
Amanda de Stadler van die Vriende van Afrikaans lees vir die kleingoed van De Kleine Bewaarskool in Steinkopf voor. Foto: Leon de Stadler
’n Geharde, maar pragtige, landskap, sout-van-die-aarde-mense wat met min baie vermag en kinders wat nie hul hande van boeke kan afhou nie.
Dit en nog vele meer was deel van Amanda de Stadler, bestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), se reis na die Richtersveld om 14 boektrommels – wat haar hele Isuzu volgepak was – te gaan afgee.
Amanda het, in samewerking met die ATKV, altesaam 14 skole besoek, byna 1 400 boeke uitgedeel en sowat 3 800 kinders toegang tot nuwe leesstof gegee.
“Ons het eers die Laerskool Dryfsand aangedoen, en die behoefte aan leesondersteuningsopleiding het my oorweldig,” vertel Amanda. “Die boeke in die trommel was nie naastenby genoeg nie.”
Stories is voorgelees en dit was veral die drie- tot vyfjariges van De Kleine Bewaarskool in Steinkopf wat oopmond gesit en luister het na die manewales van Babalela en Parmant.
Donald Cloete, die skoolhoof, was geweldig dankbaar toe die bakkie vol boeke in ’n stofwolk daar aankom. “Julle kom om ’n groot behoefte te vervul. Ons het baie min hulpmiddels!”
Amanda se Richtersveldreis was egter nie sonder ’n paar uitdagings nie. ’n Pap band en ’n “gedwonge oornagting” in die middel van nêrens kon egter nie haar geesdrif demp nie.
“Om die dankbaarheid op die gesigte van die onderwysers en kinders te sien het elke kilometer van hierdie reis die moeite werd gemaak. Ek het ook net weer besef die behoefte aan leesondersteuning, hulpmiddels, opleiding en infrastruktuur is groot en ons kan nie net agteroorsit nie.”
Ander skole wat Amanda besoek het, was onder meer die Laerskool Gaffie Maree in Alexanderbaai, die Laerskool Elizabeth Wimmer in die dorpie Lekkersing en die Laerskool Stephan Malherbe op Eksteenfontein.
Vriende van Afrikaans (VVA) wil met hul boektrommelprojek die behoefte aan lees op voorskoolse vlak aanspreek. Die VVA skenk al sedert 2006 boeke aan skole, of trommels vol boeke as daar nie ’n bestaande biblioteek is nie.
Hierdie projek het die verbeelding van weldoeners in so ’n mate aangegryp dat die VVA daarin slaag om 50 trommels per jaar na kleuterskole te versprei. ’n Trommel met ongeveer 100 geskikte boeke (deur Biblionef) kos R7 500.
May Ellen Chase se woorde: “Daar is geen plaasvervanger vir boeke in die lewe van die kind nie” is beslis deur die Vriende van Afrikaanse se besoek aan die Richtersveld onderstreep.
The post Die VVA oorhandig boeke aan mense van die Richtersveld appeared first on LitNet.