op sekere verwere om aan te toon dat die publikasie nie onregmatig was nie. Die vier erkende verwere in hierdie verband word kortliks hieronder omskryf. Skrywers kan egter daarop let dat dit meer waarskynlik is dat die eerste twee verwere op hulle van toepassing is. Beide hierdie verwere sou byvoorbeeld aangevoer kon word indien die staat sou voortgaan met regstappe teen Jacques Pauw oor die inhoud van sy veelbesproke boek, The President’s Keepers, terwyl die laaste twee verwere vanuit ’n skrywersperspektief miskien minder relevant sou wees. Die laaste verweer veral is eintlik gefokus op media-verweerders eerder as individuele skrywers. 

Eerstens kan daar geargumenteer word dat die publikasie van die lasterlike materiaal die waarheid is en ook in die openbare belang was. Om suksesvol te wees, moet albei komponente van die verweer bewys word en dit is dus onvoldoende om bloot aan te toon dat die bewerings waar is. ’n Tweede moontlike verweer is dié van billike kommentaar. Hier kan die skrywer argumenteer dat die bewerings (tipies kommentaar of opinie) gebaseer is op feite. In hierdie konteks dra die grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking besondere gewig en die howe is bereid om kommentaar wat oordrewe of selfs bevooroordeeld is te beskerm solank dit billik en eerlik was. Kommentaar wat kwaadwillig of met onbehoorlike motief gepubliseer is, sal die verweer egter pootjie.

Derdens kan aangevoer word dat die stelling gemaak is in geprivilegeerde omstandighede. Hier kan tussen absolute en gekwalifiseerde privilegie onderskei word, elk met sy eie stel vereistes. Die kern van hierdie verweer is dat die reg sekere stellings – ten spyte daarvan dat dit lasterlik is – moet beskerm op grond van openbare beleidsredes. ’n Laaste verweer wat erken word en veral deur media-verweerders aangewend word, is dié van redelike publikasie. Hierdie verweer is veral relevant vir media-verweerders, d.w.s. media-huise en uitgewers van bepaalde tekste. Om suksesvol te wees, moet bewys word dat die publikasie van lasterlike materiaal in die omstandighede redelik was. Ten einde die redelikheid van die publikasie vas te stel, word ag geslaan op die belang van die algemene publiek om deur die media ingelig te word deur bepaalde kwessies; die wyse waarop gepubliseer is; die toon van die materiaal wat gepubliseer is; die betroubaarheid van die relevante bron op grond waarvan die materiaal gepubliseer is; die stappe wat geneem is om die inligting te verifieer voor publikasie; en of die persoon wat belaster is ’n geleentheid gegun is om kommentaar te lewer voor publikasie.

Lastereise loop hand aan hand met die publikasie en verspreiding van inligting; juis waarmee skrywers, joernaliste en uitgewers hulle bemoei. In plaas daarvan om onverhoeds betrap te word, is dit raadsaam om reeds voor publikasie bedag te wees op die moontlike lasterlike inhoud in ’n manuskrip en die regstappe wat op publikasie daarvan kan volg. 

Lees ook: 

Wat elke skrywer moet weet: Publikasie-ooreenkomste met uitgewers

Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte

Wat elke skrywer moet weet: Testamentêre beskikking van outeursreg in Suid-Afrika

The post Wat elke skrywer moet weet: Laster en die skending van persoonlikheidsregte appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Laat jou ou boeke ’n nuwe blaadjie omslaan

$
0
0

Is jy mal oor jou ou, verwaarloosde hardebandboeke, maar wens jy kon die kuns bemeester om hulle met liefde reg te dokter? Dan is die boekherstelspesialis Peter Packery se kursusse by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl die antwoord op jou drome. Packery – wat meer as vier dekades se ervaring in boekherstel en -bindwerk, insluitend die herstel van uiters waardevolle boeke, onder die blad het – bied van 4 tot 6 Julie 2018 ’n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke aan. Hy was voorheen by die Suid-Afrikaanse Biblioteek se restourasiedepartement betrokke en het vir 26 jaar sy eie boekherstel en -bindbesigheid bedryf. In Oktober vanjaar bied hy ook ’n gevorderde kursus aan.

Geen vooraf kennis word vir die driedagkursus benodig nie. Die inhoud sluit werkprosedures, bindstyle, Japannese en Westerse papier, greinrigting, die dele van die boek en die samestelling daarvan, bladsyherstelwerk en invoeging van los bladsye, kleefstowwe, boekrugherstelwerk asook die herstel van skutblaaie in.

Die tweetalige kursus kos R1 500 per persoon en vind daagliks van 09:00 tot 16:30 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument plaas. Eie gereedskap (waaronder ’n beenmes) kan gebruik word of ’n stel kan teen R200 aangekoop word. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie middagete of van die Volksmond Koffiewinkel gebruik maak.

’n Gevorderde boekherstelkursus wat fokus op gevorderde tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk, vind plaas van 1 tot 3 Oktober 2018. Dit is geskik vir deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het.

Die ATM bied jaarliks ’n hele reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos argivering, taaltoerisme en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Vir meer inligting en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ’n e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.  Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg ons op Facebook.

The post Persvrystelling: Laat jou ou boeke ’n nuwe blaadjie omslaan appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: Mei 2018

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
Persvryheiddag is op 3 Mei wêreldwyd gevier

Hou ’n mens PEN International se kommunikasie dop, is dit gou duidelik dat persvryheid en vryheid van uitdrukking in verskeie wêrelddele onder geweldige druk gebuk gaan. Daar is byna elke dag nuus oor skrywers, digters, filmmakers, joernaliste wat bedreig en vervolg word as gevolg van die werk wat hul doen. Die dood van Daphne Caruana Galizia, ’n prominente ondersoekende joernalis wat veral staatskorrupsie oopgevlek het, bly ’n herinnering aan presies hoe gevaarlik dit kan raak om verslag te doen oor sake waaroor ander wil hê jy moet swyg  – in Malta, maar ook in ander wêrelddele.

Op Wêreldpersvryheiddag salueer ons joernaliste, dink na oor die beweegrede vir die viering en beskerming van persvryheid, en belig ook struikelblokke wat daar mag wees. Dit is ongetwyfeld in die openbare belang dat joernaliste sonder onredelike beperkings hul werk kan doen.  

PEN International het in samewerking met PEN-sentrums van oor Afrika ’n veldtog geloods teen laster as strafregtelike oortreding. Dit is iets wat nog in verskeie Afrikalande deel van die reg is, ook in Suid-Afrika, en dit word as ’n ernstige struikelblok vir persvryheid en vryheid van uitdrukking beskou. ’n Kort video oor die veldtog is hier beskikbaar.
 

Kort voor die viering van Wêreldpersvryheiddag het ons kennis geneem van kommerwekkende beriggewing deur die Independent Media-groep. In ’n berig wat in verskeie van dié mediagroep se koerante verskyn het, is joernaliste uitgekryt as “Stratcom agents” omdat hulle verslag gedoen het oor die finansiële status van Sagarmatha Technologies, ’n maatskappy waarby Independent Media ingelyf sou word. Lees gerus PEN Afrikaans se reaksie hierop.

Uitnodiging: deelname aan internasionale kuns- en vredesprojek

 

PEN Turkye het onlangs PEN-sentrums wêreldwyd genooi om deel te neem aan ’n kunsprojek ter bevordering van wêreldvrede. Kinders (7 - 14 jaar) word genooi om iets te teken of verf in reaksie op "Kız Çocuğu", ’n ikoniese gedig deur die gevierde Turkse digter, Nazım Hikmet (1902-1963).  Dit is beskikbaar in Engels en in Afrikaanse vertaling, met groot dank aan bekroonde digter en PEN Afrikaans-bestuurslid, Charl-Pierre Naudé.

Ons vra lede van PEN Afrikaans om dié uitnodiging onder ’n kind / kinders wat mag belangstel se aandag te bring. Daar sal ’n kalender uit die projek voortvloei, asook ’n uitstalling van geselekteerde kunswerke by die Nazım Hikmet Centre of Culture and Arts in Istanbul.

Die kunswerke kan in swart-en-wit of volkleur wees. Die afmetings van die karton waarop dit geskep moet word, is 50 cm x 70 cm. Potlode, kryte, pastel, water- of olieverf kan gebruik word.

Digitale foto’s of skanderings van kunswerke moet asseblief teen 1 Junie gestuur word na penafrikaans@gmail.com sodat ons dit kan indien. Ons sal in verbinding wees indien PEN Turkye die oorspronklike kunswerk versoek.

Artikelreeks: Wat elke skrywer moet weet

Daar is twee nuwe artikels beskikbaar vir belangstellende lesers.

In die eerste gee Lee-Ann Tong van die Universiteit Kaapstad se Departement Handelsreg ’n oorsig van wat skrywers moet weet voordat hulle ’n kontrak met ’n uitgewer aangaan. Sy verwys daarin na APACT, ’n handige gids oor kontraksterme wat hier beskikbaar is. Lees haar artikel hier.

In die jongste artikel gee Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Departement Privaatreg ’n uiteensetting van laster vir skrywers en uitgewers. Dit is hier beskikbaar.

Taalgenoot se Somer 2018-uitgawe
 
Artikels en resensies uit Taalgenoot se Somer 2018-uitgawe is gratis in PDF-formaat op ons webportaal beskikbaar. Dankie aan die Taalgenoot-redaksie.

Sien onder andere die rubriek waarin Rudie van Rensburg vertel watter Afrikaanse boeke hom as skrywer beïnvloed het.
 
 
Aansoeke ingewag: PEN Afrikaans Vertaalfonds
 
Die sluitingsdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds is 15 Mei. Buitelandse uitgewers wat Afrikaanse boeke in vertaling wil uitgee, kan tot dan ’n befondsingaansoek indien. Die volgende sperdatum is 15 September. Sien gerus die artikel wat Publishing Perspectives oor die fonds geplaas het.

’n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in April

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Mei

Hier is, ten slotte, ’n lys van Afrikaanse boeke wat in Mei verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Mei 2018 appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Media se blinkste sterre vereer

$
0
0

Joernaliste swoeg en sweet daagliks te danke aan moeilike onderhoude, dreigende spertye wat aan hul hakskene kom hap en redakteurs wat soms die onmoontlike verwag. Voeg daarby die harde werk wat dit verg om ’n TV-reeks aanmekaar te slaan of om deur middel van radio luisteraars se verbeelding aan te gryp, en jy kan tot die gevolgtrekking kom dat die medialandskap duidelik nie vir sissies is nie.

Daarom is die media se blinkste sterre Vrydagaand by die ATKV-Mediaveertjies vir hul uitstekende werk en deursettingsvermoë vereer.

Die geleentheid is by die stylvolle Katy’s Palace Bar in Kramerville, Sandton, gehou.

Die nimlike Kim Cloete, bekende aktrise, onder meer bekend vir haar rol in Binnelanders, was vanjaar se seremoniemeester.

Afgesien van die toekennings het die kitaargenie, Loki Rothman, en die saksofoonspeler, Hiram Koopman, die gaste met hul talente vermaak.

Volgens Nita Cronjé, bestuurder: kunste en feeste by die ATKV, word die ATKV-Mediaveertjies jaarliks gehou om die media se uitnemendheid te bekroon.

“Ons wil erkenning gee aan die belangrike rol wat die media in die huidige samelewing speel om die publiek in te lig, op te voed en te vermaak. Hulle rol is van kritieke belang,” sê Nita.

Vanjaar is daar in die volgende kategorieë meegeding: Lees, Luister en Kyk. Digitale bydraes vorm deel van al drie kategorieë.

Die wenners is soos volg:

Luister

Willim Welsyn

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n joernaalprogram

  • Willim Welsyn – WAT met Willim Welsyn – Podsending

Beste insetsel in ’n joernaalprogram

  • Johan van Lill – RSG Kuns: Oude Libertas 40 jaar – RSG

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram

  • Phil Loots – Fiks vir die lewe: Om te gee – RSG

Beste insetsel in ’n nuus- of aktualiteitsprogram

  • Izak du Plessis – Monitor: Paternoster Vissers – RSG

Beste joernaalprogram

  • Ilse Salzwedel – Skrywers en boeke: Die woordketting – RSG

Beste nuus- of aktualiteitsprogram

  • Melissa Tighy – Spektrum: Landwye betogings teen Zuma – RSG

Beste dokumentêre program of programreeks

  • Jamaine Krige – Knysna: Na die brande – RSG

Beste insetsel in ’n opvoedkundige program

  • Marianne Breytenbach – Net medies: Aannemings – Pretoria FM

Beste teks vir ’n radiodrama of -teater

  • Marion Erskine – Akwarius – RSG

Beste regisseur van ’n radiodrama of -teater

  • Bettie Kemp – Akwarius – RSG

Beste aanbieder by ’n gemeenskapsradiostasie

  • Su-an Müller-Marais – Su-an en so aan – GROOTfm 90

Lees

Leti Kleyn

Beste in-diepte artikel

  • Leti Kleyn – Die Tankwa-Karoo kan ’n kind heel opvréét – Die Burger

Beste ondersoekende joernalistiek

  • Jacques Myburgh – Woordsmid met ’n ruim hart – Huisgenoot

Beste persoonlikheidsprofiel

  • Gerard Scholtz – In die nabyheid van bome – DeKat

Beste kunste-resensie

  • Elmari Rautenbach – J.M. Coetzee as jeugdige fotograaf – Die Burger

Beste leefstylstorie

  • Murray La Vita – Viriel en peperduur: Ontmoet Karoo se goue ram – By: Die Burger & Netwerk24

Beste essay, rubriek of opiniestuk

  • Marita van der Vyver – Julle wat teister: Dis tyd om te luister – Rapport Weekliks

Beste sportartikel

  • Suzette Truter – Kind van die wind – By: Die Burger

Beste gemeenskaps- of plaaslike koerant

  • DistriksPos/District Mail – Redakteur: Tasmin Cupido

Kyk

Verhalende genres

Louis Pretorius

Beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama

  • Louis Pretorius – Die Boekklub – kykNET

Beste regisseur vir ’n dramareeks of enkeldrama

  • Jaco Bouwer – Waterfront – kykNET

Beste dramareeks of enkeldrama

  • Bobby Heaney – Erfsondes – SABC 2

Beste akteur in ’n dramareeks of enkeldrama

  • De Klerk Oelofse – Die Boekklub – kykNET

Beste aktrise in ’n dramareeks of enkeldrama

  • Antoinette Louw – Swartwater – SABC 2

Aktuele genres

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n joernaalprogram

  • Johnny Davids – Kwêla: Kurt Minnaar & Hillary Geslin – kykNET

Beste insetsel in ’n joernaalprogram

  • Bertus Louw – 50/50: Finland bere – SABC 2

Beste joernaalprogram

  • Paul Venter – Kwêla – kykNET

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram

  • Waldimar Pelser – KN Verslag in gesprek – kykNET

Beste insetsel in ’n aktualiteitsprogram

  • Byron Taylor – Fokus: Die groot gryp – SABC 2

Beste nuusinsetsel

  • Jacques Broodryk – KN Verslag: Zimbabwegrens – kykNET

Beste nuus- of aktualiteitsprogram

  • Wynand Dreyer & Christelle Parrot – Megaboere: Graham Rae – kykNET

Beste dokumentêre program of programreeks

  • Carien Loubser – Jan – Via

Beste vermaaklikheidsprogram

  • Wynand Dreyer & Christelle Parrot – Amira – kykNET

Beste aanbieder van ’n vermaaklikheidsprogram

  • Emo Adams – Jou show – kykNET

Foto's: Bernard Brand

The post Persvrystelling: Media se blinkste sterre vereer appeared first on LitNet.


Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: indrukke van die dag

$
0
0
  • Op Saterdag 12 Mei het ’n geskiedkundige gesprek, “Khoekhoegowab in die kollig” (KKG-dialoog), by die Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands plaasgevind. Die gesprek is aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en !AL-OM (!Alom Aboriginal Customary Council). Menán van Heerden het foto’s geneem (Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: fotogalery).

  • Lees Christo van Rensburg se artikel oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans hier.

Sprekers en deelnemers lewer kommentaar oor die gesprek:

Glynn Alard

My indruk van Saterdag se vergadering is bo alles positief. Dit was interessant dat niemand ons doel vir saamtrek om ’n taal bevraagteken het nie. Dit was tasbaar dat die aanleer van Khoekhoegowab (oftewel Nama) iets dieps aanraak. ’n Trots, ’n plek in die son, ’n bewys van Afrikaan-wees, inboorling-wees, nes ons mede-inheemse Suid-Afrikaners. Die raadstigting gee been en vleis aan die vele gemeenskapspogings wat hul erfenis en identiteit in hul eie hande neem. Dit blyk dat die grondslagwerk wat tans deur vrywilligers gedoen word, die eintlike krag van die poging is, en wat dit so volhoubaar maak. Al is daar hier en daar effense teenstrydige motiewe, het ons kans hier in Kaapland om etniese, rasse-, politieke en leiersbakleiery van die hand te wys. Die aantrekkingskrag van die taal is groot genoeg om ons doelwit helder te laat skyn en gee ons die woorde om brûe mee te bou tussen ons gemeenskappe. Die sentrale gereg van taal maak dit moontlik om baie potte om een vuur gaar te maak.

Catherine Arendse

Soms sien mens nie die harde werk en toewyding wat mense doen om jou kultuur en taal te bevorder nie, maar die eindproduk van hierdie gesprek is baie goed, want daardeur sal talle mense se lewens geraak sal word. Ek is bly dat !AL-OM en die Afrikaanse Taalraad betrokke is by die projek. Wat die samewerkingsooreenkoms betref, sal ons bande versterk in Afrikaans, ons oorlewingstaal en Khoekhoegowab, ons oeroue taal.

Al wat ek sê, is dankie vir die groot stap in die regte rigting.

John Cornelius Witbooi

Namagowaba is een van Suid-Afrika se oudste tale. Weens apartheid en ander historiese faktore kon die taal nie gepraat word nie, nog minder beskerm of bevorder word. Baie Khoin-Khointale het reeds uitgesterf. Namagowaba is slegs een van twee Khoin-Khointale wat oorleef het, waarvan Namagowaba by verre die sterkste is. Die meeste Khoin-Khoingemeenskappe assosieer hulle met Namagowab.

Om vir Pedro Dausab by die werksessie te kry as hoofspreker, maar ook as taalkenner, was ’n uitstekende idee. Hy het daarin geslaag om die onderskeid te tref tussen Namagowab en Khoekhoegowab. Dit het alle onduidelikheid uit die weg geruim. Hy het verder gegaan deur te beklemtoon dat die fokus moet val op Namagowaba. Die Khoin-Khoingemeenskappe in Suid-Afrika sal baie gereeld moet bid dat die Here hom moet seën met baie goeie gesondheid en ’n baie lang lewe. Hy is inderdaad ’n groot bate vir die Khoin-Khoingemeenskappe.

Ek was ook beïndruk deur die goeie gees waarin die werksessie plaasgevind het, asook die insette wat gelewer is. Die erns en toewyding van die leiers teenwoordig het ook beïndruk.

Die samestelling van ’n voortsettingskomitee het die erns beklemtoon. Om twee vroueleiers, by name Celeste Matthews-Wannenburgh as voorsitter en Jamie-Lee Adendorf as sekretaresse, te kies om die interimstruktuur te lei, is goeie blootstelling vir vroue in leierskap. My beste wense vergesel hulle.

Die samestelling van die interimstruktuur skep ook goeie balans, deurdat dit jeug, vroue, taalaktiviste, taalkundiges en inheemse leiers insluit. Ek kan nie wag dat die Namagowaba Taalraad die lewe sien nie – hoe gouer hoe beter.

Ter afsluiting: die Afrikaanse Taalraad se betrokkenheid waarborg die totstandkoming van die Namagowaba Taalraad. Conrad Steenkamp en Ria Olivier se toewyding en hardwerkendheid het oor die jare ’n onuitwisbare indruk op my gelaat. My boodskap aan hulle is: gaan voort met die goeie.

Jatti Bredekamp

Die erfgoedlike simboliek van die !AL-OM Aboriginal Customary Council STELLEN-WC024-BOSCH se KKG-taaldialoog-inisiatief te SASNEV in Pinelands, in vennootskap met die Afrikaanse Taalraad, was vir my die Saterdagmôre gou duidelik as genooide waarnemer. Uit van die gespreksgenote se spraaksamigheid kon mens vinnig aflei dat passievolles daar bymekaargebring is om te praat oor ’n Khoekhoegowab-taalinisiatief ter bevordering van die herlewing van ’n gemarginaliseerde Wes-Kaapse inheemse Afrikataal waarvan min Suid-Afrikaners dusver kennis geneem het. 

Die dialoog die oggend het gou ’n verwarrende onsekerheid onder die oorwegende Afrikaanssprekers laat blyk: of Khoekhoegowab nie net ’n nuwe modenaam vir die minder onbekende Nama-taal is nie; ’n reeds gemarginaliseerde Afrikataal van hul Khoesan-voorouers van veral die ou Namakwaland. Dit is ook die taal waarmee sommige aanwesiges die afgelope paar jaar in na-uurse spesiale klasse by die Kasteel de Goede Hoop vertroud geraak het. Danksy die ewe passievolle toespraak van die taalkundige Pedro Dausab as geleentheidspreker is groter duidelikheid in die debat op voetsoolvlak gebring. Derhalwe was dit vir die meeste gaandeweg duidelik dat Nama die benaming is vir ’n eiesoortige inheemse Khoekhoetaal teenoor die meer geleerde term Khoekhoegowab as oorkoepelende benaming vir die familietaalgroep waarvan Nama, Damara en ander deel vorm. Dit het vir my ook die tema van die geleentheid duideliker verklaar: “Khoekhoegowab in die kollig”. In dié opsig het veral die gespreksfasiliteerder, Timo Gonnema van stamhoof Karel King se !AL-OM, en die ATR se skribant van die dag, Conrad Steenkamp, hul besonder goed van hul vennootskaplike taak gekwyt.

Dit was ook onder hul rigtinggewing dat sprekers aansluiting gevind het by verwysings na die besondere simboliese betekenis van die KKG-taaldialoog-byeenkoms in Pinelands. Aansluitend hierby het die ATR-beampte Ria Olivier my in haar afsluiting versoek om kortliks ’n ruimtelik-historiese konteks oor my vroeëre verbintenis met die SASNEV-bymekaarkomplek in die laat 1990's te deel. Sodoende kon ek die gehoor kortliks meedeel dat dit toe bekend was as het Huis der Nederlanden met die aankoop, verbouing en uitbreiding van die kompleks; alles deur die finansiële tussenkoms van die Willem de Zwijgers-stichting in Nederland. Die aanvanklike doel en oogmerk was om ’n “kultureel-opvoedkundige sentrum [daar] te vestig en in stand te hou vir die bevordering van die Nederlandse taal en die Nederlandse-Vlaamse kultuur in samehangende kulturele wetenschaplike uitinge”. Binne die verstandhouding is dit gratis beskikbaar gestel vir gebruik deur die Stichting Huis der Nederlanden, synde die medeoprigters van die Huis der Nederlanden. Kenmerkend van die destydse vennootskap is steeds, ook selfs meer onder SASNEV, die bedryf van die omvangryke Sentrumbiblioteek en ’n uitreik na gemarginaliseerde Afrikaanstaliges in die nuwe Suid-Afrika. ’n Gepaste ruimte vir die historiese eerste gesprek waartydens die Khoekhoegowabtale in die kollig geplaas is.

Willa Boezak

Ek dink die beginpoging om al die klein en groter Wes-Kaapse Khoigroepe wat die Namataal wil leer praat, onder een sambreel te bring, is lofwaardig. 

Celeste Matthews-Wannenburgh

Voorsitter: Voortsettingskomitee

Ons beskeie vergadering onder begeleiding van Ria Olivier en Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad was emblematies van die belangrikheid van die pleeg van ons nasie se Nama-erfenis en die geskiedenis van ons historiese erfenis. Onder gesprek was die geskiedenis van ons Khoi-voorvaders wat tussen die Kaap en die groot expanses van die Namib- en Kalahariwoestyn getrek het. Asook die herstel van die kulturele waardigheid vir die “kleurling”-gemeenskappe, en veral ons jeug, en die restitusie van hul voorvaderlike fabels, tradisies en tale. Dit is fundamenteel as ons ooit gesien gaan word as gelyke akteurs in ’n groter Afrikaanse verhaal, as mense met ’n geskiedenis (hul eie geskiedenis). Die byeenkom van verskillende drade van mense van die “gekleurde” familieboom herinner my wat die plig is van unearthing en die beskerming van die fragmente waar ons Nama-erfenis val vir ons “kleurlinge” wat in die hede staan: word hulle kinders van die ernstige Griekwa, die vetdruk-Koranna-ruiters, of die kus- Goringhaikona. Ons kinders moet hul deel in Suid-Afrika se storie leer ken en verstaan in ons verhale – beide antiek en modern.

Pedro Dausab

Almal teenwoordig het gretig bydraes gelewer. Elkeen wat iets gesê het, was opgewonde met ’n gees wat iets gesê het soos: “Sal iets regtig met ons taal gebeur?”

Veral die Stellenboschgroep het selfs met hul lyftaal laat blyk dat hulle baie ingenome is met die idee dat die Khoekhoetaal hervat sal word. Eers met die kleintjies en daarna in die skole. Is dit miskien omdat hulle reeds op ’n informele basis by die Universiteit Stellenbosch tweeweekliks met elementêre klasse begin het?

Die idee van ’n kleiner werkgroep wat binnekort gaan ontmoet om die voorstelle te bespreek en te konkretiseer, is ’n goeie verwikkeling. Ek sien daarna uit.

Lees ook:

Die taal (Namataal Khoe-khoegowab)

Khoekhoegowab, ti ǂnīsasib

Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920

Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

Ontronding in Kharkamsafrikaans?

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

 


Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: fotogalery

Timo Gonnema (!Alom Aboriginal Customary Council)

Karel King (!Alom Aboriginal Customary Council)

Conrad Steenkamp (uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad)

Willa Boezak

Pedro Dausab (Khoekhoegowab-kundige)

Denver Breda

John Cornelius Witbooi

Hendrik Theys (die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad)

  • Foto's: Menán van Heerden

The post Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: indrukke van die dag appeared first on LitNet.

Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans

$
0
0
  • Op Saterdag 12 Mei het ’n geskiedkundige gesprek, “Khoekhoegowab in die kollig” (KKG-dialoog), by die Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands plaasgevind. Die gesprek is aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en !AL-OM (!Alom Aboriginal Customary Council).

  • Lees sprekers en deelnemers se indrukke van die dag hier.

Christo van Rensburg is gevra om meer oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans te skryf:

Die Kaapse Khoi-Khoi was die eerste van die Khoi-stamme wat Afrikaans aangeleer het. Dit het gedurende die vyftigjaarperiode van 1595 af gebeur voordat die VOC-verversingspos in 1652 onder Van Riebeeck gevestig is. Khoi-Afrikaans het ontstaan as gevolg van die kontak tussen verskeie Khoi-groepe wat die Kaapse weidingsgronde gereeld besoek het en die seelui van die Hollandse skepe wat die Kaap sporadies besoek het. Hulle wou ’n kommunikasietaal vir handelsdoeleindes geskep het. Khoi-Afrikaans het goed wortel geskiet, en word vandag nog gepraat. Die Kaapse Khoi-Khoi was nie net die eerste sprekers van Afrikaans nie: die eerste tekste in Afrikaans is in die 1670’s ook in Khoi-Afrikaans opgeteken.

Die funksies van ’n taal is in ’n hoë mate aan die ekonomiese krag van sy sprekers gekoppel. Voor die einde van die 17de eeu is die Khoi-Khoi se veestapels so geërodeer dat hulle hulle ekonomiese waarde vir die Kaapse samelewing van daardie tyd verloor het en ook die ekonomiese rugsteun vir die behoud van hulle taal. Die Khoi-Khoi moes hulle vir assimilasie aan, en oorlewing in, die samelewing van die Kaap, en later in die binneland, op hulle Afrikaans verlaat wat vir werkgewers verstaanbaar was. Hierdie Afrikaans was hulle eie Khoi-Afrikaans met ’n duidelik herkenbare Khoi-basis, ’n voortsetting van hulle eerste Afrikaans.

Moderne formele en informele Afrikaans vertoon baie invloede van Khoi-Afrikaans wat grammatika betref, soos sinstrukture (Hy wat Gert is), woordstrukture (aanja, bly staanstaanmaakloop staan slaap, oompie-goed), uitspraak (gjel naas geld), hoë vokale (wiet naas weet), woorde sonder -r in eindposisie (probee naas probeer), en talle uitdrukkings. Plekname dwarsoor Suid-Afrika (Grootrivier uit Gariep) beklemtoon die sprekers van Khoi-Afrikaans se wisselwerking met die Suid-Afrikaanse bodem. Oorsigtelik: in die Adam Small-trant het daar al baie poësie in die idioom van Khoi-Afrikaans verskyn, dieselfde manier waarop Hans du Plessis sy Griekwa-psalms geskryf het. Elias Nel se verhale pas ook hierby, asook Nathan Trantaal se bydraes. Met die oop-opname-beleid van die jongste AWS sal die aandeel van Khoi-Afrikaans aan formele Afrikaans toeneem.

Daar is tans baie nasate van Khoi (en ook San, wat ’n aanvegbare verdeling kan wees), wat vaardig is in húlle Afrikaans, maar wat ook, ooreenkomstig hulle woongebied, een (of meer) van die ander Suid-Afrikaanse tale praat, of tale wat noord van Suid-Afrika bekend is.

Christo van Rensburg (Foto: Izak de Vries)

Hierdie nasate identifiseer hulle met ’n verskeidenheid van dosyne stamme, groepe, taalvorme en dialekte, meestal noord van Suid-Afrika, waaronder !Xuntali, ǁGana, ǀXam (wat op ons landswapen gebruik is), ǀGui, Ju/’hoan, Khwe, Khwedam, Kxoe, N/u, Nama, Naro, Shua en Tshwa, om maar enkeles te noem. Die oorhoofse naam Khoekhoegowab pas in hierdie gevalle goed: -gowa beteken “taal” (vgl goba of gowa, wat ook “praat” beteken), en Khoekhoe is ’n variant van Khoi-Khoi. Nama is heelwaarskynlik die enigste vorm van Khoi wat tans in Suid-Afrika gepraat word.

Die Khoi-Khoi se Khoi-Afrikaans en Standaardafrikaans is dig verweef, en sprekers van Khoi-Afrikaans skakel gemaklik van een variëteit oor na die ander. Vir die meeste sprekers van Khoekhoegowab is Standaardafrikaans hulle onderrigtaal. In Standaardafrikaans is al talle ondersoeke na Khoekhoegowab gedoen, waaronder grammatikabeskrywings en woordelyste en woordeboeke. Self sit die nasate van die Khoi-Khoi hulle volksverhaal- en volksliedjietradisie in hulle Khoi-Afrikaans voort. Ook in Engels is al beskrywings van Khoekhoegowab gedoen, al van die einde van die 19de eeu af, asook vertalings van die ryk oorlewerings van |Xam-literatuur, hoewel dit in ’n mindere mate ook in Afrikaans gebeur. In Engels kry mens ’n blik op die inhoud van die vroeë rotskuns.

Hoe waardevol kan dit nie wees om die kollig te laat val op taal- en kultuuraktiwiteite wat in Khoekhoegowab gewortel is nie.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Só maak Afrikaans ons

Die taal (Namataal Khoe-khoegowab)

Khoekhoegowab, ti ǂnīsasib

Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920

Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

Ontronding in Kharkamsafrikaans?

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

!Xun Bible translation: an interview with Masenyani Baloyi

Interview: Die Ju / 'hoan Tsumkwe Dialect / Prentewoordeboek vir Kinders / Children’s Picture Dictionary

 

The post Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans appeared first on LitNet.

ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

$
0
0

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters,Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Japie Gouws, huidige voorsitter van die ATR

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is in sy 10de bestaansjaar een van die mees inklusiewe en verteenwoordigende organisasies in Afrikaanse geledere.

Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark. Nie net verteenwoordig die ontstaan en geskiedenis van Afrikaans ʼn diverse taalgemeenskap nie, maar dit is in 2018 ʼn inheemse Afrikataal wat deur baie Suid-Afrikaners gepraat en verstaan word.

Die ATR beywer hom vir moedertaalonderrig, wat Afrikaans en al die ander inheemse tale insluit, aangesien dit oor en oor bewys is dat leerders beter vaar indien hulle in hul moedertale onderrig word.

Die erfenis en stories van Afrikaanssprekendes dra by tot nasiebou en versoening. Kreatiwiteit in Afrikaans skep uitstekende geleenthede vir die opleiding en ontwikkeling van jongmense om hul volle potensiaal te bereik.

Die ATR is uitstekend geposisioneer vir die uitdagings en geleenthede vir Afrikaans in die volgende eeu.

Japie Gouws
Voorsitter, Afrikaanse Taalraad

Lees ook:

ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

Wannie Carstens
Menings

"Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg."

 
ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

Michael le Cordeur
Menings

"Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

Anne-Marie Beukes
Menings

"Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

The post ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer appeared first on LitNet.

ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

$
0
0

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters, Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Anne-Marie Beukes, derde voorsitter van die ATR 

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) bereik op 24 Mei met die viering van ons eerste dekade op die Suid-Afrikaanse taalakker ’n besonder belangrike mylpaal. Die beweging om, in die rosige gloed van ons jong demokrasie in die vroeë 2000’s, ’n nuwe taalliggaam vir Afrikaans te vestig, was in baie opsigte opwindend, en op die keper beskou, nogal dapper. Dit was indertyd duidelik dat ons diverse taalgemeenskap verenig moes word en dat ’n inklusiewe liggaam van Afrikaanse taalbelanghebbers ‘n rol sou kon speel om ’n vaste staning vir ons taal in die nuwe dagbreek te bewerkstellig.

Oor die loop van die afgelope dekade het die ATR sy voete moes vind en die akker daadwerklik begin bewerk. Daar is koppe bymekaar gesit en gestamp, daar is saam besin en gestry, gewik en geweeg oor hoe om ’n inklusiewe en lewenskragtige “tuiste in eie taal” in te rig, om Jaap Steyn se woorde te gebruik. ’n Tuiste vir die Afrikaanse taalgemeenskap moes ’n woning wees met verskillende kamers waarin ’n verskeidenheid huisbewoners in geborgenheid tereg kon kom.

Nou, aan die begin van die tweede dekade, het die ATR haar kinderskoene ontgroei en word toenemend aktief op voetsoolvlak betrokke. Daarby word daar nou, in erkenning van ons land se taalverskeidenheid, ook uitgereik na ander inheemse taalgroepe. Die energieke uitleef van Afrikaans se verbondenheid by ’n diverse taallandskap aan die suidelike punt van Afrika bring die moontlikheid van nuwe sinergie en taalkontak. En dít bied die hoop dat die vele oorgelewerde mites oor die aard en rol van Afrikaans en haar sprekers – waarvoor ons steeds gekortwiek word – oor ’n breë front konstruktief uitgedaag kan word.

Die vraag onstaan dan wat die uitwerking sou wees van sulke transformerende kragte op Afrikaans se rol in die onderwys en die ekonomie, om maar twee domeine te noem, en ook in Suid-Afrika se onverkwiklike taalpolitiek in die breë. In hierdie tye waarin ons leef, sal die verhouding tussen die staat en die burgery herskryf moet word ten einde ’n deelnemende demokrasie te vestig. In só ’n konteks sal die rol van die burgerlike samelewing en nieregeringsliggame soos die ATR al hoe belangriker word om ’n gees van deelnemende, aktiewe taalburgerskap in Suid-Afrika te laat posvat.

Ek is vol vertroue dat die ATR in die toekoms ’n beduidende rol gaan speel om Afrikaans haar regmatige plek in ons taallandskap te laat inneem. Ek glo dat ons daarin sal slaag om ’n “goedvoel”-idee oor Afrikaans in ons taalgemeenskap te vestig, ’n gevoel van welsyn ín en déúr Afrikaans. Daarby glo ek ook dat die ATR daarin sal slaag om groter kennis en begrip oor Afrikaans by ons medelandsburgers en ons owerhede te kweek. Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang.

Lees ook:

ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

Wannie Carstens
Menings

"Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg."

 
ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

Michael le Cordeur
Menings

"Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

Japie Gouws
Menings

"Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

The post ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei appeared first on LitNet.

ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

$
0
0

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters, Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Michael le Cordeur, tweede voorsitter van die ATR

Dit was in Maart 2011 dat Breyten Breytenbach voorspel het dat Afrikaans binnekort sou uitsterf omdat dit nie meer dieselfde amptelike status as tevore geniet nie en veg om oorlewing by universiteite. Wannie Carstens, toe die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en ek self, toe nog ondervoorsitter van die ATR, het egter ander planne gehad.

Ons was allermins bereid om boedel oor te gee. Met ons ywer en passie vir Afrikaans wou ons as twee goeie vriende die gevierde digter en voormalige politieke gevange verkeerd bewys.

Die struggle en apartheid    

In haar artikel beskryf die Beeld-joernalis Susan Cilliers (2011:3) my en Wannie Carstens se verskillende belewenisse van apartheid as volg:

Vir Michael het apartheid onder meer beteken dat sy klere in die struggle-jare letterlik in sy lyf in geslaan is, en sy ma dit uit die wonde moes trek. Prof Wannie Carstens se beperkte ervaring van apartheid was volgens homself dat hy weens Suid-Afrika se isolasie in die ‘70’s nie as akademikus na Nederland kon gaan nie. Carstens het in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) grootgeword, grootliks onaangeraak deur segregasie, terwyl Le Cordeur as bruin jongeling in Wellington in die Wes-Kaap die lelikste momente daarvan beleef het.

Dié omstandigheidskontraste sou egter nie in die pad staan van twee vriende wat ’n diep liefde vir Afrikaans deel nie – ’n vuur wat in albei begin brand het danksy onderwysers soos Hennie Brand (in Suidwes) en Adam Small (in Wellington) wat die wonderlike wêreld van die Afrikaanse woord vir twee jong seuns oopgemaak het.

Carstens (in Cilliers 2011:3) onthou apartheid so: “Dit was ’n tyd van intense politieke woelinge. Die 1976-Soweto-opstand teen Afrikaanse onderrig het die persepsie oor Afrikaans as onderdrukkerstaal op die spits gedryf. Ironies genoeg het die UDF destyds ’n stem vir die massas geword – in Afrikaans.”

Dit was duidelik dat die Afrikaanssprekende gemeenskap nie so kon aangaan nie. Dit was Carstens en Le Cordeur se droom om die Afrikaanse gemeenskap te help versoen.

Hierdie besef en die legio Afrikaanse organisasies wat op hul “eie hopie koning gekraai het” (Cilliers 2011), was die motivering agter ’n gedagtegang wat veral sedert 2003 onder Carstens en ander taalliefhebbers begin posvat het.

Die twee mense wat as die mede-stigters van de ATR beskou kan word, Wannie Carstens (eerste voorsitter) en Michael le Cordeur (eerste ondervoorsitter en tweede voorsitter)

Aanloop tot die stigting

Die stigting van ’n taalbelangeraad is gefundeer op die Suid-Afrikaans Grondwet (1996) wat dit vir elke taal in die land moontlik maak om ’n taalbelangeraad vir elke taal te skep.

’n Historiese taalberaad is in Februarie 2007 in Pretoria gehou waar ek ’n pleidooi vir die stigting van ’n raad wat Afrikaanssprekendes kan verenig, gelewer het:               

Daar moet wyd gekonsulteer word om die raad inklusief en verteenwoordigend te maak.   Pogings moet veral aangewend word om ook Afrikaanssprekendes te betrek wat nie aan bestaande Afrikaanse organisasie behoort nie. Ons moet absoluut seker maak dat ons niemand uitsluit nie. (Le Cordeur 2007)

Die vergadering is opgevolg deur ’n byeenkoms op 14 April 2007 by die Universiteit Stellenbosch (US) onder die vaandel van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), die voorloper van die latere ATR, en is deur verteenwoordigers uit ’n breë spektrum van die Afrikaanse taalgemeenskap bygewoon. Die hoofdoel van die byeenkoms was om ’n strategie te formuleer vir die totstandkoming van ’n inklusiewe taalbelangeraad. Die gesprek is deur die destydse rektor van die US, Russel Botman, geopen.

Wannie Carstens het veral drie redes aangevoer waarom ’n taalbelangeraad nodig was:

Eerstens maak wetgewing voorsiening vir die stigting van ’n taalraad wat as statutêre liggaam na die belange van Afrikaans sou omsien. Tweedens is daar die groeiende gevoel dat Afrikaans gemarginaliseer word. Die derde grootste rede is die voortsetting van die bemagtiging van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe deur die ontwikkeling van vaardighede deur Afrikaans. (Merton 2007:3)

Op my beurt het ek die inklusiwiteit van die voorgenome raad beklemtoon:

Die stigting van ’n Afrikaanse taalbelangeraad sal slegs bestaansreg hê as hy al die sprekers van Afrikaans kan bemagtig terwyl dit ook tot voordeel van Suid-Afrika se ander inheemse tale behoort te wees. (Merton 2007:3)

Die vergadering het eenparig besluit dat in beginsel die stigting van ’n taalbelangeraad in die vooruitsig gestel word. Carstens (in Merton 2007:3) het beklemtoon: “Dis nou die era van dinge DOEN vir Afrikaans.”        

Op sy beurt het die uwe (in Merton 2007:3) as volg gereageer: “Die tyd was nog nooit so ryp as juis nou nie.”

Die eerste bestuur onder leiding van Wannie Carstens

Die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR)

Op 4 Augustus 2007 is daar ná bykans vier jaar se gesprekke geoordeel dat die tyd aangebreek het om aansoek te doen vir die registrasie van ’n liggaam wat sou instaan vir die belange van Afrikaans ingevolge artikel 185 van die Grondwet. Die Taalraad het gevolglik aansoek gedoen om akkreditasie by die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe.

Die ATR het op Saterdag 24 Mei 2008 amptelik sy beslag gekry as ’n liggaam wat die Afrikaanse taalgemeenskap wou versoen en byeen wou bring. Dié geskiedkundige oomblik het afgespeel in die ewe historiese Goodnow-saal in my tuisdorp, Wellington. Altesaam drie gassprekers het by die geleentheid opgetree.

Henry Jeffreys, toe nog Die Burger se redakteur, het die historiese belang daarvan uitgelig dat bruin en wit leiers die visie gehad het om saam ’n tree vorentoe te gee in die belang van Afrikaans.

Die tweede gasspreker was Theuns Eloff, op daardie stadium die rektor en visekanselier van die Noordwes-Universiteit. In sy referaat getiteld “Sê sjibbolet” maan hy dat die pad vorentoe nie maklik gaan wees nie. Eenheid tussen wit Afrikaanstaliges was reeds moeilik, wat nog te meer tussen wit en bruin en swart sprekers.

Franklin Sonn, eertydse ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN) en deesdae ’n sakeman, was die derde gasspreker. Hy het daarop gewys dat Afrikaans in die toekoms ten beste slegs een taal tussen baie sal wees. Gevolglik pleit hy dat Afrikaanssprekendes hulle stem in die diversiteit eerder as net binne die Afrikaansgroepvorming moet laat hoor.

Die tweede bestuur onder leiding van Michael le Cordeur, saam met Adam Small by die eerste ATR Kokergeleentheid in die Paarl.

’n Droom bewaarheid

Uiteindelik, na ’n lang proses wat op 13 September 2003 begin het, het die breë Afrikaanse taalgemeenskap die voorgestelde Akte van Oprigting eenparig aanvaar.

Die byeenkoms is deur meer as 40 organisasies bygewoon – die grotes, die kleineres, van die noorde tot die suide. Die organisasies is verteenwoordig deur ongeveer 100 beraadgangers wat meer as 500 000 mense verteenwoordig het.

Wannie Carstens is as voorsitter verkies en ek is verkies tot ondervoorsitter met Jacques van der Elst as sekretaris en Danny Titus, uitvoerende direkteur van die Afrikaanse Taal-en Kultuurvereniging (ATKV), as die fondsbestuurder.

Die ander lede van die eerste direksie was Alana Bailey, Gerrit Brand, Francois Bredenkamp, Louise Combrinck, Hennie de Wet, Ria Olivier, Karel Prinsloo, Hendrik Theys, Piérre Theron en Christo van der Rheede.

Logo en leuse

Die kokerboom is as simbool vir die ATR se logo gekies omdat dit ’n toonbeeld van oorlewing is. Dit is ’n vaalgroen plant met heldergeel blomme wat floreer in ’n dorre landstreek al is daar min hoop op oorlewing. Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek (ATR 2008:4).

 

Die ATR is gestig as “’n geregistreerde, niewinsgewende sambreelorganisasie wat Afrikaans wil bevorder deur met ander Afrikaanse organisasies saam te werk en projekte help. Dit wil die Afrikaanse taal en taalgebruikers bemagtig en beskerm.” Gevolglik het die eerste bestuur dit goedgedink om die volgende leuse vir die ATR te aanvaar:

         Bemagtig – bevorder – beskerm.

Kerneels Lourens (Beskerming van Afrikaans) en Adam Small (Bevordering van Afrikaans) en ontvang die eerste Kokertoekennings van die ATR.

Ton Vosloo ontvang 'n Kokertoekenning van die ATR vir Bemagtiging deur Afrikaans.

Bronnelys

Afrikaanse Taalraad (ATR). 2008. Bekendstellingsblad. http://www.afrikaansetaalraad.co.za.

—. 2009. Akte van Oprigting. http://www.afrikaansetaalraad.co.za.

Brand, Gerrit. 2008. Taalraad gestig in Wellington. Carstens tot voorsitter gekies. Die         Burger, 26 Mei, bl 4.

Carstens, Wannie. 2009. Eerste Jaarverslag van die Afrikaanse Taalraad, Pretoria. 26        Augustus.

Cilliers, Susan. 2011. Een van daardie WOW-oomblikke: Afrikaanse organisasies deel nou hul kennis. Beeld, 3 Januarie, bl 11.

Eloff, T. 2008. Sê sjibbolet. Referaat by die Stigting van die ATR te Wellington. 24 Mei.

Jeffries, Henry. 2016. In DF Malan se stoel. In Ons kom van vêr. Kaapstad: Naledi.

Le Cordeur, Michael. 2007. Inklusiewe taalliggaam benodig. Referaat by Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA). 16 Februarie. Pretoria.

Merton, Millicent. 2007. Afrikaanse Taalraad moet ook ander dien. Die Burger, 16 April, bl 3.

Michael le Cordeur is die voorsitter van die Departement Kurrikulumstudies van die Universiteit Stellenbosch.

Lees ook: 

ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

Wannie Carstens
Menings

"Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

Anne-Marie Beukes
Menings

"Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

Japie Gouws
Menings

"Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

The post ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid appeared first on LitNet.

ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10!

$
0
0

Die Afrikaanse Taalraad is op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die historiese Goodnowsaal gestig. Ter viering van die 10-jaar-mylpaal het die vorige direksievoorsitters, Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, sowel as die huidige voorsitter, Japie Gouws, boodskappe ter gelukwensing geskryf.

Wannie Carstens, eerste voorsitter van die ATR

24 Mei 2018. Dit is een van daardie gedenkwaardige datums in die geskiedenis van Afrikaans. Dit wat as gevolg van hierdie datum tot stand gekom het, gee vir Afrikaans ruimte vir beweging vorentoe.

Ek verduidelik hier onder waarom ek so sê.

Ek het die voorreg gehad om betrokke te wees by die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad – as medestigter en as eerste voorsitter (2008–2011). Ek kyk daarom met vreugde en ’n groot mate van trots terug op die pad wat geloop is om hierdie liggaam gevestig te kry.

Die agtergrond

Afrikaans se verlede tel teen hom, of ons dit wil weet of nie. Die rede is heel eenvoudig: dit is voorgehou as ’n taal van hoofsaaklik wit sprekers terwyl die werklikheid anders was, want daar was nog altyd meer bruin sprekers van Afrikaans as wit sprekers. In hierdie proses het daar enorme verwydering ingetree tussen die wit en bruin en swart sprekers van Afrikaans, en die toepassing van die apartheidsbeleid – wat in ’n groot mate uitgevoer is in die monde van wit sprekers van Afrikaans – het hierin ’n groot rol gespeel. Laat dit duidelik gesê word.

Die kloof tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans was groot en die woede teenoor wit sprekers se betrokkenheid by negatiewe politieke gebeure was nog groter.

In die belang van Afrikaans en sy inklusiewe sprekersgemeenskap moes hierdie gaping op die een of ander manier oorbrug word. Maar hoe oorbrug ’n mens so ’n gaping, een wat aan die een kant gebou was op ’n kloof tussen gemeenskappe op grond van velkleur, maar aan die ander kant van mense wat dieselfde taal praat? Hoe kom ’n mens op die punt dat jy wantroue, woede, skaamte oor die verlede en die begeerte om nouer te skakel, versoen?

Die proses

In September 2003 het so ’n proses begin. Die FAK het toe in Pretoria ’n simposium aangebied met as tema “’n Groter voetspoor vir Afrikaans”. Oudjoernalis Annie Olivier het die konteks hiervoor geskep toe sy in ’n artikel in Beeld gevra het hoe Afrikaans meer inklusief kan wees. En ek en Christa van Louw het aansluitend hierby gewerk met die idee van ’n “nasionale strategie vir Afrikaans”.

Dit het ’n uiters belangrike proses aan die gang gesit (en dis die proses wat hier van kardinale belang is, omdat die produk sonder die proses van min waarde sou wees). Dit het naamlik gelei tot die FAK se simposium (georganiseer deur Hennie de Wet), die totstandkoming van ’n voortsettingskomitee (wat die gedagtes verder moes neem), die eerste nasionale Afrikaanse Taalberaad (Augustus 2004), die tweede nasionale Afrikaanse Taalberaad (2007), die Nasionale Forum vir Afrikaans (2005–2007), talle kleiner en ook groter gespreksbyeenkomste op verskeie plekke in die land, en uiteindelik tot die gedenkwaardige stigting van die Afrikaanse Taalraad op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington se beroemde Goodnow-saal op die Wellingtonkampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT).

Ons was gelukkig dat befondsers ook ons drome gedeel het en aan ons die middele (geld, lokale), gegee het om te kon aangaan met die proses: eers Rapport (dankie Tim du Plessis!), Solidariteit (dankie Flip Buys!) vir die beginfondse en daarna die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, FAK, Vriende van Afrikaans, Dameskring, en andere. Lokale van verskeie instansies (SA Akademie, FAK, Solidariteit, SBA, ATKV, Afrikaanse Taalmuseum, universiteite (Stellenbosch, Pretoria)) kon gratis benut word vir gesprekke, vergaderings, berade, simposiums. Dikwels is daar selfs vir die verversings betaal. Dankie! Toe het die Dagbreektrust ingekom en soveel deure oopgemaak sodat die ATR finansieel kon voortgaan (dankie Theuns Eloff!)

Nie net die proses om te praat was belangrik nie, maar veral dit waaroor gepraat is.

Ons het gepraat oor ons drome vir ’n inklusiewe Afrikaans, van ’n Afrikaans waaroor anders gedink sal word as in die verlede (as ’n taal waarin apartheid toegepas is), van ’n Afrikaans wat sy volle sprekersgemeenskap sou betrek by denke oor ons taal in die nuwe Suid-Afrika, van ’n Afrikaans wat sy volwaardige plek in die nuwe bedeling ná 1994 moes inneem.

Ons het ook gepraat – en by tye heel indringend, reguit, eerlik en opreg – oor hoe ons onderlinge wantroue kan afbreek, hoe ons nader aan mekaar as mense kan beweeg, hoe ons ons denke oor ons taal en ons sprekersgemeenskap kon verruim. En by tye was die gesprekke pynlik. Maar ons het veral gepraat oor hoe ons kan versoen. Want versoening in die kringe van Afrikaans was die hooftema op die tafel.

As sprekers van Afrikaans moes ons opnuut ontdek wat die volle gemeenskap deel, maar ons moes ook leer hoe om oor die gaping van die verlede te kom.  En dit was nie maklik nie. Aan die wit kant moes geleer word om te luister, harte oop te maak en te help om deel van die oplossing te wees, en aan bruin kant moes daar die kans kom om die pyn van die verlede te verwoord, ook oor die talle verlore kanse vir soveel mense.

Gesamentlik moes ons die strewe deel om te versoen: om reg te maak, maar ook om te vergewe en saam te werk in die belang van ons almal se hartstaal. Dit beteken nie dat vergeet word nie, maar dat ’n manier ontwikkel moes word om dit te hanteer. Ons moes Afrikaans dus transformeer van een toestand na ’n ander, na een waarin álmal in die Afrikaanse gemeenskap deel het. Dit was nie maklik nie, sal diegene kan getuig wat by die stigtingsproses betrokke was.

Die resultaat

Tien jaar later (2008–2018) is die ATR goed gevestig, en doen die ATR wonderlike werk op hierdie herstelpad van die Afrikaanse gemeenskap. Die ATR bemagtig steeds (daar is nog baie werk te doen om die volle Afrikaanse gemeenskap in die hoofstroom in te trek), bevorder (ons kan nie op ons louere rus nie) en beskerm steeds (Afrikaans kan nie aan ander se genade oorgelaat word nie).

Die werk hiermee is nog ver van klaar en ons moet die huidige bestuur van die ATR (en toekomstige besture) die nodige steun gee om hulle werk te kan doen. Die vorige besture wat die spit- en vestigingswerk gedoen het, in die besonder die eerste bestuur, verdien hier besondere vermelding. En dit is ook nie altyd maklik om samewerking te kry nie, want in die Afrikaanse taalgemeenskap wil elkeen mos graag “sy eie ding doen”.

In hierdie proses het soveel mense baie hard meegewerk, dikwels ten koste van gesinstyd, van die verwaarloos van loopbane, en dikwels ook op eie koste. Hierdie mense is die ware helde van Afrikaans, want vir hulle was die groot ideaal van ’n versoende Afrikaanse gemeenskap belangrik genoeg om hierdie opofferings te maak.

Die ATR se vestigingstyd is nou verby. Hierna volg die regte werk! Bemagtig, bevorder en beskerm het oneindig baie dimensies wat in die toekoms aandag moet kry, ook in die lig van die enorme (politieke?) druk op Afrikaans. Afrikaans loop gevaar om van sy funksies te verloor, en hierdie proses moet omgedraai word.

Die Afrikaanse gemeenskap durf nie die impak van die ATR se werk onderskat nie, omdat die ATR die ruimte help skep het (en dit nog verder verfyn) waarbinne ons ons Afrikaansheid in die land uitleef en ook waarbinne ons stappe gedoen het om nader aan mekaar as gemeenskap te beweeg.

Doe zo voort!

Geluk, ATR, met jou tiende verjaarsdag!

Lees ook:

ATR vier 10 jaar: ’n Droom bewaarheid

Michael le Cordeur
Menings

"Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR het haar kinderskoene ontgroei

Anne-Marie Beukes
Menings

"Dit is van groot belang dat die ATR in ons ontluikende demokrasie ’n opwekker van taalvitaliteit en -sinergie sal wees. Ons bydrae om ’n gesonde taalekologie vir Suid-Afrika te verseker is van kardinale belang."

 
ATR vier 10 jaar: Die ATR is uitstekend geposisioneer

Japie Gouws
Menings

"Die ATR is onvermoeid besig om Afrikaans as een van die belangrikste inheemse tale van Suid-Afrika te bemark."

 
Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening

Wannie Carstens
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"In hierdie artikel kom die toekoms van Afrikaans ook ter sprake [...] vanuit [...] hoe die taal se toekoms verseker kan word deur die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hierby te betrek. In watter mate die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie rol kan vervul, en die werk wat hierdie liggaam sedert 2003 gedoen het, word hier bespreek."

The post ATR vier 10 jaar: Geluk liewe maatjie ... Die ATR is 10! appeared first on LitNet.

Wat elke skrywer moet weet: Die reg op privaatheid

$
0
0

In hierdie artikel bekyk Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerheid ’n volgende aspek van persoonlikheidsregte: die reg op privaatheid en wat skrywers moet weet oor privaatheidskending.

Hierdie artikel is bloot ’n algemene uiteensetting. Lesers met spesifieke vrae kan die skrywer kontak by abwessels@sun.ac.za.

Inleidend

In die vorige artikel is aangedui dat elke individu oor seker persoonlikheidsregte beskik: corpus, dignitas en fama. Terwyl eersgenoemde verwys na die reg op liggaamlike integriteit het laasgenoemde betrekking op die reg op reputasie of goeie naam. Dignitas is ’n sambreelterm en sluit die reg op die eer, die reg op privaatheid asook die reg op identiteit in. Dit is moontlik dat, met die publikasie van ’n bepaalde boek ’n skrywer inbreuk sou kon maak op ’n individu se persoonlikheidsreg(te). Dit is verder so dat, in die omgewing waarin skrywers en uitgewers hulself bevind, die publikasie van ’n boek meer waarskynlik aanleiding sou kon gee tot aanspreeklikheid vir skendings van dignitas (spesifiek die reg op privaatheid en moontlik die reg op identiteit) en fama as die reg op corpus. In die vorige artikel is die basiese regsbeginsels wat van toepassing is op laster en die skending van ’n persoon se reputasie kortliks en breedweg omskryf. In hierdie artikel word die aandag egter geplaas op privaatheidskending. Wat is privaatheid vir die doeleindes van die siviele (deliktuele) aanspreeklikheid? Hoe vind privaatheidskendings tipies plaas? En kan die skending van die reg op privaatheid geregverdig word sodat aanspreeklikheid nie volg nie?

Wat behels die reg op privaatheid?

Ten einde te slaag met ’n siviele (deliktuele) eis vir privaatheidskending, sou ’n eiser moet kan bewys dat die skrywer op (a) opsetlike, (b) onregmatige wyse (c) die eiser se reg op privaatheid geskend het. Dit gee aanleiding tot die vraag: wat behels die reg op privaatheid binne die konteks van siviele (deliktuele) aanspreeklikheid? Eenvoudig verwoord, behels dit die reg om alleen gelaat te word. Meer spesifiek dit verwys na die mees persoonlike aspekte van ’n persoon se bestaan, wat nie normaalweg met die algemene publiek gedeel word nie. Dit is inligting wat byvoorbeeld verband hou met ’n persoon se gesondheidstatus, seksuele oriëntasie, finansiële posisie, leefstyl, gesinslewe asook inligting wat vertroulik is of verband hou met ’n persoon se jeug, agtergrond of geskiedenis.

Dit is belangrik dat voornemende skrywers moet onthou dat, in beginsel, elke persoon die reg het om te besluit watter aspekte van sy/haar lewe privaat is en wat privaat gehou moet word. Verder het individue ook die reg om te besluit watter inligting geopenbaar mag word en ook onder watter omstandighede sodanige openbaarmakings mag geskied. Dit word daarom aanbeveel dat skrywers moet ooreenkom met relevante individue wat moontlik geraak kan word deur die toekomstige publikasie van ’n boek om sodanige persoon se toestemming te verkry vir die bekendmaking van enige private inligting. 

Hoe word inbreuk gemaak op privaatheid?

Indien iemand ’n skrywer aanspreeklik sou wou hou vir privaatheidskending, sou daardie persoon moet bewys dat die skrywer op opsetlike, onregmatige wyse inbreuk gemaak het op sy/haar reg op privaatheid. Inbreukmaking op die reg op privaatheid kan op twee maniere plaasvind: indringing of openbaarmaking. Indringing het basies te make met ’n direkte inbreukmaking op ’n persoon se privaatheidsreg. Dit sal plaasvind waar ’n skrywer byvoorbeeld ongemagtigde toegang verkry tot private inligting wat gedeel word met ’n ander persoon tydens ’n briefwisseling of e-pos-korrespondensie. Of waar ’n skrywer luister na ’n private gesprek tussen twee of meer persone.

Die openbaarmaking van private inligting vind normaalweg plaas wanneer ’n skrywer private inligting oor die eiser (wat byvoorbeeld deur indringing verkry is) aan ander persone bekend maak. Waar ’n mens met skrywers en uitgewers te make het, word dit tipies bekend gemaak deur middel van die publikasie van ’n boek. ’n Goeie voorbeeld kan gevind word in ’n belangrike uitspraak deur die Konstitusionele Hof oor privaatheidskending – daar het die skrywer die gesondheidstatus van die eisers gepubliseer en bekend gemaak aan ’n groot gehoor.

Privaatheidskendings moet op opsetlike en onregmatige wyse geskied

Indien die eiser geslaag het om te bewys dat die skrywer inbreuk gemaak het op sy/haar reg op privaatheid, beteken dit nie sonder meer dat die skrywer aanspreeklik is nie. Daar is immers nog twee vereistes vir aanspreeklikheid: opset en onregmatigheid.

Soos verduidelik in die vorige artikel wat oor laster gehandel het, bestaan opset uit wilsgerigtheid en onregmatigheidsbewussyn. Eersgenoemde het te make met die vraag of die skrywer subjektief sy/haar wil gerig het op die teweegbringing van ’n spesifieke gevolg of andersins voorsien het dat dit moontlik sou kon intree. Onregmatigheidsbewussyn, aan die ander kant, verwys breedweg na die vraag of die skrywer subjektief geweet het dat wat hy/sy doen onregmatig is. By die vasstelling van opset, fokus die hof dus op die gemoedstoestand van die skrywer. Die skrywer sou dus sekere verwere kon aanvoer ten einde te bewys dat hy/sy nie opsetlik die eiser se reg op privaatheid geskend het nie. Byvoorbeeld, daar kan geargumenteer word dat die skrywer ’n fout gemaak het in sover hy/sy werklik subjektief gedink het dat die publikasie regmatig geskied het. Ander moontlike verwere wat ’n impak op wilsgerigtheid en/of onregmatigheidsbewussyn kan hê sluit in skerts, geestesongesteldheid (emosionele stres), provokasie, jeugdigheid en dronkenskap.

Indien die skrywer se beroep op hierdie verwere egter onsuksesvol was, en dit dus vasstaan dat die publikasie van die private inligting opsetlik geskied het, is dit steeds moontlik om aanspreeklikheid te vermy. Dit kan die skrywer doen deur sekere verwere aan te voer wat daarop gemik is om aan te toon dat die publikasie nie onregmatig was nie. Onregmatigheid het uiteindelik te make met die vraag of, met inagneming van die regsoortuiging van die gemeenskap asook relevante beleidsoorwegings, dit redelik sou wees om die skrywer aanspreeklik te hou vir die inbreukmaking op die eiser se reg op privaatheid. In hierdie konteks sal dit belangrik wees om te onthou dat elke individu se gemeenregtelike reg op privaatheid ook grondwetlike beskerming geniet, terwyl die Grondwet terselfdertyd ook skrywers se reg op vryheid van uitdrukking verskans. Dit mag ook relevant wees of die openbaarmaking van sekere private feite in die openbare belang is.

Die mees relevante erkende verweer in die konteks van die reg op privaatheid is toestemming. Met ander woorde, indien die eiser sy/haar toestemming gegee het daartoe dat die skrywer toegang kan verkry tot sekere private feite en dat dit bekend gemaak (gepubliseer) mag word, sou sodanige publikasie as regmatig beskou word en sal die skrywer dus nie aanspreeklik gehou kan word nie. In hierdie verband moet die skrywer egter onthou dat toestemming ook verkry moet word op die wyse waarop publikasie mag geskied en aan wie die private inligting geopenbaar mag word. Verder is dit ook relevant om daarop te let dat toestemming tot die publikasie van seker private feite nie sonder meer beteken dat die skrywer enige ander feite rakende die eiser sonder sy/haar toestemming mag publiseer nie. 

Lees ook:

Wat elke skrywer moet weet: Laster en die skending van persoonlikheidsregte

Wat elke skrywer moet weet: Publikasie-ooreenkomste met uitgewers

Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte

Wat elke skrywer moet weet: Testamentêre beskikking van outeursreg in Suid-Afrika

The post Wat elke skrywer moet weet: Die reg op privaatheid appeared first on LitNet.


Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Mei 2018

$
0
0

Hier is PEN Afrikaans se oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Daar is ook skakels na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is.

Boeke24

Die volgende resensies en boekverwante artikels het gedurende Mei in die Afrikaanse dagblaaie verskyn – onder redaksie van Laetitia Pople, die nasionale kuns- en vermaakredakteur, en Jo Prins, nasionale boekeredakteur:

3 Mei

Nuus: Totsiens aan ’n ‘eiesoortige, eksentrieke boheem’ (ná die dood van Cas van Rensburg)

Nuus: Nobelprys vir letterkunde dalk nie toegeken

4 Mei

Nuus: Seksskandaal pootjie Nobelprys vir letterkunde

7 Mei

Boeke: ’n Opwindende nuwe stem
Riette Rust resenseer Bloed/Blut deur Coreen Erasmus-Bezuidenhout

Boeke: Die eenvoudige les van Silwer Moolman
Boekevat-rubriek, Jo Prins

8 Mei

Profiel: Deur die oë van Ingrid Jonker (Petrovna Metelerkamp)

10 Mei

Nuus/Kuns: Keur van Houellebecq-verse nou in Afrikaans

14 Mei

Boeke: Pen maak hier van papier ’n towertapyt
Marius Crous resenseer Openbare domein deur Daniel Hugo

Boeke: ‘Eat, Pray, Love’ vir Afrikaanse lesers
JB Roux resenseer Selma en Louise deur Susan Coetzer

Nuus: 3 Afrikaanse skrywers op ST-kortlys

15 Mei

Kuns: Cecile ’n gebore storieverteller

Nuus: Kortlyste vir Media24 Boeke se pryse bekend

17 Mei

Nuus/Kuns: Wolfe se woorde ‘soos ’n warm bad’ (oor die dood van Tom Wolfe)

18 Mei

Nuus/Kuns: Jeugboek van Jacobs in Italiaans vertaal

21 Mei

Boeke: ’n Nuwe woordeskat vir koerslose Daan
Willie Burger resenseer Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis

22 Mei

Nuus: Loud and Yellow Laughter wen Ingrid Jonker-prys

23 Mei

Nuus: ‘Een van die grootstes’ (oor die dood van Philip Roth)

24 Mei

Nuus: 60 uiteenlopende aanbiedings op VS-literatuurfees

28 Mei

Boeke: Marais se ‘groen gesprek’ duur voort
Bibi Burger resenseer Insektarium deur Johann Lodewyk Marais

Boeke: Kruger se skandes herinner aan Zuma
Fransjohan Pretorius resenseer Skermutselings en skandale deur Heinie Heydenrych

Boeke: Murray tref weer met haar kierieboek
Ilza Roggeband resenseer Kop in die wolke in Kromkieriefontein deur Milan Murray, Charmaine Nolte en Marisa du Toit

Boeke: Keiharde karakters in dié lekkerleesboek vir die winter
Johanna van Eeden resenseer Dors deur Marinda van Zyl

29 Mei

Nuus/Kuns: Dié klassieke stories huppel weer  

31 Mei

Nuus/Kuns: Schalk deel staaltjies met ’n skeut Erns

Die Groot Ontbyt

Willie Burger het in Mei die volgende boeke op kykNET se ontbyt-TV-program bespreek:

1 Mei

  • Go, Went, Gone deur Jenny Erpenbeck

8 Mei

  • Die uur van die engel deur Karel Schoeman 

15 Mei

  • 1000 stories oor Johannesburg deur Harry Kalmer

22 Mei

  • Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis

29 Mei

  • Philip Roth en Tom Wolfe se werk word bespreek.

LitNet

Die volgende Afrikaanse resensies en skrywersonderhoude het in Mei op LitNet verskyn:

Waar rats die ribbok gaan ... saamgestel deur Sarel Venter: ’n resensie

Elkarien Fourie
Resensies

2018-05-31

"Elsabe Steenberg moes haar kreatiewe lewe nie net met die liefdesdiens aan haar gesin en gemeenskap balanseer nie, maar ook met die 'gog', soos sy haar siekte genoem het. Humor en treffende beelde in die gang van gewone lewensfases te midde van lyding dra tot die leesgenot by."

Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen: ’n resensie

Nadine Petrick
Resensies

2018-05-31

"Dit is wél ’n baie goeie begin vir ’n skrywer wat vir die eerste maal in die bokskryt klim en sy hand aan bloed en derms waag."

Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer deur Daan Prinsloo: ’n resensie

Elbie Adendorff
Resensies

2018-05-30

"As ’n algemene gids en ’n handleiding oor die skryf en lewering van toesprake, slaag Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer in sy doel en kan as nuttige hulpmiddel gebruik word wat beide teoretiese aspekte en praktiese wenke in een bruikbare gids saamvoeg."

Blom in die hare deur Kristel Loots: ’n resensie

Yolanda Wessels
Resensies

2018-05-28

"Sy skryf graag oor vroue wat sy raakloop, en vertel die stories wat sy om haar hoor. By almal sien sy ’n universele begeerte: iemand om lief te hê en iemand wat vir jou lief sal wees."

’n Luiperd in my bed deur Annelize Slabbert: ’n resensie

Dawid de Wet
Resensies

2018-05-24

"Lanklaas het ek ’n boek gelees wat my tegelykertyd só laat lag het, laat terugdink het aan my eie ervarings in die bos én met soveel stof tot nadenke oor ons alledaagse bestaan gelaat het."

Ek & jy: verhoudings wat werk deur Louis Awerbuck en Lise Swart: ’n lesersindruk

Barend van der Merwe
Lesersindrukke

2018-05-23

"Dis nie ’n boek van komplekse filosofie nie. Die filosowe word baie vlugtig besoek, en dan begin die nare waarhede uit die blaaie uitklim. Mense trou met vreemdelinge."

Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis: ’n resensie

Dewald Koen
Resensies

2018-05-23

"Na twee dekades (en seker baie wyn tydens die bepeinsing oor wat professor doktor Opperman as verruklike poësie sou beskou het) het ’n nuwe digbundel uit Koos se pen verskyn."

Jong lesers: Vandag is ek ’n windlawaai deur Philip de Vos

Karla Sandrock
Jong lesers

2018-05-17

"As jy nou al volwasse is, sal die manier waarop Philip de Vos die woorde weef, jou laat terugverlang na jou kinderjare. Ek is nege jaar oud, in graad 4 (standerd 2), en soek altyd nuwe boeke om te lees – ’n mens kan nooit genoeg hê nie."

Sterre en planete: ’n lesersindruk

Barend van der Merwe
Lesersindrukke

2018-05-16

"Dit is ’n uitdaging om die sterrekunde toeganklik te maak vir die leek, en die boek vul ’n belangrike gaping in daardie opsig."

Jong lesers: Grilgrypers – die vloek van Vreesbaai deur De Wet Hugo

Jana van Nieuwenhuyzen
Jong lesers

2018-05-16

"En asof dít nie reeds genoeg is om 'n huiwerige leser aan die gang te kry nie, beloof hierdie onheilspellende boek as ’n welkome bonus ook nog 'n stewige dosis hoendervleis, koue rillings en kriewels!"

Ter wille van die vaders deur Marzanne Leroux-Van der Boon: ’n resensie

JB Roux
Resensies

2018-05-14

"Is dit verkéérd om ’n boek te skryf wat eerstens daarop gerig is om inligting te gee, met intrige en karakterontwikkeling in die tweede plek?"

Confessions oor kerkwees deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk

Barend van der Merwe
Lesersindrukke

2018-05-10

"Vir vyf, party weke ses, dae per week, werk ek vir agt ure skouer aan skouer saam met Suid-Afrikaners van elke ras, net om die sewende dag vir ’n uur elkeen in ons eie kerkie te gaan sit. Ons kan saam werk, maar ons kan nie saam ’n godsdiens beoefen nie."

Jong lesers: Onderwêreld deur Fanie Viljoen

Renaldo van der Merwe
Jong lesers

2018-05-10

"Ek beveel hierdie boek aan vir almal, jonk en oud, om te probeer agterkom wat met Eckardt Wilken gebeur het en watter geheime rondkinkel in albei karakters se lewens."

Leer lees en skryf vir graad 1, 2 en 3 deur Mart Meij: ’n resensie

Zesta Vorster
Resensies

2018-05-09

"Die leeslesse en handskrif- en taaloefeninge in dié werkboeke sal leerdertjies se woordeskat verbeter, hulle help om met selfvertroue en begrip te lees, hulle help om die uitspraak van klanke korrek aan te leer, en hul handskrifvaardighede help ontwikkel."

If this be treason deur Helen Joseph: ’n resensie

Bettina Wyngaard
Resensies

2018-05-08

"If this be treason, geskryf deur beskuldigde twee in die verhoor, Helen Joseph, slaag meesterlik daarin om ons daaraan te herinner dat daar vlees-en-bloed-mense agter die statistieke van hierdie marathonhofsaak was."

Pharos Afrikaansgids deur Nicol Faasen: ’n resensie

Zesta Vorster
Resensies

2018-05-02

"Leerders, onderwysers, studente, belangstellendes en lees- en leergierige boekwurms, maak plek vir hierdie knap gids met sy mooi blou baadjie."

Somer deur Jaco Fouché: ’n resensie

Dewald Koen
Resensies

2018-05-02

"Fouché bespreek talle temas in die roman: emigrasie, godsdiens, seksualiteit, vriendskap, geestesgesondheid, armoede, misdaad, afwesige ouers, rassisme en stereotipering kom aan bod."

Tot die dood ons skei deur Schalk Schoombie: ’n resensie

Carla van der Spuy
Resensies

2018-05-02

"Enigeen van ons kan ’n moord pleeg. Ek. Jy. Enigeen."

Rympies vir kleintjies en kleuters, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit

Winnie Nel
Resensies

2018-05-02

"Elke grondslagfase-opvoeder en dramajuffrou soos ek is voorwaar baie dankbaar vir so ’n allesomvattende rympiesboek."

Die dao van Daan van der Walt – en die dao van Lodewyk G du Plessis

Naomi Meyer, Lodewyk G du Plessis
Skrywersonderhoude

2018-05-23

"Die karakter (teken) in Chinees vir dao wat 'weg' of 'pad' beteken, verskil van die karakter vir dao (op ’n ander toonhoogte uitgespreek) wat 'mes' beteken."

Chanette Paul oor Uit die bloute en reise deur haar skrywersloopbaan

Org Potgieter, Chanette Paul
Skrywersonderhoude

2018-05-16

"Maar die maniere waarop mense liefkry, hoe liefde ontspring, al kwyn dit dikwels weer, is ook vir my ’n baie groot deel van die lewe se geheimenisse. Daarom hou ek as skrywer daarvan om spanning en liefde in dieselfde stoompot te gooi."

Keur 3 deur Helene de Kock: ’n skrywersonderhoud

Naomi Meyer, Helene de Kock
Skrywersonderhoude

2018-05-10

"Lesers behoort dan te sien dat universele, basiese dinge nie werklik verander nie, maar dat sieninge wel mense se optredes kan swaai. Daarom het ek die verhale wat nou vir die derde maal verskyn, net so gelos."

Video en foto's: Bekendstelling van Ingrid Jonker – ’n biografie deur Petrovna Metelerkamp

Naomi Bruwer
Skrywersonderhoude

2018-05-09

Petrovna Metelerkamp se omvattende biografie van Ingrid Jonker is by die Suidoosterfees bekendgestel. Suzette Kotzé-Myburgh het met haar oor die nuwe onthullings wat in die boek na vore kom, gesels. Kyk na die video van die gesprek.

Rapport

Die volgende resensies het gedurende Mei in Rapport, onder redaksie van Johan van Zyl, verskyn:

6 Mei

Resensie: Jean Meiring resenseer Die dao van Daan van der Waltdeur Lodewyk G du Plessis

Resensie: Johannes Froneman bespreek Stroomop: Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera deur Harald Pakendorf

Resensie: Joan Hambidge resenseer Bidsnoer deur Pieter Fourie

Resensie: Magdel Vorster resenseer Vandag is ek ’n windlawaai deur Philip de Vos en Piet Grobler

13 Mei

Resensie: Herman Lategan resenseer Tsk-Tsk: The Story of a Child at Large en Like Sodium in Water: A Memoir of Home and Heartache

Resensie: Theunis Engelbrecht resenseer Indentured: Behind the Scenes at Gupta TV deur Rajesh Sundaram

Resensie: Deborah Steinmair bespreek Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen

20 Mei

Resensie:Theunis Engelbrecht bespreek Ministry of Crime: An Underworld Explored deur Mandy Wiener

Resensie: Johan van Zyl resenseer Die De Zalze-moorde deur Julian Jansen

Resensie: Magdel Vorster bespreek ’n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink deur Pieter van Jaarsveld

Resensie:Deborah Steinmair bekyk Selma en Louise deur Susan Coetzer

27 Mei

Resensie: Marijcke Dodds resenseer Sorry, Not Sorry: Experiences of a Brown Woman in a White South Africa deur Haji Mohamed Dawjee  

Resensie: Wemar Strydom resenseer You Have to be Gay to Know God deur Siya Khumalo

Resensie: Fanie de Villiers resenseer The Love Diary of a Zulu Boy: A Memoir deur Bhekisisa Mncube

Resensie: Jan Taljaard bespreek Heist! South Africa’s Cash-In-Transit Epidemic Uncovered deur Anneliese Burgess

Maroela Media

Die volgende resensies het gedurende Mei op Maroela Media, onder redaksie van Suné van Heerden, verskyn:

17 Mei 

Spaghetti tussen jou tone deur Jaco Jacobs
Jaco Jacobs wéét hoe om om alledaagse situasies waarmee kinders identifiseer te omskep in stories wat hulle monde laat oophang. Lees meer.

22 Mei

Die vloek van Vreesbaai deur De Wet Hugo
Dankie tog dat grootmense ook jeugboeke mag lees! Ek het De Wet Hugo se Die vloek van Vreesbaai baie geniet en het heeltyd oor my skouer bly loer omdat ek verwag het dat ’n grommende ongedierte enige oomblik op my gaan spring, skryf Louise Viljoen.

24 Mei

Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen
Kinders wat feitevrate is, sal nie genoeg van hierdie boek kan kry nie. Jy kan nie wag om om te blaai en te sien wat wag op die volgende bladsy nie! Lees meer.

As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss
Verskeie fasette van karakters kom in verskillende verhale na vore en stelselmatig vorm daar ʼn legkaart in die leser se verbeelding. Dié “speurwerk” is een van die aspekte wat die lees van Jaekel Strauss se bundels so ʼn aangename ervaring maak, meen Johan Myburg.

31 Mei

Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen
Vermeulen se skryfstyl wissel tussen ietwat ongewoon tot gemaklik vloeiend en uiters oorspronklik. Die spanning in die verhaal bou fluks op en daar is genoeg intrige om mens angstig aan die lees te hou, skryf Louise Viljoen.

Skrywers en boeke (RSG)

Potgooie van die volgende boekgesprekke, wat gedurende Mei op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:
http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=270

Woensdag 2 Mei

Ilse Salzwedel gesels met Ruda Landman oor haar nuwe boek, Tell Me Your Story. In Johan Myburg se insetsel oor die internasionale letterkunde kan jy onder meer luister na 'n deel van die bekroonde Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie se onlangse toespraak by die Stockholm Forum vir Geslagsgelykheid.

Woensdag 9 Mei

Ilse Salzwedel gesels met Jaco Fouche oor sy nuwe jeugroman Somer. Johan Myburg gesels oor gebeure in die internasionale boekwêreld, en gee onder meer agtergrond oor die besluit om vanjaar nie 'n Nobelprys vir letterkunde toe te ken nie.

Woensdag 16 Mei

Ilse Salzwedel gesels met Phyllis Green, Sarie se boekeredakteur, oor 'n paar nuwe Afrikaanse boeke wat sy onlangs gelees het. Cecilia van Zyl gesels oor Die rooikop en die redakteur, 'n bundel tydskrifkortverhale uit die vyftigerjare uit die pen van André P. Brink wat pas verskyn het. Johan Myburg sorg weer vir interessante nuus uit die internasionale boekewêreld, en gesels onder meer oor die wenner van die Dylan Thomas-prys. Hoor ook wie is op die Media 24- en Sunday Times-kortlyste vir letterkunde.

Woensdag 23 Mei

Ilse Salzwedel gesels met Phyllis Green, Sarie se boekeredakteur, oor drie interessante Afrikaanse boeke wat sy onlangs gelees het. Luister ook na 'n uittreksel uit 'n Woordfees-onderhoud wat Dave Pepler met Riana Scheepers gevoer het oor haar nuwe roman Stormkind. Johan Myburg deel interessanthede uit die internasionale letterkunde, en gesels onder meer oor 'n gesogte letterkundeprys wat 'n kis Franse sjampanje en die naamregte van 'n opreggeteelde vark as enigste prys het!

Woensdag 30 Mei

Ilse Salzwedel gesels met die veteraan radio-persoonlikheid Kate Turkington oor haar biografie Yes Really! Bets Smith vertel meer oor haar vierde spanningsroman Kringloop. Die skrywer Elkarien Fourie het deelgeneem aan 'n uitreikprogram gemik op leesbevordering by die Drakenstein Gevangenis, en vertel van haar ervaring.

Vers en klank (RSG)

Potgooie van die poësievoorlesings, wat gedurende Mei op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:

http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=102

Dinsdag 1 Mei
Wessel Pretorius lees liefdesverse uit Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte saamgestel deur Fanie Olivier.

Dinsdag 8 Mei
Margot Luyt speel toonsettings van Hennie Aucamp se gedigte wat in kabarette gebruik is.

Dinsdag 15 Mei
Johann Nel lees ligte verse uit vervloë se dae.

Dinsdag 22 Mei
Juanita Swanepoel lees verse oor moeders.

Dinsdag 29 Mei
Daniel Hugo lees verse van NP van Wyk Louw.

Versindaba

Op hierdie webblad wat gewy word aan die Afrikaanse digkuns en gesprek rondom die poësie, vind besoekers al die mees onlangse resensies en onderhoude in die regterkantste kiesbalk. In dié kiesbalk is ook skakels na nuwe gedigte en blogs oor die poësie.

Heilna du Plooy resenseer Insektarium deur Johann Lodewyk Marais

Vrouekeur

Willie Burger het gedurende Mei die volgende resensies en rubrieke gelewer: 

5 Mei
’n Bespreking van die nuutste boeke van James-Brent Styan, Chris Karsten en Franz Marx

9 Mei
’n Bespreking van Homo Deus deur Yuval Noah Harari

13 Mei
Ken jou storie: Dis prysseisoen

18 Mei
Ken jou storie: Literêre kritiek (6)
Die sesde aflewering in dié reeks oor die literatuurkritiek.

25 Mei
’n Bespreking van Go, Went, Gone deur Jenny Erpenbeck

Woorde wat weeg

Joan Hambidge se blog, Woorde wat weeg, is ’n webtuiste waar dié digter-literator sowel gedigte as boekbesprekings, rubrieke en gedagtes rondom die letterkunde versamel en aanbied: http://joanhambidge.blogspot.co.za/

Hier is die skriftelike weergawe van resensies wat Hambidge gedurende Mei op Fine Music Radio gelewer het:

Kalmte in die malle gejaag: mindfulness vir besige mense deur Johannes Bertus de Villiers

Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis

The post Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Mei 2018 appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Rudie van Rensburg, Lien Botha en Karel Schoeman

$
0
0

Na afloop van die Mei 2018-sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sal die volgende drie vertalings befonds word:

  • ’n Nederlandse vertaling van Slagyster deur Rudie van Rensburg
  • ’n Nederlandse vertaling van Wonderboom deur Lien Botha
  • ’n Nederlandse vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman.

Slagyster, Rudie van Rensburg se debuut as spanningsverhaalskrywer, sal by Uitgeverij Conserve verskyn. Uitgeverij Conserve het oor hul 35 bestaansjare veral bekend geword vir die literêr-historiese werke wat hul publiseer, maar brei hier hul lys misdaadromans uit deur die toevoeging van die eerste boek in Van Rensburg se topverkoper-reeks met Inspekteur Kassie Kasselman aan die stuur. Volgens uitgewer Kees de Bakker is Van Rensburg se werk “even spannend en prikkelend als dat van Deon Meyer”. Jente Rhebergen sal die roman in Nederlands vertaal. Slagyster het oorspronklik in 2013 by Queillerie, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskyn.

Zirimiri Press, ’n onafhanklike uitgewery wat sedert hul ontstaan in 2009 fokus op die vertaling van literatuur uit ander tale, veral kleiner en minder-vertaalde tale, sal Lien Botha se bekroonde debuut Wonderboom in Nederlands uitgee. Wonderboom het in 2014 by Queillerie verskyn en is nie net aangewys as die Huisgenoot Tempo Boek van die Jaar vir 2016 nie, maar het ook aan Botha die Jan Rabie-Rapportprys 2016 en Eugene Marais-prys 2017 besorg. Robert Dorsman, ’n vooraanstaande vertaler van beide poësie en prosa, sal die Nederlandse vertaling behartig. Hy het voorheen werk van onder meer Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Olive Schreiner, Achmat Dangor, K. Sello Duiker en Etienne van Heerden vertaal.

Uitgeverij Aldo Manuzio voeg Die hemeltuin deur Karel Schoeman by hul groeiende lys Nederlandse vertalings van Afrikaanse romans. Die hemeltuin het oorspronklik in 1979 by Human & Rousseau verskyn. In ’n resensie beskryf JP Smuts die roman as “’n werk wat die skrywer se krag toon . . . Binne sy oeuvre is dit een van sy beste werke.”

Rob van der Veer sal die Nederlandse vertaling behartig. Bestaande vertalings deur Van der Veer sluit in: Hierdie lewe, Die uur van die engel en Verliesfontein deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M Louw en Buys deur Willem Anker. Laasgenoemde is in samewerking met Karina van Santen vertaal. 

Aldo Manuzio is die uitgewer van verskeie van Schoeman se werke, onder meer die Stemme-drieluik, en publiseer ook eersdaags Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström en Fees van die ongenooides deur PG du Plessis in Nederlandse vertaling. Laasgenoemde twee vertalings is ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Dit is verblydend om te sien dat vertalings van so ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke uit hierdie suksesvolle befondsingsaansoeke sal voortvloei.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met meer volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/

Navrae kan gerig word na: penafrikaans@gmail.com

 

Reglement vir die PEN Afrikaans Vertaalfonds

Rules and regulations for the PEN Afrikaans Translation Fund

The post PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Rudie van Rensburg, Lien Botha en Karel Schoeman appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2018

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
PEN Afrikaans Vertaalfonds: suksesvolle aansoeke

 

Na afloop van die Mei 2018-sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sal die volgende drie vertalings befonds word:
 
-              ’n Nederlandse vertaling van Slagyster deur Rudie van Rensburg
-              ’n Nederlandse vertaling van Wonderboom deur Lien Botha
-              ’n Nederlandse vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman.
 
Slagyster, Rudie van Rensburg se debuut as spanningsverhaalskrywer, sal by Uitgeverij Conserve verskyn. Uitgeverij Conserve het oor hul 35 bestaansjare veral bekend geword vir die literêr-historiese werke wat hul publiseer, maar brei hier hul lys misdaadromans uit deur die toevoeging van die eerste boek in Van Rensburg se topverkoper-reeks met Inspekteur Kassie Kasselman aan die stuur. Volgens uitgewer Kees de Bakker is Van Rensburg se werk “even spannend en prikkelend als dat van Deon Meyer”. Jente Rhebergen sal die roman in Nederlands vertaal. Slagyster het oorspronklik in 2013 by Queillerie, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskyn.
 
Zirimiri Press, ’n onafhanklike uitgewery wat sedert hul ontstaan in 2009 fokus op die vertaling van literatuur uit ander tale, veral kleiner en minder-vertaalde tale, sal Lien Botha se bekroonde debuut Wonderboom in Nederlands uitgee. Wonderboom het in 2014 by Queillerie verskyn en is nie net aangewys as die Huisgenoot Tempo Boek van die Jaar vir 2016 nie, maar het ook aan Botha die Jan Rabie-Rapportprys 2016 en Eugene Marais-prys 2017 besorg. Robert Dorsman, ’n vooraanstaande vertaler van beide poësie en prosa, sal die Nederlandse vertaling behartig. Hy het voorheen werk van onder meer Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Olive Schreiner, Achmat Dangor, K. Sello Duiker en Etienne van Heerden vertaal.
 
Uitgeverij Aldo Manuzio voeg Die hemeltuin deur Karel Schoeman by hul groeiende lys Nederlandse vertalings van Afrikaanse romans. Die hemeltuin het oorspronklik in 1979 by Human & Rousseau verskyn. In ’n resensie beskryf J.P. Smuts die roman as “’n werk wat die skrywer se krag toon . . . Binne sy oeuvre is dit een van sy beste werke.”
 
Rob van der Veer sal die Nederlandse vertaling behartig. Bestaande vertalings deur Van der Veer sluit in: Hierdie lewe, Die uur van die engel en Verliesfontein deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M. Louw en Buys deur Willem Anker. Laasgenoemde is in samewerking met Karina van Santen vertaal. 
 
Aldo Manuzio is die uitgewer van verskeie van Schoeman se werke, onder meer die Stemme-drieluik, en publiseer ook eersdaags Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström en Fees van die ongenooides deur P.G. du Plessis in Nederlandse vertaling. Laasgenoemde twee vertalings is ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.
 
Dit is verblydend om te sien dat vertalings van so ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke uit hierdie suksesvolle befondsingsaansoeke sal voortvloei.
 
Klik hier om dié goeie nuus verder te kan deel.
 

kykNET loods GRAPKAS

kykNET verwelkom tans voorleggings vir televisiekomedies. GRAPKAS is ’n nuwe kompetisie waarmee kykNET op soek gaan na komedieskrywers wat onder die mentorskap van ‘n groep kenners hul idees verder kan ontwikkel. Die uiteinde is moontlik ’n TV-reeks met jou in die skrywerstoel.
 
As jy ’n idee vir ’n komedie het, met karakters waarby kykers sal aanklank vind of onmoontlike situasies met skreeusnaakse gevolge, is daar nou kans om jou idee voor te lê.

Voornemede deelnemers kan elektronies by kykNET.tv ingeskryf. Elke inskrywing moet ’n loklyn, met ander woorde ’n beknopte beskrywing van jou reeks, asook ’n beskrywing van 500 woorde van die konsep bevat.
 
Die sluitingsdatum is 15 Julie, waarná ’n keuringsproses sal volg. Onder leiding van kenners en mentors vanuit die bedryf, sal die top-20-konsepte verwerk word tot ’n teks van 24 minute wat vir oorweging ingehandig sal word. Daar sal loodsepisodes van die topvier vervaardig word, en dít staan dan die kans om ‘n volwaardige nuwe komediereeks op kykNET te word.
 
Inskrywings is oop vir almal. Die inskrywings moet egter volledig wees om vir GRAPKAS in aanmerking te kom. Sien die riglyne op die webblad.
 
PEN Turkye se internasionale kuns- en vredesprojek
 
1 Julie is die nuwe sluitingsdatum vir PEN Turkye se internasionale kuns- en vredesprojek, so stuur gerus nog kunswerke tot dan. Kinders (7 - 14 jaar) vanoor die wêreld is genooi om 'n kunswerk te skep in reaksie op ’n ikoniese Turkse gedig deur Nazım Hikmet. Die kunsprojek is gerig op die bevordering van wêreldvrede. Daar sal 'n kalender uit die projek voortvloei, asook ’n uitstalling van geselekteerde kunswerke by die Nazım Hikmet Centre of Culture and Arts in Istanbul.
 
Die gedig is beskikbaar in Engels as “The little girl” en in Afrikaans as “Die dogtertjie”.
 
Ons deel graag, met toestemming van die kunstenaar, Lea Marais (10) van Stellenbosch se treffende interpretasie van dié gedig.

 

Verdere vertolkings is baie welkom. Stuur foto’s of skanderings van kunswerke teen 30 Junie na penafrikaans@gmail.com.
 
Die kunswerke kan in swart-en-wit of volkleur wees. Die afmetings van die karton waarop dit geskep moet word, is 50 cm. x 70 cm. Potlode, kryte, pastel, water- of olieverf kan gebruik word.
 
Wat elke skrywer moet weet-artikelreeks

 
In die nuwe artikel in ons Wat elke skrywer moet weet-artikelreeks bespreek Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid ’n volgende aspek van persoonlikheidsregte: die reg op privaatheid en wat skrywers moet weet oor privaatheidskending. Lees die artikel hier.
 
Maandelikse resensie-oorsig


 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2018
 
Ten slotte deel ons oudergewoonte graag die lys van Afrikaanse boeke wat in Junie verskyn. Ons lys sluit vandeesmaand vir die eerste keer Afrikaanse boeke wat by Jonathan Ball Uitgewers verskyn in. Ons sien uit daarna om voortaan so te maak. Aangesien Jan-Jan Joubert se Wie gaan in 2019 regeer? en Douw Steyn en Arnè Söderlund se Ystervuis uit die see verlede maand by Jonathan Ball verskyn het, sluit ons weer die volledige Mei-lys by hierdie nuusbrief in.

Hartlik geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rakke het.   
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2018 appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Meer as 50 museums reeds gesluit en ’n verdere 50 in gevaar

$
0
0

Macrorie Huismuseum in Pietermaritzburg (Foto: Janek Szymanowski, CC BY-SA 3.0, Wikimedia Commons)

Museumversamelings, uitstallings, konservering en museumverwante kundigheid het tydens ’n onlangse bestekopname onder die loep gekom. Ontstellend is dat meer as 50 museums die afgelope jare tot niet gegaan het en ’n verdere 50 in gevaar verkeer. Dit sluit museums in soos Schoemansdal, Botshabelo, Winburg, Kroonstad, die Macrorie Huismuseum in Natal, die landboumuseum in Lichtenburg en talle dorpsmuseums.

Die stand (en ongelukkig ook die agteruitgang) van Suid-Afrikaanse kultuurgoedere in verskeie museums is op versoek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns deur kundiges uitgevoer. Indien die korrekte museumkundige bewaringsbeginsels nie dringend toegepas word nie, sal baie onvervangbare voorwerpe tot niet gaan. Die "stories" en kultuurkonteks van die voorwerpe, en gevolglik ook ’n kosbare deel van die Suid-Afrikaanse verlede, sal verlore gaan indien nie vinnig opgetree word nie.

Konstruktiewe gesprekke en aksie vir die bewaring van hierdie voorwerpe is noodsaaklik. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is tans onder leiding van Anton van Vollenhoven in gesprek met ’n forum van kultuurorganisasies en ander kundiges oor die huidige stand van museums in Suid-Afrika. Wêreldwyd word museums as bewaarders of beskermers van kultuurgoedere beskou, en in Suid-Afrika verkeer die daarmee gepaardgaande kultuurbewussyn in ’n krisis. Dié situasie word klaarblyklik nie in die algemene diskoers in Suid-Afrika erken of raakgesien nie.

Sonder vakkundige kennis, veilige bewaring en sekuriteit, konservering en korrekte museumkundige bewaringsmetodes (wat internasionale praktyk is) en sonder sinvolle kontekstualisering van voorwerpe het kultuurgoedere min kans op oorlewing. Ook word daar nie ’n toekomstige generasie van museumbesoekers gekweek nie.

Dié kwessies kry tans min aandag en daar is feitlik geen verset teen die huidige agteruitgang nie. Daar is ’n gebrek aan die optekening van die gewoontes, tradisies of lewenswyse van mense in die verlede en voorwerpe, uitstallings of getranskribeerde mondelinge oorlewering vind ongekoördineerd plaas. 

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns doen hiermee ’n beroep op plaaslike gemeenskappe om by hierdie aksie betrokke te raak.

  • Kontak asb vir Anton van Vollenhoven by antonv@archaetnos.co.za of 083 291 6104 vir meer inligting.

The post Persvrystelling: Meer as 50 museums reeds gesluit en ’n verdere 50 in gevaar appeared first on LitNet.

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

$
0
0

Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084105
Prys: R270

Lank nadat hierdie leser Jeremy vannie Elsies deur generaal-majoor Jeremy Vearey van die Suid-Afrikaanse Polisiediens neergesit het, is dít wat haar bybly: die skrywer-verteller-hoofkarakter (of is hy die hoofkarakter, dié verteller?) se onverskrokke, vasberade, selfs onwrikbare, dog deernisvolle en empatiese manier van wees (“being”), ingegee en gevorm deur die mense, ruimtes en tye met wie en waarmee sy “lewensloop” verbind is.

In Jeremy vannie Elsies gee Vearey allereers rekenskap van sy politieke ontwaking, eers as sesjarige wie se gees van verset teen onreg ingeboesem is deur sy ma en deur die “groot gidse van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het”. Hy vertel hoe sy politieke bewussyn later onder meer geslyp is in geheime politieke leeskringe en kerkjeugkampe, oor die (Afrikaanse) Kommunistiese Manifes, Afrikaans as struggle- en bevrydingstaal, ondergrondse werk vir MK en sy tyd op Robbeneiland.

Maar sy politieke “grootloop”, om ’n uitdrukking uit Jeremy vannie Elsies te leen, kan nie losgedink word van sy plek in hierdie land en haar geskiedenis en die mense en ruimtes wat hom op sy grootloop tot menswees begelei (het) nie. So kom loop in sy spore deur landskappe wat tot nou kwalik, indien ooit, in die Afrikaanse literatuur tot lewe gebring is: Elsiesrivier (Elsies) en “ons djaart in Balvenielaan [...] noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp verby meneer Matunsi se huis”, verder “oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg”, verby “die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het”, verder aan tot by die “skipbouers van Eureka-landgoed” voordat jy langs “die weë van ons gemeenskaplikheid” in Tiervlei beland.

Vergis jou nie, dié Tiervlei is nie die Tiervlei in byvoorbeeld Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie. Nee, dié Tiervlei is die een duskant Fransie van Zijl-rylaan, agter jou as jy hier gesigkant Tygerberg-hospitaal toe staan, die Tiervlei wat later tot Ravensmead herdoop is. Die ander Tiervlei het Parowvallei loop word.          

Anastasia de Vries (dosent by die departement Afrikaans en Nederlands, UWK)

Anastasia de Vries was die gesprekvoerder by die bekendstelling van Jeremy Veary se boek op 31 Mei 2018 by The Book Lounge in Kaapstad.

Maar soos in Goosen se boek, is Vearey se Tiervlei, en omstreke, ook nie bloot agtergrond vir die gebeure nie, maar is dit ’n lewende werklikheid. Op sy “kuierstaptogte” tot in alle uithoeke van Elsies, Uitsig en Tiervlei/Ravensmead hoor jy uit die “loopstories” van verskillende vertellers oor die uitwerking van apartheid en veral die Groepsgebiedwet, die versplintering en ontworteling van families en gemeenskappe wat op dié sandvlaktes hul “djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is”.

Uit hierdie sober, byna kliniese vertellings ‒ gestroop van sentimentaliteit, nostalgie, melancholie  of  “ag, sjym” ‒ leer jy iets verstaan van ontworteling, van mense wat nie “eintlik uit eie wil” trek nie; “ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word”. Jy leer meneer Matunsi ken wat op dieselfde gestroopte wyse vertel dat hy en sy vrou van hul Elsies-tuisgrond na Gugulethu moet verskuif. Dit gryp jou aan die keel, dié onderspeelde pyn van behoort-mense uit verskillende kulture wat in dié tyd van mekaar vervreem is.  

Jy hoor van die mensontering van die sogenaamde potloodtoets wat families uitmekaar geskeur en “vervalste” wit mense (familielede wat die toets geslaag het) geskep het. Daar is die verhaal van ene Broer van As wat vertel hoe hy kort na hul uitsetting sy bloedbroer,’n “vervalste wit man”, in hul geboortehuis in Goodwood gaan besoek het en toe gevra is om by die agterdeur in te kom. Sy koffie is later in ’n konfytblikbeker in die agterplaas bedien.    

Dis inderdaad ’n grootloop dié, in die eerste plek ’n grootloop na die belewenis van ons verlede in leefwêrelde wat menige Suid-Afrikaner dalk ooit slegs in en deur die literatuur sal leer ken. Maar dis ook die grootloop van “almal se antie Annette” se “klong”, van laaitie tot versetstryder, politieke gevangene tot spioen, lyfwag vir wyle pres. Nelson Mandela en later polisiehoof, steeds getrou aan die grondbeginsels van sy “dieper reg”, om dit “in belang van ander te leef en nie net stilletjies in jou bewussyn te koester nie”.

Want bowenal is hy “Jeremy vannie Elsies” ‒ vannie nie uit Elsies nie ‒ en in dié besitsvorm lê sy verweefdheid met hierdie plek en sy mense opgesluit,  ’n verweefdheid wat daarvoor sorg dat sy lewensgeskiedenis vertel word as die storie van ’n mens wat tot nou nooit sy waarheid oor sy plek in hierdie ruimte, en ’n groter Suid-Afrikaanse ruimte, vergeet het nie. Daarom skroom hy nie om in sy boek die geweld en bendebedrywighede, die onkruid wat “my kweekgrond onvrugbaar maak, die Elsiesrivier, Uitsig en die Kaapse Vlakte van my komvandaan”, nes die gruwels en vergrype van apartheid aan ’n skandpaal te spyker nie.

Die vraag is: Hoe onthou hy en hoe (en deur wie) word daar in Jeremy vannie Elsies oor die verlede vertel (geskryf)? Die fokus van hierdie bespreking is vervolgens op die manier waarop die boek met die verlede omgaan, die verskillende vertelstrategieë wat gebruik word om die belewenis van historiese gebeure uit te beeld en die taal waarin hierdie geskiedenis opgeberg word.

’n Mens se geheue kan jou parte speel, en ’n waarheid wat uit onthou gekonstrueer word, kan maklik afgemaak word as “aangedik”, weet die skrywer klaarblyklik baie goed. In sy bedankings noem hy dan byvoorbeeld sy “antie Rosie wie se waardevolle en soms onbewustelike redaksionele insette gesorg het dat ek so getrou as moontlik aan die gemoedstemming van die verlede en hede, gevoelswaardig oor ons komvandaan skryf”.

Sy boek sit vol van die name van lewende getuies (google hulle gerus) van sy lewensgeskiedenis, terwyl belangrike intertekste soos foto’s, briewe en ander dokumente sy storie konkreet uitdra. (Hoewel dit nie die fokus van hierdie bespreking is nie, kan die intertekstuele samespel in die boek, waaronder die werk van N.P. van Wyk Louw en selfs ’n resep, interessante interpretasies oplewer.)        

Vearey se narratief is grotendeels outobiografies, in die eerstepersoon, maar begin heel interessant in die tweedepersoon waarna “groot Jeremy” van die tweede sin tot ongeveer die helfte van bladsy 2 oor “klein Jeremy” in die derdepersoon vertel. Reken hierby ’n veelheid van stemme wat tussen sy vertellings en oorvertellings meestal in die direkte rede en stukke dialoog saam met hom sy storie vertel, saam met hom skryf aan sy lewensreis wat strek van sy kleintyd tot die mens wat hy nou is.

In terme van laasgenoemde is Jeremy vannie Elsies ’n Bildungsroman, maar Vearey verskriftelik ook ’n orale tradisie wat leef in gemeenskappe soos Elsies, Uitsig en Ravensmead, naamlik die sny van ’n stuk. Hiermee word bedoel ’n soort gemeenskaplike storievertellery (verkieslik op ’n jaart om ’n ghellie of ’n damstafel – sien Vearey se boek), geweef uit ’n stukkie onthou van dié een en ’n brokkie van daai een en nog een en nog een. Kompleet ’n tapisserie, ’n beeld wat prominent in sy boek figureer.

Belangrik by die sny van ’n stuk is dat alle vertellers gelyk is, dat elke stem tel en elke invulling van of aanvulling tot die stuk waarde het. Sommige smeer (vertel lekker vetterig met byvoorbeeld klankeffekte of stemnabootsings) of sny dalk interessanter as ’n ander en die een onthou meer en helderder as ’n ander, maar niemand het alleenaanspraak op die waarheid nie. Vearey se boek, waarin die stem van die verteller afgewissel word met dié van ander, is ’n knap illustrasie van hierdie orale verteltradisie.

Met sy boek se wisselende perspektiewe op die verlede vermy die skrywer-verteller juis alleengesag oor (die) waarheid, is die ander vertellers so gesaghebbend soos hy en is hulle die hoofkarakters in hul eie weergawe van gebeure, gelykes, mense met inherente waarde. Hulle is die stemme wat kleur en krag aan sy woorde gee. Hy ís, want hulle was (is).

Kyk gerus hoe hulle die draad van sy vertelling en oorvertelling optel en in hul eie stem verder vertel, soos onder andere sy ma Annette, sy wat in woord en daad “allemagtig” is, amper nes sy ouma se “God Jehova”, wat “die hele wêreld” laat stilstaan “as sy sê stop”. Soos die dag by Parowstasie in die donker bek van die Whites Only-duikweg toe sy en haar “krygsvroue” ’n spul mannehekwagters van apartheid bestorm het of toe sy met ’n “Missus Vearey to you” menswaardigheid van ’n “baas” geëis het ... Patriargie, enigiemand?

Laat ek nou maar kleur beken: dié boek het my, wat uit ’n sterk matriargiale gemeenskap kom, meer as een maal laat uitroep: Womandla! ’n Mens mag mos saam praat, saam onthou,  laat blyk die openingsin van Vearey se narratief in die tweedepersoon immers. Met hierdie tegniek skep hy ’n aangesprokene wat ingesuig word by die onthou van wie ons was, wie ons is. Dit is veelbetekend dat sy narratief ook in die tweedepersoon eindig, asof hy sy leser vir oulaas ook tot nadenke wil stem oor hoe ons geword het wat ons is: “Maar by the way, soe in die verby, kaantie, wies djy?” Dis in die verby se onthou, so leer sy boek, dat mens tot jou dieper reg kom en “daardeur welwillend in gemeenskaplike belang van die groter ons”.

Ten slotte: so lustig soos wat die rumtes in Jeremy vannie Elsies saampraat, so ook die taal. Sy taalbewussyn, veral van die rykheid van Afrikaans se verskillende skakerings, word soos sy menswees deur verskillende mense gevorm, onder wie sy oudste neef, Louis, wat praat van “Ôs Afrikaans is original. Djulle moet wys raak dat hulle force allie tyd hulle valse Afrikaans byrie skool”. Sy ma het “ons manier van Afrikaans en Engels praat as ’n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou”.  

Maar dis wyle Jakes Gerwel wat hom aangespoor het om “hierdie boek in die Kaaps/Afrikaans van my lewenswêreld te verbeeld”. Toe loop haal hy dit eers daar diep, by sy mense in sy komvandaan, daai Afrikaans “soes ôssit maa altyd gepraat het”, sê hy by die bekendstelling van sy boek op 31 Mei. “Memory lies in language” mos, het die Keniaanse skrywer, Ngũgĩ wa Thiong'o, in 2003 tydens ’n Steve Biko-lesing gesê. En bygevoeg dat ’n man wat sy geskiedenis (“memories”) en denke in ’n ander man se taalvorm giet, is soos iemand wat sy graan in ’n ander man se skuur opgaar.

Aikôna. In Jeremy vannie Elsies is Vearey se denke en onthoue opgeberg in sy eie skuur, in ’n Afrikaans wat van oral kom, daar waar daar misdaad is, van die manne en vroue in blou wat saam met hom veg vir ’n land waar die kinders kan lag en speel, die Afrikaans van die veles met wie hy daagliks te doen kry. Wat hy vervolgens in sy boek met al die Afrikaanse doen, is presies dit wat al in menige akademiese geskrif geskryf is oor die saambestaan van Afrikaans se verskillende manifestasies: hy maak Kaaps en die verskillende variasies van die algemene omgangstaal staan langs en tussen gestandaardiseerde Afrikaans deur.

Die resultaat is ’n Afrikaans waarin Kaapse verbuigingsvorme, wat trekke van Nederlands vertoon, soos “ouere man”, saam met die gebruik van selfstandige naamwoorde soos “slaaf” en “bandiet” as werkwoorde teruggevind word. Waarskuwing: ’n Konstruksie wat al hoe meer in die omgangstaal gehoor word, naamlik  “die man, vrou of kind wie”, pleks van wat kan dié van ons wat in taalreëls dink, in ons spore laat vassteek. Dalk is dit die idee: ’n Afrikaans met ’n stadiger ritme, asof ook die taal moet meewerk om die leser “soe in die verby” te laat besin oor “kaantie, wies djy”?

  • Foto's verskaf deur René Arendse (Afrikaans.com)

Lees ook

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey

The post <i>Jeremy vannie Elsies</i> deur Jeremy Vearey: ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1430 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>