Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all 1456 articles
Browse latest View live

PEN Afrikaans Nuusbrief: Augustus 2018

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans

Ter nagedagtenis

Tom Gouws (1961–2018)

 

Met die gewelddadige dood van die begaafde en bekroonde digter, skrywer en akademikus Tom Gouws is dit vanselfsprekend dat diegene wat die kreatiewe bydraes van skrywers na waarde skat, op soek sou gaan na gepaste woorde om uitdrukking te gee aan hul skok en ontsteltenis. Digter en akademikus Bernard Odendaal se woorde na aanleiding van die bloedmaan wat op 27 Julie 2018 kort ná die nuus oor Tom Gouws se dood sigbaar was, tref die kol: “Moet jy jou swaar lyf so dêm simbool kom hou?” Groot geteken teen die aandlug het die rooi maan ons herinner aan die bloed wat te gereeld vloei in Suid-Afrika en te dikwels ook die lewens van woordmense opeis. Lees verder.
 
Sien ook die aangrypende huldigingsgedigte en ’n bydrae deur Breyten Breytenbach en Yves T’Sjoen op Versindaba.

Koos Human (1931–2018)

PEN Afrikaans neem met hartseer kennis van die dood van invloedryke uitgewer en groot gees van die Afrikaanse boekwêreld, Koos Human.

Human en Leon Rousseau het in 1959 die uitgewery Human & Rousseau gestig, wat in die jare sestig die toonaangewende uitgewer van Afrikaanse literêre publikasies geword het.

"Die grootste geluk wat my ooit getref het, was om vir Koos Human te kon werk. Hy was ’n besielende mens, wat die kuns verstaan het van hoe om na mense te luister. [...] Daar is baie prinse in die uitgewerswese, en min konings. Koos Human was laasgenoemde," sê Kerneels Breytenbach in ’n huldigingsartikel op Netwerk24. Sien die volledige artikel hier.
 
Inskrywings vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel word ingewag

 
Skrywers kan nou inskryf vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel, wat by die 2019 Woordfees bekend gestel sal word. Du Toitskloof Wyne borg weer die prysgeld van R30 000 vir die wenverhaal. Een van die gepubliseerde verhale sal ook weer met die ondersteuning van kykNET vir die Silwerskermfees as kortfilm ontwikkel word.
 
“Die Woordfeeskortverhaalbundel se statuur het in die afgelope drie jaar tot dié van literêre instelling gegroei,” sê Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees. “Die hoeveelheid inskrywings groei jaarliks saam met die gehalte van die skryfwerk en die tematiese verskeidenheid in die verhale. Ons is opgewonde om te sien waarmee skrywers vir die 2019-bundel vorendag kom.”
 
Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, het in die verlede elkeen R4 000 vir hul verhale ontvang, maar danksy Du Toitskloof sal elkeen volgende jaar R5 000 in die sak steek.
 
Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal by die Woordfeesprogrambekendstelling in November 2018 bekend gemaak word. Die wenverhaal asook die verhaal wat vir ’n verwerking tot kortfilm gekies is, sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, gedurende die Woordfees van 1–10 Maart 2019, aangekondig word.
 
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September 2018 om 16:00.
 
Diegene wat belangstel om meer oor die kompetisie te wete te kom of wat wil inskryf, kan gaan na www.woordfees.co.za en die skakels volg.
 
Die stand van meertaligheid van Kaapstad tot in Tibet: ’n byeenkoms van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte


Danie Marais het namens PEN Afrikaans vanaf 21 tot 24 Junie ’n byeenkoms van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte in Switserland bygewoon. Hy het tydens die konferensie ’n referaat gelewer oor meertaligheid en taalregte in Suid-Afrika.
 
Lees Danie se verslag oor die konferensie hier.
 
PEN Afrikaans hou algemene jaarvergadering by Aardklop

 

Ons is bly om aan te kondig dat ons algemene jaarvergadering vanjaar op Dinsdag 2 Oktober in die ATKV-Boeke-oase by Aardklop plaasvind. Dit sal om 19:00 begin. 

Hou asseblief die datum en tyd oop. Ons hoop om julle daar te sien.

Gelyke Kanse na Konstitusionele Hof

Die Konstitusionele Hof sal op 18 September Gelyke Kanse se appèlsaak oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid aanhoor. Philip Spies, voorsitter van Gelyke Kanse se loodskomitee, wys daarop dat dit ’n deurslaggewende regsgeding oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika gaan wees, in die besonder rakende die inheemse tale, waarvan Afrikaans tans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het.

Meer inligting, onder andere oor hoe om die saak te ondersteun, is hier beskikbaar.

Ledegeld 2018
 
Ons doen ’n beroep op ons lede om ledegeld vir 2018 oor te betaal. Die fakture hiervoor is reeds uitgestuur. Kontak ons gerus by penafrikaans@gmail.com as daar vrae hieroor is.
 
Ons sentrum se ledegeld moet aan PEN International oorbetaal word voor die 2018 PEN-kongres wat volgende maand in Indië plaasvind. Slegs PEN-sentrums wat hulle ledegeld betaal het, het stemreg by die jaarlikse kongres.
 
Hartlik dankie aan diegene wat reeds hul ledegeld betaal het.
 
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry vanjaar weer gratis toegang tot die Tuin van Digters-fees wat op 14 en 15 September by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind. Dit beloof om ’n hoogtepunt te wees.
 
PEN Afrikaans bied hierdie jaar twee afsonderlike sessies by die fees aan. Volledige besonderhede kan in die feesprogram nagegaan word.  
 
Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
 
Belanghebbendes is uitgenooi om kommentaar in te dien oor spesifieke bepalings in die hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Hierdie veelbesproke wetsontwerp bevat, ten spyte van talle stemme wat daarteen opklink, steeds bepalings wat rampspoedige gevolge vir skrywers en uitgewers kan hê.   
 
PEN Afrikaans het teen die sperdatum ’n voorlegging aan die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ingedien. Die voorlegging kan hier in PDF-formaat afgelaai word.
 
Wat elke skrywer moet weet: Verhoogverwerkings

 

Boeke en bestaande tekste word dikwels vir die verhoog verwerk of vertaal. Wat is die korrekte stappe hiervoor?
 
Elroy Bell van DALRO is aan die woord in die jongste artikel in ons artikelreeks. Hy vertel meer oor wat elke skrywer behoort te weet oor verhoogverwerkings.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2018
 
Dit is ’n plesier om oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste vir Augustus kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Augustus 2018 appeared first on LitNet.


Persvrystelling: Die SA Akademie betreur die heengaan van Christo van Rensburg

$
0
0

Christo van Rensburg | Foto: Izak de Vries

Met die oorlye van Christo van Rensburg het Afrikaans een van sy belangrikste navorsers oor die herkoms van Afrikaans verloor, het Jacques van der Elst namens die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gesê. Die Akademie betreur sy heengaan. Van Rensburg was sedert 1979 lid van die SA Akademie en het ook gedien as lid van die Taalkommissie en was medewerker aan die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Die publikasie So kry ons Afrikaans het hy in opdrag van die Afrikaanse Taalraad geskryf. Dit bevat baanbrekende kennis oor die herkoms van Afrikaans. ’n Vertaling van die publikasie in Engels is in beplanning. Vir sy uitnemende studies oor Afrikaans het die Akademie hom onlangs met die CJ Langenhovenprys bekroon. Hy is vroeër vanjaar met die Jan H Maraisprys vir sy lewenswerk op die gebied van Afrikaans vereer.

The post Persvrystelling: Die SA Akademie betreur die heengaan van Christo van Rensburg appeared first on LitNet.

Afrikaans is ’n reënboogtaal

$
0
0

Mens hoor dikwels die slagspreuk op universiteitskampusse “weg met Afrikaans” met die EFF voor in die koor, maar Afrikaans is die land se reënboogtaal en nié die taal van die onderdrukker nie.

So sê die gemeenskapsleier en kultuuraktivis Willa Boezak. Hy was die gasspreker tydens ’n gesprek oor Afrikaans wat in Stellenbosch deur die organisasie Vriende van Afrikaans aangebied is. Verskeie leerders van Bolandse skole en studente van Stellenbosch het die “ommietafelgesprek” bygewoon om oor die toekoms van Afrikaans te praat.

Willa Boezak
Foto: Izak de Vries

Boezak wat onder meer aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Vrye Universiteit van Amsterdam en die Universiteit van Kaapstad studeer het, sê in die veldtog teen Afrikaans word dikwels beweer Afrikaans is ’n witmanstaal en die taal van die onderdrukker en dan glo baie mense dit. “Waar kom hulle daaraan?” Afrikaans is ’n gedeelde taal en die meeste dinge wat Afrikaans in die verlede as ’n taal van onderdrukking gekenmerk het, bestaan lankal nie meer nie.

Boezak het die herkoms van Afrikaans in 1599 gaan haal, meer as 50 jaar voor Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap. Dit was die Khoi en die San, en nie wit mense nie, wat aan die Kaap met vee geboer het wat die eerste mense was om geboorte te gee aan Afrikaans toe hulle met die Hollanders en ander seevaarders begin handel dryf het. Vandag staan dit bekend as Khoi-Afrikaans en is een van die baie variëteite van Afrikaans.

Benewens Khoi-Afrikaans bestaan daar verskeie ander dialekte van Afrikaans soos Veeboer-Afrikaans wat die Vryburgers gepraat het, Oranjerivier-Afrikaans of Gariep-Afrikaans soos wat hy dit graag noem, en later sogenaamde Standaardafrikaans.

Boezak sê dit is noodsaaklik om al hierdie variante van die taal as ewe belangrik te erken en nie ’n hiërargie te skep waar sekere variante van die taal meer of minder belangrik is as ander nie.

Boezak het gesê hy veg hard teen die Universiteit Stellenbosch se “stupid” taalbeleid om Afrikaans as akademiese taal af te skaal.

Die bewering dat Afrikaans ’n sogenaamde witmanstaal of ’n minderheidstaal is, is belaglik sê Boezak. Dit is die derde grootste taal in die land naas Zulu en Xhosa en meer as ses miljoen Suid-Afrikaners se eerste taal. Daarvan is sowat 2,7 miljoen wit, 3,4 miljoen bruin met duisende swart Suid-Afrikaners wie se eerste taal ook Afrikaans is.

Boezak voel baie sterk oor die waarde van Afrikaans as onderrigtaal tot op tersiêre vlak. Hy sê kennis is die beste wapen teen armoede en kennis kan die beste opgedoen word deur middel van moedertaalonderrig.

“Terwyl Afrikaans op talle terreine van die samelewing, soos in die musiekbedryf en by kunstefeeste besig is om te blom, is dit hartseer om die sien hoe Afrikaans as akademiese taal op Stellenbosch agteruitboer as gevolg van die klompie daar wat so gekant is teen Afrikaans as akademiese taal.”

Boezak sê dit maak geen sin om Afrikaans as akademiese taal af te skaal nie omdat die armstes uit veral die bruin gemeenskap wat in Afrikaans wil studeer die meeste daaronder ly.

“Watter sin maak dit vir ouers om hulle kinders na ’n Afrikaanse skool te stuur as hulle weet hulle kinders kan nie verder in Afrikaans studeer wanneer hulle die skool verlaat nie?”

Boezak sê die gevolg is dat baie kinders wat nie Engels magtig is nie gedwing word om in ’n taal te studeer wat nie hulle eerste taal of moedertaal is nie. Hy sê hy vind dit vreemd dat daar mense is wat alles wat koloniaal is wil afskaf in ’n koloniale taal, naamlik Engels.

Hy het sy praatjie gehou aan die hand van ’n gedig wat hy geskryf het oor Afrikaans se herkoms met dit titel “Ons Afrikaanse kind”:

hortent
sukkelend
is sy gebore
tussendeur gebare
met vreemde kaaseters
wyndrinkers en speserysoekers
al by ons kuste langs.

’n basterkind wat net geweet het van kierie
eina! en koekemakranka
en skielik kry sy ’n hupstoot
van vreemdes in kettings
en van nóg wittes
wat eers lekker-bekkig plat praat
maar later al hoër en verder
wégtrek met daai basterkind ...

kyk
daar dans vandag
’n mooi vrou in pastel
én grondkleure
omhul in skerp én sagte geure
en sy ghoema die riel in sokkies
ja, sy ghoema die riel in sokkies.
onse reënboogkind.

(uit Só glo ons: die Khoisan van Suid-Afrika deur Willa Boezak)

Amanda de Stadler, Vriende van Afrikaans
Foto: Izak de Vries

William Sezoe pleit vir 'n Afrikaanse klub by die skool
Foto: Izak de Vries

William Matthys vra veeltaligheid
Foto: Izak de Vries

New Orleans Sekondêre Skool
Foto: Izak de Vries

Almero Oosthuizen
Foto: Izak de Vries

The post Afrikaans is ’n reënboogtaal appeared first on LitNet.

ATR-huldeblyk ter ere van Christo van Rensburg

$
0
0

Die ATR betreur die heengaan van een van Afrikaans se grootste stryders. Op sy kalm manier het hy diep spore getrap in die stryd om die erkenning van Afrikaans met al sy variëteite. Ons is telkens ná sy referate opnuut gedwing om onbevange te kyk na al die vertakkinge van Afrikaans. Hy het sy standpunte oor die ontstaan van Afrikaans onverskrokke gestel, en dit gewoonlik met vers en kapittel bewys. Daar was weinig, indien enige, standpunte wat die inhoud van sy nougesette wetenskaplik nagevorsde werke kon weerlê. Sy passie om die status van al die variëteite van Afrikaans deur die breë Afrikaanse gemeenskap erken en aanvaar te kry, was ooglopend. Sy verbintenis daartoe behoort ons almal aan te spoor om ons daadwerklik vir ʼn soomlose Afrikaans te beywer. Ons sal sy innemende persoonlikheid mis.  Ons sal sy spitsvondigheid mis. Ons sal sy vriendelikheid mis. Ons dank die Almagtige dat ons toegelaat is om aan die voete van so ’n Gamaliël te sit.  By die Herkomsseminaar later vanjaar sal sy stem stil wees.  En by die loodsing van die bygewerkte weergawe van So kry ons Afrikaans later vanjaar, tesame met die vertaalde weergawe Finding Afrikaans, sal sy plek leeg wees. Prof Christo, die ATR gaan u ongekende bydrae tot die handhawing van ʼn taal gebore uit die some van vele nasies, altyd koester wanneer ons praat, dink en skep in hierdie mooi taal van ons. 

The post ATR-huldeblyk ter ere van Christo van Rensburg appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans condemns threats to authors

$
0
0

Klik hier vir die Afrikaanse weergawe.

PEN Afrikaans notes with grave concern that author Chris Steyn and journalist Marianne Thamm have been subject to bullying, intimidation and threats following the publication of The Lost Boys of Bird Island, a book about an alleged paedophile network that operated in Port Elizabeth in the 1980s, and whose most notable members are claimed to include certain former National Party ministers.

Local media reports indicate that co-author Mark Minnie, who was found dead by apparent suicide in Port Elizabeth a few days after the release of the book, and Steyn had both been concerned about their safety and were reluctant to appear in public after receiving threats and anonymous enquiries as to their whereabouts.

Marianne Thamm, a respected journalist and commentator responsible for writing the introduction to the book, has spoken out about the bullying and severe online harassment she has faced following the publication of the book.

As a member of PEN International, the world’s largest association of writers, PEN Afrikaans strongly objects to such unacceptable attempts to silence and intimidate authors. The protection of the right to freedom of expression – the freedom to express ideas without fear of attack, arrest or other persecution – has been at the heart of International PEN’s work since it was formed in 1921.

Under no circumstances should writers have to fear retribution in the form of physical violence in any manner or form. Such reprehensible threats have no place in a society that values freedom of expression as a constitutional right.

The post PEN Afrikaans condemns threats to authors appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans veroordeel dreigemente teen skrywers

$
0
0

Click here for the English version.

PEN Afrikaans neem met kommer kennis dat outeur Chris Steyn en joernalis Marianne Thamm onderwerp is aan intimidasie en dreigemente ná die publikasie van Die seuns van Bird Island, ’n boek oor ’n beweerde pedofilienetwerk wat in die 1980's in Port Elizabeth bedryf is en wat na bewering sekere voormalige ministers van die Nasionale Party ingesluit het.

Plaaslike mediaberigte dui daarop dat mede-skrywer Mark Minnie, wat ’n paar dae ná die verskyning van die boek na bewering sy eie lewe geneem het, en Steyn albei bekommerd was oor hul veiligheid en huiwerig was om in die openbaar te verskyn omdat hul dreigemente ontvang het asook anonieme navrae oor waar hul hulself bevind.

Marianne Thamm, ’n gerespekteerde joernalis wat die voorwoord van Die seuns van Bird Island geskryf het, het op Twitter gemeld dat sy onder afknouery en aanlyn-teistering deurloop na die publikasie van die boek.

As lid van PEN International, die wêreld se grootste skrywersvereniging, maak PEN Afrikaans beswaar teen sulke onaanvaarbare pogings om skrywers te intimideer en stil te maak. Die beskerming van die reg op vryheid van uitdrukking - die vryheid om idees uit te druk sonder vrees vir aanvalle, arrestasie of ander vervolging – lê sedert PEN International se ontstaan in 1921 aan die kern van dié organisasie se werksaamhede.

Onder geen omstandighede behoort skrywers vergelding in die vorm van fisieke geweld te vrees nie. Sulke verwerpbare dreigemente het geen plek in ’n samelewing wat vryheid van uitdrukking as ’n grondwetlike reg verskans nie.

The post PEN Afrikaans veroordeel dreigemente teen skrywers appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Kapenaars, kom gesels saam oor moedertaalonderrig

$
0
0

Die belangrikheid van moedertaalonderrig kan nie genoeg beklemtoon word nie en vanjaar kry Kapenaars die geleentheid om die ATKV se Moedertaalfees, in samewerking met Afrikaans.com, by te woon.

Op 15 September 2018 word daar by die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville land en sand oor moedertaalonderrig gesels.

UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) beskryf moedertaalonderrig as “opvoeding wat ’n persoon se moedertaal as onderrigmedium gebruik”. Dié organisasie meen ook dat moedertaalonderrig absoluut noodsaaklik is. Die ATKV en Afrikaans.com deel hierdie siening wanneer daar oor taal in die onderwys gepraat word, juis omdat navorsing bewys het dat kinders beter leer, verstaan en presteer in hul moedertaal.

Die #MyTaal-program is, soos altyd, propvol en benewens die Skitter-in-Afrikaans-werkswinkel is daar interessante sessies om na uit te sien. Daar sal ook boeke, hulpmiddels en plakkate te koop aangebied word.

Die groot geskenk van moedertaal

Die bekende skrywer en spraakterapeut Christien Neser gaan vanaf 12:00 oor die belangrikheid van moedertaalonderrig gesels. René Arendse, projekkoördineerder van Afrikaans.com se muurkunsprojek, gaan ook ’n bydrae lewer oor moedertaal. Hierdie gesprekke is gratis en kan deur enige belangstellendes bygewoon word.

Indien jy die Christien se praatjie wil bywoon, stuur ’n e-pos voor 12 September aan RozeldiT@atkv.org.za.

Skitter-in-Afrikaans

Dié werkswinkel, gereël deur die ATKV se taalafdeling in samewerking met die vakadviseurs van Afrikaans in die Wes-Kaap se onderwysdistrikte, word vir graad 1- tot graad 7-Afrikaansonderwysers (huistaal en eerste addisionele taal) aangebied.

Tydens die werkswinkel sal onderwysers leiding kry in taalonderrig en toegerus word met kreatiewe idees, nuwe vaardighede en praktiese oplossings vir uitdagings in die klaskamer. Die temas wat bespreek gaan word, is die remediëring van lees, die sleutel tot suksesvolle leesbegriponderrig en woordeboekgebruik. Hulle sal ook deel wees van #MyTaal-pret en gesprekke oor die belangrikheid van moedertaalonderrig. Die werkswinkel sal van 07:00 tot 11:00 plaasvind.

Daar is slegs vir 200 mense voorsiening gemaak en onderwysers wat die werkswinkel wil bywoon, word versoek om so gou as moontlik in te skryf.

Die Skitter-in-Afrikaanswerkswinkel kos net R150. Indien jy belang stel, kontak gerus vir Rozeldi Trollip, projekorganiseerder by die ATKV, by 011 919 9006 of stuur ’n e-pos na RozeldiT@atkv.org.za.

Die sluitingsdatum is 31 Augustus en geen laat inskrywings kan aanvaar word nie.

The post Persvrystelling: Kapenaars, kom gesels saam oor moedertaalonderrig appeared first on LitNet.

Afrikaanse Taalraad vergader oor inklusiewe, diverse pad vorentoe

$
0
0

David Jantjies (bestuurder van die ATR en SAOOT se Moedertaalprojek), Ezra Plaatjies (KSUT-student en deeltydse ATR-jeugfasiliteerder) en Samuel Minnaar (US-student en deeltydse ATR-jeugfasiliteerder) het die ATR se jaarvergadering bygewoon (foto: Izak de Vries).

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) se algemene jaarvergadering, wat op Saterdag 25 Augustus in die Paarl gehou is, is een van die gebeurtenisse wat dié organisasie se eerste dekade oormerk. In hierdie eerste tien jaar het die ATR toenemend klem geplaas op inklusiwiteit en relevansie, en die nodigheid van voortgesette optrede rakende hierdie twee kerndoelwitte is gedurende die jaarvergadering herbeklemtoon.

“Die ATR het die afgelope tien jaar sterk voorbrand vir Afrikaans oor alle (en verbeelde) grense heen gemaak en ’n reputasie gevestig as ’n organisasie wat doelgerig uitreik na al die sprekers van die taal, en die variëteit wat hulle praat,” sê Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR. “Die groeiende mate van samehorigheid van die sprekers het dit vir die ATR moontlik gemaak om aktief by taalbeleid betrokke te raak en om Afrikaans effektief in ’n meertalige verband te bevorder.”

Japie Gouws, voorsitter van die ATR, en Astrid de Vos, uitvoerende hoof van die Dagbreektrust (foto: Anne-Marie Beukes)

Japie Gouws, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, beskou die ATR as die mees verteenwoordigende Afrikaanse taalorganisasie in terme van ras, geslag, geografie en die variëteite van die taal. “Maar ons wil nog beter doen en sal ons diversiteit en die uiteenlopende spektrum van idees wat reeds in die ATR uitgebou word in die loop van die jaar aansienlik uitbrei,” sê hy.

Astrid de Vos (Dagbreek Trust), Dirk Brandt (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans/SBA), Michael le Cordeur (SBA) en Niel le Roux (SBA) gesels by die ATR se jaarvergadering. Agter hulle staan Willie Liebenberg (Rapportryersbeweging) en Priscilla Evert, waarnemende sekretaris van die ATR (foto: Izak de Vries)

Die ATR loods dus ’n werwingsveldtog wat veral kunstefeeste en gemeenskapsorganisasies se betrokkenheid by die organisasie wil verhoog. “Ons het selfs ’n meganisme geskep waarvolgens veral gemeenskapsorganisasies wat om finansiële redes sukkel om deel te neem, gehelp kan word,” sê Gouws.

“Dis belangrik dat baie meer stemme van voetsoolvlak af in debatte oor taal gehoor word, veral dié van die jeug,” sê Fatima Allie, ondervoorsitter van die ATR. “Sonder die jeug het ons taal nie ’n toekoms nie. Die taal moet tussen generasies oorgedra word.”

Sinki Mlambo (ATR-direksielid), Morné Janson van die SAOU en Karien Brits (ATKV en nuwe ATR-direksielid) in gesellige luim by die ATR se algemene jaarvergadering. (Foto: Izak de Vries)

“Die Afrikaanse Taalraad sal dus voortgaan om moedertaalonderrig op gemeenskapsvlak te bevorder, om die ATR se suksesvolle jeugberade uit te brei en om studenteorganisasies by universiteite en kolleges te ondersteun,” sê Ria Olivier, programbestuurder van die ATR. Die organisasie sal veral aandag gee aan ’n inisiatief om meertaligheid en moedertaalonderrig in vennootskap met die ander inheemse tale van die land te bevorder. “Afrikaanse moedertaalonderrig kan nie in isolasie bevorder word nie, maar moet saam met die ander inheemse tale uitgebou word.”

Anne-Marie Beukes van die Universiteit van Johannesburg se taalkundedepartement (en ’n ATR-direksielid) en Jeremy Vearey, genooide spreker en skrywer (foto: Anne-Marie Beukes)

Steenkamp sê dat die waarde van moedertaalonderrig vir mense in veral arm en gemarginaliseerde gemeenskappe onderskat word en onvoldoende erkenning ontvang. “’n Mens kry soms die gevoel dat die Afrikaansdebat by sommige instellings beperk word tot middelklasbelange, tot mense wat Engels goed magtig is en vir wie dit soms min kan skeel of ’n instansie verengels of nie. Pleks daarvan dat Afrikaans en die ander inheemse tale van die land as struikelblokke beskou word, moet hulle aktief bevorder word as hulpbronne vir die ontwikkeling van arm en gemarginaliseerde gemeenskappe. Dis hulle belange wat in ag geneem moet word wanneer op die taalbeleid van instellings besluit word.”

Ná ’n dekade van harde werk en die bevordering van taal as ’n hulpbron, werk die ATR steeds aan versoening tussen die sprekers van Afrikaans. Baie is vermag deur erkenning te gee aan die uiteenlopende gesigte en klanke van Afrikaans en ’n sterk basis is gelê vir gesamentlike gesprekke oor taal en taalbeleid. “Nietemin moet ’n mens telkens terugkeer na gesprekke oor versoening. Dalk sal ons kleinkinders dit nie meer nodig hê nie, maar tot dan beur ons voort,” sê Olivier. “Dieselfde geld vir die bou van ’n vertrouensverhouding met die ander inheemse tale van die land.”

 

The post Afrikaanse Taalraad vergader oor inklusiewe, diverse pad vorentoe appeared first on LitNet.


ATKV-Woordveertjies vereer talentvolle skrywers

$
0
0

’n Boek is vir die siel soos wat ’n slypsteen vir ’n swaard is, en met die gehalte- Afrikaanse letterkunde wat elke jaar gepubliseer word, is dit vir die ATKV ’n reusevoorreg om talentvolle skrywers te vereer.

By vanjaar se ATKV-Woordveertjies is daar onder meer vir die beste skrywers, digters en dramaturge ’n klop op die skouer gegee vir hul enorme bydrae tot die letterkunde-landskap.

Dié geleentheid is op Vrydag 31 Augustus by die HB Thom-teater (waarvan die naam onlangs na die Adam Small-teaterkompleks verander is) in Stellenbosch gehou. Dit is vanjaar die 11de keer wat die ATKV-Woordveertjies aangebied word.

“Ons wil uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woord bekroon,” sê Nita Cronjé, bestuurder: kunste en produksies by die ATKV.

“Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum. Van woordeboeke tot prosawerke.”

Sy sê die hoofdoel van die toekennings is om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek.

“Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry. Dit is ook wonderlik om te sien hoe baie werk verlede jaar die lig gesien het.”

Volgens Nita het 12 digbundels vanjaar ingeskryf.

“Dit is verblydend om agter te kom dat so baie skrywers woeker met hul woorde as jy ook kyk na die 23 nuutgeskepte dramatekste wat ingeskryf het. Die ATKV-Woordveertjies moet skrywers motiveer om aan te hou om tot die Afrikaanse letterkunde-omgewing by te dra.”

Die ATKV-Woordveertjie vir Leesbevordering is ’n inspirerende kategorie wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes. Met PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop vir opgeleide honde voor en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.

Volgens Nita word hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie val.

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Hier volg die wenners van die ATKV-Woordveertjies 2018 en die beoordelaarsverslae volg direk daarna:

 

ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Beoordelaarskommentaar: ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Wat ’n verbluffende boek – in die letterlike en figuurlike sin van die woord. Hierdie roman staan kop en skouers bo al die ander benoemdes uit en een wat gemaklik sy plek kan volstaan op ’n wêreldverhoog.

Van Heerden is ’n meesterskrywer aan die woord. 

Die wêreld van Charlie Oeng is ’n komplekse, grootse roman en ’n waardige wenner van die ATKV-Prosaprys.

 

Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Irma Joubert is ’n uiters bekwame skrywer, nee, dalk eerder ’n towenaar.  Sy kry dit reg om gebeure uit die geskiedenis so eg en werklik te maak dat dit voel asof jy in tyd verplaas word.  Irma Joubert verdien waaragtig ’n pluimpie vir haar hoed.

 

Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Dit is ’n besonder indrukwekkende versameling gedigte dié wat omvang, diepgang en versvermoë betref.  Johan Myburg gaan ewe selfversekerd met vrye as met formele verse en prosagedigte om.

Uittogboek is die werk van ’n beleë digterskap en verdien om ernstig van kennis geneem te word.

 

Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Dit is ’n karakter en emosioneelgedrewe storie waarmee die leser kan identifiseer.  Alles werk!  Van die spanning en karakters tot by die navorsing.

 

Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Van Rensburg verdien vermelding vir die besonder behendige wyse waarop hy die uiteenlopende verhaallyne en aktuele vraagstukke in die roman tot oortuigende geheel saamsnoer.  Boonop slaag hy daarin om aan ’n oënskynlik voor-die-hand-liggende slot ’n heerlike (en oortuigende!) kinkel te gee.

Dit maak van hierdie roman ’n uitstekende keuse as die wenner van die Prys vir Spanningslektuur vir 2018.

Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

DEURnis, teater waar een akteur teenoor een gehoorlid speel in ’n spesiaal toegewysde ruimte, is ’n betreklik nuwe konsep in die Afrikaanse teater.

Dit is verbasend hoe groot impak dié stukke binne so ’n kort tyd het en hoe lank daarna die karakters en ’n mens se belewenis van hul situasie jou bybly. Dit dui onder meer op ’n besondere diepgang in die tekste, desondanks hul lengte.

 

Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

 Spertyd is ’n vars, eerlike, onverskrokke blik op die proses van oudword.  Die teks bied die perspektief van ’n deurwinterde woordsmid wat haar pen met gesag laat praat.  Die leser kan nie anders as om meegevoer te word op hierdie reis wat by tye skreeusnaaks, ander kere knop-in-die-keel hartseer, maar altyd meelewend is nie.  Hierdie teks verryk die Afrikaanse literêre landskap op elke moontlike gebied denkbaar.

 

Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Beoordelaarskommentaar: Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Aangesien daar ’n groot behoefte aan nuwe Afrikaanse vaktaalwoordeboeke is, is dit verblydend dat ’n woordeboek soos die Explanatory Dictionary of Politics/Verklarende Politieke Woordeboek deur Juta gepubliseer is – en juis nou terwyl die hoër funksies van Afrikaans onder druk is.

Hierdie woordeboek bied nie net terme en begrippe uit die politieke bestel nie, maar is ook leksikografies vernuwend omdat dit ’n vertalende én verklarende woordeboek is. Daarbenewens bevat die woordeboek afkortings, goeie definisies en talle resente terme.

Met sy professionele uitleg en gebruikersvriendelike leesbaarheid kan dié woordeboek met vrug gebruik word deur vakspesialiste, taalpraktisyns, politieke kommentators, rubriekskrywers en toespraakskrywers. Joernaliste by koerante, tydskrifte, die radio en televisie sal ook die woordeboek baie nuttig vind.

 

Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Beoordelaarskommentaar: Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Pets As Therapy (PAT) is ’n nie-winsgewende organisasie wat terapeutiese besoeke bring aan ouetehuise, skole en spesiale skole. In PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Die program is gebaseer op die READ (Reading Education Assistance Dogs)-program wat sy ontstaan in die VSA gehad het. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop voor vir opgeleide honde en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie. Kinders se leesvaardighede en -begrip verbeter sodanig met hierdie program dat hulle na ’n paar weke selfs beter vaar as wat van hulle vereis word. Hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig word reeds met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut val op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie sodat nog honde en hul eienaars opgelei kan word om in skole en gemeenskappe ’n leesverskil in kinders se lewe te maak.

 

ATKV-Kinderboektoekennings

Die wenners in die ATKV-Kinderboektoekennings het ook hul pryse tydens die ATKV-Woordveertjies ontvang. Dié kompetisie word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die boeke wat vir hierdie toekennings in aanmerking kom, word deur die kinders self beoordeel.

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal

The post ATKV-Woordveertjies vereer talentvolle skrywers appeared first on LitNet.

Foto's: ATKV-Woordveertjies 2018

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies is vanjaar vir die 11de keer aangebied. Die prysfunksie is Vrydag 31 Augustus in Stellenbosch gehou. Izak de Vries en Naomi Bruwer deel hulle foto's.

ATKV-Kinderboektoekennings

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Louise Smit
Foto: Izak de Vries

Louise Smit
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

Izak de Vries het die toekennings namens Jaco Jacobs en Johan Strauss in ontvangs geneem.
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Izak de Vries en Sylvia de Wet van LAPA-Uitgewers het die prys in ontvangs geneem.
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Cecilia Steyn
Foto: Izak de Vries

Cecilia Steyn
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal

Marion Erskine
Foto: Izak de Vries

Marion Erskine
Foto: Naomi Bruwer

Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Albert Venter en Louis du Plessis
Foto: Izak de Vries

Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Marleanna le Roux
Foto: Izak de Vries

Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Dina Botha
Foto: Izak de Vries

Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Irma Joubert
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Rudie van Rensburg
Foto: Izak de Vries

Rudie van Rensburg
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

Johann Smith
Foto: Izak de Vries

Johann Smith
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Johan Myburg
Foto: Izak de Vries

Johan Myburg
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

Die toekenning is deur Elsa Joubert se kleinseun in ontvangs geneem.
Foto: Izak de Vries

Foto: Naomi Bruwer

ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Etienne van Heerden
Foto: Izak de Vries

Etienne van Heerden
Foto: Naomi Bruwer

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Marietjie Coetzee, Hettie Scholtz, Cecilia Britz en Alida Potgieter 
Foto: Izak de Vries

Foto: Izak de Vries

The post Foto's: ATKV-Woordveertjies 2018 appeared first on LitNet.

Klassieke musiek seëvier tydens finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto

$
0
0

Tydens die glansgeleentheid is van links Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-direksie, Bongani Kubheka (wenner van ATKV-Muziqanto), Cameron Williams (wenner van ATKV-Muziq) en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

Klassiekemusiekkunstenaars kry deesdae min erkenning vir die waarde wat hulle tot kultuur en die kunste toevoeg, maar by vanjaar se finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto is dié merkwaardige musici vir hul talente vereer.

Die kompetisie, by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow, Kaapstad, het Saterdag (8 September) op 'n hoë noot geëindig toe die wenners aangekondig is.

ATKV-Muziq ('n nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie) en -Muziqanto ('n klassiekemusieksangkompetisie) se finale is hierdie jaar saam gehou.

Uit die sewe deelnemers in elke kompetisie wat Vrydag in die tweede ronde teen mekaar meegeding het, is drie gekies om Saterdagaand by 'n swierige geleentheid saam met die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van maestro Richard Cock, op te tree.

"Ons is baie bevoorreg om 'n direksie by die ATKV te hê wat 'n groot bewondering en passie vir klassieke musiek koester," sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

"Ons het regoor die land vir die beste klassieke musikante en sangers gesoek en vanaand het hulle gewys waartoe hulle in staat is."

Die eersteplekwenners in albei kompetisies stap onderskeidelik weg met 'n kontantprys van R70 000. Die tweedeplek- en derdeplekwenners ontvang onderskeidelik R35 000 en R20 000.

Die 21-jarige Cameron Williams het vanjaar koning in die ATKV-Muziqkompetisie gekraai.

Dié saksofoonspeler se ratse vingers en lang asem het die gehoor en die beoordelaars in vervoering gehad.

"Ek is in die wolke," het Cameron ná die groot aankondiging gesê.

"Ek het met die kompetisie grootgeword en nog altyd die deelnemers en wenners bewonder. Dit is wonderlik om dit te wen."

Die naaswenner was die pianis Brian Bae en die violis Paul Loeb van Zuilenburg was derde.

Die bariton Bongani Kubheka is as die wenner van ATKV-Muziqanto aangewys. "Dit is 'n wonderlike gevoel," het Bongani gesê terwyl hy van oor tot oor geglimlag het.

"My teenstanders was almal baie goed en dit was beslis 'n tawwe kompetisie.

"Ek het voor die kompetisie nog 'n vertoning in die Baxterteater gehad en ek was nie seker of ek voorbereid genoeg was nie."

Bongani beoog om in Europa aan oudisies te gaan deelneem, terwyl Cameron nog nie veel uit die mou oor sy toekomsplanne wil laat nie.

Luvuyo Mbundu (bariton) was tweede en Segomotso Shupinyaneng (sopraan) derde.
Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG was weer vanjaar die mediavennoot van ATKV-Muziq en -Muziqanto.

The post Klassieke musiek seëvier tydens finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto appeared first on LitNet.

Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Augustus 2018

$
0
0

Hier is PEN Afrikaans se oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Daar is ook skakels na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is.

Boeke24

Die volgende resensies en boekverwante artikels het gedurende Augustus in die Afrikaanse dagblaaie verskyn – onder redaksie van Laetitia Pople, die nasionale kuns- en vermaakredakteur, en Jo Prins, nasionale boekeredakteur:

1 Augustus
Nuus/Boeke/Kuns: John Miles: Kroniek uit die Onder-Bokkeveld – Jo Prins
Hulde aan Miles met sy 80ste verjaardag

2 Augustus
Kuns/Nuus: Bibi skuif van die bed na die boekrak – AJ Opperman

3 Augustus
Kuns/nuus: Krog se poësie op ’n ander noot – AJ Opperman

Kuns/Boeke: Tom Gouws se ‘besigheid met die dood’ – Johann Lodewyk Marais

6 Augustus
Boekeblad: Brutaal briljante omgang met taal
Jonathan Amid resenseer Wrok deur Beyers de Vos

Boekeblad: Wekroep om self dié paaie te verken
Riaan Grobler resenseer Doodsake op Karibib deur Isa Konrad

Boekeblad: Storie sal jou die skrik op die lyf jaag
Johannes Meyer resenseer Kamp vir monsters deur De Wet Hugo

10 Augustus
Nuus: Uitgewer Koos Human sterf

Kuns/Boeke: Lees Elisabeth Eybers se gedig vir Koos Human

Kuns: Koos Human: ’n Koning in die Afrikaanse uitgewerswese – Laetitia Pople

Nuus/Boeke: SJ Naudé vir 2 kykNETRapportpryse benoem

11 Augustus
Kuns: Koos Human – ’n reus in die SA uitgewersbedryf – Kerneels Breytenbach

13 Augustus
Boekeblad: 'Jou dood is ’n gat wat nooit toegroei nie’
Marius Crous resenseer I Wish I’d Said. Saamgestel deur Johann de Lange en Mantoa Motinyane

Boekeblad: Tarzan bult sy spiere in Afrikaans
Jean Meiring resenseer Tarzan keer terug deur Edgar Rice Burroughs. Vertaal deur Louis Botha

14 Augustus
Nuus/Kuns: Van Rensburg: ’n Taalkolos, nie ’n taalbul – Jo Prins

15 Augustus
Kuns: Marita: Elke boek is ’n dubbele geskenk – Mariana Malan

Kuns/Boeke: Roy wys hoe werk werklikheid en fiksie
Joan Hambidge oor die Kaapse been van Arundhati Roy se besoek aan SA

18 Augustus
Kuns/Boeke: So lyk ’n Suid-Afrikaanse held – Laetitia Pople

Profiel/Stemme: Storieman van Bloemfontein – Dirk Kok met dr. Hannes Haasbroek

20 Augustus
Boekeblad: Verstommende visuele reis vir leser
Riaan Grobler resenseer Wat het geword van Dinsdag? deur Tinus Horn

Boekeblad: Roman ’n skalpel wat kundig en klinies tot op been sny
Jonathan Amid resenseer Lam ter slagting deur Madelein Rust

Kuns/Nuus: Lerina Erasmus dood – Laetitia Pople

Kuns/Nuus: Erasmus se bydrae was enorm, sê Sandra Prinsloo – Laetitia Pople

Kuns: Vertalings al hoe belangriker in tye van onsekerheid – Amanda Botha

21 Augustus
Kuns/Boeke: Van Heerden beid 2de veldsoriée op Cradock aan

Nuus: ‘Totsiens mnr. Human, ons is almal lief vir jou’ – Jana Breytenbach

23 Augustus
Kuns/Boeke: Digter se debuut besin oor multikulturele samelewing – Herschelle Benjamin

Nuus: Hier is kortlyste vir resensiepryse – Jo Prins

27 Augustus
Boekeblad: ‘Enkele Storie’ geen guns vir Arundhati Roy
Carla Lewis skryf oor die Johannesburgse been van Arundhati Roy se besoek aan SA

Boekeblad: G’n radiovriendelike pop, maar rock ’n roll
Bibi Slippers resenseer Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper

Kuns: “Ek wou nog sê…” – AJ Opperman

28 Augustus
Kuns/Boeke: Harry Kalmer bied skryfkursus in Jhb en Pta aan

Kuns/Boeke: Klopper se debuutroman het ware temalied – AJ Opperman

29 Augustus
Nuus: Pauw oes Nielsen-prys in – Jo Prins

31 Augustus
Kuns: Afrikaanse roman in Turks vertaal – Elretha Britz

Kuns/Boeke/Nuus: Wenners van die ATKV-Woordveertjies

Profiel/Stemme: Rock chick wil vry wees van 'Afrikaanse borstrok'
Murray La Vita praat met Annie Klopper

Die Groot Ontbyt

Leonie van Rensburg het in Augustus die volgende boeke op kykNET se ontbyt-TV-program bespreek:

7 Augustus

  • Wrok deur Beyers de Vos
  • ’n Skerfie glas deur Erika Murray-Theron
  • Die seuns van Bird Island deur Mark Minnie en Chris Steyn

14 Augustus

  • Bloedbande: ’n Donker tuiskoms deur Wilhelm Verwoerd
  • Wat het geword van Dinsdag? deur Tinus Horn
  • Ta-Da! deur Johané Neilson

21 Augustus

  • Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper
  • Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock
  • Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel

28 Augustus

  • Nagreisiger deur Leon van Nierop
  • Veldiep deur Fanie Viljoen
  • Aankoms en vertrek deur Pat Stamatélos

Bibi se boekrak

In hierdie kykNET-webreeks gee bekroonde digter en boekwurm Bibi Slippers nuus en aanbevelings wat met boeke te doen het. Sy gesels ook met mede-lesers.

Die volgende episodes is in Augustus vrygestel:

2 Augustus
Bibi bespreek Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel, en Donnalee Roberts vertel van ’n boek wat haar loopbaan verryk het.

9 Augustus
Bibi bespreek Soweto, Under the Apricot Tree deur Niq Mhlongo en Waldimar Pelser vertel watter niefiksie-boeke sy persepsie van Suid-Afrika verander het.

16 Augustus
Bibi bespreek Beyers de Vos se debuutroman Wrok en praat ook met die skrywer.

23 Augustus
Bibi bespreek Annie Klopper se debuutroman Die tragiese saak van Pamina Vermaak en praat ook met die skrywer.

30 Augustus
Bibi bespreek A Spy in Time deur Imraan Coovadia en gesels oor die Open Book Festival wat van 5 – 9 September in Kaapstad plaasvind.

LitNet

Die volgende Afrikaanse resensies en skrywersonderhoude het in Augustus op LitNet verskyn:

Boerekos kry ’n moderne baadjie: ’n resensie van Boerekos with a twist deur Annelien Pienaar

Maryke Roberts
Resensies

2018-09-10

"Die nuttige inligting voor die verskillende hoofstukke om jou te leer wanneer jy ’n ballonklitser gebruik; of hoekom room skei; wat die verskil tussen flambé en soteer is; of hoe warm jou oond vir watter gereg moet wees, help selfs die onkundigstes onder ons."

Die verlore smoking gun van Bird Island: 'n resensie

Jean Oosthuizen
Resensies

2018-09-07

"Dit sal net so ’n groot onreg wees om onskuldige mense as pedofiele te brandmerk indien dit leuens is as om die slagoffers se pyn te misken as dit waar sou wees."

Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer: ’n resensie

Yolanda Wessels
Resensies

2018-09-06

"Met Bruistablette vir die lewe nooi die geliefde skrywer en motiveringspreker jou saam op ’n geselsreis om hoop te bied aan die moderne vrou en die uitdagings van die lewe. Dit is geskryf met humor, deernis en insig."

'n Brief vir Reina deur Elsa Winckler: ’n resensie

Maryke Roberts
Resensies

2018-09-06

"As dit ligte vermaak is waarna jy soek, is dit die boek vir jou."

Dowe gode deur Dibi Breytenbach: ’n resensie

Org Potgieter
Resensies

2018-09-06

"Dowe gode is Breytenbach se vierde misdaadboek en span die kroon. Sy het geen moeite met haar navorsing en haar teks ontsien nie. Dit wys op elke bladsy."

As sy weer kom deur Marlize Hobbs: ’n resensie

Deborah Steinmair
Resensies

2018-09-04

"Skryf is lyf, skryf is bloederige geboorte, en as jy dit reg doen, is dit morsig. En daar is ’n sekere manier waarop veral vroueskrywers dit reg kan doen."

Spertyd deur Elsa Joubert: ’n lesersindruk

Mantie Smith
Lesersindrukke

2018-09-04

"Joubert beskryf met patos die 'skimwêreld' waarin die ouerwordende persoon hom/haar al hoe meer bevind: die verwarring, die vergeet van die alledaagse gryp jou aan die hart."

Dowe gode deur Dibi Breytenbach: ’n lesersindruk

Irene van Staden
Lesersindrukke

2018-09-04

"Die storie van die roman handel oor ’n hele paar sensitiewe en moeisame temas. Breytenbach het dit egter reggekry om op ’n elegante en eerlike manier oor hierdie temas te skryf, wat reg aan die verskeie temas laat geskied."

Van kant gemaak deur Kris van Steenberge: ’n FMR-resensie

Riette Rust
Resensies

2018-08-30

"Indien jy nog nie ’n leser van Nederlandse letterkunde is nie, sal hierdie roman jou waarskynlik inspireer om meer hieroor uit te vind. Van kant gemaak is Van Steenberge se eerste roman. Wat ’n meesterstuk is dit nie!"

Dankie, Generaal deur Nico Moolman: ’n resensie

Org Potgieter
Resensies

2018-08-28

"Die boek se grootste waarde lê in die geweldig groot aantal foto's – sommige ingekleur – waarop die skrywer-speurder op sy reise in museums en ontmoetinge met nasate van ABO-soldate aan albei kante afgekom het."

Anglo-Boer War (South African War) 1899–1902: Historical Guide to Memorials and Sites in South Africa deur Jackie Grobler: ’n lesersindruk

Astrid Schwenke
Lesersindrukke

2018-08-28

"Dit was sy doel om vir die student, die reisiger deur Suid-Afrika en die publiek ’n publikasie saam te stel wat aanvullend tot studies, as reisgids of as interessante leesstof benut kan word."

Die lucky strike deur Steve Hofmeyr: ’n lesersindruk deur Barend van der Merwe

Barend van der Merwe
Lesersindrukke

2018-08-28

"Alles in ag genome sou ek egter ter samevatting sê dat Die lucky strike, presies nes sy voorganger, interessante en prikkelende misdaadfiksie is."

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n resensie

Gerda Taljaard
Resensies

2018-08-22

"Reeds met die optel van die boek vermoed die leser dus dat die bose en dood, soos dit enige goeie sielkundige riller betaam, heeltyd net onder die oppervlak teenwoordig sal wees; dat dit soos in NP Van Wyk Louw se ‘Ballade van die bose’ immer in die karakters se spoor sal trap ‘soos ’n goeie hond’."

Dubbelspiraal deur André Jansen: ’n resensie

Martie Retief-Meiring
Resensies

2018-08-22

"Met ’n meesterlike ratatata-inleiding neem die skrywer die leser in hierdie roman (speurrroman?) op ’n vinnige, intense voëlvlug oor vier vurige dekades van die afgelope Suid-Afrikaanse geskiedenis."

Aantekeninge teen die skemeruur deur Clinton V du Plessis: ’n resensie

Louise Viljoen
Resensies

2018-08-15

"Die bundel is ryk aan beelding, netjies opgebou rondom bepaalde temas, en openbaar ’n besondere klankgevoeligheid. Aantekeninge teen die skemeruur is ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse poësie wat wyd gelees behoort te word."

Uit die bloute deur Chanette Paul: ’n resensie

Elbie Adendorff
Resensies

2018-08-15

"Uit die bloute is ’n boek wat ek nie kon neersit nie."

Grilgrypers deur De Wet Hugo: Grieselrige goeters wat leesgieriges sal gryp en laat gril

Magdel Vorster
Resensies

2018-08-13

"Danksy grillers is plekke waar die onmoontlike en dikwels ondenkbare wel bestaan en gebeur, tydelik toeganklik. Boonop word monsters in stories oorwin en ervarings in donker woude hou nie vir ewig aan nie."

Pienk is nie vir sissies nie deur Christien Neser: ’n resensie

Magdel Vorster
Resensies

2018-08-10

"Met bestanddele soos bergfietse, ’n manlike balletdanser, ’n flambojante skoolsielkundige, gewapende roof en ’n hele paar aanhalings uit alombekende boeke is dit duidelik dat hierdie storie oor meer gaan as wat in die titel voorspel word."

Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand deur Izak du Plessis: ’n lesersindruk

Barend van der Merwe
Lesersindrukke

2018-08-10

"Die sielkunde agter misdadigers kan ons soos legkaartstukke aanmekaar probeer pluis vanuit die veiligheid van ons eie huise. Hoekom is misdadigers soos hulle is? En in die geval van ene Ralph Haynes is die vraag: Wat het van hom geword?"

Kringloop deur Bets Smith: ’n lesersindruk

Irene van Staden
Lesersindrukke

2018-08-10

"Bets Smith se roman was lekker om te lees. Dit neem onverwagse draaie en Smith hou die leser goed in die duister oor wie die ontvoerder is."

Ystervuis uit die see deur Arnè Söderland en Douw Steyn: ’n resensie

Org Potgieter
Resensies

2018-08-10

"Baie boeke is al geskryf oor die Suid-Afrikaanse magte in die Grensoorlog, maar weinig is bekend oor die rol van ons seemagte. In hierdie boek word verslag gedoen van 50 uiters geheime see-operasies deur 4 Recce, ander Spesmagte-eenhede en die SA Vloot."

Jong lesers: Middernagfees deur Jaco Jacobs

Wynand Wessels
Jong lesers

2018-08-08

"Jaco se boeke lees altyd maklik en dit voel of ek in sy stories is en saam alles doen."

Jong lesers: The Twits deur Roald Dahl

Erin Balie
Jong lesers

2018-08-08

"Baie snaakse dinge gebeur met meneer en mevrou Twit. Dit is ’n baie interessante boek. Toe ek die boek begin lees het, wou ek dit glad nie neersit nie."

Jong lesers: The adventures of Captain Underpants deur Dav Pilkey

Zekiah Petersen
Jong lesers

2018-08-08

"Dit is so ’n pragtige storie. Ek sal dit beslis aanbeveel."

Gesant van die mispels en In die stille agterkamer deur Marlene van Niekerk: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Helize van Vuuren
Resensies

2018-08-08

"Van Niekerk gooi met haar nuwe werk ’n Nietzscheaanse tou oor die afgrond na lesende kritici, kritiese lesers, gewoond om 'teen die grein' en vryblywend te beoordeel, te evalueer en te kategoriseer. Nie langer kan kritici afstandelik, veilig en vanaf die verte sonder emosionele betrokkenheid skryf nie."

Brugbouers deur Rudi Buys: ’n lesersindruk

Barend van der Merwe
Lesersindrukke

2018-08-03

"Die boek is nie ’n geskiedenisboek oor die gebeure rondom die Reitz-video nie. Dit is eerder ’n boek wat probeer om die breë beginsels daar te stel van gemeenskappe wat verander. En verandering is iets wat nooit voltooi word nie. Dat daar konflik sal wees, is gegewe."

Jong lesers: Die tandeterroris deur David Walliams, vertaal deur Kobus Geldenhuys

Johannes Meyer
Jong lesers

2018-08-02

"Ek hou baie van die verhaal, want dit gee vir mens gemengde/verskillende gevoelens. Dit laat mens emosioneel voel – partykeer hartseer, partykeer bly."

Jong lesers: Billionaire boy deur David Walliams

Canha Meyer
Jong lesers

2018-08-02

"Maar nes alle goeie boeke hou die boek jou op jou tone. Mense is geneig om te dink dat geld jou gelukkig kan maak, maar die boek verskil heeltemal van daardie algemene visie."

Jong lesers: Die leeutemmer se assistent deur Solet Scheeres en Marjorie van Heerden

Kaylie Herbst
Jong lesers

2018-08-02

"Kom beleef die sirkus soos nog jy dit nog nooit gesien het nie – jy sal voel of jy daar is!"

Jong lesers: Sarah Espinoza resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

Sarah Espinoza
Jong lesers

2018-08-02

"Die leser beveel hierdie boek aan, want dit het ’n interessante storielyn en dit is maklik om te lees, wat Engelssprekende tieners se woordeskat sal verbeter."

Jong lesers: Qailah Hannie resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

Qailah Hannie
Jong lesers

2018-08-02

"Ek sal die boek vir jong lesers aanbeveel vir die uitstekende storielyn en interessante hoofkarakters."

Polemieke: bekgevegte in Afrikaans deur Gabriël Bothma: ’n resensie

AJ Opperman
Resensies

2018-08-02

"Ek meen, wie sal sonder nuuskierigheid en sonder gevoel ’n boek oor polemiek en Afrikaans toeslaan wat 'Boetman is die bliksem in', Piekniek by Dingaan en Voëlvry, Daisy de Melker, Joost van der Westhuizen, Bram Fischer, Adam Small en 'beskaafde' apartheid in dieselfde asem noem?"

Jong lesers: Nicholas Hanlon resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

Nicholas Hanlon
Jong lesers

2018-08-02

"Hierdie boek is vol geheime en plaas die leser op ’n emosionele wipplankrit."

Jong lesers: Kaitlyn Sookdhew resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

Kaitlyn Sookdhew
Jong lesers

2018-08-02

"Ek was hier is ’n roman wat ’n raaisel, ’n tragedie, ’n komedie, ’n drama, ’n aksie-storie en ’n romanse alles in een is."

Jong lesers: Nicole White resenseer Die legendariese Lua Verwey – Wilder as die wildtuin deur Dihanna Taute

Nicole White
Jong lesers

2018-08-02

"Dis skreeusnaaks. Ek het so gelag, selfs my ma wou die boek saam met my lees!"

A feast from nature deur Renata Coetzee: ’n resensie

François Verster
Resensies

2018-08-01

"A feast from nature is ’n fees om te lees, en ’n verrykende kenniservaring, maar daar is iets méér ... dalk ’n eggo uit ’n gedeelde verlede wat alle mense kan waardeer. Mag Renata Coetzee se bydrae tot ons geskiedenis ons help om ’n groter begrip van mekaar te ontwikkel en sodoende ’n beter toekoms te beding."

Bakgeheime: ’n onderhoud met Martjie Malan

Naomi Meyer, Liné Enslin, Martjie Malan
Skrywersonderhoude

2018-08-23

"Al my geheime is in die boek opgesluit – ek het nie een wat ek geheim hou vir myself nie. Die boek is vir elkeen wat dit ooit sal oopmaak, en alle bakgeheime is nou daarin verklap."

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n (musikale) onderhoud

Naomi Meyer, Annie Klopper
Skrywersonderhoude

2018-08-21

"Ek wou die tipe boek skryf wat ek en my vriende sal kan geniet. Ek is mal oor liefdesverhale, maar daar is dinge wat my hinder in sommige meer tradisionele Afrikaanse liefdesromans. Soos dat die hoofkarakters meestal net wit en straight is. Of dat die vroue se krisisse altyd veroorsaak – en opgelos word – deur mans, eerder as deur hulleself."

I wish I'd said: ’n onderhoud met Johann de Lange

Naomi Meyer, Johann de Lange
Skrywersonderhoude

2018-08-08

"Daar word alreeds geruime tyd en deur ’n groot verskeidenheid organisasies en persone werk rondom meertaligheid gedoen. ... Dit is ... belangrik dat verskille gevier word, en dat daar nie probeer word om van alles ’n eenselwige grys brei te wil maak nie."

Rapport

Die volgende resensies het gedurende Augustus in Rapport, onder redaksie van Johan van Zyl, verskyn:
           
5 Augustus

Resensie: Anna Kemp resenseer Tweespoor deur Helena Gunter

Resensie: Theunis Engelbrecht resenseer Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand deur Izak du Plessis

Resensie: Loftus Marais resenseer Less deur Andrew Sean Greer

Resensie: Deborah Steinmair resenseer Stroomop deur Adeline Radloff

12 Augustus

Resensie: Bill Nasson resenseer Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn, 1904-1910 / Selections from the Letters of President M.T. Steyn, 1904-1910 (geredigeer deur Con de Wet en Elizabeth van Heyningen, met vertalings deur Chris van der Merwe)

Resensie: Jaco Barnard-Naudé resenseer History of violence deur Édouard Louis

Resensie: Deborah Steinmair resenseer Dubbelspiraal deur André Jansen

Resensie: Magdel Vorster resenseer Dinge wat ek nie van skape geweet het nie deur Jaco Jacobs en Raaiselklip deur Troula Goosen

18 Augustus

Resensie: Herman Wasserman resenseer Die seuns van Bird Island deur Mark Minnie en Chris Steyn

Resensie: Jean Mearing resenseer Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock

Resensie: Henri Malan resenseer Kraak deur Rouxnette Meiring

26 Augustus

Resensie: Valda Jansen resenseer Wrok deur Beyers de Vos

Resensie: Rodney Warwick resenseer South Africans versus Rommel: The Untold Story of the Desert War in World War II deur David Brock Katz

Resensie: Nellie Brand-Jonker resenseer Death and Taxes: How SARS made hitmen, drug dealers & tax dodgers pay their dues deur Johann van Loggerenberg

Rubriek: “Verhaal van ’n padda en ’n akkedis” deur Daniel Hugo (oor die vriendskap tussen die digters Richards Wilbur en Ernst van Heerden)

Maroela Media

Die volgende resensies het gedurende Augustus op Maroela Media, onder redaksie van Suné van Heerden, verskyn:

2 Augustus
Kop in die wolke in Kromkieriefontein deur Milan Murray
Dis ’n heerlike anderste storie – een wat die jong leser uitdaag om nie net op die alledaagse en die hier en nou te fokus nie, maar om ook te waag om te droom.
Lees die resensie

7 Augustus
Sizwe spring deur Gaia Cornwall
Sizwe het swemlesse gehad en hy het ook sy swemtoets geslaag. Al uitdaging wat nou oorbly, is om van die hoë duikplank af te spring soos al die ander kinders doen…
Lees die resensie

21 Augustus
Meisies kan enige iets doen deur Caryl Hart met illustrasies deur Ali Pye
Die wonderlike boodskap van die boek is dat meisies absoluut fantasties is en net mooi enige iets kan doen wat hulle wil.
Lees die resensie

23 Augustus
Doodsroeper deur Rika Cloete
… en tog weet iedereen hoe maklik stilte vreesaanjaend kan wees as ʼn mens besig is met sy eie gedagtes en dan skielik iemand se teenwoordigheid voel. ʼn Koue rilling kriewel teen my rug af en ek was dadelik onder die ban van die Stilbos. Ek móét hierdie boek gaan lees, skryf Alexander Mickel.
Lees die resensie

28 Augustus
Laat die potte prut deur Piet Marais & Frik Oosthuizen
Potjiekosliefhebbers se monde sal water by die aanskoue van hierdie versameling lipleklekker resepte.
Lees die resensie

30 Augustus
Doodsake op Karibib deur Isa Konrad
Louise Viljoen beveel hierdie boek aan vir lesers wat veel meer in ’n spanningsroman soek as net bloed en derms. “Die spanning bou fluks op, maar die menslikheid bly nie agterweë nie.”
Lees die resensie

Skrywers en boeke (RSG)

Potgooie van die volgende boekgesprekke, wat gedurende Augustus op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:
http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=270

Woensdag 1 Augustus

Ilse Salzwedel gesels met Beyers De Vos oor sy debuutroman Wrok. James Brent-Styan vertel hoekom sy boek Steinhoff en die Stellenbosse boys deur almal gelees behoort te word. FA Venter se Offerland-reeks is pas herdruk, en jy kan luister na 'n onderhoud met hom wat in 1967 opgeneem is. In sy internasionale bydrae gesels Johan Myburg onder meer oor 'n verrassende naam op die Manbooker-prys se langlys.

Woensdag 8 Augustus

Hoe beïnvloed die tydsgees moderne letterkunde? Madelein Rust, die bekende skrywer van misdaadromans, het navorsing hieroor gedoen en gesels met Ilse Salzwedel oor hierdie interessante onderwerp. Izak du Plessis gesels oor sy boek Ralph Heyns: Godfather van die Wes-Rand. Amanda de Stadler van Vriende van Afrikaans (VVA) gesels oor Koop-'n-Afrikaanse-boekdag op 14 Augustus, en vertel ook hoe luisteraars kan betrokke raak by leesbevordering. Johan Myburg gesels in sy bydrae onder meer oor die Not the Booker-prys en die "demokratiese" Nobelprys vir Letterkunde waarvoor lesers wêreldwyd tans kan stem.

Woensdag 15 Augustus

Ilse Salzwedel praat met Joanita Fourie, 'n ervare teksredakteur, oor foute wat skrywers moet vermy. Madelein Rust gesels oor haar nuwe roman Lam ter slagting, en in sy internasionale insetsel gesels Johan Myburg onder meer oor SV Naipaul, die Trinidadse skrywer wat onlangs oorlede is.

Woensdag 23 Augustus

Ilse Salzwedel gesels met die skrywer Jean-Pierre de Kock en die teksredakteur Suzette Kotze-Myburg oor Jean-Pierre se debuutroman Daggaboer. Die ervare redigeerder Joanita Fourie deel nog klein jakkalsies wat skrywers liefs moet vermy, en Johan Myburg gesels oor onder meer Muriel Spark, skrywer van The Prime of Miss Jean Brodie, wat vanjaar 100 jaar gelede gebore is.

Woensdag 29 Augustus

Ilse Salzwedel gesels met Philip de Vos (digter en skrywer) en die illustreerder Piet Grobler oor hulle gesamentlike boekprojekte oor die jare. Dit sluit kinderboeke en ook strokiesprente vir volwassenes in. Joanita Fourie, ervare teksredakteur, deel waardevolle raad met voornemende skrywers, en Dia van Staden vertel waarna boekliefhebbers kan uitsien by die Pretoria Boekejol wat hierdie naweek in Centurion gehou word.

Vers en klank (RSG)

Potgooie van die poësievoorlesings, wat gedurende Augustus op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:
http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=102

Dinsdag 7 Augustus
Joanie Combrinck lees verse vir, en oor, vroue van alle ouderdomme.

Dinsdag 14 Augustus
Juanita Swanepoel lees verse van Elisabeth Eybers.

Dinsdag 21 Augustus
Marcel van Heerden lees verse van Koos du Plessis.

Dinsdag 28 Augustus
Martelize Kolver lees verse van Jeanne Goosen uit haar bundel Elders aan diens

Woorde wat weeg

Joan Hambidge se blog, Woorde wat weeg, is ’n webtuiste waar dié digter-literator sowel gedigte as boekbesprekings, rubrieke en gedagtes rondom die letterkunde versamel en aanbied:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/

In Augustus het Hambidge die volgende resensie vir Fine Music Radio gelewer:
Wrok deur Beyers de Vos

Versindaba

Op hierdie webblad wat gewy word aan die Afrikaanse digkuns en gesprek rondom die poësie, vind besoekers al die mees onlangse resensies en onderhoude in die regterkantste kiesbalk. In dié kiesbalk is ook skakels na nuwe gedigte en blogs oor die poësie.

In Augustus het die volgende skrywersonderhoude verskyn:

WL van der Merwe gesels met René Bohnen oor sy debuutbundel, Doodmenslik

Pieter Odendaal in gesprek met Louis Esterhuizen oor sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Vrouekeur

Willie Burger het gedurende Augustus die volgende resensies en rubrieke gelewer: 

4 Augustus
Ken jou storie: Kate Mosse

12 Augustus
Kies ’n boek: Ys deur Rudie van Rensburg en Maybe Esther deur Katja Petrowskaja

19 Augustus
Kies ’n boek: Peet Venter se jongste misdaadfiksie en jeugboekpryswenners

26 Augustus
Kies ’n boek: ‘Slim boeke’

The post Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Augustus 2018 appeared first on LitNet.

Wat elke skrywer moet weet: Eienaarskap van outeursreg in opdragwerke, met spesifieke verwysing na letterkundige werke

$
0
0

Sadulla Karijker

Daar is ’n algemene wanopvatting oor outeursregwerke, naamlik dat die persoon wat opdrag gegee het dat die outeursregwerk geskep word, ook die outeursreg in so ’n werk besit. Hierdie artikel sal illustreer dat, in die afwesigheid van ’n uitdruklike kontraktuele reëling tot die teendeel, dit slegs in ’n beperkte aantal situasies waar is dat die opdraggewer ook die outeursregeienaar van so ’n werk sal wees.

Outeursregbeskerming word voorsien deur die Wet op Outeursreg 98 van 1978 ("die Wet"). Die Wet bepaal watter tipe werke beskerm word, en, in die afwesigheid van ’n kontraktuele ooreenkoms wat anders bepaal, wie die eienaar van outeursreg in ’n werk is. Outeursreg bestaan byvoorbeeld in oorspronklike letterkundige werke (soos romans, stories, gedigte, handboeke, biografieë, opstelle en artikels), artistieke werke (soos skilderye, beeldhouwerk, tekeninge, gravures en foto's) en musiekwerke.

Dit is belangrik om daarop te let dat outeurskap (naamlik wie die outeur van ’n outeursregwerk is) en eienaarskap (naamlik wie die outeursreg besit) afsonderlike konsepte in die outeursreg is. Hoewel dit moontlik is vir die outeur van ’n outeursregwerk om ook die outeursregeienaar te wees, is dit nie noodwendig die geval nie.

Om te bepaal wie die outeursreg in ’n werk besit, is dit nodig om eers te bepaal wie die outeur van daardie werk is. Die Wet bepaal in artikel 1 wie die outeur van ’n bepaalde soort outeursregwerk is, en ‘outeur’ is dus ’n tegniese konsep. Ten opsigte van sekere kategorieë van outeursregwerke, soos byvoorbeeld rekenaarprogramme, stem die outeur van die werk vir outeursregdoeleindes nie ooreen met die algemene betekenis van daardie begrip nie. In die geval van letterkundige werke beteken dit egter wel: die persoon wat die werk in die eerste instansie geskep het. Daar moet op gelet word dat daar meer as een outeur van ’n outeursregwerk kan wees, indien elkeen van daardie persone ’n nie-onbeduidende bydrae tot die totstandkoming van die werk gelewer het en die onderskeie outeurs se bydraes nie van mekaar geskei kan word nie.

’n Outeursregwerk, soos ’n letterkundige werk, kom tot stand wanneer dit tot materiële vorm herlei is. Dit moet byvoorbeeld op papier geskryf of op ’n rekenaar getik word. Daar is ’n ou regspreuk in die outeursreg wat hierdie vereiste onderstreep, naamlik dat daar nie outeursreg in ’n idee is nie, maar slegs in die spesifieke materiële uitdrukking van ’n idee. Niemand het dus outeursreg in ’n bepaalde konsep of genre van letterkundige werke nie. Enigeen is vry om ’n roman te skryf oor die avonture van kinders by ’n skool vir towenaars of ’n liefdesroman waarin die romantiese held ’n vampier is, mits daar nie ’n wesenlike deel van ’n ander outeur se storie, intrige, voorvalle of karakterisering (name, eienskappe of kenmerke) oorgeneem word nie. Dit behoort duidelik te wees dat outeursregbeskerming nie beperk is tot die letterlike kopiëring van outeursregwerke nie, aangesien daar ook kopiëring kan wees deur middel van nie-letterlike oorname.

Die Wet reguleer die eienaarskap van outeursreg in artikel 21. Tensy een van die uitsonderings geld waarvoor artikel 21 voorsiening maak, sal die outeur van ’n outeursregwerk ook die eienaar van die outeursreg in daardie werk wees. Met ander woorde, die standaardposisie is dat die outeur (of mede-outeurs) van ’n outeursregwerk die eerste eienaar (of mede-eienaars) van die outeursreg in daardie werk sal wees. Die uitsonderings, wat hier onder beskryf sal word, bepaal dus die onderskeid of skeiding tussen outeurskap en eienaarskap, dit wil sê wanneer die standaardreël nie van toepassing is nie.

Die eerste uitsondering waarvoor voorsiening gemaak word, is ten opsigte van letterkundige of artistieke werke wat deur ’n outeur geskep word in die loop van sy (of haar) diens by die eienaar van ’n koerant, tydskrif of dergelike blad. In hierdie geval word die outeursreg verdeel tussen die werkgewer en die werknemer (outeur). Die werkgewer is die eienaar van die outeursregwerk vir soverre die outeursreg betrekking het op die betrokke publikasie waarvoor dit bedoel is, maar in alle ander opsigte is die outeur die eienaar van die outeursreg.

Die tweede uitsondering het betrekking op spesifieke opdragwerke. As iemand opdrag gegee het vir die neem van ’n foto, die skilder of teken van ’n portret, die maak van ’n gravure, die maak van ’n rolprent of die maak van ’n klankopname, sal daardie persoon (naamlik die opdraggewer) die outeursregeienaar van die opdragwerk wees. Let daarop dat die uitsondering nie van toepassing sal wees op enige ander tipes outeursregwerke, soos ’n letterkundige werk of ’n rekenaarprogram, wat in opdrag van iemand anders geskep is nie. Dit geld nie eers vir skilderye in die algemeen nie, maar slegs vir die skilder of teken van ’n portret. As die opdraggewer van ’n ander soort werk die outeursreg in die opdragwerk wil besit, kan dit slegs bereik word deur middel van ’n kontrak tussen die opdraggewer en die outeur wat voorsiening maak vir die oordrag van outeursreg in sodanige werk.

Die derde uitsondering het betrekking op outeursregwerke wat in die loop van die outeur se diens geskep is (buiten in die konteks van ’n koerant, tydskrif of dergelike blad). In hierdie gevalle sal die betrokke werkgewer die eienaar van outeursreg wees in ’n outeursregwerk wat in die loop van die diens geskep is. Hierdie uitsondering is nie beperk tot spesifieke tipes outeursregwerke nie.

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie drie uitsonderings op die standaardreël gewysig of uitgesluit kan word deur ’n ooreenkoms tussen die betrokke partye.

’n Verdere bepaling oor eienaarskap van outeursregwerke is dat indien ’n outeursregwerk deur of onder die leiding of beheer van die staat of ’n erkende internasionale organisasie geskep word, die outeursreg by die staat of die betrokke internasionale organisasie sal berus.

Dit behoort dus duidelik te wees uit die voorafgaande dat indien iemand ’n opdrag ontvang het om byvoorbeeld ’n letterkundige werk soos ’n roman te vertaal, is die opdraggewer nie die eienaar van die outeursreg in die vertaling nie, tensy die partye kontraktueel ooreengekom het tot die oordrag van outeursreg aan die opdraggewer. Volledigheidshalwe moet dit egter opgemerk word dat die vertaling van ’n outeursregwerk (vir enige ander rede as die toegelate uitsonderings waarvoor die Wet voorsiening maak, soos vir persoonlike gebruik) vereis die outeursregeienaar se toestemming omdat dit neerkom op die skep van ’n aanwending van die letterkundige werk, wat een van die eksklusiewe regte is wat aan die outeursregeienaar van ’n letterkundige werk toegeken word.

Wees dus bedag op wie die outeursreg in ’n werk werklik besit, dit mag dalk nie die outeur wees nie en sal gewoonlik nie outomaties die opdraggewer wees nie.

  • Sadulla Karjiker – Anton Mostert Leerstoel vir Intellektuele Goederereg, Universiteit Stellenbosch

The post Wat elke skrywer moet weet: Eienaarskap van outeursreg in opdragwerke, met spesifieke verwysing na letterkundige werke appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: September 2018

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
Die lente het aangebreek en daarmee saam ’n bedrywige tyd vir boekliefhebbers wat kan kies en keur uit literêre byeenkomste en ’n stewige oes nuwe boeke. Die Open Book-fees het tussen 5 en 9 September in Kaapstad plaasgevind en die South African Book Fair in Johannesburg vanaf 7 tot 9 September. Die 18de ALV-kongres is hierdie week in Stellenbosch aan die beurt en die Tuin van Digters-fees oor die naweek in Wellington. Meer daaroor onder.
 
Dit is egter ook ’n tyd waarin ons met kommer kennis moes neem dat verskeie ondersoekende joernaliste, plaaslik en internasionaal, onder skoot gekom het vir hul skryfwerk.
 
In Mianmar is twee Reuters-joernaliste, Wa Lone en Kyaw Soe Oo, tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis vir hul verslaggewing oor gruweldade wat teen die Rohingia-groep gepleeg is.
 
Op eie bodem het ondersoekende joernaliste Marianne Thamm en Chris Steyn dreigemente ontvang na aanleiding van hul werk aan die boek Die seuns van Bird Island en Sunday Times-joernalis Qaanitah Hunter het deurgeloop onder ’n persoonlike aanval en dreigemente waaroor SANEF (South African National Editors’ Forum) meer berig.
 
Die bevording van letterkunde staan sentraal tot PEN Afrikaans se bedrywighede, maar so ook die beskerming van vryheid van uitdrukking. Dit is ons oortuiging dat skrywers onder geen omstandighede vergelding in die vorm van fisieke geweld behoort te vrees nie. Sulke dreigemente het geen plek in ’n samelewing wat vryheid van uitdrukking as ’n grondwetlike reg verskans nie.
 
Verblydende nuus uit Skotland is dat die Eerste Minister besluit het om wel ’n konsultasieproses oor die hersiening van lasterwetgewing nog in 2018 van stapel te stuur. Baie dankie aan almal wat die petisie onderteken het wat ons op ons sosiale media platforms gedeel het.
 
Skotse PEN sê hieroor: “Reform is long overdue and this is a vital step towards ensuring our laws can better protect writers, journalists, scientists, bloggers, activists and social media users across the country against legal threats aimed at silencing criticism.” 
 
Die ATKV-Woordveertjies is toegeken
 
Die ATKV-Woordveertjies is onlangs in Stellenbosch toegeken. Met dié gesogte toekennings wil die ATKV uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woordkuns vereer. Ons sê hartlik geluk aan al die wenners en benoemdes.
 
’n Volledige lys van die wenners is hier beskikbaar.
 
Tuin van Digters 2018
 

Ons tel die dae af na ’n jaarlikse hoogtepunt vir liefhebbers van die Afrikaanse digkuns. Die Tuin van Digters-fees vind hierdie naweek by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaas.
 
PEN Afrikaans bied vanjaar, met die ondersteuning van PEN International, twee afsonderlike sessies op die feesprogram aan. Albei sessies plaas die kollig op die veeltalige bloemlesing ConVerse. ConVerse is saamgestel deur Pieter Odendaal, Annel Pieterse en Mbongeni Nomkhonwana. Dit is gesamentlik deur InZync en die US Woordfees uitgegee.

In die gees van intertalige gesprekvoering is 15 opkomende digters wat in isiXhosa, Afrikaans en Engels werk, genader om gedigte by te dra wat by die tema van gesprekvoering aansluit. Die gedigte is in al drie tale by die bundel ingesluit.
 

 
 

Sluit om 10:30 by ons in die Akkoordtent aan, waar van die digters hul werk sal voordra.
 
Om 14:00, in die Woordtent, sal Danie Marais met van die samestellers en bydraers in gesprek tree oor die samestelling en ontvangs van die bundel, maar ook oor die belang en uitdagings van vertaling en die moontlikhede vir wisselwerking tussen die letterkundes van ons landstale.
 
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry vanjaar weer gratis toegang tot die fees. Daar sal ’n lys van opbetaalde lede by albei ingange na die Tuin van Digters wees, so dit is nie nodig vir lede om dokumente saam te neem om te bewys dat ledegeld betaal is nie.
 
Die volledige program is hier beskikbaar.
 
Oop uitnodiging na PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering by Aardklop

 

Ons stel hierdie jaar die deure na ons algemene jaarvergadering oop – nie net vir lede nie, maar vir metgeselle en ander belangstellendes. Sluit gerus op 2 Oktober by ons aan by die ATKV-Boeke-oase by Aardklop. Die vergadering sal om 19:00 begin.
 
Kom klink ’n glasie en vind meer uit oor PEN Afrikaans se bedrywighede oor die afgelope jaar. Daar sal ligte verversings wees.
 
Lede word versoek om hul teenwoordigheid by penafrikaans@gmail.com te bevestig.
 
Ledegeld 2018
 
Ons doen weer ’n beroep op ons lede om ledegeld vir 2018 oor te betaal. Ons sentrum se ledegeld moet aan PEN International oorbetaal word voor die 2018 PEN-kongres wat hierdie maand in Indië plaasvind. Slegs PEN-sentrums wat hulle ledegeld betaal het, het stemreg by die jaarlikse kongres.
 
Baie dankie aan diegene wat reeds hul ledegeld betaal het!
 
Wat elke skrywer moet weet: outeursreg in opdragwerke

 
Literêre werke word dikwels in opdrag van ’n ander party geskep. ’n Paar voorbeelde van tipiese opdragwerke is vertalings, draaiboeke, resensies en rubrieke.
 
In die nuwe artikel in ons artikelreeks gee Sadulla Karjiker ’n uiteensetting van hoe die eienaarskap van outeursreg in sulke gevalle werk. Hy dui aan dat dit meestal nie die geval is dat die opdraggewer outomaties die outeursreg verkry nie.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in September 2018
 
Ten slotte is dit altyd ’n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste vir September kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: September 2018 appeared first on LitNet.

Leeskringe in die Noord-Kaap: Boeke kan lewens verander

$
0
0

"Wanneer ons bymekaar kom om die boeke te bespreek, voel ek weer lus om aan te gaan met die lewe,” vertel Eveline Beukes van Kalksloot. Eveline was ’n huisvrou toe die leesklub in Kalksloot in 2010 begin is. Aanvanklik het LAPA Uitgewers altesaam 48 boeke vir elk van agt leeskringe geskenk, maar toe die projek in 2013 deur die ATKV oorgeneem is, was daar al in 20 gemeenskappe rondom Upington sulke leeskringe gevestig. Eveline se verhaal is een van die vele suksesverhale van dié projek.

Kort na die leesprojek in Kalksloot begin is, begin werk sy as tuisversorger, terwyl sy as fasiliteerder van die Kalksloot-leesklub optree. Lesers kan by haar tuisbiblioteek boeke uitneem, en een keer per maand kom die groep bymekaar en gesels lekker oor die stories, die karakters en soms sommer net oor die lewe. Maar dis nie al nie – agt van die lesers van Kalksloot-leesklub begin saam na ure klasse bywoon om hul matriek te verwerf en op dié manier hul lewensgehalte te verbeter.

In 2016 nader die Departement van Sport, Kuns en Kultuur Eveline om voltyds by hulle te begin werk in ’n biblioteek wat hulle by die skool inrig. Hierdie vrou, wat nog altyd gestreef het na beter en meer in die lewe, wat droom van sukses, is nou ’n beroepsvrou. En kon onlangs haar eie blinknuwe kar koop.

Met die aanvang van die leesprojek was dit ’n uitdaging om gemeenskappe te identifiseer wat by die projek kon baat. Die einddoel was aanvanklik die opheffing van vroue wat nie toegang tot boeke en biblioteke het nie, maar mans en tieners het net soveel aan die projek deelgeneem. Om ’n kultuur van lees en boekbesprekings te vestig was ’n groot uitdaging. Lees is een aspek wat spontaan gebeur, maar die gedagte van besprekings het tyd geneem om te vestig en sommige groepe is steeds nie gemaklik daarmee nie.

Die gesprek kring vinnig uit na allerlei kwessies waarmee die gemeenskap geraak word en krisisse in die deelnemers se lewe. Hoewel dit ideaal sou wees dat die lesers identifiseer met die karakters in die verhaal, lei die gesprekke tot ’n gevoel van samehorigheid en voel die lede na afloop van so ’n gesprek weer by magte om hul eie krisisse die hoof te bied.

Teen die einde van 2013 was daar meer as 500 aktiewe lesers wat ook boekbesprekings bywoon. Maar die behoefte het gaandeweg tussen lesers ontstaan om hul eie stories te begin skryf. Selfs in Korrektiewe Dienste, waar ’n paar vroue in die gevangenis ywerig lees, is daar die behoefte om deur die skryfproses hul emosies en trauma te verwerk. Skryfwerkswinkels met ’n fokus op die terapeutiese waarde van skryfkuns het op dié manier spontaan begin plaasvind. Bundels met lesers se eie verhale in is as gemeenskapspublikasies gepubliseer, onder meer in Stroopsoet bitterheid, en ander verhale.

Op Bo-Gariep duskant Groblershoop het Valerie Titus in 2011 ’n leesklub met ’n groepie vroue en tieners begin. In hierdie gemeenskap is lae geletterdheid saam met armoede en werkloosheid ’n groot probleem. Valerie het haarself egter ten spyte van die feit dat hulle afgesny is van die hulpbronne en geleenthede, bemagtig deur in te skryf vir ’n vroeë-kinderontwikkeling-kursus. Vandag het sy ’n groepie leerders by Laerskool Gariep vir wie sy elke dag lessies leer en voorlees.

"Wanneer ons lees en die boeke bespreek, sien jy hoe die karakters optree en hoe jy uitdagings in jou eie lewe kan aandurf. Ook die kinders sien hoe grootmense lees en raak nuuskierig, sodat hulle self ook begin lees," vertel Isabella Abrahams van Raaswater.

Die oudste leser in die Noord-Kaap-leesprojek is die 86-jarige ouma Roset van Rooyen van Curriescamp. Van die ander ouer lesers is ongelukkig nie meer saam met ons nie, maar hulle was ’n ywerige groepie bejaardes wat nie geskrik het vir ’n goeie spanningsverhaal nie.

Liefdesverhale is ’n groot gunsteling, maar smaak verskil, sê Lucy Goliath van Rosedale. In die romanzas van Lapa word die held so lieflik en wonderlik voorgestel en raak hulle weer verlief, "maar ai, sodra ek die boek toemaak en weer realiteit in die gesig staar ..." lag sy. Daarom dat sy spanningsverhale bo liefdesverhale verkies – dit daag haar uit om te raai wie die skuldige is of wie die moord gepleeg het. Dis ook hierdie soort boeke, meen Lucy, wat geleentheid vir lewendige boekbesprekings bied.

Geestelike boeke in die gemeenskappe wat uitdagings soos armoede, lae geletterdheidsvlakke en geweld in die gesig staar, bied ’n toevlug en is in aanvraag.

Warmzand is ’n gemeenskap tussen Keimoes en Kakamas. Die Warmzand-lesers is so ywerig dat ek al versoek is om boodskappe aan Deon Meyer en Martin Steyn te stuur insake hul produksie. Die lesers lees heelwat vinniger as wat boeke geskryf kan word!

In hierdie leesklub is dit veral die mans wat aktief lees, hoewel hulle slegs boeke by die huisbiblioteek uitneem, maar selde boekbesprekings bywoon. Dis steeds vreemd vir mans om rondom ’n koppie tee oor die karakters in ’n boek te gesels, en sommige van hulle is die broodwinners en kan slegs snags lees.

In Augrabies lees Amerlise voor vir die bejaardes wat glad nie self kan lees nie. Hierdie voorleesmetode, wat ook vir die kleintjies gebruik word, bied ure se ontvlugting en genot aan beide die leser en die persone vir wie sy voorlees.

Op Vredesvallei bestaan die groep lesers uit Xhosa- en Nama-huistaalsprekers wat ywerig aan gesprekke deelneem en graag self ook skryf. Collin Vass het al van sy gedigte in die plaaslike koerant, Die Gemsbok, sien verskyn en is besig met ’n kinderstorie.

Wat begin het as ’n projek om mense in afgeleë gebiede van boeke te voorsien, om lees te bevorder en op dié manier geletterdheid aan te moedig, het vir seker tot ’n suksesverhaal  gegroei.

Lewens word verander ... een op ’n slag.

The post Leeskringe in die Noord-Kaap: Boeke kan lewens verander appeared first on LitNet.


Die ATKV belê in klassieke musiek

$
0
0

Die ATKV vereer jaarliks sangers en musikante van klassieke musiek. Op 8 September 2018 is die wenners van vanjaar se kompetisies aangewys by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow, Kaapstad.

ATKV-Muziq is ’n instrumentale kompetisie en ATKV-Muziqanto is ’n sangkompetisie. Beide se eindrondte het gesamentlik plaasgevind.

Die eersteplekwenners in albei kompetisies het weggestap met 'n kontantprys van R70 000. Die tweedeplek- en derdeplekwenners in elke kompetisie ontvang onderskeidelik R35 000 en R20 000.

Uit die sewe deelnemers in elke kompetisie wat Vrydag in die tweede ronde teen mekaar meegeding het, is drie gekies om Saterdagaand by 'n swierige geleentheid saam met die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van maestro Richard Cock, op te tree.

Brain Bae het die verrigtinge geopen met ’n pragvertoning van Tchaikovsky se klavierconcerto nommer 1 in B-mol mineur, Op. 23. Hy het uiteindelik tweede geëindig.

Paul Loeb van Zuilenberg het Wieniawski se vioolconcerto nommer 2 in D-mineur, Op. 22, gespeel en het derde gekom.

Die 21-jarige Cameron Williams het uiteindelik weggeloop met die louere vir sy vertolking van Glazunov se concerto vir saksofoon en strykorkes in E-mol mineur, Op. 109.

Luvuyo Mbundu (bariton) het “Avant de quitter ces lieux” uit Faust van Gounoud en “O Carlo, ascolto” uit Verdi se Don Carlo gesing. Hy het tweede geëindig.

Segomotso Shupinyaneng (sopraan) het “Chi il bel sogno” uit La Rondine van Puccini en “Caro nome” uit Rigoletto van Verdi gesing. Sy het derde gekom.

Bongani Kubheka (bariton) het “Nemico della Patria” uit Andrea Chénier van Giordana en “Votre toast” uit Bizet se Carmen gesing. Bongani het uiteindelik geseëvier in ’n baie taai stryd.

"Ons is baie bevoorreg om 'n direksie by die ATKV te hê wat 'n groot bewondering en passie vir klassieke musiek koester," sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV. Lemmer het die pryse oorhandig.

Lize Thomas, niestemmende sameroeper van die beoordelaarspaneel, het die wenners aangekondig. Lees die volledige persverklaring hier.

Van links is Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-direksie, Bongani Kubheka (wenner van ATKV-Muziqanto), Cameron Williams (wenner van ATKV-Muziq) en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

Bridgitte Mathews het ná die prysuitdeling met elke deelnemer gesels en vir hulle ’n druk gegee. “Verskoon my,” het sy gelag. “Ek hou van drukkies gee.”

Die beoordelaars was Albie van Schalkwyk, Lize Thomas (niestemmende sameroeper), Paul Boekkooi, Felicia Lesch, Marcus Desando en Richard Cock.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG was weer vanjaar die mediavennoot van ATKV-Muziq en ATKV-Muziqanto.

’n Laaste sien van die wenglimlagte.

The post Die ATKV belê in klassieke musiek appeared first on LitNet.

Uitnodiging na en agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering op 2 Oktober 2018

$
0
0

Beste lede en ondersteuners van PEN Afrikaans

Hiermee word julle nogmaals hartlik uitgenooi na PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering (AJV) 2018. Die deure sal oop wees vir lede, hul metgeselle en ander belangstellendes, so kom klink ’n glasie, geniet ligte verversings en vind meer uit oor PEN Afrikaans se werksaamhede.

Ons sal onder andere praat oor:

  • die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat daarop gemik is om die vertaling en publikasie van Afrikaanse boeke in die buiteland te bevorder;
  • hoe die beoogde veranderinge aan ons kopieregwetgewing die heil van skrywers en uitgewers kan beïnvloed;
  • waar sake staan met taalregte en hoe PEN Afrikaans op nuwe verwikkelinge kan reageer.

Ons AJV word gehou op Dinsdag, 2 Oktober, om 19:00 in die ATKV-Boeke-oase by Aardklop. Die adres is  Hoffmanstraat 61, Potchefstroom, 2520.

Wees asseblief so vriendelik om teen 26 September te laat weet of jy beplan om die AJV by te woon indien jy dit nie reeds gedoen het nie. Ons sal graag wil seker maak dat daar genoeg verversings en sitplek vir almal is. RSVP na penafrikaans@gmail.com.

Let wel: Slegs opbetaalde lede van PEN Afrikaans het stemreg by die AJV.

Opbetaalde lede wat nie die vergadering sal kan bywoon nie, word vriendelik versoek om ’n volmagvorm in te vul en aan ons te e-pos. 

Deur ’n volmagvorm, wat hier afgelaai kan word, gee jy ’n ander lid die reg om namens jou te stem. Indien jy nie die AJV kan bywoon nie, vra ons jou om die volmagvorm uit te druk, te onderteken, te skandeer en dan terug te stuur as aanhegsel per e-pos na penafrikaans@gmail.com voor of op 1 Oktober 2018.

Ons wil hierdeur graag die inspraak en stemme van soveel lede as moontlik verseker.

Die agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering, 2 Oktober 2018, Potchefstroom

  1. Verwelkoming
  2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
  3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
  4. Voorsittersverslag
  5. Tesourier se verslag
  6. Bestuurder se verslag
  7. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds  
  8. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg se implikasies vir skrywers en uitgewers
  9. Taalregte: die stand van sake en ’n stemming oor die pad vorentoe
  10. Algemeen

Stuur asseblief enige navrae of voorstelle vir die agenda na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons sien uit daarna om julle by ons AJV 2018 te verwelkom.

Met vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post Uitnodiging na en agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering op 2 Oktober 2018 appeared first on LitNet.

ATKV-taalerfenissimposium: Willa Boezak oor die Khoisan se bydrae tot die Afrikaanse taalerfenis

$
0
0

Willa Boezak | Foto: Izak de Vries

Die ATKV wil ’n taaltuiste vir alle Afrikaanssprekendes bied, daarom heg ons baie waarde aan die saambindende krag van taal en omarm ons die ryk taalerfenis van Afrikaans en die taalvariëteite wat daaruit voortspruit.

Vanjaar se simposium met die tema “Djy makie reg'ie – hoe gemaak met standaardtaal?” was daarop gemik om die diversiteit van die Afrikaanse taal te demonstreer deur te kyk na standaardtaal en taalvariëteite. Taalvariëteite het oor baie jare ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat gespeel. Tydens die simposium is daar gekyk na na die herstandaardisering van Afrikaans, die rol van die Khoisan en die verhouding tussen Standaardafrikaans en die omgangsvariëteite van Afrikaans.

Kyk na die video van Willa Boezak se toespraak:

Lees ook:

ATKV-taalerfenissimposium: Djy makie reg’ie

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

ATKV-taalerfenissimposium: Frank Hendricks – Standaardafrikaans en omgangsvariëteite van Afrikaans

The post ATKV-taalerfenissimposium: Willa Boezak oor die Khoisan se bydrae tot die Afrikaanse taalerfenis appeared first on LitNet.

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

$
0
0

Die ATKV wil ’n taaltuiste vir alle Afrikaanssprekendes bied, daarom heg ons baie waarde aan die saambindende krag van taal en omarm ons die ryk taalerfenis van Afrikaans en die taalvariëteite wat daaruit voortspruit.

Vanjaar se simposium met die tema “Djy makie reg'ie – hoe gemaak met standaardtaal?” was daarop gemik om die diversiteit van die Afrikaanse taal te demonstreer deur te kyk na standaardtaal en taalvariëteite. Taalvariëteite het oor baie jare ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat gespeel. Tydens die simposium is daar gekyk na na die herstandaardisering van Afrikaans, die rol van die Khoisan en die verhouding tussen Standaardafrikaans en die omgangsvariëteite van Afrikaans.

Kyk na die video van Gerda Odendaal se toespraak:

Lees ook:

ATKV-taalerfenissimposium: Djy makie reg’ie

ATKV-taalerfenissimposium: Willa Boezak oor die Khoisan se bydrae tot die Afrikaanse taalerfenis

ATKV-taalerfenissimposium: Frank Hendricks – Standaardafrikaans en omgangsvariëteite van Afrikaans

The post ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans appeared first on LitNet.

ATKV-taalerfenissimposium: Frank Hendricks – Standaardafrikaans en omgangsvariëteite van Afrikaans

$
0
0

Frank Hendricks | Foto: Izak de Vries

Die ATKV wil ’n taaltuiste vir alle Afrikaanssprekendes bied, daarom heg ons baie waarde aan die saambindende krag van taal en omarm ons die ryk taalerfenis van Afrikaans en die taalvariëteite wat daaruit voortspruit.

Vanjaar se simposium met die tema “Djy makie reg'ie – hoe gemaak met standaardtaal?” was daarop gemik om die diversiteit van die Afrikaanse taal te demonstreer deur te kyk na standaardtaal en taalvariëteite. Taalvariëteite het oor baie jare ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat gespeel. Tydens die simposium is daar gekyk na na die herstandaardisering van Afrikaans, die rol van die Khoisan en die verhouding tussen Standaardafrikaans en die omgangsvariëteite van Afrikaans.

Kyk na die video van Frank Hendricks se toespraak:

Lees ook:

ATKV-taalerfenissimposium: Djy makie reg’ie

ATKV-taalerfenissimposium: Willa Boezak oor die Khoisan se bydrae tot die Afrikaanse taalerfenis

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

The post ATKV-taalerfenissimposium: Frank Hendricks – Standaardafrikaans en omgangsvariëteite van Afrikaans appeared first on LitNet.

Viewing all 1456 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>