Die Taalmonument se Oppiberg Konsert lok Dr Victor & The Rasta Rebels, Paxton & Sean D Band en Jak de Priester.
Die Paarlberg en ikoniese Taalmonument is op 6 April 2018 Suid-Afrika se klank-hoofkantoor met onder andere Dr Victor & The Rasta Rebels, Paxton & Sean D Band asook Jak de Priester wat die aand aan die brand gaan speel tydens die Boland se eerste Oppiberg Konsert. Dié super suksesvolle kunstenaars sal voorafgegaan word deur opkomende sterre soos No Swett Band, Soulsound Live Band en Elwira Standili terwyl seremoniemeester Uncle Cal sal verseker dat dié unieke aand lag-lag seepglad verloop.

Dr Victor & The Rasta Rebels
Dr Victor & The Rasta Rebels is reeds dekades lank ’n Afropop en reggae sensasie en het onder meer by Paul Simon en Gloria Estefan se konserte gespeel terwyl Paxton verlede jaar se Idols-kompetisie gewen het, haar eerste album binnekort vrystel en gekies is om voor die Sweedse koningin op te tree. Jak de Priester is ’n sanger, skrywer en TV-persoonlikheid met agt albums en ’n digbundel in sy koker. Seremoniemeester Uncle Cal is ’n DJ-legende wat enige gehoor met sy aweregse humor en uitspattige gedrag na groter glimlagte sal lei.

Jak de Priester
Vooraf speel No Swett, ’n dinamiese vierman-stemgroep, Soulsound Live wat ’n wye reeks genres op vyf instrumente vertolk asook Elwira Standili wie se heuninggoue stem al op onder meer Idols te hore was. Gaste kan boonop uitsien na ’n heerlike atmosfeer by die gemaklike Amfiteater met ’n pragtige uitsig oor die Bolandse valleie en berg. Verskeie bekostigbare kosstalletjies asook ’n biertent sal beskikbaar wees om in enige spys-en-drank behoeftes te voorsien. Die voorafprogram begin Vrydagaand om 18:30 en die hoofkunstenaars sal vanaf 20:00 die verhoog bestyg.
Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R70 vir kinders onder 13 jaar. Dit sal ook op die dag self by die Amfiteater beskikbaar wees, en dan wel teen R120 vir volwassenes en R80 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde, vure, eie kos of drank toegelaat nie.
Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.
Foto's: verskaf
The post Persvrystelling: Die berge gaan weergalm met die klanke van talent appeared first on LitNet.