Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all 1430 articles
Browse latest View live

PG du Plessis: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bring hulde

$
0
0

Met die oorlye van PG du Plessis het Afrikaans een van sy belangrikste skrywers verloor, het Dionē Prinsloo, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gesê.

PG, soos hy alom by sy vriende en kollegas bekend was, is 'n bekroonde skrywer van die SA Akademie. Hy het onder meer in 1972 die Hertzogprys ontvang vir sy dramas, Siener in die suburbs en Die nag van Legio. In 1978 en 1980 het hy ook die Akademie se Erepenning vir Afrikaanse Televisiedramas ontvang.

Hy het groot bekendheid verwerf met sy drama Siener in die Suburbs en die gewilde TV-reeks Koöperasiestories. Die skrywer was op hoogte van 'n publikasie oor sy werk wat nou onder redaksie van Heilna du Plooy van die Noordwes-Universiteit saam met 'n aantal literatore op versoek van die Akademie beplan word. Met die oog hierop het Du Plooy 'n ruk gelede 'n gesprek met die skrywer by sy huis opgeneem. 'n Transkripsie van die gesprek sal nou deel word van die beplande publikasie, het Prinsloo gesê.

The post PG du Plessis: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bring hulde appeared first on LitNet.


’n Nuwe kommerwekkende poging om Suid-Afrikaanse kopiereg te hervorm

$
0
0

Die hersiene weergawe van die wetsontwerp wat veranderinge aan die Wet op Outeursreg voorstel, is op 16 Mei 2017 by die parlement ingedien. Indien hierdie wet aanvaar word, kan dit verreikende negatiewe gevolge vir skrywers en uitgewers hê.

Hier is die kopieregkonsultant Catrina Wessels se kommentaar op die hersiene wetsontwerp:

Die hersiene wetsontwerp bevat ’n paar verbeteringe maar steeds heelwat foute, en doen nie afstand van die inhoudelike wysigings tot die bestaande wet wat die uitgewersbedryf negatief sal beïnvloed nie.

Die volgende aspekte van die wetsontwerp het uit uitgewersgeledere teenkanting gekry, en is nog in plek in hierdie weergawe van die wetsontwerp:

- Die instel van die begrip “billike gebruik” vir onder meer opvoedkundige doeleindes.

- Naas die algemene billike gebruik-vergunning, maak die wetsontwerp ook voorsiening vir spesifieke kopiereg-uitsonderings vir opvoedkundige doeleindes. Opvoedkundige instellings mag dele van outeursregwerke byvoorbeeld sonder toestemming en sonder vergoeding insluit by hul voorgeskrewe materiaal. Indien ’n handboek uit druk is of nie beskikbaar is om teen ’n redelike prys aan te koop nie, mag opvoedkundige instellings voortgaan om die hele handboek te kopieer, sonder toestemming of vergoeding.

- Die wetsontwerp maak voorsiening daarvoor dat die staat in sekere omstandighede lisensies mag toestaan vir die vertaling van ’n outeursregwerk, selfs wanneer die outeursregeienaar toestemming geweier het.

- Kontrakte bied nie ’n uitweg nie. Kontraksbepalings wat in stryd is met bepalings oor billike gebruik sal nie afdwingbaar wees nie.

’n Nuwe toevoeging is dat daar ’n uitsondering sal wees vir verskaffing van outeursregwerke aan ‘under-served populations’, sonder toestemming van of vergoeding aan outeursreghouers, met geen beperking op wie hierdie werke aan hierdie gemeenskappe kan verskaf nie, en geen perke op die koste wat die verskaffers daarvoor kan vra nie.

Skrywers wat hul brood en botter verdien uit werke wat vir die skole- of universiteitsmark voorgeskryf word, kan ’n aansienlike afname in inkomste verwag indien hierdie wysigings aanvaar word. Akademiese en opvoedkundige uitgewerye, asook algemene uitgewerye wat letterkunde publiseer wat in klaskamers onderrig word, sal ook ’n knou hierdeur toegedien word. Die presiese aard van dié knou is onduidelik, want ten spyte van die Departement van Handel en Nywerheid se onderneming aan belanghebbendes tydens die konsultasieproses in 2015, het hul nie ’n onafhanklike ekonomiese impakstudie laat doen nie.

Die wetsontwerp sal na verwagting in Augustus 2017 in die parlement bespreek word. Die datum(s) behoort teen 30 Junie bekendgemaak te word. Skriftelike voorleggings oor die wetsontwerp moet teen 30 Junie ingedien word.

****

PEN Afrikaans beplan om ’n voorlegging te maak. Die bestuur van PEN Afrikaans doen daarom hiermee ’n beroep op sy lede en ander belanghebbendes om die wetsontwerp te lees en terugvoer te gee met die oog op hierdie skriftelike voorlegging. (Die hersiene wetsontwerp is hier in PDF-formaat beskikbaar.)

Insette kan gestuur word na penafrikaans@gmail.com.

 

The post ’n Nuwe kommerwekkende poging om Suid-Afrikaanse kopiereg te hervorm appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Brei-athon ter viering van Nelson Mandela-dag

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in samewerking met Paarl Museum en die Dorkas en Busy Beez Vroueklubs bied op Saterdag 24 Junie 2017 hul jaarlikse brei-athon aan ter viering van Nelson Mandela-dag.

Volgens Janine Brown, Opvoedkundige Beampte van die ATM, skakel dié insiatief in by die doel van Mandela-dag om individue te inspireer om te help om die wêreld ’n beter plek te maak deur 67 minute van hul tyd te spandeer om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak.

 “Ons wil graag behoeftiges se harte warm maak en hulle help om die winter te trotseer deur ’n kledingstuk vir hulle te brei, hetsy ’n serp, trui of kombersie. Ons het reeds verskeie groepe gevorm wat items begin brei het ten bate van die projek . Almal word uitgedaag om te brei. Indien jy nie kan brei nie, sal ons jou leer!”

Breilesse by verlede jaar se Brei-athon: Agter van links na regs is Michael Jonas (Direkteur van die ATM), Janine Brown (Opvoedkundige Beampte van die ATM) en Illeeqah Uys van Worcester. Voor is Sarah Martin van die Paarl, Rushello Uys van Worcester, en Ray en Gloria Williams van die Paarl (Foto: verskaf)

Die brei-athon vind van 09:00 tot 14:00 by Paarl Museum op Van der Lingenplein plaas. Deelnemers moet hul eie breipenne saambring en word aangemoedig om wol saam te bring, maar wol sal ook verskaf word. Mense kan ook vooraf items brei.

Die breiwerk sal op 18 Julie 2017 saam met sop en broodjies aan behoeftige grootmense en kinders in Groenheuwel, Fairyland en Klapmuts uitgedeel word.

Enige skenkings van bolletjies wol, klere, speelgoed en blikkieskos is ook welkom. Dit moet teen Dinsdag 11 Julie 2017 afgegee word by die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan of Paarl Museum op Van der Lingenplein.

Vir navrae, kontak Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za

The post Persvrystelling: Brei-athon ter viering van Nelson Mandela-dag appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2017

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans

Ek was byna gereed om ons Junie-nuusbrief uit te stuur, toe ons voorsitter, Kerneels Breytenbach, my bel met die hartseer nuus van PG du Plessis se dood. Dié geliefde skrywer en legendariese storieverteller is op die middag van 7 Junie ná 'n lang stryd met prostaatkanker oorlede. Hy was 82 jaar oud.

Dit is 'n geweldige verlies, maar 'n mens troos jou daaraan dat sy groot gees nog lank met ons sal wees. PG het gewys wat alles in en met Afrikaans gedoen kan word – op die verhoog, op TV, in koerante en in die romankuns.

Jeannette Ferreira groet só in haar mooi huldeblyk:

Mens stel jou voor hy het die trappies van hierdie laaste verhoog afgeklim met sy skouers effens krom onder die kruisbande, beslis nie sonder ’n glimlag en ’n laaste woord nie: “Pieter Georg du Plessis. Skuldig aan ’n lewe, voluit.”

Vir daardie voluit lewe lig ons die hoed in innige dankbaarheid. 

Lees hier meer oor PG se ryk werk en lewe.

Internasionale eer aan Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach, een van PEN Afrikaans se stigterslede, het op 25 Mei vanjaar die Zbigniew Herbert-prys in Warskou, Pole, in ontvangs geneem.

Die Herbert-prys is ’n internasionale literêre verering wat sedert 2013 jaarliks toegeken word vir uitstaande werk en intellektuele prestasies gekoppel aan die Poolse skrywer, digter en moralis Zbigniew Herbert.

Breyten het gesê dat hy dankbaar en bly is vir die prys namens almal wat in Afrikaans skryf. Hy het ook by die toekenningsgeleentheid in sy toespraak sterk protes aangeteken teen die manier waarop meertaligheid en minderhede tans in Suid-Afrika minag word:

“Ek kom van ’n aarde wat weer plat sal wees, waar die stabilisasie van diversiteit uitgedoof word deur ’n diepgaande gekoloniseerde politieke voortvarendheid in lofprysing van onkunde en onbevoegdheid.

“Dit is voorgeskryf dat die taal van my baie moeders en vaders, van hibridisering, van anderwording, stil sal word en ingesluk sal word in skaamte vir die verlede.”

[...]

“Alles daarvan sal platgevee word deur die moreel korrekte gewigtigheid van vrees, konformiteit, populistiese slagspreuke gedrapeer in die lykkleed van nihilisme, ook genoem historiese determinisme.

Of, anders gestel: Vir vooruitgang en gelykheid ‘is dit net natuurlik dat die meerderheid meer regte moet hê as die minderhede’, volgens pres. Zuma van Suid-Afrika.

“Enigiets, solank dit net nie ware transformasie is nie, ware bevryding is nie, ware menslike bemiddeling in die aangesig van ’n ewigheid wat ontvou, ware aanspreeklikheid vir die verlede en die toekoms met ’n werklike verantwoordelikheid teenoor die lewe.”

Die bestuur van PEN Afrikaans deel die kommer wat Breyten uitspreek, maar ons wens hom namens almal wat in Afrikaans skryf, geluk met die groot internasionale eer wat hom te beurt geval het.

Breyten se volledige toespraak en poësievoorlesing by die toekenningsgeleentheid is hier beskikbaar.

Nuwe kommerwekkende poging tot die wysiging van Suid-Afrikaanse kopiereg

Die hersiene weergawe van die wetsontwerp wat veranderinge aan die Wet op Outeursreg voorstel, is op 16 Mei 2017 by die parlement ingedien. Indien hierdie wet aanvaar word, kan dit verreikende negatiewe gevolge vir skrywers en uitgewers hê.

Hierdie verwikkeling is so belangrik dat PEN Afrikaans se bestuur besluit het om 'n spesiale nuusbrief hieroor aan al ons lede uit te stuur.

Belangstellendes kan hier meer inligting oor die hersiene wetsontwerp en die implikasies daarvan kry.

Aansoeke vir NATi-befondsing sluit op 30 Junie

NATi (die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) is gestig as 'n befondsings- en ontwikkelingsinisiatief van verdienstelike teater in samewerking met die Feesteforum (Aardklop, Innibos, KKNK, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en Woordfees) en onafhanklike vervaardigers. NATi fokus op projekte wat die teaterbedryf as 'n geheel dien en 'n stem of perspektief toevoeg tot 'n Suid-Afrikaanse narratief in Afrikaans.

Die aansoekvorm vir befondsing van NATi vir die 2018 /2019-siklus kan hier afgelaai word.

Die vorm bevat al die relevante riglyne en inligting wat nodig is om die aansoek te voltooi. 

Die sluitingsdatum vir befondsingsaansoeke is 30 Junie 2017 (met addisionele tyd wat gegun sal word om die teks of musiek te voltooi na die aanvanklike sluitingsdatum).  

Let asseblief daarop dat hierdie aansoekproses nie die gewone aansoekprosedures van die kunstefeeste vervang nie.  

Verdere navrae kan gerig word aan Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van NATi. Stuur vir haar e-pos na: cornelia@nati.org.za

Skryf voor 3 Julie in vir die tweede Kunste Onbeperk Teksmark

Die Teksmark, nou in sy tweede jaar, se doel is om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees en tekste aan belanghebbendes in die teaterbedryf, bekend te stel. Dis 'n Kunste Onbeperk-projek wat ondersteun word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxter Teatersentrum.

By die eerste Teksmark in 2016 is 14 tekste gekies en deur skrywers voorgelê. Amee Lekas se Die dans van die watermeid is deur NATi opgeraap en debuteer in September by die Baxter Teatersentrum.

Alle skrywers (hetsy gevestig of opkomend) kan deelneem. 

Stuur jou teksvoorstel teen Maandag 3 Julie 2017 om 12:00 aan Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, by hugo@kunste.org.za met o.m. die titel van jou teks, ’n uiteensetting van die inhoud en karakters en ’n tematiese konteks. Volledige tekste word verwelkom, maar opvoerbare uittreksels van ten minste tien minute is die minimum vereiste.

Voorstelle word oorweeg om op 11 en 12 September 2017 as leesteater by die Baxter Teatersentrum in Kaapstad aangebied te word. Verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers word genooi om met skrywers oor hul teks-idees te gesels.

Voorstelle in alle Suid-Afrikaanse tale word oorweeg, maar die skrywer moet inwillig dat die teks ook na Afrikaans vertaal mag word. Slegs tekste wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg.

'n Dokument met al die relevante inligting kan hier in PDF-formaat afgelaai word.

Skryf voor 28 Junie in vir die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse

Boekresensente word genooi om in te skryf vir die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke bekroon word.

Met dié pryse, wat verlede jaar vir die eerste keer toegeken is, word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en die leesgenot van boekliefhebbers bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te bereik en te handhaaf.

Resensente word genooi om in te skryf in twee kategorieë:

  • Uitnemende resensie: Afrikaanse fiksie (alle genres)
  • Uitnemende resensie: Afrikaanse niefiksie (alle genres)

Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.

Die 2017-pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2016 en 31 Desember 2016 in die drukmedia en hoofstroom- aanlyn media verskyn het. Transkripsies van radioresensies word ook aanvaar. ’n Resensent mag ’n maksimum van drie resensies per kategorie inskryf.

Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie kom in aanmerking.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 28 Junie 2017.

’n Paneel van drie keurders met Bibi Slippers as sameroeper sal die wenners aanwys uit die resensies wat ingeskryf is.

Met die beoordeling van inskrywings sal die vernaamste kriteria wees dat resensies toeganklikheid vir hul waarskynlike lesers demonstreer en die leesplesier van Afrikaanse boeke bevorder. Daarbenewens sal die keurders op die uitkyk wees vir werk wat:

  • oorspronklike insigte weergee oor boeke wat waarde toevoeg tot die Afrikaanse letterkunde
  • ’n relevante verwysingsraamwerk en konteks toon
  • ingeligte oordeel met goed gemotiveerde en opbouende kritiek weerspieël
  • lesers lus maak om te lees
  • nie op sensasie en afbrekende kritiek fokus nie, en
  • getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk.

Die keurders sal ruimtebeperkings in ag neem.

Die inisiatief om in te skryf berus in die eerste plek by die deelnemer, hoewel boekeredakteurs en redakteurs versoek word om resensente aan te moedig om deel te neem.

Geen inskrywingsgeld is betaalbaar nie.

Sowel elektroniese as papierinskrywings word aanvaar. Inskrywings van gepubliseerde resensies moet waar van toepassing vergesel wees van PDF-weergawes van die resensies soos dit oorspronklik verskyn het tensy vooraf anders ooreengekom met die administrateur van die pryse.

Die volledige regulasies, inskrywingsvorm en ander besonderhede is verkrygbaar by die administrateur, Anita van Zyl, by anita@vanzylpr.co.za. Telefoniese navrae kan aan haar gerig word by 021 422 3350 of 083 709 6677.

Trippel-7-kandidate by die 2017 ATKV-Winterskryfskool 

In ons Maart 2017-nuusbrief het ons verslag gedoen oor die Trippel-7-projek se terugkeer na die Noord-Kaap onder leiding van Anzil Kulsen, 'n bestuurslid van PEN Afrikaans. (Klik hier vir foto's en besonderhede.)

Drie van hierdie Trippel-7-deelnemers is genooi om op PEN Afrikaans se onkoste die ATKV-Winterskryfskool vanaf 5 tot 9 Junie 2017 by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom te gaan bywoon. Die Noordwes-Universiteit het goedgunstiglik ingestem om 'n vierde Trippel-7-deelnemer vir die Winterskool te borg. Ons bedank die universiteit hartlik en sê baie dankie aan Bernard Odendaal, 'n bestuurslid van PEN Afrikaans, vir sy aanvoorwerk in dié verband. Innige dank ook aan Anzil Kulsen vir al haar moeite met die bestuur en koördinering van die Trippel-7-projek.

Die skrywers wat by die Winterskryfskool as gassprekers oor die romankuns, kinder- en jeugverhale en poësie opgetree het, was: Lien Botha, Simon Bruinders, Hans du Plessis, Fanie Viljoen, Cecilia Steyn, Martin Steyn en Bibi Slippers.

(Klik hier vir meer inligting oor die 2017 ATKV-Winterskryfskool.)

Die vier Trippel-7-skrywers het laat weet dat die Winterskool vir hulle 'n wonderlike, leersame ervaring was.

Ons wens hulle alle sukses toe met hul verdere skryfwerk.


Drie Trippel-7-skrywers in die Winterskryfskoolklas. Van links:
Petrus Swarts, Shirene Julies en Louwie Botma.


Die vier Trippel-7-kandidate saam met die skrywer Simon Bruinders in die middel. Bruinders was een van die aanbieders by die ATKV-Winterskryfskool. Die Trippel-7-deelnemers aan die Winterskryfskool is van links: Petrus Swarts, Shirene Julies, Walter Moses en Louwie Botma

Izak de Vries – kaalvoet-Comrades-held

Izak de Vries, een van PEN Afrikaans se bestuurslede, het op 4 Junie vanjaar sy elfde Comrades suksesvol voltooi. Dit was die derde keer dat hy dié marathon sonder skoene gehardloop het ten bate van die Durbanville Kinderhuis.

Die Durbanville Kinderhuis sorg vir 144 kinders wat deur die hof daar geplaas is om te herstel van trauma. Om meer oor die Kinderhuis te wete te kom, of 'n bydrae te maak tot hulle werk, besoek gerus die webwerf: www.durbanvillekinderhuis.org.za

Nogmaals geluk met hierdie merkwaardige prestasie ten bate van 'n goeie saak, Izak. Jy's 'n yster en 'n ware mensch.

Kortlyste vir die 2017 Media24 Boeke-pryse

Baie geluk aan al die skrywers wat vanjaar die kortlyste vir die gesogte Media24 Boeke-pryse gehaal het. Onafhanklike keurpanele het die kortlyste saamgestel uit altesaam 80 titels wat voorgelê is.

Die kortlyste, in alfabetiese volgorde volgens skrywer, is soos volg: 

WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie (roman, kortverhale of drama)

Huilboek deur Ryk Hattingh (Human & Rousseau)
Op ’n dag, ’n hond deur John Miles (Human & Rousseau)
1795 deur Dan Sleigh (Tafelberg)

Recht Malan-prys vir Afrikaanse en Engelse niefiksie

The Relatively Public Life of Jules Browde deur Daniel Browde (Jonathan Ball Publishers)
Under Nelson Mandela Boulevard deur Sean Christie (Jonathan Ball Publishers)
Continental Shift deur Kevin Bloom en Richard Poplak (Jonathan Ball Publishers)

Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse poësie

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange (Human & Rousseau)
Hammie deur Ronelda S. Kamfer (Kwela)
Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers (Tafelberg)

MER-prys vir Afrikaanse en Engelse jeugromans

Elevation 1: The Thousand Steps deur Helen Brain (Human & Rousseau)
Snitch deur Edyth Bulbring (Tafelberg)
There Should Have Been Five deur MJ Honikman (Tafelberg)

MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke in Afrikaans en Engels

Timbertwig’s New Adventures deur Peet Ellison (Human & Rousseau)
Ink deur Ingrid Mennen en geïllustreer deur Irene Berg (Tafelberg)
Storiemuis Boek 6 deur Leon Rousseau en geïllustreer deur Karen Ahlschläger, Johann Strauss en Marjorie van Heerden (Human & Rousseau)

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie word nie vanjaar toegeken nie en staan oor tot volgende jaar.

Die wenner in elke kategorie ontvang R35 000. By die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke word die prysgeld verdeel tussen die skrywer en illustreerder(s).

Die wenners van die Media24 Boeke-pryse word op die aand van 22 Junie bekend gemaak by 'n skemerkelkonthaal en prysuitdelingsgeleentheid in Kaapstad.

'n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Mei

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2017 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. 

Onder die skrywersonderhoude in ons Mei-oorsig tel gesprekke met Wilna Hennig Adriaanse, Irma Venter, Erns Grundling, HemelBesem, Marita van der Vyver en Nicole Strauss.

Aanhangers van Karel Schoeman vind in ons Mei-oorsig verskeie skakels na huldeblyke in die drukmedia sowel as op radio en TV – Francois Smith en Kerneels Breytenbach het oor Schoeman met Kabous Meiring in Prontuit op kykNET gesels.

Vir boekliefhebbers is die spesiale Flits-program wat in Mei oor boekontwerp uitgesaai is, 'n spesiale plesier. Ons oorsig bevat YouTube-skakels na die verskillende segmente van hierdie uitsending, waaronder 'n insetsel oor boeke op Instagram asook gesprekke met Elmari Rautenbach, Marion Erskine en die ontwerper Richard Myburgh.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Junie

Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir Mei kan hier afgelaai word. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2017 appeared first on LitNet.

Rymklets saam met Jitsvinger op Jeugdag: ’n onderhoud

$
0
0

Jitsvinger gaan Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl besoek as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdagviering op 16 Junie 2017. Menán van Heerden het met hom gesels om meer uit te vind oor rymklets as “edutainment”.

Jy gaan op Jeugdag ’n kort werkswinkel oor rymklets in Afrikaans aanbied. Hoe dra rymklets by tot “edutainment”? Daarmee saam, vertel wat jy onder edutainment verstaan en van jou ervaringe as edutainer in Suid-Afrika en elders.

Musiek is ’n geïntegreerde aspek van mens se kultuur en dra by tot ongekende tegniese bevordering in die kontemporêre samelewing. Rymklets/rap op musiek het vir my ’n nuwe deur oopgemaak deur hip-hop: ’n universele watervoor wat jongmense toegang gee tot identiteit as ’n populêre jeug-subkultuur en primêre invloed. Edutainment bestaan uit twee gedeeltes, naamlik education (opvoeding) en entertainment (vermaaklikheid). Ek vind dit oral (plaaslik en oorsee) interessant hoe edutainment vir my inlig omtrent die kompleks sosiale raamwerk van die jeug se identiteit.

Hoe dink jy kan rymklets bydra as ’n opvoedkundige instrument (buite die formele opvoedkunde, geletterdheidspraktyke en kurrikulum) vir die jongmense met wie jy werk?

Hip-hop-kultuur het ’n groot invloed op die individu se self-bewustheid en sosiale waarneming en dwing ’n kritiese mentaliteit af. Rymklets bevat talle tegnieke en style wat vordering bied aan die literêre wêreld. Dit gee ook, in my ervaring, beter toeganklikheid tot fasette van letterkunde en die beginsels wat dit beheer.  

Foto deur Lindsey Appolis

 Jy het in 2011 met Afrikaaps in Nederland getoer. Jy het pas teruggekeer van jou tweede Nederlandse toer met die musikale teaterproduksie South African Road Trip: Celebrating Life. Wat staan vir jou die meeste uit van jou Nederlandse opvoerings?

Nederlanders is veral gefassineerd oor die Afrikaanse taal se oorspronklikheid en soortgelykheid aan Nederlands. Daar is groot belangstelling vir Afrikaans oorsee oor die algemeen, met aanvraag uit alle oorde van die taal, van musiek tot die geskrewe woord, maar so min platforms plaaslik, wat industrie-vordering kniehalter.

 Jy het tydens ’n 2016-Woordpret-funksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch genoem dat daar nie net een Afrikaanse standaardtaal is nie, daar is standaarde. Vertel vir ons meer hoe rymklets bydra tot die viering van verskillende vorme van Afrikaans.

Rymklets is die billboard van streeksdialekte, die baarmoeder van nuwe woorde en die fakkel van progressiewe letterkunde. Jy sien dit op sosiale netwerke, in gedigte, op die verhoog met ’n kwaai beat en op die nuutste fashion.

  • Sien die persvrystelling vir Jitsvinger se besoek aan Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdag-viering op 16 Junie 2017.

 

The post Rymklets saam met Jitsvinger op Jeugdag: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Protes teen die voorgestelde wysigings aan die Suid-Afrikaanse kopieregwet

$
0
0

Lede van PEN Afrikaans se bestuur het op 16 Junie 2017 te Stellenbosch vergader om die protes rondom die voorgestelde kopieregwysigingswet, wat op 5 Junie vir kommentaar gepubliseer is, te bespreek.

’n Foto van diegene wat die vergadering bygewoon het. Voor: Naomi Bruwer en Danie Marais. Agter: Izak de Vries, Kerneels Breytenbach en Marga Stoffer.

’n Formele verklaring sal volg, maar intussen vra PEN Afrikaans  dat belanghebbendes self die wysigings onder oë sal neem. Dit is hier beskikbaar.

PEN Afrikaans wil ook die publiek daarop wys dat ’n relatief toeganklike regsmening oor hierdie voorgestelde wysigings opgestel is deur Sadulla Karjiker en Cobus Jooste van Universiteit Stellenbosch se Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele Eiendomsreg. Dit kan hier gelees word.

 

Waarom is PEN Afrikaans bekommerd?

Karjiker en Jooste se mening is dat die huidige wetsontwerp erge gebreke toon. Op bladsy 2 staan:

In fact, it should be clear to any person who has a basic understanding of copyright law that the proposed legislation is a shoddy, and worrying, piece of work. To pass the legislation in its current form would amount to a dereliction of duty, and would fail to send a clear message to those responsible for the drafting the 2017 Bill that they are expected to do their work competently, let alone strive to meet the highest standards. There is ample evidence to suggest that the drafting of the 2017 Bill was done by persons who, quite frankly, do not understand the basics of copyright law. It also displays a lack of familiarity with the existing legislation!

Dit is harde woorde.

PEN Afrikaans se grootste probleem met die voorgestelde wysigings is dat die regering skynbaar poog om meganismes daar te stel sodat intellektuele eiendom eenvoudig, sonder vergoeding aan die kopiereg-eienaars, deur die staat versprei, selfs vertaal,  sal kan word, sou dit vir “scholarship, teaching and education”  gebruik word, of vir “expanding access for underserved populations”.

Dit is gewoon onaanvaarbaar.  Karjiker en Jooste sê tereg dat Suid-Afrikaanse uitgewers maar te graag sal meeding om produkte aan die staat te lewer indien die geleentheid daarvoor gebied word. Op bladsy 25 van hulle kritiek staan:

Instead, government seeks to expropriate property rights in order to reduce the costs of its constitutionally-mandated obligations to provide education. It is clear that the failure in the education sector is due to non-delivery of services by government, rather than a problematic copyright-law system.

’n Ander dilemma is dat die wet skynbaar voorstel dat die regering moontlik kopiereg sal verkry op enige werk wat deur die staat befonds word. Dit het verreikende gevolge vir enige akademiese navorsing wat gebruik maak van staatsfondse.

 

Aksiestappe

Die bestaande wetsontwerp is swak opgestel en het verreikende gevolge vir skrywers en uitgewers. PEN Afrikaans versoek dus alle belanghebbendes om hulself te vergewis van die erns van die saak. Karjiker en Jooste se menings is relatief toeganklik geskryf. Deel asseblief hierdie inligting aan almal wat moontlik nog nie bewus is van die probleem nie.

PEN Afrikaans is tans besig met ’n formele respons en ons werk ten nouste saam met PEN South Africa, asook PEN International. Ons is ook in noue kontak met verskeie Suid-Afrikaanse uitgewers om die nodige inligting aan hulle oor te dra.

PEN Afrikaans beoog ’n aanlyn petisie. Hou dus asseblief LitNet dop en onderteken asseblief die petisie wanneer dit beskikbaar word.

*

PEN Afrikaans bedank LitNet vir hierdie platform om inligting oor die probleem te versprei.

*

Hierdie dokument is op versoek van LitNet opgestel deur Izak de Vries ná die bestuursvergadering op 16 Junie in ’n poging om die erns van die saak aan die publiek oor te dra.

De Vries is ’n bestuurslid van PEN Afrikaans en hierdie dokument is met die medewete en steun van die res van die bestuur opgestel, maar dit verteenwoordig nog nie die amptelike standpuntinname van die bestuur nie.

 

The post Protes teen die voorgestelde wysigings aan die Suid-Afrikaanse kopieregwet appeared first on LitNet.

Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte

$
0
0

Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte
(9 maande kontrakaanstelling)

Die Afrikaanse Taalmuseum en-monument (ATM) nooi hiermee geskikte kandidate uit om aansoek te doen om die pos as Kommunikasiebeampte. Aanstellingsdatum: 3 Julie 2017

Vereistes:

  • ’n Nagraadse kwalifikasie in Afrikaans en/of Joernalistiek
  • Uitstekende taalvaardigheid in Afrikaans en Engels
  • Ervaring in skakelwerk, bemarking en sosiale media
  • Ervaring in taalversorging, redigering en vertaling
  • Kennis van basiese grafiese ontwerp en webwerfredigering
  • Kontakbare verwysings

Verantwoordelikhede:

  • Uitvoer van die skakelbestuurplan in oorleg met die Direkteur
  • Skakeling met die media en relevante kundiges
  • Hantering van medianavrae
  • Bemarking van die ATM se aktiwiteite en geleenthede deur onder andere: Die skryf, vertaling en verspreiding van mediavrystellings; die plaas van kennisgewings, foto’s en advertensies in die media, die opdatering van die ATM se webwerf en sosiale mediaplatforms; die ontwerp/uitleg en verspreiding van advertensies, brosjures en inligtingstukke
  • Samestelling van aansoeke om befondsing  
  • Taalversorging van amptelike dokumente

Sluitingsdatum: 23 Junie 2017
Stuur u aansoek aan: Die Direkteur, ATM, Posbus 498, Paarl 7620
Navrae:
Michelle Visagie by 021 872 3441
Indien u na ’n maand geen terugvoering ontvang nie, was u aansoek onsuksesvol.


Vacancy: Communications officer
(9 months contract appointment)

The Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) invites suitable candidates to apply for the position as Communications Officer. Appointment date: 3 July 2017

Requirements:

  • A postgraduate qualification in Afrikaans and/or Journalism
  • Excellent language skills in Afrikaans and English •
  • Experience in public relations, marketing and social media
  • Experience in language editing, proofreading and translation
  • Knowledge of basic graphic design and website editing
  • Contactable references

Responsibilities:

  • Execution of the public relations management plan in conjunction with the Director
  • Liaising with the media and relevant specialists
  • Handling media enquiries
  • Marketing of the ATM’s activities and events, including the writing, translation and distribution of media releases; the placement of notices, photos and advertisements in the media; the updating of the ATM’s website and social media platforms; and the design/layout and distribution of advertisements, brochures and information documents
  • Compiling funding/sponsorship applications
  • Language editing of official documents

Closing date: 23 June 2017
Applications must be sent to:  The Director, ATM, PO Box 498, Paarl 7620
Enquiries: Michelle Visagie at tel 021 872 3441. 
If no feedback is received after one month, application was unsuccessful.

The post Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte appeared first on LitNet.

Word ’n boekfluisteraar

$
0
0

Bennie Boekwurm en Louise Smith

Mense verklap hulle ouderdom wanneer hulle spontaan die kenwysie van Wieliewalie begin sing, tog is dit presies wat gebeur het toe Bennie Boekwurm hom kom tuismaak by ’n werkswinkel oor die rol van biblioteke in die onderwys. Die geleentheid het plaasgevind op 14 Junie 2017 by die Laerskool Welgemoed in die Kaap. Meer as 100 mense het dit bygewoon.

Haas Das en Louise Smith

Haas Das was ook daar, so ook die skrywer, Louise Smit, wat verantwoordelik is vir die ontstaan van hierdie twee karakters.

Die oorkoepelende tema van die geleentheid was: “Word ’n boekfluisteraar”.

Die Wes-Kaap-onderwysdepartement, die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, LAPA Uitgewers en NB Uitgewers het die werkswinkel ondersteun en het deelgeneem.

Chareldine van der Merwe

“Ons glo daar is ’n boek vir elke mens,” het Chareldine van der Merwe van die VVA verduidelik. “Biblioteke is die plekke waar ’n mens daardie boek kan ontmoet. Daarom is mense wat in biblioteke werk, boekfluisteraars.”

Talle biblioteekmense het kom verduidelik hoe hulle leerders en boeke by mekaar laat uitkom. Aan die een kant is pret beklemtoon (en pizza!), maar hierdie opmerking, per e-pos ná afloop van die geleentheid, som waarskynlik die gebeure ten beste op:

My terugvoering aan die skool was dat ek besef het dat al die bibliotekarisse wat as sprekers opgetree het, die woorde “veilige hawe” gebruik het! Toe ek afgekyk het op my notas het ek ook die woorde “veilige hawe” daarin raakgelees! – Stephanie van Wyk, Laerskool Mikro

Van Wyk was een van die sprekers. Vier ander skoolbibliotekarisse het ook deelgeneem. Praktiese raad is gedeel, soos toe Janine de Villiers van die Laerskool Welgemoed verduidelik het dat ’n grootmens plat op die grond moet sit om die biblioteek te sien soos die heel jongste leerders dit ervaar.

John Nicholson, wat saam met sy vrou ’n biblioteek in hulle agterplaas gestig het om die kinders van Lavender Hill van die straat te hou, het voortborduur op die tema van ’n veilige hawe. John kon trots verwys na ’n aantal mense wat vandag geleerdheid het omdat hulle geborge gevoel het in daardie agterplaasbiblioteek en só begin lees het. Nicholson is verlede jaar vereer met ’n ATKV-Veertjie vir sy groot werk om lees in Lavender Hill te bevorder.

Bellville se openbare biblioteek het ook baie moeite gedoen om meer tienervriendelik te word. Dit het gewerk en hulle is baie trots daarop dat daar elke weeksdag 300 of meer leerders in die biblioteek kom huiswerk doen en oplees.

Sprekers van die Wes-Kaap-onderwysdepartement het beklemtoon dat dit wat by Bellville gebeur, ook elders in die Wes-Kaap plaasvind, al is dit op ’n kleiner skaal.

Die departement was baie eerlik oor die finansiële dilemmas waarmee hulle sit, maar het ook moeite gedoen om onderwysers daarop te wys dat hulle wel hulpbronne beskikbaar het. “Kom praat met ons, ons wil julle help,” was die boodskap.

Spontane applous het losgebars ná ’n kort video gespeel is oor die biblioteekbus wat 11 skole naby Rawsonville bedien. Hierdie bus, die bibliotekaris en die bestuurder, word gefinansier deur plaaswerkers op die 22 plase wat druiwe aan Du Toitskloof Kelder lewer. Dít is ’n voorbeeld van die privaatsektor wat hande vat met omliggende gemeenskappe, want Du Toitskloof Kelder het Fair Trade-akkreditasie en dit beteken dat ’n bedrag geld van elke bottel wyn wat verkoop word, teruggeploeg word na werkers.

Middagete is voorsien deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, die twee baaskokke van Bonteheuwel wie se kookboeke so suksesvol deur LAPA uitgegee is.

Ná ete het die skrywers Louise Smith, Wendy Maartens en Edyth Bulbring gesels.

Dit was ’n besonderse geleentheid waar mense wat almal lief is vir boeke, kon koppe bymekaarsit. Lana van der Westhuizen van die Parel Vallei Hoërskool in Somerset-Wes, het geskryf: “Ons almal daar was soos droë sponse wat net alles opgesuig het. Ek het soveel geleer en dit was heerlik om die ander mense in my veld te ontmoet en inligting uit te ruil. Ek hoop regtig dat dit nie die laaste keer was nie.

Foto’s van die sprekers, in volgerde van optrede

Timothy Cloete (WKOD)

Marianne Serfontein (WKOD)

Helen Johnston (WKOD)

Aubrey Africa (WKOD)

Lona Gericke (afgetrede bibliotekaresse)

Janine de Villiers (Laerskool Welgemoed)

Maryna van Zyl (Laerskool Eversdal)

Stefanie van Wyk (Laerskool Mikro)

Erika Lourens (Laerskool Eikestad)

Venessa de Beer (Hoër Meisieskool Bloemhof)

John Nicholson (’n agterplaasbiblioteek in Lavender Hill)

Christelle Connor en Christelle Lubbe (Bellville Openbare Biblioteek)

Louise Smit (skrywer)

Wendy Maartens (skrywer)

Edyth Bulbring (skrywer)

The post Word ’n boekfluisteraar appeared first on LitNet.


Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het van 8 tot 11 Mei 2017 die Noord-Kaap besoek om inwoners se stories op te teken. Janine Brown en Isabeau Botha vertel meer vir Menán van Heerden.

Waar kom die idee vir hierdie projek vandaan?

Ons wil graag ons museumversameling uitbrei om meer verteenwoordigend te wees van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se taalerfenis. Die opteken van mondelinge oorlewering speel ’n belangrike rol in die bewaring van ’n taal en sy geskiedenis, veral om voorheen onvertelde en ongedokumenteerde geskiedenisse in te sluit. Dit sluit in om aan gemeenskappe en mense wat nie voorheen ’n stem gehad het nie, die geleentheid te bied om hulle stories te vertel. Ons wil ook graag gemeenskappe en skole bewus maak van die belangrikheid van storievertelling en mondelinge erfenis as ’n navorsingsmetode. Ons het tydens ons twee navorsingstoere na die Noord-Kaap ook as deel van ons leesprojek Laat ons Lees! 200 boeke aan elk van 11 laerskole geskenk (in samewerking met Biblionef) en by sewe van die skole ’n opvoedkundige program aangebied.

 Wat is die fokus van hierdie projek?

Dit vorm deel van ’n groter mondelinge-oorlewering-projek om die Noord-Kaapse kultuur en erfenis uit te bou en te bewaar deur middel van boekstawing. Die ATM het reeds stories in die Emthanjeni-, Renosterberg-, Kamiesberg-, Siyathemba-, Gamagara-, Thembelihle- en Siyancuma-munisipaliteite, asook in Orania, versamel.

Willem Seekoei en Isabeau Botha by die Noord-Kaap Taalmuseum in Petrusville (Foto: Janine Brown)

Waarom fokus die projek op die Noord-Kaap?

Eerstens is Afrikaans die grootste moedertaal in die Noord-Kaap (53,8% van 1,1 miljoen inwoners). Ons ervaring is egter dat tweede- en derdetaalsprekers in die Noord-Kaap Afrikaans goed magtig is, dit daagliks gebruik en ’n baie positiewe verhouding met Afrikaans as taal van bemagtiging het. Tweedens is daar baie onvertelde stories in die Noord-Kaap wat nog nie opgeteken is nie – stories wat verlore gaan soos wat dorpe kwyn en verdwyn, mense wegtrek en ouer mense (tradisioneel die storievertellers) nie meer die stories oor die ou dae kan vertel nie.

Het die ATM al sulke projekte onderneem, en beplan die ATM soortgelyke projekte vir die toekoms?

Ons het reeds verskeie mondelinge-oorlewering-projekte aangepak, waaronder die opteken van stories in Drakenstein in 2013 (in samewerking met Paarl Museum), in Porterville in 2013 ter viering van dié dorp se 100-jarige bestaan (in samewerking met Jan Danckaert Museum), asook kruiestories in die Langebergstreek in 2014 (in samewerking met Montagu Museum). Ons het ’n boekie oor elke projek gepubliseer wat gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is.

In 2013 het ons ’n spesiale mondelinge-oorlewering-projek in samewerking met Esselenpark Primêr op Worcester ter viering van hul 60ste bestaansjaar onderneem. Dié projek is in 2015 by die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport se 2015-Kultuursake-toekennings as die Beste Nuwe Museumprojek bekroon.

Die skoolkurrikulum vir graad 4 sluit die saamstel van ’n museumuitstalling in. Ons het die skool se graad 4-leerders bygestaan om ’n interaktiewe museumuitstalling van alledaagse voorwerpe oor hul skool saam te stel, met byskrifte om daaraan betekenis te gee. Hulle moes verskillende vorme van inligting, waaronder foto’s, versamel. Hulle moes ook onderhoude met oudleerders en –opvoeders voer. Ons het die skool gereeld besoek om met onderhoudvoering te help en het ook ’n boekie oor die projek saamgestel (wat ook gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is).

Ons beplan om in die toekoms mondelinge oorlewering in ander provinsies op te teken, onder andere in die Oos-Kaap. Ons wil ook ter viering van die ATM se 45-jarige bestaan in 2020 die storie van die ATM deur die oë van gewone mense, veral mense wat destyds by die oprigting en beginjare betrokke was, vertel.

Hoe gaan die stories bewaar word?

Al die stories word op video opgeneem en getranskribeer, waarna dit volgens temas ingedeel word. Alle materiaal, waaronder ook foto’s, word in die ATM se argief opgeneem. Ons het ook reeds taalverskynsels uit die Kamiesbergstreek in ons museumuitstalling en opvoedkundige programme ingesluit.

Ons beplan om temagebonde artikels op ons webwerf en op ander platforms, waaronder ons portaal op LitNet, te publiseer. Ons hoop om later ’n versamelbundel uit te gee.

Wie se stories het julle die meeste opgeval?

Die temas wat ons telkens in die Noord-Kaap raakloop, sluit in:

  • water (waaronder stories oor droogte, die waterslang, windpompe, putte, fonteine en boorgate)
  • koserfenis (waaronder disse, resepte en gaarmaakmetodes eie aan sekere dorpe en streke)
  • taalidentiteit (nuutskeppings, streekstaal en variëteite) en volkswoordkuns (byname, speletjies en gesegdes)
  • vervoer as lewensaar (hoe mense en dorpe (én spookdorpe) se wel en weë deur die spoorweë en paaie beïnvloed is).

Ons het wonderlike mense ontmoet wat elkeen ’n unieke storie te vertelle het. Soos oom Jan Mitchell van Olifantshoek wat vertel hoe hulle kleintyd tameletjie in ’n miershoop gemaak het; tannie Siena (Nannie) van Nel van Prieska met haar pa se kabaailiggie uit die myn en haar lekker lag oor haar eie vrylampie; oom Willem Olivier (oom Voël, omdat hy so vinnig kan werk) van Marydale met sy unieke posbus en deurklokkie; oom Johannes Blaauw (oorspronklik van Putsonderwater) wat verduidelik hoe ’n mens skilpad gaarmaak; en oom Flip Crouse, voormalige burgemeester van Kuruman, wat sy herinneringe aan sy ontmoeting met Nelson Mandela met ons deel. En op Orania het Joost Strydom vir ons nuwe woorde soos kiepkoepel (’n verskuifbare hoenderhok), swartbontes (Liqourice All Sorts) en flitspen (highlighter) geleer.

Siena van Nel (Nannie) van Prieska met haar pa se kabaailampie (Foto: Isabeau Botha)

Willem Olivier (Voël) van Marydale en sy tamatieblikkie deurklokkie (Foto: Isabeau Botha)

Janine Brown en Johannes Blaauw in Marydale (Foto: Isabeau Botha)

Op 8 September 2016, Wêreldgeletterdheidsdag, het Mervyn Swart ons genooi om ID du Plessis se graf te besoek op die plaas Houtkraal buite De Aar.

ID du Plessis se graf (Foto: Isabeau Botha)

Buite Philipstown op die plaas Rooipoort (waar hulle eers in 1994 krag gekry het) het ons die heerlikste ingelegde kwepers geëet en is ons huis toe met resepte vir pofadder, skaappeertjies en ystervark. Op Hanover het ons verneem dat jy ystervarkpenne moet fynmaak en die poeier in water kan drink as hulp vir pyne. 

Op Rooipoort is ons vertel van ’n weduwee wat gesê het dat sy nie weer man gaan vat nie, want “’n donkie wat deur die Here uitgespan is, mag geen mens weer inspan nie”. Regina Seekoei op Petrusville het weer vertel van Oumie Berta Cramer wat ná haar man se afsterwe gesê het: “My oorle man is dood, nou kan ek ook die askoek dans.”

Ons het baie weergawes van stories oor die waterslang opgeteken; ook op Petrusville, waar ’n regte slang (darem agter glas) die slaghuis se weergawe van ’n alarm is!

Wat ’n mens oral opval, is die vriendelikheid van mense ten spyte van groot werksloosheid, armoede en probleme soos drankmisbruik. ’n Plaasnaam soos Wet en Orde is in sterk kontras met ’n woonbuurt genaamd Vullisgat. Ons was saam hartseer oor museums en skole wat toegemaak het en skoolkoshuise wat vervalle staan terwyl plaaskinders ten duurste op die dorp moet loseer of kilometers ver elke dag taxi moet ry.

Ons besoek landelike skole waar die skoolklok soos in die ou dae steeds met die hand gelui word, waar (amper ook soos in die ou dae) 50 kinders van vier verskillende grade in een klas is (dit wil gedoen wees!), maar, dankie tog, darem net stories oor leie en griffies!

Die Noord-Kaap voel dus omtrent soos die A tot Z van Afrikaans, amper soos oom Flippie de Bruin se optekening van hoe hy en die ander kinders op Olifantshoek tussen 1920 en 1930 die alfabet geleer het (oorvertel deur Sarah du Pisanie):

A is ’n aap
B is ’n bees
C was amper ’n sekel gewees
D is ’n donkie hy skop agter op
E is ’n eend met ’n bles voor die kop
F is Flippie met die pyp in die mond
G is ’n graaf om te spit in die grond
H is ’n huisie waar ’n vuurtjie in brand
I is ivoor ’n olifanttand
J is ’n juk vir die osse se nek
K is ’n kalfie wat nog later moet trek
L is ’n lepel
M is ’n mes
N is die naam van ’n voëltjie se nes
O is ’n oor
P is ’n perd
Q is sommer ’n o met ’n stert
R is ’n roos
S is ’n slang
T is ’n tier wat ’n kalfie wil vang
U is ’n uurwerk ons noem dit ’n klok
V is ’n varkie hy staan in die hok
W is ’n wolkie daar bo in die lug
X is ’n kruisie hy lê op sy rug
Y is ’n yster hy deug vir ’n paal
Z kry ons min in die Afrikaanse taal.

Wel, interessante stories kry ons baie in die Afrikaanse taal, veral in die Noord-Kaap! Elke dorp in die Noord-Kaap is ’n stowwerige skatkis van stories, elke grondpad lei na verrassings soos hanskoedoes, San-tekeninge en geen selfoonontvangs; elke mens wat jy ontmoet is ’n hele wêreld wat wag om ontdek te word. Soos een tannie gesê het: sy is dankbaar vir ons kuier en ons moeite met die projek, want dit “prikkel jou geheue”.

Die Noord-Kaap Taalmuseum in De Aar (Foto: Isabeau Botha)

Waterslang-stories

– Nog ’n ding van die slang: Ons was altyd bang – ons het maar net gehoor die oumense praat mens nou maar bang. Jong, die slang bly hier bo by die tweelingdam. Baie van die kinders het altyd gesê: “Jong, daar’s ’n slang, ’n waterslang.” Nou wil ek mos altyd weet hoe lyk dié waterslang. Dan sê sy: “Dis so ’n lang, dik slang met ’n menskop en dan is sy lyf soos ’n vis.”

Maar eendag is ons nou nuuskierig en wil nou die slang sien. Maar toe ons nou daar kom – jy sien maar net die water. Maar ek het nog nooit werklik die slang gesien nie, ook as ons altyd so rivier toe gaan. Eenkeer het ons daar by Vanderkloof se vakansieoord by die munisipaliteit gaan uitkamp. Toe was daar ’n jong kind ook geverdrink daar. Daar waar die bote afgaan. Toe hoor ek: “Nee, dis die slang wat hom daar so afgedruk het.”

Maar ons het hom nog nie self gesien nie. En as die water ook so onstuimig word, dan sê die mense mos: “Hy’s nou kwaad vir jou wat hom nou kom henner het en hy soek nou een van julle.”

Soos juffrou Beerwinkel sê: “In die wolke in. Dan sien ons maar die wolk wat gaan. Dan sien jy die wolk wat in die vorm van ’n stert afhang, dan sê hulle: ‘Die slang gaan nou ’n bietjie weer hier oor.’” – Maria Wilson, Petrusville

– My plaasmense wat saam met my gewerk het, was nogal bygelowig, reeds oor die fontein wat daar is. Die fontein het agt boorgate en hulle is uitgegrou. As jy nou binne die fontein staan, hy’s twee meter afgegrou tot op die bank, soos die oumense gepraat het van “op die vaalbank”. Dis op die harde ystergrensbank. En nou elke jaar val die grond in, en dan verswak die fontein, dan moet jy dit weer oopgrawe.

Toe’t my pa nou besluit tot hiertoe en nie verder nie, want dit vat omtrent veertien dae van jou tyd om dit weer oop te grawe. Toe gaan bou hy sulke sementkaste reg rondom die agt boorgate, en gooi vir hom concrete bo-oor, met ’n inspeksiegat wat jy kan inklim. En elke jaar moes ek nou daar inklim en dan loop ek en dan haal ek al die wortels uit.

Op ’n dag toe is ek en my mense nou weer daar – ons moet skoonmaak en so. Die een moet inklim, die wortels binnekant afbreek en aangee vir een, hy gee dit bo by die gat uit. Ek het die grap gemaak: “Wie klim vandag saam my hierin; jy moet net pasop vir die waterslang.” Dit was die einde gewees. In my 20 jaar wat ek daar geboer het, het ek alleen daarin geklim. Ek praat van maklik ’n 100 meter. Dit is ’n concrete-kas wat jy moet in loop. En omdat ek gesê het “Julle moet oppas vir die waterslang” en eintlik net ’n grap gemaak het, was dit my lot gewees. Vir 20 jaar het ek alleen daar ingeklim en daai wortels uitgehaal. My mense het gesê nee, hulle klim nie daarin nie, want die baas het gesê daar is ’n waterslang. – Johan van der Walt, Petrusville

In die omgewing van Petrusville het ons telkens verwysings na “dumplings” raakgeloop, ook genoem “waterbrood”, “pollekoek” en “dompeling”.

In die middae as ons uit die skool uitkom, was daar van die maats se ma wat so ’n groot pot gehad het, dan het sy geknie en dan het sy waterbrood gemaak. Wanneer ons nou gaan vir onse speletjies en dinge, dan kom vat elkeen net vir hom ’n stuk van daai waterbrood. Baie lekker.

Waterbrood

Jy kook die water en sit bietjie vet in dat die brood nie kan vasbrand nie en dan as jy hom klaar geknie het, dan vat jy vir hom bolle, sit dit in. Lekker groot bolle, sit dit in. So drie of vier sit jy in die pot in. Dan kook daai brood nou met die water. Ander het stokkies ingesit lat die brood nie kan onder vasbrand nie. En met die water dan word die deeg nou so gaargemaak. – Regina Seekoei, Petrusville

Springbokpeertjies

Ons noem dit sommer Karoo mushrooms. Ons eet hom maar. Maar as jy hom eenmaal geëet het, dan weet jy hoe dit proe. Baie ryk. Hy word baie mooi voorberei, baie mooi skoongemaak. En dan het my ma (Ina van der Walt) dit in krummels gesit en in die olie gebak. En daai Amerikaners eet vir jou, want hulle kom honger uit die veld uit. En vanaand dan, môreoggend, hoor jy maar die ou was siek gewees, so hy’s baie ryk. – Corné Stottelaar, Petrusville/Vanderkloof

Springbokpeertjies, skaapstertjies en ystervark rugvel resepte
Uit Doornfontein, Ina van der Walt se wildsvleisresepte

Springbokpeertjies
(of as die ramme te min was, kry skaappeertjies by Jurie by die slagpale)

Skil af tot dit wat jy in jou hand het, soos gemaalde varkvleis lyk! Sny in 1,5 cm-blokkies en laat lê so bietjie in koue soutwater. Die enigste metode van gaarmaak wat ek ken, het ’n Amerikaner my geleer!

Maak deeg aan: 2 koppies bruismeel, sout en swartpeper en klop dit aan met ’n blikkie bier. Die deeg moet so ’n halfuur in die yskas rus.

Doop elke blokkie in deeg en braai in warm olie. Sit voor met kaassous.

Héérlik vir só ’n pikante ding, sal Johann sê.

Sophie van Ross van Griekwastad (Foto: Isabeau Botha)

Skaapstertjies

(soos Corné daarvan hou)

Maak maar bymekaar sodat jy in die jagseisoen genoeg het. Stertjies kan met wol en al vir 20 min op die kole braai – dis vir plaaskinders heerlik! As die jagters stadsjapies is, verwyder liewer die vel, sit so 2 uur lank in die ysterpot in die Aga, braai dit dan oor die kole – onthou die Aromat of braaivleisspeserye.

Van sterte gepraat, moenie die grootwild se sterte verlore laat gaan nie – saag dit op en maak dit saam met bietjie vark gaar, of meng dit met beesstert en maak gaar.

Wenk: As jy enige snit wildsvleis vinnig sag wil kry, laat lê in vars, gerasperde pynappel. Goeie idee om pynappel in jou marinade te meng – sagte steak binne ’n uur.

Yvonne van den Berg en Meemie, die einameerkat, van Douglas (Foto: Isabeau Botha)

Ystervarkrugvel

(mits Jannie en René daarvoor sorg!)

Soos Hendrik Susan sê: “gulpooprukkende lekker ervaring”

Benodig: ystervark, pekelwater, water om in te kook, 50 ml suurlemoensap, sout, peper, Aromat en bietjie chillibite-speserye.

As jy dit self moet skoonmaak, verwyder penne deur dit in vlam te skroei, dan trek penne maklik uit. Plaas vark in baie warm water en skraap baie goed. Slag rugvel af en laat lê dit in pekelwater vir een dag. Verwyder en was in vars water. Kook vel nou in water met die suurlemoensap tot sag. Haal uit, druk droog, sprinkel met speserye en braai oor die kole tot goudbruin en bros – sny dun skyfies en eet maar ’n broodjie daarby!

The post Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek appeared first on LitNet.

Video: Antjie Krog se toespraak by die ontvangs van die Hertzogprys 2017

Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir prosa aan Lien Botha – commendatio

$
0
0

Wessel Pienaar, Lien Botha en Ronel Foster
Foto: Naomi Bruwer

Die Eugène Maraisprys vir prosa is aan Lien Botha toegeken vir haar debuutroman, Wonderboom.

Huldigingswoord: Willie Burger (gelewer deur Ronel Foster)

In Lien Botha, ’n gevestigde fotograaf-kunstenaar, se debuutroman, word nóú by Wilma Stockenström se roman, Die kremetartekspedisie aangesluit.

In Wonderboom is die hoofkarakter ook ’n vrou. Sy woon in Bettysbaai, maar in ’n ongespesifiseerde toekoms – in ’n tydperk nadat wet en orde in die land in duie gestort het. Voedselskaarste heers. Sy het haar status as bevoorregte, vooraanstaande lid van die gemeenskap verloor en in armoede versink. Sy besluit om na die noorde van die land te reis, na waar haar familie is. Die reis is veel meer as bloot ’n moeisame tog van die Kaap na Pretoria waartydens sy haar onder meer moet vermom, gunste moet doen in ruil vir hulp, Kafka se krioelende insekte moet trotseer, ’n lyk onherkenbaar moet vermink, en soms deur vreemde reisgenote vergesel word.

Soos in Stockenström se Die kremetartekspedisie, is hierdie ekspedisie van Magriet ’n poging om die verlede onder woorde te bring, ’n reis na binne en na buite. Dit is ook ’n roman waarin die aandag telkens op die taalgebruik self gefokus word. Soos die slavin, begeer ook Magriet om uiteindelik onderstebo aan die boom te hang – soos ’n vlermuis. Anders as in Die kremetartekspedisie, is die ruimte ’n baie herkenbare Suid-Afrika waarin talle van ons eietydse probleme vanuit verskillende kante belig word – van ekonomiese stelsels, armoede en kinderopvoeding, tot magsmisbruik, korrupsie en apatie.

Sentraal staan die belang van herinnering, van kennis van die verlede – wat op verskeie maniere en deur verskeie kunsvorme ondersoek word. By elke hoofstuk is daar ook ’n kunswerk wat iets vasvat van herinnering – dit is aanvanklik ’n soort collage van kaarte, foto’s, briewe, boeke en ander artefakte wat saam as bolwerk teen die groot vergeet moet dien. Hierdie foto’s word geleidelik al hoe leër – soos wat Magriet se herinneringe vervaag – totdat slegs enkele blare by die laaste hoofstukke voorkom – slegs spatsels en patroon.

Wonderboom is ’n boeiende leeservaring wat ontstel weens die reliëf wat aan ons eietydse ervarings gegee word, wat dikwels ook snaaks is, en wat op indringende wyse nadink oor die maniere waarop die verlede benut word om sin te maak van ons bestaan.

Ek versoek die Voorsitter om die Eugène Maraisprys vir prosa aan Lien Botha te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

Lees die LitNet Akademies-resensie-essay van Wonderboom deur Henning Snyman.

The post Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir prosa aan Lien Botha – commendatio appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir drama aan Amy Jephta – commendatio

$
0
0

Wessel Pienaar, Amy Jephta en Andries Visagie
Foto: Naomi Bruwer

Die Eugène Maraisprys vir drama is aan Amy Jephta toegeken vir haar drama Kristalvlakte.

Huldigingswoord: Andries Visagie

Kristalvlakte van Amy Jephta is gebaseer op Bertolt Brecht se bekende drama Mutter Courage und Ihre Kinder. Die drama word geplaas binne die bende-oorloë op die Kaapse Vlakte in die jare tagtig van die vorige eeu en die hoofkarakter, Priscilla, word uitgebeeld as ’n smous wat saam met haar kinders profyt maak uit die omringende sosiale ontwrigting. Moreel is Priscilla dus allermins onkreukbaar, maar Amy Jephta stel Priscilla, anders as in Brecht se oorspronklike drama, as ’n meer genaakbare moederlike figuur voor wat haar kinders teen die vernietigende invloed van misdaad probeer beskerm. Kristalvlakte word sodoende ’n aangrypende kreatiewe verwerking van die grondteks wat die besondere visie van Amy Jephta oordra.

Die krag van hierdie indrukwekkende drama lê verder in die ryk en geskakeerde omgang met Kaaps wat in enkele gevalle met woordverklarings (in die vorm van voetnote in Standaardafrikaans) toegelig word. Die rampspoed wat Priscilla en haar kinders uiteindelik te beurt val, word meevoerend uitgebeeld en die verskeurdheid wat Priscilla ervaar tussen haar band met haar kinders en die wil om ten alle koste te oorleef, word uiteindelik dramaties baie suksesvol belig.

Kristalvlakte is met sukses tydens die Suidoosterfees opgevoer en die teks is eweneens baie keurig uitgegee. Alhoewel die grondteks ’n werk van Bertolt Brecht is, is die omsetting daarvan besonder kreatief en innoverend sodat die oorplasing na konfliksituasies op die Kaapse Vlakte baie goed slaag. Die drama is ontstellend en boeiend en getuig van ’n baie fyn aanvoeling vir die uitbeelding van dramatiese situasies wat die aandag van lesers sowel as toneelgangers enduit bly vasvang.

Voorsitter, ek versoek u om die Eugène Maraisprys aan Amy Jephta vir haar drama Kristalvlakte te oorhandig.

Stellenbosch
Junie 2017

Lees Temple Hauptfleisch se boekresensie van Kristalvlakte.

The post Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir drama aan Amy Jephta – commendatio appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir poësie aan Bibi Slippers – commendatio

$
0
0

Wessel Pienaar, Bibi Slippers en Andries Visagie
Foto: Naomi Bruwer

Die Eugène Maraisprys vir poësie is aan Bibi Slippers toegeken vir haar bundel Fotostaatmasjien.

Huldigingswoord: Andries Visagie

Bibi Slippers is kennelik ’n digter wat met uitbundigheid diep teug aan die genot wat die digkuns bied. Fotostaatmasjien laat ’n vars eietydse indruk sonder dat beproefde verstegniese stategieë in die wind geslaan word. Slippers gaan op ’n verfynde manier met emosie in haar gedigte om en dis onder meer danksy die verfrissende humor dat hierdie sprankelende bundel vir lesers ure van genot besorg. Soos die bundeltitel Fotostaatmasjien suggereer, gaan dit hier oor die status van die kopie, van die vertaling, van die weergawe, van die duplikaat wat tegnies selde ’n lewensgetroue nabootsing van die oorspronklike is. Die tegniese versteurings bring verskuiwings in die betekeniswaarde van woorde en artefakte mee. In die geslaagde gedigreeks “Alpha Xerox: Die eerste fotostaatmasjien” word die skepping van die heelal byvoorbeeld in terme van fotostate op ’n geestige manier herverbeel.

Die klankvernuf van die digter word in ’n gedig soos “Ondersoek na die aard van obsessie met spesifieke verwysing na die polkakol-kunswerke van Yayoi Kusama” goed gedemonstreer en die vindingrykheid waarmee Bibi Slippers kategorieë oorskry, lei tot hoogtepunte soos byvoorbeeld die aforistiese gedig “Die resiesfiets en die reier”. Die liefdesgedigte in die bundel belig die tipiese verhoudingsprobleme waarmee geliefdes te kampe het, maar die eietydse tegnologie sorg in sommige gevalle vir die nuwe formate waarin die liefdeskwellinge hulleself aanmeld.

Dit is opwindend om die werk van ’n digter te lees wat nie daarvoor terugdeins om die nut van eksperiment in die poësie na waarde te skat nie. Fotostaatmasjien is boonop visueel treffend uitgegee en die aweregse aansluiting by die popkultuur (byvoorbeeld die musiek van Taylor Swift) lei tot ’n gawe poëtiese eindproduk wat vermoedelik ook by jonger lesers sal aanklank vind.

Voorsitter, ek versoek u om die Eugène Maraisprys aan Bibi Slippers te oorhandig vir haar digbundel Fotostaatmasjien.

Stellenbosch
Junie 2017

Lees die LitNet Akademies-resensie-essay van Fotostaatmasjien deur Jaco Barnard-Naudé.

The post Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir poësie aan Bibi Slippers – commendatio appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: Huberte Rupertprys vir klassieke musiek aan Hanna van Niekerk – commendatio

$
0
0

Wessel Pienaar, Hanna van Niekerk en Dionē Prinsloo
Foto: Naomi Bruwer

Die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek is aan Hanna van Niekerk toegeken.

Huldigingswoord: Izak Grové (gelewer deur Dionē Prinsloo)

Hanna van Niekerk is 'n boorling van Vryburg. Sy sou mettertyd een van die bevoorregte leerlinge van die vokale kunstenaar Sarie Lamprecht se private ateljee in Johannesburg word. As mens in ag neem dat Lamprecht 'n leerling van die legendariese sopraan Betsy de la Porte was, dan is Hanna die artistieke kleindogter van 'n sangeres wat sekerlik as die moeder van solosang in Suid-Afrika was. Latere onderwysers was Hildegard Rössel-Maydan in Wene en Maria Hittorff in Bonn.

Volgens die maatstaf van opera-optredes het Hanna veel tot haar krediet. Haar hoofrolle in operaproduksies soos Madama Butterfly, La Bohème en Nabucco vir die destydse TRUK, en talryke soortgelyke optredes vir ander kunsterade van die tyd, en by die gewilde Roodepoortteater. Sy was ook een van die sangers in die televisiereeks Encore, waarin sy saam met sangers soos Werner Nel, Mimi Coertse en Manuel Escorcio gedramatiseerde opera-arias voorgedra het.

As opera-optredes die droom van die tipiese professionele sanger is, dan verteenwoordig die meer intieme vorm van die kunslied 'n artistieke uitdaging van 'n ander aard, maar ewe rigtingwysend vir 'n loopbaan in die kunstewêreld. Die kunslied, en meer spesifiek die Afrikaanse kunslied, sou mettertyd die middelpunt van haar loopbaan vorm. Haar verowering van die sangersprys in die SAUK Musiekpryskompetisie in 1980 sou lei tot etlike opnames en konsertoptredes in dié genre.

Etlike groter projekte gewy aan die lied sou volg, soos die eerste volledige uitvoerings en opnames met pianis Heinrich van der Mescht van die werk van Afrikaans se eerste volwaardige liedkomponis, Arnold van Wyk, as solis in Hennie Joubert se destydse televisiereeks Aan die Lied. Met haar opnames van buitelandse kunsliedversamelings saam met bariton André Howard en pianis Albie van Schalkwyk in uitvoerings van Wolf se volledige Italienisches Liederbuch, en die werk van Samuel Barber, het sy ook 'n deeglike stempel as uitvoerende radio-kunstenaar gelaat. Sy was 'n stigterslid en vir die laaste 5 jaar ook organiseerder van die Kaapse Liedmakersgilde, wat reeds sedert 1994 gereelde kunslieduitvoerings aanbied.

Benewens praktiese bydraes soos hierdie het me Van Niekerk haar kundigheid ook met sorg oorgedra aan 'n skare van sangleerlinge aan die Universiteit van Potchefstroom (tans Noordwes), die Universiteit van die Vrystaat en sedert 2009 aan die Universiteit van Kaapstad. Haar pionierswerk hier het gelei tot etlike van haar studente as nasionale en internasionale pryswenners.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek aan Hanna van Niekerk te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

 

The post Akademiepryse 2017: Huberte Rupertprys vir klassieke musiek aan Hanna van Niekerk – commendatio appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: Die Proteaprys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs aan Anneke van Heerden – commendatio

$
0
0

Die Proteaprys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs is aan Anneke van Heerden toegeken. Die prys word toegeken vir haar MA-verhandeling met die titel "Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die Suid-Afrikaanse blanke burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog 1968-1989".

 

Huldigingswoord: Wessel Visser

Anneke van Heerden het in 2007 aan die Hoërskool DF Malan met vier onderskeidings, onder andere in Geskiedenis, gematrikuleer en dus reeds vroeg groot akademiese potensiaal as historikus getoon. Aan die Universiteit van Stellenbosch het sy in al drie voorgraadse jare van haar BA-kursus sekere Geskiedenismodules met onderskeiding geslaag. In 2011 slaag sy die Geskiedenishonneurskursus met onderskeiding, en behaal 'n Meestersgraad in Geskiedenis in 2014, eweneens met onderskeiding. Tussen 2011 en 2015 ontvang sy 'n Merietebeurs, 'n NNS-navorsingsbeurs, asook Marlene Silbert-toekenning vir Holocaust en Menseregte-opvoeding. Daarby het sy vinnig gevorder tot Vakhoof vir Sosiale Wetenskappe en Geskiedenis sedert haar aanstelling as leerkrag aan die Hoërskool President in Goodwood in 2015.

Die onderwerp van haar MA-verhandeling was “Die ‘Dankietannies’ en die Suid-Afrikaanse Weermag: Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die siviele samelewing van Suid-Afrika tydens die Grensoorlog, 1968-1996”. Soos die titel dui, was die fokus van haar studie die mobilisering van 'n aspek van die burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog. Sover bekend, is dit een van die eerste historiese studies wat op die siviele sy van die oorlog gekonsentreer het en kan gevolglik as 'n pionier navorsingstudie in hierdie veld beskou word. As 'n lid van 'n generasie wat nie self die periode van die Grensoorlog beleef het nie, het me Van Heerden inderdaad 'n uitstekende taak vermag om die dinamika van mobilisering en betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse burgerlike bevolking by die oorlog te ontleed en te beskryf. Ten spyte van die feit dat die meeste argivale dokumente oor die Suiderkruisfonds verlore geraak het, het me Van Heerden deur goeie navorsing ook daarin geslaag om 'n akademiese narratief oor hierdie grootliks vergete organisasie te skryf en die baanbrekerswerk wat dié fonds ten opsigte van die sosiale en maatskaplike versorging van 'n hele geslag Suid-Afrikaanse soldate verrig het, te boek te stel.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Protea Boekhuisprys en die Generaal Christiaan de Wet-beurs vir 2017 aan Anneke van Heerden te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

The post Akademiepryse 2017: Die Proteaprys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs aan Anneke van Heerden – commendatio appeared first on LitNet.


Akademiepryse 2017: Erepenning vir 'n dokumentêre TV-program in Afrikaans aan die regisseur Richard Finn Gregory – commendatio

$
0
0

Wessel Pienaar, Richard Finn Gregory en Petrus du Preez
Foto: Naomi Bruwer

Die Erepenning vir ’n dokumentêre televisieprogram in Afrikaans is toegeken aan Richard Finn Gregory vir Boere op die aardsdrempel.

Huldigingswoord: Marisa Keuris (gelewer deur Petrus du Preez)

Boere op die aardsdrempel handel oor die afstammelinge van ’n groep Afrikaanssprekende boere wat na die Anglo-Boere-oorlog in 1902  hulle gevestig het in Patagonië, Argentinië. Die dokumentêr fokus hoofsaaklik op twee families waarvan veral die ouer lede steeds Afrikaans magtig is en kan praat. Op eerstevlak is hierdie unieke linguistiese gegewe reeds vir die kyker interessant en verrig die dokumentêr ’n belangrike funksie deur sy dokumentering van hierdie ouer Afrikaans wat op ’n verre kontinent behoue gebly het. Veral vir Afrikaanse taalhistorici is hierdie opnames dus van onskatbare waarde. Boere fassineer egter ook op vele ander vlakke: die besondere leefwyse van hierdie groepie mense word simpatiek uitgebeeld en hoewel die eenvoudige (selfs armoedige omstandighede) van hierdie mense die toeskouer opval, is dit eerder die pretensielose eerlikheid van hierdie groepie persone wat die kyker aangryp en roer.

Mens kom onder die indruk van die groot logistieke reëlings wat hierdie dokumentêr onderlê (die verfilming op twee kontinente met ’n groot groep mense), maar die uiteindelike indruk wat die dokumentêr op mens maak, is die gewoon menslike element daarvan. Die toeskouer word ingetrek in hierdie verhaal en leer karakters ken wat ons aanvanklik jammer kry as gevolg van hulle armoedige omstandighede. Soos wat die ‟verhaalˮ ontvou, raak ons egter bewus van hulle besondere menslikheid en lewensvreugde: ons lag saam vir die grappies, is ontroer wanneer hulle groot droom om Suid-Afrika te besoek bewaarheid word en geniet saam met hulle ’n vreugdevolle weersiens met hulle familie  in Argentinië aan die einde.

Boere op die aardsdrempel is in vele opsigte dus ’n dokumentêr wat verdien om die Erepenning vir Afrikaanse TV-dokumentêre vir 2016 te ontvang: dit vang die hart en siel vas van ’n besondere groep mense –  die Afrikaners in Argentinië!

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Erepenning vir 'n dokumentêre TV-program aan Richard Finn Gregory te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

The post Akademiepryse 2017: Erepenning vir 'n dokumentêre TV-program in Afrikaans aan die regisseur Richard Finn Gregory – commendatio appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: SA Akademieprys vir vertaalde werk aan Daniel Hugo – commendatio

$
0
0

Wessel Pienaar, Daniel Hugo en Thys Human
Foto: Naomi Bruwer

Die SA Akademieprys vir vertaalde werk is toegeken aan Daniel Hugo vir Oorlog en terpentyn.

Huldigingswoord: Thys Human

Boekliefhebbers, letterkundestudente én resensente is Daniel Hugo gróót dank verskuldig vir die onverdrote ywer waarmee hy die afgelope paar jaar die werk van beduidende Nederlandse en Vlaamse skrywers vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak het. Daarom is dit besonder gepas dat Hugo – met inbegrip van sy ander vertaalwerk uit Nederlands – vanaand vereer word vir sy genuanseerde vertaling van Stefan Hertmans se Oorlog en terpentijn; ’n veelbekroonde outofiksionele roman wat wêreldwyd opslae gemaak en toekennings ingepalm het.

Hugo se vertaling laat op ’n besondere wyse reg geskied aan Hertmans se kontrasterende uitbeelding van vernietigende veldslae en aangrypende natuurbeskrywings; die voortdurende vervloeiing van fiksie en niefiksie, hede en verlede; maar bowenal ook aan die afwisseling van die ek-verteller se moderne Nederlandse vertelstem met die ouwêreldse sjarme van die grootvader se meer gedrae, piëtistiese Vlaamse “stem” wat telkens daarin opklink. Op hierdie wyse groei ’n familiegeskiedenis op insiggewende wyse uit tot ’n veel groter (spesifiek Vlaamse) blik op die Eerste Wêreldoorlog; alles in gespierde Afrikaans. As vertaler bly Hugo deurgaans getrou aan Hertmans se taalregister en styl, wat plek-plek nogal barokagtig raak. En, net soos Hertmans, span Hugo bekende woorde op só ’n wyse in dat verrassend nuwe betekenisse ontstaan.

Ek versoek graag die Voorsitter van die Akademie om die prys aan hom te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

The post Akademiepryse 2017: SA Akademieprys vir vertaalde werk aan Daniel Hugo – commendatio appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: Hugenote-vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese navorsing aan Gerhard Geldenhuys

$
0
0

Die Hugenote-vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese navorsing is aan Gerhard Geldenhuys oorhandig.

Huldigingswoord: PA Brink

Professor Gerhard Geldenhuys word vereer vir die besondere rol wat sy genealogiese navorsing gespeel het in die ontrafeling van die molekulêre oorsake van sekere sterk oorgeërfde hartspier- en bewegingsiektes. Kennis van siektedraers se mate van verwantskap het 'n groot rol gespeel om oorsaaklike gene te vind en, waar die geen reeds bekend was, die wisselende grade van die erns van die siektes weens ander invloede te verklaar.

In teenstelling met tradisionele genealogiese navorsingswerk, wat fokus op 'n stamvader se van-verspreiding, is belangstelling hier die siekteveroorsakende geenvariant se stamverspreiding: Nie 'n stamvan met 'n stamboom nie, maar 'n stamgeen met 'n geenboom word opgestel. Familieverbintenisse word gebruik om die siektegeen, die stamgeen, te volg en vrouelyne is ook krities. Dink mooi: Jong Afrikaanssprekendes vandag sal 12 geslagte terug, in die laat 1600’s, 2 048 stamouers hê ‒ meer as die aantal persone van Europese oorsprong aan die Kaap in die laat 1600’s. So, nodeloos om te sê, sommige voorouers sal meer as een keer in jou voorgeslagte voorkom. Kennis moet ook geneem word van gekruiste lyne.

Professor Geldenhuys het gewerk op families met hart- en senuweesiektes wat ondersoek is deur navorsers by die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad. Dit sluit in Lang QT-sindroom, wat neig tot ernstige hartdisritmieë, flouteaanvalle en soms skielike sterftes in jongmense; familiële hartblok, 'n stadige hartslag weens vertraagde geleiding; hipertrofiese kardiomiopatie, 'n neiging tot spontane hartspier-verdikking; en aritmogene regterventrikulêre displasie, 'n vorm van regterhartspierswakte met dikwels ernstige ritmestoornisse en Parkinson se siekte, 'n breinsiekte met trae beweging en bewerasie.

Professor Geldenhuys het in 1998 uitgetree as dosent in toegepaste wiskunde by Maties met 'n uitstekende navorsingsrekord en prestasie in werk oor uraanverrykingskaskades, grafiekteorie, die wiskundige modellering van konflik, en onderrig van toegepaste wiskunde. Sedertdien doen hy genealogiese navorsing met 'n groot publikasie- en voordrag-uitset, en verskeie toekennings.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Hugenote-Vereniging-en-D.F. du Toit-Malherbeprys vir genealogiese navorsing aan Gerhard Geldenhuys te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

The post Akademiepryse 2017: Hugenote-vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese navorsing aan Gerhard Geldenhuys appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: LW Hiemastraprys vir niefiksie aan Carel van der Merwe

$
0
0

Carel van der Merwe, by ontvangs van die Protea Boekhuisprys vir beste gepubliseerde boek in Afrikaans oor geskiedenis of kultuurgeskiedenis, Akademiepryse 2016.
Foto: Naomi Bruwer

 

Die LW Hiemastraprys vir niefiksie is toegeken aan Carel van der Merwe vir Donkerstroom.

Huldigingswoord: Hennie van Coller (gelewer deur Hester Carstens)

Die kategorie waarvoor hierdie prys toegeken word, naamlik niefiksie, skep groot uitdagings omdat fiksie en niefiksie nie klinkklaar onderskeibaar is nie. Gewoonlik word aanvaar dat die eersgenoemde primêr inligting oordra wat op die werklikheid betrekking het en dat fiksie eerder ’n versonne werklikheid daarstel. In ’n era waarin streng grense en onderskeidings uitgewis word, hou so ’n streng onderskeid nie steek nie.

Donker Stroom deur Carel van der Merwe vul die bestaande navorsing oor die enigmatiese Eugène Marais op  voortreflike wyse aan. Leon Rousseau se biografie (Die groot verlange) oor Eugène Marais word allerweë aangeslaan as een van die beste Afrikaanse literêre biografieë. Desondanks bly hy in gebreke om belangrike feite oor Marais se Londense verblyf tydens die Anglo-Boereoorlog na vore te bring, omdat hy van mening was dat sodanige feite nie opspoorbaar was nie. Van der Merwe het deur nougesette ‒ en vernuftige ‒ navorsing daarin geslaag om nie net inligting oor hierdie tydperk in te win nie; hy nuanseer die beeld van Marais as Boere-patriot aansienlik. Marais word gesien as ’n aweregse persoon wat op onverskrokke wyse die korrupsie van staatsamptenare (ongeag status of rang) aan die kaak gestel het en byvoorbeeld gebots het met die destydse staatspresident, Paul Kruger. Kruger se bevoorregting van gesins- en familielede herinner onwillekeurig aan eietydse nepotisme en bedrog. Van der Merwe wys op Marais se simpatie vir die Engelse taal (en owerheid) en vriendskappe met verskeie prominente persone wat hoofrolspelers in die Engelse oorlogsmasjien tydens die ABO was, soos Milner en Fitzpatrick. Van der Merwe het ’n oog vir historiese relativisme en hy beskuldig Marais daarom nooit direk van hoogverraad nie. Eerder laat hy die oordeel oor aan eietydse lesers. Dit is voortreflike – en nuwe ‒ navorsing en knap geskryf. Al kritiek sou seker wees dat die skrywer (soos bykans alle skrywers van biografiese tekste) na aan hul onderwerp staan en sy dade vergoeilik óf probeer verduidelik.

Van der Merwe se boek is al herhaaldelik bekroon (ook met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Stalsprys vir geskiedskrywing) en dit op sigself getuig van die gehalte daarvan. Hierdie werk is ’n voortreflike stuk historiese navorsing, maar ook vlot en toeganklik geskryf. Dit verdien beslis ook die prys vir niefiksie.

Meneer, die voorsitter, ek vra u om nou die LW Hiemstraprys vir niefiksie toe te ken aan Carel van der Merwe vir Donker Stroom.

Stellenbosch
21 Junie 2017

The post Akademiepryse 2017: LW Hiemastraprys vir niefiksie aan Carel van der Merwe appeared first on LitNet.

Akademiepryse 2017: Die Elizabeth C Steijnmedalje aan Jannie van der Westhuizen

$
0
0

Jannie van der Westhuizen
Foto: Naomi Bruwer

Hierdie medalje is ingestel om ’n onderwyser of onderwyseres te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne, sowel as buite die klaskamer.  Dit is vernoem na Elizabeth C Steijn, wat vir baie jare die hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria was.

Die medalje word toegeken aan Jannie van der Westhuizen, voormalige rektor van die Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch.

Huldigingswoord: I Eloff

Jannie van der Westhuizen het die Suid-Afrikaanse onderwysgemeenskap as ’n leier vir meer as 37 jaar – waarvan 25 jare as skoolhoof was, gedien. Hy was 13 jaar lank die Hoof van Boland Landbouskool, en daarna vir 10 jaar die Rektor van Paul Roos Gimnasium, waar hy in 2017 uitgetree het. Die kombinasie van sy strategiese en praktiese denke, tesame met sy unieke kundigheid rondom onderwys-kompleksiteite in Suid-Afrika is hoog aangeslaan in die skole-sektor, sowel as in akademiese kringe. Hy het vir ses jaar in die Raad van die Universiteit van Stellenbosch gedien en was ook lid van die Wes-Kaapse Onderwysraad. Jannie van der Westhuizen was lid van die Nasionale Uitvoerende Raad van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie. Sy skole-handboek in Ekonomie word wyd voorgeskryf en hy dien ook as eksaminator en moderator vir Ekonomie aan die Kaaplandse Onderwysdepartement en die latere WKOD.

Jannie van der Westhuizen se bestuurstyl laat uitnemendheid en optimale vorming van die jeug seëvier.  Duisende oud-leerlinge beklee vandag leiersposisies in verskeie sektore van die nasionale en internasionale samelewing as gevolg van die wêreldklas skool-omgewings wat deur hom geskep is.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Elizabeth C Steijnmedalje aan Jannie van der Westhuizen te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

The post Akademiepryse 2017: Die Elizabeth C Steijnmedalje aan Jannie van der Westhuizen appeared first on LitNet.

Viewing all 1430 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>