
’n Toneel uit Rondo van Selborne College, geskryf deur Jo Stemmet, ’n skryfskoolkursusganger van 2017
Droom jy daarvan om ’n dramateks te skryf? ’n Teks wat amuseer, ontroer, stimuleer en selfs uitdaag?
Dan is die ATKV-Tienertoneelteksskryfskool van 5 tot 7 April by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement net vir jou.
Volgens Lizané Basson, projekorganiseerder van die ATKV-Tienertoneelkompetisie, gaan dramateksskrywers die geleentheid hê om saam met ’n kenner met ’n kritiese oog na hul tekste te kyk.
“Ons gaan deur interaktiewe lesings, gesprekke, debat en skryfoefeninge jou teks se potensiaal ontdek en jou die gereedskap gee om dit ten volle te ontgin.”
Deur te skryf en herskryf gaan jy prakties leer om:
- idees vir storielyne te genereer;
- spanning in ’n toneel(stuk) te skep;
- ware driedimensionele karakters te skep wat die gehoor vir lanksal onthou;
- dialoog wat boeiend en ekonomies is, te skryf;
- narratiewe struktuur doeltreffend te gebruik;
- die reëls van genre te verstaan (en te breek) en
- die trefkrag van jou teks te verdubbel.
André Gerber, dosent by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement waar hy spesialiseer in toneelspel en teaterskepping, is die kursussamesteller en -aanbieder.
André neem al sedert sy skooldae aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deel. Hy is ’n ywerige teaterskrywer wat graag ander wil inspireer om hul eie stem binne hul persoonlike skryfstyl te ontwikkel.
“As daar weer so ’n geleentheid opduik om weg te breek en ’n skryfskool by te woon, doen dit. Miskien is dit die enigste ding wat jy nodig het – om te praat met ander skrywers of om net te kan afskakel en eksklusief aan jou skryfwerk te werk,” sê André.
Leerders, studente en volwassenes is welkom – kom leer nuwe vaardighede aan en vind inspirasie!
Koste beloop R1 500 per persoon – dit sluit die kursusmateriaal, middagetes en ligte verversings vir die drie dae in.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 20 Maart. ’n Deposito van R500 is betaalbaar wanneer ingeskryf word. Registreer jou so gou as moontlik, aangesien slegs ’n beperkte getal kursusgangers kan kom.
Skakel asb vir Lizané Basson by 011 919 9078 of stuur ’n e-pos na lizaneb@atkv.org.za vir meer inligting. Die inskrywingsvorm kan by https://www.atkv.org.za/Kunste/Projekte/Jeugprojekte/Tienertoneelafgelaai word.

’n Toneel uit Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed), saamgestel deur André Gerber vir die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. Dié produksie is as die naaswenner van die ATKV-Tienertoneelkompetisie in 2017 aangewys.
The post Persvrystelling: ATKV-Tienertoneelteksskryfskool 2018 appeared first on LitNet.