Quantcast
Channel: Portale - LitNet
Viewing all 1429 articles
Browse latest View live

Toekenning van die Jan H Maraisprys 2016

$
0
0

Die eerste Jan H Maraisprys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word toegeken aan HB (Hermann) Giliomee. Die prys ter waarde van R500 000 sal op 30 Mei,  wyle Jannie Marais se sterfdatum, tydens ʼn funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word.

Hermann Giliomee geniet internasionale aansien as historikus en kenner van die Suid-Afrikaanse politiek. Sy wye kennis en belangstellings het baie gedoen om by Suid-Afrikaners – en in die besonder by die Afrikaanssprekende gemeenskap – ʼn kritiese ingesteldheid te kweek. Hy het ook  ʼn uiters belangrike rol in die bevordering van ʼn verantwoordelike diskoers oor lewensbelangrike kwessies in ons land gespeel, sowel onder apartheid as in die huidige bestel.

Sy werke toon die relevansie van die verlede vir ons hede en die moontlikhede vir ʼn rasionele omgang met daardie verlede. Sy lewenslange verbintenis tot onafhanklike denke en sy uitnemende akademiese uitsette in Afrikaans maak van hom ʼn waardige ontvanger van hierdie eerste Jan H Marais-toekenning.

Hy is ʼn uiters vrugbare navorser en skrywer, maar sy groot werk was ongetwyfeld Die Afrikaners:  ʼn Biografie in 2003.

Die Jan H Maraisprys is in 2015 ingestel deur drie van die belangrikste instansies wat hulle bestaan te danke het aan die erflating van Johannes Henoch Marais (1850-1915), vooraanstaande Stellenbosser en voormalige inwoner van Kimberley waar hy sy welvaart opgebou het. Hulle is Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers (Media 24) en die Universiteit Stellenbosch.

Die prys word jaarliks toegeken as erkenning vir  ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies  op hoё vlak  en van hoё gehalte in Afrikaans.

Die keurkomitee het bestaan uit Andreas van Wyk, oud-rektor van die Universiteit Stellenbosch, as voorsitter; Christoff Heyns, regsgeleerde van Pretoria; Piet Steyn, voormalige navorsingsdirekteur van die Universiteit Stellenbosch; Arnold van Zyl, universiteitsrektor van Stuttgart, Duitsland; en Johan van Zyl, oud-rektor van Universiteit Pretoria en voormalige hoof van Sanlam. Debra Meyer, hoogleraar in biochemie aan  die Universiteit van Johannesburg, se moeder is verlede week oorlede en sy kon die vergadering dus nie bywoon nie.

Die prys van R500 000 sal weer in 2017 toegeken word. Die aanwending van die prysgeld is in die hande van die ontvanger.

The post Toekenning van die Jan H Maraisprys 2016 appeared first on LitNet.


PEN Afrikaans Nuusbrief: April 2016

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans

Verveling is ons duidelik nie hier aan die suidpunt van Afrika beskore nie, maar in Maart was daar ook verskeie ligpunte.

Bekronings deur die SA Akademie en kortlyste vir die UJ-pryse

Hartlik geluk aan ons skrywerslede wat pas deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon is. Die volgende skrywers en hul boeke is vereer:

Die Hertzogprys vir Prosa is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan Willem Anker vir Buys: 'n Grensroman.

Die Deleen Bekkerprys vir Beste Draaiboek van 'n TV-drama in Afrikaans kan jaarliks toegeken word en roteer soos volg:

  • Dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans.
  • Draaiboek vir rolprent in Afrikaans.
  • TV-draaiboek vir Afrikaanse drama, hetsy 'n enkel drama of een episode uit 'n reeks.

Die prys word vanjaar toegeken aan Paul C. Venter vir Vlug na Egipte (episode 3) en Terug na Egipte (episode 6).

Die Eugène Marais-prys word toegeken vir 'n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan 'n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Stephanus Muller vir Nagmusiek.

Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur word toegeken vir die bevordering van hoogstaande Afrikaanse jeugliteratuur en moet van goeie letterkundige en/of opvoedkundige gehalte getuig.

Die prys word toegeken aan Marita van der Vyver vir Swemlesse vir 'n meermin.

Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur word toegeken vir enige literêre werk in die kategorie kinderliteratuur, d.w.s. die groep lesers van sewe tot twaalf. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Kobus Geldenhuys vir Hoekom die walvisse gekom het.

Die Protea Boekhuisprys vir Beste Gepubliseerde Werk in Afrikaans kan jaarliks toegeken word en roteer soos volg:

  • Beste M-verhandeling in Afrikaans;
  • Beste D-proefskrif in Afrikaans;
  • Beste gepubliseerde werk in Afrikaans.

Die prys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Donker stroom. Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog.

Klik hier om ’n volledige lys van al die Akademie-bekronings te lees.

Vir onderhoude met die bekroonde outeurs en resensies van hul boeke, kan jy op hierdie skakel klik.

Baie geluk ook aan al die skrywers wat vanjaar die kortlyste vir die gesogte UJ-pryse gehaal het.

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans (met ’n prysgeld van R30 000) en die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R75 000).

Onder die debutante is die volgende titels deur die beoordelaars vir die kortlys  (alfabeties volgens outeur) uitgesonder:
Lien Botha se Wonderboom
Johan Fourie se Struisvoël
Roela Hattingh se Kamee

Die titels wat opgeneem is in die kortlys vir die 2016 UJ-prys vir die beste Afrikaanse kreatiewe werk, is (alfabeties volgens outeur):
Vlam in die sneeu -  Francis Galloway (red)
Soos familie - Ena Jansen
Brandwaterkom - Alexander Strachan
Donker Stroom - Carel van der Merwe
Vlakwater - Ingrid Winterbach

Klik hier vir meer volledige inligting oor die skrywers asook skakels na onderhoude en resensies.

Samekoms van PAN (PEN African Network) en die TLRC (PEN International Committee for Translation and Linguistic Rights) – 6 tot 11 Maart 2016, WITS, Johannbesburg

In Maart het Bettina Wyngaard en Danie Marais PEN Afrikaans verteenwoordig by ’n baie interessante en geskiedkundige konferensie in Johannesburg.

Bettina was deel van die PAN-vergadering (6-9 Maart) waar hierdie netwerk, wat reeds sedert 2001 bestaan, vir die eerste keer ’n amptelike grondwet aanvaar het.

Danie het Bettina die middag van die 9de Maart afgelos en die TRLC-konferensie op 10 en 11 Maart bygewoon. Dit was die eerste keer dat die TRLC op Afrika-bodem bymekaar gekom het sedert dié spesiale PEN International-komitee se stigting in Stockholm in 1978.

Bettina oor die PAN-konferensie

Vanaf 6 Maart tot en met 9 Maart 2016 het al die PEN-sentra in Afrika, met geringe uitsonderings (Marokko en Ethiopië kon nie daar wees nie) in Johannesburg vergader as deel van die PEN International-projek om kriminele laster iets van die verlede te maak.

Beslis ’n hoogtepunt was om die PEN-sentrums van Mali, Mauritanië en Zimbabwe te verwelkom. Zimbabwe is gerekonstitueer, terwyl Mali en Mauritanië splinternuwe sentra is wat verlede jaar by die 81ste PEN-kongres in Québec amptelik erken en as PEN-lede aanvaar is.

Een van die doelstellings van die kongres was om dié netwerk, (in 2001 PAN – PEN Afrika Netwerk gedoop) te formaliseer deur die opstel en aanvaarding van ’n grondwet, en die verkiesing van die eerste bestuur. (Klik hier vir meer inligting oor PEN se regionale skrywersnetwerke.)

Hoe gaan die spreuk? “All the best laid plans of mice and men ...” Die grondwet is aanvaar, ná aansienlike kompromieë aangegaan is, maar ons het eenvoudig nie tyd gehad om by die verkiesing uit te kom nie. Daar is ooreengekom dat die verkiesing sal oorstaan tot by die volgende PEN International-kongres in Ourense, Spanje, later vanjaar. Daar word egter allerweë gehoop dat hierdie samekoms die grondslag gelê het vir ’n meer gekoördineerde PAN wat hom vir groter samewerking tussen die skrywersgemeenskappe van Afrika sal beywer.

Geen PEN-kongres is volledig sonder dat daar aandag geskenk word aan skrywers wat weens vryheid van spraak-kwessies vervolg word nie. Ons het dus die geleentheid gehad om te hoor van skrywers in Soedan en die uitgeweke skrywers van Eritrea. Elke keer dat ek opnuut moedeloos word oor ons situasie in Suid-Afrika, word ek herinner dat daar ander is wat soveel erger moet deurmaak.

Rafael Marques de Morais van Angola het ook sy verhaal met ons gedeel. Dit was veral ’n skok om te besef dat hy waarskynlik by sy terugkeer na Angola arresteer sou word, en dat ’n lasbrief vir sy arres alreeds uitgereik sou wees.

Op 8 Maart, Internasionale Vrouedag, het die vroue elkeen ’n gedig van ʼn vroulike digter uit hul eie land voorgedra. Daar was soveel gedigte wat ek sou wou deel met my kollegas van ander lande. Die Antjie Krog-gedig waarop ek uiteindelik besluit het (en in Afrikaans voorgedra het) het heelwat opgewondenheid veroorsaak!

Ons was bevoorreg om met sprekers van uitstaande gehalte oor die kwessie van kriminele laster in gesprek te tree. Krish Naidoo, hoof van die ANC se regspan, en Nobuntu Mbelle, regskenner met gespesialiseerde kennis van die AU-hof, het ons ’n oorsig van die wetgewing uit Suid-Afrikaanse sowel as die breër Afrika-perspektief gegee. Verteenwoordigers van die PEN-sentra in Sierra Leone, Uganda, Nigerië en Senegal het in aansluiting daarby hulle ervarings van die wetgewing se prakties toepassing met die groep gedeel.

Dru Menaker van PEN Amerika het kom praat oor etiese joernalistiek en Mark Heywood, voorheen van die TAC en nou die NRO Section 27, het vir ons waardevolle wenke gegee oor hoe om ’n suksesvolle bewusmakingsveldtog te loods. Heywood het ook op 9 Maart ’n prikkelende lesing oor die rol van die skrywer binne ’n demokrasie gelewer wat hier gelees kan word.

Die grootste geskenk wat ek elke keer van so ’n byeenkoms wegneem, is die wete dat ons nie alleen is nie. Ons kry ’n vars perspektief op ons plek in die groter PEN-gemeenskap, en die wete dat ons aanvaar word as volwaardige, waardevolle, gewaardeerde lede van ʼn globale skrywersgemeenskap. Wat ook al in ons klein hoekie van die aarde aangaan, ons het vriende dwarsoor die wêreld wat saam met ons bly is in ons oorwinnings en saam huil wanneer ons teleurgesteld is.

Ons is nie alleen nie.

[Voetnoot van Danie: Wat Bettina as gevolg van beskeidenheid verswyg het, is dat die samesprekings tussen die PEN-sentra byna ontspoor het as gevolg van ’n misverstand tussen die anglofone en frankofone sentrums. Laasgenoemde groep is reeds deel van ’n ander skrywersfederasie vir frankofone Afrika-lande wat hulle eers wou ken oor hul moontlike verdere rol in PAN. Die samesprekings het egter op ’n positiewe noot geëindig – nie net met die aanvaarding van ’n grondwet nie, maar ook met die vooruitsig op beter en nouer samewerking en solidariteit in die toekoms. Bettina het as bemiddelaar, wat deur albei blokke aanvaar is, ’n sleutelrol in hierdie positiewe uitkoms gespeel. Soveel so dat Carles Torner, die uitvoerende direkteur van PEN International, dit onomwonde teenoor my ná haar vertrek oor ’n koppie koffie gestel het: “Bettina was amazing!”]

Die Franse, oftewel frankofone haan (Kissima Diagana van PEN Mauritanië) tussen die henne - van links: Veronica Koryo Boatey (PEN Ghana), Bettina Wyngaard en Hala el Badry (PEN Egipte)

Die reën kon nie die gees by die PAN-samekoms in Johannesburg demp nie.

 
Danie oor die TRLC-konferensie: “In Dialogue with the World”

Carles Torner, die uitvoerende direkteur van PEN International, het die samekoms van die TRLC geopen deur ’n brief aan dié vergadering van die  Keniaanse literêre reus Ngũgĩ wa Thiong’o voor te lees. In hierdie brief het dié skrywer sy solidariteit met die TRLC en dié komitee se belangrike werk verklaar. Hy het daarop gewys dat die Universele Verklaring van Taalregte waarin die TRLC ’n leidende rol gespeel het en wat amptelik in 1996 deur UNESCO aanvaar, weliswaar ’n baie belangrike dokument is, maar bygevoeg dat vertaling noodsaaklik ter verwesenliking van die visie in daardie verklaring is. “Vertaling,” het Wa Thiong’o beklemtoon, “is die taal der tale.” (Klik hier om Ngũgĩ wa Thiong’o se volledige brief te lees en hier vir agtergrond oor die stigting en werksaamhede van PEN se TRLC.)
 
Wa Thiong’o se woorde was ’n ideale aanknopingspunt vir ’n verskeidenheid sessies wat in die volgende twee dae vir lewendige gesprek gesorg het:

  • Carole Bloch (die direkteur van PRAESA en opvolger van Neville Alexander) het ’n kragtige pleidooi vir moedertaalonderrig gelewer. Bloch, wat haar onder meer beywer vir die ontwikkeling van kleuter- en kinderboeke van gehalte in al elf landstale, het beklemtoon dat kinders wat nie in hul moedertaalonderring skoolgaan nie ’n taalskok ervaar wat hul skoolloopbaan en intellektuele ontwikkeling ernstig knou: In plaas daarvan dat hierdie kinders die taal wat hulle reeds aangeleer het, gebruik om die wêreld te verken en kennis te ontsluit, moet hulle nou spartel om die taal aan te leer waarmee hulle dan eers verder kan leer. 
  • PEN Afrikaans het saam met PEN Malawi, Zambië. Sierra Leone en Ghana die geleentheid gekry om te praat oor projekte waarmee die kreatiewe skryfwerk en verhale uit Afrika deur hul onderskeie sentrums bevorder word. Ek het namens Bettina die Trippel 7-projke voorgestel. (Klik hier vir meer besonderhede oor dié projek wat vandeesmaand afskop.)
  • Simona Škrabec, die voorsitter van die TLRC en lid van PEN Katallaans is ’n bekroonde letterkundige en Sloveens-Katallaanse vertaler wat ook vlot in Serbies, Spaans en Duits is. Sy het die bevindinge van ’n navorsingsprojek gedeel wat PEN International onder haar leiding met die ondersteuning van UNESCO deurgevoer het – Development of the Creative Industry in the Minority Languages of Kenya, Haiti, Serbia and Nigeria. Onder die aanbevelings wat uit die navorsing afgelei word, tel die volgende drie wat ook vir die situasie van Afrikaans relevant is: 1) Die gebruik van minderheidstale as onderrigtale moet op alle vlakke van onderwys bevorder word. 2) Vertaling na en van minderheidstale is noodsaaklik. 3) Internasionale uitruilmoontlikhede is baie belangrik vir minderheidstale om ook ‘buite’ die betrokke land, streek of taalgemeenskap gehoor te word.
  • Louis Jolicoeur van PEN Québec het die ontstaansgeskiedenis en belang verduidelik van die Québec-verklaring oor Literêre Vertaling en Vertalings wat verlede jaar by die 81ste PEN-kongres formeel aanvaar is. (Dié verklaring en ’n kort samevatting van die konteks waarbinne dit onderhandel is, kan hier gelees word. My Afrikaanse vertaling van die verklaring is hier te vinde.)
  • Aicha Diarra van PEN Mali het vertel watter belangrike rol vertaling en letterkunde in die bevordering van dialoog, begrip en ’n nuwe samehorigheid in post-konflik Mali speel.
  • Desalle Berekhet Abraham van PEN Eritrea (’n sentrum wat genoop is om in ballingskap te funksioneer) het vir ’n kollektiewe knop in die keel gesorg met sy verduideliking van die kardinale rol wat vertalers speel om onderdrukte en stilgemaakte stemme in die buitewêreld buite diktature en polisiestate hoorbaar te maak. “What can you do if you don’t even have the freedom to cry after you were beaten?” het Abraham, onder meer, stadig met ’n swaar aksent gevra. Later het hy bygevoeg: “In Eritrea there is no opposition, no room to fight – there is only room to die. My father and his brothers were freedom fighters. So, they always had guns, and I was the first son born. So, when I came out they shoot bullets through the roof of the hut. Probably the first sound I heard, was a gun shot.” Toe hy later probeer verduidelik het wat die solidariteit van en die gesprek met die internasionale PEN-skrywersfamilie vir hom en ander uitgewekenes beteken, het nie net sy trane vlak gesit nie.
  • ’n Hoogtepunt van die samekoms was 'n gesprek in die Orbit Jazz Club tussen Simona Škrabec en die Suid-Afrikaanse hofdigter Keorapetse Kgositsile, wat ook die vol klub op ’n voorlesing van nuwe, ongepubliseerde werk trakteer het.

Afgevaardigdes van PAN en die TRLC op 11 Maart 2016, die laaste dag van die samekoms in Johannesburg

Danie ontmoet die Suid-Afrikaanse hofdigter, Keorapetse Kgositsile, in die Orbit Jazz Club in Braamfontein ná Kgositsile se voorlesing en gesprek met Simona Škrabec.

Dit was motiverend om deur middel van hierdie aanbiedings en die daarmee gepaardgaande gesprekke opnuut te besef verskeie taalgemeenskappe wêreldwyd worstel met dieselfde vraagstukke as Afrikaanssprekendes. Onder die deelnemers aan hierdie samekoms was verteenwoordigers van meer as 20 lande en tale, maar oor die waarde van moedertaalonderrig en die geleentheid tot kreatiewe skryfwerk en publikasie in daardie tale was daar algehele konsensus.
 
Kultuur en taal is nasionale bates en instrumente van bemagtiging, soos Škrabec beklemtoon in die aanbevelings van haar navorsing oor die bevordering van die kreatiewe bedrywe in minderheidstale.
 
Soms raak ek bitter moeg vir die taaldebat, maar ná hierdie samekoms in Johannesburg is ek opnuut oortuig dat ’n eie letterkunde en moedertaalonderrig nie net luukses is nie – dis die sleutels tot die kosmos en ’n dieper begrip van die self en die ander.

Die konsep vir ’n nuwe taalbeleid aan die Universiteit  Stellenbosch

Die US het 'n konsepweergawe van 'n nuwe taalbeleid openbaar gemaak. Belanghebbendes en alle belangstellendes kan tot 22 April 2016 kommentaar en insette lewer. 

Ons moedig ons lede aan om hulle van die hersieningsproses te vergewis en deel te neem aan hierdie belangrike gesprek rondom die toekoms van Afrikaans aan die US. PEN Afrikaans se bestuur hoor graag hoe jy voel.

Klik hier vir besonderhede en/of om kommentaar te lewer op die konsepweergawe.

Feestelike vooruitsigte vir April en Mei 

Bettina Wyngaard, ons ondervoorsitter, vertrek vandeesweek na die AKA –  die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam. Ons wens haar en al die ander deelnemers en besoekers 'n fees toe. Belangstellendes kan hier klik vir 'n lusmaker-video en die AKA-feesprogram.

Bettina gaan nie veel tyd kry om uit te rus na haar draai in die Lae Lande nie, want op 17 April vertrek sy en ses ander woordkunstenaars na Kimberley vir die Trippel 7-projek waarin sewe skrywers, sewe dorpe in die Noord-Kaap oor sewe dae gaan besoek op soek na Afrikaanse vertelkuns wat nog nooit buite daardie omgewing gehoor is nie.

Ons wens vir Bettina, Frazier Barry, Anastasia de Vries, Diana Ferrus, Eldridge Jason, Anzil Kulsen en Daniel Denver Swartz 'n voorspoedige en fassinerende storie-reis toe. Mag julle baie diamante optel.

Goeie nuus vir poësieliefhebbers is dat die Spier Digtersfees weer vanjaar vanaf 7 Mei net buite Stellenbosch plaasvind:

Klik hier vir meer inligting oor die opwindende program en die deelnemende digters.

Nuwe Afrikaanse boeke in April 2016

Laastens, baie geluk en alle sukses aan ons lede wat in April nuwe boeke die lig laat sien. Jy kan hier 'n lys aflaai van al die nuwe Afrikaanse publikasies wat vandeesmaand verskyn. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: April 2016 appeared first on LitNet.

Ahooi, Noord-Kaap en pasop, Afrikaans – Trippel-7 is op pad

$
0
0

 

trippel650

Het jy ’n eg Noord-Kaapse storie wat die wêreld moet hoor of ’n eie verhaal wat eenvoudig gedeel moet word?

Dan moet jy nie hierdie opwindende geleentheid verby laat gaan nie, want Trippel-7 kom na die Noord-Kaap toe.

Wie en wat is Trippel-7?

Trippel-7 is ’n projek van PEN Afrikaans onder leiding van die bekroonde skrywer Bettina Wyngaard. Sy en ses ander woordkunstenaars gaan oor sewe dae ses werkswinkels aanbied en by sewe Noord-Kaapse dorpe aandoen op soek na stories wat in ’n boek hoort wat in baie huise, biblioteke en harte ’n tuiste moet vind.

As jy nog nie voorheen geskryf of iets gepubliseer het nie, is dit geen probleem nie. Inteendeel, dié sewe woordenaars is juis op soek na daardie verhale wat slegs om vure en etenstafels gehoor word, maar eintlik ’n groter gehoor verdien.

Kom deel dus jou stories met Bettina Wyngaard, die liedjieskrywer van Tribal Echo – Frazer Barry, die skrywer van Gerook – Eldridge Jason, die rymkletser van Rimestein – Daniel Swartz, die skrywer, joernalis en dosent Anastasia de Vries, die internasionaal bekende digter Diana Ferrus en die baie gewilde jeugboekskrywer Anzil Kulsen.

Hierdie sewe gaan met oop ore en storie-raad gereed staan met gratis werkswinkels in die volgende plekke op die volgende tye:

Griekwastad 18 April om 9:00

Groblershoop 19 April om 9:00

Upington20 April om 9:00

Kakamas21 April om 9:00

Pofadder22 April om 9:00

Okiep 23 April om 9:00

Belangstellendes kan 'n e-pos stuur aan Anzil Kulsen by anzilk@atkv.org.za of haar kontak op 083 704 0221. (Los asseblief 'n boodskap indien sy nie beskikbaar is nie.)

 

 

 

 

 

The post Ahooi, Noord-Kaap en pasop, Afrikaans – Trippel-7 is op pad appeared first on LitNet.

Foto's: WOORDtroFEES 2016

$
0
0

Die wenners van vanjaar se WOORDtroFEES is Maandag 18 April tydens 'n geleentheid in die Stellenbosch Stadsaal aangekondig. Die WOORDtroFEES, geborg deur die ATKV, gee erkenning aan die uitblinkers van 2016 se US Woordfees.

_MG_3675

Die WOORDtroFEES staan gereed om toegeken te word.

_MG_3686

Die akteurs Marlo Minnaar en Esther von Waltsleben het as seremoniemeesters opgetree.

_MG_3690

Fiona van Kerwel verwelkom die gaste.

_MG_3693

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep

_MG_3699

Antonia du Toit van Rietenbosch Primêr, Cloetesville, is bekroon as WOW Opvoeder van die Jaar.

_MG_3714

Strand Sekondêr is aangewys as die WOW Skool van die Jaar. Mnr Philips het die prys in ontvangs geneem.

_MG_3730

Ju-Ju Domingo en  Lucas Heinen is met die Deurbraak-trofee vir jong opkomende talent vir The Banquet: The Room of Dreams bekroon.

_MG_3739

Praat van die duiwel is bekroon met die trofee vir Woordkuns. Johan Nel het in sy bedankingswoord gesê daar is drie persone vir wie hy eerstens wil dankie sê: "Nita, Nita en Nita."

_MG_3738

Dorothea van Zyl en Juanita Swanepoel

_MG_3747

Die trofee vir hoogste prestasie in visuele kuns gaan vanjaar aan Lien Botha vir Wonderboom. Werner du Toit van FNB het die prys oorhandig.

_MG_3773

Die Young Caballeros van Kaapstad

_MG_3788

Die trofee vir Klassieke Musiek, Vokaal is toegeken aan die Stellenbosch Universiteitskoor olv André van der Merwe.

_MG_3794

Die produksie Kô, lat ons sing! Carel Rootman van Sanlam het die prys aan Adriaan Brand oorhandig.

_MG_3804

Yvonne Chaka Chaka was by die WOORDtroFEES om op te tree, en was heeltemal verbaas om die trofee vir beste solo kunstenaar te ontvang. Carel Rootman van Sanlam het die prys oorhandig.

_MG_3817

Yvonne Chaka Chaka

Yvonne Chaka Chaka het die gaste in vervoering gehad met "Kana Uchema", 'n Shona-liedjie uit Zimbabwe.

_MG_3824

Woordfees-direkteur Saartjie Botha het die prys vir die Woordfees Helde oorhandig. Hierdie prys word bepaal deur die Woordfees-personeel en word toegeken aan mense wat 'n groot bydrae tot die sukses van die fees gelewer het.

_MG_3829

Die Fourie-broers, David en Henk, is vanjaar as die helde bekroon.

_MG_3840

Roelof Storm, die vervaardiger van A Doll’s House, het die trofee vir Beste Byspeler namens Rob van Vuuren in ontvangs geneem.

_MG_3843

Andrew Buckland het die trofee gewen vir Beste Speler vir sy rol in Tobacco and the Harmful Effects Thereof.  Ilzebet Oosthuizen het dit namens hom in ontvangs geneem. Azelia Morkel van Die Burger het dit oorhandig.

_MG_3855

Christiaan Olwagen is as Beste Regisseur vir A Doll’s House bekroon. A Doll’s House is ook vir Beste Produksie bekroon.

_MG_3857

Anet Vosloo en Christiaan Olwagen

_MG_3875

Die WOORDtroFEES vir Boeke word bepaal deur die boekverkope in die AKTV-boekwinkel tydens die Woordfees. Die topverkoper in die Leefstyl-kategorie was Kook saam Kaaps deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. Die prys is deur Japie Gouws van die ATKV oorhandig.

_MG_3874

Koelsoem Kamalie

_MG_3881

Flori Schrikker

_MG_3891

Ronelda Kamfer het die trofee vir die mees gewilde digbundel vir Hammie ontvang. Nico Koopman van die US het die trofee oorhandig.

_MG_3895

Die unieke Woordfees-kortverhaalbundel, Bly, was die topverkoper in die Prosa-kategorie. Suzette Kotzé-Myburgh het die prys in ontvangs geneem en het Madri Victor vir haar inisiatief vir die bundel geloof. Volgens Kotzé bied die bundel 'n uitstekende oorsig van waar die Afrikaanse kortverhaalkuns op hierdie stadium staan.

_MG_3903

Marlo en Esther neem 'n onsie.

_MG_3905

Woordfees-projekbestuurder Jana Hattingh

Klik hier vir 'n volledige lys van die WOORDtroFEES.

Lees ook: US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps wen 'n WOORDtroFEE

The post Foto's: WOORDtroFEES 2016 appeared first on LitNet.

Terugvoer op Konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch

$
0
0

http://www.akademie.co.za/

Die Konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch verskyn hier.

Inleiding

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se hoofdoelstelling is die bevordering van die gehalte van wetenskapsbeoefening in Suid-Afrika deur middel van Afrikaans. Daarom is die terugvoer veral gefokus op die wyse waarop hierdie voorgestelde Taalbeleid die hoë funksies van Afrikaans, naamlik dié van akademiese, tegniese, onderrig- en wetenskapstaal sal bevorder. Daarnaas sal daar ook aandag gegee word aan of die Taalbeleid werklik meertaligheid sonder uitsluiting bevorder. Oral waar daar kommentaar gelewer word op die voorkeur- en verstekwaarde wat aan Engels verleen word, word daar geïmpliseer dat daar van meertaligheid nie veel sprake is nie. Oor die algemeen lyk dit asof isiXhosa heeltemal afgeskeep word.

Daar moet ook melding gemaak word van die swak Afrikaans waarin die Konseptaalbeleid aan die algemene publiek beskikbaar gestel is: Dit kom voor asof dit 'n afgejaagde vertaalpoging was en ongelukkig moes ons dikwels na die Engelse teks (kennelik die bronteks) verwys om meer helderheid te kry oor wat presies bedoel word. Reeds hier kry die Afrikaanssprekende die idee dat hulle afgeskeep word en dat die Afrikaanse teks minderwaardig hanteer is.

Vervolgens sal daar op spesifieke dele van die Taalbeleid gefokus word.

Die kern van die Beleid

Volgens die Beleid verbind die US "onsself tot die bevordering van Afrikaans, Engels en isiXhosa op voorgraadse vlak". Dit blyk ongelukkig nêrens uit die res van die dokument nie, deurdat daar telkens voorbehoude ingebou word bv "waar dit pedagogies verantwoordbaar is"; "waar die fakulteit se personeel die taalkundige vaardighede het om dit te kan doen"; "Dit sal afhanklik wees van die vermoëns van die dosente en onderrigassistent"; ensovoorts. Dit lyk dus asof Afrikaans en isiXhosa se gebruik aan die noodlot oorgelaat word. Ten opsigte van isiXhosa word daar nêrens in die dokument enige vaste onderneming gegee nie. Indien meertaligheid die US se erns is, sal hulle sorg dra daarvoor dat al drie tale op gelyke basis hanteer word en dat dit nie net lippediens is nie. Dit lyk asof die res van die Taalbeleid hierdie kern weerspreek en die positiewe toegevoegde waarde van meertaligheid ondermyn word.

Die SAAWK stel dus voor dat al hierdie voorbehoude geskrap word en dat daar spesifieke maatreëls gelys word om meertaligheid te laat slaag: vertaal- en tolkdiens, aanwending van ITK, aanstel van Afrikaanse en isiXhosa assistente, opstel van vakterminologiese woordeboeke, beskikbaarstelling van spesiale fondse vir Taalbevordering, ensovoorts.

Die meertalige konteks

P2: Die US skep geleenthede vir die bevordering van institusionele en individuele meertaligheid:

Dis alles goed en wel, maar die beleid kan meer spesifiek wees om meer effek aan meertaligheid te gee. Geen melding word gemaak van HOE hierdie geleenthede geskep gaan word nie. Deur proaktiewe maatreëls te noem, sal die voorbehoude nie telkens hoef te klink nie.

P3: Die indeling van die drie paragrawe volgens taal: Engels, Afrikaans en isiXhosa:

Geen van die inligting hier word op feite gegrond nie.

Engels is die enigste taal wat hier in die konteks van onderrigtaal beskryf word wanneer daar gesê word dit is die "belangrikste onderrigtaal op skoolvlak".

Afrikaans word beskryf as "een van die amptelike Suid-Afrikaanse tale wat wyd in die Wes-Kaap beoefen word". Afrikaans is verreweg die belangrikste taal in die Wes-Kaap en is net so belangrik as Engels as onderrigtaal op skoolvlak. Dit is juis om hierdie rede dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US voortgesit moet word. Daar word verder geskryf dat die US "verbind bly tot die handhawing van die status van Afrikaans …".  Wat is die huidige status van Afrikaans wat gehandhaaf moet word? Hier moet eerder onderneem word dat Afrikaans op geen manier as onderrig- en institusionele taal (verder) afgeskaal sal word nie. Hierdie dokument is egter deurspek van vaaghede en wollerige stellings en dit kom voor asof spesifieke onder­nemings doelbewus vermy word.

P4: Beleidsbeginsels 6(h):

"By die implementering van die Taalbeleid sal daar rekening met die beskikbaarheid van personeel en hulpbronne gehou word."

Afgesien daarvan dat dit weer eens 'n voorbeeld van die talle voorbehoude is, hoort so 'n stelling nie in enige beleid nie. Indien meertaligheid as uitgangspunt in die beleid ingeskryf word, moet daar gesorg word vir die nodige personeel en hulpbronne indien 'n oudit sou aantoon daar is nie voldoende personeel en hulpbronne nie.

P4 en 5: Beleidsbepalings:

Die SAAWK wil dit baie sterk teen van hierdie bepalings uitspreek.

Eerstens word daar by 7.1(a) gesê "die US is verbind tot die doelgerigte steun van die akademiese toepassing van al twee tale in die volle leerervaring van studente …".  Afgesien daarvan dat isiXhosa nou uit die prentjie verdwyn het, word daar nie voorsiening gemaak vir Afrikaans naas Engels in die volle leerervaring nie.

By 7.1(b)(i) word daar hoofsaaklik na voorlesings verwys waar die P-opsie klink en die studente volgens taalgebruik in twee groepe verdeel word. Daarteenoor verwys die D-opsie, (7.1(b)(ii)) oftewel die meertaligheid wat dubbelmediumonderrig veronderstel, eerder na aanvullende gefasiliteerde leergeleenthede. Indien voorlesings teenoor voorlesings gestel word, blyk dit dat daar naas die parallelmediumopsie veel eerder 'n E-opsie (eentalig Engelse opsie) gestel word.

Dubbelmediumonderrig sou beteken dat sowel Afrikaans as Engels in die voorlesings gebruik word. Tolking sou ook hier gebruik kon word.

Om op te som: Klousule (b)(ii) bots na ons mening met klousule (a)(i), want al twee tale word nie gesteun in die volle leerervaring van studente nie. Voorts is daar geen sprake van dubbel­medium nie, maar eerder 'n verskanste vorm van 'n eentalige Engelse medium.

'n Verdere vraag ontstaan oor die wyse waarop Afrikaans (en isiXhosa) in die fasiliterings­geleenthede buite die voorlesing hanteer sal word. Dit is nie duidelik op watter wyse die tutors met die nodige vaktaal toegerus sal word om die geleenthede te hanteer nie, want die voorlesings geskied hoofsaaklik in Engels in die hooflesings. Dit is onvoorstelbaar om te glo dat waar 'n vak slegs voorgraads (hoofsaaklik 1ste- en 2dejaarsvlak) in die P-opsie (met die talle voorbehoude daarteen) aangebied word, die vaktaal in Afrikaans minstens volgehou sal word, wat nog te sê van uitgebou word. Dit spreek vanself dat die posisie vir isiXhosa nog meer benard is.

Punt 7.1(b)(v): "Die vraestelle vir eksamens, belangrike toetse en soortgelyke assesserings is in Afrikaans en Engels beskikbaar."  Hier word niks gesê oor die taal waarin die student die vraestel mag beantwoord nie. Vreemd genoeg word hier ook geen voorbehoud gegee oor wat sou gebeur indien die dosent nie Afrikaans magtig is nie.

Punt 7.1(b)(h) is sinneloos en behoort geskrap te word.

p7: Taalbeplanning en bevordering van meertaligheid:

Punt 7.5(a) verwys daarna dat elke fakulteit en steundiensafdeling hulle eie Taalimplemen­teringsplan vir hulle konteks kan ontwerp. Dit laat die vraag ontstaan waarom die Universiteit dan hoegenaamd 'n Taalbeleid moet opstel.  Logieserwys moet fakulteite en steundiensafdelings hulle aan die Universiteit se stukke onderwerp. Afgesien van alle ander voorbehoude wat reeds in die dokument ingebou is, bied hierdie paragraaf die grootste ontsnaproete. Die insentiewe vir meertaligheid wat genoem word in punt 7.5(b) moet eerder behoorlik uitgespel word om toe te sien dat fakulteite en steundienste hulle hoegenaamd aan meertaligheid sal steur of hou.

Afsluiting

Ons wil afsluit deur Danie Marais uit die By van 16 April 2016 aan te haal:

"As Afrikaans aan alle universiteite val, gaan Afrikaanse skole waarskynlik ook ver-Engels en dit sal 'n tragedie wees, want moedertaalonderrig is bewysbaar akademies superieur."

Tans kom studente nog op Stellenbosch aan wat op grond van hulle Afrikaanse onderrig op skool, reeds oor 'n gevorderde vlak van meertaligheid beskik. SAAWK sou wou sien dat studente hulle meertaligheid danksy die US verder ontwikkel en dat dit nie as gevolg van die US verskraal nie.

Afrikaans is tans 'n uitgebreide wetenskapstaal met uitgebreide literatuur vir die meeste vakke wat aan hoër instellings gedoseer en bestudeer word. Dit is moeilik om te sien hoe Afrikaans op hierdie vlak volgehou en uitgebou kan word, indien dit slegs as ondersteuningsbasis vir voorgraadse studente deur tutors gebruik word of slegs vir 1ste en 2dejaarstudente in parallelmediumlesings.

'n Verdere kwelling van die SAAWK is dat die posisie van isiXhosa in hierdie dokument heeltemal afgeskaal word en dat daar nêrens enige vaste onderneming tov die ontwikkeling hiervan gegee word nie.

Die SAAWK besef die geweldige druk waaronder die US hierdie beleidsdokument moes opstel, maar iets so wesenlik belangriks soos die Taalbeleid van die US kan nie binne so 'n kort tydjie afgejaag word nie. Dit blyk duidelik uit die ondeurdagte dokument met weersprekings en vaag­hede wat as konsep aan die publiek voorgehou is.

Die vlag van Meertaligheid sonder Uitsluiting dek ongelukkig nie die lading van Engelse eentaligheid wat deurgaans in die dokument geïmpliseer word nie.

Dionē Prinsloo: Hoof Uitvoerende Beampte, Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 

The post Terugvoer op Konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch appeared first on LitNet.

US-taalbeleid: Afrikaanse Taalraad se reaksie

$
0
0

Die US se konseptaalbeleid bevat ’n kloeke verbintenis tot ’n “meertalige” bestel, die “handhawing” van Afrikaans in sy volle diversiteit en die ontwikkeling van Xhosa as ’n akademiese taal.

Die verskeidenheid van gemengdeleerstrategieë waarop die konsepbeleid steun, sou inderdaad waardevol gewees het indien die US werklik meertaligheid sou nastreef. In die praktyk is die gebruik van Xhosa of Afrikaans in lesings, tutoriale, en dies meer egter deurgaans onderhewig aan kriteria soos die beskikbaarheid van die nodige hulpbronne of dosente met die regte taalvaardighede, of die spesifieke studentegroep se voorkeurtaal. Op grond hiervan kan die “taalreëlings” van enige kursus of departement te eniger tyd met die “ondersteuning” van die betrokke departementshoof en dekaan verander word, waarna die verandering eers by die daaropvolgende fakulteitsraad- en senaatsvergaderings gerapporteer moet word.

Die beleid bevat dus helaas geen meganisme om die beloftes oor die “handhawing” van Afrikaans of die ontwikkeling van Xhosa gestand te doen nie. Die “soepelheid” van die beleid en die afwesigheid van meetbare kort- en langtermyntaalteikens vir die universiteit, waarborg die afskaling van veral Afrikaans. Selfs meer deurslaggewend is die afwesigheid van ’n program om die meer- of veeltaligheid van dosente op te gradeer, waarsonder die beloofde meertaligheid kennelik nie bereik kan word nie. Objektief gesproke kan die konsepbeleid dus net een uiteinde hê, naamlik die snelle en volslae verengelsing van die US.

Die groot wenners van hierdie uitkoms is hoofsaaklik gegoede en wit Engelssprekende studente en dosente. Met ander woorde, ’n belangrike hulpbron en instrument van bemagtiging word hier gekaap ten koste van Afrikaanssprekende gemeenskappe van veral die Wes- en Noord-Kaap. Engels word hiermee die nuwe taal van uitsluiting by die US, iets wat verreikende opvoedkundige, sosio-ekonomiese en kulturele gevolge kan inhou. 

Die uitsluiting en ekonomiese marginalisering wat met hierdie beleid gepaard sal gaan, is in vele opsigte strydig met die regering se transformasiedoelwitte. Dit kom ook neer op onbillike diskriminasie en doen afbreuk aan Afrikaanssprekendes se reg op Afrikaans as onderrig- en doseertaal soos vervat in artikel 29(2) van die Grondwet. Dit is in ieder geval nie aanvaarbaar dat een grondwetlike reg (toegang) ’n ander (taalregte) vernietig nie (Woolman in Constitutional Law of South Africa, 12-55 55 [Rev Service 3]).  ’n Balans moet gevind word. 

Daarby is ware meer- of veeltaligheid by die US ’n deurgaans haalbare en verantwoordbare projek. Dit kan egter slegs by wyse van ’n openhartige onderhandelingsproses bereik word, een wat alle belanghebbendes op ’n waarlik gelyke basis betrek en aanhoor. Die tydraamwerk van die US se beleidsproses is hiervoor helaas heeltemal te kort. Belanghebbendes kan moeilik binne die bestek van ’n maand behoorlik op die beleid  reageer. Dit is nog moeiliker om te sien hoedat die US binne hierdie tydperk betekenisvolle aandag aan almal se kommentaar, en veral aan etlike moontlike alternatiewe taalkonfigurasies en beleidsopsies, sal kan gee.

Die konseptaalbeleid plaas die US duidelik op die pad na konflik. Daar bestaan nietemin genoeg ruimte vir ’n onderhandelde oplossing. Die Taalraad raai die US aan om hierdie geleentheid aan te gryp en sou so ’n inisiatief ten volle ondersteun.

Klik hier vir al die bydraes oor die US-taalbeleid.

The post US-taalbeleid: Afrikaanse Taalraad se reaksie appeared first on LitNet.

Die WAT bly "verstommend gesond as neëntigjarige"

$
0
0

Johan Holtzhausen, Deon Meyer, Marianne Vorster, Rufus en Ilse Gouws, Tersia en Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur (foto verskaf)

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het onlangs as deel van die viering van sy 90ste bestaansjaar 'n konsert met Elna van der Merwe en Zorada Temmingh as kunstenaars in die US Konservatorium aangebied. Die jaarlikse prystrekking vir Borg 'n Woord is deur Deon Meyer, vanjaar se beskermheer, en Johan Holtzhausen, voorsitter van die WAT Trust, waargeneem.  Nanna van Niekerk van Bethal en Thomas West van Tennessee in die VSA het elkeen 'n Sanlamprys van R25 000 gewen. West is 'n vertaler  van beroep en skryf en praat Afrikaans vlot. Borg 'n Woord gaan voort en persone wat nou deelneem, kom in aanmerking vir 2017 se prystrekking. Volledige besonderhede is by www.wat.co.za.  Rufus Gouws, ondervoorsitter van die WAT Direksie, was die spreker van die aand.  Hieronder verskyn die toespraak deur Rufus Gouws by die geleentheid.


 

Goeienaand, dames en here, en baie welkom by hierdie negentigste verjaarsdagviering van die WAT. ‘n Besondere woord van welkom aan elkeen wat help skryf of meegewerk het aan hierdie monumentale werk. Baie dankie aan elkeen wat in die direksie en trust dien of gedien het, en ‘n groot dankie aan ons ondersteuners, vriende en donateurs wat vanaand teenwoordig is.  Danksy ons donateurs kan ons ons nog verwonder aan die wonder van Afrikaans.

Soos enige negentigjarige het die WAT vreugdes en frustrasies beleef, hoewel die WAT as  negentigjarige die voordeel het dat daar nie meer baie portuurdruk is nie. Maar andersoortige druk was en is daar wel deeglik.

Nadat die werk in 1926 begin is, het dit lank, te lank, geneem voordat die eerste deel (A-C) in 1951 verskyn het. In daardie stadium van Afrikaans se ontwikkeling is die publikasie van die vroeë dele allerweë as ’n volksgebeurtenis beskou en aangekondig.  Dié dele is redelik taalpatrioties en onkrities deur resensente ontvang.

Woordeboeke word deur gewone taalgebruikers as bronne van taalgesag beskou. Reeds as ’n jong woordeboek is dié gesag van die WAT wyd aanvaar – in studeerkamers en laboratoria, op die kansel en voor die regbank.

Maar die vrolike jeuglewe van die WAT het gou in ’n middeljarige en middelalfabetkrisis beland toe die Woordeboek lelik vasgeval het in die bewerking van die letter “K” – ’n letter wat vir enige Afrikaanse leksikograaf ’n uitdaging is weens die omvang daarvan, maar wat vir die WAT ’n amper onoorkomelike spoedwal was.

Die eerste deel van die letter “K” is in Deel V bewerk – wat in 1968 verskyn het – en die redaksie was vir vier woordeboekdele kniediep in “K” tot en met die verskyning van Deel VIII in 1991 waarin die woord kywiehouer “K” se einde aangekondig het. Resensente, die kywiehouers van die leksikografie, se mooi woorde was iets van die verlede en die WAT het onder fel kritiek deurgeloop. Vir die WAT was die resensies van die “K”-dele ’n keerpunt, maar ewe belangrik: hierdie resensies was grootliks die stimulus vir ’n wyer teoretiese gesprek oor die Afrikaanse leksikografie. Die WAT was teiken en katalisator van die leksikografiese gesprek, maar anders as wat van ’n katalisator verwag word, naamlik dat dit ’n  verandering veroorsaak sonder om self te verander, het die WAT self ook verander – ten goede.

As ’n regstreekse uitvloeisel van die fel kritiek het die WAT ’n gesprek gereël waarna die resensente, enkele taalkundiges en teoretiese leksikograwe genooi is om die kritiek te bespreek. As gevolg hiervan is die dapper besluit geneem om midde-in die alfabetiese vordering die redaksionele stelsel ingrypend aan te pas. Die WAT is in 1990 en 1991 in sy geheel herontwerp en het daarna op ’n nuwe en teoreties verantwoordbare manier voortgegaan met die redaksionele werk.

Ná die krisis van “K” het “L” blyke gegee van ’n nuwe en stewige greep op die leksikografiese lewe.

Vir die WAT was die afgelope ongeveer 25 jaar ’n opwindend tydperk met ’n nuwe vonkel in die ouer wordende woordeboekdame se leksikografiese oog en geen sprake van bysiendheid nie. Daar is vernuwend gedink en versiende opgetree. Die WAT het verander van ‘n instelling wat bloot ‘n groot woordeboek saamstel tot ‘n sentrum vir leksikografiese aktiwiteite. Hoogtepunte in hierdie tyd sluit die volgende in:

  • Die vaktydskrif Lexikos word sedert 1991 uitgegee; van 1996 as amptelike mondstuk van Afrilex, die African Association for Lexicography en die toonaangewende internasionale tydskrif.
  • Ook ander woordeboeke word gepubliseer, dikwels saam met outeurs van buite en altyd deur na-uurse werk van die WAT-redaksie, soos Woordkeusegids: ‘n Kerntesourus van Afrikaans (1992), Etimologiewoordeboek van Afrikaans (2003) (in samewerking met die Instituut voor Nederlandse Lexicologie, Leiden), Sinoniemwoordeboek (2006, saam met Pharos), en Basic Afrikaans (2010, saam met Pharos).
  • Op haar amperse oudag raak die WAT ook digitaal geletterd en elektronies beskikbaar: as ‘n CD en ‘n aanlyn woordeboek (2003).
  • Reeds in 1995 ontwerp die WAT opleidingskursusse vir leksikograwe, dosente, studente, onderwysers en leerders en raak die redaksie betrokke by die praktiese opleidingsessies aan hierdie groepe.
  • Ná die stigting van PanSAT, die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad, is daar ’n nasionale woordeboekeenheid vir elk van die elf amptelike Suid-Afrikaanse tale gestig. Die WAT as nasionale woordeboekeenheid vir Afrikaans het ’n leidende rol gespeel en oor taal- en kleurgrense heen beweeg om dié gewaardeerde rolmodel vir die ander eenhede te word.

2004 breek aan …
Maar ouer word geskied nie sonder skete en skokke nie. Op die kruin van die golf,  vlugvoetig woord vir woord werkend deur die tweede helfte van die alfabet, word die WAT in 2004 eensklaps in die grootste krisis van sy bestaan gedompel – ’n krisis wat “K”se probleme na kinderspeletjies laat lyk het. Sedert 2004 (toevallig die jaar waarin Willem Botha as die jongste hoofredakteur die WAT se woordmeester geword het) tot 2008 word die staatsubsidie van R2,3 miljoen tot R1 miljoen verminder. En geen hoofredakteur sou kon doen met net dié miljoen.

Die hoofredakteur kon nie meer net woorde by woorde voeg nie maar moes nou die daad by die woord voeg. Hy moes nou nie net leksikograaf wees nie, maar ook bemarker, fondswerwer, finansiële beplanner en, helaas, heel dikwels traumaberader.

Personeelvermindering en ander besparingstrategieë is in 2004 in werking gestel. Die WAT word tans steeds deur die kleinste redaksie in sy bestaan van nege dekades saamgestel. Dit is nie net in ’n woordeboek dat besparing voor oorlewing kom nie. Dit moes in die kantoor van die WAT verwerklik word.

Maar besparing alleen kon nie die projek red nie en bemarking en fondswerwing het fokusareas van deurslaggewende belang geword.  Ten einde doeltreffend fondse te werf, moes die profiel van die WAT verder verhoog word en baie sukses is aanvanklik met fondswerwingsdinees behaal. Baie dankie aan GT Ferreira en Johann Rupert, wat die eerste twee dinees aangebied het en saam met Marcus Jooste en Erna en Paul Meaker ons eerste miljoenrand-donateurs was.

Blootstelling in koerante, oor die radio en op televisie het ‘n noodsaaklikheid geword en derhalwe is baie tyd en energie aan bewusmaking deur die media bestee.  Daar is byvoorbeeld begin met ‘n weeklikse aanhaling uit die WAT in verskillende koerante. Daar is ook ‘n weeklikse Woord van die Week-rubriek en ‘n maandelikse taalrubriek op RSG.  Die Nuutskeppingskompetisie saam met RSG en die ATKV by die US Woordfees is ‘n ander suksesvolle bewusmaker van die WAT, maar dit is primêr ‘n bewusmaker van die skeppende krag van Afrikaans.

Die Borg ‘n Woord-projek het groot sukses ten opsigte van bewusmaking én fondswerwing behaal. Dit het ‘n wen-wen-karakter deur die konsep van ‘n beskermheer of –vrou, ‘n sertifikaat aan elke deelnemer en ‘n stewige prysgeld van Sanlam wat saam met die kreatiewe span van GivenGain bedink is. Vir die 90ste bestaansjaar is daar twee pryse van R25 000 elk van Sanlam te wen en elke deelnemer kry gratis toegang tot die Aanlyn WAT.

Die WAT word tans gedra deur sy donateurs, groot én klein, wat sorg vir byna 70% van sy jaarlikse begroting van R5 miljoen. Die WAT is steeds ‘n dinamiese en produktiewe maatskappy danksy sy personeel en ondersteuners se liefde vir Afrikaans en die personeel se bereidwilligheid om die hand aan die woordeboekploeg te hou en nie om te kyk nie.

Die werk aan die gedrukte en aanlyn WAT word gelyklopend gedoen. Na beraming sal die gedrukte WAT uiteindelik uit twintig dele bestaan. Dit gaan nog ’n tydjie duur en voortgesette ondersteuning en toewyding is nodig. Dit is geen vreemde verskynsel dat ’n omvattende woordeboek 90 jaar en ouer word en steeds nie verby die letter “S” is nie. Die WNT, dit is Het Woordenboek der Nederlandsche Taal, is eers ná 148 jaar voltooi. Dertig jaar nadat daar met dié woordeboek begin is, verskyn sy eerste aflewering in 1882: van A – ajuin. (verouderde woord vir ‘n ui.). Daar was eweneens fel kritiek. Ene Van Vloten het die volgende spotrympie geskryf:

O, luid weerklink de lofbazuin!
Het Woordenboek kwam tot ajuin
In dertig jaren al! dat heet
Zijn tijd voorzeker welbesteed!
‘t Duurt nu geen dertig jaar gewis
Eer ‘t tot azijn genaderd is.

Maar uit die 90-jarige WAT-perd se bek:

In Deel XI van die WAT waar die letter “N” bewerk word, word die volgende voorbeeldsin in die artikel van die woord neëntigjarige gegee: “Hy is verstommend gesond vir ’n neëntigjarige” en by negentig is 'n voorbeeldsin: ”Hy is ’n man met ’n vol program en hy is negentig jaar.”

Aan die WAT sê ons vanaand in haar eie woorde: “Bly verstommend gesond as neëntigjarige” en handhaaf die vol program. Hartlik geluk met nege dekades van werk, woorde en wen; hartlik geluk met veertien dele wat nie minder nie as 68 cm op die boekrak beslaan en wat vir die Afrikaanse taalgemeenskap sonder twyfel dié skatkamer van Afrikaans is.

Hieronder is foto's van die geleentheid (alle foto's is verskaf):

WAT90.2

wat90.3

wat90.4

wat90.5

wat90.6

wat90.7
wat90.8

WAT90.9

wat90.10

wat90.11

wat90.12

wat90.13

wat90.14

wat90.15

wat90.16

wat90.17

The post Die WAT bly "verstommend gesond as neëntigjarige" appeared first on LitNet.

Winterskool met trots in 2016 aangebied

$
0
0

 

31 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so – hierdie jaar met ’n Winterskool.

Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane kom vind. Van 30 Mei tot 3 Junie 2016 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan opkomende woordsmede.

Bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, geestelike fiksie en gedigte: Harry Kalmer, Debbie Loots, Loftus Marais, Anzil Kulsen, Susan Coetzer, Hans du Plessis en Franci Greyling.

Die hartklop van die Winterskool is die werkwinkels waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Helena Hugo (geestelike fiksie), Heilna du Plooy (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) sal die leiding by die drie werkswinkelgroepe neem.

’n Ander sterkpunt van die Winterskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. In 2016 kom maak verteenwoordigers van Protea Boekhuis, LAPA-Uitgewery en Maroela Media ’n draai by die Winterskool.

Stel jy belang om die Winterskool 2016 by te woon? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za; tel. 018 299 1783.  Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool vir onderhoude: bernard.odendaal@nwu.ac.za; tel. 018 299 1782.

 

 

The post Winterskool met trots in 2016 aangebied appeared first on LitNet.


Trippel-7 is inderdaad meer as gelukkige nommer

$
0
0

“Sewe dae, sewe dorpe, sewe skrywers, 1 400 km, 174 deelnemers – dis die getalle, maar die syfers vertel net 'n baie klein deeltjie van die storie. Die kameraderie, die absolute toegewydheid van die Magnificent 7, die entoesiasme waarmee ons oral ontvang is, die talent wat ons sien gedy het, die wete dat ons in daai mense se lewens 'n verskil kon maak ... dit alles sal my nog lank bybly.”

Dis die woorde van Bettina Wyngaard, die bekroonde skrywer en PEN Afrikaans se ondervoorsitter, wat pas saam met ses ander woordenaars geïnspireerd teruggekeer het van die geskiedkundige Trippel-7-toer deur die Noord-Kaap. Saam met Frazer Barry (liedjieskrywer van Tribal Echo), Eldridge Jason (skrywer van Gerook), Daniel Swartz (rymkletser van Rimestein), die skrywer, joernalis en dosent Anastasia de Vries, die internasionaal bekende digter Diana Ferrus en die baie gewilde jeugboekskrywer Anzil Kulsen, het Bettina op soek gegaan na onontdekte vertelkunstenaars en stories in enige vorm of taalvariant – enersyds ter viering van Afrikaanse taalverskeidenheid en andersyds ter bemagtiging van diegene wat nog nooit of bitter selde tevore ’n kans gegun is om hul verhale of talent te slyp nie. Dié sewe van Trippel-7 het gratis werkswinkels aangebied in Griekwastad, Groblershoop, Upington, Kakamas, Pofadder, Okiep en Kharkams aan 174 vertel- en leergierige aspirant-skrywers.

Hierdie syfers getuig van ’n merkwaardige opkoms en ’n brandende belangstelling, maar dit is, soos Bettina sê, net ’n deeltjie van die storie. Die foto’s hieronder spreek verdere boekdele en PEN Afrikaans sien uit na die Trippel-7-bloemlesing wat in die vooruitsig gestel word. Dié boek sal ’n ander deel van al die stories agter hierdie hartverwarmende foto’s vertel. Die bundel word uitgegee in samewerking met die ATKV en behoort teen die einde van dié jaar of vroeg in 2017 te verskyn.

Verdere mentorskappe in samewerking met die Breytenbach Sentrum op Wellington word ook in die vooruitsig gestel.

Maar eers klink ons op ’n voorspoedige, epiese storiereis: Op Trippel-7 en al die vertellers wat hul verhale kom deel het!

bettina

Eldridge Jason oor Trippel-7: 

Untitled-1

PEN Afrikaans se Trippel-7-toer na die Noord-Kaap was een van die oomblikke wat my altyd by sal bly. Nie net kon ek skouers skuur met die room van Afrikaanse talent wat saam my op toer was nie, maar die mense en hul stories was hartroerend. Dit was 'n lekker hoendervleis gevoel om te sien watter impak ons op die mense gemaak het, hoe hulle ons in hul binnekring aanvaar het en hul harte oopgemaak het om hul stories met ons te deel. Ek is daarvan oortuig dat die wonderlikste van stories en verhale hieruit gaan spruit en dat die Noord-Kapenaars die lesse wat ons met hulle kon deel, hul eie sal maak en die stories wat saak maak finally die lig sal laat sien. Hierdie inisiatief van PEN Afrikaans verdien 'n klompie goue sterre!

Anastasia de Vries oor Trippel-7:

anastasia

Ons was op soek  na stories en talent en toe gebeur met ons van die mooiste mense vir wie ons soveel van ons eie menswees wou gee, soveel van ons eiewaan wou afsterf sodat ons hul stories en wese met ewe veel medemenslikheid kon ontvang. Op dié dag op Kakamas kon ek saam met dié groot geeste besin oor die vreugde en pyn van soveel mense, soveel stories, wat danksy die Trippel-7-toer, nou ook in ons leef.

Anzil Kulzen oor Trippel-7:

Trippel7-in-pienk

Groblershoop het ons verseker baie verras met die Trippel 7- hempies en die gulle ontvangs. Die diversiteit in deelnemers, party skoolleerders en ander bejaardes wat nie eens skryfvaardig is nie, het gesorg vir groot vermaak. Ons kon so baie by die grootmense leer.

Trippel7-028

Hier is ouma Maria Neels (80) en tannie Clara Oor (65). Hierdie twee mag dalk bejaarde dames wees, maar is nog laaaank nie oor die muur nie, en kon hulle vir jou stuk sny, lip kap en stories vertel!! Die jong leerders het belowe dat hulle die bejaarde deelnemers se stories sou opteken en vir ons instuur.

Trippel7-017

Ons twee rymkletsers (Frazer en Daniel)  het tydens die toer hulle REG-handelsmerk gevestig het. RITME EN GEDIGTE in aksie saam met Moses, 'n talentvolle deelnemer van Griekwastad. My hart swel steeds van trots, as ek so na die foto's kyk, kan ek hulle byna weer hoor!!!

Daniel Denver Swartz oor Trippel-7:

DSC_0759

Dit was vir my 'n groot eer en onvergeetlike ervaring om saam te werk as lid van die Trippel-7-vonk, wie soveel inspirerende en stimulerende talent in jonk en oud kon vind.

Frazer Barry oor Trippel-7:

DSC_1020

Wat vir my nogal baie opvallend was, is dat die Noord-Kaapse mense lief is vir hul eie stories opteken. Dat daar 'n bestaande kultuur is van stories dokumenteer en dat die mense die waarde van stories hoog op prys stel. Die moeilikste gedeelte vir my was die wete dat ons nie genoeg tyd kon spandeer met die mense om daardie volle potensiaal en magdom stories, gedigte ens te kon ontwikkel nie. My ervaring van die Trippel-7-span: Elkeen het geskitter in hul vakgebied en dit was vir my ook een leersame en verrykende ervaring wat ek vir niks sal ruil nie. Die foto is by die Oukiep-skryfsessie geneem.

Diana Ferrus oor Trippel-7:

Untitled-2

Die honger na skryf, na vertel, die begeerte om altyd te wil onthou, dit is wat my bybly wanneer ek dink aan die Trippel-7-projek. Sewe dorpe in sewe dae en sewe skrywers wat mekaar diep leer ken en saamvleg as 'n span. Skryf is nie 'n eenmens-projek nie, skryf is lewe ...

trippel7hemp

ddswartz

frazer

springbok

The post Trippel-7 is inderdaad meer as gelukkige nommer appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: Mei 2016

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans

Deur sy grondwet en affiliasie met PEN International is PEN Afrikaans sowel verbind tot die bevordering van menings- en uitdrukkingsvryheid as tot die handhawing en uitbou van taalregte. As PEN-sentrum ondersteun ons PEN International se Girona-manifes oor Taalregte wat onder meer verklaar dat taaldiversiteit ’n wêrelderfenis is wat gekoester en beskerm moet word. (Die volledige manifes kan hier gelees word.)

Rakende die Universiteit Stellenbosch se omstrede konseptaalbeleid vind ons as bestuur van PEN Afrikaans dit dus noodsaaklik om stelling in te neem. Dit gaan hier immers sentraal om die inkrimping van taalregte. Ons besef egter ook terdeë dat dit ’n ingewikkelde én emosioneel gelaaide saak is. Ons verwag nie dat al ons lede met die bestuur se posisie sal saamstem nie. Inteendeel, ons bly in die eerste plek verbind tot menings- en uitdrukkingsvryheid en verwelkom gesprek oor dié aangeleentheid. Ons vra net dat lede hulle van persoonlike venyn weerhou.

Die US se konseptaalbeleid is hier aanlyn beskikbaar. 

Stellingname oor die Universiteit Stellenbosch se konseptaalbeleid deur PEN Afrikaans se bestuur

Die Universiteit Stellenbosch se konseptaalbeleid is ’n dokument wat verskeie mooi gebare in die rigting van meertaligheid maak, maar met soveel voorbehoude dat daar uiteindelik bloot lippediens aan ’n grondwetlike reg bewys word. Die universiteit verbind hom met hierdie dokument slegs tot ’n eentalige kampus en leeraanbod met geen daadwerklike verpligting om Afrikaans of isiXhosa verder as akademiese tale te eerbiedig of te ontwikkel nie. Daar is, trouens, in hierdie konsepbeleid geen waarborge vir toekomstige Afrikaanse studente waarop hulle hul sal kan beroep om byvoorbeeld ten minste in Afrikaans getoets of eksamineer te word nie. Sou dié beleid aanvaar word, verkry die Universiteit Stellenbosch in der waarheid die reg om alle studente en personeel uit te sluit wat nie in Engels kan leer of doseer nie. 

Die bestuur van PEN Afrikaans beskou Afrikaans as ’n nasionale bate – ’n taal wat reeds só ontwikkel is dat dit van pre-primêre tot tersiêre vlak ingespan kan word om kennis oor te dra en te verwerf. Die taal is daarmee ’n waardevolle bemagtigingsmiddel. Indien dit nêrens meer tersiêr aangebied word nie, beteken dit dat alle studente wat akademiese sukses deur middel van Afrikaans sou kon behaal, ontmagtig en uitgesluit word. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie.

Die bestuur van PEN Afrikaans ondersteun derhalwe die volgende stellingname van “bekommerde “akademici” verbonde aan die US ten volle – ’n posisie waarmee ook die US se Departement Afrikaans-Nederlands hom amptelik vereenselwig het:

Verset teen die skuif na ’n hegemonie van eentaligheid aan die Universiteit Stellenbosch 

Die duidelike voorkeur wat Engels geniet in die konseptaalbeleid van die Vise-Rektor Onderrig en Leer van die Universiteit Stellenbosch skep die basis vir die toekomstige verwydering van onderriggeleenthede in Afrikaans en isiXhosa waarvoor daar in die huidig geldende taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch nog voorsiening gemaak word. Dit het verder ook die potensiaal om ’n agenda van verkorporatisering en onkritiese ‘internasionalisering’ aan die universiteit te bewerkstellig en daarmee die belangrike ruimte te laat krimp en te omseil wat die studentebeweging geskep het om die dekolonialisering van Suid-Afrikaanse universiteite aktief na te jaag. Sinvolle gesprekvoering oor die rol van die universiteit in Suid-Afrika en in Afrika hou in dat die hegemonie van ’n beperkte en beperkende universele Engels betwis word en dat die rol en bemagtiging van plaaslike tale op só ’n wyse erken word dat hulle gebruik daadwerklik op ’n wesenlike en volhoubare manier uitgebrei word.

Die ondertekenaars stel voor dat gelyke erkenning aan Engels en Afrikaans gegee word as administratiewe en akademiese tale by die Universiteit Stellenbosch met ’n werklike verbintenis om ook isiXhosa as akademiese taal te ontwikkel. Op dié manier sal mettertyd voldoende voorsiening vir die belangrikste tale in die Wes-Kaap gemaak word. Terselfdertyd behoort al die amptelike tale van Suid-Afrika verwelkom te word sodat daar sodoende ’n ruimte tot stand kom vir die ontwikkeling van ’n funksionerende en diverse veeltalige samelewing.

*****

Indien jy hierdie petisie wil onderteken, kan jy dit doen deur hierdie skakel na die Gelyke Kanse-webwerf te volg waar dié verklaring ook in Engels te vinde is.

Jy kan ook daar die Gelyke Kanse-beswaarskrif ondersteun, sou jy wou. Die inhoud van hierdie beswaarskrif kan hier gelees word. 

Verskeie reaksies op die US se beleidsvoorstel en die gesprek daaromtrent, waaronder die korrespondensie tussen prof. Anton van Niekerk en Breyten Breytenbach, vind jy hier

Trippel-7 is meer as 'n baie gelukkige nommer

springbok

“Sewe dae, sewe dorpe, sewe skrywers, 1 400 km, 174 deelnemers – dis die getalle, maar die syfers vertel net 'n baie klein deeltjie van die storie. Die kameraderie, die absolute toegewydheid van die Magnificent 7, die entoesiasme waarmee ons oral ontvang is, die talent wat ons sien gedy het, die wete dat ons in daai mense se lewens 'n verskil kon maak ... dit alles sal my nog lank bybly.”

Dis die woorde van Bettina Wyngaard, bekroonde skrywer en PEN Afrikaans se ondervoorsitter, wat pas saam met ses ander woordenaars geïnspireerd teruggekeer het van die geskiedkundige Trippel-7-toer deur die Noord-Kaap. Saam met Frazer Barry (liedjieskrywer van Tribal Echo), Eldridge Jason (skrywer van Gerook), Daniel Swartz (rymkletser van Rimestein), die skrywer, joernalis en dosent Anastasia de Vries, die internasionaal bekende digter Diana Ferrus en die baie gewilde jeugboekskrywer Anzil Kulsen, het Bettina op soek gegaan na onontdekte vertelkunstenaars en stories in enige vorm of taalvariant – enersyds ter viering van Afrikaanse taalverskeidenheid en andersyds ter bemagtiging van diegene wat nog nooit of bitter selde tevore ’n kans gegun is om hul verhale of talent te slyp nie. Dié sewe van Trippel-7 het gratis werkswinkels aangebied in Griekwastad, Groblershoop, Upington, Kakamas, Pofadder, Okiep en Kharkams aan 174 vertel- en leergierige aspirant-skrywers.

Hierdie syfers getuig van ’n merkwaardige opkoms en ’n brandende belangstelling, maar dit is, soos Bettina sê, net ’n deeltjie van die storie. 'n Groter deel van dié hoopvolle storie word sigbaar wanneer jy hier op die Trippel-7-fotoblad klik waar jy ook indrukke van die ander deelnemende skrywers vind.

PEN Afrikaans sien uit na die Trippel-7-bloemlesing wat in die vooruitsig gestel word. Dié boek sal ’n ander deel van al die stories agter hierdie hartverwarmende foto’s vertel. Die bundel word uitgegee in samewerking met die ATKV en behoort teen die einde van dié jaar of vroeg in 2017 te verskyn.

Verdere mentorskappe in samewerking met die Breytenbach Sentrum op Wellington word ook in die vooruitsig gestel.

Maar eers klink ons op ’n voorspoedige, epiese storiereis: Op Trippel-7 en al die vertellers wat hul verhale kom deel het!

Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2016

Laastens, baie geluk en alle sukses aan ons lede wat in Mei nuwe boeke op die rakke het. Jy kan hier 'n lys aflaai van al die nuwe Afrikaanse publikasies wat vandeesmaand verskyn. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Mei 2016 appeared first on LitNet.

Die Afrikaanse Taalraad herdenk die 91ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal

$
0
0

Die 8ste Mei bied 'n geleentheid om nie net die bestaan van Afrikaans as amptelike taal te vier nie - 'n status wat die taal vanjaar reeds vir 91 jaar beklee - maar ook die ontstaan van Afrikaans as gedeelde erfenis.

Met hierdie dubbele viering wil die Taalraad dus enersyds die aanvaarding van Afrikaans as amptelike landstaal op 8 Mei 1925 kragtens die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika (Wet no 8 van 1925) herdenk;  andersyds wil ons ook die aandag vestig op die enorme kreatiewe heterogeniteit van Afrikaans. Christo van Rensburg se deeglike navorsing oor die gedeelde verlede van Afrikaans, onderneem in opdrag van die Taalraad, stel die veelvoudige en lewenskragtige voedingsare van Afrikaans pragtig ten toon. Enigiemand met 'n liefde vir die taal behoort sy boek, So kry ons Afrikaans van LAPA Uitgewers in die hande te kry.

Lees ook: LitNet Akademies-resensie-essay: Só maak Afrikaans ons

Dit is ook heeltemal van pas om 'n glasie te klink op een van die grootse prestasies van Afrikaans, naamlik haar status as een van slegs vier tale ter wêreld wat in die vorige eeu tot volwaardige wetenskapstale ontwikkel het. Die realiteit van hierdie eeu is egter dat die ontluikende monolinguistiese bestel op ons universiteite en skole en in publieke ruimtes tot die inkrementele marginalisering van Afrikaans en die uitrangering van haar hoër funksies lei; ook dat die ander inheemse tale hiermee die geleentheid ontsê word om uiteindelik ook tot wetenskapstale te ontwikkel.

Om Afrikaans se verjaarsdag as amptelike taal te herdenk, maak dus slegs sin indien die nuwe geslag Afrikaanssprekers hulle ook daadwerklik beywer vir die amptelike gebruik van die taal. Die vraag is hoe?

Die enigste volhoubare pad vorentoe behels die bou van veel wyer alliansies as in die verlede. Die erosie van die inheemse tale se posisie − net soos dié van Afrikaans – gaan immers gepaard met die kulturele, sosio-ekonomiese en politieke ontmagtiging van die meerderheid van hulle sprekers. Die verskeidenheid van belange wat hier geraak word, is eenvoudig net te wyd, die negatiewe impak van monolinguisme eenvoudig net te enorm om besluite oor taal aan tegnokrate en politici oor te laat.

As 'n nasionale stem vir Afrikaans en ál haar sprekers verbind die Taalraad haar dus opnuut tot versoening tussen die sprekers van al ons inheemse tale – almal wat entoesiasties voel oor taal en oor die skakeling tussen taal, kultuur en bemagtiging. Die tyd het aangebreek dat die sprekers van Afrikaans en van ons ander inheemse tale ons grondwetlik verskanste regte gesamentlik opeis en praktiese oplossings vir die toepassing daarvan op streeksvlak ontwikkel.

Beywer u dus vir die voortgesette amptelike gebruik van Afrikaans en beskerm haar hoër funksies, maar maak bowenal vriende vir die taal.

Conrad Steenkamp, Uitvoerende Hoof

Ria Olivier, Projekbestuurder

 

The post Die Afrikaanse Taalraad herdenk die 91ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal appeared first on LitNet.

WAT: Om Hennie Aucamp te onthou

$
0
0

'n Hennie Aucamp-muuruitstalling is onlangs in die biblioteek van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal onthul. Die fokuspunt van die uitstalling is 'n skets van Aucamp deur die kunstenaar Alex Emsley terwyl die klem deurgaans op die verbintenis tussen Aucamp en die WAT val. Jenny Frost, die ontwerper, het grootte, kleur en tekstuur verfrissend afgewissel in die die uitstalling. Lina Spies het gepraat oor Aucamp as mens en kunstenaar en uittreksels uit die US Woordfeesproduksie van Aucamp se kabaret Slegs vir almal is uitgevoer. Op die foto verskyn Willem Botha (hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT), Rina (Aucamp se suster), Lina Spies en Mari Naude (dogter van Rina).



  •  By die huldiging van Hennie Aucamp in erkenning van sy groot geldelike nalatenskap aan die WAT

My dank aan Willem Botha vir die uitnodiging om by vandag se besondere geleentheid ’n kort praatjie oor Hennie Aucamp te lewer. Dit is vir my ’n vreugde en voorreg om oor Hennie as skrywer te praat, want sy skenking aan die WAT is die sprekende getuienis van wat sy skrywerskap en Afrikaans vir hom beteken het .

Dis ’n uitdaging om binne ’n kwartier ’n sinvolle oorsig van Hennie se groot oeuvre te gee, maar ek sal probeer om die essensie daarvan saam te vat deur stil te staan by sy posisie binne die vernuwing in die prosa van Sestig, die ontwikkeling in sy oeuvre van kortverhaal tot egodokument en by hom as romantikus en Dekadent.

Ná die verskyning van Lobola vir die lewe van André P Brink in 1962, verskyn van hom in 1963 Die Ambassadeur. In 1962 het ook Etienne Leroux se epogmakende Sewe dae by die Silbersteins die lig gesien. Die jaar 1962 verteenwoordig dus kennelik die oorgang van die ouer prosa – deur Van Wyk Louw getipeer as in die algemeen “gemoedelike lokale realisme” – na die nuwe prosa van die Sestigers.

Hennie Aucamp debuteer in 1963 met ’n dun beskeie bundel kortverhale, Een somermiddag. In 1964 word ’n nuwe nog voorheen ongepubliseerde verhaal van Aucamp, “Au Clair de la Lune”, in die bloemlesing Windroos: verhale van 10 sestigers, opgeneem. Hy is dus wel as Sestiger erken, alhoewel hy nie tot die binnekring gereken is nie.

Menslike lotgevalle het in die ouer prosa afgespeel teen die milieu van die platteland, die dorp en die plaas. Dit was nie ’n aanleiding vir Hennie om die plaas, Rust-mijn-ziel op die Stormberge waar hy grootgeword het, af te sweer as agtergrond vir sy verhale in ’n gedwonge strewe na vernuwing nie. Hy het die boeremense van die Stormberge teen dié milieu waarmee hy intiem vertroud was in hulle volle menswees geteken. Teen die agtergrond van die plaas beleef Hennie in Een somermiddag sy kindertyd en in dié prilbegin was sy skrywerskap in essensie reeds beslote. Vanuit sy Stormbergse jeug ontwikkel het tot veelsydige skrywer wat meerdere genres beoefen.

Die sewentigerjare van die twintigste eeu staan in die teken van die hoogbloei van Hennie se kortkuns waarvoor hy in 1982 met die Hertzogprys bekroon is vir Volmink met inagneming van die res van sy kortverhaaloeuvre; in die tagtigerjare skryf hy liedtekste wat hulle bestemming vind in sy kabarette wat hierdie dekade oorheers.

In die negentigerjare publiseer hy twee geredigeerde dagboeke, Gekaapte tyd (1996) en Allersiele (1997 ). Die dagboekinskrywings in Skuinslig wat in 2003 verskyn dateer ook uit die negentigerjare. Die inskrywings in al drie dagboeke het hy gekies uit die dagboeke wat hy sedert sy vyftiende jaar hou. Dié redigering het hom reëlreg gelei na nog twee outobiografiese werke, Bly te kenne (2001) en In die vroegte (2003).

Hennie Aucamp is deur kritici en op 'n tydstip deur homself in sy rekenskap oor eie werk geïdentifiseer as romantikus en Dekadent. Die regmatige konteks van die Romantiek is die negentiende eeu wat sy hoogbloei beleef het in Frankryk, Engeland en Duitsland.

Wat betref Hennie se werk, herken ’n mens in sy kortverhale die romantiese argetipes soos die eensame, rustelose soeker en die reisiger met sy drang na ervarings wat nooit ten volle bevredig nie. Juis omdat die soektog nimmereindigend is, oortref die wêreld van die verbeelding altyd weer die werklikheid.

Daarnaas is Hennie ook die reisiger na ruwe, klipperige landskappe soos Delos en die Karoo, omdat net dié landskappe in hulle ooreenkoms met die Stormberge sy verlange stil. Hennie is ook die selfverklaarde voyeur de la vie in sy waarneming van die randfigure van die samelewing; in die sewentigerjare, op reis in die groot stede van Noord-Europa, van die hippies en afgetakeldes; van hul menswaardigheid ontneem deur die slopende magte van die lewe.

Hennie se lied- en kabarettekste is ook ’n integrale en belangrike deel van sy omvattende oeuvre. In sy memoires in In die vroegte (2003) identifiseer hy sy lewensgevoel wat sy kabarette geïnspireer het as die “herfstige wyshede” van Prediker in die Ou Testament en hy bring dit in verband met Eugène Marais se gedig “Skoppensboer”.

Van sy hoërskooldae af was Hennie in vervoering met die gedig van Marais en Prediker 12 en verklaar hy dat wat hy aangevoel het vir hom die sekerheid geword het dat “twee somber digters mekaar oor eeue heen die hand reik”.

Dié sinisme wat hy by hulle ontdek het, sluit ook aan by die Dekatentisme waarvan Hennie eweneens ’n eksponent is. Die Dekadentisme word gekenmerk deur kunsmatigheid as alternatief vir ’n onaanvaarbare werklikheid wat spreek uit Oscar Wilde se uitspraak: “Life itself … as … the first, the greatest of arts.” Aucamp eggo Wilde se uitspraak as hy sê die dagboek se skakel met die literatuur is dat die dagboekskrywer “algaande ’n storie van sy lewe maak”.

Vandag se byeenkoms is ’n viering van ’n voorste Afrikaanse skrywer vir wie die taal van al die genres wat hy beoefen het, sy enigste en onverhandelbare instrument was. Sy skrywerskap was die sin van sy lewe en sy skenking aan WAT sy belegging in die oorlewing van die enigste taal waarin sy Godgegewe talent vir die woord uitdrukking kon vind.

Woordeboeke is die lewensbloed van enige taal en elke taal van aansien het sy groot, alombekende verklarende woordeboek; in die geval van Afrikaans is dit die WAT, die Groot Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Dit het Hennie geweet, en ook dat elke taal se voortbestaan net verseker is deur die gebruik van sy woordeskat - nie net in die alledaagse omgang nie, maar op die hoogste vlakke van denke, wetenskap en literatuur.

Mag ons na die voorbeeld van Hennie Aucamp doen wat ons hand vind om te doen vir die oorlewing van Afrikaans wat lank nie meer vanselfsprekend is nie.

The post WAT: Om Hennie Aucamp te onthou appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2016: Oop vir inskrywings

Bron van kennis in arm streke

$
0
0

 

sterskoolcelebs

“Ons voel soos celebs,” sê een van die meisies op die rooi tapyt.

“Julle is mos,” sê ek.

*

Soos 'n hert in dorre streke, skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke

...

In my prille jeug was Psalm 42 een van my gunstelinge. Donderdagaand, 12 Mei 2016, het dit gedurig deur my kop gedraai.

Die Hoërskool Sao Bras is ’n trotse fontein van kennis in ’n brandarm woonbuurt in Mosselbaai. Die skool verskaf onderrig wat gewoonlik net te kry is in duur privaatskole, tog kan talle leerders glad nie skoolgeld bekostig nie.

Sao Bras. ’n Mens spreek nie die laaste s uit nie.

Waar daar water geskep word

Sao Bras. Die skool is vernoem na plekke waar water volop is. Soos ’n oase in die woestyn, so is die skool, sê mnr H Petersen sommer met die intrapslag toe hy open met skriflesing en gebed.

H Petersen

Ondanks armoede, tik en vigs wat die skool omring, kon Sao Bras oor die afgelope 18 jaar ’n gemiddelde matriekslaagsyfer van 88% handhaaf. In 2013 was die syfer 97,2%. Dit is hierdie prestasies wat gemaak het dat die Hoërskool Sao Bras op 12 Mei deur die ATKV as ’n Sterskool aangewys is.

Leerders wat huishou

Jerome Steenkamp, projekleier vir die Sterskole en seremoniemeester by die geleentheid, plaas Sao Bras se prestasie in perspektief toe ons ontmoet, net ’n paar uur voor die toekenning.

Jerome Steenkamp

In hierdie arm woonbuurte is pa en ma dikwels afwesig, sê hy. Daar is verskeie redes, een is die geweldige lang ure wat mense werk. Die skoolkinders moet dan die huishouding aan die gang hou. Vanaand, wanneer hulle alles gedoen het in die huis, is hulle klaar moeg. Nou moet hulle eers begin leer.

Jerome, ’n oudonderwyser, weet waarvan hy praat. Dit is eintlik onregverdig om van kinders in sulke buurte te verwag om met kinders uit gegoede buurte mee te ding, sê hy.

Dit plaas egter die prestasie van skole soos Sao Bras net soveel duideliker in perspektief. Hulle ding nie net mee nie, hulle troef talle ander veel meer gegoede skole.

Groei

Die skoolhoof, Chantal Briesies, is baie trots op haar skool, wat die afgelope 52 jaar baie gegroei het. Hul eerste onderdak was ’n eenvoudige houtgeboutjie met vier klaskamers wat vandag nog in gebruik is. Daar was drie opvoeders en 65 leerders.

Die skool lyk tans heeltemal anders.

Chantal Briesies

Vandag is daar 1 201 leerders, ’n personeel van 39 opvoeders, twee administratiewe klerke, vier niedoserende personeellede en ’n koshuispersoneel van agt lede en ses toesighouers.

Die Hoërskool Sao Bras is deesdae gesog, want sukses lok sukses. Beide die Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland het reeds belê in Sao Bras, dus het die skool het deesdae uitstekende rekenaar- en laboratoriumtoerusting.

Die skoolkoshuis is gemoderniseer en word nou as ’n winsgewende besigheid bedryf wat weer geld genereer vir die skoolfonds, want talle van die leerders kan eenvoudig nie skoolgeld bekostig nie. Funksies soos troues en kongresse word hier aangebied.

Mense sien die sukses raak. Sakelui in die omgewing waardeer wat die skool doen en is dus bereid om by te dra.

Briesies het in haar toespraak genoem dat die skool se leuse is Fortuna Audaces Juwat. Dit beteken geluk begunstig dié wat moed het.

Ek vermoed dit is eerder ’n geval van sukses begunstig dié wat hard werk.

Nie altyd so maklik nie

Spreker ná spreker het vertel presies hoe hard almal moes werk om te kom waar hulle vandag is.

Mev Smith

Mev Smith, tans van die onderwysdepartement, is ’n baie trotse oudskolier van Sao Bras. Sy onthou hoe die onderwysers haar en die ander leerders in die 1980's aangemoedig het om aan te hou studeer toe die land gebrand en apartheid ’n ferm greep op almal gehad het.

“Julle mag nie nou ophou nie,” het die onnies gesê. In dieselfde saal waarin ons op 12 Mei feesgevier het, kon sy uiteindelik matriek skryf.

Daar was talle ander kwessies wat oorkom moes word. Weens die apartheidstelsel was daar gewoon nie veel opgeleide wiskunde- en skeinatonderwysers wat in ’n bruin skool sou kon of wou klasgee nie. In ’n stadium het die skool die plaaslike apteker gevra om skeinat te doseer – hy het minstens al die chemie verstaan!

D Petersen

Nog ’n oudleerder, mnr D Petersen, deesdae die hoof van ’n ander skool, onthou dat al die beste leerders uit die Mosselbaaistreek Worcester toe gegaan het waar daar gevestigde skole vir bruin kinders was. Sao Bras moes hard werk om sy goeie leerders te behou en net mooi toe hulle op dreef kom met hul wiskunde- en skeinatonderrig, val apartheid en die beste leerders loop onmiddellik weer na die voormalige Model C-skole.

Ondanks alles het die bestuur en die onderwysers van Sao Bras voortgegaan. Vandag is dit baie anders. Daar is talle leerders wat van baie ver af kom om deel te wees van hierdie wenspan.

Die skool het reeds ’n groot aantal mediese dokters en ingenieurs, ’n aktuaris en twee bekende akteurs opgelewer. June van Merch is ’n oudstudent, so ook Theodore Jantjies, wat Xander speel in 7de Laan.

Klim uit jou gemaksone

Theodore Jantjies was die gasspreker op 12 Mei.

Jantjies het bitter arm grootgeword in Heidelberg, ’n klein dorpie ’n aantal kilometer van Mosselbaai af.

Theodore Jantjies

Vandag wil hy ’n rolmodel wees vir alle kinders van Heidelberg en Mosselbaai.

Matrieks

“Klim uit jou gemaksone,” was sy boodskap aan die matrikulante wat die geleentheid bygewoon het. “Jou fondasie is reg.”

Wie se water was dit?

Danny Titus, hoofdirekteur Kultuur van die ATKV, het daarop gewys dat ons Sao Bras se geskiedenis moet terugspoor na die dag toe Dias by Mosselbaai aan land gegaan het tydens sy reis om die Kaap. Daardie water wat hy so dorstig geneem het, wie se water was dit? Wat was die regstelsels van daardie tyd? Dit is iets wat hom, as regsgeleerde, gereeld besig hou.

Danny Titus

Die ATKV doen daarom moeite om ook die geskiedenis te ondersoek vanuit die perspektief van die strand, nie net die perspektief van die skepe af nie, sê Titus.

Nog ’n voorbeelde van die ATKV se werk is Kook saam Kaaps, wat deur Lapa uitgegee en deur twee vroue van Bonteheuwel geskryf is. Vir twee agtereenvolgende weke was Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker die beste verkoper van alle Suid-Afrikaanse boeke. Dit wys jou, sê Titus.

Of wat van die riel? Die riel was sterwend tot die ATKV ingegryp het. In 2015 het Die Nuwe Graskoue Trappers in Los Angeles goud met die riel gewen.

Dit is waarin die ATKV belê en dit werk.

“Maar ons wou ook aan die onderwys ’n verskil maak,” sê hy. In Suid-Afrika is daar 24 000 skole, waarvan net 3 000 goed bestuur word. Die ATKV wil dit verander. Die Sterskoolprojek is een van die maniere om skole aan te moedig om te presteer.

Onderwys, my verantwoordelikheid

Seymour Bothman, senior bestuurder van onderwys by die ATKV, het die commendatio gelewer.

Seymour Bothman

Hy het onderstreep dat die ATKV se leuse is: Onderwys, my verantwoordelikheid.

Daarna is talle sertifikate oorhandig.

Chantal Briesies het die toekenning ontvang van Danny Titus. Die ATKV skenk ook ’n kontantprys van R15 000 aan die skool.

Al die topleerders van die vorige jaar is vereer, maar daar is  ook ’n besondersee toekenning. By elke Sterskoolfunksie vra die ATKV dat die skool een leerder sal aanwys wat goed presteer ondanks haglike omstandighede. Hierdie jaar is die prys gegee aan Angelo May. Angelo is ’n hert en het gedrink van die helder waterbeke wat Sao Bras hom gebied het.

The post Bron van kennis in arm streke appeared first on LitNet.

Wie is die belanghebbers in die US-taalbeleid?

$
0
0

Die Statuut van die US definieer die hoofbelanghebbers as die Raad (wat beleid maak), die Bestuur (wat beleid deur die fakulteite uitvoer), en die Konvokasie (wat die alumni verteenwoordig). Laasgenoemde twee, fakulteite ingesluit, het ook verteenwoordiging op die Raad. Die minister van hoër onderwys en opleiding se vyf verteenwoordigers op die Raad verteenwoordig die nasionale belang in die universiteit.

Die Raad word hiermee die arena waarbinne die gedefinieerde belanghebbers toutrek oor die taalbeleid, en die onlangse besluit dat die Raad self aktief aan die beleidsvorming moet deelneem, is ’n positiewe stap.

Die SR en sommige studentegroepe word natuurlik ook geraadpleeg, hoewel dit selektief blyk te geskied en sommige gesprekke deur die howe plaasvind. Buitestanders soos kultuurorganisasies het egter ’n ietwat tweederangse posisie as belanghebbers en hulle pogings om taalbesluite te beïnvloed, word met ’n gewisse argwaan as “inmenging van buite” bejeën.

En juis hierdie sentiment raak aan die kern van die saak: Wie is die geldige belanghebbers in die US se taalbeleid? Wie ’n belanghebber van die taalbeleid is, word bepaal deur die gevolge van die beleid.

Die gevolge van die konsepbeleid vir die US is die verengelsing van die universiteit. Swak taalbestuur by die US oor die afgelope paar jaar het ’n praktyk geskep waarin Afrikaans stadig maar seker afgeskaal is. Die konsepbeleid formaliseer en verdiep hierdie praktyk deur Engels effektief die verstektaal te maak. Hierdie “meertalige” beleid bevat ook geen taalteikens en geen meganismes om die belofte van ’n “vaste plek” vir Afrikaans gestand te doen nie.

Die wyer gevolge van die konsepbeleid hou onder andere verband met die feit dat die US nie net nóg ’n universiteit is waar Afrikaans gebruik word nie. Dit staan in ’n see van Afrikaans wat oor die grense van drie tot vier provinsies strek. Dit is die enigste universiteit waar die taal op lang termyn demografies werklik lewensvatbaar is. Om Afrikaans by hierdie instelling af te skaf, of selfs net af te skaal, verteenwoordig dus ’n historiese kantelpunt vir die taal.

Die gevolge van die beleid sal dus ver oor die grense van die US self strek en die belange van ’n wye verskeidenheid van mense raak.

Oor die belangrikheid van die hoër funksies van Afrikaans en die rol wat dit in die ontwikkeling van die ander inheemse tale, veeltaligheid en die land se politieke bestel sou kon speel, is al volumes geskryf, en veral Neville Alexander is ter sake. Die konsepbeleid sal Afrikaans se status drasties aftakel en haar sigbaarheid in die samelewing verminder. Dit sal haar sprekers se taalkulturele selfvertroue en Afrikaans as taal van aspirasie ernstig knou.

Daarmee sal die beleid die taalverskuiwing wat in so baie gemeenskappe deur die land ontvou, in die hand werk. In hierdie opsig werk die voortslepende verengelsing van die US en onsekerheid oor Afrikaans alreeds ’n geruime tyd direk in op die belange van derduisende kinders. Dit sluit in al dié kinders uit veral arm gemeenskappe of die platteland wat hulle in Afrikaans vir universiteit voorberei; dié wat in Engelse klasse gesit word “omdat die universiteit mos Engels word”; ook dié wat met onderontwikkelde Engels as moedertaal by die skool opdaag.

“Hierdie kinders sukkel geweldig,” sê ’n onderwyseres. “Ons is besig om ons kinders te leer om te misluk. Hulle haal die ander nooit in nie en dis húlle wat so kwesbaar vir die bendes is.”

Hoe kan ’n mens nog sê die bevordering van Afrikaans (of Xhosa) as akademiese taal is nie die verantwoordelikheid van die universiteit nie? As gevolg van die impak van die US se taalbeleid op hulle, is hierdie kinders en families immers ook direkte belanghebbers en tel onder die vele stemme wat nog nie in die besluitnemingsproses gehoor is nie.

Dit is goeie internasionale praktyk om die impak van ’n beleid, goed en sleg, te bepaal voordat dit geïmplementeer word. In hierdie geval is dit ooglopend dat die konsepbeleid Engels tot die nuwe taal van uitsluiting by die US verhef, ’n daad wat ’n uiteenlopende en komplekse stel taalkundige, kulturele, sosio-ekonomiese en ekonomiese gevolge sal hê. Teen hierdie agtergrond is dit ewe ooglopend dat besluite oor taal by die US nie gereduseer kan word tot ’n burokratiese proses in die hande van tegnokrate – wat nie die waarde van taal erken of verstaan – nie.

Laat ons dus hoop dat die Raad sal besluit om alle belanghebbers in ’n ope en gelyke onderhandelingsproses te betrek, een wat mik op kompromisse eerder as oorwinning. Onderhandelinge is die enigste manier om álmal se belange – ook dié van diegene wat sukkel met Afrikaans of vervreemd voel deur die US se kultuur – op ’n regverdige wyse by die US te akkommodeer en die universiteit weer op gelyke kiel te plaas.

In hierdie opsig is dit dalk ook tyd om terug te keer na Jakes Gerwel se denke oor onder andere die US in die dae toe daar nog van twee Afrikaanse universiteite gepraat is:

The acid test for the designated institutions [die US en Noordwes-Universiteit] is whether they can entertain a scenario where non-Afrikaners Afrikaans speakers, who love their Afrikaans but whose base of social power is weak in relation to the power behind “official Afrikaans”, can be allowed to evolve into a (more) dominant social presence on campus. Were that to happen, Afrikaans may survive as a vibrant language without being a tool of cultural exclusivity. (Gerwelkommissie 2001)

Hierdie woorde is vandag net so insiggewend en geldig soos destyds. Die US kan steeds kies om ’n waarlik verteenwoordigende, veeltalige universiteit te word, een wat op ’n gesonde manier verbind is tot die taalkundige, kulturele en sosio-ekonomiese ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe in hulle tale van voorkeur. Hiervoor is ’n splinternuwe taalbeleid nodig, een wat die klem op ware meertaligheid lê en met duidelike taalteikens en prosesse om hierdie teikens te bereik; een wat die uiteenlopende belange in die universiteit onder een hoed bring.

Die drukgang waarin die US hom op kort termyn bevind – hofsake oor die universiteit se taalpraktyk, ’n “onmoontlike situasie” in die lesingsale, en wye opposisie teen die konseptaalbeleid – word kwalik opgehef deur die uitspraak van ’n aangestelde regter. Die US moet veel eerder begin praat, óók met diegene wat gekant is teen die Engelse eentaligheid in die hart van die konseptaalbeleid.

Die eerste nodige stap is om die vertrouensbreuk wat tussen die Bestuur en verskeie belangegroepe binne en buite die universiteit ontstaan het, reg te stel.

The post Wie is die belanghebbers in die US-taalbeleid? appeared first on LitNet.


Potchefstroom Kunstefees: Alexa Strachan aangestel as bestuurder

$
0
0

Die Potchefstroom Kunstefees het bekend gemaak dat Alexa Strachan, bekende vervaardiger, skrywer, regisseur, sanger en akteur, aangestel is om die Potchefstroom Kunstefees vir 2016 te bestuur.

Japie Gouws, woordvoerder van groep van Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Potchefstroom Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes Universiteit, stigtersborge asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor jare, het die aankondiging op 19 Mei 2016 gemaak.

Alexa matrikuleer in 1987 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom, en behaal haar BA-graad met hoofvakke Wysbegeerte en Kunsgeskiedenis in 1991 aan die Universiteit van Pretoria.

Sy het haar loopbaan as onafhanklike vervaardiger, entrepreneur, skrywer, sanger en akteur oor jare gevestig. Haar jarelange noue verbintenis en samewerking met Sandra Prinsloo, PG du Plessis, Koos Roets en André Scholtz het haar in staat gestel om wye ervaring op te doen in die teater- en filmbedryf.

In die korporatiewe omgewing hanteer sy jaarliks die bestuur, samestelling en tekste van groot teater- en musiekproduksies, onder andere  SARIE se Voorbladgesig; FNB se Night with the stars; Atterbury Trust en Rust en Vrede se Versnit-konserte en Akademia se Sakeplankompetisies.

In opdrag van die Woordfees en in samewerking met musiekregisseur Schalk Joubert, vervaardig sy ook die 70ste verjaarsdagkonsert Anton Goosen – Liedjieboer, met onder andere David Kramer, Churchill Naudé, Sonja Heroldt, Robin Auld en Gert Vlok Nel.

Gouws het gesê dat hulle verheug is dat Alexa nou aan die hoof van die span staan om die fees tussen 4 en 9 Oktober 2016 in Potchefstroom te laat gebeur. Haar wye ervaring en kundigheid stel haar in staat om hierdie taak aan te pak.

Gouws het ook weer die volgende beklemtoon:

  • Die proses om aansoek te doen vir produksies het ook nou begin en skriftelike aansoeke kan per e-pos gerig word aan Potchfeesprogram@gmail.com. Die sluitingsdatum is 27 Mei 2016.
  • Aansoek vir stalletjies (op die feesterrein op die Bult) kan nou per e-pos gestuur word aan Potchfeesstalletjies@gmail.com. Die sluitingsdatum is 24 Junie 2016.
  • Die nuwe adres van die feeskantoor is Molenstraat 69, Potchefstroom.
  • Die landlynnommer van die feeskantoor is 018 175 0175.

The post Potchefstroom Kunstefees: Alexa Strachan aangestel as bestuurder appeared first on LitNet.

Pasop vir die bose engel, maan ATKV-hoof

$
0
0

LAPA se skrywers kuier by die ATKV se algemene jaarvergadering. Martin Steyn, Koelsoem Kamalie, Riette Rust en Flori Schrikker is genooi om die AJV by te woon. Hier saam met Japie Gouws, die uitvoerende bestuurder van die ATKV-Groep.


Die algemene jaarvergadering van die ATKV vind tans plaas by die ATKV-Goudini Spa. Op Woensdag 25 Mei 2016 het Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV-Groep, sy toespraak op ’n baie positiewe noot begin deur die suksesse van die ATKV-Groep uit te lig, maar toe skiet hy van die heup af met hierdie woorde van NP Van Wyk Louw:

            ... dan kom die bose engel na die domstes van so ’n vol
            en fluister vir hulle: “Julle kultuur is die hoogste, ja, die
            enigste werklike kultuur op aarde.”

            En hulle glo hom, want hulle ken nóg hulle eie kultuur, nóg die van ander
            volke.

Daar is verskeie redes waarom ons mismoedig kan wees oor die manewales in die parlement, beurtkrag, opruiende uitsprake deur demagoë en die skending van standbeelde, maar ons moenie toelaat dat politici ons land se onseker situasie uitbuit nie, sê Gouws. “Die regering en politici praat baie van sosiale kohesie en nasiebou, maar op die beste kom daar dadels van.”

Daarteenoor is die ATKV onlangs in koerantartikels beskryf as “aktief-inklusief”. Daarop is Gouws trots. “Dit ondersteun die ATKV se standpunt dat dit moontlik is om nasiebou deur middel van taal en kultuur te bewerkstellig.”

Die ATKV werk dus skaamteloos vir Afrikaans, maar doen dit deur inklusief te wees en nie na die bose engel te luister nie. “Die ATKV wil nie noodwendig as taalstryders bekend wees nie, maar eerder as die bouer van inklusiewe taalgemeenskappe tot voordeel van nasiebou en verbetering van die omstandighede van sprekers van inheemse tale.”

Voorbeelde hiervan is die insluiting van die ander inheemse tale saam met Afrikaans in alle kategorieë by vanjaar se Pendoring-toekennings vir Afrikaanse reklame, die hoogaangeskrewe meertaligheidsprojekte in Soweto, die ongekende suksesse van die ATKV se rieldansers, ook in die buiteland, die skep van die nuwe Afrikaanse resepikone Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker uit Bonteheuwel wat deur LAPA Uitgewers uitgegee is, die uitkomste van die ATKV se verskillende koorkompetisies, die oorweldigende suksesse van die ATKV-Tienertoneel, en die wêreldgehalte van die ATKV-Muziq- en ATKV-Muziqanto-wenners.

Die ATKV beywer hom ook skaamteloos vir die uitbou van moedertaalonderrig vir alle tale in Suid-Afrika, asook die behoud en die uitbou van die hoë funksies van Afrikaans én elke ander amptelike inheemse taal in Suid-Afrika. Dit is immers ’n feit dat ongeveer 90% van Suid-Afrikaners se huistaal nie Engels is nie.

Die ATKV is ook in gesprek met universiteite oor die hantering van Afrikaans. Wat veral pla, sê Gouws, is die openbare debatvoering oor die onderwerp wat dikwels tot polarisering lei. Die ATKV gaan dus voort met privaat gesprekke in hierdie verband.

Daar word ook gereeld met die Departement van Kuns en Kultuur, en spesifiek ook met hulle taaldirektoraat, geskakel rakende die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet Nr 12 van 2012. Hierdie wet verplig staatsdepartemente, semistaatsinstellings en staatsentiteite om oor ’n taalbeleid te beskik wat, in die praktyk, landsburgers in die amptelike taal van hul keuse moet bedien.

Die ATKV het oor die afgelope jare ook ’n goeie verhouding met die nasionale uitsaaier opgebou en is baie opgewonde oor die nuwe digitale kanale wat talle inheemse tale, waaronder Afrikaans en die onderskeie Khoisan-tale, insluit.

Ander voorbeelde van die werk wat die ATKV vir Afrikaans doen, is die borgskap van en direksieverteenwoordiging by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA); die ondersteuning van die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; samewerking met die Afrikaansdepartemente van die betrokke universiteite waar Afrikaans nog as vak aangebied word en ’n betrokkenheid by die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Die ATKV is ook betrokke by die aksies om wel in 2016 ’n Aardklop Kunstefees in Potchefstroom aan te bied.

“Ons is bekend as die mees inklusiewe Afrikaanse kultuurorganisasie, nie net ten behoewe van Afrikaans huistaalsprekers nie, maar ook toenemend tot die voordeel van addisionele sprekers van Afrikaans,” sê Gouws.

Ons is soos slaai

Vroeër het Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur, die suksesse van die ATKV se Kultuurafdeling uitgelig. Sy toespraak het ook gefokus op samewerking, maar, sê hy: “Dink aan ’n slaai. Al die stukkies bly uniek, tog saam maak hulle ’n geheel. Dis anders as ’n sop waar alles later oplos en eenders word.”

Titus is baie trots op sy Europese wortels. Dit is deel van die mengelslaai en deel van Afrikaans, maar dan het die ATKV in Soweto ook begin om Sotho-klasse aan te bied aan Afrikaanssprekendes. “Ons breek stereotipes af wat bestaan oor taal,” sê Titus. “Wat verhoed ons om ander tale aan te leer?"

Uitstekende finansiële posisie

Die ATKV is uniek as burgerlike en niepolitiese organisasie wat homself kan finansier en op hierdie vlak gaan dit ewe goed.

Die herstrukturering van die ATKV, wat verlede jaar deur die algemene jaarvergadering goedgekeur is, is geïmplementeer en die ATKV se sakebelange is nou gesetel in die 100%-filiaal ATKV-Sake. In hierdie maatskappy word die ATKV se belange in toerisme, leefstylbehuising en die Hartenbos Seefrontontwikkeling gehanteer.

Schalk Cilliers, die besturende direkteur van ATKV-Sake, het ook tydens die jaarvergadering vertel oor die opgradering van die oorde, sodat die ATKV mededingend kan bly.

Daar word ook baie gedoen om al die oorde meer omgewingsvriendelik te maak.

Twee van die oorde, ATKV-Drakensville en ATKV-Hartenbos, het Vuvuzela-toekennings gekry en Hartenbosstrand het hul Blouvlagstatus behou.

Verskeie sprekers het ook daarop gewys dat die ATKV die afgelope jaar deel geword het van die Verenigde Nasies se Global Contact (UNGC). Hiermee verbind die ATKV hom tot die UNGC se beginsels rakende menseregte, arbeid, die omgewing en antikorrupsie.

Ons mag nie laer trek nie

Japie Gouws het ná die toesprake van Titus en Cilliers afgesluit deur te sê: “Die Afrikaanse gemeenskap beskik oor die kennis en kreatiwiteit om nasiebou en versoening te bevorder en daardeur wesenlike bydraes tot die suksesse van Suid-Afrika te lewer.

“Die ATKV nooi u almal uit om met ons hande te vat en skouer aan die wiel te sit om die potensiaal van taal en kultuur en erfenis, tot voordeel van almal in Suid-Afrika te ontgin. Op hierdie wyse kan ons die bose engel ontbloot en eerlik met onsself wees. Ons durf nie laer trek nie. Ons moet die wa deur die drif trek.”


Daar was verskeie jeugtakke wat die AJV bygewoon het.

The post Pasop vir die bose engel, maan ATKV-hoof appeared first on LitNet.

Persvrystelling: US-taalbeleid voldoen nie aan basiese bestuursvereistes

$
0
0

Die US se finale konseptaalbeleid voldoen nie aan basiese vereistes vir die volhoubare bestuur van Afrikaans of Xhosa by die universiteit nie, sê dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad.

Die beleid maak van Engels die verstektaal en bepaal dat dié taal jaarliks uitgebrei sal word met ’n volle akademiese aanbod binne die volgende vyf jaar as teiken. Daarteenoor word Afrikaans slegs “bevorder”.  Hoekom geen teikens vir Afrikaans nie?

Die afwesigheid van enige taalteikens vir Afrikaans wáárborg die geleidelike afskaling van die taal tot ’n tipe “hulptaal” waarin studente soms ondersteuning kan kry. Dít is wat “meertaligheid” in hierdie beleid beteken en die US is nie ernstig oor die “handhawing” van Afrikaans as akademiese taal nie.

Pleks van ’n langtermynvisie vir die taal, is haar gebruik deurgaans onderhewig aan korttermynfaktore soos “redelikheid”, pedagogiese vereistes, en “uitvoerbaarheid”, op grond waarvan die beleid maklik na gelang van die omstandighede aangepas kan word.

Reeds op beleidsvlak word dit gestel dat daar aangepas moet word by die “veranderende taaldemografie” van die universiteit, so asof hierdie verandering iets is wat die universiteit magteloos gade slaan eerder as om ’n direkte invloed daaroor uit te oefen. Dit ís moontlik om ’n 50/50 taalbeleid in te stel. Die 34 000 matrikulante elke jaar regverdig dit. Daarmee gepaardgaande kan die US uiteindelik ook meer toeganklik vir die wyer Afrikaanse gemeenskap maak word.

Internasionale ervaring dui daarop dat universiteite ware meertaligheid kan handhaaf – maar slegs indien die situasie goed bestuur word. Hiervoor is begrip van die waarde van taal in ’n meertalige land soos Suid-Afrika ’n voorvereiste. Dit lyk egter nie asof die US voldoende aandag aan die meer as 500 kommentare op die konsepbeleid en die talle goeie argumente vir ware meertaligheid gegee het nie.

Hierdie tekortkoming verras egter nie. Die evaluasie van die kommentare is in slegs twee dae afgehandel wat die vraag laat ontstaan of die proses wat by die US gevolg is voldoen aan die basiese beginsels van redelikheid.

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

The post Persvrystelling: US-taalbeleid voldoen nie aan basiese bestuursvereistes appeared first on LitNet.

Leer oor argiewe en boekherstel

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied weer hul gewilde reeks kursusse en werkswinkels in die Paarl aan. Die reeks fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Rekordbestuur- en Argiefwerkswinkels vind in Julie plaas, Boekherstelkursusse in September, en ‘n “Skryf beter Afrikaans”-werkswinkel later in die jaar.

  • Die Inleidende Rekordbestuurwerkswinkel (4 tot 5 Julie) en die Inleidende Argiefwerkswinkel (6 tot 8 Julie) is geskik vir bibliotekarisse, museum- en erfenisbeamptes, rekord- en dokumentering en argief-assistente. Dit word aangebied deur Pétria de Vaal-Senekal, ‘n gekwalifiseerde argivaris en rekordbestuurder met baie jare ervaring in die veld. Die werkswinkels sluit praktiese sessies in. Die Rekordbestuurwerkswinkel fokus op wetlike verpligtinge, liasseerstelselselektroniese dokumentstelsels, en beleid en prosedures. Die Argiefwerkswinkel fokus op insameling en aanwins, waardebepaling, sortering, indeksering, bewaring, rampbestuur, en die ontsluiting van argiewe. 
  • Die Inleidende Boekherstelkursus (19 tot 21 September) en die Gevorderde Boekherstelwerk (22 tot 24 September) word aangebied deur die boekherstelspesialis Peter Packery. Geen vooraf kennis word vir die inleidende kursus benodig nie. Die gevorderde kursus is geskik vir deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het.

Vir meer inligting, kontak Amira Clayton by tel 021 863 0543/4809  of stuur ‘n e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za.  

The post Leer oor argiewe en boekherstel appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2016

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans

Hierdie nuusbrief word opgedra aan Winnie Rust, 'n geliefde skrywer en 'n formidabele Wellingtonner, wat een van die Breytenbach Sentrum se lojaalste ondersteuners en medewerkers was.

Hier is Winnie (heel regs) saam met vriende by die Tuin van Digters 2015, die poësiefees wat jaarliks by die Breytenbach Sentrum aangebied word:

Hierdie foto is deur Madelie Coetzee geneem by die bekendstelling van Winnie se mees onlangse boek, Trek (2013) - 'n roman wat onder meer handel oor die onreg wat die bruin mense van Wellington in die vyftigerjare met die Groepsgebiedewet aangedoen is. Winnie is in gesprek met die uitgewersredakteur Suzette Kotzé-Myburgh, wie se mooi huldeblyk aan Winnie hier gelees kan word.

 
Anne-Ghrett Erasmus, die bestuurder van die Breytenbach Galery, sê Breyten het haar die beste opgesom deur haar as "landelike adel" te bestempel.

"Om hierdie baie besonderse mens te beskryf," sê Anne-Ghrett, "is so maklik en tog ook so moeilik as gevolg van haar geweldige teenwoordigheid en bydrae op soveel vlakke. Nie net was sy deur en deur ʼn dame, raakvatvrou, grapjas met ʼn skerp intellek, vrou vir haar man, moeder vir haar kinders, ouma vir haar kleinkinders, skrywer nie, maar ʼn rots so groot soos die Hawekwa vir soveel mense en instansies."

Manie Rust, Winnie se man, het dit só gestel:
Jan Rabie het gesê: “Sonder Afrikaans is ek niks.” Sonder Winnie is ék niks.

Ons plaas graag die volgende dankbrief aan Winnie deur Eugenie Wiggens:

Liewe Winnie

Ek skryf hierdie brief aan jou namens almal wat jou liefhet in “het lieve Wellington” soos dr. Andrew Murray altyd ons dorp genoem het.

Ons sukkel nog om sin te maak uit die sinlose gebeure en mens steier onder skok, afgryse, woede, verslaentheid en matelose hartseer. Maar later sal daar wel ook ʼn ander emosie opdaag, naamlik dankbaarheid vir jou en jou lewe.

Breyten Breytenbach het gesê: "My hart is in die Boland / en niks kan dit ontwy nie / dis gebêre in ʼn kissie in Wit Wellington."

Winnie, Wellington was jou tuiste en passie. Soos jy tereg in jou laaste artikel in die tydskrif Leef geskryf het, jou hartland word jou hartstog. Jy het ʼn hart vir Wellington en sy mense gehad – en dit was nie in ʼn kissie nie; jy het jou hart en lewe en hand wyd oop gemaak vir Wellington en sy mense.

Daarom wil ons vanoggend vir jou kom dankie sê. Jou oop hart en hand het oor alle grense heen gestrek – jy het mense in nood gehelp met geld en aardse middele as hul dit kort gekom het. Maar jy was ook ʼn omgeemens wat altyd daar was vir mense. Baie dankie vir jou deernis en respek vir mense ongeag hul ras, stand of agtergrond.

Baie dankie, Winnie, vir jou skryfwerk waarin jy veral onbekende of vergete verhale gaan opdiep het en lewe gegee het – en so die geskiedenis van Wellington en veral ook vroue van Wellington weer oopgeskryf het. Ons onthou die spesiale moeite wat jy gedoen het met Vrouedagvierings wat by die Museum gehou is en die nougesette navorsing om aan mense soos Abby Ferguson, Anna Bliss en Emma Murray erkenning te gee. Jy was ʼn metodiese, harde werker met ʼn streng werksdissipline as dit by jou skryfwerk gekom het. Jy het altyd ʼn projek met passie en entoesiasme aangepak en deurgesien; veral ook by die museum met die vele projekte waarby jy daar betrokke was. Jy het nooit nee gesê as ons jou gevra het om iets te doen nie.

Een van die projekte waarby jy betrokke was en wat jou besonder na aan die hart gelê het, was die optekening van die verhale van die Wellingtonners wat in die 50er- en 60er-jare ontwrig is deur die gedwonge verskuiwing uit die middedorp. Jy was die samesteller van die boek wat daaruit voortgevloei het, ʼn Lewe suid van Markstraat. Dit was regtig ʼn behoefte by jou om die kloof tussen die mense van Wellington kleiner te maak.

Jou liefde vir die kunste en veral klassieke musiek was opvallend. Jy en Manie was sedert die beginjare van die Kunstevereniging en Musiekvereniging getroue ondersteuners.

Jou entoesiasme vir die Breytenbach Sentrum was tasbaar en jou optredes daar, veral in die begin van die Sentrum se bestaan, het die hoë standaarde gestel wat ons nou nog nastreef. Dankie dat jy altyd uit jou pad gegaan het om die Sentrum en sy bedrywighede te ondersteun.

Jy was die stigterslid van die Wellington Besprekingsgroep in 1965 – nou die Gesprekskring. Blykbaar het jy destyds gesê jy wil dit begin om bietjie weg te kom van “babas en bottels”. Die hele idee was dan ook dat die lede self moes oplees en navors oor ʼn onderwerp wat hul interesseer en dit dan met die ander kom deel – als om jou brein aan die gang te hou en horisonne te verbreed.

Jy het ook later die Afrikaanse Leeskring begin en aan ʼn poësieklub behoort. En dit is presies wat jy deur die jare gedoen het – jou horisonne verbreed, nuwe projekte aangepak en in die proses ander mense geïnspireer.

Jou passie vir die dorp en sy geskiedenis het jou ʼn kundige op die gebied gemaak en dit het eintlik al ʼn gewoonte geraak om te sê: "Vra vir Winnie." As iemand as segspersoon op TV moes optree oor byvoorbeeld Bainskloof, groepe moes toespreek oor ons kerk of dorp se geskiedenis of oor die radio iets moes vertel, was jy altyd die outomatiese keuse, want, behalwe vir jou kundigheid, was jy ook so mooi en het mens gevoel dat jy ʼn mooi en gepaste beeld van ons dorp sou uitdra – ons het geweet jy sou die taak met waardigheid verrig. Daar is min mense wat so goed hul woorde bedink soos jy het, Winnie, asof jy altyd bewus was van die waarde van woorde.

Maar Winnie, bo alles wil ons vir jou dankie sê en huldig vir die besonderse mens wat jy was. Dis net reg dat jy, wat die grootste waardering vir ander mense gehad het, in baie van Wellington se kringe as ons dorp se eerste vrou beskou is, ʼn ikoon.

Die afgelope tyd het baie mense weer van jou gepraat. Dan het hulle nie verwys na feite soos byvoorbeeld dat jy hoofdogter van die hoërskool was nie of dat jy en Manie in 1975 stigterslede van die Museum was, of dat julle twee ’n paar jaar gelede aangewys is as Wellingtonner van die Jaar nie of al die projekte waarby jy betrokke was nie. Nee, almal het gepraat oor jou besondere en unieke kwaliteite en menswees. Jou fyn aanvoeling en empatie met mense sal ons altyd bybly. Jy kon op jou sagte, innemende manier mense moed inpraat, komplimenteer, ondersteun – deur ʼn mooi kaartjie of blomme om dankie te sê, geluk te wens, te simpatiseer, selfs met ʼn dierbare hondekind se dood of iemand se persoonlike hartseer of verlies. Soos iemand tereg opgemerk het: Ek dink nie ek het al ooit iemand geken wat deel van so baie mense se lewens was nie. Jy was altyd, al was jy ook tussen hoeveel mense, of hoe kort die ontmoetings ook al, ingestel op elke individu.

Iemand anders het gesê: Wat ek altyd van Winnie waardeer het, is dat sy nie net gepraat het nie, maar gedoen het. Sy sou inspring en begin help met die bemarking van die klassieke musiekreeks of aanbied om sop en brood te maak vir die kunstenaars. Sy sou dadelik instem vir enige vergadering oor watter projek ook al en voorbereid kom, en altyd dadelik vra hoe sy kan help.

Winnie, ons sal jou onthou as ʼn sprankelende, energieke, nederige, verfynde, mooi vrou met ʼn jonkheid van gees op wie die ouderdom blykbaar geen invloed gehad het nie; dit was amper asof die ouderdom jou heel onaangeraak gelaat het.

Benewens Eybers en Breyten het jy ook baie van die werk van Emily Dickinson gehou. Die eerste reëls van haar gedig “Because I could not stop for Death” het onwillekeurig by my opgekom:

Because I could not stop for Death -
He kindly stopped for me
The Carriage held but just ourselves -
And Immortality
 
In ons jong dae het ons nog regte egte briewe met ʼn vulpen geskryf en dan het baie mense die brief geëindig met “En nou groet ek met die pen, maar nie met die hart nie.” En dis hoe ons jou nou groet, Winnie – want jy sal altyd in ons harte bly.

Met baie liefde van
Eugenie Wiggens - namens almal op Wellington wat Winnie liefgehad het

*****
Die literator Ampie Coetzee – ’n mede-Wellingtonner, een van Winnie se groot vriende en eweneens ’n skrywer wat nou bande met die Breytenbach Sentrum het, het 'n volledige uiteensetting van Rust se debuutroman, Martha (2004) geskryf, ten einde ’n aanduiding te gee van die reikwydte van haar skrywerskap en belangstelling in die geskiedenis van Wellington en veral sy gemarginaliseerde gemeenskappe en figure. Vanweë die lengte van hierdie bydrae kan ons dit nie by die nuusbrief insluit nie. Belangstellendes is egter welkom om 'n e-pos na penafrikaans@gmail.com te stuur en dan sal ons met graagte Ampie se skrywe aanstuur. 

Die kaalvoetheld van die Comrades, Izak de Vries

Izak de Vries, 'n bestuurslid van PEN Afrikaans, het hierdie naweek die Comrades Marathon oor 89,3 km tussen Pietermaritzburg en Durban sonder skoene gehardloop om borge te werf vir skoolskoene vir die inwoners van die Durbanville Kinderhuis.

Hier's ons man en sy voete ná die Comrades:


FOTO: Marianne de Jager

Baie geluk, Izak. Ons is diep beïndruk en baie trots op jou.

Izak het egter 'n dankie van sy eie aan ons lede en ander boekmense:

Ek wil graag PEN Afrikaans se lede bedank vir die steun die afgelope naweek toe ek my tiende Comrades gedoen het. Ja, dit was kaalvoet en, ja, dit was om mense bewus te maak van die werk wat die Durbanville Kinderhuis doen. Wat ek nie voorsien het nie, was hoe oorweldigend boekmense die projek sou omarm. Die Comrades se leuse is “izokuthoba”, die Zoeloe vir “dit sal jou nederig maak”. Wel, ek voel nederig ná al die goeie wense en die donasies wat die afgelope naweek ingestroom het. Amptelik is daar reeds betaal vir 78 pare skoene. Die meeste van daardie geld kom van skrywers en boekliefhebbers. Dankie. Baie dankie.

Potgooi van 'n RSG-onderhoud met Bettina Wyngaard oor Trippel-7

Dat die eerste fase van ons Trippel-7-projek onder die dinamiese leiding van Bettina Wyngaard 'n klinkende sukses was, het ons reeds in ons Mei-nuusbrief berig. (Klik hier vir meer inligting oor dié projek.)

RSG het op 23 Mei met Bettina gesels oor hierdie pioniersprojek en haar ervarings in die Noord-Kaap. Die potgooi kan hier as MP3 afgelaai word. (Let wel: Die MP3 is 9 MB groot. Moet dus nie op die skakel klik as jou data beperk is nie.)

PEN Afrikaanse se AJV 2016

Hiermee 'n vriendelike herinnering aan PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering (AJV) 2016.

Ons AJV word gehou op Saterdag, 20 Augustus, om 14:30, by die City Lodge Lynnwood in Pretoria tydens vanjaar se BoekeJol.

Ons sal nader aan die AJV 'n agenda vir al ons lede stuur asook die finale program van die BoekeJol.

Toegang tot die vergadering is uiteraard gratis, maar wees asseblief so vriendelik om te laat weet of jy beplan om die AJV by te woon. Ons sal graag wil seker maak dat daar genoeg sitplek vir almal is. RSVP na penafrikaans@gmail.com

Voorstelle vir die agenda kan ook na penafrikaans@gmail.com gestuur word.

Klik op hierdie skakel vir die adres en aanwysings na die City Lodge Lynnwood.

Nuwe boeke in Junie 2016

Laastens is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Junie se publikasielys kan hier afgelaai word.

Hartlik geluk ook aan ons lede wat vir die 2016 Media24-boekpryse gekortlys is. Dié pryse word op 22 Junie in die Kaap toegeken. Klik hier vir meer inligting oor die boeke en skrywers op die kortlyste.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2016 appeared first on LitNet.

Viewing all 1429 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>