Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1432

Louis Esterhuizen (1955–)

$
0
0

Gebore en getoë

Louis Esterhuizen is op 30 Augustus 1955 in Welkom in die Vrystaatse Goudvelde gebore. Sy oupagrootjie was ’n delwer en sy pa het na omswerwinge ’n mynwerker in die Goudvelde geword.

Kort na sy geboorte verhuis sy ouers na die destydse Rhodesië, waar sy pa ’n tabakboer was. Hy bring sy eerste skooljare by sy ouma in Philippolis in die Suid-Vrystaat deur om in “die Republiek” skool te gaan en voltooi dit aan Bothashof, ’n NG Kerk-skool in Salisbury (Harare).

Louis het die grootste gedeelte van sy kinderjare in Virginia in die Vrystaat deurgebring. Die Sandrivier vloei deur die dorp en hy en sy vriende het gereeld rivier toe gegaan en daar tussen die erosiewalle gespeel of in die rivier visgevang. Na só ’n uitstappie het hy ’n gedig met die titel “Die rivier” geskryf, na aanleiding van ’n vis wat bokant die water uitgespring het. Dit was sy eerste vers ooit.

In 1966 keer die gesin terug na die Vrystaatse Goudvelde en Louis matrikuleer aan die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia in 1973.

Verdere studie en werk

Louis sit sy studie voort aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat, waar hy in 1976 sy BA-graad behaal en ook, in 1978, sy Hoër Onderwysdiploma. In dié tydperk gee hy ook onderrig aan die Dr Blok Hoërskool en later aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

In 1981 verhuis Louis na Bethlehem in die Oos-Vrystaat, waar hy onderwyser is aan die Hoërskool Voortrekker. Hy sit sy studie voort deur Unisa en in 1982 behaal hy die BA-Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Hy gee onderwys in Bethlehem tot 1990, was hoof van sport by Bridge House Skool en ook adjunkhoof by Pretoria Boys’ High School, Sedert 1999 was hy vakhoof aan Rondebosch Boys’ High School.

Louis was die bestuurder van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch, ’n pos wat hy beklee het tot hy aan die einde van 2016 bedank het. Oor sy werk daar en sy aanvanklike betrokkenheid met die organisasie van die jaarlikse Versindaba vertel Louis: “Inderdaad bevind ek (en Marlise [Joubert – Louis se vrou]) ons in gelukkige omstandighede. Vanweë ons betrokkenheid by Protea Boekwinkel op Stellenbosch het ons nie net uitgebreide kontak met ander skrywers en instansies nie, maar beskik ons ook oor die infrastruktuur om iets soos die Versindaba moontlik te maak. Ons aktiwiteite rondom die digkuns is eintlik maar net ’n direkte uitvloeisel van ons leef- en werksomstandighede. ’n Mens geniet die uitgebreide kontak en gesprekke (met ander digters) en dit is vir ons iets van enorme waarde. Maar ja, soms is dit ook moeilik om by privaatdinge (soos eie skryf- en leeswerk) uit te kom. Ek moet egter erken dat ek my ook hier in ’n gelukkige posisie bevind deurdat ek getroud is met ’n vrou wat nie net ten volle betrokke hierby is nie, maar ook iemand is wat deur middel van begrip en leiding meehelp om dinge bymekaar (en ook uitmekaar) te hou. Dit bly maar kwessies van ‘hand’ en ‘oog en die stryd om dit alles te balanseer.” (Versindaba)

Louis publiseer al sedert 1978 verse in tydskrifte soos ContrastTydskrif vir Letterkunde, Graffier, The Bloody Horse en Ensovoort. In 1979 is van sy verse in Frans vertaal en na publikasie in L’Alphee oor Radio Parys voorgelees.

Hy debuteer in 1986 met Stilstuipe, wat die kortlys van die Rapport-prys haal. Oor Stilstuipe skryf André le Roux in Die Burger (4 September 1986): “Wat is seisoene tog sonder lig en klank en voëls! Gooi ’n lekseltjie liefde by, en treurigheid, en jy’t tyd en verganklikheid. En met die verganklikheid kom die stilte, en uit die stilte kom dié digdebuut. Aan seggingskrag ontbreek dit nie; aan ’n sensitiwiteit ook nie. Esterhuizen skryf vlot en maak veral staat op beeldspraak om sy poëtiese woord uit te sê. Hierin lê die sterkte van die bundel, maar ook ’n lastigheid. Algaande word die gedigte patroonmatig – die sintuie steun swaar op die metaforiese, maar té veel metafore word krukke wat inhoudelik afbreuk doen en uiteindelik nie wegbly van clichés nie: ‘dofglimmend’ en ’n ‘pynwitblou hemel’. Dit steur. Tog is dit uiteindelik die nette eenvoud wat tref; nie net in taal nie, maar ook in beelding wanneer laasgenoemde duskant opdringerigheid bly. Die lees raak byna meesleurend sonder om sussend te word – die treurige melankolie word eintlik vanselfsprekend, maar nie sonder die korrektief van wrangheid nie.”

Hy volg Stilstuipe in 1988 op met Op die oog af. Pieter van der Lugt (Die Burger, 24 November 1988) skryf: “Soos die titel aankondig, skryf Louis Esterhuizen in sy tweede bundel hoofsaaklik oor ervarings en herinneringe wat oënskynlik niksseggend is. Hy probeer dan sy gewaarwordinge vaspen sodat hulle fyn bekyk kan word vir tekens van lewe onderhuids. Die oog fokus soos ’n visier terwyl die hand dieper grawe. Dit word ’n jagtog op al die elemente van die gegewe vir elke gedig.” Maar vir Van der Lugt is die probleem dat die digter te hard probeer en bitter selde daarin slaag om ’n lewende, vibrerende oppervlak te skep, waaragter ’n leser ’n dinamiek kan ontdek of minstens net aanvoel. Te dikwels is ’n mens eenvoudig klaar met een van sy verse sodra jy die laaste woord gelees het.

“Esterhuizen dring dikwels sy wendings saam tot ‘punch lines’ – kort stel sinne waarmee hy sy verse probeer sluit. Daarmee stel hy sy gedigte bloot, omdat dié reëls maklik dikteer hoe die voorafgaande gelees moet word of soms net ’n lammerige opsomming gee. Die styl en tegniek is dus die groot haakplekke in die bundel. Verder word die pogings om ráák te sien later voorspelbaar, omdat die aanbieding eenselwig en die verwysingsveld dikwels oorbekend is. Esterhuizen kan veel meer bereik as hy nie verse so vasdruk op die papier nie. Sy beelde kan met groter beweegruimte veel meer krag kry. Hy het duidelik die dissipline en vaardigheid om vryer te werk sonder om te verloop.” 

Na ’n stilte van agt jaar word Die onderwaterweg: ’n versroman in 1996 gepubliseer. Die uitgewersbrief praat van die bundel as ’n bestekopname van ’n gewrakte lewe.

“Die verteller bevind hom in ’n hospitaal na ’n fratsongeluk (’n selfmoordpoging?) en hy het dan tyd om na te dink oor die traumatiese gebeurde in ’n spreker en huisgenoot se lewe. Die bed is die tussengebied, maar ook ’n Prokrustes-bed waarop die mens gebuig, gerek en ingekort word, verneem ons verder,” skryf Joan Hambidge in Die Burger van 4 Desember 1996.

“Dit is ’n ambisieuse bundel en een wat nie as geheel die mas opkom nie. Die digter het waarskynlik te hard probeer om ’n eenheid te skep – gaan kyk maar net hoe die eis vir eenheid nog regeer in ons kritiek! ’n Mens onthou by nabaat dus eerder die enkele gedig as wat die geheel jou oortuig of oorrompel.

“Waarskynlik is die verse dikwels te kripties in aanbod. ’n Mens kry soms die gevoel dat hier ’n skelet van ’n gedig-in-wording is, maar dat die gedig nog nie voltooi is nie. (Waarskynlik is die persoonlike geskiedenis ook te kripties aangebied?) Die bundel sinkopeer persoonlike pyn met die politieke geweld van die tagtigs en die uiteindelike versoening.

“Maar ’n mens kan nie die liriese kwaliteit in hierdie bundel miskyk nie. Esterhuizen sal wel hier onthou word vir ’n handvol verse wat te midde van die mode van die tyd, naamlik intellektuele verse, pastiches, parodieë en so meer juis tref om die liriese suiwerheid. Dit is ’n helder stem en die treffende ‘Stukkend’ het my lank ná die lees daarvan bygebly,” sluit sy haar resensie af.

Met Patzers (1997) was die kritiek veel gunstiger. Vir TT Cloete (Rapport, 24 September 1997) het die gedigte in hierdie vierde digbundel van Louis Esterhuizen duidelik hul ontstaan rondom die motief van die skaakspel, maar dit is syns insiens tog nie die hoofmotief van die bundel nie. “Die hoofmotief is die tyd waarbinne die mens lewe, kortom: die mens self, in sy groot konflikte, maar ook in sy intiemer familiale verband, uiteindelik in sy totale bestaan.

“Daar is ’n aantal hoofbegrippe wat duidelik uitstaan: die lewe is ’n skaakspel, en die speler se oog is veral gerig op die begin van die spel, die verloop daarvan en die uiteinde; veral gaan dit om die uiteinde. Reeds in die openingsgedig word verwys na die noukeurige oorweging in die skaakspel ‘om die onafwendbare skaakmat uit te stel’, om die verloop te beheer, om die afwaartse beweging of die afloop te vermy, as verloorder. So is daar ’n hele aantal ander goeie gedigte oor ons menslikheid. Tog kom die beste beelde nie uit die skaakmotiewe voort nie. Baie treffender is byvoorbeeld die beeld van die homo erectus wat die musiek se sagste murg uit die buis druk. 

“Die sterk en hewige problematiek van die afwesige word wel te verstane ’n religieuse probleem, met die siening van die afwesige (Afwesige?) as skaakspeler wat wen. Onthutsend, maar treffend en soms diep ontroerend is die besinning oor, of die direkte gesprek met die hardhorende en magtige God. Soos ’n heerser sy onderdane se hulp nodig het, het die wenspeler sy verloorders nodig, sê die gedigte. Dit is sterk ironie hierdie. Daar is ironiese verwysings na Bybeltekste, soos waar daar verwys word na die graf as uiteinde en as daar dan gesê word iets groters as geloof is nodig om dié molshoop te skuif. Die digter ‘skoor’ met God. Tog is daar ook momente van skoonheid, soos lowergroen musiek of die loerie wat deur takke gorrel, beskryf in verse wat self klankryk is. Die ontglippende word in sekere gedigte gesien as mooi drome of verbeeldinge wat jou ontwyk, as die gedig self wat jou ontglip. Daar is oorgenoeg konflik en ander potensiaal in die bundel vir goeie gedigte, maar alles wat opgeneem is, kom nog nie goed uit die verf nie. Baie keer lê die poëtiese meer in die sitate wat die gedigte begelei: ’n oorvloed daarvan maar wat wel wys op die aanklank wat Esterhuizen soek by ander skrywers.

“Baie gedigte bly nog in die betogende trant steek en lyk alleen in die omtrekke op ’n gedig. Die liefdes- en gesinsgedigte is myns insiens minder geslaagd. Dit alles neem egter nie weg nie dat daar ’n hele aantal baie goeie gedigte in hierdie bundel is gedigte wat diep en onverskrokke inkyk in ons menslikheid en ons lewe.”

Vir Fanie Olivier (Beeld, 17 November 1997) is Patzers beslis ’n bundel as eenheid, “met veel meer wat mens aangryp en bybly as in byvoorbeeld Onderwaterweg. Maar wat ’n mens eweneens opval, is dat Esterhuizen in te veel gedigte nog nie die skryf oor dinge of idees kan laat opgaan in die skryf daarin of daardeur nie. Miskien, net miskien, sal die dissipline van die formaliteit, die oorgee aan die strenger reëls van die spel vorentoe belangriker word as wat hy nou wil besef.”

In 1998 neem Louis deel aan twee internetpoësiekompetisies in Nederland. Twee van sy verse word onder die top tien geplaas met Meanderkrant se poësiekompetisie en word as wenner van die Pamon-prys aangewys.

Saam met Henning Pieterse is Louis die stigter van die bekende Bekgevegte, wat prettige poëtiese-"stryde" is.

In 2001 is Louis met Marlise Joubert getroud. Louis vertel self dat hy in 1973 as student aan die UOVS verlief geraak het op ’n foto van Marlise wat op die agterblad van haar debuutdigbundel, Domus, verskyn het. “Om die waarheid te sê, dit was in ’n groot mate vanweë haar digkuns dat ék my hand aan die maak van verse begin waag het,” sê Louis. (Volksblad, 16 Julie 2001)

Louis het begin om vir Marlise gedigte te skryf en mettertyd begin sy reageer en ontstaan daar ’n opwindende tydperk van ’n heen-en-weer-diggesprek. En só ontstaan en verskyn Louis se bundel Opslagsomer (2001) by Human & Rousseau en Marlise se Lyfsange by Protea Boekhuis. Aanvanklik sou die verse nie gepubliseer word nie – dit is bloot vir hulle eie plesier geskryf.

TT Cloete (Beeld, 4 Junie 2001) meen dat Esterhuizen in Opslagsomer ’n bedaarde vers skryf – “al is die gedigte soms baie sterk eroties gekleur, met die noem van allerlei intieme besonderhede van die seksuele ervaring. Dit is ’n openhartige vers, maar andersyds ook tog weer in sekere gevalle verdoeselend, eerder omskrywend as openbarend. Die digterlike liefdeservarings van Marlise Joubert en Esterhuizen lei nie soos in die geval van Plath-Hughes tot iets verder as die (hoofsaaklik erotiese) verhouding van die liefde self nie, maar intussen bly dit vir my ’n interessante saamhorigheid en enigste in hulle soort van twee digbundels sover dit die Afrikaanse digkuns betref.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 14 Mei 2001) skryf dat Louis sedert Die onderwaterweg (1996) ’n stygende gehaltekurwe volhou: “Ook met Opslagsomer wat van die eenvoudigste, maar tegelyk mooiste gedigte bevat wat hy geskryf het. Die liriese, dikwels ekstatiese liefdespoësie wat in hierdie vyfde bundel oorheers, is van ’n ander inslag en toonaard as die nugterder soort seggingsvers sonder opvallende klankrykheid wat ons uit sy vorige, verwikkelde bundels ken. Hier dig hy uit die hart en niere.

“Die rede? Die trauma van ’n egskeiding, die vereensaming en gevoelens van leegheid wat dit meebring – totaal onverwags opgevolg deur ’n nuwe liefdesbloei in die middeljare, ’n “opslagsomer” van geluk, skoonheid, sintuiglikheid en sensualiteit. Lyfsange en Opslagsomer bied ’n uitsonderlike digterlike minnetweespraak binne die Afrikaanse poësietradisie wat ’n boeiende teenhanger vorm vir die bekende, meer beskoulike liefdesgesprek in Van Wyk Louw en Sheila Cussons se digkuns.”

Oor Liefland, Louis se volgende bundel wat in 2004 verskyn het, skryf Ampie Coetzee (Die Burger, 8 November 2004) as volg: “Waaroor gaan dit in dié bundel? As ’n mens poësie sou kon opsom, sou ek sê dit gaan oor: Suid-Afrika, landskap, ’n liefdeliggaam-landskap-koppeling, sensualiteit, die vrou as redding en anker, herinnering aan die verlede, die politieke verlede: die ‘indiskresies’ daarvan, ‘die wete van ons wanbedryf’. Verder: geweld (baie), armoede, verwaarlosing, moord, straatkinders, verkragting. En veral: vrees, vrees, vrees. Soos Peter Blum gesê het: ‘dan weet ons op watter vasteland ons boer’.

“Wat die poësie betref: Ten eerste, met die verwysing na Nijhoff, is daar die postmoderne tegniek van intertekstualiteit: die verwysing – direk of indirek – na ander digters, ander tekste; die gesprek met ander poësietekste. Soms word name genoem, soos Nijhoff, Johannes Babrowski en Zbigniew Herbert. Maar dan is daar gedigte wat geskryf is ‘op die wysie van’, op die stem van ander verse, sonder om te noem wie se verse. En dit is boeiend, omdat dit parodiërend is, maar ook teenstellend en veral ironiserend. En só werk goeie poësie: Net deur die verwysing word implisiet ander betekenisse opgeroep.

“Veral Breyten Breytenbach het ons gewys dat poësie nie konvensioneel sê nie, maar woorde maak, nuwe ‘taal’ praat. Dít doen Esterhuizen. Met metafore, met beskrywings, met wendings aan die einde van gedigte, met paradoks en ironie, met poëtiese style (soos elegie en retoriek, en selfs ’n epiese element); maar veral ook met woordspel – deur as ’t ware rondom woorde te skryf. ’n Voorbeeld is die gedig ‘Loop en val’ oor die moord op die hardloper Matthews Motshwarateu – ’n hardloper met die naam ‘Loop en val’. Die naam sal enige digter se ore laat spits. Die gedig eindig só: op drie en veertig sou jy / roemloos oor die laaste streep / val, met vier koeëls / in jou lyf / hulpwaarts / kruip. Loop en val, hardloop en kruip.

Sedert 2005 is hy ook die organiseerder en inisiatiefnemer van die gewilde Versindaba. Louis het met die idee vorendag gekom om poësie weer in die publieke oog te plaas: “Ek hoop om só die persepsie dat gedigte slegs deur geleerdes en letterkundiges geniet en gewaardeer kan word, teë te werk.” (Die Burger, 23 Junie 2005)

Tydens die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch kom digters van oral bymekaar en lees hulle eie verse voor, en aan die einde word ’n bundel deur Protea Boekhuis gepubliseer. Die jaarlikse Protea Poësieprys word ook tydens die byeenkoms toegeken.

In 2010 word Sloper deur Protea Boekhuis gepubliseer. In die uitgewers se inligtingstuk word Sloper as volg opgesom: “Die digter ondersoek die slopingsproses wat op sowel fisiese as emosionele vlak voltrek word. Dit affekteer onder andere huise en tuine maar ook menslike verhoudings en die kort bestek van die mens se lewe. Die tou is hier ’n betekenisvolle simbool wat hede en verlede verbind. Teenoor aftakeling en afslyting staan die herstel van die gees in menslike verhoudings, groei, die behoud van herinnering en beweging deur ruimtes en ervaring om nuwe moontlikhede oop te maak.” (Goodreads)

In Volksblad (16 Junie 2008) is Joan Hambidge die resensent en skryf sy as volg: “Sloper – met ’n pragtige omslag na ’n foto van Rothea Olivier – wys ’n huis wat gerestoureer word met twee deure wat oopmaak. Hierom sou die gedig ‘Ode aan die deur (p 80) dan gelees kan word as ’n sentrale gedig binne bundelverband: die deur wat inperk, toesluit, bewaar. (Ook die deure van die (on)bewuste sou ’n mens kon byvoeg en die Freudiaanse siening van vlakke van belewenisse wat moet oopgaan.)

“Ons vind in die bundel die spel met sloping (murasies) en opbou wat ons dan weer terugneem na ’n belangrike aspek van Freudiaanse denke, te wete die argeologie van betekenis. Die digter neem ons terug na die jeugjare, die komplekse verhouding met die vader en al die onthoue wat in die jeug opgesluit lê vir die digter. Hy metaforiseer die digproses onder andere deur van ’n mynwerker gebruik te maak (‘Mynwerker’, p 83) en die vlakke van onthou word oopgegrawe vir die leser. (…)

“Op sy beste is Esterhuizen wanneer hy die gedig die praatwerk laat doen (let your fingers do the walking!); wanneer hy preek of filosofeer, verloor hy hierdie leser soos in die gesprekke met filosowe (‘Endaimonia’, p 67). Waar hy egter selfvertroue openbaar en die vers sy loop laat neem, is die leser in die hande van ’n vakman. (…)

“Vir diegene wat wil sien waar vorige temas, beelde of metafore hul ontstaan gehad het, sal die spel met sloping/opbou ’n relevante psigoanalitiese speurtog tot gevolg hê. Aan die debietkant moet vermeld word: te veel gedigte kon nog bondiger, driftiger gemaak word. Die verse word ironies genoeg (s)lopers – hulle loop dikwels by ’n slot verby of kort sterker interne weerstand. Maar ’n handvol verse wat wél loop, maak die bundel onthoubaar binne die digter se oeuvre.”

In 2010 verskyn wat die water onthou by Protea Boekhuis en verower dit die Proteaprys vir Poësie. In sy commendatio het Henning Pieterse op Versindaba gesê: “Water, as oerbron, as heilige en geduldige element, is die sentrale beeld in hierdie bundel. Tematies word hierdie simbool en metafoor – met betrekking tot binding, ontkieming, begin, einde, lewe en dood, kuns, geheue en liefde – regdeur in fyn afgewerkte, liriese verse ontgin, onder meer by wyse van talle see- en rivierbeelde en metafiksionele ‘akwarelle’. Kaplinski se woorde ’no self. Water again water’ en reëls uit Van Ostaijen se ‘Melopee’ word vernuftig verwerk in gedig na gedig. Telkens word verskeie fasette van water ingespan in verse oor jeugherinneringe en dan, veral, die liefde. wat die water onthou is ’n hoogtepunt in Louis Esterhuizen se oeuvre en ’n waardige wenner van die Proteaprys vir Poësie.”

Op ’n vraag van Andries Visagie op die Versindaba-webwerf sê Louis oor die bundel: “(D)ie primordiale aard van water was vir my van minder belang by dié verse. Wel die kwessie van ‘eenheid in teenstelling’, soos Herakleitos dit verwoord het aan die hand van sy opmerking dat jy nie dieselfde rivier twee keer kan betree nie. Water as simbool van sikliese tydsverloop (proses én konstante) is dus vir my belangriker as die primordiale. Water is immers teenwoordig in alle dinge; van die begin van die skepping af (as konstante), en tog is dit ook terselfdertyd in ’n staat van volgehoue verandering. Soos dit ook die geval is met geheue.”

Die bundelkonsep het by Marlise ontstaan. “Sy het haar naamlik met groot entoesiasme begin toespits op waterverf as tegniek van skilder. Uiteraard het ons baie gesels oor die ‘poëtiese’ implikasies van die akwarel as kunsvorm in teenstelling tot olieverf, byvoorbeeld. Die gedigtereeks ‘die geduld van water’ was die direkte uitloop van dié gesprekke, maar uiteindelik was dit ’n kruisbestuiwing met gesprekke wat gedigte word en gedigte weer skilderye. Terloops, hierdie reeks vorm die ruggraat van die bundelkonsep, aangesien die ‘afgebeelde landskap’ wat behoue bly na die water verdamp het, die konstante verteenwoordig (= taal/woord/gedig), terwyl die ‘water wat verdamp’ weer die veranderlike is (= gesprek/tydsverloop/geheue).”

In Die Burger (20 November 2009) wei Louis verder uit oor wat die water onthou: “Hierdie is waarskynlik een van my mees persoonlike bundels. Ek het nog altyd weggeskryf van myself … Maar onder Marlise (Joubert) se beïnvloeding en leiding het ek meer gemaklik geraak om oor eie ervarings te skryf. Dit is in ’n mate ’n persoonlike lewensgeskiedenis, maar ook ’n geskiedenis van die mens, want die water was daar lank voor die mens gekom het en gaan daar wees lank nadat die mens weg is. So in die laaste verse verdwyn die mens heeltemal uit die prentjie uit. In die laaste vers is dit net die water wat oorbly.

“Dit was vir my moeilik, maar ek verfoei die dag wat ek maar net nog ’n bundel skryf. Ek hou van uitdagings,” vertel Louis verder. “Met hierdie bundel was die uitdaging om een vers in die volgende te laat vloei. Die vers op sigself staan alleen, maar hy staan ook binne ’n vloeipatroon, want daar is nie afdelings, daar is nie titels nie – hy vloei net. Vir my persoonlik is die toon van ’n vers baie belangrik. Soos ’n musiekstuk – dit is die toon of atmosfeer van die musiek wat jou tref, selfs al verstaan jy nie eers wat sing sy nie.

“TS Eliot het gesê: Genuine poetry moves before it is understood … Daai ding is vir my belangrik, en dit was my uitdaging om in hierdie bundel daarin te probeer vergestalting gee. Of ek daarin geslaag het – dit sal die kritici maar moet sê. Maar my eerste leser (Marlise) sê ek hét.”

Op Versindaba is Bernard Odendaal die volgende mening oor wat die water onthou toegedaan: “Louis Esterhuizen kry dit reg om met bundel na bundel ’n oeuvre op te bou wat ’n steeds sterker indruk maak; só ook met wat die water onthou wat op meer as een wyse by sy vorige werk aansluit.”

Ook Marius Crous (Beeld, 24 Mei 2010) is beïndruk met wat die water onthou: “Ná die lees van hierdie bundel voel dié leser dat Louis Esterhuizen ’n tipe Masaro Emoto genoem kan word, want net soos Emoto die patrone in waterkristalle naspeur, so skryf Esterhuizen uitgebreid oor watter herinneringe, geheimenisse en misterie opgesluit lê in water – water in al sy vorme.

“Kyk ’n mens na die titels van die gedigte, sien jy hulle begin meestal met ‘dat’, wat aandui in watter mate hulle by die bundeltitel aansluit. Sodoende word die bepaalde aspekte wat deur die water onthou word, uitgelig: beginpunte, plekke, natuurverskynsels, bestekopnames en intieme oomblikke.”

En dan sluit Crous af: “Daar is in hierdie jongste bundel van Louis Esterhuizen ’n opvallende gestrooptheid in die verse, asof die digter, in aansluiting by die deurlopende motief in sy bundel, die onnodige oordaad uitspoel en laat wegvloei – wat weer aansluit by die slopermotief van sy vorige bundel.

“Of soos hy dit stel: ‘Stiller sal die aande algaande word. / En stiller. Só is die geneigdheid van water. Om alle geluid op te los …’ (66).”

Louis se volgende bundel, amper elders: ’n reisjoernaal, het in 2012 by Protea Boekhuis verskyn. Op die buiteblad word ’n fladdering wit duiwe teen die agtergrond van imposante klassieke suile uitgebeeld. Hieroor vertel Louis aan Marlies Taljard (Versindaba) ooramper elders: “Duiwe het nog altyd ’n bepaalde teenwoordigheid in my gedigte gehad, Marlies. Met die konsep van amper elders het hulle geneigdheid om altoos te wil terugkeer na waar hulle uitgebroei is, my goed te pas gekom. Aanvanklik was dié betrokke vers nie geoormerk vir opname in hierdie bundel nie, aangesien dit voor die Europese reis wat ek en Marlise in 2008 onderneem het, geskryf was en uiteraard nie met die reisgegewe skakel nie. Maar na ’n bepaalde traumatiese insident waartydens ek langs die siekbed van ’n geliefde moes waak, het die twee slotverse, ‘Waakeenheid’ en ‘Verposing’, hul opwagting gemaak en meteens was ‘duiwedanser’ ’n gepaste, bykans profetiese, openingsvers vir die bundel.

“Omrede die narratiewe lyn van die reisjoernaal so sterk deur die bundel loop, was ek bang dat die bundel gewoon as reisverslag gelees sal word; ervarings wat sekondêr is en gewoon as katalisator dien tot ’n besinning oor kwessies soos identiteit en die vervlugtende aard van die mens se bestaan en sy verhoudings tot dinge en mense. Laasgenoemde temas word dan by uitstek gedra deur die ses duifgedigte (wat in frekwensie toeneem na die einde van die bundel) wanneer die ‘terugkeer’ op hande is. Daarom was dit sinvol om dié verskuilde suggestie reeds met die omslag te plant; veral gesien teen die agtergrond van hemelse poort.

“Nietemin, Doug Lew is een van die VSA se bekendste waterverfskilders en iemand met wie Marlise van tyd tot tyd korrespondeer. Toe ek dié betrokke skildery in een van sy boeke sien, was ek sommer baie opgewonde, en daarom uitermate dankbaar dat hy goedgunstiglik tot die gebruik van sy skildery as omslag ingestem het.”

Taljard beskou amper elders as ’n verslag van ’n Europese reis “met sterk sensoriese en narratiewe elemente – elke gedig is as ’t ware ’n foto ingebed in ’n groter verhaal”. Sy wou by Louis weet watter soort reis dit was en of hy dit onderneem het met die oog op ’n bundel – of het die bundel as “neweproduk” van die reis ontstaan?

Louis antwoord dat hy, in teenstelling met Marlise, geen reisiger is nie. “Trouens, hierdie was maar my tweede reis oorsee. Ons moes egter gaan om Marlise se dogter se troue in Cambridge by te woon en omrede ons vorige reis (in 2002) maar ’n tref-en-trap-affêre was, het ons besluit om dié reis die moeite werd te maak; veral met ’n langgedroomde besoek aan Praag as uiteindelike hoogtepunt. Op daardie tydstip was daar nog geen bundel in die vooruitsig nie; Sloper het enkele maande vantevore verskyn en ek was besig om afrondingswerk te doen aan wat die water onthou. In Antwerpen het ons tuisgegaan by Piet en Anic wat ’n gastehuis met die inspirerende naam Amper elders bedryf. Die idee vir die bundel was meteens daar, alhoewel die uiteindelike bundel drasties verskil van dit wat ek aanvanklik beoog het. Temas en indrukke het ek tydens die reis neergepen, maar by die fisiese skryf van die gedigte het ek eers later gekom ná wat die water onthou afgehandel was.” 

In sy resensie van amper elders skryf Andries Visagie (Beeld, 23 September 2012) dat Louis hom met hierdie digbundel aansluit by twee ontwikkelinge wat tans in die Afrikaanse poësie vinnig momentum begin kry: “naamlik die belangstelling in reisgedigte en die stadspoësie. Sy bundel is ’n verslag van ’n reis na Cambridge, Antwerpen, Amsterdam en Praag, die Tsjeggiese stad wat die grootste aantal reisgedigte geïnspireer het. Dit is verblydend dat Esterhuizen goed daarin slaag om die oppervlakkigheid van die toeristiese ervaring te vermy deur in sy gedigte die lewe van die mense in die verskillende stede aan te raak. 

“Die bundeltitel is goed gekies. Deur die effens anderse betekenisnuanse wat die woord amper in Nederlands (en Vlaams) as in Afrikaans het, naamlik ‘byna nie’, word die leser aangemoedig om die spanning tussen tuis en elders in elke afsonderlike reisgedig van nader te bekyk, en hoewel amper elders minder beïndruk as wat die water onthou, word die leser wel deeglik meegevoer deur die opwinding wat met die reis gepaardgaan. Dié bundel is ’n bevestiging van ’n digterskap wat deur die jare skerp ontwikkel het, met die gevolg dat lesers met elke nuwe bundel telkens ’n vars invalshoek en ook ’n groeiende aantal verse van gehalte kan verwag.”

Oor die mate waarin amper elders aansluit by sy vorige werk, verduidelik Louis aan Marlies Taljard (op Versindaba): “’n Uiters belangrike aspek vir my as maker van gedigte is dat ek met elke bundel probeer om ’n bepaalde uitdaging as rooi doek voor my te hang. (So wou ek met wat die water onthou kyk in welke mate dit moontlik is om ’n ‘stromende’ bundel te skryf; amper iets soos die bewegings in ’n musiekstuk.) Na aanleiding van die afgelope jare se debat rondom die kwessie van die anekdotiese vers in ons digkuns, wou ek met amper elders kyk in welke mate dit moontlik is om liriese verse binne ’n streng narratiewe struktuur te laat funksioneer. Anders gestel – die vraag wat sentraal staan by ’n narratiewe teks, is: Wat gaan volgende gebeur? In die geval van ’n gedig is dit weer: Wat gebeur hiér?! Met amper elders het ek dié twee vrae probeer kombineer; enersyds narratief, andersyds besinning. ’n Reisjoernaal leen hom uitmuntend hiertoe, want dit betrek (bykans per definisie) albei aspekte.

“Oor die kwessie van vernuwing, verruiming en/of groei sal die kritici maar moet oordeel. Tog wil ek nog ietsie sê oor die aansluiting van amper elders by vorige werk. Aanvanklik was dit nie so beplan nie, maar ek skat dat dié bundel uiteindelik ’n noodwendige voortskryf was op Sloper wat in 2007 verskyn het.”

Oor Marlise se aandeel aan amper elders sê Louis: “Daar bestaan seker heelwat verskillende sienings oor dit wat ons ‘liefde’ noem. Maar die een aspek wat vir my persoonlik sentraal staan, is die kwessie van ‘vermeerdering’. Selfs die mees terloopse belewenis wen net soveel aan intensiteit en konteks wanneer dit met ’n geliefde gedeel word. En ja, ek en Marlise deel alle aspekte van ons menswees op ’n baie direkte en persoonlike vlak. ‘Kruisbestuiwing’ is dus ’n gegewe as gevolg van die uitruil van idees en insigte; ook vanweë al die verkennende gesprekke oor aangeleenthede wat vir ons albei van belang is. Met behoud van individualiteit en respek vir mekaar se manier van doen, bygesê. Marlise is vir my ’n enorme bron van inspirasie; júís vanweë die manier waarop sy ánders is as ek. Trouens, ek vermoed dat ons op presies dieselfde manier van mekaar verskil as wat ons eenders is. Onverdiende bevoorregting, noem ons dit.

“Nietemin, jy vra na haar aandeel? Uiteraard met volgehoue aanmoediging en kommentaar. Na amper elke vers het ek gevoel: Nee, dié ding kan nie. Die verse was vir my té simplisties en eendimensioneel; met die verlammende vrees dat dit as ‘geleentheidsverse’ afgemaak gaan word. Dan het Marlise begin por en mor en gewys op allerhande moontlikhede wat ek by die verse kon inwerk. En dan skryf ek maar weer verder. En ja, sekerlik is amper elders ook ’n dankie-sê vir al die momente van aankoms en vertrek wat sy op so ’n besonderse manier met my deel en hopelik nog vir vele jare sal áánhou deel.”

Skryf hou vir Louis bepaalde risiko’s in wat meer persoonlik van aard is. Hy sien die skryfproses as ’n manier van dink; ’n manier waarop die digter probeer om begrip (en samehang) te vind te midde van bepaalde ervarings. En die insigte is nie altyd gemaklik nie. Oor die gedigte wat hy “die wêreld instuur”, hoop hy dat hy iewers ’n leser sal vind wat bereid is om dieselfde moeite daarmee te doen as wat hy as digter daarmee gehad het. “Die skryfproses is immers nooit afgehandel alvorens die kommunikasie via die teks voltrek is nie.” (Versindaba)

In 2014 verskyn Louis se tiende digbundel, Die afwesigheid van berge, by Human & Rousseau. Louis het tydens die Woordfees van 2014 met Francois Smith oor die bundel gesels. Hy het verduidelik dat die titel van die bundel na Psalm 121 verwys en ook hoe die mens aan homself uitgelewer is: “Dít wat ek ervaar as die moeilike tye om in Suid-Afrika te woon. Aan die positiewe kant dui die titel op die afwesigheid van belemmering en hindernis.

“’n Narratiewe element aan die bundel is die idee van reis. Hoewel deur persoonlike en Suid-Afrikaanse dale van angs en bedreiging beweeg word – ek het deurentyd na requiems geluister – is die rol van liefde as bolwerk teen die dood ’n belangrike tema, ’n onverdiende begenadiging.

“Dit is ’n bundel wat ek gekomponeer het – musiek is ’n integrale deel van my skryfwerk.”

In ’n onderhoud met Francois Smith op Versindaba stel Smith dit as volg aan Louis: “Daar is ten slotte ook nóg ’n vername skans teen die dood, naamlik die geheue, die vermoë om die reis in herinnering te roep en daaroor te besin. Digterlik daaroor te besin, sou ’n mens kon sê. Wil jy iets daaroor sê?”

Hierop antwoord Louis: “Absoluut. En hierdie vraag neem ons terug na bykans al my voorafgaande bundels sedert Liefland. Die vraag is: Wat bepaal identiteit? Myns insiens is dit juis die geheue en taal wat identiteit bepaal; iemand wat byvoorbeeld geen geheue het nie, het waarskynlik ook nie identiteit nie. Dit is waar die poëtiese teks wel ’n rol te speel het, om ten slotte terug te keer na ’n vroeëre vraag van jou: immers het die digkuns (myns insiens) onder andere ook die taak om ’n bepaalde taalgroep se emosionele landskap te karteer. Indien jy sou wou weet hoe dit gesteld was om byvoorbeeld tydens die Holocaust in die konsentrasiekampe te wees, kan jy die geskiedenisboeke lees. Maar indien jy sou wou weet hoe dit in murg en been wás, is dit waarskynlik net die digkuns wat jou dit sal kan vertel. En dít is vir my die bestaansrede (essensie) van die digkuns: Om deur middel van resonerende taal te kan sê: ‘So was dit, dít is wát en hóé ek dit beleef het.’”

Jacomien van Niekerk (Volksblad, 21 April 2014) was dadelik beïndruk met die formaat van hierdie bundel: “Dit bestaan hoofsaaklik uit drie lang, gedeeltelik verhalende, gedeeltelik beskrywende gedigte. Hierdie gedigte word voorafgegaan deur drie kort gedigte en gevolg deur twee gedigte waarmee die bundel afsluit.

“Esterhuizen vergelyk self die bou van die bundel met dié van ’n fuga met drie voorspele, drie hoofbewegings en twee kodas.

“Die lees van die lang, vloeiende gedigte verg ’n ander soort konsentrasie van die leser as die gemiddelde digbundel. Om gedwing te word om die woorde en beelde te volg soos wat hulle van tema tot tema beweeg, is inderdaad soortgelyk daaraan om na musiek te luister. In hierdie opsig doen Louis Esterhuizen iets taamlik nuuts in Afrikaans.”

Vir Van Niekerk speel Die afwesigheid van berge in op Psalm 21 en sy lei af dat wanneer daar nie berge (die mens se toevlugsoord in tye van swaarkry) is nie, die mens volkome uitgelewer is. En vir haar som dit die tema van die bundel goed op.

Esterhuizen dra die bundel op aan Chris, ’n vriend van hom in Nederland, wat wou weet hoe dit voel om in Suid-Afrika te woon. Die antwoord wat Louis aan hom gegee het, is dat dit “skrikwekkend” is.

Van Niekerk gaan voort: “Daar word keer op keer in die bundel teruggekeer na die tema van geweld in die vorm van motorkapings, inbrake, verkragting, ensovoorts.”

En dan sluit sy af: “Die afwesigheid van berge is nie ’n bundel wat primêr daar is om te geniet nie, maar dit opper vrae wat verdien om gehoor te word.”

Charl-Pierre Naudé is die resensent van Die afwesigheid van berge in Rapport (27 April 2014). Vir hom is die bundel ’n teleurstelling ten spyte van die uitstekende beelding en enkele ander pluspunte.

Naudé skryf as volg oor sy redes vir sy negatiewe houding: “Esterhuizen werk hier met anekdotiese stof, iets wat ’n gevaar is as dit nie omgewerk word na die behoorlik transformerende nie. Die bederfbaarste van die anekdotiese soorte is juis die joernalistiese – die rigsnoer van hierdie bundel. Die werk bly steek in die gegewe Suid-Afrikaanse werklikheid wat gewoon ondraaglik is, nie omdat dit wrede stof is nie, maar omdat dit cliché is. Sonder transformerende krag (waartoe Esterhuizen wel in staat is, maar wat hier nie plaasvind nie) gaan gedigte daardie cliché-making aanhelp pleks van teenwerk.”

Verder is daar in die bundel (vir Naudé) te veel herhalingsmotiewe en pla die beelding hom ook. “Die klankvloei is meestal ritmies soomloos en subtiel – ’n ou hand aan die werk – maar ook taamlik voor die hand liggend. Ondanks talle persoonlike verwysings is dit die diep persoonlike respons wat nie tot lewe kom nie, nie die minste nie weens ’n té sê-erige toon. Dit alles verhinder die dramatiese vormgewing wat nodig is om die leser in te suig.

“Ondanks prikkelende verbande (te verwagte by Esterhuizen) is dit ongelukkig die versmorende geheel wat die blywende indruk laat.”

In 2020, ses jaar na die publikasie van Die afwesigheid van berge, verskyn Louis se volgende bundel onder die titel Die gladde stiltes in glas by Protea Boekhuis.

In ’n onderhoud met Marlies Taljard op Versindaba vertel Louis dat Die gladde stiltes in glas se oorspronklike titel Steierwerk was, “met ’n direkte inspeling op Sloper en die beskouing dat die gedig soos steierwerk langs ’n vervalle ‘gebou’ opgerig word ten einde die aftakeling van belewenis te restoureer. Maar toe verskyn Daniel Hugo se bundel Takelwerk in 2015 en ek staan gefnuik. Algaande het ek egter ’n fassinasie met glas ontwikkel – naas suurstof is die silika waaruit glas gesuiwer word, byvoorbeeld, die algemeenste chemiese element op aarde; soos die poëtiese ingewing is dit oraloor teenwoordig – en namate ek hieroor nagelees en dit bepeins het, het die gedigte begin aanmeld en was die aangepaste konsep die resultaat.”

Hein Viljoen skryf in Rapport van 3 Januarie 2021 as volg: “In die bundel dien doodgewone glas as die substraat vir ’n ryk verskeidenheid emosies en as raamwerk vir talle vindingryke metafore. Al voel sommige gedigte en metafore te doelbewus gemaak, bereik die bundel as geheel ’n ewewig tussen wat is en die groot leegtes daaragter – ’n ‘swewende ewewig’ wat toegeskryf kan word aan sterk bande met ander: bewonderende kunstenaars, die moeder en bowenal met die geliefde.”

Op Netwerk24 (14 Desember 2020) is Louise Viljoen die resensent en sy som die bundel só op: “Louis Esterhuizen se Die gladde stiltes in glas is gebou om ’n reeks teenstellings waaronder dié van oprigting teenoor aftakeling, hoogte teenoor diepte, glas teenoor klip, en ligtheid teenoor swaarte. Die bundel bestaan uit drie afdelings waarvan die titels (‘Steierwerk’, ‘Buiteligmusiek’ en ‘Grondwaarts’) reeds op hierdie teenstellings inspeel.

“Die motto van Milan Kundera waarmee die eerste afdeling begin, sê dat enigiemand wat na iets hoër streef, kan verwag om aan die duiseling van hoogtevrees, oftewel vertigo, te ly. Vir hom is vertigo nie soseer die vrees vir val nie, maar eerder die begeerte om toe te gee aan die verleiding van die leegte onder jou. Dit is teen hierdie leegte wat ons onsself angsvallig probeer verweer, onder meer deur die skep van iets soos byvoorbeeld die poësie.”

Viljoen sluit haar bespreking van Die gladde stiltes in glas as volg af: “Esterhuizen gee met sy bundel erkenning aan die kompleksiteit van menslike ervaring deur die tematiese drade van glas en klip, lig en swaar, met mekaar te vervleg en oor die loop van die bundel vol te hou. Op enkele punte wonder ’n mens of die argitektuur van die bundel nie helderder kon wees om dit selfs duideliker te lê en die hersirkulering van metafore soos dié van die glasblaser nog meer sinvol te maak nie.

“Sou die liefdesgedigte in die eerste afdeling nie beter pas in die tweede afdeling nie en sou ’n gedig soos ‘Winterlied’ oor die moeder nie kon skuif na die laaste afdeling ‘Grondwaarts’ nie? Die digter maak spaarsamig en kundig gebruik van intertekste (die groot invloede hier is Kundera en Pärt), maar dit is tog vreemd dat hy die laaste reëls in sy bundel – ’n keurposisie – wy aan ’n aanhaling uit Henning Pieterse se poësie.

“Dié besware ten spyt is Die gladde stiltes in glas ’n sterk bundel wat intrigeer vanweë die ryk metafore, die emosionele diepgang en die weiering om komplekse gegewens tot enkelvoudighede te reduseer. Dit is ’n bundel wat met elke herlees nuwe perspektiewe sal open.”

In ’n onderhoud met Dante Scriba in die Kaapse Bibliotekaris van Januarie/Februarie 2014 vertel Louis meer oor sy werk as bestuurder van Protea Boekhuis op Stellenbosch waar daar gereeld op Saterdagoggende boekbekendstellings gehou is en met skrywers gesels is: “I find that this work does complement my creativity. Poetry is about spiritual as well as intellectual themes and as such I find my involvement in the world of books indubitably stimulating.”

Louis verklaar ook as volg in hierdie onderhoud: “To place the right book in the right reader’s hand is like serving the sacraments.”

Publikasies

Publikasie

Stilstuipe

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119578 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die oog af

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798123397 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die onderwaterweg: ’n versroman

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135824 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Patzers

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137428 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Opslagsomer

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141387 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefland

Publikasiedatum

2004

ISBN

186910726 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sloper

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191863 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat die water onthou

Publikasiedatum

2010

ISBN

97818689193539 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Kortlys vir die Universiteit van Johannesburg-prys (2011)
  • Kortlys vir die ATKV-prys vir poësie (2011)
  • Wenner van die Proteaprys vir poësie vir die beste digbundel van die voorafgaande jaar (2011)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

amper elders: ’n reisjoernaal

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781869196905 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die afwesigheid van berge

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798164948 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die gladde stiltes in glas

Publikasiedatum

2020

ISBN

9781485311553 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor en deur Louis Esterhuizen op die internet

’n Keur van artikels deur Louis Esterhuizen beskikbaar op die internet

Louis Esterhuizen se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-04-17 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Louis Esterhuizen (1955–) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1432

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>